Onderhoud: Alles wat mal is

  • 0

Corine du Toit en Sandra Vaughn, draaiboekskrywers van Alles wat mal is, ’n nuwe romantiese komedie, het saam-saam Ilza Roggeband se vrae beantwoord oor die skryf van die fliek wat op ’n kortverhaal deur Deon Meyer gegrond is.

Corine du Toit

Alles wat mal is vertel die verhaal van Helena Joubert wat haarself verloor het. Iewers tussen haar varsity-kys, die ja-woord en twee woelwaterseuntjies het die Helena wat sy ken, verdwyn. Sy en haar man Gustav se passievolle verhouding het plek gemaak vir ’n permanente skietstilstand. Die eens uitgelate, ongeïnhibeerde meisie van haar jongdae is nou net tartende foto’s teen haar muur en haar joernalistieke drome het plek gemaak vir sporadiese artikels in nietige publikasies. Hoe het dit gebeur dat haar lewe so klein geword het? Hoe het dit gebeur dat haar enigste vriendin en vertroueling haar huishulp Miriam is?

Alles begin verkeerd loop in Helena se lewe. Die chaos bereik uiteindelik breekpunt en Helena se uitdagende alter ego maak haar verskyning en besluit om in te gryp. In die proses ontdek Helena ’n stukkie van haar ou self, ’n stukkie wat lankal om aandag smeek. Sy durf verskeie nuwe eksentrieke avonture aan, met Miriam en die twee woelwaters op sleeptou. Haar bitter-soet konklusies deel sy met haar “Alles wat mal is”-bloglesers, maar nie almal stem met haar vreemde projekte saam nie.

Dan is daar Gustav, wie se sakebesluite beïnvloed word deur ’n sjarmante belegger wat haar visier nie net op sy maatskappy het nie, maar ook op Gustav self. Helena besef daar is ’n slang in die gras, maar sal Gustav haar glo of dink dit is maar net die jaloerse monster wat kop uitsteek?

Helena se alter ego spoor haar aan om ’n paar brawe besluite te neem wat dalk haar huwelik en selfs haar man se loopbaan kan red. Of dalk nie. Die duisende getroue bloglesers wag op hete kole om te sien wat volgende gaan gebeur. Het Helena finaal haar varkies verloor of het sy hulle vir die eerste keer almal op hok?

Die rol van Helena word deur Erica Wessels gespeel en Louw Venter is Gustav. Ander spelers is Meme Ditshego (Miriam), Christina Storm (Elzaan), Chris de Clerq (Herman), Elzette Maarschalk (Catherine), Jana Strydom (Esmé), Richard van der Westhuizen (André), Philicity Reeken (Lerato) en Jacques Bessenger (prof Hathoorn /Pieter Brits). Die regisseur is Darrell Roodt.

Alles wat mal is is geïnspireer deur 'n kortverhaal deur Deon Meyer. Hoe het julle te werk gegaan om die draaiboek te skryf?

Sandra Vaughn

Hope verbeelding, baie navorsing, lang ure se kopkrap, want ’n kortverhaal (maak nie saak hoe goed hy is nie) verander nie oornag in ’n draaiboek nie. Ons begin gewoonlik met ’n basiese struktuur en bou dan die vleis daarom. Hanli Rolfes het ook onder ons Lettergreep-vaandel in die begin help kopkrap, en toe gaan dink ons drie ’n geweldig lekker storielyn uit. Kopkrap de luxe! Ons het ons baie geniet en ons dink die gehore sal mal wees oor die humor en storielyn van die fliek.

Wat was die grootste uitdaging met die skryf van die draaiboek?

Om getrou te bly aan Helena se emosionele trajek soos in die kortverhaal, maar steeds ’n hele fliek daarvan te maak sonder dat dit vervelig raak. En natuurlik om nie self mal te word terwyl jy aan Alles wat mal is skryf nie.

Watter veranderinge het julle aangebring, en het julle hierdie veranderinge met Deon uitgeklaar?

