Mei en alles daarna deur Zelda Bezuidenhout: ’n foto-oorsig van die boekbekendstelling in die Paarl

  • 0

Titel: Mei en alles daarna
Skrywer: Zelda Bezuidenhout

ISBN: 9780795803338
Uitgewer: Queillerie

  • Foto’s verskaf deur Jeanne-Marie Korff en Zelda Bezuidenhout

Zelda Bezuidenhout, Pieter Fourie en Annie Oliver, uitgewershoof van Jonathan Ball en hoofbestuurder van NB-Uitgewers

Een van die bekendstellings van Mei en alles daarna het op 26 Mei in die Paarl plaasgevind. Pieter Fourie het met Zelda Bezuidenhout oor haar boek gesels.

Pieter: “Zelda, kom ons praat eerste oor jou. Jy skryf nie net in een genre nie.”

Zelda: “Nee, ek is gewoond aan skryf in baie genres. Ek skryf jare lank al kopie. Eendag skryf mens oor babadoeke, eendag oor koffie – mens is nie genrebewus nie. Iemand vra my: ’Is jy al gewoond aan die ontnugtering van kreatief skryf?’ Ek sê ja – as mens in die advertensiebedryf skryf, word jou werk elke dag oor en oor afgekeur voordat hulle sê dis reg. Dit berei mens voor vir skryf aan ’n boek.”

Pieter: “Enige genre waarin jy nog nie geskryf het nie?”

Zelda: “Ek is te dom om te dig. Sal dit nou nie lekker wees as mens dit op ’n T-shirt kan sit nie: ’Te dig om te dig.’”

Pieter: “Mei en alles daarna is soos dryfsand – een oomblik stap jy nog ’n paar tree vorentoe en dan is jy so diep ingetrek dat jy nie kan loskom nie.”

Zelda: “Miskien het ek die geskiedenis probeer herskryf. Die boek is nie ’n whodunnit nie. Dis meer ’n what-the-hell-were-they-doing-and-why.”

Die foto op die agterblad van die boek is Zelda se grootwordhuis in Hennenman op die Vrystaatse Goudveld. Dis haar eie foto.

(Nota: Hierbo is ook nog ander foto’s wat Zelda eksklusief met LitNet gedeel het. Dit is die geraamte van die huis wat was, en verskyn nie in die boek of op die buiteblad nie. Deesdae is daar niks meer van die huis oor nie.)

Zelda: “Ek het nie beplan om die boek te skryf nie. Ek het eendag by die padbordjies verbygery wat sê: Holfontein en Henneman. Toe draai ek af en gaan loop terug op my eie spore.”

Sy draai die boek om sodat mense die foto kan sien.

Pieter: “Is jou boek ’n soektog na die waarheid?”

Zelda: “Ja, ek dink ek wou die geskiedenis herskryf.”

Pieter: “Kan ’n mens dit doen?”

Zelda: “Op ’n praktiese vlak, seker nee. Maar ja, mens kan dit doen.”

Pieter: “Die boek is deurtrek van ma-dogter-verhoudinge.”

Zelda: “Dis dalk waaroor die boek gaan.”

Pieter: “Daar is baie ander goed – ek kan nie verklap waaroor dit gaan nie. Almal in die gehoor: Moenie na haar navorsingsbronne agterin die boek kyk voor julle die boek gelees het nie!”

Zelda: “Is skryf vir jou terapeuties, Pieter?”

Pieter: “Ek gaan die gesprek weghou van my af. Kom ek vra jou om voor te lees.”

Zelda slaan die boek oop en lees voor waar Pieter beduie.    

Sy trek die blokkie pienk papiertjies nader, en begin notas maak.

“Ons almal bloei rooi,” Makalo Mofokeng.

“You only have one job on earth, and that is to be happy,” Joy Beckerling.

[…]

“Sit regop, maak styf jou maagspiere, en lig jou ken,” Katharine Ferreira.

Juna sit regop, maak haar maagspiere styf, en lig haar ken. Toe tik sy iets om die wit van haar rekenaarskerm te besweer.

Mei en alles daarna.

Sy sit terug in haar stoel en glimlag. Sy hou van hierdie sin wat sy getik het. Om die waarheid te sê, dit voel soos die titel van ’n boek.

Pieter: “Ek kry hoendervleis soos ek hier sit.”

Agterma staan die mense tou om die boek te koop.

Lees ook:

’n Video en foto’s van ’n aand saam met Zelda Bezuidenhout oor Mei en alles daarna

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top