Boeke en ouderdomsaanbevelings vir jou kind

  • 0

Afrikaanse kinder- en jeugboeke (Foto: Izak de Vries)

Hoeveel keer het jy al gehoor: “Hoe oud moet ek wees om daardie boek te lees?” of wat van “Vir watter ouderdom is hierdie boek geskik?” Dit is seker die mees algemene vrae oor kinderboeke, maak nie saak waar in die wêreld jy jou bevind nie. Dit is ook die moeilikste én mees komplekse vraag om te beantwoord, want waar moet mens die streep trek? Hierdie kort bespreking mag dalk ’n bietjie lig op die kwessie werp.

Waarom ouderdomsaanbevelings belangrik is

Die impak van onvanpaste boeke op kinders kan negatiewe of moontlik positiewe gevolge hê, maar die resultate is onvoorspelbaar. Die ooglopende rede vir ouderdomsbeperkings of aanbevelings is dat inhoud nie gepas is vir sekere ouderdomme nie. ’n Nuttige onderskeid wat getref moet word is tussen ’n ouderdomsbeperking en ’n ouderdomsaanbeveling.

’n Ouderdomsbeperking is wat ons goed ken in verband met films, asook die graderings van taal, naaktheid, geweld ens. Dit word duidelik op DVD’s en stromingsdienste se beskrywings aangedui. In die geval van boeke, en spesifiek kinderboeke, bestaan daar geen wetgewing soos met films en televisie-inhoud nie. Dus is daar geen ouderdomsbeperkings op boeke in Suid-Afrika nie (Van Huyssteen, Rabé en Puttkammer 2023:188–9).

Ouderdomsaanbevelings, daarenteen, is oral te bespeur in boekwinkels, biblioteke en aanlyn. Dit word gereeld deur uitgewers en resensente ingespan om aan te dui vir watter ouderdom ’n boek aanbeveel sou word. Let wel: Dit is slegs ’n aanbeveling en ’n riglyn, nie ’n beperking nie.

Wanneer ’n besluit oor ’n ouderdomsaanbeveling gemaak word, is daar hoofsaaklik twee faktore ter sprake. Die eerste is die vlak van leesvaardigheid wat die boek van sy leser vereis. Die styl, register en woordeskat van die verhaal word oorweeg, vir die vlak van leesvaardigheid wat ’n kind op ’n bepaalde ouderdom behoort te hê. Weer eens is dit ’n riglyn, want elke kind ontwikkel teen sy of haar eie pas en elke kind se brein lees op ’n ander vlak, wat nie noodwendig ooreenstem met ’n spesifieke ouderdom nie. Party boekwurms lees maklik twee tot drie jaar bo hulle ouderdomsgroep se verwagte leesvaardigheid.

Tweedens word inhoud oorweeg, ’n belangrikste faktor. Daar is ’n redelik universele konsensus dat kinders nie op ’n jong ouderdom blootgestel moet word aan sekere onderwerpe nie. Dit is verkieslik, al weet ons dat die wrede wêreld sommige kinders dit nie spaar nie, maar selfs dan kan boeke help. Later meer hieroor.

Wat sulke negatiewe inhoud betref, kan ons dink aan grusame speurverhale of onderwerpe soos moord, dood, gruwelike gediertes en ander vulgêre inhoud. Dit is moreel en eties nie geskik vir kinders nie. Daar behoort nooit hieroor getwyfel te word nie.

Die impak wat ’n boek op ’n kind se psige kan hê, skep die potensiaal vir trauma sou ’n kind te jonk of emosioneel nog nie gereed wees om ’n onderwerp soos seksualiteit, moord, dood of mishandeling te verstaan of te hanteer nie.

Riglyne eerder as voorskrifte

Dit is om hierdie redes dat ’n ouderdomsaanbeveling eerder as ’n riglyn beskou moet word en dat elke jong leser se vermoë asook sy of haar emosionele ontwikkeling in ag geneem word, wanneer iemand die besluit maak oor watter boek om vir ’n kind te lees of wat ’n kind self lees.