Verandering is met Deon uitgeklaar, want, soos reeds genoem, mens moet baie skryf om ’n draaiboek vol te maak. Deon het wel vir ons vrye teuels gegee om ons verbeelding te laat gaan. Die verskille tussen die kortverhaal en die fliek? Ons daag die gehore self uit om te gaan kyk.

Het Deon enige insae in die finale draaiboek gehad?

Beslis. Hy het notas tot aan die einde gegee en hy was gelukkig baie beïndruk en trots. En hy het gebieg hy het geskaterlag toe hy dit lees. So, jy kan net dink hoe verlig ons was! Deon is ’n fantastiese mentor.

Julle het ook groot sukses behaal met Semi-soet, waarin julle al twee gespeel het, en waarvan julle ook die draaiboek geskryf het. Verkies julle om julle eie draaiboeke te speel?

Anél Alexander het Sandra genader om Semi-soet te skryf. Sy val toe met haar alie in die botter toe sy hoor dat sy die rol van Karla gekry het en val toe dubbeld met haar alie in die botter toe Corine Denise speel. Wat ’n uiterse voorreg vir ons al twee. Dit bly een van ons top-ervarings ooit. Ons skryf nooit ’n rol met onsself in gedagte nie, maar as ons dan ’n rol aangebied word, is dit ’n lekker bonus.

Deon Meyer

Het julle uit eie ondervinding gedelf vir die skryf van Alles wat mal is?

Beslis, maar ons het steeds baie navorsing gedoen onder vrouens van Helena se ouderdom. Ons het ook heelwat staaltjies vergader onder vriende, en die res kom maar uit ons eie lawwe verbeelding. Ons het heerlik vir mekaar gelag met van die dinge waarmee ons vorendag gekom het.

Julle het 'n paar romantiese komedies op die kerfstok. Sal julle graag 'n ander genre ook wil beproef?

Ja! Ons skerts altyd met elke nuwe projek waarvoor ons genader word dat ons nou wéér ’n nuwe genre moet navors. Ons dink dis hoogtyd dat ons op een of ander stadium ons tande slyp aan ’n lekker riller. Daar was gevalle in Geraamtes in die kas, ’n reeks wat handel oor psigiaters en sielkundiges en hul pasiënte, waar daar ’n paar rillermomente was en dit was heerlik om dit te skryf en uit te dink.

Wat dink julle is die snaaksste tonele in Alles wat mal is?

Ilza Roggeband

Dis amper onmoontlik om te sê. Die fliek is van begin tot einde vol komedie, hetsy situasie-, klugtige of net uit-die-maag-lag-komedie. Ons dink dit is grotendeels te danke aan die feit dat omtrent almal hul kan vereenselwig met Helena en Gustav se lewe en die belaglike goed waaraan hulle blootgestel word en hoe hulle dit hanteer.

Wie gaan die fliek die meeste geniet?

Almal met kinders en sonder kinders, wat hou van ontspan, lag en net ’n bietjie vergeet van hul eie realiteit en hul kan verlustig in die karakters s’n.

Waar skryf julle? Is julle gedissiplineerde skrywers?

Ons het kantore in Midrand en maak ’n punt daarvan om enigiets van sewe-uur in die oggend te begin skryf tot dit voel asof ons nie meer ons gesigte kan voel nie. Dan ry ons huis toe en begin die volgende dag weer.

Julle is ook al twee aktrises. Is dit makliker om draaiboeke te skryf juis omdat julle ook aktrises is?

Absoluut. Ons “act” elke toneel uit om seker te maak dit ritme is reg, hoe voel dit om dit uit te speel, werk die toneel, is die toneel nodig?

Waarmee is julle op die oomblik besig?

Geraamtes in die kas, wat ons vir die SABC vertaal en verwerk het, is pas klaar uitgesaai. Dan is ons uiters opgewonde oor ’n fliek wat ons geskryf het oor Chris Barnard, die hartpionier, se lewe. Daar is nog ’n paar projekte in die pyplyn waaroor ons baie opgewonde is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top