Paul Kruger. Toesprake en korrespondensie van 1881–1900 deur Johan Bergh: ’n resensie

  • 0

Paul Kruger. Toesprake en korrespondensie van 1881–1900
Johan Bergh

Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485305743

Die geskrewe of gesproke woorde van belangrike rolspelers in die verlede is iets wat historici graag bewaar. Soms is die woorde in korrespondensie vasgevang, ander kere was dit in toesprake voor regeringsliggame, voor kommissies van ondersoek of by geleenthede van nasionale of internasionale belang, of waar inwydingsgeleenthede of herdenkings van historiese gebeurtenisse plaasgevind het. Uitsprake wat by sulke geleenthede gemaak is, word die moeite werd geag om te onthou en aan die vergetelheid te ontruk deur dit te publiseer.

In Suid-Afrikaanse verband is daar etlike voorbeelde waar sulke woorde in publikasies byeengebring is. Een van die mees ambisieuse pogings om die woorde van ’n staatsman vir die nageslag te bewaar is WK Hancock en Jean van der Poel se Selections from the Smuts papers wat nie minder nie as sewe dele beloop. Daarby kom AN Pelzer se toesprake van HF Verwoerd getitel Verwoerd speaks: speeches, 1948–1962 (1966), en dan is daar JS du Plessis se versameling President Kruger aan die woord: verkiesingsmanifeste, intreeredes en toesprake van president SJP Kruger (1952) en SP Engelbrecht se Paul Kruger’s amptelike briewe (1925).

Al hierdie versamelpogings spruit voort uit die oortuiging dat sulke woorde vir die latere lesers daarvan nuttig en leersaam kan wees en terselfdertyd belangrike politieke opvattings van die betrokke persone weerspieël wat die leser daarvan kan help om die gebeure van die verlede te begryp. Smuts was immers ’n Suid-Afrikaanse politikus wat ook op die internasionale verhoog ’n rol gespeel het, terwyl Verwoerd gedurende ’n beslissende tyd in die Suid-Afrikaanse geskiedenis ’n hoogs invloedryke figuur was. Dieselfde kan ook van Paul Kruger in die laaste paar dekades van die 19de eeu van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se geskiedenis gesê word, om nie eers van die gevolge van sy beleid en optrede vir Suid-Afrika in die 20ste eeu te praat nie. Dis nie verniet dat Smuts en Kruger se biografieë in die Afrikaanse weergawe van die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek onderskeidelik 23 en 12 bladsye beslaan nie, twee van die langstes daarin.

Dat Kruger beskou word as ’n hoogs invloedryke historiese figuur blyk daaruit dat daar byna 60 jaar na sy dood ’n tweedelige wetenskaplik nagevorste biografie uit die pen van DW Kruger oor hom verskyn het (1961 en 1963). Kruger se aansien onder Afrikaners en as staatsman in die algemeen berus grootliks op twee faktore. Die eerste is sy verbete teenstand teen Britse imperialisme, veral in die laaste dekade van die 19de eeu toe die gety teen sy klein onafhanklike volkie gedraai het veral nadat Joseph Chamberlain in die middel van 1895 die Britse minister van buitelandse sake geword het. Chamberlain se valse aanspraak dat die Britse susereiniteit oor die ZAR waarvoor die Pretoria-konvensie van 1881 voorsiening gemaak het, nooit deur die Konvensie van Londen van 1884 opgehef is nie, het gepaard gegaan met sy neiging om toenemend die Britse Uitlanders in die Republiek se aandrang op redelike voorwaardes vir die verwerwing van die stemreg te steun. Kruger se ongenaakbare verwerping van hierdie stemreg-eise het die laaste dekade van die 19de eeu oorheers en uiteindelik tot oorlog met Brittanje gelei. In hierdie sin het aggressiewe Britse imperialisme dus van Kruger ’n bekende historiese figuur gemaak.

Tweedens het Kruger se vasberadenheid en uiteindelike sukses om deur middel van sy spoorwegbeleid die Republiek ekonomies onafhanklik van ’n Britsbeheerde hawe te maak tot sy status as staatsman bygedra. Ongetwyfeld het die martelaarsrol wat Kruger te beurt geval het deurdat hy in die vreemde ver van sy geliefde land as’t ware as banneling gesterf het, ’n tragiese dimensie tot sy rol in die geskiedenis toegevoeg en ook grootliks bygedra tot die bewondering vir hom in Afrikanergeledere.

Dit bring ons by die jongste versameling dokumente oor Paul Kruger wat onlangs verskyn het getitel Paul Kruger. Toesprake en Korrespondensie van 1881–1900, versamel en toegelig deur Johan Bergh (Protea Boekhuis, 2017). Dit is ’n gedugte werk van by die 600 bladsye en bied die grootste versameling dokumente oor Kruger wat nog verskyn het. Dit is in vyf hoofstukke ondergebring: (1) “Paul Kruger vestig hom as staatspresident, 1881–1889”; (2) “SJP Kruger se toesprake en korrespondensie, 1890–1895”; (3) “Staatspresident Kruger, die Jameson-inval en nagevolge, 1895–1899”; (4) Kruger en die aanloopjare tot die oorlog, 1896-1899; en (5) “Kruger en die Anglo-Boereoorlog, 1899–1900”.

Reeds in die inleiding word verskillende prominente tydgenote se menings oor Kruger aangehaal wat as motivering dien waarom sy grootheid dié omvangryke versameling dokumente regverdig. Onder meer word verwys na die staatsekretaris WJ Leyds wat hom beskryf as “’n ontwikkelde man, in politiek sowel as in sake wat godsdiens betref”, en na die Transvaalse hoofregter, JG Kotzé, wat hom beskryf as “a man of strength, courage, resource, shrewdness, decision, religious feeling, fervid patriotism, ambition and leadership”.

