Gedagtes oor die filmbedryf

  • 3

Is lees belangrik, of net vir skoenmakers bedoel?

Is kundigheid nodig om ’n film te maak? En kundigheid in wat? In tekste? In kamerawerk? In beligting? Toneelspel? Finansies? Wat word van ons mentors?

Al wat teater is in die omgewing, van Brooklyn tot diep in die noorde, kreun die afgelope tyd van die filmpremières. Daar is omtrént ’n ophef oor Afrikaanse films. Resensente noem films “Die Grootste Afrikaanse Film Ooit”. Vergete is ons filmbedryf se ryk geskiedenis. Vergete is Pierre de Wet, Jans Rautenbach – in sy fleur ’n protes-filmmaker op internasionale standaard; vergete is Jan Scholtz, Gordon Vorster, Dirk de Villiers, Emil Nofal, Jamie Uys, Ross Devenish, Manie van Rensburg – om net ’n paar te noem. Vergete is Die kandidaat, Katrina, Jannie Totsiens, Dirkie, My broer se bril, Beautiful people.

Gelukkig is films soos Faan se Trein en A Long Walk to Freedom met ons om dinge in perspektief te stel.

’n Kort besoek aan die geskiedenis en ’n betragting van die elemente waaruit die bedryf bestaan waarin ons nou skielik so goed is, is dalk die moeite werd.

Vanaf die ’70’s was die SAUK dié instansie waar kamera- en klankspesialiste hul opleiding in film ondergaan het. Dit word algemeen beskou as die beste tipe opleiding, omdat “film” die kameraman nul kans gee om te misluk, en sy kennis ’n baie sterk fondament moet hê. Mens wonder waar kameramense die vak leer ken het voordat die SAUK met televisie begin het. Was daar behalwe die Pretoria Kollege Filmskool nog skole? In die Kaap dalk? Kapenaars kan dalk laat weet? Waar het die meesters van bogenoemde films geleer? Koos Roets sal seker weet.

Met die koms van televisie en Rich Man Poor Man is die mat onder talle bedrywe uitgeruk. Restaurante was Dinsdagaande leeg. En met rede. Die teks was geloofwaardig en aangrypend, die prentjies mooi en betekenisvol, en die akteurs – soos Nick Nolte en Peter Strauss – meesleurend. Die SAUK se eiegemaakte produkte was vermaak van wisselende gehalte. Vir ’n vervaardiger sonder ervaring was dit te verwagte.

Die SAUK het dramabestuurders gehad, soos Cor Nortjé, Sandra Kotzé, Mysi Louw, Daleen Kotzé, en post-1994 Rosa Keet. Hulle agtergronde het ook gevarieer. ’n Paar sou byvoorbeeld uit ’n teateragtergrond gekom het. Sandra Kotzé was byvoorbeeld by die Bloemfontein-teaterorganisasie hoof van toneel.

Hul moes hulself seker eers oriënteer om in prentjiestories te dink. Prentjiestories in Suid-Afrika was nie ’n algemene loopbaan nie. Die koek was klein. Dus sou ’n nuwe dramabestuurder by televisie aanvanklik sterk op mentorskap van ’n vorige aanstelling moes gesteun het om besluite te neem. In ongeveer dieselfde bestuurder se era sou Die wel en wee van Thys Coetsee en Konings tot stand kom. Konings is ’n legendariese sukses, met name soos Dawid Minnaar en Sandra Prinsloo. Min is bekend van die Wel en wee-reeks. Dit het nie juis hoogtepunte opgelewer nie; die hoofspeler in die rol van Thys Coetsee was glo ’n prokureur van Bloemfontein. Dis al.

