Aardklop 2024: Magda Louw – ’n les in kletterkunde: ’n onderhoud met Desiré Gardner

  • 0

Yolanda Wessels praat met Desiré Gardner voor die produksie Magda Louw, ’n les in kletterkunde, wat binnekort by Aardklop op die planke gaan wees.

Feesgangers kan uitsien na ’n produksie van lag en treur in ons moedertaal, die dinge wat soms by ons monde uitglip wat eerder ongesê moes gebly het. Magda Louw is al ’n bekende karakter op die televisie en verhoog, maar waar het dié karakter ontstaan?

Sy het ontstaan uit die gedagtes van ’n hoërskoolkind. Ek het al op skool die karakter geskep en het reeds in graad 11 rond ’n kort monoloog geskryf en opgevoer. Natuurlik met die jare het sy baie meer driedimensioneel geraak en vandag voel sy soos my ander/ouer helfte.

Is dit ’n uitdaging om aan te hou bou aan ’n karakter wat al so lank deel van jou lewe is, of is dit juis die lekkerte om saam met so ’n karakter te ontwikkel en te groei?

Dis absoluut ’n lekkerte. Met die skryf van die derde reeks het daar natuurlik weer klein goedjies bygekom, dinge uit haar verlede, haar familie en goedjies wat ons stelselmatig leer ken van Magda. Ek is so mal oor die karakter omdat ek so baie Magdas ontmoet wanneer ek toer, en baie van daardie mooi wat ek raakloop, kan ek dan ook in Magda inweef.

Waar/hoe begin jou voorbereiding vir ’n nuwe produksie van so ’n bekkige karakter?

Ek moet eers ’n tema of idee kry wat my opgewonde maak. Soos die idee van klets en idiome en praat en mekaar misverstaan, en natuurlik die pragtige taal vol pittige sêgoed. Dan moet ek mooi gaan dink hoe Magda oor al hierdie dinge voel en dan, soos hulle sê, is dit "Sit op die stoel en tik." Daar kom ’n klomp idees na my toe terwyl ek besig is met ’n teks – ek sien dinge en dit gaan sit agter in my brein, maar eers as ek voor die rekenaar sit en my vingers toelaat om op die toetse te dans (hoor hoe esoteries, haha), kom die storie bymekaar. En daarna is dit nogals baie spoeg en plak om ’n lekker begin, middel en einde te kry. En natuurlik baie duim vashou dat die gehoor daarmee sal kan vereenselwig.

Jy gesels oor daaglikse uitdrukkings, gesegdes en idiome waarmee ons soms situasies ontlont, argumente probeer wen en gedrag regverdig. Wat het jou die idee vir ’n les in kletterkunde en die spitsvondige titel gegee?

Ek dink dit was een van daardie dinge wat so half organies gebeur het. Ek het gedink, verbeel jou Magda gee ’n les in letterkunde, maar dadelik besef sy dat sy nie die nodige kennis daarvoor het nie, maar wat sy wel het, is kennis in klets, in woorde onderstebo gooi en dit in haar guns te laat werk. Daarom het ek toe gedink kletterkunde – dis waarin Magda ’n graad sal kan hê.

Hoekom is Magda ’n karakter met wie mense maklik kan vereenselwig?

Ek hoop en glo dis omdat sy opreg en eerlik praat oor dinge wat oor ons almal se pad kom. Verlies, liefde, waansin en hoop. Ek hoop ook dat dit is omdat sy dalk iemand uitbeeld wat mense raaksien, hetsy in die straat of in die spieël.

Is ’n eenvrouvertoning nie ietwat meer gekompliseerd om voor te berei as ’n produksie met verskeie akteurs nie?

Ek dink dis soms effens meer vreesaanjaend, want dis presies dit: een vrou. Maar dit is ook op ’n ander manier ’n lekker uitdaging, omdat jy juis nie ’n ander hand het om aan vas te klou nie, so dan word daardie byspeler eintlik jou gehoor, en daar vorm ’n band tussen jou en die mense in die teater. Dis een van die lekkerste ervarings vir my met ’n eenvroustuk, wanneer jy weet die gehoor verwelkom jou met ope arms.

Die stuk is deur kykNET tot ’n storiefilm ontwikkel. Hoe maklik/moeilik is dit om heen en weer te skakel van ’n eenvrouvertoning na ’n storiefilm en vice versa?

Die kykNET-storiefilm, en toe uiteindelik die reeks, hou vir seker die karakter konstant aan die lewe, want ek is óf besig om te skryf, óf besig met voorbereiding vir skiet; of ek is besig om dit uiteindelik te ontleed op die kassie. So dit voel amper of Magda heeltyd so half lewe in my agtergrond, hetsy preproduksie, huidig, of postproduksie. En daar is min dinge so lekker soos dit.

’n Mens moet nooit die krag van humor onderskat nie, en met Magda raak jy verskeie kwessies op ’n ligter trant aan. Watter temas roer jy aan in ’n Les in kletterkunde?

Vir seker ja – ’n sin vir humor en geloof is die twee dinge wat ek voel mens baie nodig het om deur die lewe te beweeg. Ek dink – soos altyd maar – die onvoorspelbare tydelikheid van die lewe, verlies, kommunikasie, die gebrek daaraan, die stilblye wat ook soms ’n antwoord is, en dan die gesegde wat ons almal deesdae teen ons mure uitbeeld ... geloof, hoop en liefde.

Magda het vir ons nuwe stories en splinternuwe raad. Waarna kan feesgangers uitsien?

Ag, ek dink net om haar ’n bietjie in ’n ander lig te sien. Ek het vir amper twee jaar met my eerste eenvroustuk getoer en dit was so lekker, maar dis ook opwindend om iets nuuts te doen. En wie weet – dalk sing sy weer.

Met Magda word dit bewys dat met grysheid kom inderdaad wysheid. Jongmense sal dalk nog hiermee verskil. Watter raad het Magda aan diesulkes?

Dis absoluut noodsaaklik dat die jonges so moet dink – dis normaal, want mens kan nie elastisiteit én wysheid hê nie. Maar soos wat mens ouer raak en soos wat die lewe vir ons lesse leer, so kom die wysheid en dan besef jy eers hoe "onwys" jy was toe jy jonk was. Daar is ook ’n verskil tussen slimgeid en wysheid. Die jongmense is baie slim. En tegnologies veral. Die kinders van vandag is werklik die slimste wat hulle nog ooit was, maar wysheid word net verkry deur die pad te stap, en dit vat tyd.

Lees ook:

Desiré Gardner is Magda Louw by die Suidoosterfees. Ons gesels met haar.

Die geskenk deur Riette Rust: ’n onderhoud met die skrywer

Ek het ’n engel gesien deur Amore Bekker: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top