
Dis kort voor noen op ’n knieserige Juliedag. Ek wag met afwagting in die Chardonnay Deli in Kalkbaai. Die volgende oomblik bars die deur oop met baie energie en klokkies en klingels. Dis Walter die Wonderhond wat vir Zelda met mening insleep. Sy stert swaai alles en almal raak. Sy oë en bek lag. Almal dink hy is so oulik. Zelda dink ook so. Hoe meer hulle hom koester, hoe woester raak Walter die Wonderhond. Sy volle naam, wat verwys na die 1960’s se Huisgenoot-strokiesheld, is belangrik om te onthou. Binnekort meer daaroor.

Zelda kry vir Walter die Wonderhond ingeswaai onder die tafel in en gaan sit skuins oorkant my. Sy noem haarself ’n tusseninner wat net in die spasies tussenin oorleef, maar hierdie intog laat ’n mens wonder. Met haar bloubont flophoed op, tesame met ’n pienkraam-skoenlapper-donkerbril en pienker lippe is sy op die toneel. Terloops, Die tusseninners is haar naaswennerboek in die 2025-LAPA-Jeugromankompetisie.
“Jammer oor die hoed,” sê sy na ons gegroet het en pluk hom af. “Ek het ’n bad hair day.” Die soortvan silwer hare lyk vir my oukei. Laas wat ek haar gesien het, was dit bruin. Sy het my vertel sy kleur haar eie hare en haar meisiekind Mia dink nie veel daarvan nie.
Ek stel my openingsvraag.
Wat is die eerste ding ooit in haar lewe wat jy onthou?
Die meeste mense weet nie eintlik nie en dink te lank om geloofbaar te wees, maar Zelda zip die antwoord net so uit: “Ek sit op ’n rooi gepoleerde stoep en eet ’n mango. En alles is taai. Van my hare tot my tone. Hulle sê mos mens moet ’n mango net in ’n bad sit in eet. Maar ek het nou nog nie. Die mooi van die rooi stoep en die taai van die oranje mango is my onthou. Ek is in Zambië gebore en dit was die plothuis se rooi stoep. Voor ek drie geword het, is ons uit Zambië. Nou nog, elke keer as ek ’n mango eet, is ek terug op daai stoep.”
Wat is die eerste ding wat jy wou word?
“’n Haarkapper,” antwoord sy weer sonder skroom en lag verwoed. (Aha, die bad hair day en selfkleur tot Mia se verdriet.) “Ek was gefassineerd met style en onthou, daai was die tyd van die beehives. My sub B-juffrou Fick het ’n fantastiese, fenomenale, merkwaardige beehive gehad. En daar was allerhande rumours oor wat alles in daai beehive weggesteek was! Daardie haardos het my laat hunker om met hare te werk, totdat ek besef het my hande is rond, toe los ek die dos.”
Wat is die eerste ding wat jy geskryf het? Nie omdat jy iets soos ’n opstel moes skryf nie, maar vir die lekkerte van net skryf.
“As ’n klein dogtertjie al het ek begin om my eie strokiesprente te skryf. Dan het ek sulke boekies gemaak, tipies met die spraakborrels, jy weet. Ek het net comics gelees as kind. Archie, Richie Rich, Dennis the menace, daais. En Tina! Sy’t my lewe verander.
Daar was nie boeke in ons huis nie. Ook nie ’n biblioteek naby nie, want ons was nie in ’n dorp nie. In my eie strokiesprente, en dis nou seker ’n bietjie narsisties, was ek elke keer die hero. Die chick op die perd of die een met die katpak aan wat kan spring van gebou tot gebou en lewens red. Ek dink ek het Catwoman geskep, maar nooit tantième gekry nie!”
Wanneer het jy besef jy wil graag regtig skryf?
“Iewers op hoërskool sekerlik al. Toe ek besef ek is useless met wiskunde en alles behalwe tale. My opsies was dus redelik beperk, want ons weet al my hande is rond, somme is nutteloos en ek het nie kuns en tik as vakke nie, wat ek eintlik moes gevat het. Ek tik nou nog al my manuskripte met drie vingers!
