’n Kwantitatiewe oorsig oor belangrike rolspelers deur die geskiedenis van die Afrikaanse filmbedryf (1916–2016)

  • 1

Opsomming

Die Afrikaanse filmbedryf was voorverlede jaar 100 jaar oud. Deur sy eeu lange geskiedenis was daar natuurlik tye van opbloei en tye waarin min films vrygestel is. Boonop is dit ’n reusebedryf wat deur sy geskiedenis die bydraes van duisende mense geverg het. Die huidige artikel neem ’n breë en kwantitatiewe perspektief en ondersoek die eerste eeu in die Afrikaanse filmbedryf. Verskillende dekades en belangrike rolspelers se loopbane word bespreek, en hiervoor word ’n groot datastel benut wat al die persone in berekening bring wat op die krediete van bykans al die Afrikaanse films gelys word, met altesaam 29 959 bydraes deur 16 166 rolprentfigure wat by 418 Afrikaanse films betrokke was. Die produktiefste regisseurs en akteurs word uitgelig, maar ook minder bekende rolspelers waar hulle ’n uitsonderlike bydrae tot die totstandkoming van dié bedryf gelewer het.

Kernwoorde: Afrikaanse film, Afrikaanse kultuurgeskiedenis, Suid-Afrikaanse film

 

1. Inleiding

Die Afrikaanse filmbedryf was voorverlede jaar 100 jaar oud. Sedert die eerste Afrikaanse film, De Voortrekkers (1916), het die bedryf gegroei tot ’n bedryf wat internasionale aansien geniet: The gods must be crazy (1983) (wat ook in Afrikaans vrygestel is) het byvoorbeeld wêreldwyd finansiële sukses behaal (Stemmet 2015), terwyl onlangse produksies, soos Skoonheid (2011), by internasionale filmfeeste vertoon en bekroon is (Sonnekus 2013). In Suid-Afrika oorheers Afrikaanse films die plaaslike bedryf, genereer hulle ’n groter inkomste as plaaslike films in enige ander taal, en is die bedryf verantwoordelik vir omtrent 66% van die inkomste wat plaaslike films verdien. In 2014 het die plaaslike filmbedryf R90,4 miljard bygedra tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) en 562 726 werksgeleenthede geskep (Dipa 2015), wat beteken dat die Afrikaanse filmbedryf ook ’n beduidende bydrae tot Suid-Afrika se ekonomie en die Suid-Afrikaanse gemeenskap lewer.

Deur sy eeu lange geskiedenis was daar opbloeitydperke en tye waar min Afrikaanse films vervaardig is, soos in die huidige artikel aangedui word. Sedert 2007 het die aantal Afrikaanse films wat jaarliks vrygestel word, beduidend gegroei, alhoewel die getal Afrikaanse films wat jaarliks vrygestel word, glad nie vergelyk kan word met die filmbedrywe van lande met groter ekonomieë nie. In 2012 het Indië 1 602 films vrygestel, die VSA 476 en China 745 (McCarthy 2014), terwyl daar in dieselfde jaar 11 Afrikaanse films vrygestel is. Nietemin word daar tans bykans soveel films per jaar in Afrikaans vrygestel as wat tydens die hoogtepunt van die Afrikaanse filmbedryf, naamlik die 1970’s, vrygestel is.

Saam met die toename in die vrystelling van Afrikaanse films het daar oor die laaste twee dekades ’n groot aantal studies oor die (Suid-) Afrikaanse filmbedryf verskyn, wat dui op ’n toename in belangstelling in hierdie bedryf binne akademiese kringe. Benewens ouer oorsigte oor die Suid-Afrikaanse filmbedryf, soos dié van Gutsche (1972), Leroux en Fourie (1982) en Shepperson en Tomaselli (2002), het daar meer onlangs ’n verskeidenheid studies verskyn wat oor die Suid-Afrikaanse filmbedryf handel, byvoorbeeld Botha (2006; 2012), Teffry-Goatley (2010) en Tomaselli (2014). Studies het ook verskyn wat spesifieke rolspelers se bydraes ondersoek, byvoorbeeld Jans Rautenbach (Botha 2006), Jamie Uys (Tomaselli 1990; Senekal en Stemmet 2014; Stemmet 2015) en Pierre de Wet (Senekal 2014), of wat individuele films onder die loep neem, byvoorbeeld Oosthuizen (1979), Nel (2003), Tomaselli (2006), Fourie (2006), Nicholls (2008), Van Staden en Sevenhuysen (2009), Browne (2013) en Sonnekus (2013). In ’n boek, Daar doer in die fliek, deels gebaseer op ’n gelyknamige kykNET-televisiereeks, bespreek Van Nierop (2016a) hoogtepunte in die Afrikaanse filmbedryf. Verder het Steyn (2015) ’n inventaris van Afrikaanse films as deel van ’n voorgestelde argiveringsprojek saamgestel. Botha (2014) skryf ook oor die groot aantal boeke, verhandelings en proefskrifte wat onlangs oor die Suid-Afrikaanse filmbedryf verskyn het.

Anders as die meerderheid studies waarna in die vorige paragraaf verwys is, volg die huidige studie ’n kwantitatiewe benadering. As sodanig volg dit in die voetspore van buitelandse kwantitatiewe studies van die filmbedryf, byvoorbeeld Battiston, Iacovacci, Nicosia, Bianconi en Latora (2016) en Canet, Valero en Codina (2016) (sien ook verwysings in Senekal 2015b), asook vorige studies van die Afrikaanse filmbedryf as netwerk (Senekal en Stemmet 2014; Senekal 2014; 2015a; 2015b) en ander kwantitatiewe studies van kultuurbedrywe, byvoorbeeld musiek (Giannetti 2016) en televisie (Phalen, Ksiazek en Garber 2016). Die datastel wat hier benut word, is egter aansienlik groter as wat in vorige studies gebruik is en strek oor die hele eeu van die Afrikaanse filmbedryf. Anders as in kwalitatiewe oorsigte, byvoorbeeld Van Nierop (2016a), is die huidige studie nie gemoeid met watter films “goed” of “sleg” was nie, maar ondersoek eerder die aantal produksies in verskillende tydperke en meer spesifiek watter rolspelers die aktiefste was in die geskiedenis van die Afrikaanse filmbedryf.

 

2. Die samestelling van die datastel

Alle bydraes tot vollengte Afrikaanse speelfilms (met ander woorde nie kortfilms of dokumentêre nie) is volgens die krediete van die films aangedui, en nie slegs die belangrikste rolspelerkategorieë soos regisseurs, akteurs en draaiboekskrywers nie. Dié hoë vlak van besonderhede is nodig as ’n mens die filmbedryf in sy geheel wil ondersoek: elke persoon wat op die krediete van ’n film gelys word, het ’n bydrae gelewer, nie alleen die regisseur, vervaardiger, draaiboekskrywer en hoofakteurs nie. Hutcheon (2006:85) skryf byvoorbeeld dat die regisseur gewoonlik gesien word as verantwoordelik vir ’n film, maar dat daar ’n groot verskeidenheid kunstenaars betrokke is by die skep van ’n film. Battiston ea (2016:1) beaam hierdie siening vanuit die raamwerk van die netwerkteorie: "More often than not the agents of a social system prefer to combine their efforts in order to achieve results that would be otherwise unattainable by a single agent alone." ’n Film is by uitstek ’n kombinasie van ’n verskeidenheid mense se werk, en daarom word alle rolspelers se bydraes hier aangedui.

Ten einde hierdie hoë vlak van besonderhede te kan opteken, is die films se krediete self in die meerderheid van gevalle gebruik om die datastel saam te stel. Nie alle films was egter beskikbaar nie, en in sulke gevalle is die Internet Movie Database (IMDB) (www.imdb.com) en ander bronne soos films se webblaaie en Wikipedia gebruik. Dít is egter so ver moontlik vermy omdat IMDB nie in dieselfde mate besonderhede opteken as die krediete van films self nie. Daar is altesaam 29 959 bydraes tot 418 Afrikaanse films deur 16 166 rolprentfigure aangeteken.

Figuur 1 verskaf ’n opsomming van die Afrikaanse filmbedryf (1916–2016). Hier word die getal films volgens jaar en volgens dekade aangedui, asook as die getal mense betrokke by die Afrikaanse filmbedryf (volgens die krediete van die films) en die getal regisseurs wat betrokke was. Let daarop dat daar wel meer films in die 1970's as in die 2010's vrygestel is, maar dat daar tans meer regisseurs betrokke is.