WJ Leyds, staatsekretaris, "Kruger se regterhand"

Met betrekking tot die laaste gedeelte van Leyds se uitspraak, naamlik as ’n ontwikkelde man in sake wat godsdiens betref, moet egter daarop gewys word dat Kruger ’n ietwat misplaaste en verwronge siening omtrent die oorspronklike Transvaalse burgers as “Volk van God” en “uitverkore volk” gehad het, soos hy dit graag in sy Paardekraaltoesprake gestel het. Daar was immers volgens die Bybel, wat Kruger graag aangehaal het, net een uitverkore volk, naamlik die ou Israel. Wat Kotzé se aangehaalde beskrywing van Kruger betref, moet dus dalk erken word dat hy bygevoeg het: “He was obstinate and impatient of contradiction, abrupt and at times uncouth in manner … He was narrow-minded and his religion was apt to assume the form of bigotry.” Kruger se dweepsugtige godsdiensbeskouing blyk onder meer baie duidelik uit sy telegramme om sy bevelvoerders en burgers in die veld aan te spoor wat in hoofstuk 5 weergegee word.

Sommige teoloë sal dalk vraagtekens plaas agter Kruger se godsdienssienings soos in hoofstuk 5 uitgedruk en bevraagteken of dit as ’n positiewe eienskap beskou moet word. Voorbeelde is die volgende: “Die wettige stryd, sê die Heer, sal die Kroon behaal en die Heer sal hom beskerm (bl 506); “Die Heer sal ons bystaan in ons regverdige saak op sy tyd, soos die Heer besluit het” (513); “... ek het gesien dat dit is volgens Psalm 83, dat ons teenparty ook hulle plan het, en hulle plan is teen die Here en sy Kerk” (535); ens.

Maar om terug te keer na die seleksie en aanbieding van die verskillende dokumente: die toesprake edm is uit ’n geweldig groot verskeidenheid bronne verkry en moes ’n groot soektog vereis het. Reeds in die eerste hoofstuk sluit dit in bande in die Transvaalse Argief soos ZAR 173, Aansprake en toesprake deur Kruger, 1881–1900; amptelike Volksraadsnotules; verslae in De Volksstem van Volksraadsdebatte en toesprake by verskillende geleenthede; die PJ Joubert-versameling; die WJ Leyds-versameling; Byvoegsels tot die Staatskoerant; die argief van die NZAV in Amsterdam; die Nieuwe Rotterdamsche Courant; boeke soos SJ du Toit se Alweer op reis, Di slag as lid van di Transvaalse Deputasi; De Bazuin; die Sir John Kotzé-versameling; die JH Hofmeyr-versameling; boeke soos WJ Leyds se Het insluiten van de Boererepublieken, II; JF van Oordt se Paul Kruger en de opkomst der Zuid-Afrikaansche Republiek; en dokumente in die Historisch Documentatie Centrum van die Universiteit van Amsterdam.

Sommige van die stukke is reeds redelik goed bekend, soos die geval is met Kruger se toespraak by die inwyding van Eerste Fabrieke in Junie 1893. Dit was die eerste ware nywerheidsonderneming in die ZAR. Dié toespraak illustreer ’n neiging van Kruger om, ook voor Uitlandergehore, uitvoerig uit te wei oor die Groot Trek-ervarings in die voorgeskiedenis van die Republiek.

Toneel by die opening van Nellmapius se fabriek by Eerste Fabrieken

Ander stukke beveel hulself aan, soos die toespraak ná Kruger se eerste beëdiging as staatspresident in Mei 1883 en sy mening omtrent die omstrede kwessie van konsessies in die Volksraad in Julie 1883, asook die brief van Kruger en SJ du Toit aan die Anti-slavery Genootskap in November 1883. Kruger se toespraak voor mynwerkers in Johannesburg in Februarie 1887 is waarskynlik gebruik omdat dit die eerste keer was dat hy Johannesburg besoek het, maar dit sou beter gewees het om die een van September 1887 te gebruik het, omdat hy hom toe die eerste keer voor ’n Uitlandergehoor oor hulle versoek vir deelname in die landsbestuur, en dus stemreg, uitgespreek het. By dié geleentheid het hy die term eersgeboortereg aangewend om die oorspronklike inwoners se voorkeurreg op stemreg te verduidelik. Tipies van Kruger was dit ’n begrip wat uit die Bybel afkomstig is na aanleiding van die verhaal van Jakob en Esau en die pot lensiesop. Dit illustreer treffend Kruger se toepassing van Bybelse begrippe op politieke vraagstukke. Streng gesproke was die term eersgeboortereg nie op die stemreg van toepassing nie en het sy toehoorders moontlik ook nie goed verstaan wat hy daarmee bedoel het nie.

Van besondere belang in die lig van die rol wat ras later in die Suid-Afrikaanse politiek sou speel, is die uitsprake van Kruger en ander Volksraadslede oor wie as “kleurlinge” beskou moet word (40–1). Kruger se menings in die Volksraad op 30 Junie 1887 oor “valsche leugenachtige en bedrieglijke” beriggewing in die pers is insiggewend, maar sy gelykstelling daarvan met “skending van die staat, van die volk en van die Volksraad” wat “oproer kon verwek”, was ’n aanduiding van sy gevoeligheid vir kritiek – ten spyte daarvan dat hy by dié geleentheid verklaar het dit sou verkeerd wees om die vryheid van die pers te strem. Dié gevoeligheid sou later tot die aanneming van die streng Perswet van 1893 lei.

