Fanie Herman vertel van die strategieë wat China volg om politieke invloed in Afrika te vestig, onder meer deur die opleiding van amptenare in die beginsels van die Chinese Kommunistiese Party, asook die oprigting van ’n China-Afrika-medianetwerk. Herman is die skrywer van China in Afrika: Die era van sekuriteit – hier beskikbaar as e-boek vir Kindle by Amazon.
![](https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2022/07/Fanie-Herman_boek_fokus-600x369.png)
Foto’s: verskaf
1. Inleiding
Dié artikel werp lig op aspekte van China se politieke invloed in Afrika wat geskied deur middel van die bou van kapasiteit, die opleiding van amptenare in die beginsels en werksaamhede van die Chinese Kommunistiese Party (CKP), die vestiging van ’n China-Afrika-medianetwerk en die bevordering van sterker diplomatieke betrekkinge. Ten einde die doeltreffendheid en gevolge van die Chinese invloed te verstaan, is dit ook nodig om Afrikalande se reaksies daarop te beoordeel. China se doelwit histories was om die erkenning van Afrikalande in die Verenigde Nasies (VN) te kry en ook om politieke bande te bou wat die politieke legitimiteit van die CKP sou versterk.
Regdeur die 1960’s het China daarna gestreef om die steun van Afrikalande te werf. Dit was grootliks daarop gemik om die druk te verminder wat deur Amerika en Rusland, die twee grootmoondhede op China geplaas is. Die twee lande het gepoog om China internasionaal te isoleer as gevolg van hulle eie strewes na grootmoondheidstatus.
China steun swaar op diplomatieke samewerking van Afrikalande om sleutelkwessies in die internasionale arena en in multilaterale forums te bevorder. Voorbeelde is die kwessie van Tibet, die besoek van die Dalai Lama aan die Weste, menseregtevergrype in China se Xinjiang-provinsie en ondersteuning vir Rusland se inval in Oekraïne. Die 54 state van Afrika verteenwoordig een derde van stemme in die VN se Algemene Vergadering en is ’n hulpmiddel om China se internasionale status te bevorder. China word ook gesien as die leier van die ontwikkelende wêreld en geniet daarom die steun van Afrikalande.
’n Ander rede vir China se politieke uitreik na Afrikalande is om Taiwan se diplomatieke teenwoordigheid op die kontinent te beëindig. Afrikalande se erkenning van die Een-China-beleid is van kardinale belang om legitimiteit aan die Chinese regering te gee. Die toutrekkery tussen China en Taiwan oor watter een van die twee lande diplomatieke betrekkinge met Afrikalande handhaaf, is reeds meer as 60 jaar aan die gang. Eswatini is die enigste land in Afrika wat steeds diplomatieke verhoudinge met Taiwan het. Dit word algemeen aanvaar dat China se ekonomiese diplomasie met Afrikalande, veral die aantreklike beleggings en ruim lenings wat gemaak word, ’n sleutelrol speel in dié diplomatieke toutrekkery.
Sedert die 2000’s is China aktief besig om die land se politieke en ekonomiese beleid aan Afrikalande te verkoop. Die ontwikkelingsmodel wat as die Beijing-konsensus bekend staan, kombineer outoritarisme en ekonomiese kapitalisme en is daarop gemik om aan Afrikalande te wys dat demokrasie nie ’n vereiste vir ontwikkeling en stabiliteit is nie.
Hoe meer Afrikalande met China se ontwikkelingsmodel identifiseer, hoe minder geïsoleerd voel China en hoe sterker is die legitimiteit van die CKP. China wil graag sien dat Afrika-regerings oorleef sonder om die Westerse demokratiese vorm van regering te volg. Op dié manier word geloofwaardigheid aan die Chinese politieke sisteem verleen en kan Afrikalande bydra om China se internasionale aansien te versterk.
Die doel van die Chinese ontwikkelingsmodel is om leiers en die elite in Afrika te skool in China se ervaring van ekonomiese ontwikkeling en politieke bestuur. Uit die aard van die saak wil China graag toesien dat Afrika-regerings die model in hulle eie lande toepas. Die manier waarop die model oorgedra word, is deur leiers van Afrika-regerings en ander politieke amptenare te nooi om opleiding te ontvang in die Chinese manier van regering, hetsy in China self of by een van die partyskole wat in Afrika opgerig is. Daar bestaan geen dwang van China op Afrika-leiers om die model aan te neem nie; dit is suiwer hulle eie besluit.