Figuur 1. ’n Opsomming oor die Afrikaanse filmbedryf (1916–2016)

 

3. ’n Kwantitatiewe oorsig oor 100 jaar in die Afrikaanse filmbedryf

In die 1910's, die eerste dekade van die Afrikaanse filmbedryf, is slegs De Voortrekkers (1916) vrygestel, ’n stilfilm wat deur Harold M Shaw geregisseer is. Joseph Albrecht was verantwoordelik vir die kinematografie, en sou ’n 31 jaar lange loopbaan in die Afrikaanse filmbedryf volg, wat ook sou insluit regisseur van Moedertjie (1931) en Die bou van ’n nasie (1938), die produksiebestuur en draaiboek van Geboortegrond (1946) en die vervaardiging van Simon Beyers (1947).

Geen Afrikaanse speelfilms verskyn in die 1920's nie, waarna die eerste Afrikaanse klankfilm, Moedertjie (wat ’n kortfilm is, maar as gevolg van sy historiese belangrikheid in die databasis ingesluit is), in 1931 verskyn, asook twee verdere films in hierdie dekade, ’n Dogter van die veld (1933) en Die bou van ’n nasie (1938). Joseph Albrecht is die produktiefste regisseur in hierdie dekade, en regisseer Moedertjie en Die bou van ’n nasie. GF Noble en Joseph Albrecht lewer die grootste getal bydraes (met inagneming van alle rolspelerkategorieë), en daar is altesaam 56 rolprentfigure wat volgens die krediete van die films by hierdie films betrokke is. Alhoewel die Afrikaanse filmbedryf in hierdie dekade nog sy voete moet vind, is dit ’n dekade waarin ’n groot aantal rolprentfigure debuteer wat later belangrike rolspelers in die Afrikaanse filmbedryf sou word:

  • Pierre de Wet, wat ’n rol as akteur in Moedertjie vertolk, word later een van die belangrikste regisseurs en regisseer 15 Afrikaanse films deur sy loopbaan. Sy loopbaan strek uiteindelik oor 47 jaar tot in die laat 1970's, waar hy rolle in Nicolene (1978) en ’n Seder val in Waterkloof (1978) vertolk. Van Nierop (2016) let op sy belangrike bydrae: "[De Wet] het gesorg vir stewige vermaak en het die pad oopgeveg om ’n bestaansreg aan Afrikaans op die silwerdoek te gee en daarvoor eer ’n mens hom."
  • Anna Neethling-Pohl vertolk ’n rol in Die bou van ’n nasie (1938) en sou ook later bekendstaan as een van die groot geeste van die Afrikaanse filmbedryf. Haar loopbaan as aktrise strek oor 41 jaar tot haar laaste rol in Elsa se geheim (1979). Sy regisseer ook Afspraak in die Kalahari (1973) en skryf die draaiboek van Elsa se geheim (1979).
  • Saam met haar in Die bou van ’n nasie debuteer die aktrise Sann de Lange, wat die Afrikaanse filmbedryf se produktiefste akteur sou word. Sy vertolk in haar loopbaan rolle in 44 Afrikaanse films oor 48 jaar, met haar laaste rolle in 1986 (Vyfster: die slot en Kampus: ’n Varsity storie).
  • William Bell maak sy verskyning deur as grimeerkunstenaar op die stel van Die bou van ’n nasie op te tree. Hy sou later een van die persone met die langste loopbane word (41 jaar), een van die rolprentfigure wat bydraes tot die meeste Afrikaanse films gelewer het (36 films), en die produktiefste grimeerkunstenaar in die geskiedenis van die Afrikaanse filmbedryf. Die laaste film waartoe hy sou bydra, is Elsa se geheim (1979) (weer saam met Anna Neethling-Pohl), maar deur sy loopbaan sou hy ook saam met Pierre de Wet werk aan films soos Vadertjie langbeen (1953) en Fratse in die vloot (1958), en met Jamie Uys aan films soos Daar doer in die stad en ’n Plan is ’n boerdery (1954).

Figuur 2 verskaf ’n opsomming van wanneer films in hierdie dekade verskyn het, hoeveel films daar teen die einde van die dekade reeds in Afrikaans was (die "lopende getal" films per dekade), die getal bydraes wat op die krediete van hierdie films aangedui is en die getal mense wat by hierdie films betrokke was. Die figuur dui ook aan wie die produktiefste akteurs, regisseurs en rolprentfigure oor die algemeen was. Komende dekades word op dieselfde wyse opgesom.

Figuur 2. Die 1930's in die Afrikaanse filmbedryf

Die Afrikaanse filmbedryf groei sterk deur die 1940's, dermate dat meer films in dié dekade vrygestel word as wat later in die 2000's vrygestel sou word. Veertien films word vrygestel, en die persoon wat tot die meeste van hulle bydra, is Pierre de Wet. Hy regisseer Geboortegrond (1946), Pinkie se erfenis (1946), Simon Beyers (1947), Dr. Kwak (1948) en Kom saam vanaand! (1949), en vertolk ook ’n rol as akteur in hierdie films. Hy is nie alleen die produktiefste regisseur van die dekade nie, maar ook die produktiefste draaiboekskrywer en akteur, en oor die algemeen lewer hy die grootste getal bydraes tot Afrikaanse films in hierdie dekade van almal wat by hierdie films betrokke was. Pierre de Wet word soms die vader van die Afrikaanse filmbedryf genoem (byvoorbeeld deur Britz 1990; Van der Westhuizen 2012; Van Nierop 2016a:35), en uit sy leierskaprol in die 1940's kan gesien word dat hy ’n groot rol daarin gespeel het dat ’n grondslag gelê word wat momentum aan die Afrikaanse filmbedryf help verleen het. Van Nierop (2016a:57) noem hom ook een van die "grootste sterre" van die 1940's en 1950's.

Alhoewel daar in die 1930's net 56 rolprentfigure betrokke was by die skep van Afrikaanse films (volgens die krediete van hierdie films), is daar in die 1940's reeds 184 rolprentfigure betrokke.

’n Paar belangrike mense debuteer ook in dié dekade:

  • Gert van den Bergh, wie se loopbaan in die 1960's ’n hoogtepunt sou bereik, vertolk in die 1940's rolle in vier films: Die lig van ’n eeu (1942), Pinkie se erfenis (1946), Simon Beyers (1947) en Dr Kwak (1948). Sy loopbaan in die Afrikaanse filmbedryf sou uiteindelik oor 37 jaar strek met rolle in 22 Afrikaanse films, waarvan die laaste Jopie Fourie (1979) was. Hy het ook rolle in bekende films soos ’n Plan is ’n boerdery (1954), Rip van Wyk (1960), Die wonderwêreld van Kammie Kamfer (1965) en Die professor en die prikkelpop (1967) vertolk, en die draaiboek van Die wonderwêreld van Kammie Kamfer geskryf. (Vir meer inligting oor sy loopbaan, kyk Van Nierop 2016a:83–4.)
  • Al Debbo, wat rolle in Dr Kwak (1948) en Kom saam vanaand! (1949) vertolk, sou later ’n belangrike regisseur word. Hy debuteer as regisseur in 1961 met Boerboel de Wet, en sy laaste film as regisseur was Haak Vrystaat! (1976). As akteur strek sy loopbaan in die Afrikaanse filmbedryf oor 35 jaar met rolle in 18 Afrikaanse films: sy laaste optrede was in Wolhaarstories (1983), maar hy het ook rolle in oa Hou die blinkkant bo (1960), Gevaarlike spel (1962) en Stadig oor die klippe (1969) vertolk.
  • James Norval, wat rolle in Die lig van ’n eeu (1942), Dr Kwak (1948) en Sarie Marais (1949) vertolk, sou uiteindelik ’n 25 jaar lange loopbaan as akteur in die Afrikaanse filmbedryf hê en rolle in 13 films vertolk (waarvan die laaste Die Krugermiljoene in 1967 was). Hy het ook Spore in die modder (1961) geregisseer.
  • In Sarie Marais (1949) speel Norval saam met Wena Naudé, wat haar debuut in die Afrikaanse filmbedryf hier maak. Wena Naudé sou in die komende dekades die tweede produktiefste aktrise in die geskiedenis van die Afrikaanse filmbedryf word, met rolle in 37 Afrikaanse films oor 29 jaar. Sy het rolle vertolk in oa Voor sononder (1962), Debbie (1965), Die Wonderwêreld van Kammie Kamfer (1965), Die kavaliers (1966), Dr Kalie (1968) en Vlug van die seemeeu (1972). Sy vertolk haar laaste rol in 1978 in Kom tot rus. Van Nierop (2016a:61) skryf met lof van haar toneelspel, en merk byvoorbeeld op dat haar toneelspel "gesaghebbend en waardig" was.
  • Nog ’n belangrike debuut tydens hierdie dekade is Siegfried Mynhardt, wat ’n rol in Die skerpioen (1946) vertolk en só sy loopbaan as akteur in die Afrikaanse filmbedryf begin. Oor die volgende 37 jaar sou hy rolle in 21 Afrikaanse films vertolk, oa Rip van Wyk (1960), Debbie (1965), Lied in my hart (1970) en Kootjie Emmer (1977). Sy laaste rol was in Die kersietuin en Geel trui vir ’n wenner (1983).

