Titel: Mei en alles daarna
Skrywer: Analize Viljoen
ISBN: 9780795803338
Uitgewer: Queillerie
“Mens kies jou onthou, maar is die vergeet nie dalk onwillekeurig nie?”
Hierdie vraag is een van die hooftemas van Zelda Bezuidenhout se nuwe boek, Mei en alles daarna. Die vraag het by die skrywer opgekom toe sy eendag op die ingewing van die oomblik afdraai na die dorp waar sy grootgeword het om te gaan kyk hoe lyk die huis waarin hulle gewoon het. Dit was die vonk wat die verhaal van Mei en alles daarna laat vlamvat het. Die uiteinde is ’n verhaal wat delf in hoe mense dinge onthou en of herinneringe geloofwaardig is.
Dit spring in die tyd tussen die vroeë 1970’s en 2022 en krap dinge oop waarvan Juna, die hoofkarakter, nooit in haar kinderjare bewus was nie en nou, op byna 60, van uitvind en dit moet verwerk. Dinge wat toe taboe was om oor te praat, maar waarvoor daar vandag meer begrip en selfs hulp sou wees. Daar is dus diep emosie by betrokke, maar sonder dat dit ooit ooremosioneel raak.
Vir lesers wat die ’70’s meegemaak het, sal daar nostalgiese oomblikke wees wanneer jy na lekkernye uit jou kinderdae verlang of dalk terug hunker na ’n tyd toe kinders “hulleself grootgemaak” het. Dinge is egter nooit so eenvoudig nie. Dit wys ook hoe rasseverhoudinge verskil het van nou. Hoe vrouens ’n heel ander rol in die samelewing gehad het. Hoe siekte en geestesgesondheid heeltemal anders ervaar en behandel is, of dalk juis nie behandel is nie.
Die verhaal speel af in ’n fiktiewe Karoodorp vol interessante karakters wat deel word van Juna se lewe. Een van die maatstawwe wat altyd geld, is of die karakters geloofwaardig is, en in hierdie boek is hulle só geloofwaardig dat hulle soos vriende voel. Dis wat gebeur wanneer ’n skrywer wys in plaas van vertel. Daar is Juna, wat haarself as vervelig sien en reken haar eksman se eksentriekheid het haar interessanter laat lyk. Die genoemde eksman maak dat jy as leser ’n paar keer agter sy rug jou oë rol. Die karakter Makalo staan kiertsregop uit as die sterkste karakter, benewen Juna self. Die leser ervaar ’n groot deel van die verlede deur Makalo se oë. Boonop is sy deurlopend die een karakter wat mens hoop gee, asof sy die teenpool vir die ander se pyn en hartseer is.
Dan is daar Herlien, ’n maat uit Juna se kinderdae, wat sy na jare weer raakloop. Hoewel hulle as kinders baie na aan mekaar was, is daar nou groot kontraste tussen hulle. Die nuwe vriendskap tussen Juna en Herlien word baie realisties voorgestel, presies soos dit is om weer met iemand bevriend te raak met wie daar na soveel jare eintlik min raakpunte is, en wat nou nog minder gemeen noudat hulle ouer is en twee baie verkillende soorte lewens gelei het.
David, of Duif, Juna se broer, word ’n prentjie in jou kop. Hy is so eg dat jy hom kan sién waar hy met sy Zippo sit en speel elke keer as hy en Juna oor die foon gesels.
Elke karakter en sy of haar dialoog, hulle nukke en grille, en selfs humorsin, is volkome uniek en geloofwaardig.
’n Paar dae nadat jy die boek klaar gelees het, voel jy lus om vir ’n Juna ’n teksboodskap te stuur en te vra wanneer gaan julle weer saam koffie drink.
Tegnies en struktureel is die boek besonder sterk. Dis asof die skrywer hierdie verhaal en karakters op ’n baie soliede struktuur bou, wat onderstreep hoe haar skryfwerk met elke boek net nog meer natuurlik vloei en sy meer selfvertroue kry. Dit is Zelda Bezuidenhout se derde volwasseneroman, en wat my betref, die beste een sover. Dis evolusie in aksie, waarvan mens bewus raak as jy sien hoe die skrywer beheer neem oor haar skryfkuns en al die verhaalelemente bymekaar hou in ’n boek wat die leser nie wil neersit nie. Ons weet egter reeds dat ’n skrywer baie moeite moet insit om iets so moeiteloos te laat lees. Dat dit moeiteloos lees, beteken nie dat die boek as ’n liggewig gesien moet word nie. Daar is soveel vlakke, onthullings en verhoudings om te ontdek dat die boek jou bybly lank nadat jy dit klaar gelees het.
Die enigste draad wat dalk ’n bietjie stywer getrek kon gewees het, is die deel oor Jerome, die hawelose man in die dorp. Dis asof sy lot, en Juna se reaksie daarop, nie heeltemal tot hulle reg kom nie. Daar word spanning geskep rondom dit alles, wat tot ’n klimaks kom wanneer Juna sy slaapplek in die bos ontdek. Vir ’n oomblik hou jy asem op ... Dan stap sy net weg, en jy voel effens verneuk dat daar niks verder gebeur nie.
Enige iemand wat al boeke van Zelda Bezuidenhout gelees het, sal weet dat daar altyd ’n goeie skoot humor in haar skryfwerk is, en Mei en alles daarna stel nie teleur op daardie gebied nie. Daar is ’n hele paar sinne met slim woordspeling, soos “leap of faith” wat “leap of fuif” raak, en snaaks is wanneer jy die konteks ken. Daar is genoeg snaakse insidente om die leser meer as een maal te laat lag, soos die gebeure rondom die skeikoek. ’n Persoonlike gunsteling was die bynaam Kaptein Cringe vir ’n orige ou man.
Die beelde en vergelykings is nuut en verbeeldingryk, soos hierdie byvoorbeeld: “Sy is so kort en onmerkwaardig soos ’n tafelgebed” en “Roosmaryn is die Parktown prawns van die kruiewêreld.”
Zelda Bezuidenhout het in ’n onderhoud met Parys Gazette gesê die boek is vir mense wat hou van ’n quest-verhaal, en dit is beslis wat die leser gaan kry. Dit is nie ’n vinnige-aksie-verhaal nie, maar dit is wel diep en introspektief, en perfek vir iemand wat daarvan hou om menslike verhale te lees en ’n karakter te leer ken.
Lees ook:
Elders gesien: Die tusseninners het onlangs tweede gekom in Lapa se Jeugromankompetisie
Die dekonstruksie van Retta Blom: ’n onderhoud met Zelda Bezuidenhout

