Die onmisbaarheid van die Engelstalige pers se beriggewing en redaksionele kommentaar as bron oor die Zuid-Afrikaansche Republiek se geskiedenis

  • 3

Gerrit van Wyk Kruger se essay “Die komplekse verhaal van vroeë Christenvervolgings” het my herinner aan kritiek op my onlangse artikel “Paul Kruger en die Uitlanderstemreg in die ZAR vóór 1895” in LitNet Akademies. Dit is teen my gehou dat ek te veel van die beriggewing en kommentaar van Engelstalige koerante in die ZAR in my vertolking van Kruger se optrede in verband met die stemreg gebruik gemaak het.

Kruger wys na aanleiding van die wêreldwye ontsteltenis oor ISIS se terreuroptredes teen “Christelike” nasies daarop dat die vervolging van Christene in die antieke tyd ’n komplekse verskynsel was en gaan dan voort om dié stelling te substansieer. My kritici gaan uit van die veronderstelling dat die Engelstalige koerante in die ZAR – die “Uitlanderpers”, soos sommige verkies om dit te noem – noodwendig van meet af aan dislojaal teenoor die onafhanklikheid van die Republiek gestaan het, dat hulle dus as groep die ondergang van die Republiek begeer het en dat hul beriggewing en redaksionele kommentaar daarom nie ernstig opgeneem behoort te word nie.

Daar is breedweg gesien twee redes waarom die Engelstalige pers gebruik behoort te word. Eerstens het die Engelstalige pers soms feitelike gegewens in verband met omstrede politieke gebeure aan die lig gebring wat grootliks help om dié gebeure te begryp en verklaar. Hulle nuusdekking was trouens soms veel deegliker as dié van die Nederlandstalige koerante. Tweedens het die Engelse pers hoogs geldige kritiek namens die Uitlanders op die brandende kwessie van die Uitlanderstemreg en ander aspekte van die Kruger-regering se beleid en administrasie gelewer.

Vervolgens word die waarde bespreek wat beriggewing in die Engelstalige koerante tot ons begrip van die verlede in Paul Kruger se tyd bydra en daarna die lig wat dié koerante se kritiek op Kruger se stemregbeleid op die kompleksiteit van die stemregkwessie werp.

Pres Kruger saam met lidmate van die Joodse Parkstraat-sinagoge in Johannesburg ná die inwyding daarvan in September 1892 en voordat hy die aand in die sigaarfabriek uitsprake oor die stemreg gemaak het.

Pres Kruger saam met lidmate van die Joodse Parkstraat-sinagoge in Johannesburg ná die inwyding daarvan in September 1892 en voordat hy die aand in die sigaarfabriek uitsprake oor die stemreg gemaak het.

Die waarde van beriggewing in die Engelstalige koerante

Om die waarde van beriggewing in die Engelse koerante vir ons begrip van die verlede te illustreer, word na drie verskillende gebeure as voorbeelde verwys.

Voorbeeld 1: Die leiers van die National Union se onderhoud met Paul Kruger, September 1892

Hierdie onderhoud vroeg in September 1892 het plaasgevind nadat die organisasie die vorige maand in Johannesburg gestig is. Die National Union se oogmerke soos in sy grondwet verwoord, het gelui: “(a) (T)he maintenance of the independence of the South African Republic”; en (b) “To obtain by all constitutional means equal rights for all citizens of this republic, and to obtain the redress of all grievances”. Die stemregkwessie was beslis heel bo aan die organisasie se lys griewe.

Die afvaardiging onder leiding van John Tudhope as segsman en met Charles Leonard as tolk het Kruger in Pretoria ontmoet. Geen notule van die gesprek wat plaasgevind het, is êrens beskikbaar nie en koerantberigte is die enigste bronne wat daaroor bestaan. Die pro-Kruger koerant De Volksstem het botweg geweier om enigiets oor die onderhoud te rapporteer. Dié koerant het bloot in ’n kort beriggie verwys na die leiers van die beweging wat hul verwerdig om ’n onderhoud met die President te hê. Al wat De Volksstem verder oor die onderhoud skryf, is die opmerking dat die National Union se leiers weinig sukses met hul vertoë gehad het. De Volksstem het die neerhalende opmerking hierby gevoeg dat dit jammer is dat die Johannesburgse mense geen beter leiers het nie en dat dié leiers allerlei dwaashede tydens die onderhoud kwytgeraak het.

