
Piet Croucamp het die Etienne van Heerden Veldsoirée in Nxuba (Cradock) bygewoon. Hy wou nog altyd gaan luister na wat die skrywers alles te sê het. Hier is sy kort introspektiewe (na)betragting (sien die video) op die laaste dag van die geleentheid, gelewer as deel van die LitNet Afrikaanse Skrywersberaad.
Die volledige teks verskyn hier onder.

Buffelskop (Foto: Izak de Vries)
Buffelskop se grafte en ’n veldsoirée in Nxuba
Ek het al by meer as een geleentheid moeite gedoen met die tema waaroor ek dit vandag hier het. Maar as Etienne van Heerden jou vra om jouself voor sy Nxuba-gehoor te kom verduidelik, doen jy dit.
Niemandsland se stories
Vra ’n skrywer waarom hy of sy skryf, en jy kry gewoonlik ’n antwoord wat meer oor hom of haar as oor hulle skryfwerk sê. Elke skrywer wat ek al gevra het, het ’n tentatiewe dog filosofiese antwoord gereed op die vraag. My voordrag vandag hier by die soirée is dus ewe tentatief, maar op geen wyse filosofies nie. Die vraag is eerder: Hoekom skryf ek nié?
In haar 1976-essay “Why I write” sê Joan Didion sy skryf met die doel om te ontdek wat sy dink, waarna sy kyk, en wat dit beteken. George Orwell het in 1946 ’n essay met dieselfde titel geskryf en het vier kernmotiewe vir enige skrywer geïdentifiseer: blote egoïsme (om slim te wil voorkom, onthou te word), estetiese entoesiasme (plesier in woorde en vorm), historiese drang (die begeerte om dinge waarheidsgetrou vir die nageslag op te teken), en politieke doel (om die mensdom na ’n bepaalde idee toe te rangeer).
Ek sluk swaar aan Milan Kundera en Toni Morrison se antwoorde op dieselfde vraag. Met letterkundige chauvinisme argumenteer Kundera dat die doel van ’n roman is om dít te verken wat slegs die roman kan verken: die dubbelsinnigheid en kompleksiteit van menswees wat filosofie en ander dissiplines nie kan vasvang nie. Jou moer man, dog dié politieke wetenskaplike. Morrison verwys na skryf as die herwinning van afwesige of uitgewiste perspektiewe, om ’n stem – en innerlikheid – te gee aan mense wat deur die geskiedenis gemarginaliseer of geïgnoreer is. Is die mens van sukkel en swaarkry aanmekaargesit? Ek wonder.
My eie ongesofistikeerde verstaan
Elkeen van ons ervaar die werklikheid op verskillende maniere, selfs al is die werklikheid wetmatig en op geen wyse afhanklik van ons verstaan daarvan nie. Die werklikheid verdwyn of verander nie omdat jy nie daarin glo nie. Maar, ons weet reeds dat stories nie noodwendig die kortste of selfs die beste pad na goeie begrip is nie. Sommige skrywers skryf met die doel om te verwar. Ek verwys soms na hulle as die postmoderniste, selfs dié onder hulle wat geen idee het wat ’n postmodernis is nie.
My kritiek is beperk tot die epistemologiese aansprake van die postmoderniste. Die relativering van die werklikheid is een van die mees futiele pogings tot relevansie. Die postmodernisme is die pseudo-intellektuele romantisering van “om nie te weet nie”. You can wipe your arse in any direction (if you are male), maar moenie dit veruniverseel nie. Bieg ook dat dit jou keuse is om nie te verstaan nie, en dat ander skrywers dit “liefs nie by die huis moet probeer nie”.
Die werklikheid is egter so gekompliseerd dat die beperkinge van my gedagtegang nie reg daaraan kan laat geskied nie. Ek kan algoritmes bou en het genoeg akademiese en lewenservaring om relevante en weldeurdagte veranderlikes in ’n sinvolle verhouding teenoor mekaar te plaas, maar in alle eerlikheid, soms klop my somme en soms nie. En soms, wanneer skrywers praat oor die proses van skryf en die verwantskap tussen skryf, dink en verstaan, resoneer dit met die konklusies van my eie introspeksie. Tog verkies ek om nie te probeer skryf nie.
In Doubling the point: essays and interviews (geredigeer deur David Attwell) sê JM Coetzee dat hy nie skryf om reeds bestaande idees of gevoelens oor te dra nie. Vir hom is die skryfproses ’n manier van dink: Hy ontdek wat hy wil sê deur te skryf. Skryf gee geboorte aan sy gedagtegang. Die idees wat uiteindelik die storie word, ontvou as deel van die skryfproses. Skryf is ’n poging om komplekse morele en filosofiese vrae te verken.
Coetzee is wantrouig oor die waarde van introspeksie, selfs retrospektiewe introspeksie. Hy is skepties oor die idee dat ’n skrywer presies kan verduidelik waarom hy in die eerste plek skryf. Selfondersoek word as’t ware deur taal en narratief gevorm, wat beteken dat enige introspektiewe “verklaring” van die werklikheid alreeds ’n soort fiksie is.
Sinies oor fiksie
Ek sê elke jaar vir my studente: Ek gaan vanjaar nie ’n enkele punt toeken vir wat jy weet nie. Google weet baie en Claude weet na bewering alles. En volgens Elon Musk behoort Grok binne vyf jaar meer intelligent as die mens te wees. Ek vertel hulle met ’n sweem van nydigheid dat ek geen belang by hulle opinies het nie. Sosiale media is ’n oorvloedige beerput van opinies, en ek bejeën my eie menings met genoeg erns om krities te wees oor enige student s’n. “Hierdie jaar gaan ek jou nét beloon vir die wyse waarop jy dink,” mor ek, gemaak ongedurig, jaar ná jaar.
Die voorkeurmanier van dink behoort metodies, analities en vergelykend te wees. ’n Skeptiese ingesteldheid is ’n primitiewe dog edele instink, en kan aangeleer word. So ook kritiese denke. Dit is nié net mense met ’n superieure IK (intelligensiekwosiënt) wat ná rype en kritiese bepeinsing tot ’n sinvolle konklusie kom nie. Dít is almal beskore.
Wat my terugneem na my sinisme oor fiksie as ’n manier om by die werklikheid uit te kom.
Die doel van stories
In Gabriel García Márquez se One hundred years of solitude onthou kolonel Aureliano Buendía – terwyl hy wag vir sy eie teregstelling en die lede van ’n vuurpeloton om hulself gereed te maak – dat sy pa hom een namiddag geneem het om ys te ontdek. Dit gaan teen die grein van logika in: Hoe weet enigiemand wat die kolonel se laaste gedagtes was? Nadat ek myself dié vraag gevra het, was dit vir my duidelik dat my kreatiwiteit soos ’n steeks perd weier by bewustelike grense, maar selfs meer by onsigbare of onbewustelike grense. Die romantisering van die irrasionele en die onlogiese is strydig met die mens se epigenetiese strewe na begrip.
In Franz Kafka se The metamorphosis word Gregor Samsa as ’n reusagtige insek wakker, sonder enige verduideliking of verbasing van die verteller self. Die absurditeit word doodgewoon en as ’n feit aangebied. Ek weet dis Kafka, maar hoekom is onwerklikheid enigsins kreatief? Ek was in Praag en het na Kafka se graf gaan soek. Die mense van Praag was nie Kafka-fans nie; hulle sê dit is ’n Westerse fetisj.

