Desiré Gardner is Magda Louw by die Suidoosterfees. Ons gesels met haar.

  • 0

Magda Louw
Ondersteun deur NATi
Koproduksie tussen Suidoosterfees, Momentum Beleggings Aardklop en Innibos
Met: Desiré Gardner
Teks: Desiré Gardner
Regie: Hannes van Wyk
Taal: Afrikaans
Venue: Tent-aktief
Datum en tyd: 29 April 10:00 | 29 April 15:30
Tydsduur: 60 min
Prys: R125

Magda Louw bevind haar in haar herfsjare op nasionale televisie en skielik is sy nie net meer die tannie in die straat nie, maar die tannie in mense se sitkamers.

Nou is sy ook die tannie op die verhoog.

Die toneelstuk Magda Louw is gebaseer op die gewilde kykNET-komedie met dieselfde naam. Desiré Gardner is Magda Louw.

Izak de Vries het met haar gesels.

Desiré, noem mense jou al Magda op straat?

Ja, ek moet sê, baie mense noem my nou Magda, en baie mense sê ook dat hulle mekaar nou soms Magda of Erhard noem. Dit is ’n wonderlike gevoel, alhoewel ek hoop ek lyk nie te veel soos sy nie. Haha.

Hoe verskil die toneelstuk van die TV-reeks?

Die toneelstuk is heeltemal nuut, daar word verwys na die karakters in Magda se lewe, maar die temas wat sy aanraak, is anders as in die reeks self.

Jy het die teks geskryf vir die toneelstuk. Talle komediante lees hul gehoor en soek subtiel na dele om uit te lig en ander wat laat vaar word tydens ’n vertoning. Pas jy die teks gereeld aan, of hou jy, met Hannes van Wyk se hulp, redelik getrou by die woorde?

Ek dink dis maar iets wat mens leer sodra jy voor ’n paar gehore opgetree het. Ek toets wel my teks en temas met ’n paar vriende of familie en kry ook daar ’n gevoel van wat dalk beter sal werk as ander dinge. Maar as die teks eers vas is, hou ek daarby.

Praat van Hannes. Julle werk saam in die TV-reeks, en hier is hy jou regisseur. Wat kan julle nog by mekaar leer ná soveel tyd saam?

Hannes se kennis is soos die weduwee se kruik. Dit hou nooit op nie en dit raak nooit afgewater nie, so ek drink alles op soos ’n spons. Ek hou van sy eerlikheid en opregte leiding met my spel en ook my tekste.

Vir mense wat dalk nie kykNET het nie – vertel hulle hoekom dit belangrik is om kaartjies vir die vertoning te kry?

Ek dink eerstens is dit lekker om bietjie uit die huis en in die teater te kom. Die Suidoosterfees is ’n wonderlike geleentheid om dit te doen. En ook om (hopelik) bietjie te lag en te dink. Magda gaan ook sing, so dit sal die gehoor dalk weer ’n rede gee om beter te voel oor hulself. (Knipoog.)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top