Desiré Gardner, die hoofdraaiboekskrywer van die reeks, en Mercy Kannemeyer, een van die draaiboekskrywers wat sommige van die episodes geskryf het, praat met Naomi Meyer oor die TV-reeks, Reënboogrant.
Desiré, jy is die hoofdraaiboekskrywer van die reeks vir jong volwassenes op Showmax en kykNET, Reënboogrant. Het jy die reeks gelees toe jy jonger was? Waaroor gaan die boeke waarop die TV-reeks gebaseer is?
Desiré: Ek het geweet van die boeke, maar dit nooit gelees as tiener nie. So, my eerste ontmoeting met die boeke was uit die oog van ’n vrou – of (kom ons wees nou maar eerlik) ’n tiener – in haar laat dertigs, want die stories neem jou dadelik terug na jou dae op skool, jou eerste rooi hakskene en gebroke hart. So, ek wou graag daardie selfde gevoel deur die storie bring, nostalgie maar ook iets hedendaags. Sodat jonk en oud (of ouer) die program saam kan geniet.
Die boeke gaan oor die Brink-gesin se lief en leed in Reënboogrant, Pretoria. Die fokus is wel meestal op Shani Brink, een van die vier Brink-kinders, en hoe sy die lewe en al sy dinge ervaar.
Ek wil my eie opsomming gee: Die boeke handel oor al die chaos en hormone van die hoërskoollewe. Wat was jou gedagtes toe jy begin om met die materiaal te werk – wat het jy van die boeke se inhoud gedink en hoe wou jy dit op ’n skerm laat lewe kry?
Desiré: Ek het absoluut verlief geraak op die materiaal, binne die eerste paar hoofstukke. Ek wou meer weet van Shani en die res van die interessante mense wat soms die mees onverwagse besluite neem en keuses maak. En ek wou daardie gevoel van "net nog een bladsy" op die skerm deurbring. Ek wou die gevoel van die negentigs – die "onthou" van daardie tyd – laat deurkom, maar nie geforseerd nie. Ek wou hê jongmense moet met die karakters kon vereenselwig, maar dat ouer kykers ook miskien ’n bietjie van hulle jonger self in die jongmense kon herken. En ek wou hê dit moet die verbeeldingswêreld van die lesers – toe en nou – weerspieël.
Mercy, jy het ook sommige van die episodes geskryf. Wat het jy van die reeks geweet voor jy begin skryf het? En nou, noudat jy daarmee klaar is, wat is jou gedagtes? Is dit ’n bietjie soos om weer terug te gaan hoërskool toe?
Mercy: Ek moet bieg – ek het nie veel van die boeke geweet voordat ek vir die projek genader is nie. Toe ek wel daarvan te hore kom, het ek onmiddellik belang gestel. Ek weet nie hoe dit gebeur het dat die boeke my geskip het nie? Ek het wel die Maasdorp-reeks van Stella Blakemore verslind, so ek het tog jeugliteratuur gelees. Maar oor ek ook nogals ’n ou-siel is, het ek vroeg-vroeg al boeke gelees wat eintlik nie vir kinders se oë en ore bedoel was nie! (Soos Lettie Viljoen 😉.)
Noudat Reënboogrant geskryf is ... sjoe. Eerstens moet ek net noem dat die skrywerskamer (al was dit virtueel) ’n ongelooflik opbouende, stimulerende en positiewe ruimte was. So dikwels hoor ons die rillerstories van wat agter die skerms aangaan, maar hierdie ervaring was anders. Dit was besonders. Dit was asof almal, sonder dat ons te veel woorde daaroor hoef te gewissel het, die projek spesiaal vind. Tiaan van Niekerk het ’n ongelooflike pad met die storie gestap, en dit was lewensveranderend om te hoor hoe hy self oor die boeke, die karakters en die storie gesels. Sonvelt Media onder leiding van André en Soné is ’n produksiehuis wat omgee oor hulle mense, en dit skyn deur in die werk.
........
Desiré was die perfekte hoofskrywer vir hierdie projek. Haar hand is ferm, dog so vol deernis en ’n diep verstaan vir die skryfproses, sowel as elke skrywer se individuele behoefte. Heel aan die begin het sy vir ons gesê om ons skrywersintuïsie te vertrou. En dít het die deure na kreatiwiteit en skep net wawyd oopgevlek!
........
Desiré was die perfekte hoofskrywer vir hierdie projek. Haar hand is ferm, dog so vol deernis en ’n diep verstaan vir die skryfproses, sowel as elke skrywer se individuele behoefte. Heel aan die begin het sy vir ons gesê om ons skrywersintuïsie te vertrou. En dít het die deure na kreatiwiteit en skep net wawyd oopgevlek!