Gelukkig vir die navorser het The Star, die Standard and Diggers’ News en die Transvaal Advertiser redelik volledig oor die onderhoud verslag gedoen. Die Transvaal Advertiser verwys na “something like an authentic statement of the proceedings at the interview” in die Standard and Diggers’ News van 6 September, vier dae ná die onderhoud. Die Advertiser noem as rede vir die betroubare aard van dié berig die feit dat die Standard and Diggers’ News nog altyd simpatiek teenoor Kruger gestaan het.

R.T. Gordon bevestig ook in sy werk oor die toenemende teenstand teen Kruger vanuit Boeregeledere dat dié koerant finansieel deur die Kruger-regering gesteun is en haal korrespondensie uit die Leyds Argief aan wat dit bevestig.

Ook T.E.G. Cutten se werk oor die geskiedenis van die pers in Suid-Afrika bevestig dat dit algemeen bekend was dat dié koerant Kruger se presidentskap simpatiekgesind was.

Die Standard and Diggers’ News het dus geen motief gehad om Kruger se optrede tydens die onderhoud negatief voor te stel nie. Boonop gee The Star in verband met sy eie berig oor die onderhoud die versekering dat sy korrespondent in Pretoria beweer het dat die taal wat Kruger tydens die onderhoud gebruik het, werklik deur hom gebesig is. Dié versekering spruit waarskynlik daaruit dat die betrokke korrespondent spoedig ná die onderhoud van die afgevaardigdes van die National Union terugvoer ontvang het oor wat tydens die ontmoeting gesê is.

Sowel The Star as die Transvaal Advertiser berig dat Kruger aan Tudhope-hulle die versekering gegee het dat hy bereid is om aan elke “fatsoenlijk en vertrouwbaar kerel” die stemreg te gee. Toe die afgevaardigdes egter op ’n meer besliste en spoedige oorweging van hul versoeke vir stemreg aandring, het Kruger geantwoord: “Dan is ik een leugenaar!” Dit was die Standard and Diggers’ News se direkte aanhaling van Kruger se Nederlandse woorde. Die Transvaal Advertiser het hierdie uitlating van Kruger bevestig met die Engelse weergawe daarvan: “Then I am a liar!”

Tudhope het daarna volgens The Star aan Kruger die versekering gegee dat die Johannesburgse Uitlanders geen tydelike en vloeiende bevolking is nie, maar dat hulle gekom het om te bly. Hy het ontken dat hulle die politieke mag by die Boere wil oorneem en beklemtoon dat hulle tevrede sou wees met drie of vier verteenwoordigers in die Eerste Volksraad. Hierop het Kruger geantwoord: “Als jullie mij niet vertrouwewn willen, laat het dan maar barst.” Die Engelse weergawe hiervan in die Transvaal Advertiser se berig lui: “If you will not trust in me let the matter rip!” Volgens The Star het Kruger die onderhoud beëindig met die opmerking: “I see what you want. Go back to your people and tell them I say I see you don’t want Paul Kruger any more as President. Riot as you please.”

Hierdie gegewens oor die onderhoud sou totaal onbekend gewees het indien die Engelse pers nie daaroor berig het nie.

Soos reeds aangedui, het De Volksstem verseg om daaroor te berig. Kruger se negatiewe uitsprake by dié geleentheid, sy ongeduld met die pleidooie van die Uitlanders se verteenwoordigers en sy afjak van hulle, soos in sy afsluitingsopmerking geopenbaar, kom dus nie uit onpatriotiese en anti-Kruger koerante nie, maar oorspronklik uit die Standard and Diggers’ News wat volgens twee gesaghebbende outeurs deur Kruger se regering gesubsidieer is om sy beeld te poets. Om die Standard and Diggers’ News en die ander Engelse koerante se weergawes van die onderhoud te ignoreer sou onverantwoordelik wees, want soos reeds genoem, is dit die enigste beskikbare bronne daaroor. En boonop werp dit belangrike lig op Kruger se minagtende houding teenoor die Uitlanders se stemregvertoë.

