DH (Heinie) Heydenrych (1938–2021)

  • 1
Die akademikus en navorser Heinie Heydenrych is op 5 Junie 2021 in Pretoria oorlede. Johann Lodewyk Marais bring hulde aan hom.

Heinie Heydenrych by die bekendstelling van Skermutselings en skandale: Paul Kruger deur ander oë, 1890–1895, wat in 2017 by Imprimatur verskyn het. (Foto: verskaf)

I

Dirk Hendrik (Heinie) Heydenrych is op 19 November 1938 in die Paarl gebore. Hy was die jongste van drie seuns en het in die dorp grootgeword, waar sy pa in die hoofstraat ʼn algemene handelaar was. Hy matrikuleer in 1956 aan die befaamde Hoër Jongenskool Paarl, waar ook Eugène N Marais (1871–1936), Karel Schoeman (1939–2017) en talle ander bekendes hulle skoolopleiding gehad het. Reeds op skool het Heinie se leierseienskappe na vore gekom en dien hy in die leerlingraad.

Ná skool het hy aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer en in 1957 ʼn Primêre Onderwyssertifikaat, in 1961 ʼn BA (Hons) en in 1966 ʼn MA-graad in geskiedenis behaal. Gedurende sy studentejare het hy vir Helderberg-manskoshuis se eerste rugbyspan gespeel en dien hy as die primarius (hoofstudent) en voorsitter van die huiskomitee.

Op universiteit het Heinie in die Departement Geskiedenis vermaarde dosente soos PJ van der Merwe, DJ Kotzé en DJ van Zyl gehad. Hy was voorberei op ʼn lang en luisterryke loopbaan en betrokkenheid by die bestudering van verskillende onderwerpe uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Daarna het hy ʼn jaar lank skoolgehou en vervolgens as assistentargivaris in die Kaapse Argiefbewaarplek gewerk, waar hy sy vaardighede as historiese navorser opgeskerp het.

Van 1966 tot 1975 doseer hy aan die University College for Indians op Salisbury-eiland in Durban wat in die 1960’s ontstaan het, in 1971 volle universiteitstatus gekry en vanaf die volgende jaar as die Universiteit van Durban-Westville bekend gestaan het. Heinie se seun, Reuben Heydenrych (1969–), vertel sy pa het in dié tyd aan sy proefskrif gewerk, “voor rekenaars, voor ‘cloud storage’. Alles was op papier. Daar was ook nie fotostate of scans soos nou nie. Al my pa se navorsing, met die hand op klein A6-kartonkaartjies geskryf, was in ʼn metaaltrommel in die garage gestoor.”

Tydens sy verblyf in KwaZulu-Natal het Heinie se navorsing vir sy proefskrif onder professor Kotzé gefokus op die Natalse spoorwegbeleid en die bou van die hoofspoorlynverbinding met die Rand tot 1895. Volgens Reuben het hy en sy ouers in ʼn grasdakhuis in Hillcrest gewoon toe hulle groot teenspoed gehad het:

Eendag toe ek nog ʼn baba was, het die motorhuis se dak begin smeul. Alles is verbrand. Behalwe vir die feit dat ons net met die klere aan ons uitgekom het, het al sy navorsing veras. Dit het hom meer as ʼn dekade geneem om sy navorsing (painstakingly-metodies, soos wat my pa met navorsing was) te herhaal en sy doktorsgraad te behaal.

Heinie het uiteindelik in 1981 die DPhil-graad in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch behaal, waar hy al sy akademiese kwalifikasies verwerf het. ʼn Boek in ’n Engelse vertaling van die grootste deel van sy proefskrif, The Natal Main Line story (1992; deesdae ʼn gesogte Africana-boek), en vier artikels oor die ontwikkeling van die spoorlyn het op sy proefskrif gevolg.

In Julie 1975 is Heinie as lektor aan die Universiteit van Pretoria aangestel en was vanaf 1982 as senior navorser veral by navorsing oor die universiteit se geskiedenis betrokke. Sy verbintenis met dié instelling het tot sy vertrek in 1987 geduur. Gedurende hierdie jare was die briljante, wydbelese en charismatiese FA van Jaarsveld die hoof van ʼn dinamiese Departement Geskiedenis. Vir Heinie was Van Jaarsveld ʼn mentor wat hy gereeld saam met sy gesin aan huis besoek het. Ook vir SB du T Spies het hy groot waardering gehad.

Uit Heinie se pen het in hierdie jare Tukkierugby 75: ʼn Geskiedenis van die rugbyklub van die Universiteit van Pretoria, 1909–1983 (1984) en, saam met FJ du T Spies, Ad Destinatum II: ʼn Geskiedenis van die Universiteit van 1960 tot 1982 (1987) verskyn.