Dieselfde uiteenlopendheid doen hom hedendaags ook maar voor. Om watter redes sou ’n opwindende reeks wat sy naam al vooruitloop, Vlug van Egipte, deur Paul C Venter, nog nie op die lug wees by SABC nie? Of elders? Die tweede reeks word glo reeds gemaak, maar sonder ’n uitsaaier. Dit herinner aan nog juwele wat die kyker ámper nie gesien het nie, soos Arende. Dit was toevallig ook uit die pen van Venter. Met Egipte klink dit of die geskiedenis homself herhaal. Net die waagmoed van De Villiers – trou aan die murg in ’n filmmaker se pype – het Arende moontlik gemaak. Hy het glo op risiko begin het met opnames vir Arende. Met ander woorde, sonder die geld of ja-woord van die uitsaaier. Waar sal Egipte uiteindelik gesien word? Dit terwyl niemand tans borrel oor die standaard van plaaslike TV-reekse nie.

Mededinging is fel, die Afrikaanse gemeenskap is klein, en die wenner het ’n beskeie, skamele kroon en kan maklik alles vat. Die kyker vat maar wat hy kan kry by net drie uitsaaiers: een nukkerig – die SABC, kykNET, en ASTV, vir wie vakmanne gratis moet werk lewer. SABC se hoogtepunte is beperk tot heruitsendings van Afrikaanse programme. Hul eievervaardigde Afrikaanse reekse smag na die finesse van ware skrywers soos Paul C Venter, Johan van Jaarsveld en Deon Meyer.

Verklaar dit soveel stories met ongeloofwaardige storielyne en karakters, en kitsoplossings en kitsprobleme? En het dit ’n uitwerking op kykertalle? En op advertensie-inkomste? Eet kykers enigiets vir soetkoek op? As dit die sak raak, is dit nie die eerste ding wat ’n sake-instansie regmaak nie?

Weens die in duie stort van talle bedrywe sedert 1990 het ’n gaping ontstaan om vermaak aan Afrikaanses te bied – eintlik aan mense van álle taalgroepe in Suid-Afrika. Projekte kon net vorder as blanke mans nie betrokke is nie. Eers mag vroue darem hul man staan in die werksplek. Dit hou baie gesinne aan die gang. Soos met die swart gemeenskap die afgelope dekades, besluit Afrikaanse jongmense hulle gaan nie die vertrapping verduur nie. Jongmense met opleiding, waagmoed en ’n bietjie geld tot hul beskikking neem die hef in die hand. En leer mettertyd, maar ongelukkig gepaardgaande met onnodige foute, die werk. Van die mense wat weet hoe, spesialiste met dekades se ervaring, word op die agtergrond geskuif en vind ander neringe.

Briljante entrepreneurs kry tog werk gedoen. Willie Esterhuizen bestudeer oorsee die sitkom, en Orkney snork nie volg. Deur die toedoen van Franz Marx kry ons die daaglikse sepie Egoli. Hul tekste is deurgaans kwaliteit. Marx skep in moeilike tye hordes werksgeleenthede vir tegniese personeel. Onder sy wakende oog word talle skrywers opgelei, sowel as ateljeepersoneel. Met die begin van 7de Laan skuif talle tegniese personeel saam oor. Daar word gepraat van die Egoli-A-span, wat nou by 7de Laan werk, en ’n B-Span, nuwelinge, wat Egoli op die lug hou.

Teksskrywers uit hierdie poele word teksskrywers op sepies in die SABC en elders. Binnelanders is in sulke bekwame hande. Maar SABC hou nie standaarde ewe hoog nie. SABC-reekse is byna sonder uitsondering storielyne vol opwinding. Maar stelsels laat die skrywers in die steek, en kompromitteer die toekoms van die uitsaaier. Eerder as kritiek oor verbetering van die geloofwaardigheid van tekste, werk bekronings ’n vals gevoel van tevredenheid in die hand.

Die filmmark is ’n vars bries. Dis grotendeels onafhanklik. Sukses volg die voorbeeld van die destydse filmmakers met murg in hulle pype. Maar daar is ooreenkomste met wat by uitsaaiers aangaan. Is die beste stuurmanne aan boord?

Daar was deurgaans die Suid-Afrikaanse film. In sekere fases is daar The Stick, Sarafina, Endgame. Die lys van fases en onbesonge films is lank. Minder suksesvol is Nr 10, nog een of ander onnodige klug oor Boksburg of Benoni. Forgiveness (deur dieselfde vervaardiger, Helena Spring, wat Faan se Trein in Januarie die lig sal laat sien) val tussen die krake deur. Die twee sigbaarste resensente van die Suid-Afrika filmbedryf, Barry Ronge en Leon van Nierop, huldig absoluut teenoorgestelde menings oor die film. Sedertdien volg Engelse suksesse deur Suid-Afrikaanse filmmakers. Tsotsi en District 9 is seker die sterkste verteenwoordigers van die plaaslike uitgevoerde vermoë.