Kyk ’n mens egter na wanneer Afrikaanse films vrygestel is, soos gesien kan word in figuur 3, kan die impak van die Tweede Wêreldoorlog duidelik gesien word: drie films verskyn in 1942, en een in 1944, maar die meerderheid verskyn ná 1945: vier in 1946, twee in 1947, nog een in 1948 en drie in 1949. Van die 14 Afrikaanse films wat in dié dekade verskyn, verskyn 10 dus na die oorlog. Figuur 3 verskaf ’n oorsig oor die 1940's, soos figuur 2 ’n oorsig oor die 1930's verskaf het.

Figuur 3. Die 1940's in die Afrikaanse filmbedryf

In die 1950's duur die momentum van die Afrikaanse filmbedryf voort en word die vyfde meeste films van alle dekades vrygestel (27 films), asook die eerste Afrikaanse kleurfilm (Daar doer in die bosveld, 1951). William Bell is as grimeerkunstenaar betrokke by 12 van hierdie films, en Pierre de Wet by 10, waarvan hy agt regisseer. Dié dekade is Pierre de Wet se produktiefste dekade en 47,62% van die films waarby hy betrokke was, word in hierdie dekade vrygestel. Die getal rolprentfigure wat by hierdie films betrokke is, styg ook na ’n totaal van 326 vir die dekade. Pierre de Wet is weer eens die produktiefste regisseur en draaiboekskrywer, maar Frederik Burgers en Jan Bruyns is die produktiefste akteurs wat in die grootste getal films speel. Edward Howes lewer as klankverwerker die grootste getal bydraes tot films wat in hierdie dekade vrygestel is (hy is verantwoordelik vir die klank op 14 films).

Belangrike debute van die 1950's sluit in:

  • Jamie Uys, wat bydra tot sewe films: Daar doer in die bosveld (1951), Vyftig-vyftig (1953), Daar doer in die stad (1954), Geld soos bossies (1955), Paul Kruger (1958), Die bosvelder (1958) en Satanskoraal (1959). Alhoewel hy as nuweling die bedryf in hierdie dekade betree het, is hy ook die tweede produktiefste regisseur in dié dekade naas Pierre de Wet en regisseer vyf films. Uys sou later een van die Afrikaanse filmbedryf se grootste suksesverhale word en ook die internasionale mark suksesvol betree (Stemmet 2015), en ook binne die Afrikaanse filmbedryf hoë aansien geniet; Van Nierop (in Bruwer 2016) voer byvoorbeeld aan dat Uys "Afrikaans bevry en humor ingebring [het] wat nie 'kommin' is nie". Sy loopbaan in die Afrikaanse filmbedryf strek uiteindelik oor 37 jaar. Hy skryf 16 films, vervaardig 15, en vertolk rolle as akteur in 13. Verder regisseer hy 15 films, waaronder Doodkry is min, Hans en die Rooinek en Lord Oom Piet (1961), Die professor en die prikkelpop (1967), Dirkie (1975), en natuurlik The gods must be crazy I en II (1983 en 1988).
  • Die akteur Johan du Plooy debuteer ook in dié dekade met rolle in Geld soos bossies (1955), Paul Kruger (1958), Die bosvelder (1958) en Nooi van my hart (1959). Du Plooy sou ook later – naas Wena Naudé en Sann de Lange – een van die produktiefste akteurs in die Afrikaanse filmbedryf word, met rolle in 34 Afrikaanse films oor 21 jaar, wat rolle in oa Rip van Wyk (1960), Lord Oom Piet (1961), Kimberley Jim (1963), Die professor en die prikkelpop (1967) en Dirkie (1975) sou insluit. Sy laaste film was Haak Vrystaat! (1976).
  • André Huguenet debuteer in 1953 in die Afrikaanse filmbedryf (hy is hoofsaaklik bekend as akteur in die teater) met Inspan en Hans-die-skipper, en vertolk ook ’n rol in Paul Kruger (1958).Hy beleef ook sy produktiefste dekade in die bedryf tydens die 1950's en vertolk rolle in drie films. In 1961 vertolk hy ook ’n rol in Die Bubbles Schroeder storie, maar hy bly hoofsaaklik ’n kernfiguur in die Afrikaanse teater eerder as die film.
  • Emil Nofal, wat ’n 32 jaar lange loopbaan in die bedryf sou hê, debuteer as draaiboekskrywer vir Altyd in my drome (1952) en Inspan (1953). Hy sou uiteindelik die draaiboeke van 15 Afrikaanse films skryf, waaronder Rip van Wyk (1960), Lord Oom Piet (1961), Kimberley Jim (1963), Katrina (1969), Sonja (1978) en Die groen faktor (1984). Hy vervaardig ook agt Afrikaanse films en regisseer ses: Hou die blinkkant bo (1960), Rip van Wyk (1960), Voor sononder (1962), Kimberley Jim (1963), King Hendrik (1965) en Wilde seisoen (1967).
  • Elmo de Witt debuteer ook in die 1950's, eers as kinematograaf op Geld soos bossies (1955), en regisseer Satanskoraal (1959). Hy sou ’n 36 jaar lange loopbaan in die Afrikaanse filmbedryf volg waartydens hy 21 Afrikaanse films sou regisseer en 15 vervaardig. Hy regisseer byvoorbeeld Die kavaliers (1966), Danie Bosman (1969), Mooimeisiesfontein! (1977) en Grensbasis 13 (1979). Sy laaste film was Tolla is tops (1991).

Figuur 4 verskaf ’n oorsig oor die 1950's.

Figuur 4. Die 1950's in die Afrikaanse filmbedryf

Tydens die 1960’s was die RSA se ekonomie een van die snelgroeiendste ekonomieë in die wêreld (Aucamp 2010:119): tussen 1961 en 1970 het die BBP met ’n gemiddeld van 5,7% gegroei; in 1963 het die BBP met 7,4% gegroei, en in die daaropvolgende jaar met 7,9% (Verhoef 2012:466; kyk ook Van Wyk en Grobler 2007:37). Hierdie dekade is een van die belangrikstes in die Afrikaanse filmbedryf asook in die loopbane van heelwat mense wat by dié bedryf betrokke was. Daar verskyn 61 Afrikaanse films in dié dekade, wat dit die derde produktiefste dekade in die Afrikaanse filmbedryf maak, en teen die einde van die dekade is daar altesaam reeds 106 Afrikaanse films vrygestel. Daar is in hierdie dekade 1 035 rolprentfigure betrokke by die films wat vrygestel word. Emil Nofal regisseer die meeste films (ses), gevolg deur Al Debbo, Jamie Uys en Gordon Vorster (vyf elk), terwyl Elmo de Witt en Kappie Botha elk vier films regisseer. Johan du Plooy vertolk rolle in 20 films, wat die 1960's ook die produktiefste dekade in sy loopbaan maak, terwyl Sann de Lange rolle in 17 films vertolk en Pieter Hauptfleisch en Wena Naudé elk rolle in 13 films vertolk (die 1960's is ook die produktiefste dekade in Hauptfleisch en De Lange se loopbane as akteurs). Emil Nofal en Jamie Uys is ook die produktiefste draaiboekskrywers van die dekade.

