
Foto: kykNET
........
“Kykers soek iets vars. Ons het nog nooit so ’n aktuele drama gehad wat soveel politieke en sosiale waarhede van ons land aanspreek nie. Om ’n blik agter die skerms van ’n nuuskantoor te kry, om die gesprekke tussen joernaliste te sien – hoe besluit word wat nuuswaardig is en wat nie – is vir my baie fassinerend. Dit is baie getrou aan die werklikheid, en kykers geniet dit.”
– Rolanda Marais
........
Die land herstel nog van die opwinding van die eerste ware-misdaad-reeks Niggies wat onlangs ten einde geloop het, maar die nuutste kykNET-dramareeks, Die nuusmakers, het al weer tonge los.
Dit volg die lewe en loopbane van ’n groep joernaliste wat vir ’n TV-nuuskanaal werk. Die akteurs is weer van die land se room, en kykers sal baie gou voel asof hulle al jare met dié gedugte joernaliste saamkom. Rolanda Marais speel die hoofrol van Adri Joubert, ’n TV-joernalis in murg en been. As junior het sy stories gejaag en van die toneel verslag gedoen. Later het sy laataandnuus in die ateljee begin aanbied, en vir die afgelope 20 jaar is sy die gesig en stem wat jy sien en hoor wanneer die hoofbulletin saans in spitstyd uitgesaai word.
’n Tragiese voorval ruk egter die mat onder haar voete uit, en terwyl sy rou, vind sy ook weer haar vuur as ondersoekende joernalis. Wie was vir die dood van haar man, Dawid (Anrich Herbst), verantwoordelik? Lourens (Chris van Niekerk) is Adri se pa wat by haar en haar gesin woon. Tina (Christia Visser) en Daniel (Heinrich Wentzel) is Adri en Dawid se twee kinders.
Die ander groot name sluit onder meer Brendon Daniels, Roeline Daneel, Arno Greeff, Lesley Maasdorp, Hannah Borthwick, Lea Vivier, Susanne Beyers, Chris van Rensburg, Kristen Raath en ook Dorette Potgieter, Loren Loubser, Daneel van der Walt, Laudo Liebenberg, Neels van Jaarsveld, Melissa de Vries, Martelize Kolver en Ira Blanckenberg in.
Johan Diedrichs (Brendon) en Adri het saam as jong joernaliste begin werk. Johan was nog altyd op soek na die waarheid en het sterk politieke bande. In die vroeë 2000’s was hy deel van ’n span wat grootskaalse korporatiewe korrupsie ontbloot het en dit het tot verskeie doodsdreigemente gelei. Dié ondersoek het ook die einde van sy eerste huwelik beteken, maar hy is weer getroud en pa van ’n tweejarige seuntjie. Hy is die regisseur van die nuusbulletin wat Adri aanbied, en hy probeer sy bes om ’n balans te vind tussen harde nuus en wat kykers wil hê.
Karla Viljoen (Roeline) is ’n veldverslaggewer en is altyd eerste op die toneel. Sy is vreesloos en sal enigiets doen om die storie te kry. Karla kan sarkasties en sinies wees. Sy het min tyd vir mense wat net die sonkant van die lewe wil sien, maar sy het ook ’n hart van goud en sal altyd help wanneer sy gevra word.
Kyle Munro (Arno) lees saam met Adri die nuus. Hy het bekend geword as beïnvloeder op sosiale media en voel hy word as gevolg daarvan nie ernstig opgeneem nie. Kyle is positief en ’n gawe kêrel wat omgee hoe hy lyk. Hy maak geen geheim daarvan dat hy ambisieus is nie en wil graag Adri se posisie oorneem.
Nhlanhla Langa (Lesley) werk aan ’n doktorsgraad en is ’n kenner van sosiale media. Politiek, die nuus, feite en die waarheid is vir hom baie belangrik, en hy is gedurig besig om fopnuus te ontbloot. Hy werk by die kanaal as ’n navorser, maar help ook wanneer daar tegniese of digitale probleme is.
Simone Bosman (Hannah) is die assistent op kantoor en weet alles van almal. Sy is in beheer van Adri se sosiale media en sal haar tot die dood toe beskerm. Simone monitor ook die kanaal se sosiale media en het haar vinger op die pols. In haar persoonlike lewe gaan dit egter nie so voor die wind nie. Sy het al verskeie miskrame gehad, haar huwelik het verbrokkel, en sy het haar toevlug tot pynpille geneem.