Van Januarie 1988 tot Mei 1992 was Heinie ʼn navorsingspesialis en hoof van die nuutgestigte Afdeling vir Toegepaste Geskiedenisnavorsing in die Instituut vir Geskiedenisnavorsing (IGN) van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) in Pretoria. CC (Cas) Bakkes en daarna AG (Arrie) Oberholster was die uitvoerende direkteure en het ʼn span knap navorsers in verskillende historiese dissiplines onder hulle leiding gehad. Heinie publiseer in dié tyd artikels oor WG Brounger, JD Logan, GCS Pauling en HL Phillips in die eerste, tweede en vyfde dele van die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek; asook ʼn hoofstuk, “Die Boererepubliek, 1852–1881”, in Trewhella Cameron en SB Spies (reds) se Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika (1986, 1988 en 1991). Saam met RC de Jong en G-M van der Waal was hy die skrywer van NZASM 100: The buildings, steam engines and structures of the Netherlands South Africa Railway Company (1988) en saam met Bruno Martin verskyn van hom The Natal Main Line story (1992).

Heinie se vertrek van die RGN het gevolg kort ná die sluiting van die IGN, wat grootliks ʼn einde aan historiese navorsing by dié eens gedugte instansie beteken het. Hy was vervolgens op ʼn vryskutgrondslag as onafhanklike navorser en vertaler aktief. Hy raak ook betrokke by toerisme en die gasvryheidsbedryf en was van 1999 tot 2004 die eienaar van ʼn B&B op Montagu.

Saam met die fotograaf Abrie Swiegers het Heinie die toerismegids Discover Pretoria (1999) gepubliseer. Hy gaan ook ses jaar lank op in die wel en wee van Montagu deur artikels oor die mense, argitektuur en geskiedenis van dié Bolandse dorp in “Montagu en sy mense” in die Montagu Mail te skryf. In boekvorm publiseer hy ʼn Geskiedenis van die Nederduits Gereformeerde Gemeente Montagu, 1854–2004 (2004), 30 Stories oor Montagu en sy mense (2005; ook in Engels uitgegee as Montagu and its people: 30 stories) en Nog stories oor Montagu en sy mense (2007).

Ná sy verblyf in die Boland keer Heinie terug na Pretoria waar hy die laaste tien jaar van sy lewe by sy seun tuisgaan. In JS Bergh (red) se Geskiedenisatlas van Suid-Afrika: Die vier noordelike provinsies (1999) publiseer hy hoofstukke oor “Die diamantveldkwessie en die Keate-uitspraak van 1871” en “Spoorwegontwikkeling”.

Van Augustus 2008 was hy drie jaar lank deel van ʼn navorsingsprojek onder JS Bergh, voormalige hoof van die Departement Historiese en Erfenisstudies by die Universiteit van Pretoria. Die doel van die projek was om pres Paul Kruger se korrespondensie tussen 1852 en 1904 vir publikasie voor te berei. Met sy navorsingsywer en taalvermoë het Heinie ʼn groot bydrae gelewer om Kruger se korrespondensie uit Nederlands in Afrikaans te vertaal en die Engelse vertaling, deur ʼn ander medewerker, te redigeer. Bergh het met twee boeke, Paul Kruger: Toesprake en korrespondensie van 1881–1900 (2017) en Paul Kruger: Speeches and correspondence, 1850–1904 (2018), die louere vir die projek ingeoes. Heinie het met die deurwerk van koerantartikels en volksraadsdebatte van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) op mikrofilm die boek Skermutselings en skandale: Paul Kruger deur ander oë, 1890–1895 (2017), die lig laat sien.

Deur die jare was Heinie by ʼn aantal joernale en tydskrifte betrokke. Hy was ses jaar lank die redaksionele sekretaris van die vaktydskrif Historia en tree op as die redakteur van die tydskrif se huldigingsbundel vir FA van Jaarsveld. Hy publiseer ook navorsingsartikels in akademiese tydskrifte, asook resensies van geskiedenisverwante boeke. Vyf artikels oor die ZAR verskyn in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe). Vir die tydskrif Afgriland, wat deur Bigdoor versorg en uitgegee word, het hy oor ʼn tydperk van drie en ʼn half jaar tweemaandeliks altesaam 25 artikels oor landbou-onderwerpe geskryf.