Skoonheid maak onlangs opslae deur ’n Cannes-toekenning wat verband hou met die gay-tema. ’n Onlangse opname in Rapport wys Skoonheid is ironies die Suid-Afrikaanse film wat nog die minste by die loket verdien het.

Stelselmatig begin jong filmmakers soos Danie Bester en Paul Kruger oor die afgelope dekade sigbaar raak. In die ’90’s het Deon Opperman by ’n Amerikaanse universiteit gaan leer films maak. Hy kom terug, en begin ’n filmskool, AFDA. Hulle onderskei hul gou met die puik opleiding en kort voor lank lewer AFDA uitstekende produkte, veral in teater. ’n Paar jaar later gradueer die eerste jong filmkundiges. Bester en Kruger verteenwoordig die nuwe generasie filmmakers. ’n Kameraman, Tom Meyer, se naam is byna sonder uitsondering betrokke. ’n Nuwe tendens begin. Jong Afrikaanse mense gaan kyk Ouma se slim kind en wonder oor die sukses daarvan. Uiteindelik volg Bakgat. Dis ’n groot sukses. Jong Afrikaanses gaan kyk die films, maar erken hulle was ook daar eers wanneer ander goedkeurend daaroor praat. Bakgat beleef die een na die ander opvolg.

Toe kom Roepman. Die publiek en resensente is dit eens dat die film ’n groot sukses is. Vir Leon van Nierop is dit omtrent die beste film van die eeu. Venynige kommentators spoel hul monde uit oor die swak gehalte; sommige demonstreer hul ontnugtering deur uit die fliek uit te stap by premières. In die spore van Roepman volg Verraaiers en Musiek vir die agtergrond, en deur ander filmmakers Die wonderwerker (regie: Katinka Heyns, kamera: Koos Roets), Die laaste tango (regie: Deon Meyer, kamera: nie op die web te vind nie), Robbie de Wee (regie: Darrell Roodt, kamera: Will Collinson; redigering Lucian Barnard). Die grootste gemene delers by die films wat deur kritici as suksesse ervaar is, is moeilik bepaalbaar. Waar ook al Roets (regie Faan se Trein en kamera Wonderwerker), Roodt (regie Jakhalsdans, Robbie de Wee) en Heyns (regie Wonderwerker) betrokke is, is die projek suksesvol. Waar Meyer skryf (Jakhalsdans, De Wee), is sukses hom beskore. As hy regisseer (Tango), bly sukses uit, al is dit sy skryfwerk. Mens kan met veiligheid enige projek aan Roets toevertrou (kamera en regie). Om regtig agter die kap van die byl te kom, sal die statistikus nog films in ag moet neem. Stilte (FC Hamman) was glo ’n stryd om te kyk. Stilte (Darrell Roodt) was nie goed nie. En so kan die lys aangaan. Die vraag wat huiwer en talm: Is sukses ons beskore wanneer skoenmaker hom by sy lees hou? En weet die Suid-Afrikaanse filmwaardeerder wat die “lees” is?

Die kamera in film blyk onlosmaaklik deel van die regisseur te wees. Wanneer Koos Roets kameraregisseur is, is hy ernstig gemoeid met die kamera. Hy stel ’n kameraman aan, maar word DOP, soos in die Europese en Amerikaanse films. Met ander woorde, hy is kameraregisseur. Hy kan sy aandag aan die prentjie wy. Hy stel selfs ’n repetiteur aan om sy akteurs voor te berei. Dis werk amper soos die daaglikse sepies. Soos Roets, skep Tom Marais visuele sukses met elke film, maar dit bring ons by die eienaardige verskynsel: sy kamerawerk wat eintlik te gewoon is in Musiek vir die agtergrond Hoekom? Dieselfde “hoekom?” geld Roodt se swak Stilte. En Van den Bergh se Tornado.