Westerse kundiges beskou die bou van kapasiteit as ’n stap om die Chinese ontwikkelingsmodel aan Afrikalande bekend te stel. Onder die bewind van Xi Jinping neem die programme toe in intensiteit. Tydens die laaste Forum vir China-Afrika-samewerking in 2021 is meer as 2 000 studiegeleenthede en 30 000 navorsingsgenootskappe aan studente van Afrika aangebied om onderrig in China te ontvang. Die Chinese jeugleierskapprogram het beurse aan 500 jongmense van Afrika aangebied en verder is begroot vir die opleiding van 1 000 persone wat in die media werksaam is. Die persone wat opgelei word, is inderdaad die room van die oes en is bestem om toekomstige betrekkinge tussen China en Afrika op koers te sit.
2. Politieke partye en elites
Die CKP se verbintenis met politieke partye in Afrika dateer van na die 1950’s en 1960’s, toe die CKP hulp aan bevrydingsbewegings in Afrika verleen het in die stryd vir onafhanklikheid. Alhoewel Afrikalande oor die algemeen nie die ideologie van Mao Zedong gevolg het nie, is daar wel sterk bande tussen die CKP en die regerende partye van verskeie Afrikalande, byvoorbeeld Algerië, Angola, die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), en Tanzanië, gesluit. In die vroeë 1970’s het China ’n program van ekonomiese hervorming van stapel gestuur wat die steun van Afrikalande ontvang het. Afrikalande het China ook gehelp om VN-lidmaatskap te bekom en Taiwan se setel oor te neem.
In die 2000’s het China meer aktief in Afrika betrokke begin raak. Die dialoog het verskuif van die ideologie van kommunisme na ekonomiese ontwikkeling en opleiding. Die CKP het besluit om direk met politieke partye, leiers, die elite en gepaste rolspelers te skakel om opleidingsprogramme aan te bied. Die rede vir die programme was om aan Afrikalande dieselfde geleenthede vir ontwikkeling te bied as wat China oor die afgelope paar dekades behaal het. Om die programme in werking te stel, word China se lang geskiedenis van vennootskappe in Afrika voorgehou om lede te werf en na skole te stuur vir opleiding. Dit sluit in die opleiding van kaders, bestuurslui, regeringsamptenare en ander personeel.
Die CKP se betrokkenheid by politieke partye in Afrika het beduidende geopolitieke gevolge. Dit is veral van toepassing op die Gordel-en-pad-inisiatief (GPI) waar leiers van regerende partye hulle goedkeuring moet verleen alvorens projekte aangepak word. Party-tot-party-verhoudinge bied die grondslag vir die sluiting van samewerkingsooreenkomste in dié projekte. Die pogings van die CKP om verhoudinge met politieke partye en leiers te bevorder het ook ander voordele. Dit bied ’n raamwerk vir die inwerkingstelling van die Chinese manier van regering en bestuurstyle. Die resultaat is dat organisasiestrukture verbeter, alternatiewe modelle vir ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling aangebied word, en akademiese uitruilprogramme en skakelings tussen besigheidslui van stapel gestuur word.
Terwyl dit waar mag wees dat China groter voordeel as Afrikalande uit die programme trek, hoofsaaklik as gevolg van die oneweredige aanwending van hulpbronne, byvoorbeeld finansies, tegnologie en wetenskap, is die programme om kapasiteit te vermeerder hoogs aantreklik vir Afrikalande. Die rede daarvoor is dat Afrika-leiers die doeltreffendheid van die programme beoordeel na aanleiding van die sukses wat dit in China en ander lande in Asië behaal het. Beide partye trek dus voordeel wat die tydsduur van die programme verleng.
3. Die media en digitale tegnologie
Tydens die Forum vir China-Afrika-samewerking in 2018 is besluit om ’n medianetwerk op die been te bring wat samewerking tussen China en Afrika bevorder. ’n Voorstel is aanvaar dat China joernaliste van Afrika oplei en dan uitruilings en wedersydse besoeke reël. Die voorstel het ook bepaal dat China fondse vir televisiestasies en filmskole in Afrika verskaf om dokumentêre programme te vervaardig. Die doel van die dokumentêre programme is om die Chinese publiek in te lig oor die lewenswyse en kulture van Afrika wat besigheidsgeleenthede en toerisme kan bevorder.