II

Heinie was ʼn veelsydige historiese navorser wat hom goed by veranderende omstandighede en eise kon aanpas. Daarvan getuig sy groot aantal publikasies waarin hy as nougesette navorser nuwe lig op onderwerpe laat val het en krities oor fasette daarvan kon skryf. Sy vakmansfraaie publikasies het getuig van ywerige navorsing om by die noodsaaklike bronne uit te kom, maar ook ʼn vermoë om werk te lewer wat tot ʼn breë geïnteresseerde leserspubliek kan spreek. Op hierdie manier was hy in staat om saam met ʼn handvol tydgenootlike Afrikaanstalige historici diep in ons verlede te delf.

Sy navorsing en publikasies het veral die volgende vyf onderwerpe gedek:

  • Die Natalse spoorwegbeleid en die bou van die hoofspoorlynverbinding met die Rand tot 1895 en die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatschappij se geboue, stoomenjins en strukture.
  • Die geskiedenis van die eerste 75 jaar van Tukkiesrugby en die Universiteit van Pretoria tussen 1960 en 1982.
  • ʼn Toergids oor Pretoria en artikels oor die mense, argitektuur en geskiedenis van Montagu.
  • Navorsing oor en redaksionele betrokkenheid by artikels en ʼn boek oor pres Paul Kruger se toesprake en korrespondensie tussen 1852 en 1904.
  • Navorsing oor diverse historiese en landboukundige onderwerpe vir publikasie in vakkundige tydskrifte en die media.

Heinie het nie weggeskram daarvan om in die beginjare van sy navorsing onderwerpe te kies wat groot uitdagings aan ʼn Afrikaanstalige historikus bied nie. Dit geld in die besonder ten opsigte van sy navorsing oor die Natalse spoorwegbeleid en die bou van die hoofspoorlynverbinding met die Rand tot 1895. In ʼn era waarin revisionistiese historici die bydrae van Afrikaanstalige historici erg bevraagteken en selfs verkleineer het, het Heinie uitdagende terreine betree. Hoewel hy nie die weg van ʼn fundamentele ideologiese wending gekies het nie, het sy werk van trots en deeglikheid getuig, aangesien hy goed met die noodsaaklike argivale bronne vertroud was. Dieselfde geld ten opsigte van sy navorsing oor die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatschappij en ander onderwerpe uit die 19de-eeuse geskiedenis.

ʼn Verdere opvallende faset van Heinie se oeuvre is die wyse waarop hy hom kon laat meevoer deur die werks- en ervaringsomgewing waarin hy hom bevind het. As dosent en navorser aan die Universiteit van Pretoria het hy hom ingegrawe in die universiteit en Tukkiesrugby se geskiedenis en as ʼt ware die hart van die instansie en sy sportkultuur gepeil. Heinie se boek oor Tukkiesrugby is ʼn gewaardeerde besit op die rakke van talle oudspelers en administrateurs wat ʼn kosbare verbintenis met die universiteit en sy sport gehad het.

Die laaste dekades van Heinie se navorsing is onder meer gekenmerk deur sy betrokkenheid by ʼn toerismegids, Discover Pretoria, en publikasies in verskillende genres oor die dorp en gemeenskap van Montagu. Daarin munt hy uit as onderhoudende skrywer, optekenaar van stories en dokumenteerder van ʼn streek se geskiedenis. Navorsing oor toerisme was lank ʼn verwaarlooste terrein en met sy werk hieroor het Heinie ʼn opvallende bydrae gelewer. Met hierdie werk het hy hom boonop volkome aanpasbaar en ontvanklik vir die verwagtinge en eise van sy nuwe leefomgewings gestel. Heel dikwels bly sy fisiese bouwerk van allerlei aard ook as blyke van sy vroeëre teenwoordigheid voortbestaan.

In Heinie se laaste boekpublikasie, Skermutselings en skandale: Paul Kruger deur ander oë, 1890–1895, was hy krities oor die oudpresident van die ZAR se leierskap en betrokkenheid by korrupsie. Veral Eugène N Marais (en ander) se volgehoue verslagdoening en perspektief in sowel Nederlands as Engels in die jare voor die Anglo-Boereoorlog is noukeurig nagegaan. Met sy kritiese ingesteldheid het Heinie duidelik kennis geneem van nuwe benaderings in geskiedskrywing en die noodsaaklikheid om aspekte van die Afrikaanse geskiedskrywing aan indringende vraagstelling te onderwerp. Sodoende het hy onder meer in sy laaste en indrukwekkende werk uitdrukking aan Van Jaarsveld en Bergh se wense vir vernuwende en inklusiewe denke in die Afrikaanse geskiedskrywing gegee.

III

Ek het by die RGN met Heinie kennis gemaak toe ek by die Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (Sensal) van die Instituut vir Taal- en Kunstenavorsing en hy by die Afdeling vir Toegepaste Geskiedenisnavorsing in die IGN werksaam was. Ek het Heinie ontmoet kort nadat hy as navorsingspesialis by die RGN aangestel is.