In hoofstuk 2 is die insluiting van drie verskillende toesprake in verband met die instelling van ’n Tweede Volksraad belangrik, omdat Kruger telkens sy opvattings daaroor motiveer. In al drie gevalle (181–2, 194–5 en 211) beklemtoon Kruger die feit dat daar nêrens anders ter wêreld al so vinnig so baie vreemdelinge ’n land binnegestroom het nie en dat dit nodig was om so ’n tweede kamer in te stel ten einde die onafhanklikheid van die staat te beskerm. In Julie 1891 se toespraak vermeld hy egter ’n belangrike swakheid van die plan, naamlik dat alle finansiële besluite in die hande van die Eerste Volksraad bly. Dit het die Tweede Volksraad ’n skyf van die Engelstalige koerante se kritiek gemaak wat beswaarlik weerlê kon word, afgesien daarvan dat alle besluite van die Tweede Raad deur die Eerste Volksraad bekragtig moes word. Die beperkte magte van die Tweede Volksraad het tot groot frustrasie onder die Uitlanders gelei, omdat dié liggaam hulle nie betekenisvolle inspraak in besluitneming gegee het nie.

Die insluiting van Kruger se uitlatings by twee geleenthede in Maart 1891 (196–7 en 198–9) op openbare vergaderings tydens sy jaarlikse rondreis waar hy ontken het dat daar omkopery van Volksraadslede in verband met die sogenaamde spaaiderskandaal was, lyk ietwat verdag, asof dit bedoel is om Kruger te verontskuldig en hom as altyd vlekkeloos eerlik voor te stel. Verklarings van hierdie aard deur staatsmanne is deur die loop van die geskiedenis al dikwels oor aantygings van omkopery en ander kwessies gemaak, maar is daarna as vals bewys. Die twee uitlatings van Kruger dat Volksraadslede nie omgekoop is nie, bewys dus hoegenaamd nie dat omkopery nie plaasgevind het nie. Oorgenoeg bewyse is immers later in Land en Volk gepubliseer wat klinkklaar toon dat BJ Vorster, die lid vir Soutpansberg en een van drie oorspronklike konsessionarisse vir die bou van die Selati-spoorweg, in Augustus 1890 eers nege en later nog 15 spaaiders gekoop het, met vermelding van die handelaars van wie dit gekoop is en die pryse wat betaal is. Dit was haas onmoontlik dat ’n Volksraadslid die uitgawes hiervoor uit sy eie sak sou kon betaal. Hoewel daar geen bewyse is dat Kruger self by die omkopery betrokke was of dit aangestig het nie, dui omstandigheidsgetuienis daarop dat hy sterk ten gunste van die bou van die Selati-spoorlyn was, terwyl hy ook baron Eugene Oppenheim, wat met die oog op konsessies in hierdie tyd in Pretoria was, gul onthaal het en ’n olieverfskildery van Kruger ter waarde van £300 deur Oppenheim laat maak is wat later in die Volksraadsaal gehang is. Kruger het hom wel op die genoemde vergaderings oor die geskenke uitgelaat, maar nie persoonlik formeel oor die beskuldigings van omkopery met die publiek gekommunikeer nie. Hy het dit slegs deur middel van ’n redelik kort brief deur sy privaatsekretaris, Frikkie Eloff, in De Volksstem in Januarie 1891 gedoen waarin gesê is die President glo nie dat die Volksraadslede omgekoop is nie. Kruger was in elk geval nie heeltemal eerlik toe hy in dieselfde jaar nepotisties ’n konsessie ten gunste van sy skoonseun en privaatsekretaris Eloff in die Volksraad bepleit het nie.

Belangrike lig word gewerp op Kruger se houding teenoor swart kapteins deur die onderhoude met swart kapteins op ble 215–8 en die daaropvolgende stuk wat handel oor sy ontmoeting met kapteins te Pietersburg in Oktober 1891 (219). Saam daarmee moet ook die toespraak gelees word op ble 274–5 waarin Kruger hom ten gunste daarvan uitgespreek het dat aan “getroue” swart stamme lokasies toegestaan behoort te word, asook die een in Junie 1891 in verband met lokasies (208–10) en die toespraak in die Eerste Volksraad in September 1893 (274–5).

Kruger in sy fleur as president

Sommige toesprake wat opgeneem is, is ongelukkig redelik niksseggend. In verband met die opening van die Natalse spoorweg tot by Charlestown in April 1891 word twee toesprake weergegee: die eerste by Charlestown op 7 April en die tweede in Pietermaritzburg die dag daarna. Die eerste een bevat slegs sy dank vir die ontvangs in vier reëls en kon weggelaat gewees het. Die tweede sou voldoende gewees het, aangesien Kruger daarin verwys na die groter samewerking tussen die Republiek en die Natalse regering oor spoorwegsake. Nog ’n dokument wat dalk nie insluiting regverdig het nie, is dié op ble 244–5, naamlik ’n brief van Kruger en Leyds aan Lilinokalani, koningin van die Hawaise eilande, waarin leedwese oor die dood van haar broer uitgespreek word. ’n Mens sou ook kon vra of die preek van Kruger op 10 April 1892 (245–9), regtig sinvol was om op te neem. Dis alreeds bekend dat hy dikwels as lekeprediker in die Gereformeerde Kerk oorkant sy woning opgetree het. Die vraag is of die geestelike gedagtes in dié preek werklik iets oor sy staatsmanskap sê. Die kort briefie waarin Frikkie Eloff ontvangs erken van hoofregter Kotzé se skrywe aan Kruger in verband met sy besluit om as kandidaat aan die presidentsverkiesing van 1893 deel te neem kon ook maar weggelaat gewees het. Die voorafgaande brief van Kotzé sê alles hieroor wat nodig is om te weet.