Is die vervaardiger dalk die beslissende party? Of beskikbare finansies? Piet de Jager maak Roepman, Verraaiers en (saam met ’n handvol vervaardigers) Musiek vir die agtergrond. Weer eens ongewoon vir De Jager,span die regisseur by Musiek selfs amateurs in om sekere karakters te vertolk. Wat is die rede? FC Hamman, gewoonlik ’n kameraman, is sy eie baas by Ordinary people. Anton Ernst is medevervaardiger (saam met Christianne Bennetto, Diony Kempen ea) by Jakhalsdans, ’n relatiewe sukses, en Stilte.

Wat is die rol van die regisseur? Wat het Jans Rautenbach, Gordon Vorster, Paul Eilers, en ander regisseurs met suksesvolle produkte gemeen?

Rautenbach is ’n sielkundige. Gordon Vorster was ’n kunstenaar. Laasgenoemde se rolprent Sarah word deur sommiges as die grootste Afrikaanse prent beskou. Eilers was in ’n lang loopbaan al iets van alles. Verhoogregie soos by Die onsigbare Dijn, Die Proponentjie en Mannetjies Roux is dalk sy onsuksesvolste produkte.

Twee antwoorde lyk moontlik: genoegsame finansies (om nie amateur-akteurs te hoef te gebruik nie) en ’n bekwame kameraman (as mens meet aan die suksesse van Koos Roets en Tom Marais).

Waarop sal ’n gesprek oor die werk wat aan die publiek blootgestel word, ag slaan? Loketsukses? Waar laat dit dan die bekroonde Skoonheid? Kamera? Waar laat dit die beeldskone Tornado? Teks? Is dit die sterkste element by Wonderwerker? Waar laat dit Faith like potatoes, Die laaste tango, of Susanna van Biljon ... met debatteerbare stelinkleding, kontinuïteit, beligting, redigering?

Sekere elemente, soos die gebruik van nonakteurs in hedendaagse films, herinner aan Die wel en wee van Thys Coetsee van destyds. Pas word Deon Meyer aangehaal waar hy sê dat mens darem in die Afrikaanse bedryf jou geld kan terugmaak. En ook hy is betrokke by ’n filmmaatskappy. Maar op sy eie skryf en regisseer hy ’n film. Hoekom sou ’n skrywer/sakeman kanse waag met sy eie produk; met sy eie geld?

Jare gelede het een protesstem opgegaan: Henrietta Plattner skryf ’n ope brief oor wat in kykNET fout is. Maar sy word daar aangestel, en word nie weer gehoor nie. Oliver Hermanus is ’n kritiese stem oor die bedryf in Suid-Afrika. Maar sy sukses is beperk tot sy film Skoonheid. En selfs daardie sukses is beperk. Shirley Adams – voor Skoonheid – is onindrukwekkend. Maar sy krag is in die inhoud van Skoonheid; immers kritiek op ’n aspek van die samelewing, vanuit ’n indrukwekkende teks. Net so ’n vars bries is sy kritiek op die plaaslike filmbedryf.

Die enigste duidelike resep vir mislukking is om net voort te boender sonder om vrae te vra. En vrae vra is wat Hermanus doen. In sy tekste, en in sy kritiek.

Reaksie op sy kritiek gaan langs een van twee roetes: skakel hom uit of nooi hom in. Maar die krag van ’n gesonde filmbedryf gee ’n ander opsie: hy hoef nie in een van die twee roetes opgeneem te word nie; hy kan onafhanklik bly.

Dus, ons ken nog nie eens die vrae nie. Vergeet nog die antwoorde. Maar solank as wat films soos Die ballade van Robbie de Wee, Wonderwerker en Faan se Trein gebeur (al verwerf nie een eers ’n nominasie nie) en gesprék kan plaasvind, is ons filmbedryf gesond, met ’n toekoms. En om hierby Engelse films te betrek, soos White Wedding, Material, Little One, en vele meer, sal ook baat. En kundigheid en ervaring. Al is dit eers net kundige mening; waardering.