’n Paar mense wat later huishoudelike name in die Afrikaanse filmbedryf sou word, verskyn tydens hierdie dekade ook op die toneel:

  • Marius Weyers, wat teen 2016 reeds ’n 48 jaar lange loopbaan as akteur in die Afrikaanse filmbedryf gehad het en rolle in 20 Afrikaanse films vertolk het, debuteer in 1967 as akteur in Oupa for sale en Voortvlugtige spioen. In die komende dekades sou hy rolle vertolk in oa Siener in die suburbs (1973), The gods must be crazy I (1983), Paljas (1998) en Faan se trein (2014).
  • Cobus Rossouw debuteer in 1965 as akteur in Debbie, en het teen 2016 reeds rolle in 22 Afrikaanse films oor ’n tydperk van 49 jaar vertolk. In die jare na sy debuut sou hy rolle vertolk in oa Die kavaliers (1966), Breekpunt (1971), Die groen faktor (1984), Dada en die flower (1986), en saam met Marius Weyers in Die wonderwerker (2012) en Faan se trein (2014).
  • Regardt van den Bergh debuteer in 1962 as akteur in Die tweede slaapkamer en Stropers van die Laeveld en sou in die komende 54 jaar van sy loopbaan (tot einde 2016) rolle in 20 Afrikaanse films vertolk, insluitend Eendag op ’n reëndag (1975), Blink Stefaans (1980), Die storie van Klara Viljee (1991), Paljas (1998) en Klein Karoo (2012). Hy regisseer ook ses films: Boetie gaan border toe (1984), Boetie op maneuvers (1985), Van der Merwe PI (1985), Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (2010), Klein Karoo (2012) en Uitvlucht (2016) (hy vervaardig ook laasgenoemde twee films).
  • Hermien Dommisse debuteer in 1968 met ’n rol in Die kandidaat, en sou oor die volgende 19 jaar rolle in agt Afrikaanse films vertolk, insluitend Aanslag op Kariba (1973), ’n Plekkie in die son (1979) en Fiela se kind (1987).
  • Gé Korsten debuteer in 1967 as akteur in Die Krugermiljoene en Hoor my lied, en sou in die volgende dekade rolle vertolk in onder meer Lied in my hart (1970), Lokval in Venesië (1972) en Netnou hoor die kinders (1977).
  • Katinka Heyns betree die Afrikaanse filmbedryf as akteur in Katrina (1969) en sou oor die volgende ses jaar rolle in nog vyf Afrikaanse films vertolk: Jannie Totsiens (1970), Pappalap (1971), Die sersant en die Tiger Moth (1973), Babbelkous en Bruidegom (1974) en Eendag op ’n reëndag (1975). Sy sou egter eerder bekendheid verwerf as regisseur, met ’n loopbaan van 32 jaar vanaf haar eerste film as regisseur (Slampamperman,1980) tot Die wonderwerker (2012), met altesaam agt films as regisseur. Met films soos Fiela se kind (1987), Die storie van Klara Viljee (1991) en Paljas (1998) het sy een van die groot regisseurs in die bedryf geword, ’n persoon wat Els (2016) "die doyenne van Suid-Afrika se rolprentwese" noem.
  • Carel Trichardt vertolk sy eerste rol in die Afrikaanse filmbedryf in Die kavaliers (1966), en sou rolle in nog 17 Afrikaanse films vertolk tot sy jongste rol in Uitvlucht (2016). Hy regisseer ook Sononder (1971).
  • Koos Roets betree die bedryf in 1962 as kamera-assistent op Lord Oom Piet, en sou later een van die bedryf se bekendste regisseurs word. Altesaam dra hy by tot 32 films oor ’n tydperk van 53 jaar, en regisseer in hierdie tyd 12 films, insluitend Erfgenaam (1971 en sy debuut as regisseur), Kootjie Emmer (1977), Die groen faktor (1984), Kaalgat tussen die daisies (1997), Faan se trein (2014) en ’n Pawpaw vir my darling (2016) (Hoender met die rooi skoene is eers in 2017 vrygestel).
  • Dirk de Villiers se debuut in die Afrikaanse filmbedryf is as akteur in Huis op horings (1963), en hy sou oor die komende 34 jaar rolle in 14 Afrikaanse films vertolk, waarvan die laaste in Kaalgat tussen die daisies (1997) was. Hy lewer egter meer bydraes as regisseur, waar hy 18 Afrikaanse films tussen 1968 (Jy is my liefling) en 1994 (Kalahari Harry) regisseer. Hy skryf ook agt films en vervaardig drie.
  • Franz Marx debuteer ook in die 1960's as akteur in Dr Kallie en Jy is my liefling (1968). Alhoewel hy as akteur in nege Afrikaanse films speel, verwerf hy later bekendheid as die regisseur van 13 Afrikaanse films. Sy loopbaan strek tot op hede oor 42 jaar.
  • Jans Rautenbach se eerste betrokkenheid by ’n Afrikaanse film is as assistentregisseur en akteur in Kimberley Jim (1963, saam met Koos Roets). Oor die volgende 53 jaar sou hy bydraes lewer tot 14 Afrikaanse films, meestal in die rol van regisseur (nege films), waarvan hy reeds twee in hierdie dekade regisseer: Die kandidaat (1968) en Katrina (1969). Van Nierop (2016b) sê Rautenbach het "gesaghebbende en kragtige gestalte aan die Afrikaanse rolprent gegee," en is elders (2016c) nog meer vol lof: "[D]it was Jans Rautenbach se Die kandidaat (1968) en Katrina (1969) wat gewys het dat Afrikaners ook die politiek vreesloos kan aandurf. Selfs die surrealistiese Jannie totsiens (1970) het tot vandag toe nog nie sy gelyke gevind nie."

Figuur 5 verskaf ’n opsomming oor die 1960's.

Figuur 5. Die 1960's in die Afrikaanse filmbedryf

In die 1970's stu die Afrikaanse filmbedryf voort op die momentum wat tydens die voorafgaande dekades opgebou is en word die meeste films van alle dekades in die geskiedenis van die Afrikaanse filmbedryf vrygestel: 139 films, wat beteken dat 33,33% van alle Afrikaanse films in dié dekade vrygestel word. Die getal rolprentfigure wat by die skep van hierdie films betrokke is, styg ook tot 1 831. Elmo de Witt is die produktiefste regisseur met 15 films, gevolg deur Dirk de Villiers (14) en Franz Marx en Ivan Hall (nege elk). Wena Naudé bereik die hoogtepunt van haar loopbaan en vertolk rolle in 20 films, gevolg deur Jan Bruyns (19) en Dawid van der Walt, Don Leonard en Sann de Lange (18 elk). Cobus Rossouw, wat tydens die vorige dekade gedebuteer het, beleef ook sy produktiefste dekade met rolle in 12 films tydens die 1970's, wat net meer as die helfte (52,17%) van sy rolle in films verteenwoordig. Ook Regardt van den Bergh, wat, soos Rossouw, tydens die 1960's as akteur debuteer, beleef sy produktiefste dekade as akteur met rolle in 10 Afrikaanse films. Die 1970's is ook vir Siegfried Mynhardt sy produktiefste dekade, met rolle in nege films, asook vir Marius Weyers, wat rolle in agt films vertolk. Koos Roets beleef ook sy produktiefste dekade met bydraes tot 20 films. Hy debuteer ook in hierdie dekade as regisseur. Die produktiefste draaiboekskrywer is Jan Scholtz, wat in 1970 as produksiehulp op Sien jou môre by die Afrikaanse filmbedryf betrokke raak en die draaiboeke van 14 Afrikaanse films in die 1970's skryf. Hy regisseer verder in hierdie dekade ses Afrikaanse films. Ben Vlok lewer die meeste bydraes tot Afrikaanse films deur 26 Afrikaanse films in hierdie dekade te vervaardig, terwyl Cas Odendaal die klank op 26 Afrikaanse films behartig en daardeur saam met Ben Vlok die meeste bydraes tot die Afrikaanse filmbedryf in hierdie dekade maak.