Twee uiters belangrike dokumente wat wel opgeneem is, is Kruger se toespraak by Paardekraal in Desember 1891 en die een by die aandfunksie in Johannesburg ná die inwyding van die Joodse sinagoge in 1892. In die eerste geval verwys Kruger na sy toehoorders as “Gods volk” en na die oorspronklike wit inwoners as mense “vir wie God uitgelei het”. Die vergelyking wat hier met die ou Israel getref word wat uit Egipte uitgelei is, is onhoudbaar uit ’n Christelike oogpunt en ’n godsdienstige dwaling van Kruger. Die verwysing in die Paardekraaltoespraak na “u ou inwoners van die land, vreemdelinge, nuwe inkomelinge, ja selfs u, moordenaars en diewe” was baie omstrede en is, regtens of onregtens, deur die Engelstalige pers as ’n belediging vir die Uitlanders vertolk. Die woorde “moordenaars en diewe” kom ook ’n tweede keer in ’n ander verband in die toespraak voor. Na aanleiding van die Voortrekkers se botsings met swart inwoners op pad na die gebied noord van die Vaalrivier verklaar Kruger ook: “Dit was dus God wat aan hulle (die Voortrekkers se nasate) die land gegee het” (226). Later het hy ook in die toespraak gesê dat nadat goud aanvanklik gevind is, dit in hoeveelhede was wat te klein was om winsgewend te ontgin en bygevoeg: “Kyk, so is dit deur God verborge gehou totdat die vryheid eers teruggekry was” (228). Hierdie soort persoonlike Christelik-godsdienstige interpretasie van die geskiedenis het ’n agterlike beeld van Kruger in die oë van Uitlanders laat posvat as dié van ’n godsdienstige fundamentalis wat in die 17de of 18de eeu tuisgehoort het.

Die toespraak van Kruger die aand ná die opening van die Joodse sinagoge in Parkstraat, Johannesburg (255–60) is belangrik omdat Kruger daar uitsprake oor die Uitlanders se stemregaansprake gemaak het. Die verslag wat hier gebruik is, is dié van De Volksstem, en dit meld tereg dat hy gesê het die ou burgers moet weet of hulle die nuwe inkomelinge kan vertrou, en dat daarvoor tyd nodig is. Dit verswyg egter die opmerking wat hy in samehang daarmee grappenderwys gemaak het dat hy nie weet of die nuweling more sal begin steel nie. Dit word wel in die Standard and Diggers’ News se verslag genoem en is met gelag begroet, maar dit was ’n onvanpaste kwinkslag wat ’n onderliggende wantroue teenoor Uitlanders verraai het. Dit is seker nie moontlik om telkens van ander koerante as De Volksstem se verslae in vertaalde vorm gebruik te maak nie, maar die veelvuldige gebruik van De Volksstem se beriggewing skep die gevaar van ’n eensydige blik op Kruger as staatsman.

Verskeie toesprake waarin Kruger hom oor die allerbelangrike kwessie van die stemreg uitgespreek het, is opgeneem, onder meer by sy beëdigingsplegtigheid in Mei 1893 toe hy ’n beroep op sy burgers gedoen het “om geen voorregte prys te gee waardeur ons onafhanklikheid benadeel kan word nie” (266), en die geleentheid op Rustenburg in Februarie 1894 toe hy verwys het na “het heilig stemrecht” en vreemdelinge verwelkom het, maar gevra het: “maar laat ons slechts ons eigendomsrecht, ons transport behouden” (278). Hierby kom ook sy pleidooi in die Volksraad einde Mei 1895 dat stemreg verleen word aan diegene wat getrou aan die staat was en militêre diensplig verrig het (295–7).

Hoofstuk 2 sluit af met Kruger se mening in die Eerste Volksraad omtrent kritiek in die pers (307). Hy het die toekenning van regeringsadvertensies aan sekere koerante verdedig en sy standpunt gestel dat advertensies nie eweredig tussen koerante verdeel moet word nie. Hy het wel gesê waar daar gepraat word van ondersteuning van die regering daar net bedoel word “om die onafhanklikheid van die staat te ondersteun”, maar of hy altyd hierdie onderskeid tussen regering en staat getref het, is ’n ope vraag.

’n Belangrike toespraak wat in hierdie hoofstuk opgeneem moes gewees het, is Kruger se toespraak in die debat in die Eerste Volksraad wat tot die aanneming van Wet Nr 3 van 1894, die gewysigde Kieswet, gelei het. Tydens dié debat het hy die argument opgehaal dat die stemreg ’n “erfreg” is en dat slegs die kinders van ’n vader wat alreeds ’n burger of genaturaliseer was, op die stemreg geregtig is. In dié proses het hy die beginsel in artikel 29 van die gewysigde Grondwet van 1889, dat geboorte binne die staat die vereiste vir die verwerwing van stemreg is, verwerp, en die gewysigde Kieswet soos goedgekeur het uiteindelik bepaal dat seuns van ongenaturaliseerde Uitlandervaders nie op stemreg geregtig is nie, selfs al is hulle in die Republiek gebore. Hierdie debat en Kruger se aandeel daarin is geredelik te vinde in die notule van die Eerste Volksraad van 1894. Daar is immers elders uitlatings van Kruger in die Volksrade opgeneem en die weglating van hierdie mening van hom bring mee dat sy gebrekkige begrip omtrent hierdie kwessie glad nie ter sprake kom nie. Die streng nuwe Kieswet van 1894 wat uit hierdie debat voortgevloei het, het immers grootliks daartoe bygedra dat die Uitlanders ontnugter geraak het oor die moontlikheid om die stemreg te verkry en dat die National Union wat namens hulle daarvoor geagiteer het, radikaal geword het.

