’n Video en foto’s van ’n aand saam met Zelda Bezuidenhout oor Mei en alles daarna

  • 0

Titel: Mei en alles daarna
Skrywer: Zelda Bezuidenhout

ISBN: 9780795803338
Uitgewer: Queillerie

Mei voel soos die perfekte maand vir ’n boek met die titel Mei en alles daarna. En op Saterdag 16 Mei 2026 het lesers by die Kaalvoet Kafee buite Parys in die Noordwes saamgetrek om Zelda Bezuidenhout se derde roman vir volwassenes te vier.

Die atmosfeer was warm en feestelik nog voordat die gesprek begin het. By die hek het ’n groot oranje “Zelda” besoekers ingewag, terwyl skoene aan ’n wasgoedlyn gewapper het – ’n speelse verwelkoming by die Kaalvoet Kafee.

Die Alabama Dream-duo het met hul musiek gesorg dat die aand sommer vroeg reeds gesellig voel.

Die skrywer Analize Viljoen het die gesprek met Zelda gelei en saam het hulle gesels oor die inspirasie vir die roman, die navorsing wat agter die verhaal lê, en die twee tydlyne waarin die storie ontvou.

Hoewel Zelda beklemtoon het dat die roman nie outobiografies is nie, het sy vertel dat sekere name en oomblikke wel deur regte mense en toevallige gebeure geïnspireer is – daardie klein stukkies serendipiteit wat soms presies in ’n storie inpas.

“Die karakter se verjaarsdag is in Mei – dus begin haar lewe in Mei, en alles wat daarna volg,” het Zelda vertel oor die titel van die boek. “Dit was ook die eerste titel waarvan my uitgewers gehou het.”

Dit was boonop ook Zelda se verjaarsdag, wat die geleentheid nog meer spesiaal gemaak het. Die aand is afgesluit met ’n Mei en alles daarna-sjokoladekoek – perfek vir ’n selferkende sjokoladeverslaafde.

Daarna het Zelda boeke geteken, foto’s geneem en tyd gemaak vir gesprekke met elke bywoner.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top