“So dit was nie ’n passievolle besluit nie, meer prakties, en toe gaan swot ek kommunikasiekunde en dog eers ek sal ’n joernalis word totdat ek besef het harde nuus staan my nie aan nie. Ek lees nie eers koerante nie. Ek wil nie, ek kan nie. Dis daar waar ek toe uitwyk en inskryf vir die Association of Advertising Agencies (AAA) se nagraadse leerskool.”
Sy is daardeur soos ’n blits in ’n storm en het haar eerste werk met woorde vasgevat by BBDO as Afrikaanse kopieskrywer. Wat niks meer as ’n betaalde vertaler is nie. (Gaan kyk hoe gereeld vertaling voorkom in haar skryfwerk, veral in Mei en alles daarna.)
Vir die volgende paar jaar het Zelda haar pad van woorde geloop as vryskutter in die bedryf en as voorstander en insinker soos dit maar gaan in die genadeloosheid van die reklamebedryf. Almal stoei en almal beweeg aan, maar sy is nog steeds ’n gelowige in ’n goeie en skerp idee. Veral met woorde. “Ek kry soveel kicks uit sulke klein projekkies, die vele kort bursts van energie, maar het langs die pad besef werk met woorde is my currency en ek wil nie die rangleer boontoe loop nie. Ek is goed met woorde, nie goed met ander werkers nie. En dit was seker my voorland, sou ek wou aanbly. Die Peter principle, jy weet.”
Net daar klim sy en haar eertydse man (wat ook in die media in reklame was) uit die bedryf, vat al hul fondse en koop ’n wildplaas tussen die Timbavati en Klasserie. Die plek het mooi geloop, maar sy het nie mooi saam geloop nie. Te min stimulering, te min blootstelling. “Ek het vereensaam. Partykeer het ek kortstondig met gaste gekliek, maar môre, oormôre is hulle vort.” Skaars ’n jaar later los sy die plaas en die man en kies koers terug woorde toe. Met ’n ou Isuzu-bakkie, ’n dinosourusrekenaar, ’n faksmasjien (dit was 1993) en ’n paar woordeboeke.
Eers het sy om den brode weer vryskutkopiewerk gedoen. In daardie tyd kuier sy op ’n dag by ’n vriend en terwyl hulle gesels, sit sy seuntjie op sy skoot. “En jy weet, ’n mens kry mos, so saam met die oudword, ’n lelletjie onder jou ken,” vertel Zelda. “So sit sy seuntjie en speel met dié lel onder sy pa se ken. Klap hom so heen en weer. En laggend sê hy vir sy pa: ‘Dad, you’ve got a chicken!’: ‘Poultry in motion,’ sê ek.
“Die volgende dag is ek na John Hunt by Hunt Lascaris waar ek lank gevryskut het. Want sien, Nando’s is hulle rekening en ek stel toe voor Poultry in motion hoort op hulle afleweringstrokke. John reken toe ook so. Later die jaar was ek by die Loerie-reklameprysfunksie, maar nie saam met Hunts nie. Daar wen my lyn ’n Loerie! En ek dog, se gat, dis myne daai en stap saam met die art director van Hunts op om my Loerie te loop kry.”
Jare kom en jare gaan, maar Zelda bly goed voortbestaan. Sakkie Sakman stap in haar lewe in. So ook Walter die Wonderhond. Hulle sit huis op in Parys. Nee, nie waar Breytenbach gebly het nie, sommer hier op die Vaal. Maar niks is vaal nie. Mia word gebore en later jare voor sy klaarmaak met skool in Potch, besluit Zelda om haar by te staan en gaan bly by haar vir die laaste skof. Net so voor sy weg is daar, vertel ’n vriendin haar van ’n skryfkursus by die universiteit wat sy glo Zelda moet doen.
