Akademiepryse 2023: Deleen Bekkerprys vir Beste Draaiboek vir ’n TV-drama in Afrikaans – Nico Scheepers

  • 0

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het onlangs die wenners van die gesogte Akademiebekronings vir 2023 aangekondig. Die pryse word by twee bekroningsplegtighede in September vanjaar oorhandig. Lees Leon van Nierop se huldigingswoord hier onder.

Televisiedraaiboeke het lankal ’n versadigingspunt bereik wat speurdramas betref. Dikwels word eenvoudige sake ná kunsmatige draaiboekkinkels gemaklik opgelos. Kompleksiteit word dikwels tot die gerieflik voorspelbare vervlak.

Maar in sy beskrywende, meelewende en onthutsende draaiboek vir Donkerbos, spesifiek episode 8, vernuwe Nico Scheepers die plaaslike draaiboeklandskap. Die teks is só kundig gekonstrueer dat die leser reeds op papier die beeld kan sien vorm.

’n Oplossing vir ’n moord volg in die laaste episode, maar die emosionele landskap word omgedolwe. Selfs nadat die antagoniste vir hul wandade betaal het, kring die gevolge wyer uit met die waarskuwing: Hierdie is maar een van vele sake; dieselfde probleme gaan hulle weer afspeel.

Die dialoog is volkome praatbaar. Dit is natuurlik en ongedwonge karakteriserend. Selfs die draaiboekaanwysings het ’n poëtiese, visueel-beskrywende kwaliteit. Hier word ekonomiese beskrywings en metafore gebruik om die storie nog meer ambivalent te maak.

Beskrywings moet só geskryf word dat dit in beeld kan funksioneer, temas ontwikkel en subteks belig. Wat in die draaiboek staan, moet met die draaiboekleser kommunikeer. Een beeld/skoot is kragtiger as bladsye se nuttelose woorde. Elke woord moet na die beeld lei.

Die teks betreur dit dat Suid-Afrika reeds ineengestort het en moreel bankrot is. Elke toneel funksioneer op meer as een vlak en ontwikkel storielyne. Uit die skrynende dialoog en die ontnugterde beskrywings van gebeure word dit duidelik dat nie net die karakters nie, maar die gemeenskap tydelik gehelp word, maar dat die bose kringloop sal voortgaan.

Die agtergrond word ook effektief as afgetakelde ruïnes en bouvalle beskryf. Ook wat die karakters se innerlike landskappe betref.

Dit is oorlog sonder ontploffende bomme. Die bomme lê in die gebeure en dialoog.

Scheepers gaan ekonomies met dialoog om. Net die nodigste woorde en onvoltooide sinne word aangewend. Soos in die voorafgaande episodes van Donkerbos, praat eenvoudige mense ’n seermaaktaal wat om hulp roep. Sinne word nie altyd voltooi nie en woorde smag na kommunikasie in ’n koue, donker wêreld.

Daar is nie sprake van melodrama nie. Net gelate, vermoeide reaksies.

Daar is selfs ligter oomblikke wanneer Wolf, ’n selfbewuste, bang karakter, tot speurder bevorder word. Dis tragies-komies, en word strategies en getemper op die regte plek geplaas.

Scheepers ontmasker eietydse probleme wat daagliks in ’n geplunderde land afspeel sonder om polities korrek te wees of op effekbejag staat te maak.

Uiteindelik besin die draaiboek oor die onnoembare: Wat doen jy as jy nie meer kan aanhou nie? Jy hou aan.

Mevrou die Ondervoorsitter, ek versoek u nou om die Deleen Bekkerprys vir Beste Draaiboek vir ’n TV-drama in Afrikaans aan Nico Scheepers te oorhandig.

Stellenbosch
1 September 2023

Lees ook:

Aankondiging: Wenners van die SA Akademiepryse 2023

Donkerbos: ’n TV-resensie

Donkerbos en Menseregtemaand: ’n onderhoud met Nico Scheepers

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top