Heinie was nie net ʼn gesoute historikus en goeie skrywer nie, maar ook ʼn ywerige padatleet wat by Run/Walk for Life betrokke was en aan onder meer die Twee Oseane-marathon deelgeneem het. Onder sy vriende was hy bekend as bouer van huise en iemand wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Hy het kennis van en groot vreugde aan hierdie aktiwiteite gehad en nie verniet houtwerk as hoofvak in matriek gehad en daarin uitgeblink nie.  

Verder was Heinie se betrokkenheid by die gemeenskap soos tweede natuur. Hy het byvoorbeeld die naskoolsentrum Crux, vir hoofsaaklik behoeftige kinders, ondersteun deur die leerders met hulle huiswerk te help en saam met hulle sokker te speel. Hy was ook betrokke by sy seun se Engelse skool se bestuursraad, was ʼn ouderling in die kerk en het Sondagskool aangebied.

Heinie Heydenrych saam met Francis Galloway en Johann Lodewyk Marais (Foto: verskaf)

Kort na die veranderings by die RGN was ek, Heinie en Francis Galloway by Arrie Oberholster se nuwe Eenheid vir Samelewingsdinamika betrokke. Uitdagings is aan ons, wat pas uit die humaniora gekom het, gestel om “stof aan ons skoene te kry”, soos HC (Bok) Marais, een van die visepresidente, dit gestel het. Ons moes ervaring gaan opdoen in die gemeenskap, wat aan die begin van die 1990’s deur enorme probleme in die gesig gestaar is. Een van my en Heinie se opdragte was om by die vraelysopname oor fertiliteit in verskillende dele van die land betrokke te raak. Die demografiese ghoeroe Johan van Zyl het plaaslike spanne veldwerkers gehad en ek en Heinie is opgekommandeer om in noordelike KwaZulu-Natal toesig oor die veldwerk te gaan hou en terugvoer te gee.

Ek en Heinie het met ʼn gehuurde motor van Imperial in die pad geval. Ek moes op Newcastle uitkom waar ek die volgende twee weke in ʼn hotel sou sit om saans deur vraelyste te werk wat bedags deur die veldwerkers in buurte en landelike gebiede om dié dorp ingevul is. Veral Lawrence Schlemmer en, in ʼn mindere mate, Bok Marais het noukeurige veldwerkbenaderings vooropgestel om moontlike vrae oor die betroubaarheid en legitimiteit van ondersoeke te ondervang. Die RGN het juis in hierdie tyd hard daaraan gewerk om sy geloofwaardigheid te probeer verseker en ʼn bydrae tot beter tussengroepsverhoudinge in die land te lewer.

Tydens daardie reis na KwaZulu-Natal het ek en Heinie van Harrismith af op die Collin(g)spas-pad in die rigting van Newcastle weggeswaai. Ek wou graag vir hom die distrik met sy pragtige berge, koppe en klowe wys waar ek grootgeword het. Heinie het twee kassette in die motor gehad wat hy kort nadat ons op die grondpad weggeswaai het, in die speler gesteek het. Die een kasset was van Ladysmith Black Mambazo en die ander van Paul Simon. Hierdie kassette het Heinie kort-kort weer gespeel, al was hy “nie seker of hy daarvan hou nie”.

As gevolg van die draai wat ons met die grondpad gery het, was dit al donker toe ons in Newcastle aankom. By die eerste beskeie hotel kon ons nie regkom nie en ons het einde ten laaste by die Holiday Inn gaan inboek. Daar was ongelukkig ʼn probleem met my kredietkaart en ek en Heinie het op ʼn dubbelbed in dieselfde kamer beland. Hy was gelate en klaarblyklik heeltemal gemaklik met hierdie reëling.

Die volgende dag het Heinie na Ladysmith vertrek om twee weke daar te gaan deurbring. Met Ladysmith ʼn belangrike stasie op die roete van die Natal Main Line wat hy bestudeer het en binnekort sy nuwe koffietafelboek oor sou publiseer, was Ladysmith ʼn meevaller vir hom.

Nie lank daarna nie het ek, Heinie en Francis Galloway betrokke geraak by ʼn Bos & Boek-projek oor die skrywer Dalene Matthee se werk wat in die Knysnabos afspeel. Ek, wat kort vantevore die Groen Kongres oor die Mens, die Kunste en die Omgewing by die RGN aangebied het, het op die ekologiese kodes in die boek gekonsentreer, Francis op die ontvangs van die romans en Heinie op die geskiedenis van die Knysnabos en die mense se betrokkenheid. In daardie dae het die topstruktuur van die RGN gedink die mens en die omgewing het nie veel met mekaar te doen nie.