Maar terug na jou vraag! Die skryfproses was nogals soos om terug te gaan skool toe. Vir party van die tonele moes ek dink: "Oukei, wat sou Mercy op skool gedoen het?” Ek was nogals ’n nerd (is nog steeds een!), maar ek was ook vriende met die cool kids. Seker oor ek hulle met huiswerk gehelp het, maar nietemin! Die skryf van Reënboogrant het ’n gedeelte van my "inner child" genees. Ek kon sommige dinge wat ek op skool nie kon uitfigure nie, in die skryfkamer uitfigure. En dit is die krag en die skoonheid van skryf, en van TV-maak.
Desiré, die tieners wat ek ken wat die reeks op TV kyk, is verslaaf! En elke nou en dan is daar ’n nuwe karakter wat mens omkrap, of op wie almal verlief is, of wat deur ’n drama gaan ... Shani noem die reeks nie verniet ’n dramadie (drama plus komedie, uitgespreek soos comedy) nie. 😉 Vertel my van die karakters, asseblief.
Desiré: Ek is so bly om dit te hoor! Ja, die karakters is vir seker die tipe karakters wat onder jou vel inkruip, op wonderlike en nie-so-wonderlike-nie maniere. Ek dink die karakters is werklik onvoorspelbaar. Selfs Shani doen met tye dinge wat mens amper nie kan glo nie. Ek was natuurlik mal daaroor, selfs in die boeke – daardie onvoorspelbaarheid en met tye onverklaarbare reaksies en besluite – want dit som vir my ook so half en half die tienerjare op. Ek het gevoel ons kan met dit ook speel – onvoorspelbaarheid – en dis soms daardie onvoorspelbaarheid wat ons opgewonde maak en ons soms die hoender in maak, maar uiteindelik blaai ons tog verder.
Al die karakters word amper voorgestel as jou teksboek-"dié of daai een", die jongmense wat ons in elke skool en elke film vind ... Maar soos die storie aangaan, vind ons dat ons met tye ons antagonis bejammer, soms kwaad raak vir ons protagonis, en soms ons ridder op die wit perd op daai einste perd wil wegjaag.
.......
So, ek dink die karakters is interessant, onvoorspelbaar, en die akteurs van die reeks is absoluut ongelooflik. Hulle vertolk die karakters met deernis, empatie en eerlikheid. Dis werklik so lekker om te sien.
........
So, ek dink die karakters is interessant, onvoorspelbaar, en die akteurs van die reeks is absoluut ongelooflik. Hulle vertolk die karakters met deernis, empatie en eerlikheid. Dis werklik so lekker om te sien.
Ons almal weet hoërskool is ’n plek vol monsters en drake, maar ook met ligpunte en vlinders op die maag en onsekerheid en dinge waaroor mens jou dood wil skaam. Daar is al hierdie elemente in die reeks teenwoordig. Desiré, wat het vir jou uitgestaan as hoogtepunte wat julle móés skryf?
Desiré: Ek dink die hoogtepunt was om juis daardie dinge wat jy noem, in ons karakters se lewens in te bring en te sien hoe hulle elkeen op hul eie manier met daardie dinge worstel. Van die hoogtepunte was natuurlik gebroke harte – wanneer jou hart se keuses jou effens onkant vang, om liefde te verloor ... verlies in al sy vorme – en om daarmee gekonfronteer te word. Vriendskappe en vyandskappe sommer ook. Die alledaagsheid ... en natuurlik ook die tye wanneer mens smag na die alledaagsheid.
Dieselfde vraag vir jou, Mercy. Ons almal weet hoërskool is ’n plek vol monsters en drake, maar ook met ligpunte en vlinders op die maag en onsekerheid en dinge waaroor mens jou dood wil skaam. Daar is al hierdie elemente in die reeks teenwoordig. Mercy, wat het vir jou uitgestaan as hoogtepunte wat julle móés skryf?
Mercy: Wat uitstaan, is die tonele wat tussen generasies plaasvind. Ek was elke keer opgewonde as ek ’n toneel kon kry tussen ma en kind, of onderwyser en kind, ens. Sulke gesprekke is belangrik en broodnodig, want dis dán wanneer ons meer van mekaar verstaan.
Desiré, hoekom moet daar so ’n soort reeks vir Afrikaanse jongmense wees, dink jy? Hoekom moet mense dit kyk?
........