Kom ons kyk na ’n onlangse studie waar die kwessie van ouderdomsbeperkings en advies ondersoek is in verband met die uitgewersbedryf asook met betrekking tot diegene wat boeke vir kinders koop en ander kenners.

Die studie “Ouderdoms- en inhoudsadvies vir Afrikaanse boeke vir kinders: resultate van ’n eerste kwalitatiewe en kwantitatiewe ondersoek” is deur Gerhard van Huyssteen, Monique Rabé en Martin Puttkammer (2023) gedoen om spesifiek vas te stel of daar ’n behoefte onder lesers en kopers van kinderboeke bestaan om ’n duidelike ouderdomsaanbeveling op boeke te hê, asook wat die voorstelle is omtrent ’n ouderdomsaanbeveling in die praktyk uit die geledere van die boekmark, uitgewers, kenners en regskenners.

Daar is drie metodes gevolg: ’n onderhoud met ’n regskenner, ’n fokusgroep met professionele belanghebbendes, en aanlyn vraelyste op ’n erkende Afrikaans webtuiste, naamlik MaroelaMedia.

Hierdie drie metodes het gesorg vir ’n wydverspreide spektrum van insigte, maar is steeds net ’n steekproef. Dit is nie ’n besonder groot bron nie en sluit nie variasie in nie. Daar moet wel ’n bewustheid wees dat hier slegs na Afrikaanssprekendes en Afrikaanse boeke gekyk word, nie die uitgebreide en gevarieerde Afrikaanse gemeenskap in Suid-Afrika nie. Daar word toegee dat dit duidelik in die studie vermeld word dat dit slegs ’n verkennende studie is met baie moontlikhede en geleenthede vir uitbreidings.

Twee kwessies wat baie duidelik na vore tree in hierdie studie, is:

  • ouderdomsbeperking teenoor aanbeveling of ouderdomsadvies
  • die tersaaklike regulerende wetgewing.

Verrassing! Daar is geen wetgewing in Suid-Afrika wat boeke of die inhoud vir volwassenes of kinders reguleer of beheer nie – selfs nie in die onderwysmark nie (Van Huyssteen ea 2023:189). Dit is interessant dat daar wel gestruktureerde regulering in die VSA is, en spesifiek in verband met kinderliteratuur en kinderboeke: “So byvoorbeeld is daar volgens die Amerikaanse webwerf Unite Against Book Bans2 in 2021 in die VSA gepoog om meer as 1 597 verskillende boeke te verban” (Van Huyssteen ea 2023:189). 

Dit is duidelik dat Suid-Afrika nooit weer in so ’n posisie wil wees waar boeke verban word nie – nie vir volwassenes of vir kinders nie – maar daar is steeds ’n grondwetlike plig om kinders teen skadelike inhoud te beskerm.

Sensuur teenoor toesighoudende begeleiding

Dit is belangrik om te onthou dat die studie slegs wou bepaal of daar ’n behoefte by lesers, of meer spesifiek, by die kopers of aankopers van hierdie boeke vir kinders is, en wat die gebruik in die betrokke bedrywe tans is, asook wat die professionele uitgangspunte daaroor is.

Interessant genoeg is die produseerders en uitgewers huiwerig om boeke vir spesifieke ouderdomme te beperk. Die meeste ouers en volwassenes wat vir kinders boeke koop, is weer van mening dat dit beslis nodig is en dat daar ’n beduidende behoefte is aan ’n duidelike ouderdomsaanduiding op die voor- of agterblad, sodat daar met ’n eerste oogopslag geskat kan word of ’n boek geskik is vir ’n kind of jong leser sonder om die volle teks self te gelees het.