Ook Kruger se kort toespraak in die Eerste Volksraad in Mei 1893 in verband met die betwiste uitslag van die presidentsverkiesing van 1893 behoort opgeneem te gewees het. Hy het by hierdie geleentheid voorgestel dat ’n kommissie van die Volksraad bestaande uit lede van sowel sy ondersteuners as dié van Piet Joubert ’n hertelling van die stemme doen ten einde klaarheid oor die uitslag te verkry. Die Grondwet het nie vir so ’n kommissie voorsiening gemaak nie en die Uitvoerende Raad het toe alreeds ’n hertelling van die stemme gedoen. Dit is in elk geval ongehoord in ’n demokrasie dat ’n kommissie van die wetgewende liggaam so ’n belangrike funksie in verband met ’n verkiesing vervul. Kruger se dwaling in hierdie geval sou duidelik uit sy voorstel in die amptelike notule geblyk het.

In hoofstuk 3 word ’n hele aantal items weergegee wat met die aanloop tot die Jameson-inval van einde 1895, begin 1896 saamhang. Hier is veral van telegramme oor die naderende gevaar van ’n inval, onder meer tussen die President en die hoë kommissaris, gebruik gemaak, asook van die bekende telegram van die Duitse Keiser aan Kruger op 3 Januarie 1896 om hom geluk te wens met die fnuiking van die inval (320) en die telegram van die Britse Minister van Kolonies wat Kruger bedank dat hy die gevange leiers van die inval aan die Britse regering oorhandig het. Dit is die kortste hoofstuk in die boek, maar ook die een wat van die mees dramatiese gebeure in die geskiedenis van die Republiek illustreer. Dit bevat ook korrespondensie oor ’n moontlike besoek van Kruger aan Engeland wat nooit plaasgevind het nie.

Hoofstuk 4, “Kruger en die aanloopjare tot die oorlog, 1896–1899”, bevat onder meer die voorstel van president MT Steyn van die Vrystaat dat Kruger en sir Alfred Milner, die Britse hoë kommissaris, mekaar in Bloemfontein ontmoet ten einde samesprekings te voer wat daartoe kon lei dat vrede tussen Brittanje en die ZAR bewaar word, en Kruger se aanvaarding daarvan. Ook Kruger se uitsprake en voorstelle daarna in die Volksraad op 7 en 18 Julie 1899, laasgenoemde ter vermindering van die stemregvereistes, is opgeneem. Dié hoofstuk eindig met die dramatiese draadgesprekke van 4 tot 7 Oktober 1899 tussen Kruger en president Steyn wat die uitbreek van die oorlog voorafgegaan het.

Die slothoofstuk, hoofstuk 5, bevat hoofsaaklik die telegramme tussen Kruger en president Steyn en dié aan Kruger se krygsoffisiere in die veld tydens die oorlog vanaf 9 November 1899 tot die proklamasie van 8 September 1900 in verband met Kruger se voorgenome verblyf in die buiteland. Kruger se telegramme bevat dikwels taktiese advies en word deurgaans gekenmerk deur die godsdienstige karakter daarvan. Ná die gevoelige terugslag van die oorgawe van generaal Piet Cronjé by Modderrivier op 27 Februarie 1900 skryf Kruger aan generaals Lukas Meyer en Louis Botha by Colenso (521–3) en regverdig die hele stryd van die Republiek in godsdienstige terme: “Dit is nou die tydsgewrig waarin ons leef. Soos Openbaring sê, en die bees het mag gekry om die kerk van Christus te vervolg om die kerk sodoende te louter, want dit duur tot die tyd van die heerlike Kerkstaat … Ek is op grond van Gods Woord … oortuig daarvan dat die Here sal opstaan tot die stryd en Hy sal sê tot hiertoe en nie verder nie.” Dit is ’n ope vraag of teoloë sou saamstem of dit geregverdig was om die Transvalers se militêre stryd op hierdie manier in terme van die Bybelboek Openbaring te interpreteer, maar dit illustreer ten minste hoe vas oortuig Kruger was dat die Republiek ’n regverdige stryd gestry het. Dit is opvallend dat in die amptelike communiqué van die Republiek in reaksie op lord Salisbury se telegram van 11 Maart 1899 (530–1) geen sulke godsdienstige sentimente voorkom nie, omdat dit nie deur Kruger self opgestel is nie. Ná die val van Bloemfontein skryf Kruger op 14 Maart 1900 egter in dieselfde trant as tevore: “[Ek] het gesien dat dit is volgens Psalm 83 dat ons teenparty óók hulle plan het, en hul plan is teen die Here en sy kerk.” En op 16 Maart skryf hy aan alle offisiere: “Ek glo dat ons eers ons Getsemane en Golgota moet deurgaan voordat die dag van ons bevryding kan aanbreek” (538). Die feit dat Kruger teen hierdie tyd die militêre vyand beskryf as stryders teen “die Here en sy kerk” skep die indruk dat hy toe reeds in ’n toestand van geestesvervoering verkeer het.

Vanaf April 1900 word al hoe meer in telegramme verwys na burgers wat verlof wil neem om hul tuistes te besoek, ander wat alreeds tuis met verlof was en drosters. As gevolg van hierdie probleem gee Kruger op 21 Mei 1900 opdrag aan die landdros van Wolmaransstad om burgers uit sy distrik wat by die huis sit, almal op te kommandeer en as hulle weier om terug slagveld toe te gaan, te arresteer (522–3). Hy dring ook op 28 Mei by Steyn (toe te Heilbron) aan om tot die einde te veg, selfs al “moet ons ook Johannesburg en Pretoria afstaan” (555). Al hierdie telegramme verskaf insig in die probleme te velde waarmee bevelvoerders in hierdie stadium te kampe gehad het en Kruger se standvastigheid oor die voortsetting van die stryd.