China se eienaarskap van mediamaatskappye in Afrika bied aan die CKP direkte beheer en invloed oor die inhoud en uitsendings van die media. En dit tel in die CKP se guns. Die China International Television Corporation en die China-Africa Development Fund besit saam 20% van Suid-Afrika se Independent Media, die land se tweede grootste mediamaatskappy. China se StarTimes besit ook aandele in Suid-Afrikaanse mediamaatskappye. Die maatskappy het gehelp om TopTV oor te skakel na StarSat en het ’n 20%-belang in Digital Media gekoop.
Benewens eienaarskap van televisiekanale het Chinese staatsbeheerde maatskappye ook ’n groot belang in die gedrukte nuus en aanlyn media. Dit is in dié media waar pro-China sentimente verkondig word. Alhoewel nie so groot soos die British Broadcasting Corporation (BBC) of die Amerikaanse Cable News Network (CNN) nie, het Chinese netwerke soos die Xinhua News Agency, CGTN en China Daily almal kantore in Nairobi, Kenia. Xinhua se kantoor in Nairobi het ongeveer 40 Chinese werknemers en China Daily se kantoor vier werknemers. ChinAfrica is ’n mediatydskrif wat deur die gesaghebbende Beijing Review uitgegee word en bied ’n blik op Chinese kultuur, ontspanning en lewenswyse aan lesers in Afrika. Die tydskrif word maandeliks in Engels en Frans uitgegee. Radio China International saai ook nuus en gebeure in Engels en Frans, sowel as plaaslike tale uit.
Chinese rolspelers speel tans ’n groot rol om die norme en waardes van Afrikalande te verander. Dit geld veral in die digitale terrein. China se bevordering van ’n soewereine internet waar die staat meer beheer oor die gebruik van die internet het, is in teenstelling met die Westerse model waar veelvuldige rolspelers die internet in ’n land beheer. As voorbeeld van China se regulering van die internet in Afrikalande het die regering van Tanzanië ingestem dat Chinese diensverskaffers ’n oorgrote aandeel van die land se mark bekom. Volgens die Tanzaniese regering is Chinese webwerwe veilig en gewild onder die publiek. Uganda en Zambië maak ook van Chinese diensverskaffers gebruik en het noue samewerking op die gebied van internetsekuriteit.
4. China se diplomatieke korps in Afrika
China se diplomatieke korps speel ’n aktiewe rol in die vorming van openbare mening. Dit geskied deur middel van die invloed van sosiale media en strategieë wat kommunikasie bevorder. Terwyl China se kommunikasiestrategieë in die verlede gekritiseer is as gevolg van die burokratiese en formele aard daarvan, word Twitter- en WhatsApp-rekeninge tans al hoe meer in Afrika gebruik om boodskappe oor te dra. Teen die einde van 2022 het 25 Chinese ambassadeurs in Afrika hulle Twitter-rekeninge in stand gehou. Boodskappe op die rekeninge word in verskeie tale van gasheerlande aangebied. Alhoewel die rekeninge deurspek is met Chinese propaganda, is dit ’n doeltreffende platform vir China om sy belange en inligting aan gebruikers van sosiale media in Afrika oor te dra. Dit is interessant dat die Chinese ambassadeur in Suid-Afrika, Lin Songtian, Twitter gebruik om Westerse invloed in Afrika te kritiseer en China se beleidstandpunte te bevorder. Dit is in pas met leiers en politici van ander lande in die wêreld, wat sosiale media gebruik om politieke menings te lug. Op dié manier word Afrika-gehore by China se diplomatieke uitreikaksies betrek.
Die eerste kontinent wat China se minister van buitelandse sake elke jaar op sy oorsese reis aandoen, is Afrika. Die reëling geld reeds sedert die vroeë 2000’s. Die Chinese president, Xi Jinping, het reeds besoeke afgelê aan die DRK, Egipte, Guinea, Suid-Afrika (3 maal) Tanzanië en Zimbabwe.
Die hoëvlakbesoeke van Chinese amptenare vervul drie doelwitte. Eerstens dui dit op China se langtermynverbintenis om politieke en ekonomiese invloed in Afrika uit te oefen. China heg groot waarde aan Afrika as gevolg van die oorvloed van natuurlike hulpbronne wat nodig is om die land se ekonomiese masjien aan die gang te hou en geostrategiese wedywering met die Weste, veral Amerika en Europese lande. Tweedens dui dit op China se direkte betrokkenheid by die vasteland wat Afrikane seggenskap in hulle eie toekoms gee. In samewerking met China bou Afrikane groter vorme van sagte mag op, byvoorbeeld kulturele en akademiese uitruilbesoeke en die institusionalisering van ’n nuwe norm en waardestelsel in internasionale organisasies. Lande in Afrika dra reeds in ’n groot mate by tot hervormings in die VN, en leiers van beide China en Afrika beklee leierskapsposisies in internasionale organisasies. Derdens dui dit op die skep van direkte kommunikasiekanale, wat belangrik is om boodskappe en inligting vinnig oor te dra. Amerika en Europa het byvoorbeeld nie sulke direkte kommunikasiekanale nie. Kommunikasiekanale bou vertroue en skep ’n positiewe beeld van China se buitelandse beleid van samewerking en benadering waar al die partye wenners is.