Kafka se graf (Foto: WikiMedia, CC BY-SA 3.0)
Ek wil nie die deadpan surrealisme van Kafka afmaak nie. Sy Letter to his father herinner my aan my gekompliseerde verhouding met my seun, wat net so onafhanklik, skepties en sinies geword het as wat ek hom grootgemaak het. The trial is dalk bedoel as fiksie, maar dis ook ’n dokumentêre realisme. Dis nie sinisme nie; dis ’n diagnostiese kragtoer.
Om meermalig begrawe te word
Chris Spies, vredemaker en bemiddelingspraktisyn, wat ook by geleentheid die Veldsoirée bygewoon het, vertel dat die skrywers en voornemende skrywers eenkeer almal ’n besoek aan Olive Schreiner se graf bo-op Buffelskop gebring het. Iemand wou by die toergids hoor wanneer Schreiner op dié bepaalde plek begrawe is. Die toergids het geantwoord: Kort ná haar dood. Indien jy nie bewus is van die geskiedkundige konteks nie, is Chris se vertelling skreeusnaaks. Maar die werklikheid van ’n gedokumenteerde historiese verloop ondermyn nie net die humor van die oomblik nie, dit bevestig ook die sinvolheid van die vraag oor wanneer Schreiner begrawe is.
Nadat sy in die nag van 10/11 Desember 1920 in haar slaap gesterf het, is sy aanvanklik op die Schreiner-familieperseel in Kaapstad se Maitland-begraafplaas begrawe. Haar man, Samuel Cron Cronwright, was in daardie stadium in Engeland en kon nie by haar sterfbed wees nie. Hy het haar die jaar tevore by Waterloo-stasie in Engeland die laaste keer gegroet. Einde Februarie 1921 het hy na Suid-Afrika gereis en ter ere van haar wense gereël dat haar oorskot op Buffelskop herbegrawe word. Haar “kort ná haar dood”-graf moes op ’n berg op die plaas Buffelshoek, sowat 20 km suid van Cradock in die Oos-Kaap, op die Mortimer-pad wees.
Agt maande ná haar afsterwe, op 9 Augustus 1921, het haar oorskot Kaapstad verlaat en op 10 Augustus in De Aar aangekom, waar Cronwright die kissies van hulle babatjie en die gesin se hond (Nita) afgehaal het. Schreiner se baba is kort ná geboorte, op 30 April 1895, oorlede en was ook aanvanklik elders begrawe. Nita is doodgery en Schreiner het haar in ’n loodkissie laat plaas. Die trein met die drie kissies het dieselfde dag in Cradock aangekom en is op 13 Augustus 1921 bergop gedra vir die begrafnis in die sarkofaag . Die klim na die graf is 420 meter hoër as die parkeerarea en word slegs vir skrywers wat nog redelik fiks is, aanbeveel.

