’n LitNet Akademies (Regte)-artikel oor Die waarde van stil bure? ’n Onderhoud met Zelda Bezuidenhout

  • 0

Foto van Zelda Bezuidenhout: Alet Pretorius; omslag van Die waarde van stil bure: NB-Uitgewers

Die waarde van stil bure
Zelda Bezuidenhout
Kwela
ISBN: 9780795710308

Daar het onlangs ’n LitNet Akademies (Regte)-artikel oor Zelda Bezuidenhout se Die waarde van stil bure verskyn. Zelda praat met Naomi Meyer oor die boek.

Zelda, daar het onlangs ’n LitNet Akademies (Regte)-artikel oor jou boek, Die waarde van stil bure, verskyn. Hierdie artikel bevat ’n bederfwaarskuwing vooraf: “Waarskuwing: Hierdie artikel bevat inligting wat lesers wat nog nie Zelda Bezuidenhout se Die waarde van stil bure gelees het nie, se pret mag bederf. Lees dus eers die boek om al die verrassings en wendings ten volle te geniet, en dán die interessante navorsing daaroor.” Ook maar goed so, want mense moet sowaar hierdie boek van jou gaan lees. Ek wil jou graag oor die boek uitvra. Het die inspirasie van die storie vir jou uit buurmanskap gespruit? Of wat was die sneller vir die verhaal?

Een aand moes ek na ’n sieldodende gesprek tussen ’n mediese dokter en ’n wetenskaplike luister. Ek het bitter min verstaan en was eintlik net daar om die koffie te bedien. Maar toe die gesprek ’n onverwagse wending na stamselnavorsing neem, het dit my ingetrek. Die vakgebied is ongelooflik mededingend en omdat wetgewing rondom menslike stamselterapie veral in Suid-Afrika nog in sy kinderskoene staan, word prosedures soms klandestien gedoen om sekere pasiënte te help. Ek het vir Carolyn Meads, my uitgewer, ’n manuskrip geskuld en nog geen idee gehad waaroor ek wou skryf nie. Die drama rondom stamselle het skielik vir my na die ideale tema gevoel vir ’n roman met mediese en spanningselemente.

Jou storie speel in Johannesburg af. Ek het die strate gesien soos ek dit gesien het in ’n kinderboek van jou (Die 3 van ons), maar anders geskets. Kom ek vra jou oor die ruimte en die omgewing van die boek Die waarde van stil bure. Is jy ’n Johannesburger in murg en been? Wat is jou agtergrond? Want ek dink jy woon in Parys in die Vrystaat, of hoe?

Skerp waarneming! Ek het vir sowat 30 jaar van my lewe in Johannesburg gewoon – vyf daarvan in Melville. As kopieskrywer het ek in Jozi se noordelike voorstede gewerk, maar ek beskou Melville as my Heimat. Dis waar ek gewoon het nadat ek, soos Magdaleen in die boek, deur ’n traumatiese gebeurtenis in my lewe is. Melville was soos terapie vir my. In my jeugroman Die 3 van ons het ek my eerste huis aan die Westdene-kant van Melville gebruik vir die ruimtelike beskrywings. Vir Die waarde van stil bure was dit my tweede blyplek se beurt – juis ’n skakelhuisie in Agtstelaan, presies soos in die boek.

..........
Melville het nog altyd vir my kosmopolitaans gevoel. Oopkop jongmense woon daar tussen sout-van-die-aarde ouer mense. ’n Mengelmoes van kulture word verteenwoordig. Die universiteit is naby, maar ook die begraafplaas (so van stil bure gepraat).
..........

Melville het nog altyd vir my kosmopolitaans gevoel. Oopkop jongmense woon daar tussen sout-van-die-aarde ouer mense. ’n Mengelmoes van kulture word verteenwoordig. Die universiteit is naby, maar ook die begraafplaas (so van stil bure gepraat). Dit voel vir my meer gebalanseerd, meer generies. Dit was vir my presies die regte agtergrond vir albei boeke – die jeugroman sowel as Die waarde van stil bure. Toe NB foto’s wou neem vir Die waarde van stil bure se bemarking, het ons dit in Melville gaan doen. Die plek het baie verander sedert die jare toe ek daar gewoon het, maar ek was nog steeds diep nostalgies.

Ek het verwys na ’n kinderboek wat jy geskryf het. Jy het al ’n paar kinder- en jeugboeke geskryf, en ook ’n hele paar boeke vir volwassenes. Hoe verskil die aanslag, hoe is dit vir jou anders en hoe verplaas jy jou in die skoene van jou karakter (van wisselende ouderdom)?