’n Paar belangrike debute van dié dekade sluit die volgende in:

  • Tobie Cronjé debuteer in 1973 met rolle in Die sersant en die Tiger Moth en Môre, môre. Hy vertolk gedurende die 1970's rolle in 16 Afrikaanse films, wat dit sy produktiefste dekade in die bedryf maak (88,89% van films waarin hy ’n rol vertolk het, word in dié dekade vrygestel). Na sy laaste films in dié dekade, Herfsland, Skelms en ’n Plekkie in die son (1979), vertolk hy vir lank nie rolle in Afrikaanse films nie voor hy weer in die 2010's terugkeer met rolle in Die spook van Uniondale (2014) en ’n Pawpaw vir my darling (2016).
  • Zack du Plessis debuteer ook in dié dekade as akteur in Afspraak in die Kalahari (1973), en soos in die geval van Tobie Cronjé, is dit ook sy produktiefste dekade: hy vertolk rolle in 15 films, wat beteken dat 60% van die films waarin hy rolle vertolk het, in die 1970's vrygestel is. Oor die volgende 24 jaar sou hy rolle in 23 Afrikaanse films vertolk, insluitende Pretoria o Pretoria (1978), Kiepie en Kandas (1980), die Orkney snork nie-films (1992 en 1993), Lipstiek dipstiek (1994) en Kaalgat tussen die daisies (1997).
  • Ook Hans Strydom debuteer in dié dekade (saam met Tobie Cronjé in Môre, môre in 1973) én beleef sy produktiefste dekade as akteur in die bedryf: hy vertolk in hierdie dekade rolle in 10 Afrikaanse films. Sy loopbaan sou in die 1980’s ook rolle in Diamant en die dief (1981) en The gods must be crazy II (1988) insluit.
  • Annette Engelbrecht debuteer óók in hierdie dekade en beleef ook haar produktiefste dekade met rolle in vyf Afrikaanse films. Haar eerste rol as aktrise is in Skadu's van gister (1974), en oor die volgende 42 jaar sou sy rolle in 14 Afrikaanse films vertolk, insluitend Grensbasis 13 (1979), die Orkney snork nie-films (1992 en 1993), 100 m Leeuloop (2013) en Mignon Mossie van Wyk (2016).
  • Verder is daar Elize Cawood wat in 1979 debuteer in Wat jy saai. Haar loopbaan as aktrise strek tans reeds oor 37 jaar en sluit rolle in nege Afrikaanse films in, waaronder Lyklollery (2001), Die wonderwerker (2012), Lien se lankstaanskoene (2012), Dis ek, Anna (2015) en Vir altyd (2016).
  • Lida Botha vertolk haar eerste filmrol in Die Spaanse vlieg (1978), en sou oor die volgende 38 jaar rolle in 10 Afrikaanse films vertolk, insluitend Fiela se kind (1987), Die storie van Klara Viljee (1991), Hoofmeisie (2011) en Hollywood in my huis (2014).
  • Marga van Rooy se loopbaan as aktrise in die Afrikaanse filmbedryf begin in 1971 met ’n rol in Pappalap, en strek uiteindelik oor 45 jaar. Sy vertolk rolle in 14 Afrikaanse films, waaronder ’n Pot vol winter (1991), Lipstiek dipstiek (1994), Karate Kallie (2009), Die windpomp (2013) en ’n Pawpaw vir my darling (2016).
  • Rika Sennett debuteer in 1973 met ’n rol in Snip en Rissiepit, en sou oor die komende 42 jaar rolle in 12 Afrikaanse films vertolk, insluitend Netnou hoor die kinders (1977), Hond se dinges (2009), Roepman (2011), Die wonderwerker (2012) en Trouvoete (2015).
  • Willie Esterhuizen se eerste rolle as akteur in Afrikaanse films was in Die vyfde seisoen, Grensbasis 13 en Wat jy saai (1979), waarna hy rolle in nog 16 Afrikaanse films oor die komende 37 jaar sou vertolk, insluitend die Orkney snork nie-films (1992 en 1993), Stoute boudjies (2010), Faan se trein (2014) en ’n Pawpaw vir my darling (2016). Hy regisseer ook sewe Afrikaanse films, onder andere Lipstiek dipstiek (1994) en Poena is koning (2007).
  • Paul Eilers se loopbaan in die Afrikaanse filmbedryf begin met ’n rol in Die drie van der Merwes (1970), waarna hy rolle in oa Die rebel (1976), Dada en die flower (1986), Paljas (1998), Roepman (2011) en Die ontwaking (2016) vertolk. Hy debuteer ook as regisseur met Roepman, waarna hy Verraaiers en Stuur groete aan Mannetjies Roux (2013) regisseer.

Kyk ’n mens egter na hoeveel Afrikaanse films per jaar tydens die 1970's vrygestel word, merk ’n mens die eerste spore van die probleme wat in die daaropvolgende dekades sou kom. Die dekade bou op tot 1974: in 1970 en 1971 agt films in elke jaar; 15 in 1972, 16 in 1973, en 24 in 1974. Laasgenoemde is die meeste Afrikaanse films wat in ’n enkele jaar oor die hele eerste eeu van die Afrikaanse filmbedryf vrygestel is. Daarna begin die afname: 21 films verskyn in 1975, 14 in 1976, 11 in 1977, 12 in 1978 en nege in 1979.

Figuur 6 verskaf ’n oorsig oor die 1970's in die Afrikaanse filmbedryf.

Figuur 6. Die 1970's in die Afrikaanse filmbedryf

Die 1980's skep die indruk dat die Afrikaanse filmbedryf direk deur die breër Suid-Afrikaanse werklikheid geraak is. Daar verskyn nege Afrikaanse films in 1980 (soos in die laaste twee jaar van die vorige dekade), vyf in 1981, vier in 1982, sewe in 1983, sewe in 1984, ses in 1985 en weer sewe in 1986. Hierna volg ’n skerp daling: in 1987 en 1988 verskyn slegs twee films in elke jaar, en in 1989 slegs een (sien figuur 7 hier onder). Hierdie daling val saam met die grootskaalse sanksies wat op die noodtoestande gevolg het, en veral ná 1986 was Suid-Afrika toenemend geïsoleer. Verder bereik inflasie in 1986 die hoogste punt ooit in die Suid-Afrikaanse geskiedenis (20,9%). Die ekonomiese druk waaronder Suid-Afrika in hierdie dekade verkeer het, asook politieke onstuimigheid en internasionale isolasie, val met ander woorde saam met ’n afname in Afrikaanse filmproduksies in hierdie dekade.

Nietemin word 50 Afrikaanse films tydens die 1980's vrygestel, en 1 650 rolprentfigure is by hierdie films betrokke. Stephan Bouwer is die produktiefste regisseur en regisseer ses films, gevolg deur Jan Scholtz en Katinka Heyns (vier elk). Bromley Cawood, wat later ook ’n belangrike rol in die Afrikaanse filmbedryf as regisseur sou speel, debuteer ook in die 1980's. Alhoewel Jamie Uys kwantitatief gesproke sy hoogtepunt in die 1960's bereik het, behaal hy sy grootste sukses in die 1980's met The gods must be crazy I en II. Die produktiefste akteurs tydens die 1980's was Alex Heyns en Jacques Loots (10 films elk), terwyl Chris Barnard die produktiefste draaiboekskrywer was.