Daar is gans te veel ervare kamera-, klank- en ander personeel wat werkloos is omdat die ervaring – weens die tekort aan kritiese gesprek en kundigheid – nie waardeer word nie. Elke munisipaliteit in die land is bewys dat verantwoording vir die produk een of ander tyd gelewer moet word; selfs in die finansies sal wys.

Binnekort volg die vrystelling van die Sesbok-span se Mannetjie Roux. Die teaterproduksie was weens die assosiasie met Laurika Rauch se musiek ’n sukses by die loket. Nou is daar die film. Die lokprente wat reeds die ronde doen, lyk belowend. Om die waarheid te sê: die lokprent lyk uitstekend. Is Eilers nou volwaardig filmregisseur? Is Tom Marais die nuwe kameramentor? Hoe goed sou ons gewees het as erg bekwame stemme uit die verlede steeds kon werk? Soos Koos Roets, wat ook al ’n slag op sy knieë was. Faan se Trein se beurt is om die draai. En mens kan met veiligheid voorspel dit sal ’n Koos Roets-sukses wees. Net weens die name wat betrokke is, as vervaardigers, skrywers, “crew”, is dit ’n sekere sukses wat wag om te open. Maar is enkele bewese suksesse goed genoeg?

Sê nou maar ’n gementorde ganse bedryf kan gereeld puik produkte koester. Die gesprek oor puik produkte, soos Faan, Wonderwerker, Long Walk to Freedom en Robbie de Wee, sou die kroon span op ’n ryk, verwaarloosde geskiedenis. Mag die beoordeling van panele en resensente dié keer in die kalklig staan, terwyl drie of meer uitstekende produkte dit uitstoei waar dit saak maak. Is dit by die loket? Of by die gesprek onder en blywende indruk by die kykerspubliek? Oor goeie filmmaak, kritiese gedagtes en die vryheid om sonder vrees vir viktimisering die menings te deel. Mag ons geleer het uit ons wel en wee ... en nie goeie goed saam met die stof by die deur uitvee nie.

 

  • 3

Kommentaar

  • "Daar is gans te veel ervare kamera-, klank- en ander personeel wat werkloos is omdat die ervaring – weens die tekort aan kritiese gesprek en kundigheid – nie waardeer word nie." 

     
    Wel gestel. 
  • Avatar
    Marko van der Colff

    Polonius!

    Hoekom skryf jy onder 'n skuilnaam?

    Eerstens:
    Jou gebruik van Afrikaans laat veel te wense oor, om nie eens van jou spelling te praat nie ...

    Tweedens:
    Jou feite-kennis van die film- en televisie-bedryf laat veel te wense oor ...

    Ek weet eintlik nou-nog nie wat jy rêrig probeer sê nie?

    Groetnis
    Marko (my regte naam) 

     
  • Ek koop 'n hd-kamera by Hi-Fi vir R 10,000. Ek skryf 'n soort-van teks vir niks-to nothing. Ek kry uitwerk-uit akteurs. Ek sorg dat daar 'n kaaltoneel is, of iets dergelyks. Ek registreer die projek by  Kyknet. Volgende oomblik het ek 'n movie wat Mnet as hulle innoverende projek bemark en ek kry 'n obskure toekenning as die mees opwindende nuwe toevoeging tot die filmbedryf. 

     

    Klink dit bekend?

     

    Die waarheid is dat dit vandag maklik is om 'n movie te maak. Al die tegniese uitdagings (Irene-Film Labs) is geskiedenis. Die 100de musiekvideo's op Kyknet getuig daarvan. Om nie eens te praat van die karavaan-wennende videos op Kwela nie. En elke troue het  sy irriterende kameraman en ligte.

     

    Faan se Trein en dies meer uitgesonder.

     

    Polenius ek deel jou wroeging. Vandat elke JanRap-en-sy Maat 'n selfoon en VideoKamera het en ons "Hier gaan ons Alweer"- goedkoop videos maak, is daar geen terugkeer nie.  

     

    Heil die KYKnet-Kyker!

     

    Sommige van ons het beter dinge om te doen, hopelik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top