Vanaf 31 Mei kom Kruger se telegramme van Machadodorp af waarheen hy intussen vertrek het en skryf hy aan Steyn dat baie min burgers bereid is om die stryd voort te sit. Steyn antwoord met verwysing na ’n krygsraad wat deur Transvaalse offisiere in verband met die moontlikheid van oorgawe gehou is, dat die Vrystaters almal van mening is dat die stryd voortgesit moet word.

Die vraag ontstaan nou of die toesprake en korrespondensie wat in hierdie boek ingesluit is, die leser ’n goeie insig in die staatsmanskap en karakter van Paul Kruger bied. Afgesien van uitsprake van belangrike tydgenote in die inleiding wat reeds genoem is oor positiewe eienskappe van Kruger, was hy egter ’n leier met skerp teenstrydighede. Selfs die bekende 19de-eeuse historikus Thomas Carlyle, wat geglo het dat groot figure in die geskiedenis geëer moet word, het immers erken dat hulle nie sonder gebreke was nie. Daarom verwys sommige skrywers onder meer na Kruger se ontsettende koppigheid, en beskryf William Plomer hom in sy werk oor Cecil John Rhodes as “a diehard, and a stranger to the useful art of compromise”.

Die dokumente wat in Paul Kruger. Toesprake en korrespondensie van 1881–1900 opgeneem is, oordeel nie oor Kruger se presidentskap nie en laat dit aan die leser oor om sy eie indruk te vorm. Sommige dokumente, soos die twee toesprake waarin hy ontken dat daar tydens die spaaiderskandaal omkopery was, is alreeds genoem as voorbeelde wat moontlik bedoel was om Kruger se tekortkominge te verberg of hom te verontskuldig. Hieroor sal die leser self moet oordeel. Kruger hét tekortkominge as staatsman gehad en ander uitsprake van hom in die Volksraad en elders is alreeds genoem wat opgeneem kon gewees het wat hom dalk in ’n minder gunstige lig sou voorgestel het, terwyl die voorkeur wat gegee is aan verslae van sy toesprake in De Volksstem ook daartoe kon bygedra het dat sommige uitlatings in dié toesprake verswyg is wat wel in die Engelstalige koerante vermeld word.

Onder die negatiewe eienskappe van Kruger as staatsman kan die volgende kortliks vermeld word.

Ten spyte van Kruger se toeganklikheid vir sy burgers, soos die oggendgesprekke op die stoep van die presidentswoning getuig, waar lede van die Volksraad en ander persone welkom was om by hom aan te sluit, kon hy ook uiters onverdraagsaam wees teenoor enige van sy burgers wat in die Volksrade of elders met hom verskil en was hy soms hipergevoelig vir kritiek op of bevraagtekening van die regering se optrede. Gevolglik het sy humeur dikwels die oorhand gekry. In sulke gevalle het hy soms ontstoke uit die raadsaal gestorm en moes ’n kort verdaging van die Raad volg om vrede te maak voordat die debat kon voortgaan.

Kleingeestigheid en oorgevoeligheid vir kritiek het dikwels Kruger se optrede gekenmerk. Dit het onder meer in Mei 1890 geblyk toe Volksraadslede ernstige beswaar aangeteken het teen kontrakte vir die oprigting van markgeboue wat gedurende die reses sonder raadpleging van die Raad deur die regering aangegaan is. Kruger was so gegrief oor die kritiek dat gerugte die ronde begin doen het dat hy ’n brief van bedanking as staatspresident aangebied het, maar dit die volgende dag teruggetrek het. Die voorval het Kruger se ongeduld gedemonstreer met die beperkings wat die demokrasie op sy optrede as staatshoof gestel het.

Kleingeestigheid en onverdraagsaamheid blyk ook uit Kruger se ernstige konfrontasies met Volksraadslede, onder meer in Julie 1892 en Mei 1894 met onderskeidelik Ewald Esselen en Jan F Celliers in die Tweede Volksraad. In die geval van Esselen was dit ’n blote vraag op ’n punt van orde terwyl Kruger gepraat het wat sy toorn laat ontvlam het. Uiteindelik het Esselen hom ’n dag lank aan die debat onttrek, maar Kruger het volgehou dat hy beledig is. Eintlik was dit Esselen wat beledig is en nie Kruger nie. In die geval van Celliers het Kruger op ’n onskuldige “Hoor! Hoor!” van eersgenoemde in reaksie op ’n ander spreker se toespraak gereageer en hom die beledigende opmerking toegevoeg: “Boo-hoo jouself. Ek laat my nie beledig van enigeen nie”. Dit was uiters onpresidensiële optrede van Kruger wat hom nie tot eer gestrek het nie.

’n Onvermoë om te onderskei tussen algemene kritiek in byvoorbeeld die pers en dié in die Volksrade was ’n ander swakheid van Kruger. Dit het tydens die sogenaamde Loveday-voorval van 1894 duidelik geblyk. Toe Loveday in ’n koerantbrief ietwat kras verwys na Volksraadslede en amptenare wat “schelm genoeg of dom genoeg” was om die publiek wys te maak dat die regering geen groot skuld vir spoorwegkonstruksie aangegaan en die land in skuld gedompel het nie, was Kruger ten gunste van ’n besluit om Loveday te straf deur hom vir een dag uit die Raad te skors. Dít alles ten spyte van die staatsprokureur se mening dat Loveday se woorde in die koerant nie die Raad as liggaam beledig het nie.