Ons het ʼn aangename groep begaafde hoërskoolleerders van die Wes-Kaap gehad om meer van Dalene en die bos te vertel. Heinie se deeglike voorbereiding en gemaklike lesings in die buitelug het ons beïndruk.

Ná ek en Heinie met sy wit-en-blou Nissan 1400-bakkie met ʼn kappie op in Oudtshoorn aangekom het (waar kollega John Kannemeyer aan sy Langenhoven-biografie gewerk het), het Francis by ons aangesluit. Die drie van ons het met Heinie se bakkie vanaf Oudtshoorn via Pringlebaai terug na Pretoria gereis. Dié landsreis het baie tyd vir gesels gebied en ons ook meer van mekaar laat leer ken.

Heinie en Francis kon onderhoudend gesels oor die Boland waar Heinie sy studie as historikus begin het en Francis op Pringlebaai ʼn strandhuis met die naam Everlasting gehad het wat Heinie jare later saam met sy span handearbeiders van Montagu sou vergroot en waar Francis en haar man na aftrede woon.

In sy sewentigerjare het Heinie grootliks sy gehoor verloor en dit moeilik gevind om te kommunikeer. Die tye toe ek hom by die Universiteit van Pretoria raakgeloop het, het ek moeilik met hom kon gesels oor sy navorsing oor Paul Kruger en die ondersoekende enfante terrible-joernalis Eugène N Marais aan die begin van die 1890’s. Ek wou graag gesels oor Kruger se bewind wat ná my studie oor Marais ongetwyfeld meer nadenke vereis het. Nietemin, ons het toe ʼn soort broederlike band as historici gehad; ek het van sy artikels vir keuring vir akademiese tydskrifte ontvang en kon ook befondsing vir die publikasie van sy laaste boek aanbeveel.

Oor sy laaste jare het Reuben by die gedenkdiens op 11 Junie 2021 die volgende gesê:

Sy laaste jare was moeilik. Hy het toenemend doof geword. Sy wêreld het kleiner en kleiner geword. Hy kon nie meer oor die foon met sy familie en vriende gesels nie. Sy laaste boek oor Kruger het in 2017 verskyn. Maar nadat hy hierdie laaste lewenstaak voltooi het, het hy (behalwe vir die genot wat Mia [sy kleindogter] vir hom gegee het) na niks anders uitgesien nie. Die laaste keer wat ek hom sien glimlag het, was toe Mia hom gedruk en “geclown” het.

His last journey was short, quiet and without drama: he had stopped eating and drinking. He no longer wanted to live. It was an act of will for him to die. There was nothing further he wanted to experience. I am grateful his last journey was painless. He never once complained of pain – as he was in life – he never expressed bitterness or resentment about any of his experiences. I salute him for his very conscious but quiet decision to depart peacefully.

 

Dirk Hendrik (Heinie) Heydenrych is op 5 Junie 2021 in Pretoria oorlede. Reuben Heydenrych en Francis Galloway het onbaatsugtig bio- en bibliografiese inligting oor hom tot my beskikking gestel waarop ek ruim in hierdie artikel steun.

 

Lees die volgende LitNet Akademies-artikels deur Heinie Heydenrych:

Die staatsdiens van die Zuid-Afrikaansche Republiek, 1890 tot voor die Jameson-inval van 1895

Paul Kruger, die Uitlanderstemreg en die Engelstalige pers in die ZAR voor 1895

Paul Kruger en die pers in die ZAR, 1890–1895

Eugène N. Marais as redakteur van Land en Volk, 1890–1896

Resensies en artikels deur Heinie Heydenrych:

Boereoorlogstories in ’n gesoute samesteller se hande

Rang in der Staten rij vra om gelees te word

Die onmisbaarheid van die Engelstalige pers se beriggewing en redaksionele kommentaar as bron oor die Zuid-Afrikaansche Republiek se geskiedenis

Boekresensie: Hermann Giliomee: Historikus – ’n Outobiografie

Paul Kruger. Toesprake en korrespondensie van 1881–1900 deur Johan Bergh: ’n resensie

 

  • 1

Kommentaar

  • Sarie van Wyk

    Het Heine op Montagu leer ken. As vertaler en liefhebber van geskiedenis het ek groot bewondering vir hom gehad. Ons het na 60 jaar uit Johannesburg na Montagu verhuis, sy boeke oor die dorp se geskiedenis en mense was besonder interessant en ware argiefstukke.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top