Die 1980's is egter ook die begin van ’n nuwe generasie persone se loopbane. ’n Paar debute verdien om uitgesonder te word:

  • Marcel van Heerden debuteer in 1981 in Jopie Fourie, gevolg deur ’n rol in ’n Wêreld sonder grense (1986). Hy sou in die komende jare rolle in oa Orkney snork nie (1992), Lipstiek dipstiek (1994), Hond se dinges (2009), Superhelde (2011), Die pad na jou hart (2013), ’n Man soos my pa (2015) en ’n Pawpaw vir my darling (2016) vertolk. Hy het tot op hede rolle in 14 Afrikaanse films oor ’n tydperk van 35 jaar vertolk.
  • Gys de Villiers debuteer met ’n rol in Boetie gaan border toe (1984), waarna hy rolle in Kalahari Harry (1994), Kaalgat tussen die daisies (1997) en Paljas (1998) vertolk. Die hoogtepunt van sy loopbaan kom egter eers in die 2010's, wanneer hy rolle in ses Afrikaanse films vertolk, insluitend sy nuutste, Die ontwaking (2016).
  • Brümilda van Rensburg se loopbaan as aktrise in Afrikaanse films begin met drie films in 1985: Boetie op maneuvers, Eendag vir altyd en Nag van vrees, gevolg deur ’n rol in ’n Wêreld sonder grense (1986). Hierna speel sy ’n rol in die filmweergawe van Agter elke man (1990) en Egoli (2010), asook Musiek vir die agtergrond (2013), Agent 2000 en Leading lady (2014), en ’n Pawpaw vir my darling (2016).
  • Elzette Maarschalk se loopbaan begin ook in die 1980's, met ’n rol in Beloftes van môre (1981), en tot op hede het sy rolle in nege Afrikaanse films vertolk, insluitende Lipstiek dipstiek (1994), Alles wat mal is (2013), Die ballade van Robbie de Wee (2013), Ballade vir ’n enkeling (2015), Seun (2015) en Mignon Mossie van Wyk (2016).
  • Ian Roberts se loopbaan as akteur dateer ook terug na die 1980’s, waar hy begin met ’n rol in die filmweergawe van Verspeelde lente (1982). Hy was ook te sien in onder meer Boetie op maneuvers (1985), Paljas (1998), die Bakgat-trilogie (2008, 2009 en 2013) en Babalas en Die windpomp (2013). In totaal het hy tot op hede rolle in 14 Afrikaanse films vertolk, en skryf ook die draaiboek van Kalahari Harry (1994).
  • Dawid Minnaar se loopbaan in die Afrikaanse filmbedryf begin met ’n rol in Sagmoedige Neelsie (1984), waarna hy oor die volgende 32 jaar rolle in nog agt Afrikaanse films sou vertolk, byvoorbeeld in Fiela se kind (1987), Nag van die negentiende (1991), Die wonderwerker (2012), Dis ek, Anna (2015) en ’n Pawpaw vir my darling (2016).
  • Richard van der Westhuizen vertolk sy eerste filmrol in 1987 in Liewe hemel, Genis!, en sou oor die volgende 28 jaar rolle in nog 11 Afrikaanse films vertolk, waaronder Orkney snork nie (1992), Karate Kallie (2009), Stoute boudjies (2010), Alles wat mal is (2013), Suiderkruis, (2015), Treurgrond (2015) en Trouvoete (2015).

Figuur 7 verskaf ’n oorsig oor die 1980's in die Afrikaanse filmbedryf.

Figuur 7. Die 1980's in die Afrikaanse filmbedryf

Die klein aantal Afrikaanse produksies duur voort tydens die 1990's, en slegs 15 Afrikaanse films word gedurende die hele dekade vrygestel. Boonop verskyn die meerderheid films voor 1994: slegs twee (Kaalgat tussen die daisies, 1997 en Paljas, 1998) verskyn daarna. Dit is moeilik om nie hierdie afname aan politieke onstuimigheid tydens die oorgangsjare toe te skryf nie, en Botha (2014) stel dit ook dat dít een van die hoofredes was waarom die hele Suid-Afrikaanse filmbedryf in hierdie dekade gestagneer het.

Alhoewel die totale getal Afrikaanse films wat in hierdie dekade verskyn het, baie laag was, is daar steeds ’n paar mense wat uitstaan tussen die 989 rolprentfigure wat tot hierdie films bydra. Katinka Heyns en Willie Esterhuizen is die produktiefste regisseurs: Heyns regisseer Jan en Jorie (1990), Die storie van Klara Viljee (1991) en Paljas (1998), terwyl Esterhuizen Orkney snork nie die movie (1992), Orkney snork nie 2 (1993), Lipstiek dipstiek (1994) en Kaalgat tussen die daisies (1997) regisseer. Die produktiefste akteurs is Marcel van Heerden, Marko van der Colff en Zack du Plessis, terwyl Willie Esterhuizen ook die produktiefste draaiboekskrywer is, gevolg deur Paul C Venter.

Debute van die 1990's sluit in:

  • Lizz Meiring, wat in Lipstiek dipstiek (1994) debuteer. Sy sou deurgaans ’n produktiewe samewerkingsverhouding met Willie Esterhuizen handhaaf en rolle in films soos Poena is koning (2007), Vaatjie sien sy gat (2008), Stoute boudjies (2010) en Molly & Wors (2013) vertolk.
  • Anna-Mart van der Merwe se eerste filmrol was in Die storie van Klara Viljee (1991) en Taxi na Soweto (1991), waarna sy rolle vertolk het in Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (2010), Die ballade van Robbie de Wee (2013) en Stuur groete aan Mannetjies Roux (2013).

Figuur 8 verskaf ’n opsomming van die 1990's in die Afrikaanse filmbedryf.

Figure 8. Die 1990's in die Afrikaanse filmbedryf

Nog minder films word in die 2000's as in die 1990's vrygestel, met slegs 13 Afrikaanse films wat verskyn, wat dit na die 1910's die tweede onproduktiefste dekade in die geskiedenis van die Afrikaanse filmbedryf maak. Sedert 2007 lewe die Afrikaanse filmbedryf egter weer op en begin die eerste tekens van herstel sedert die afname van die 1980's toon. In hierdie jaar verskyn Meisie, Ouma se slim kind en Poena is koning, en in die volgende jaar verskyn Bakgat en Vaatjie sien sy gat. In 2009 verskyn daar weer vyf films, insluitende die eerste Afrikaanse pornografiese film, Kwaai naai. Nog drie Afrikaanse pornografiese films verskyn in 2010: ’n Pomp in elke dorp, Girls van die Loslyf Mansion en Amor, ’n bok vir sports. Die Afrikaanse pornografiesefilmbedryf gaan egter na ’n skamele twee jaar tot niet, hoofsaaklik as gevolg van onwettige duplisering (Legg 2014).

Daar is 1 053 rolprentfigure betrokke by die maak van die 13 films wat gedurende die 2000's vrygestel is. Die produktiefste akteur in die 2000's is Andrew Thompson, wat rolle in vier Afrikaanse films vertolk, gevolg deur Cherie van der Merwe, Gerhard Odendaal, Ivan Botha en Lizz Meiring, wat elk rolle in drie films vertolk. Henk Pretorius en Willie Esterhuizen regisseer elk twee films, maar al die ander regisseurs dra net ’n enkele film by. Willie Esterhuizen is ook die produktiefste draaiboekskrywer van die dekade, terwyl Andrew Thompson oor die algemeen die grootste getal bydraes lewer.

Belangrike debute van die 2000's sluit in:

  • Darrell James Roodt betree in 2007 die Afrikaanse filmbedryf as die regisseur en draaiboekskrywer van Meisie. In die 2010's sou hy een van die produktiefste regisseurs in die bedryf word, en het Jakhalsdans (2011), Stilte (2012), Verskietende ster (2012), Alles wat mal is (2013), Die ballade van Robbie de Wee (2013), Seun (2015), Treurgrond (2015), Trouvoete (2015) en Mignon Mossie van Wyk (2016) geregisseer. Roodt was ook sedert die 1980's betrokke by Suid-Afrikaanse Engelse films soos The stick (1988) en Cry, the beloved country (1995).
  • Deon Lotz, wat in die 2010's een van die produktiefste akteurs sou word, debuteer met ’n rol in Proteus (2003). Sy rolle neem egter eers ná 2011 toe, in onder meer films soos Roepman en Skoonheid (2011), Musiek vir die agtergrond en Verraaiers (2013), Faan se trein en French toast (2014), ’n Man soos my pa (2015) en Modder en bloed en ’n Pawpaw vir my darling (2016).
  • Ivan Botha se eerste rol in die Afrikaanse filmbedryf is in Bakgat (2008), waarna hy ook rolle in Bakgat 2 en Hond se dinges (2009) vertolk. In die 2010's sou hy rolle in ses Afrikaanse films vertolk, insluitende Roepman en Superhelde (2011), Die pad na jou hart, Verraaiers en Bakgat 3 (2013), en Vir altyd (2016). Hy skryf ook Ek joke net 1 en Superhelde (2011), Die pad na jou hart (2013) en Vir altyd (2016) (en vervaardig laasgenoemde film), en doen die bemarking vir Die pad na jou hart (2013), Ballade vir ’n enkeling (2015) en Vir altyd (2016).
  • Soos Ivan Botha begin ook Lelia Etsebeth se loopbaan met Bakgat (2008) en Bakgat 2 (2009). In die 2010's sou sy rolle vertolk in oa ’n Saak van geloof (2011), Wolwedans in die skemer (2012), Die pad na jou hart en Molly & Wors (2013) en Sink (2016). Sy het egter ook as rolverdeler bygedra tot ’n groot aantal Afrikaanse films, insluitende Hoofmeisie (2011), Roepman (2011), Musiek vir die agtergrond (2013), Verraaiers (2013), Agent 2000 (2014), Ballade vir ’n enkeling (2015) en Vir altyd (2016).
  • Altus Theart is nog ’n akteur wie se loopbaan as akteur in die Afrikaanse filmbedryf sy oorsprong in die Bakgat-trilogie het: sy loopbaan begin met rolle in Bakgat (2008) en Bakgat 2 (2009), en in die 2010's sou hy rolle vertolk in oa Roepman en Getroud met rugby (2011), Stilte (2012), Die ballade van Robbie de Wee (2013) en Modder en bloed (2016).
  • Andrew Thompson maak sy verskyning as akteur in die Afrikaanse filmbedryf met ’n rol in Poena is koning (2007), waarna hy in nog ’n Willie Esterhuizen-film, Vaatjie sien sy gat (2008), speel (en in 2010 in Stoute boudjies), asook die eerste twee Bakgat-films. In die 2010's vertolk hy rolle in oa Roepman en Superhelde (2011) (hy skryf ook laasgenoemde saam met Ivan Botha), asook Verraaiers (2013). Sy loopbaan word egter kortgeknip deur sy afsterwe in Maart 2012.