5. Reaksies van Afrikalande
In die geheel gesien het Afrika-regerings en gemeenskappe waardering vir die materiële en finansiële hulp wat China verskaf. China se diplomatieke verhoudinge word ook hoog op prys gestel. As voorbeeld word genoem dat al die lande in Afrika, met die uitsondering van Eswatini, verteenwoordigers na die 2018- en 2021-ontmoetings van die Forum vir China-Afrika-samewerking gestuur het.
Afrikalande beskou China se politieke invloed op die kontinent in ’n oorwegend positiewe lig. Politieke invloed manifesteer op verskillende terreine, soos hier bo genoem, en is in samehang met ekonomiese diplomasie die dryfveer agter China se betrokkenheid in Afrika. China se leierskapstatus in die Globale Suide-groepering dien verder as aantrekkingskrag om China se hervorming van die internasionale norm- en waardesisteem te ondersteun.
Ten opsigte van party opleidingsprogramme is Afrika-regerings dit eens dat China se outokratiese manier van regering nie ten koste van demokrasie bevorder word nie. Daar is byvoorbeeld aantygings dat China in plaaslike verkiesings inmeng om uitslae ten gunste van pro-Chinese presidensiële kandidate te manipuleer. Zimbabwe en Tanzanië is twee onlangse voorbeelde. Verder word beweer dat China minderheidsregte in die burgeroorloë in die Soedans misken het. Diplomate van verskeie Afrikalande, waaronder Soedan en Suid-Afrika, is egter van mening dat die opleidingsprogramme openbare betrekkinge tussen China en Afrika bevorder en nie gegrond is op ideologiese indoktrinasie soos in die beginjare van die verhoudinge nie. Die doel met die programme is ook om China se ekonomiese suksesverhale aan leiers van Afrika-regerings bekend te stel. Daar is wel leiers in Afrika wat die programme gebruik om hulle eie partystrukture en organisasie te verbeter, byvoorbeeld Soedan se regerende People’s Liberation Movement (SPLM) en Suid-Afrika se regerende ANC.
Ten slotte word gesê dat China se benadering in ’n postpandemie Afrika gaan fokus op die integrering van ekonomiese hulpverlening en diplomatieke verhoudinge. Op dié manier word erken dat die bou van nuwe infrastruktuur, soos wat tans plaasvind onder die GPI, alleen nie voldoende is om goeie verhoudinge te handhaaf nie. Om diplomasie werklik betekenisvol te maak, is dit nodig om die boodskap te verander. Daar moet nou gekyk word na pogings hoe Afrika se interne konflikte en probleme gesamentlik opgelos kan word, aangesien dit ’n pad van voorspoed vir beide partye kan uitspel. Leiers van Afrika stem saam. Slegs indien politieke en ekonomiese diplomasie geïntegreer word, kan die visie van ’n gedeelde toekoms bereik word.
Bronne geraadpleeg
Large, D. 2021. China and Africa: The new era. Washington: John Wiley & Sons.
Mishra, A. 2022. China’s political influence activities in Sub-Saharan Africa. 14 September. https://www.orfonline.org/expert-speak/chinas-political-influence-activities-in-sub-saharan-africa (10 Januarie 2023 geraadpleeg).
Rolland, N. 2022. Political front lines: China’s pursuit of influence in Africa. 1 Junie. https://www.nbr.org/wp-content/uploads/pdfs/publications/sr100_politicalfrontlines_june2022.pdf (5 Januarie 2023 geraadpleeg).
- Die fokusprent by hierdie artikel is ’n aanpassing van beelde deur Valeriya Yakovleva wat op Pixabay verkry is.
Lees ook:
Die rol van die Russiese paramilitêre groep Wagner in Afrika
Die belangrikheid van kritieke infrastruktuur in China se Afrikastrategie
Die posisionering van Afrika in China se internasionale strategiese raamwerk