Ouers behoort ook die kurators van hul eie kinders se leesstof te wees, net soos met TV en films. Jy as ouer ken jou kind die beste en elke kind se ontwikkeling, persoonlikheid en intellek is uniek. Wanneer jou kind ouer is, byvoorbeeld ’n tiener is, praat met hulle oor wat hulle lees, wat hulle interesseer, en juis wat inhoud betref. Wanneer is ’n tiener nou eintlik “reg” om oor onderwerpe soos egskeiding, seks, misdaad en geweld te lees? Miskien beskou ons die inhoudsadvies, ouderdomsbeperking en aanbevelings uit ’n verkeerde hoek. Dalk moet ons begin oorweeg wat buite die “kampie” van “wat my kind mag/moet lees”, gebeur.

Almal se besbedoelde intensie is om die kind te beskerm. Dit is moreel, eties goed en reg. Ongelukkig leef ons in ’n harde, lelike werklikheid. Ons woon in ’n Suid-Afrika waar gruwelike dinge elke dag om ons gebeur. As jy jou kind wil grootmaak en toelaat om te ontwikkel tot ’n funksionele persoon en ’n individu wat ’n moontlik positiewe bydrae kan lewer en sal oorleef, is ’n boek dalk die veiligste plek vir jou kind om oor hierdie dinge te leer. Dit kan selfs ’n gesprek met jou kind begin, waar jy steeds beheer het oor die omstandighede en hoe hulle daaroor leer. In jou huis, by mense wat vir hulle lief is. Nie alle kinders is so bevoorreg nie, en as hulle ’n onderwyser of betroubare volwassene in hulle lewe het met wie hulle daardie boek kan bespreek, dan begin ons iewers ’n verskil maak. En ouderdomsbeperkings moet nie hierdie potensiaal bedreig of verhinder nie.

Dalk is ’n kort voorbehoud hier nodig: Beskerm jou kind se wese teen die wreedheid van die wêreld tot op ’n redelike ouderdom. Weer eens gaan dit van kind tot kind verskil, en dit is juis hier waar die rol van uitgewers en kenners van belang is. ’n Aanbeveling of riglyn of advies is altyd welkom en is juis daar om te help, nie om te beperk nie.

Die rol van uitgewers

Iets wat altyd in gedagte gehou moet word, is die vraag wie bepaal en beheer wat ’n kind lees en wat nie. Uitgewers het ’n bepaalde rol om hier te speel. In sommige gevalle gee uitgewers ’n aanduiding van die ouderdom waarvoor ’n boek geskik is. Tot ’n mate is hierdie ouderdomsbepalings soos die vervaldatums op produkte soos pasta of konfyt – dis ’n gids en mens moet jou gesonde oordeel gebruik. Vanuit die uitgewer se perspektief is dit die ouderdomsgroep wat volgens hulle marknavorsing die waarskynlikste van daardie boek sal hou, vir wie die inhoud geskik is en wie dit sal geniet. Daarom die ouderdomsaanbeveling waarvoor dit gemerk is. Dit is per slot van rekening ’n besigheid wat geld maak deur stories te verkoop.

Hoe teenstrydig en ironies is dit nie? ’n Uitgewer verkoop stories, maar kan mens ooit werklik ’n storie besit? In ons moderne wêreld is dit deel van kapitalisme en dus ’n kapitaal van tekste.

Daarom het uitgewers ’n raadgewende en leidende rol deur aanbevelings te verskaf, maar ook met die agenda om geld te maak. Daar is niks verkeerd hiermee nie, net iets om in gedagte te hou.

Boeke vir verskillende ouderdomsgroepe

Daar kan ure spandeer word aan hoeveel verskillende maniere uitgewers en boekwinkels aandui vir watter ouderdomsgroep boeke geskik is, of nie. Daarom sal dit dalk meer gepas wees om enkele voorbeelde voor te hou vir die potensiële leser van hierdie artikel, indien dit ’n ouer, onderwyser, vriendin of maatjie is wat op soek is na ’n goeie boek vir hulself of iemand anders.