Figuur 9 verskaf ’n opsomming oor die Afrikaanse filmbedryf gedurende die 2000's.

Figuur 9. Die 2000's in die Afrikaanse filmbedryf

In ’n voorstel oor hoe Afrikaans in die nuwe bedeling ná 1994 kan voortbestaan, skryf Steyn (1984:27–8) onder andere dat ’n gesonde filmbedryf Afrikaans se posisie behoort te bevorder. Die groeikurwe aan die einde van die 2000's word voortgesit in die 2010's, dermate dat die 2010's die Afrikaanse filmbedryf se tweede produktiefste dekade deur sy hele geskiedenis word (boonop met nog vier jaar voor wat nie in die datastel ingesluit is nie). Daar verskyn tussen 2010 en 2016 95 Afrikaanse films, en 10 707 rolprentfigure is by hierdie films betrokke. Die produktiefste regisseur in hierdie dekade is Darrel James Roodt, wat nege films regisseer, gevolg deur Stefan Nieuwoudt (ses) en Willie Olwage (vier). ’n Nuwe generasie akteurs oorheers ook hierdie dekade: Sharon du Toit vertolk rolle in 12 films, Ignatius Cronje in 11, en Leandie du Randt, Anel Alexander, Deon Lotz, Monica Steyn en Wilhelm Thom in 10 elk. Paul Raleigh lewer die meeste bydraes, as verantwoordelik vir voltooiingswaarborge, gevolg deur Karen Meiring, wat meestal as uitvoerende vervaardiger optree.

Figuur 10 verskaf ’n oorsig oor die Afrikaanse filmbedryf tydens die 2010's.

Figuur 10. Die 2010's in die Afrikaanse filmbedryf

Teen die einde van 2016 was daar reeds 418 vollengte Afrikaanse speelfilms vrygestel, en die afwaartse tendens in die produksie van Afrikaanse films is duidelik omgekeer. Een van die redes vir hierdie ommekeer is die inisiatief van kykNET, en veral van Karen Meiring, om meer Afrikaanse films te vervaardig. Karen Meiring is sedert Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (2010) ’n naam wat ’n mens gereeld op die krediete van Afrikaanse films teëkom. Sy was betrokke by altesaam 17 Afrikaanse films (meestal in die rol van uitvoerende vervaardiger). Die betrokkenheid van kykNET speel ’n beduidende rol in hierdie oplewing omdat die impak van onwettige duplisering, wat die Afrikaanse pornografiesefilmbedryf gekelder het en wêreldwyd die filmbedryf groot skade berokken het, hierdeur verminder word: Afrikaanse films genereer inkomste nie alleen direk deur kaartjieverkope nie, maar ook deur DStv-intekening.

Daar is ook ’n interessante verskil tussen die 2010's en die 1970's: in die 1970's is die 138 Afrikaanse films deur 49 regisseurs geregisseer, maar in die 2010's is die 95 films deur 77 regisseurs geregisseer. Trouens, in die 2010's was die meeste regisseurs deur sy eeue lange geskiedenis by die Afrikaanse film betrokke. Die bedryf het met ander woorde drasties verander: die 1970's was wel die produktiefste dekade in die Afrikaanse filmbedryf, maar hierdie groot getal films is deur ’n klein getal regisseurs geregisseer, anders as die 2010's, waar die pastei as ’t ware in meer dele gesny is, soos figuur 11 hier onder aandui.

Figuur 11 verskaf ’n oorsig oor die geheel. In die eeu lange geskiedenis van die Afrikaanse filmbedryf was 16 166 rolprentfigure betrokke by Afrikaanse films (volgens die krediete van daardie films), met altesaam 29 959 bydraes. Die produktiefste regisseur was Elmo de Witt, gevolg deur Dirk de Villiers, Jamie Uys en Pierre de Wet. Jan Scholtz het die meeste draaiboeke geskryf, gevolg deur Jamie Uys en Emil Nofal. Sann de Lange het rolle in die meeste Afrikaanse films vertolk, met Wena Naudé en Jan Bruyns kort op haar hakke. Oor die algemeen is die rolprentfigure – akteurs of andersins – wat die meeste bydraes tot Afrikaanse films gelewer het (volgens die films se krediete) Sann de Lange, Wena Naudé en William Bell.

Hierdie persone is met ander woorde die rolprentfigure wat ten opsigte van kwantiteit deur sy eerste 100 jaar van bestaan die meeste tot die Afrikaanse filmbedryf bygedra het. Hulle aktiwiteit – in die meeste gevalle ook oor dekades heen – het ’n uitsonderlike rol daarin gespeel dat die Afrikaanse filmbedryf gegroei en voortbestaan het.

Figuur 11. Die eerste eeu in die Afrikaanse filmbedryf

 

4. Gevolgtrekking

Die Afrikaanse filmbedryf is ’n groot bedryf wat oor die afgelope eeu deur die bydraes van meer as 16 000 rolprentfigure by veranderende omstandighede aangepas het. Hierdie artikel het sommige van die mense wat die meeste bydraes gelewer het, asook oor die langste tydperke en vir verskillende dekades, bespreek. Dit moet egter in gedagte gehou word dat ’n film ’n spanpoging eerder as ’n individuele kreatiewe werk is. Die voorkoms van William Bell se naam tussen die groot name van die Afrikaanse filmbedryf herinner ’n mens juis aan hierdie feit, maar ook dat die geskiedskrywers van die Afrikaanse filmbedryf nie die onbekende persone se bydraes moet vergeet nie.

 

Bibliografie

Aucamp, J. 2010. Die Nasionale Party van Suid-Afrika se laaste dekade as regerende party, 1984–1994. PhD-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

Battiston, F, J Iacovacci, V Nicosia, G Bianconi en V Latora. 2016. Emergence of multiplex communities in collaboration networks. PLoS ONE, 11(1):e0147451.

Botha, M. 2006. Jans Rautenbach: Dromer, baanbreker en auteur. Melkbosstrand: Genugtig!

—. 2012. South African cinema 1896–2010. Chicago: Intellect.

—. 2014. Die Suid-Afrikaanse filmbedryf sedert 1994. https://www.litnet.co.za/die-suid-afrikaanse-filmbedryf-sedert-1994 (18 Oktober 2016 geraadpleeg).

Botha, MP. 2006. 110 Years of South African cinema. Kinema, Herfs. http://www.kinema.uwaterloo.ca/article.php?id=46&feature (18 Oktober 2016 geraadpleeg).

Britz, E. 1990. Pierre de Wet was ’n ware pionier. Beeld, 29 Junie, bl 3.

Browne, R. 2013. Verraaiers: A reflection. Critical Arts, 27(4):449–53.

Bruwer, R. 2016. Afrikaanse rolprente steek Rubicon oor. http://www.netwerk24.com/Vermaak/Flieks/afrikaanse-rolprente-steek-rubicon-oor-20160329 (11 November 2016 geraadpleeg).