Bordjie op die sarkofaag (Foto: Izak de Vries)
Vanaf Buffelskop kry ’n mens ’n pragtige uitsig oor die Groot-Visriviervallei. Uiteindelik het dié sonderlinge koppie die plek geword waar die familie en hulle hond weer stof geword het.
Die kombinasie van ’n droë Karoo-bergtop en ’n klipsarkofaag skep omstandighede wat gedeeltelike mummifikasie bevorder. Vogtige grond sou haar ontbinding verhaas. Het Schreiner hierdie droë, hoë plek gekies vir die uitsig en vrede, of vir die klimaat wat dit bied?
Terloops, die werklikheid is soveel interessanter as gefabriseerde realiteite. Samuel se van, Cronwright, is ’n samesmelting van “Cron” en “Wright”. Sy oupa aan vaderskant was ’n sendeling, Peter Wright. In 1857 het die familie besluit om “Wright” met “Cron” te kombineer om “Cronwright” te vorm. Cron is Samuel se tweede naam. “Cron” is dus deel van ’n saamgestelde van, nie ’n gewone middelnaam nie. Hy het ook dieselfde name gehad as sy pa, die sakeman en burgemeester van Grahamstad, ook Samuel Cron Cronwright (1834–1888).

Olive en Cron, 1895 (Foto verskaf deur Amazwi South African Museum Of Literature)
Ná sy huwelik met Olive Schreiner in 1894 het hy sy van verander na Cronwright-Schreiner, destyds redelik ongewoon vir ’n man om te doen. Toe hy in 1924 in Engeland met Leonora (“Lyn”) Gann (née Bush) trou, het hy die Schreiner-deel van sy van verwyder.
Kyk nou net hoe lekker vertel die werklikheid. Hoekom fiksie gebruik as die soeke na die werklikheid en die waarheid jou op sulke interessante reise kan neem?
Kyk en lees ook:
Marlene van Niekerk: Klein vingeroefening rondom die nosie van hibriditeit
Gunther Pakendorf: Hibriditeit
Jakes Gerwel: Die lag van die lumpen-proletariaat as idioom van hibriditeit: hulde aan Adam Small
Achmat Dangor: Language and the shaping of “otherness” — a personal testimony
Steward van Wyk: Hibriditeit, of die baster in ons
Alfred Schaffer: Een lied van schijn en wezen
Bernard Odendaal: Die mediosfeer
Luna Paige: Om die sterflikheid van blomme en mense
Christof Berg: Die klei van ons binnekant
Dietloff van der Berg: Transformasies: Is Rumi ’n mistikus of “social media crack cocaine”?
Andries Gouws: Dominion: ’n Boek wat sê waar en wat ons is, hoe ons hier gekom het
Lees die ander bydraes hier:
Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors


Die Tuishuise & Victoria Manor




Carel van der Merwe
Trinette Rudman Kirkwood
Ton Vosloo



Kommentaar
Ek sê altyd vir my studente: skryf is soos doodgaan, almal kan dit doen.
Maar dit sit beslis nie in elkeen se broek om die binnewerking van ’n toilet se spoelbak uit te pluis nie. Of die Comrades te hardloop nie. Óf sê maar om in die winter te swem.
Ek skryf omdat ek nie daarvan hou om ’n stemboodskap te los nie. Tja. Trouens, niemand het 'n geldige verskoning om nie te skryf nie.