Eerstens is daar verskeie boeke wat ten opsigte van leesvaardigheid duidelik gemerk en bemark word. ’n Goeie voorbeeld is die “Tippie”-leesreeks wat in Engels, Afrikaans en Xhosa beskikbaar is. Hierdie reeks boeke begin met basiese geletterdheid en syfervaardigheid, en beweeg na leesvaardigheid en die  lees oor relevante onderwerpe vir kleuters, soos hoe om probleme met maats op te los, en dit is geskik vir kinders vanaf 3 of 4 jaar tot omtrent graad 2 (8 jaar). LAPA doen groot moeite om hierdie boeke onder kinders self te bemark met toere na skole en natuurlik die nimlike Tippie die Olifant wat oral deur die land reis en hope maats maak.

Daar is ook die “Ek lees self”-reeks deur Wendy Maartens wat weer eens op leesvaardigheid gebaseer is. Daar is woordeskat, en die bonus is dat dit verwerkte volksverhale, fabels en ander verhale is wat herleef in boeke vir kinders van vandag.

Laastens, as daar nou aan nostalgies geraak kan word: Daar was ’n soortgelyke praktyk in die jare tagtig en negentig gewees wat kassette benut het. Ja, kassette, nie CD’s of skakels nie. Storieman en Storiemuis, met die ghong wat slaan dat jy moet omblaai. Dit was groot pret, en die moderner weergawes met aanlyn klankgrepe is wonderlik om kinders lief te maak vir lees. Dit aktiveer al hulle sintuie met sig, gehoor en natuurlik die omblaai van die bladsy wat hulle sensories aard in die ervaring. Pasop net vir dié klein kabouters wat nog aggressiewe lesers is – ’n bladsy mag in die slag bly. Selfs in daardie geval is daar – dankie tog – kartonboeke!

Die voordele en onbedoelde nagevolge van ’n duidelike ouderdomsaanbeveling

Daar is beslis ’n handvol voordele aan verbonde om ’n duidelike ouderdomsaanbeveling op die buiteblad van ’n boek te hê. Die ooglopende voordeel is dat iemand net ’n boek kan gryp vir ’n present en met redelike sekerheid kan aanneem dat die boek geskik sal wees vir die persoon of kind vir wie die boek gekoop word. ’n Blitsbesluit oor ’n boek sonder om dit te lees of ’n bietjie rond te vra of te lees, is te verstane. Ons is almal besig en die lewe hou deesdae daarvan om ons netjiese appelkarretjie met krieketballe te gooi. Dit is dalk net nie so ’n goeie idee om boeke, alhoewel hulle goed pas en reghoekig is, in bokse te plaas volgens ouderdom nie.

Sulke aanbevelings hoort nie met harde ouderdomsgrense gemaak te word nie. ’n Ouderdomreeks is dalk ’n beter aanbeveling, bv “2 tot 4 jaar”. Baie boekwinkels doen dit deur boeke te merk vir “kleuters”, “0 tot 3 jaar”, “Selflees”, “Tieners”, “Jongvolwassenes” of “Jeugboeke”. Dit gee steeds leidende advies, maar beperk lesers nie tot spesifieke ouderdomme of boeke nie. Dit kan aanleiding gee tot die keuse van ’n kind om ’n boek te lees of nie, veral as dit duidelik op die voor- of agterblad aangedui word. As volwassene wil ek ook nie adverteer dat die boek wat ek lees, vir 13-jariges geoormerk is nie. Mens wil op geen manier kinders ontmoedig om te lees vir die lekker nie. Dit is ongelukkig ’n onbedoelde nagevolg sou die praktyk van duidelike ouderdomsaanbevelings op die buiteblad van boeke meer gebruik word.

’n Billike blik op ouderdomsaanbevelings vir kinderboeke

Die gesprek rondom boeke se geskiktheid vir kinders, tieners en kinders van enige ouderdom is ’n ingewikkelde onderwerp en raak al hoe meer ingewikkeld hoe nader jy daarna kyk. Dit is egter tog moontlik om oor ’n paar fundamentele elemente saam te stem, wat Van Huyssteen, Rabé en Puttkammer se artikel en aanvanklike navorsing bevestig.