Die Transvaal Advertiser se kommentaar oor pres. Kruger se kortaf ontvangs van die National Union se verteenwoordigers in September 1892.

Die Transvaal Advertiser se kommentaar oor pres. Kruger se kortaf ontvangs van die National Union se verteenwoordigers in September 1892.

Voorbeeld 2: Kruger se beweerde bedankingsbrief as president, Mei 1890

Tydens ’n debat in die Eerste Volksraad in Mei 1890 het die Volksraadslede ernstige besware geopper omtrent kontrakte vir die oprigting van markgeboue in Johannesburg, Pretoria en Klerksdorp wat die uitvoerende raad tydens die raad se reses aangegaan het. Kruger se frustrasie met die Volksraadslede se besware het breekpunt bereik en gerugte het die ronde begin doen dat hy ’n bedankingsbrief as president uitgeskryf het.

De Volksstem het die gerugte aanvanklik as onsin afgemaak, maar die Standard and Diggers’ News het daarteenoor beweer dat Kruger gesê het dat as die Johannesburgse markgeboukontrak nie goedgekeur word nie, hy dit nutteloos sou vind om in sy amp aan te bly. Later het De Volksstem bloot aangevoer dat Kruger ’n bedankingsbrief uitgeskryf het, maar dit die volgende dag teruggetrek het.

Dat daar beslis iets ongewoons aan die gebeur was, blyk daaruit dat die Volksraad tydens die debat die Woensdagmiddag tot die Vrydag verdaag het. Die amptelike rede vir die verdaging was dat die sekretaris in staat gestel moes word om die notule op datum te bring. Dié rede vir die besluit is egter deur The Star as ’n deursigtige voorwendsel verwerp.

Die Transvaal Advertiser was waarskynlik nader aan die kol oor die rede vir die verdaging tot die Vrydag met sy opmerking dat die krisis veroorsaak is omdat Kruger skynbaar van mening was dat elke maatreël wat hy aan die Raad voorlê, min of meer sonder bevraagtekening aanvaar moes word. Dié koerant het hom gekritiseer omdat die raadslede se teenstand hom tot dié ekstreme stap laat oorgaan het.

Ons sal seker nooit weet of Kruger werklik ’n bedankingsbrief geskryf het nie. Die feit bly egter staan dat as die Engelse koerante nie daaroor berig en gespekuleer het nie, ons niks of weinig daaromtrent sou geweet het, want in die amptelike Volksraadsnotules word nie daarna verwys nie. In elk geval het die aanhalings van die nuusagentskap Reuters se telegramme in die Standard and Diggers’ News van 24 Mei 1890 omtrent die beweerde bedanking bevestig dat gerugte hieroor wyd gesirkuleer het en as bewys gedien dat dit internasionale belangstelling ontlok het.

Voorbeeld 3: Ewald Esselen se bedanking as prokureur-generaal, November 1895

Ewald Esselen is in Mei 1894 as prokureur-generaal aangestel met opdrag om die polisiediens van die Republiek reg te ruk. Hy het daarin geslaag om, met die toestemming van die Kaapse owerheid, vir Andrew Trimble tydelik as hoofspeurder van die Republiek aan te stel. Trimble was in daardie stadium ’n ervare speuroffisier in Kimberley. Binne ’n jaar het Trimble daarin geslaag om die Johannesburgse polisiemag effektief te hervorm.

Trimble se aanstelling is egter nooit deur die Kruger-regering permanent gemaak nie. Toe dit laat in 1895 ter sprake kom, het Esselen daarop aangedring dat Trimble genaturaliseer word. Die uitvoerende raad van die Republiek het egter geweier en Trimble is ontslaan. Dit het gebeur ten spyte daarvan dat Esselen se voorganger as staatsprokureur in 1888, toe die speurafdeling ingestel is, carte blanche gegee is, selfs wat ongenaturaliseerde persone betref. De Volksstem het laasgenoemde feit bevestig.