Ek dink eerstens dis ’n baie lekker manier om ’n bietjie te ontvlug, omdat die hele gesin dit eintlik kan saam kyk. Ook omdat jy, voor jy weet, so betrokke raak in die Brinks (en kie) se lewens dat jy met empatie kan toekyk hoe hulle foute maak, en dan dalk, net dalk, nie so hard op jouself is die volgende keer as jy dieselfde kleivoete-oomblikke ervaar nie. En natuurlik ook om dalk gesprekke te begin.
........
Desiré: Ek dink eerstens dis ’n baie lekker manier om ’n bietjie te ontvlug, omdat die hele gesin dit eintlik kan saam kyk. Ook omdat jy, voor jy weet, so betrokke raak in die Brinks (en kie) se lewens dat jy met empatie kan toekyk hoe hulle foute maak, en dan dalk, net dalk, nie so hard op jouself is die volgende keer as jy dieselfde kleivoete-oomblikke ervaar nie. En natuurlik ook om dalk gesprekke te begin. Sensitiewe temas word aangeraak in die reeks en dis dalk ook ’n manier vir tieners om ’n bietjie te begin gesels oor dieselfde dinge in hulle skole/lewens. Mens kan maar net hoop dat dit op ’n manier die deur vir gesels kan oopmaak. (Want tieners kan maklik stil raak.)
Desiré, gaan die ouers geskok wees? Gaan hulle wens hulle was weer op hoërskool?
Desiré: Ek dink dalk ’n bietjie van albei. Ek weet party ouers sê hulle het al vergeet hoe vreesloos en "careless" mens op skool is. Ander wens heimlik hulle kan dit weer ervaar. Ek hoop net dat – so saam met die skokke en die verlange – hulle met die stories en karakters sal kan vereenselwig.
Desiré, wat sê die tieners wat julle ken en dit kyk – hoor julle terugvoer?
Desiré: Ek het darem nog net goeie terugvoer gehoor. Jongmense en kinders wat dit baie geniet en veral hou van die natuurlike spel van die akteurs. Ek hoor veral van ouer "tieners", soos ek genoem het. Mense in hulle laat 30’s / vroeë 40’s wat laat weet dat die karakters "presies lyk soos in hulle verbeelding destyds" of dat hulle so baie dinge kon onthou soos hulle dit nou sien. Baie sê ook hulle was die "Ans" of die "Shani" of die "Sunette" van hulle skool en dis lekker om hulle nou in lewende lywe te sien. Dis altyd so lekker om te hoor. Uiteindelik wil ons hê mense moet dit geniet en altyd, na elke episode, ten minste iets voel, hetsy gelukkig, kwaad, hartseer ... Solank die kykers iets voel, sal hulle aanhou "blaai" ...
Hoekom moet daar so ’n soort reeks vir Afrikaanse jongmense wees, dink jy, Mercy? Hoekom moet mense dit kyk?
........
Daar moet so ’n reeks in Afrikaans wees, want ons moet meer na die jongmense luister.
........
Mercy: Daar moet so ’n reeks in Afrikaans wees, want ons moet meer na die jongmense luister. Dis bitter lekker vir my om nou van "die jongmense" te praat, so amper asof ek nie maar net nog 30 jaar oud is nie. Te dikwels hoor ons die aaklige stories van wat op skole gebeur, en omdat "kinders moet gesien en nie gehoor word nie" te dikwels aan die orde van die dag is, sukkel ons jongmense in stilte. Ons kort reekse soos hierdie sodat kinders gesien, gehoor en sommer gevier ook word!
Nog ’n rede is dat ons letterkunde laat voortleef deur verwerkings. Ek is ’n groot aanhanger van verwerkings, want ’n stuk kuns is nooit voltooi nie, glo ek. Die werklik dinamiese kreatiewe uitsette kan in meer as een vorm vergestalting kry. Sodoende bereik ons meer gehore. Meer gehore kweek meer belangstelling. Meer belangstelling laat (ons) taal aanhou groei en floreer.
Ons trek nou so by ongeveer boek 6 as dit kom by die boekereeks oor die Reënboogrant-tieners, hoor ek by kenners wat weet. Tot wanneer gaan die reeks aanhou?
Desiré: Die reeks hou aan tot by episode 90. Dit eindig met ’n groot gebeurtenis wat lesers uit die boeke sal onthou.
Waar kan kykers dit te siene kry?
Desiré: Dit wys op kykNET en Showmax.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud oor Marie se laaste dag
Desiré Gardner is Magda Louw by die Suidoosterfees. Ons gesels met haar.
Aardklop 2024: Magda Louw – ’n les in kletterkunde: ’n onderhoud met Desiré Gardner