“Dit is deur die ATKV aangebied oor ’n tydperk van vyf dae en ek dog waddehel, kô’s doen dit. Deelnemers moes met 10 bladsye van hulle eie skryfwerk daar opdaag. Destyds het ek elke keer wanneer ek by ’n Exclusive Books instap, besef daar is soveel slimmer mense as ek, ek sal nooit ’n boek kan skryf nie. Anyway, ek moes ’n kategorie kies en kies toe jeugboeke. Nog nooit een gelees nie, net gedink dis die maklikste – sulke dun boekies, jy weet. Fanie Viljoen het die meeste van die modules aangebied en aan die einde van die hele storie koop ek ’n paar van sy boeke, wat hy moes teken, natuurlik. In die een skryf hy toe ook: ‘Jy gaan beslis publiseer.’ Regtig? wou ek weet. En hoe? ‘Vat nou die 10 bladsye wat jy geskryf het, maak ’n storie daarvan en stuur dit in vir LAPA se jeugromankompetisie.’ As mens geluk kon proe het die tweede prys gewen.”
’n Mens sou dink dat sy nou jeugromans as genre ontdek het, maar nee, daar is nie resepte in haar lewe nie, en haar volgende boek is toe ’n volwaardige volwasseneroman, Die dekonstruksie van Retta Blom, wat ’n mens nogals baie laat dink aan “The ballad of Lucy Jordan” van Marianne Faithfull. Die boek is verfilm en het die prys vir beste buitelandse film in België gewen.
Elke keer dat sy ’n boek aanpak, wil sy iets anders skryf. “Ek wil sien wat ek alles kan doen voor ek doodgaan. Kyk, ek kom mos uit advertising. Een dag skryf jy oor nappies, dan karre of aftershave,” reken Zelda. “My jeugroman-uitgewer sê vir my ek het die skryfstem van ’n vyftienjarige meisie. Toe vat ek dié stem en skryf ’n volwasseneboek – Mei en alles daarna ...”
Wat is jou skryfroetine?
“Geen, absoluut geen. Behalwe dat ek myself isoleer wanneer ek skryf. Dan kan ek skryf wanneer dit my beetpak. Tussen twee en vier soggens of laatmiddag of wanneer ook al. En ek kan eet wanneer ek wil eet of nie eet nie. Maar Walter die Wonderhond kry altyd sy kos wanneer dit sy kostyd is.”
Wat maak jou goed as skrywer?
“Ek is nie goed met plots nie, maar ek is goed met karakters. Het al gedink ek moet ’n medeskrywer kry om die plot uit te dink, dan skryf ek die karakters daarin. Dit gaan vir my alles oor verhoudings en feelings. Die ander ding, glo ek, is dat om te begin het as kopieskrywer was my beste leerskool. Dis nou nog vir my baie moeiliker om ’n goeie kopskrif vir ’n ad te skep as om drie goeie hoofstukke van ’n boek te skryf.”
Voorlaaste vraag van my: Hoe het jy aan die titel Mei en alles daarna gekom?
“Ek wou hê die titel moet iets sê oor Juna wat al van kleins af glo dat niks belangriks ooit tussen Mei en Kersfees gebeur nie. Op ’n dag luister ek na Counting Crows in die kar. Die song was uit hulle album August and everything after. Dezzit, het ek gedink. Die frase het ’n poëtiese, melankoliese gevoelswaarde.”
Laaste vraag (het ek gedink): Sou jy sê die titel is amper soos ’n kopskrif uit jou kopieskryfdae?
“Uiteraard. Dis my komvandaan. Mos.”
Héél laaste vraag: Wat kom nou na Mei en alles daarna?
“Wie weet? Junie?” lag sy.
En Walter die Wonderhond klap hande met sy stert.
- Fotografie: Gerrit Rautenbach
Lees ook:
Elders gesien: Die tusseninners het onlangs tweede gekom in Lapa se Jeugromankompetisie
Mei en alles daarna deur Zelda Bezuidenhout: ’n foto-oorsig van die boekbekendstelling in die Paarl