Canet, F, M Valero en L Codina. 2016. Quantitative approaches for evaluating the influence of films using the IMDb database. Communication & Society, 29(2):151–72.

Dipa, K. 2015. Afrikaans films take lead on local scene. Cape Times, 9 Oktober. http://www.iol.co.za/capetimes/afrikaans-films-take-lead-on-local-scene-1927305 (21 Oktober 201 geraadpleeg).

Els, R. 2016. Katinka Heyns “maatstaf van karakters se mag”. http://www.netwerk24.com/Vermaak/Flieks/katinka-heyns-maatstaf-van-karakters-se-mag-20160311 (11 November 2016 geraadpleeg).

Everett, MG. 2016. Centrality and the dual-projection approach for two-mode social network data. Methodological Innovations,9:1–8.

Fourie, R. 2006. Paljas: ’n Filmklankteoretiese ondersoek. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.

Giannetti, F. 2016. A review of network approaches in music studies. Music Reference Services Quarterly, 19(2):156–63.

Gutsche, T. 1972. The history and social significance of motion pictures in South Africa, 18951940. Kaapstad: Howard Timmins.

Hutcheon, L. 2006. A theory of adaptation. New York: Routledge.

Legg, K. 2014. SA porn industry shafted in new era. http://www.iol.co.za/tonight/tv-radio/sa-porn-industry-shafted-in-new-era-1751664 (21 Oktober 2016 geraadpleeg).

Le Roux, A en L Fourie. 1982. Filmverlede: Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse speelfilm. Pretoria: Unisa.

McCarthy, N. 2014. Bollywood: India's film industry by the numbers. http://www.forbes.com/sites/niallmccarthy/2014/09/03/bollywood-indias-film-industry-by-the-numbers-infographic/#c6174c37bf08 (20 Oktober 2016 geraadpleeg).

Nel, A. 2003. Stagnering en transformering: Die rol van die nar in Paljas. Literator, 24(2):1–18.

Nicholls, B. 2008. Apartheid cinema and indigenous image rights: The Bushman myth in Jamie Uys's The gods must be crazy. Scrutiny2, 13(1):20–32.

Oosthuizen, J. 1979. Die verhouding Afrikaner-Engelsman in die films Lord Oom Piet en Ses soldate. Communicatio, 5(1):23–6.

Phalen, PF, TB Ksiazek en JB Garber. 2016. Who you know in Hollywood: A network analysis of television writers. Journal of Broadcasting & Electronic Media, 60(1):160–70.

Pretorius, F (red). 2012. Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg.

Prinsloo, K en M van Rensburg (reds). 1984. Afrikaans: Stand, taak, toekoms. Pretoria: HAUM.

Senekal, BA. 2014. An investigation of Pierre de Wet’s role in the Afrikaans film industry using Social Network Analysis (SNA). Literator, 35(1). http://www.literator.org.za/index.php/literator/article/view/1099.

—. 2015a. Die kwantifisering en toepassing van modulariteit in die Afrikaanse filmbedryf (1994–2014) as ’n komplekse netwerk. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskappe en Tegnologie, 34(1). https://journals.co.za/content/aknat/34/1/EJC177927.

—. 2015b. ’n Veelvlakkige netwerkontleding van die Afrikaanse filmbedryf (1994–2014). LitNet Akademies, 12(2):43–68.
https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2015/11/LitNet_Akademies_12-2_Senekal_43-68.pdf.

Senekal, BA en J-A Stemmet. 2014. The gods must be connected: An investigation of Jamie Uys’s connections in the Afrikaans film industry using Social Network Analysis (SNA). Communicatio, 40(1):1–19.

Shepperson, A en KG Tomaselli. 2002. Restructuring the industry: South African cinema beyond Apartheid. South African Theatre Journal, 16(1):63–79.

Sonnekus, T. 2013. “We’re not faggots!”: Masculinity, homosexuality and the representation of Afrikaner men who have sex with men in the film Skoonheid and online. South African Review of Sociology, 44(1):22–39.

Stemmet, J-A. 2015. Sangoma of the silver screen: Jamie Uys as film maker 1950–1964. ensovoort. http://ensovoort.com/sangoma-of-the-silver-screen-jamie-uys-as-film-maker-1950-1964.

Steyn, C. 2015. Die argivering van die Afrikaanse film (1916–2014). MA-verhandeling, Universiteit van die Vrystaat.

Steyn, J. 1984. Die oorlewing van Afrikaans. In Prinsloo en Van Rensburg (reds) 1984.

Treffry-Goatley, A. 2010. South African cinema after apartheid: A political-economic exploration. Communicatio, 36(1):37–57.

Tomaselli, K.G. 1990. Annoying anthropologists: Jamie Uys's films on Bushmen and animals. Visual Anthropology Review, 6(1):75–81.

—. 2006. Rereading The gods must be crazy films. Visual Anthropology, 19(2):171–200.

—. 2014. The cinema of apartheid: Race and class in South African film. New York: Routledge.

Van der Westhuizen, C. 2012. Vloot-komedie “vader van Afrikaanse rolprent”. Rapport, 29 April. http://www.rapport.co.za/Suid-Afrika/Nuus/Vloot-komedie-vader-van-Afrikaanse-rolprent-20120428 (11 November 2012 geraadpleeg).

Van Nierop, L. 2016a. Daar doer in die fliek. Pretoria: Protea Boekhuis.

—. 2016b. Hy gee gesag aan ons flieks. http://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/hy-gee-gesag-aan-ons-flieks-20161105 (11 November 2016 geraadpleeg).

—. 2016c. INKkuns: Afrikaanse flieks ontgroei sy kinderskoene. http://www.netwerk24.com/Vermaak/Feeste/inkkuns-die-afrikaanse-rolprent-20160615 (11 November 2016 geraadpleeg).

Van Staden, A en K Sevenhuysen. 2009. Drie vroeë Afrikaanse rolprente (1938–1949) as uitdrukking van die sosiale gewete van die Afrikaner. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis, 23(1):157–79.

Van Wyk, B en J Grobler. 2007. South Africa's transition to democracy: The balance of power and structural economic change. Joernaal vir Eietydse Geskiedenis, 32(1):35–53.

Verhoef, G. 2012. Suid-Afrika se ekonomie in die 20ste eeu. In Pretorius (red) 2012.

  • 1

Kommentaar

  • Herman Meulemans

    De bijdrage van Burgert A Senekal en Cornelia Geldenhuys over een eeuw Afrikaanse cinema is een mijlpaal, ongetwijfeld een referentiestudie voor de toekomst. Hoe verrassend is het om vast te stellen dat de jaren vanaf 2010 nu al het decennium vormen met het tweede grootst aantal Afrikaanse filmproducties sedert het uitkomen van de eerste Afrikaanse film in 1916. Alleen de jaren ’70 van vorige eeuw leverden in politiek uiterst woelige tijden een groter aantal producties op. De onderzoekers volgen een uitgesproken kwantitatieve methodologie, gebaseerd op een dataset van 418 films, waarvan de samenstelling en analyse een monnikenwerk moeten zijn geweest.

    Wanneer je kwantitatieve inzichten verbindt met kwalitatieve inzichten, zoals die bijvoorbeeld aan bod komen in het prachtige in memoriam van Martin Botha over Jans Rautenbach (LitNet 2016-11-03), dan besef je plots hoe belangrijk cinema is om je een beeld te vormen van de sociale conditie van de mens in een bepaald tijdsgewricht. En nog veel meer. Hoe verklaar je dat het doemdenken wat de taal betreft helemaal niet strookt met dat grote aantal Afrikaanse films – 95 om precies te zijn – dat nu al sedert 2010 is uitgekomen? Senekal en Geldenhuys reiken ons het empirisch kader aan om die moeilijke vragen te stellen.

    Zo vraag ik me af welke van die 418 films de verfilming zijn van een roman of enig ander literair product? Wellicht heel veel. Is die variabele ook opgenomen? Zijn er boeken die meerdere keren zijn verfilmd? Welk is het beklijvende boek dat het vaakst is verfilmd?

    Dank je wel, Burgert en Cornelia, want zonder jullie uitmuntende studie zou het zelfs onmogelijk zijn om die vragen te stellen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top