Daar is geen notule beskikbaar van besprekings wat besluite van die uitvoerende raad voorafgegaan het nie. Die Engelstalige koerante werp egter lig op die saak. The Star berig dat W.J. Leyds, die staatsekretaris, ten gunste van Trimble se permanente aanstelling was, maar dat Leyds, Piet Joubert en genl. N.J. Smit afwesig was toe die besluit oor Trimble se afdanking in die uitvoerende raad geneem is. The Star merk op dat die drie here daarop moes aangedring het dat daar nie in hul afwesigheid oor die kwessie gestem word nie. Die Transvaal Advertiser se ontnugterde verklaring het gelui dat die drie oorblywende raadslede, J.M.H. Kock, J.M.A. Wolmarans en Paul Kruger, deur hul besluit al die goeie werk wat Trimble gedoen het ongedaan gemaak het, want Esselen het daarna in November 1895 uit frustrasie sy bedanking ingedien.

Die lig wat die Engelse koerante, en by name The Star, op die noodlottige besluit omtrent Trimble werp, is die enigste verklaring wat nog vir Esselen se bedanking aangebied is. Die bydrae oor Esselen in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek verskaf geen bevredigende verklaring daarvoor nie en ook nie G.N. van den Bergh se gepubliseerde proefskrif oor die polisiediens in die ZAR nie. The Star se verklaring van die gebeure is die enigste logiese een wat nog aangebied is. Dié koerant het skynbaar vertroulike inligting oor die omstandighede omtrent die noodlottige raadsbesluit bekom en sodoende ’n belangrike raaisel opgeklaar. Sonder hierdie verduideliking van The Star sou daar geen logiese verklaring vir die agtergrond van Esselen se bedanking gewees het nie.

Die waarde van die Engelstalige pers se redaksionele kommentaar vir ’n begrip van die kompleksiteit van die stemregvraagstuk

Die stemreg is ’n basiese reg in enige demokrasie soos wat die Zuid-Afrikaansche Republiek voorgegee het om te wees. Die staat het immers ’n verkose staatspresident gehad en elke vyf jaar het alle stemgeregtigde burgers aan dié hoogste amptenaar se verkiesing (of herkiesing) deelgeneem. Daar was ook ’n grondwet wat oorspronklik in 1858 aangeneem is en in 1889 hersien is waarin belangrike beginsels ten opsigte van die stemreg neergelê is. Een van die kernvereistes vir stemreg was geboorte binne die Republiek. Logieserwyse het alle manlike inwoners wat in die land gebore is, dus toegang tot die stemreg gehad.

Toe die Stemregwet, of Kieswet soos dit bekend was (Wet No. 3 van 1894), in 1894 hersien is, is in artikel 1 bevestig dat geboorte binne die Republiek een van die vereistes vir stemreg was. ’n Artikel is egter in die wet ingesluit wat verklaar het dat twee derdes van die stemgeregtigde burgers hul toestemming vir uitbreiding van die stemreg na immigrante moes gee. Uitlanderseuns kon dus stemgeregtig word slegs indien hierdie vereiste nagekom was. Tweedens is bepaal dat uitbreiding van die kiesreg kon geskied slegs mits ’n voorstel daartoe ’n jaar lank in die Staatskoerant verskyn het. Derdens het die wet bepaal dat Uitlanderkinders wat in die Republiek gebore is, van die stemreg uitgesluit was indien die vader hom nie as burger laat naturaliseer het nie.

Vir alle praktiese doeleindes het die drie nuwe bepalings van die Kieswet dit feitlik onmoontlik vir Uitlanderseuns gemaak om burgerskap – en dus stemreg – te bekom. Die reeds stemgeregtigde burgers kon byvoorbeeld weier om hul goedkeuring vir uitbreiding van die stemreg te gee, soos die wet vereis het.