Kruger se stompsinnige optrede in reaksie op kritiek het sy verhouding met sowel sy eie burgers as die Uitlanders geraak. Wat die Uitlanders betref, het hierdie gebrek in Kruger se mondering duidelik geblyk uit onder meer sy uitbarsting tydens ’n onderhoud met ’n afvaardiging van die National Union in September 1892 toe hulle op meer as sy vae beloftes van uitbreiding van die stemreg na die Uitlanders aangedring het. Hy het uitgeroep: “Dan is ik een leugenaar.” Toe die leier van die afvaardiging hom in die gesprek verseker dat die Uitlanders nie die politieke mag wil oorneem nie en dat hulle slegs drie of vier verteenwoordigers in die Eerste Volksraad verlang, was sy kortaf reaksie: “Als jullie mij niet vertrouwen willen, laat het dan mar barst!” Sy afskeidswoorde aan die afvaardiging was: “Sê aan julle mense ek sien julle wil Paul Kruger nie meer as president hê nie. Maak maar oproer soos julle wil.”

Die President se gevoeligheid vir kritiek het ook sy sienings ten opsigte van die pers in die Republiek beïnvloed. Hy het vas geglo dat persorgane wat sy regering kritiseer, dislojaal teenoor die Republiek is. Daarom het hy toegesien dat geldelike ondersteuning deur middel van die toewysing van regeringsadvertensies aan goedgesinde koerante verleen word en is jaarliks ’n bedrag daarvoor begroot. Sy misnoeë met kritiek in die pers het in 1893 ’n hoogtepunt bereik toe ’n streng perswet aangeneem is.

Die nyweraar AH Nellmapius (Pentekening deur die kunstenaar WH Schröder)

Kruger se onkunde oor grondwetlike sake en sy onvermoë om die skeiding van magte tussen die wetgewende en die regterlike gesag te erken en handhaaf was ’n ander gebrek van hom. Dit het onder meer gebeur toe hy in 1886 probeer inmeng het in ’n hofbevinding teen ’n vertroueling van hom, AH Nellmapius. Dit het ook gebeur toe hy in verband met die voorlopige uitslag van 1893 se presidentsverkiesing, soos vroeër gesê, voorgestel het dat ’n kommissie van die Volksraad die onenigheid omtrent die uitslag oplos in stede daarvan om ’n regsmening daaroor aan te vra. Dit het neergekom op miskenning van die rol van die regspraak in landsake.

Disrespek teenoor die Uitlanders in toesprake van Kruger het ook voorgekom. In die toespraak by Paardekraal in Desember 1891 wat op ble 221–2 weergegee word, het Kruger die woorde “moordenaars en diewe” gebruik toe hy ter aanvang gesê het sy woorde is gerig tot sy eie volk, maar bygevoeg ook tot “u vreemdelingen, nieuwe inkomelingen, ja, zelfs gij moordenaars en dieven”. Hoewel daar verskil van mening bestaan het of die gewraakte woorde noodwendig op die Uitlanders van toepassing was, is soortgelyke uitdrukkings later tydens die Volksraadsdebatte omtrent die konsepkieswet van 1894 deur raadslede ten opsigte van die Uitlanders gebruik. Kruger het hom nooit teen die gebruik van sulke uitdrukkings uitgespreek of hom daarvan gedistansieer nie. Dié versuim van hom is deur sommige waarnemers as ’n belediging vir die Uitlanders geïnterpreteer.

Kruger se neiging om vertrouelinge te geredelik na aan hom toe te laat en te maklik te vertrou was ’n ander eienskap van sy presidentskap wat hom blootgestel het aan kritiek. Dit het daartoe gelei dat sy gesonde oordeel soms aangetas is, soos blyk uit sy poging tot inmenging in die regspraak in die geval van AH Nellmapius. Hy het soms soveel vertroue in mense na aan hom gestel dat dit vir hulle moontlik was om hom te mislei. Dit het byvoorbeeld in 1894 gebeur in verband met die toestaan van ’n kontrak aan die Natalse spoorwegadministrasie vir die konstruksie van die Natalse spoorverlenging van Charlestown naby die Transvaalse grens na Pretoria toe Leo Weinthal hom op sluwe wyse met ’n vervalste telegram om die bos gelei het.

Egotisme is deur hoofregter Kotzé as nog ’n eienskap van Kruger genoem. Hy was naamlik teen die middel van die negentigerjare al ’n skatryk man, onder meer nadat sy plaas Geduld op die oostelike goudveld vir £107 700 gekoop is deur ’n sindikaat waarvan Sammy Marks lid was nadat dit hom oorspronklik £3 700 gekos het. Teen laat 1894 was daar al 20 plase in sy naam geregistreer, waarvan bewyse afkomstig uit die Registrateur van Aktes se kantoor in die koerant Land en Volk gepubliseer is. Kruger het ook geen beswaar daarteen geopper dat ’n dam op staatskoste op sy plaas Geduld deur die Departement van Openbare Werke onder Sytze Wierda se leiding gebou word nie en ook nie teen die bou van ’n pad oor die plaas teen meer as drie keer die oorspronklik beraamde koste nie.

Haatdraendheid was nog ’n eienskap wat Kruger se staatsmanskap gekenmerk het. Hy het dit moeilik gevind om persone wat hom of sy regering gekritiseer of teengestaan het, te vergewe. Ewald Esselen het byvoorbeeld nie met Kruger se streng stemregbeleid saamgestem nie en het voor en tydens die presidentsverkiesing van 1893 as voorsitter van generaal Piet Joubert se verkiesingskomitee opgetree. Kruger het Esselen egter in Mei 1894 as staatsprokureur aangestel met die opdrag om die sukkelende Johannesburgse polisiediens grondig te hervorm. Hy het die polisiediens reggeruk deur met die toestemming van die Kaapkolonie se owerheid ’n bekwame Iersgebore speurder van Kimberley, Andrew Trimble, tydelik as hoofspeurder aan te stel. Toe Esselen egter in Oktober 1895 versoek dat Trimble genaturaliseer word sodat hy permanent aangestel kan word, het Kruger in die Uitvoerende Raad, waar net twee ander lede teenwoordig was, saam met hulle gestem om die versoek af te keur. Die uitvloeisel hiervan was dat die bekwame Esselen die volgende maand as staatsprokureur bedank het, waarskynlik uit frustrasie. Kruger het dit skynbaar teen Esselen gehou dat hy in 1893 sy teenstander, Joubert, se kandidatuur bevorder het en dat hy boonop tydens die sogenaamde Loveday-voorval van 1894 ’n regsmening gegee wat die President nie aangestaan het nie.

