Cliff-hanger: Quinn se jaar van kwik deur Zelda Bezuidenhout – ’n resensie

  • 0

Quinn se jaar van kwik deur Zelda Bezuidenhout (LAPA, 2024)

  • Cliffordene Norton skryf ’n gereelde boekrubriek vir LitNet.

Titel: Quinn se jaar van kwik
Skrywer: Zelda Bezuidenhout
ISBN: 9780637006248
Uitgewer: LAPA (2024)

........
Zelda Bezuidenhout se Quinn se jaar van kwik – een van die naaswenners van LAPA se 2023-Jeugromankompetisie – beleef ’n oomblik en dis elke oomblik van daardie aandag waardig.
........

Excellentia is g’n gewone skool nie. Die plek is vol geheime en tradisies wat Quinn se hare laat rys. Maar sy is nie daar om te integreer nie – sy is daar om te leer. Ongelukkig is die lewe nie so voorspelbaar soos ’n chemie-eksperiment nie. En soms maak dit nie saak wat jy doen nie, die moeilikheid kom soek jou.

Zelda Bezuidenhout se Quinn se jaar van kwik – een van die naaswenners van LAPA se 2023-Jeugromankompetisie – beleef ’n oomblik en dis elke oomblik van daardie aandag waardig.

Dis soms moeilik om ’n resensie te skryf, want jy is soos: “Jis, dit was net so goed”, en dit is die geval met hierdie boek.

Die voorblad

Quinn se jaar van kwik is ’n pragtige boek. Welgedaan, LAPA Uitgewers. Hul jeugboeke is al ’n geruime tyd uiters mooi. Ek dink hulle verstaan die mark, verstaan die moderne jong leser, en hoe ’n mooi boekvoorblad ’n sterk aantrekkingskrag is.

Die openinghoofstuk

Die eerste hoofstuk gee die pas aan vir die hele boek. Wow, wat ’n hoofstuk! Ek het hierdie hoofstuk gelees en herlees vir ’n tweede keer.  “Hoe briljant!” het ek gedink.

Die hoofstuk trek jou onmiddellik in. Jy as leser ontmoet ’n naamlose karakter in ’n gevaarlike situasie wat jou nuuskierig maak om verder te lees. Daardie onheilspellendheid bind jou tot die boek. Wat gebeur? Hoekom? Wie?

Na elke hoofstuk kon ek nie wag vir die volgende een nie.

Ontmoet vir Quinn

Wat doen ’n diplomaat se dogter in ’n Suid-Afrikaanse skool? Wel, sy moet agt onderskeidings behaal om haar ma se vertroue en haar vriendekring terug te wen.

“Ek hou van hierdie meisie,” het ek gedink nadat ek die eerste keer vir Quinn ontmoet het. Ek was mal oor hoe sy die wêreld sien.

Sy is sarkasties en optimisties. Sy is teleurgesteld in haarself en in haar ma se besluit om haar na Excellentia te stuur. Teenstrydigheid is deel van haar geaardheid, so toe sy aan haarself ’n belofte maak om nie betrokke te raak nie, het ek geweet dit sal nie werk nie.

Veral nie met iemand so nuuskierig soos Jozi, wat belangstelling in haar toon nie. Jozi was vir my ôsim, maar al drie vriendinne het my respek.

Vriendskap

Vriendskap is die rede waarom Quinn na hierdie koesterskool gestuur is. Haar vasberadenheid om kwik te wees werk nie so goed as jy met sterk persoonlikhede soos Jozi en Luna te doen het nie.

Dit was vir my een van die lekkerste dele in die boek. Gewoonlik voel vriende in boeke vir jongmense, en selfs volwassenes, soos ’n nagedagte. Nie in hierdie boek nie. Hoewel hulle nooit Quinn se stem oortref nie, is dit net so sterk soos hare waar dit saak maak.  

Die impak van hierdie boek

Die boek se omslag is ’n outomatiese trigger warning, maar op ’n mooi en toeganklike wyse. Ouers en tieners sal onmiddellik weet waarvoor hulle hulle inlaat en weet of hulle bereid is om dit te lees.

Ek respekteer daardie besluit, maar die boek raak nooit te grafies in sy temas nie en vergeet nooit dat dit steeds ’n lekker storie moet wees nie. Vir my kan fiksie beide vermaaklik en opvoedkundig wees, veral fiksie vir tieners.

Die meeste lesers verkies eerstens ’n lekker storie en om hul eie lesse uit die boek weg te neem. Die tema van hierdie boek is baie gefokus, maar sonder om geforseerd te voel, en dit hanteer die onderwerp met respek.

Hierdie boek het my ook gemotiveer om op te lees oor die geskiedenis agter die #MeToo-beweging. Die #MeToo-beweging is deur Tarana Burke in 2006 gestig om slagoffers van seksuele geweld te ondersteun. Die doel was om die tekort aan hulpbronne vir hierdie slagoffers aan te spreek en om ’n gemeenskap van advokate en bondgenote te bou.

Hierdie boek is baie relevant, veral gegewe Stellenbosch-universiteit se Wilgenhof House of Horrors wat vroeg vanjaar ontbloot is. Die twee kamers wat in hierdie manskoshuis gevind is, kon uit enige nagmerrie uitgestap het.

Die reaksies was, soos Jana Marx tereg skryf, uiteenlopend. Ek kon nie glo toe nuuslesers onder die News24-artikel op die aanval oorgegaan het omdat “mense nie tradisie verstaan nie”.

Zelda skryf op bladsy 209: “Tradisioneel. Die woord wat soveel sondes in hierdie skool met suiker versier.”

Quinn se jaar van kwik verken die vraag: Waarmee kom (magsbehepte) mense weg in die naam van tradisie?

My een kwelpunt

Wat my dalk meer sou beïndruk het, is as Dylan nie so soetsappig was nie. Sy optrede was baie verdag, en na wat Quinn geleer het van die skool, het ek verwag sy sou versigtiger wees teenoor die seuns.

Quinn se jaar van kwik is ’n boek wat ek sterk kan aanbeveel vir enige leser, en soveel moontlik tieners moet dit lees. Dit is ’n boek wat die skoonheid van vriendskap uitbeeld en wys hoe jy jou plek in die wêreld kan vind. ’n Wêreld wat nie altyd so genadig is soos wat dit kan wees nie.

  • 4,5 sterre uit 5.
Lees ook:

Quinn se jaar van kwik: ’n onderhoud met Zelda Bezuidenhout

Quinn se jaar van kwik deur Zelda Bezuidenhout: ’n resensie

Quinn se jaar van kwik deur Zelda Bezuidenhout: ’n lesersindruk

Wilgenhof: "Ontgroening help nie met moderne studente se uitdagings nie"

Cliff-hanger: Kinderlê deur Lynthia Julius, ’n resensie

Cliff-hanger: Foto’s & fairy lights deur An-Mari do Carmo – resensie en onderhoud

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top