Carl Jeppe het in dié verband daarop gewys dat dit nog nooit gebeur het dat so ’n groot gedeelte as twee derdes van die stemgeregtigdes hulle ten gunste van iets verklaar het sonder opposisie nie. Die Standard and Diggers’ News het sy woorde soos volg vertolk: “For at no election do more than two-thirds of the registered voters vote.”

Só gesien was dit prakties onmoontlik vir ’n Uitlanderseun om burgerskap te bekom. Jeppe het dit soos volg gestel: Onder geen omstandighede sou Uitlanders volle stemreg verkry nie; dalk sal hulle dit ná 14 jaar as ’n guns ontvang, maar beter voorwaardes sou hulle nooit kry nie, want daartoe het die Volksraad van 1894 alle toekomstige Volksrade verbind. Selfs indien twee derdes van die stemgeregtigde burgers wel goedgekeur het dat die stemreg na diesulkes uitgebrei word, moes die voorstel van die uitbreiding van die stemreg na Uitlanders wie se name vermeld word, eers ’n jaar lank vooraf in die Staatskoerant verskyn het. En afgesien van die bogenoemde haas onmoontlike vereistes vir die verkryging van stemreg het die Kieswet soos aangeneem ook die Grondwet weerspreek, omdat artikel 29 van die hersiene Grondwet van 1889 pertinent bepaal het dat geboorte binne die Republiek aan iemand die reg op stemreg verleen het.

De Volksstem het wel die nuwe wetsvereistes vir stemreg gesteun, maar die Engelse koerante het pertinent en met groot oorredingskrag op die bogenoemde probleme gewys. The Star het onomwonde verklaar: “(T)he law as it stands involves the most wholesale and flagrant breaches of the Grondwet imaginable.”

Selfs die Standard and Diggers’ News, wat, soos vroeër aangedui is, deur die Kruger-regering gesubsidieer is om sy beleid te steun, het ontnugterd geskryf dat die Uitlanders sleg behandel is “in being shut out at every point […] from that political world they have to so large a degree created.”

Die Transvaal Advertiser het geskok verklaar: “It has now become apparent that no consideration is to be shown towards the important section of the population of this country, their aspirations are to be ridden over rough-shod, and their desires to unite with the Boers to found a strong and autonomous nation are to be treated with contumely.”

Wanneer op die Engelse pers se kommentaar op die Kieswet van 1894 gelet word, moet toegegee word dat dit klop met die werklikheid dat toegang tot die stemreg in 1894 prakties onmoontlik vir die Uitlanders gemaak is deur ’n wet wat boonop in stryd met die Grondwet was. As hierdie situasie boonop saamgevoeg word met president Kruger se vae versekering dat hy die stemreg wou toestaan aan betroubare Uitlanders en sy versoek dat die stemregkwessie in sy hande gelaat moet word, dan blyk die onhoudbaarheid van die Uitlanders se situasie duidelik. ’n Vreedsame oplossing van die stemregprobleem ná die aanvaarding van Wet No. 3 van 1894 was dus haas onmoontlik. Dit was ’n uiters problematiese situasie en kompleks as daar ooit een was.

’n Skaakmatsituasie het dus vanaf die aanvaarding van Wet No. 3 van 1894 in Junie van daardie jaar geheers: ’n staatshoof wat vae beloftes oor stemreg vir die Uitlanders gemaak het en hom nooit tot iets spesifieks daaroor verbind het nie, en daarteenoor ’n gefrustreerde Uitlanderbevolking wat deur middel van hul organisasie, die National Union, op ’n wettige, en konstitusionele wyse hul saak vir die verkryging van stemreg gestel het.

Die noodlottige Jameson-inval van Desember 1895, begin 1896 was ’n desperate poging van die Johannesburgse Uitlanders in samewerking met Cecil John Rhodes om die skaakmat te beëindig. Die inval kan nie goedgepraat word nie, maar die ongenaakbare streng bepalings van die Kieswet van 1894 ewe min. Vóór 1895 het dus ’n onverklaarde oorlog tussen die twee kante geheers – ’n baie komplekse situasie.