Melanie Palmer (Lea) is ’n sakekonsultant wat deur die eienaar van die kanaal, Renate van der Riet (Susanne Beyers), aangestel word om uit te vind wat die kanaal werd is en of sy dit moet sluit of moet verkoop. Melanie weet mense hou nie van haar as gevolg van die werk wat sy doen nie, maar sy gee nie werklik om nie. Wanneer die ondersoek na Dawid se dood momentum kry, besef Melanie daar is dalk ’n derde opsie vir Renate: om die kanaal te omskep in ’n ondersoekende nuuskanaal met skop.
Charl Coetzee (Chris) is die weeraanbieder en ’n bietjie van ’n bleeksiel, maar altyd reg met ’n grappie en ’n glimlag. Sy opleiding as meteoroloog kom later in die reeks baie nuttig te pas.
Zené Joubert (Kristen) is Adri se niggie wat haar internskap by die kanaal doen nadat sy kommunikasiekunde studeer het. Zené se droom is om ’n aanbieder soos Adri te word, maar sy leer die meeste by Karla en Nhlanhla.
Die nuusmakers is in Kaapstad by Atlantic Studios se Filmscape, Volume-ateljee, verfilm, maar speel in Johannesburg af.
Karen Jeynes vertel: “Dele van die reeks is verfilm by Filmscape, Suid-Afrika se eerste en enigste LED-verhoog, gebou vir virtuele produksie en gemengde realiteit. Die skerm is 195 vierkante meter groot, geboë, wat jou werklik toelaat om digitale agtergronde met ingeboude stelle en natuurlik die akteurs in die hart daarvan te kombineer. Hierdie tegnologie het ons byvoorbeeld toegelaat om ons nuusateljee waarlik lewe te gee en gehore 'n baie seldsame kykie agter die skerms van TV-produksie te gee, asook om ander komplekse reekse deur die span te laat uitvoer, en Johannesburg na Kaapstad te bring. Die ruimte laat ons werklik toe om die kreatiewe en tegnologiese grense te verskuif.”
Vrae vir Rolanda
Vertel meer oor die ervaring om in Filmscapes te skiet?
Dit was ’n heeltemal ander ervaring – eintlik baie pret! Die bestuurstonele het my letterlik ’n bietjie naar gemaak, so ek moes daaraan gewoond raak. Die tegniese aspekte daarvan is vir my regtig fassinerend – dit het my sommer ekstra opgewonde gemaak om daar te skiet.
Wat het jou na die rol van Adri Joubert aangetrek, wat was die grootste uitdaging en hoe het jy voorberei?
Adri is ’n sterk karakter wat erg geknak word in die reeks. Ek was baie geïnteresseerd om haar reis te ontdek. As akteur beplan ’n mens nie alles vooraf nie – jy gooi jouself in die oomblik in en kyk wat gebeur. My grootste uitdaging was om myself oop te stel vir die verskeie maniere waarop verdriet en rou hulself kan manifesteer. Hoe lyk ’n “sterk” vrou wie se hele wêreld in duie stort deur die verlies van haar groot liefde, haar rots? ’n Mens kan nie regtig vir so iets voorberei nie – jy moet jouself as akteur totaal in die oomblik verloor. Want dit is waar die magie gebeur: wanneer rou emosie eerlik oorneem.
Is daar enige ooreenkomste tussen jou en Adri, of verskil julle hemelsbreed?
Ek is ook ’n sterk, hardwerkende vrou soos Adri. Ek staan nie sommer terug vir ’n uitdaging nie. Ek kan met Adri se skuldgevoelens identifiseer, oor die feit dat sy nie altyd daar was toe haar kinders klein was nie. My werk neem my ook soms weg van my kleintjies, en dit breek my hart. Ek dink egter ek sal in die toekoms meer gereeld werk wegwys, want ek voel my kinders het my nou meer nodig. Adri, daarenteen, werk met lewe en dood, moord, geregtigheid – haar passie daarvoor is dalk só sterk dat sy haar kinders soms tweede stel – maar ek oordeel nie.
Was daar oomblikke wanneer sy sekere goed doen of besluit waarmee jy glad nie saamgestem het nie, maar net die regisseur moes vertrou?
Ja, dit is presies hoekom ’n mens jou regisseur moet vertrou. Daar is vir my niks lekkerder as om ’n nota van ’n regisseur te kry, dit toe te pas, en dan te sien hoe ’n oomblik of selfs ’n hele toneel in ’n nuwe rigting draai nie – een wat selfs beter werk as wat ek ooit sou kon dink het. Dis ’n spanpoging, ’n heerlike samewerking tussen kreatiewe denkers.