Miskien is dit net ek, maar jeugboeke is altyd moeiliker om te skryf. Ek het wel die voordeel van ons dogter, Mia, wat nog elke keer dieselfde ouderdom was as die karakters in die manuskrip waarmee ek besig was. Maar ek moes nog steeds staatmaak op my eie jeugherinneringe. Voordat ek aan ’n jeugboek begin skryf, maak ek altyd ’n groot plakkaat wat ek bo my lessenaar plak. Daarop staan: “Hoe voel dit om vyftien te wees?” (Of twaalf of agtien, of wat ook al die ouderdom van die karakters in die boek is.) Want ek moet myself voortdurend daaraan herinner om in ’n tiener se tekkies te klim. Om al daardie komplekse gevoelens te onthou; gevoelens wat aangevuur word deur hormone. As dit by fiksie vir volwassenes kom, is groot gedeeltes daarvan darem baie nader aan my eie werklikheid.

Die waarde van stil bure begin op ’n noemenswaardige, onnoemenswaardige Dinsdag. Ja, dis die ding met Dinsdae, is dit nie? Heerlike afskop en intrek in die storie in. Maar het jy toe al geweet hoe dit gaan eindig? Beplan jy ’n storie vooruit? Gebeur dit organies?

...........
Ek het geweet dat die mense in hierdie roman skokkende dinge in die naam van navorsing sou aanvang. Maar ek het geen benul gehad wat of deur wie nie. Ek moes eers uitvind waartoe die karakters in staat is. Halfpad deur die manuskrip het ek nog nie geweet wie die skuldige is nie.
.............

Ek het geweet dat die mense in hierdie roman skokkende dinge in die naam van navorsing sou aanvang. Maar ek het geen benul gehad wat of deur wie nie. Ek moes eers uitvind waartoe die karakters in staat is. Halfpad deur die manuskrip het ek nog nie geweet wie die skuldige is nie. Toe ’n vriendin wat altyd my onvoltooide werk lees vir my sê wie sy dink dit moet wees, het ek “Neeeee!” gegil. Ek skryf altyd organies en laat my instinkte my lei. Bitter min word vooraf beplan. My enigste reël is dat ek die leser nie mag verveel nie. Alle lesers hou nie van alle stories nie, en daar sal noodwendig mense wees wat wel verveeld raak met selfs die beste boek en vinnigste pas. Maar die teikenmark vir wie ek in my boeke vir volwassenes skryf, is mense wat hou van ’n verhoudingsroman.

...........
Ek skryf altyd organies en laat my instinkte my lei. Bitter min word vooraf beplan. My enigste reël is dat ek die leser nie mag verveel nie. Alle lesers hou nie van alle stories nie, en daar sal noodwendig mense wees wat wel verveeld raak met selfs die beste boek en vinnigste pas. Maar die teikenmark vir wie ek in my boeke vir volwassenes skryf, is mense wat hou van ’n verhoudingsroman.
.............

Hier praat ek van menseverhoudings – nie noodwendig liefdesverhoudings nie. Ook lesers wat graag iets onder die oppervlak raaklees.

Daar is baie huishoudelike herkenbaarhede in jou storie: hoe die omgewing lyk, die kombuis, die kleredrag. Mens is binne-in jou verhaal. Jy ontmoet die bure saam met jou hoofkarakter. Ek het jou nou al oor die omgewing gevra. Wat van die mense van jou storie? Is hulle gebaseer op mense wat jy regtig ken, party meer as ander?

Alida Verster is losweg op my oorlede ma gebaseer. Hoewel my ma Engelstalig was, het sy – nes Alida – min ambisie vir haar dogters gehad. Sy was ’n sogenaamde tuisteskepper wat nooit ’n beroep buite die grense van die huishouding gehad het nie. Vreemd genoeg was dit iets waarop talle vroue in die sestigs trots was: dat hulle nie hóéf te werk nie. My ma wou hê ons moet mooi lyk en goed trou. Magdaleen, weer, herinner my aan iemand wat ek in die vroeë negentigs geken het, maar net ietwat. Darius is moontlik ’n sameflansing van ’n paar nerds in my lewe.

Dis interessant dat daar regskwessies in jou roman bespreek kan word, want die boek lees nie soos ’n boek wat uitwys wat reg of verkeerd is nie. Trouens, die boek wys die kompleksiteit uit van hoe besluite wat mense maak in doodgewone buurskapsituasies (om dit so te stel, as jy “bure” wyd interpreteer) glad nie iets is wat so ongekompliseerd is nie. Hier is baie grys gebiede. Kies jy jou karakters en hulle agtergrond om die storie vir jou te kan help skep? Of kies hulle jou? Praat ook sommer met my oor jou gunstelingekarakters in hierdie verhaal.