Ten slotte

Net soos die Engelstalige pers se beriggewing uiters belangrike lig werp op voorheen onvolledig verklaarde omstrede gebeure in die Zuid-Afrikaansche Republiek, is die benutting van dié pers se redaksionele kommentaar ook onontbeerlik vir ’n behoorlik gebalanseerde begrip van die kompleksiteit van die stemregvraagstuk.

 

Lees ook:

Paul Kruger, die Uitlanderstemreg en die Engelstalige pers in die ZAR voor 1895

Heinie Heydenrych
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)

"Die basis vir die vervreemding tussen die Uitlanders en die regering is vóór 1895 reeds gelê en daarin het Paul Kruger ’n deurslaggewende rol gespeel."

  • 3

Kommentaar

  • Leopold Scholtz

    Niemand betwis die belang van enige bron nie, en dit sluit die Engelstalige pers in. My beswaar by die vorige artikel was dat Kruger se Uitlander-houding uitsluitlik deur die bril van die Engelstalige koerante bekyk word. Dit maak die oorspronklike artikel ongebalanseerd. 'n Mens moet alle relevante bronne gebruik.

    • Heinie Heydenrych

      In die bestaande geskiedskrywing, veral dié van Afrikaaanse historici, is die vertolking van Paul Kruger se hantering van die stemregvraagstuk, dikwels gebrekkig - en ongebalanseerd - en word dié kwessie op so 'n wyse gehanteer asof Kruger geen alternatief gehad het as om die stemreg feitlik onbereikbaar vir die Uitlanders te maak nie. Die Kieswet van 1894 het juis dit gedoen - en in die formulering daarvan het Kruger 'n oorweldigende rol gespeel. In my artikel oor Paul Kruger en die stemreg het ek nie slegs van koerante gebruik gemaak om tot dié gevolgtrekking te kom nie, maar van Volksrraadsnotules! Natuurlik is van die Engelstalige koerante se kommentaar op die wet en Kruger se argumente gebruik gemaak, want hierdie drakoniese wet en die argumente waarop dit gebaseer was, het die mening van die Uitlanders, wat finaal daardeur van die stemreg uitgesluit is, verwoord.

      As die regeringsgesinde De Volksstem onkrities in 'n sin of twee bloot sê die aanneming van die wet deur die Eerste Volksraad was geregverdig, sonder om argumente in die Engelstalige pers eers te probeer weerlê, het ek dit ook genoem, maar dit beteken nie dat die argumente van die Engelstalige pers geïgnoreer moet word nie - en daar wás uiters stewige argumente in dié koerante.

      Kruger het lank - van 1887 tot 1894 - getalm om 'n besliste standpunt omtrent stemreg vir die Uitlanders in te neem- en geen navorser of skrywer het dié getalm nog ontleed nie. Ek het dit gedoen op grond van alle koerante wat sy uitlatings in dié tydperk gerapporteer het - nie net die Engelstalige koerante se verslae daaroor en kommentaar daarop nie.

      Paul Kruger se biograaf, D.W. Kruger, het in sy tweedelige werk die opmerking gemaak dat Kruger meer moeite moes gedoen het om ten minste sommige van die Uitlanders stemreg te gee. Dit staan daar in swart op wit. Ek het op dié stelling voortgebou.

      In my essay het ek voorbeelde verskaf van beriggewing in die Engelstalige pers wat inligting omtrent Kruger bevat wat nêrens anders te vinde is nie. Ek daag enigeen uit om te beweer dat dit verkeerd of slordig is om van dié inligting gebruik te maak, veral as dit sekere gebeure rondom Kruger toelig. Dit geld ook vir kommentaar in die Engelstalige koerante.

      'n Uitspraak van destydse staatspresident P.W. Botha oor die bruin mense (die sg. "kleurlinge", soos die Nasionale Party se wet op rasseklassifikasie hulle gedoop het): "Hulle is nie melaats nie!" kan ook op die Krugerregering se optrede en besluite in die negentigerjare van die 19de eeu rondom die Uitlanderstemreg toegepas word: "Hulle (die Engelsalige pers, in dié geval) is nie melaats nie!"

      Heinie Heydenrych

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top