Wat maak jou opgewonde aan hierdie reeks en hoekom is die tyd nou ryp vir ’n reeks van hierdie aard?
Kykers soek iets vars. Ons het nog nooit so ’n aktuele drama gehad wat soveel politieke en sosiale waarhede van ons land aanspreek nie. Om ’n blik agter die skerms van ’n nuuskantoor te kry, om die gesprekke tussen joernaliste te sien – hoe besluit word wat nuuswaardig is en wat nie – is vir my baie fassinerend. Dit is baie getrou aan die werklikheid, en kykers geniet dit. Dis asof hulle uiteindelik ’n vlieg teen die muur kan wees tydens die gesprekke, skandale, intriges en “inside” grappies.
Wat geniet jy aan die draaiboek?
Die draaiboek is slim geskryf – dit het ’n goeie balans tussen komiese oomblikke en drama, wat nie maklik is om reg te kry nie. Die karakters is ongelooflik eg, en terselfdertyd uniek. Dit was heerlik om die draaiboek die eerste keer te lees en presies te weet: Dít is wat ons gaan maak.
Mense is al so voos vir die nuus – wat dink jy is anders aan hierdie reeks wat hulle week ná week vasgenael sal hou?
Die reeks gaan oor meer as net nuus. Dis die persoonlike dramas agter die skerms wat kykers sal laat aanhou kyk – en natuurlik die uitstekende spel van die akteurs.
Ons is by die derde episode. Wat kan jy lesers vertel wat hulle nou al weet en dalk nog ’n kinkel of stertjie gaan kry in die volgende episode of twee?
Soos Adri probeer uitvind wat werklik met haar man gebeur het, ontbloot sy ’n nasionale skandaal en herontdek sy haar brandende passie vir joernalistiek.
Wat is die boodskap van hierdie reeks?
Elke mens sal sy eie tema of boodskap uit die reeks haal. Vir my is dit: Die waarheid sal jou vry maak.
Wat het jy van jouself geleer met hierdie reeks se verfilming?
Ek het geleer dat ek sterker is as wat ek dink. Dat my brein, wonder bo wonder, steeds hope dialoog kan onthou, al is ek uitgeput. En dat harde werk altyd persoonlik lonend is.
Wie is jou gunstelingkarakter in die reeks?
Ek is mal oor Karla (Roeline Daneel). Sy is die alter ego van baie vroue, as jy my vra. Sy sê dinge soos dit is – ’n bietjie kras, maar vrek snaaks, en sy draai nie doekies om nie. My tipe girl!
Vertel ’n bietjie van jou ervaring met die regisseurs, Karen en Marvin-Lee. Is dit die eerste maal dat jy saam met hulle werk?
Ek het saam met Marvin gespeel in Binnelanders jare terug, en dit was heerlik om nou met hom as regisseur te werk. Omdat hy self ’n akteur is, weet hy presies watter notas om te gee om ’n akteur se spel net nóg beter te maak. ’n Mens voel veilig in sy hande. Nuusmakers is Karen se reeks – sy ken dit van binne en buite. Sy verstaan elke karakter so goed, en sy is ’n vrou met soveel insig in mense en hul eienaardighede. Ek het al voorheen saam met haar gewerk aan Recipes for love and murder, en ek sal altyd ja sê as ek hoor sy doen iets.
Waar lê jou liefde: TV of teater of fliek en hoekom?
Elke medium het sy eie stel reëls en uitdagings. Ek hou van almal. Hoe meer verskeidenheid ek kan doen, hoe beter – dit hou my op my tone as akteur en hou my vaardighede skerp. Ek beweeg gereeld tussen mediums, en dit maak my lewe soveel meer onvoorspelbaar en opwindend.
- Die nuusmakers is Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees. Dit word deur Both Worlds vervaardig en het as regisseurs Karen Jeynes en Marvin-Lee Beukes. Karen Jeynes, Jozua Malherbe, Ludwig Binge, Kabous Meiring en Hélène Truter is die draaiboekskrywers.
- Kyk die lokprent hier: Amptelike lokprent – Die nuusmakers | S1 | Ep 0 | kykNET
Lees ook:
"Bewaar jou siel as jy my in ’n boks probeer sit" – ’n onderhoud met Rolanda Marais