Haatdraendheid het ook in Kruger se optrede teenoor Jan F Celliers voorgekom. In 1890 het hy in verband met die reeds genoemde sogenaamde Eloff-waterkonsessie ’n mening gepubliseer wat aangetoon het dat daar onreëlmatighede in verband daarmee voorgekom het wat ’n refleksie op Kruger gewerp het. In 1893 was Celliers ook die voorsitter van ’n kommissie van die Tweede Volksraad wat ongerymdhede in die Departement van Mynwese in verband met die standplaasskandaal ondersoek het wat getoon het dat standplase onregmatig vir spekulatiewe doeleindes aan onder meer Volksraadslede toegewys is. Toe Celliers in Maart 1895 sterf, het Kruger nie sy begrafnisdiens bygewoon nie, hoewel hy jare lank in sowel die Eerste as die Tweede Volksraad waardevolle diens as lid gelewer het. Tog is dit opvallend dat Kruger wel in Julie 1893 die begrafnisdiens van sy groot vertroueling AH Nellmapius bygewoon het. Dit wil dus voorkom asof Kruger nie Celliers se kritiek op sy regering en persoon ooit kon vergewe of verwerk nie.

’n Neiging om in die Volksrade te beweer dat hy beledig is wanneer kritiek teen die regering uitgespreek is, het ook Kruger se optrede gekenmerk. Hy het dié kritiek dikwels persoonlik opgeneem en het by een geleentheid in ’n Volksraadsdebat gesê dat ’n blote verwysing in ’n departementshoof se jaarverslag na ’n amptenaar wat weens finansiële ongerymdhede ontslaan is, ’n beskuldiging teen die Uitvoerende Raad en dus ’n belediging vir die regering is. Selfs wanneer hy versoek is om inligting oor sekere aangeleenthede te verskaf en lig op regeringsoptrede te werp, het hy soms verklaar dat die versoek om inligting ’n belediging is omdat dit ’n gebrek aan vertroue in die regering impliseer. En toe ’n kritiese kommissieverslag ná twyfelagtige grondtransaksies voor die Raad gedien het, was sy kleinlike antwoord dat dit hom verwonder dat die Raad hom toelaat om tydens die bespreking van die verslag daar teenwoordig te wees.

’n Hooghartige houding in gesprekke met gewone burgers buite die Volksrade en tydens vergaderings het ook soms Kruger se optrede gekenmerk. Toe hy tydens ’n vergadering op Klerksdorp gevra is waarom koerantredakteurs nie gestraf word nie, aangesien die President beweer het dat hulle hom belaster, en versoek is om te verklaar dat hy onskuldig is aan die aantygings wat teen hom gemaak word, was Kruger se kortaf antwoord dat hy beledig is en nie sal toelaat dat op so ’n wyse vrae aan hom gestel word nie. ’n Eerlike en beleefde antwoord sou in so ’n geval veel meer vir Kruger se reputasie as staatsman beteken het.

Kruger se gebrek aan begrip vir parlementêre etiket was nog ’n kenmerk van sy presidentskap. Dit het duidelik geblyk toe sy salaris in 1892 in die Eerste Volksraad tydens die begrotingsdebat onder bespreking gekom het. By dié geleentheid het hy nie die raadsaal verlaat soos hy behoort te gedoen het nie en hom deur die menings van lede laat lei. Hy sou respek afgedwing het indien hy die eerbare weg gevolg het en die raadsaal verlaat het.

Kruger op ’n gevorderde ouderdom, waarskynlik by Waterval-Onder

Kruger se administratiewe gebreke het geblyk uit die soms power funksionering van die staatsdiens. Sy behoud van Christiaan Joubert as hoof van die Departement van Mynwese ten spyte van Joubert se onbekwaamheid vir die pos het dié departement se reputasie groot skade berokken. In die algemeen was Kruger geneig om van “landzoons”, dit wil sê Transvaalsgebore mense, in die landsadministrasie gebruik te maak, selfs al was hulle nie bekwaam vir die poste wat hulle moes beklee nie. Hy het ook gefouteer deur die foute wat deur amptenare begaan is, goed te praat. Dit het gebeur in die geval van die standplaasskandaal van 1892–1893 en ook toe die mynkommissaris van Krugersdorp in 1894 twee en ’n half maande langer as sy verloftyd van sy kantoor afwesig was. Kruger het getalm om teen hom op te tree en selfs redes aangevoer hoekom daar nie te streng opgetree moet word nie.

Bogenoemde voorbeelde van swakhede in Kruger se staatsmanskap is nie genoem om hom te diskrediteer nie, maar om te kenne te gee dat hy bloot menslik was. Die leser sal self moet oordeel of sommige van die genoemde gebreke van Kruger aan die hand van die dokumente en toesprake belig word.

In die finale instansie sal die versameling toesprake en korrespondensie in Johan Bergh se boek vir navorsers van groot hulp wees omdat hulle nie meer in ’n groot verskeidenheid van bewaarplekke en publikasies daarvoor hoef te gaan soek nie, en daardeur is ’n ontsaglike groot diens aan die geskiedeniswetenskap bewys.

Die boek is keurig versorg en van talle toepaslike foto’s en ander illustrasies voorsien. As ’n naslaanwerk behoort dit dus groot inslag te vind.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top