Ek het opsetlik karakters vir ’n moderne Suid-Afrikaanse verhaal gekies. Die storie is voorstedelik, maar ook nie. Dit maak selfs ’n draai in die Seychelle. My gunsteling is die hoofkarakter, Magdaleen. Sy is sterk, maar ook ongelooflik broos. Ek hou van haar sin vir humor en haar skeppendheid. Ook haar groot hart en dat sy so fatalisties is. Puleng was heerlik om te skryf. Sy is so seker van haarself en gemaklik in haar vel. En dan is Zack natuurlik ’n gunsteling. Ek wens daar was meer Zacke in die wêreld.

Hoekom skryf jy?

Ek het altyd gesê dis omdat ek niks anders kán doen nie. Maar noudat ek probeer om op te hou skryf, besef ek dat ek dit nodig het. Miskien is die eerlike rede waarom ek skryf omdat dit iets is wat ’n mens alleen doen. Iets waarin ’n mens kan wegraak. ’n Skrywer skep as ’t ware ’n heel nuwe werklikheid en word vir maande lank daardeur verswelg. Ek is geweldig menssku. Wanneer ek tussen mense is, werk ek regtig hard om innemend en oulik te wees. Soms kry ek dit selfs reg! Maar ek verkies amper altyd my eie geselskap. Selfs wanneer ek reis of fliek. Dis asof ek alles meer intens ervaar wanneer ek alleen is. Skryf is dus die perfekte beroep vir iemand soos ek. Vir baie jare in reklame moes ek in ’n span werk. Boek skryf is lekkerder en makliker.

Nee kyk, die bure in hierdie storie is besig met interessante dinge. Ek gaan liewers nie uitbrei nie, maar hoe het jy jou navorsing gedoen? Is dit vakgebiede waarin jy self belangstel? Jy weet duidelik waarvan jy praat. Het jy iemand ontmoet wat met jou daaroor gesels het; het jy gaan oplees?

Ek het met iemand gesels wat self al baie jare betrokke is by stamselnavorsing. En dan het ek natuurlik ook wyd daaroor gelees. Maar nee, ek het nie ’n besondere belangstelling daarin gehad nie. Ek het wel nou. Dis fassinerend!

Ek het jou gevra oor die bure van langsaan. Dis natuurlik ’n storie wat baie meer om die lyf het en oor meer handel as net om bure af te loer of sonde met die bure. Dis hoe mense van verskillende agtergronde, in ’n land soos ons s’n, intens en intiem by mekaar betrokke raak. Wat het jy alles oor die land uitgevind terwyl jy oor die moderne Suid-Afrika geskryf het, met ’n blik gerig op die wete van hoe die verlede was?

Ons gesin het in die middel-sestigs uit Zambië na ’n klein dorpie in die Vrystaat getrek. Van my beste maats was Rosa en Dora, ons huiswerker se twee dogtertjies. Maar hulle kon net Saterdae kom speel, wanneer hul ma in ons huis gewerk het en hulle nie by die skool was nie. Hulle het altyd Afrikaans gepraat – daar was geen rede vir my om Sesotho te leer nie. Hul ma, Sanna, het my opgepas as my ouers uitgegaan het. Sy het vir my die mooiste Jakkals en Wolf-stories gelees. In Afrikaans, natuurlik. Sy en haar dogters was sleutelfigure in my grootwordjare, maar toe my ouers trek, is alle bande summier verbreek.

..........
Daardie onnatuurlike verbintenisse tussen wit en swart mense word so goed beskryf in Ena Jansen se boek Soos familie. Dis hierdie ding wat vir my so hartseer is van Suid-Afrika. Ons pragtige land is soos ’n kind wat sonder liefde grootgeword het. En nou wonder ons waarom die kind gedragsprobleme het.
............

Daardie onnatuurlike verbintenisse tussen wit en swart mense word so goed beskryf in Ena Jansen se boek Soos familie. Dis hierdie ding wat vir my so hartseer is van Suid-Afrika. Ons pragtige land is soos ’n kind wat sonder liefde grootgeword het. En nou wonder ons waarom die kind gedragsprobleme het.

Waaraan werk jy nou? Of, as jy nie wil verklap nie, wat lees jy op die oomblik?

Daar lê ’n jeugmanuskrip by ’n uitgewer. Dit sal hopelik teen die einde van die jaar uitgegee word. My eerste boek vir volwassenes, Die dekonstruksie van Retta Blom, se filmregte is pas verkoop. En ek bly besig met kortverhale, rubrieke en so aan. Dalk pak ek weer ’n radiodrama aan. Wie weet?

Lees ook:

Misplaaste weldade en griewe van die "Liquorice Allsorts-gesinnetjie": ’n Regsletterkundige verkenning van Zelda Bezuidenhout se Die waarde van stil bure

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top