........
Daar is ’n behoefte by volwassenes, ouers, onderwysers, oumas, oupas en almal wat ’n kinderleser in hul lewe het om ’n aanduiding van kenners (uitgewers, skrywers en spesialiste op die gebied) te kry in verband met wat hulle vir hul kinders aanskaf sonder om self die teks te lees.
...........

Daar is ’n behoefte by volwassenes, ouers, onderwysers, oumas, oupas en almal wat ’n kinderleser in hul lewe het om ’n aanduiding van kenners (uitgewers, skrywers en spesialiste op die gebied) te kry in verband met wat hulle vir hul kinders aanskaf sonder om self die teks te lees.

Die meeste partye wat betrokke is by die vervaardiging, bemarking, skryf en verkoop van kinderboeke is dit eens dat ouderdom alleen nie ’n bepalende faktor behoort te wees by wat ’n kind lees nie. Die “mure” rondom wat kinders lees, moet dalk eerder op leiding, rigtinggewing, inhoudsadvies en leesvaardigheid gerig wees. Daar is ook die twee-vlieë-met-een-klap-geluk dat ’n kind wat op ’n sekere leesvaardigheidsvlak is, heel moontlik sekere onderwerpe beter sal kan hanteer en verstaan as ’n kinders op ’n laer leesvaardigheidsvlak. Vroeë is daar genoem dat ’n boek die veiligste plek is waar ’n kind met die struikelblokke en uitdagings in hul lewe kan worstel. Hier kan ons spesifiek dink aan tieners en jong volwassenes – boeke soos Vaselientjie, Raaiselkind, Dis ek, Anna, Uit deur Fanie Viljoen, Die lewe se vuil-houe, Pixel, Brand; en dan is daar ook nog Onderwêreld, wat tans vir Afrikaans Eerste Addisionele Taal graad 12 voorgeskryf word. Daar is Anderkant die blou en Toe ons oneindig was deur Zelda Bezuidenhout, Jaco Jacobs se reekse van Zackie Mostert en Professor Fungus en Hoeveel tande het ’n engel deur Jan Vermeulen, en nog baie ander boeke.

Gaan soek gerus op ’n internetwinkel of regte boekwinkel van jou keuse se rakke vir ’n lekker boek hierdie wintervakansie wat net reg is vir ’n kind of jong leser in jou lewe. Want boeke open wêrelde.

Verwysings

LAPA-webtuiste: https://lapa.co.za/kinder-en-jeug.

NB Uitgewers-webtuiste: https://www.nb.co.za/af/books/0-6-jaar.

Penguin Random House-webtuiste: https://www.penguinrandomhouse.co.za/afrikaans.

Van Huyssteen, G, M Rabé en M Puttkammer. 2023. Ouderdoms- en inhoudsadvies vir Afrikaanse boeke vir kinders: Resultate van ’n eerste kwalitatiewe en kwantitatiewe ondersoek. LitNet Akademies. https://www.litnet.co.za/ouderdoms-en-inhoudsadvies-vir-afrikaanse-boeke-vir-kinders-resultate-van-n-eerste-kwalitatiewe-en-kwantitatiewe-ondersoek (10 Mei 2023 geraadpleeg).

Prente

Die prente is geskep deur OpenClipart-Vectors, verkry op Pixabay en met enkele aanpassings geplaas.

Lees ook:

Ouderdoms- en inhoudsadvies vir Afrikaanse boeke vir kinders: resultate van ’n eerste kwalitatiewe en kwantitatiewe ondersoek

Miniseminaar: Boeke vir alle kinders in Suid-Afrika

Miniseminaar: Hoe maak ons kinder- en jeuglesers van ouers en onderwysers se vooroordele vry?

Omstredenheid en kleuter-, kinder- en jeugliteratuur

Miniseminaar: Sterretjie gedenk aan my

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top