|
Opsomming
Die Wet op Films en Publikasies 65 van 1996 (Suid-Afrikaanse Regering 1996) verskaf die raamwerk waarbinne films en publikasies in Suid-Afrika beheer kan word. Dit sluit die oplegging van ouderdoms- en inhoudsadvies vir films en televisieprogramme (f-OIA’s) deur die Rolprent-en-Publikasieraad (RPR) in. Daar bestaan egter geen soortgelyke advies vir boeke (b-OIA’s) nie, hoewel dit byvoorbeeld wel die gebruik in die Verenigde State van Amerika is.
Die oogmerk van hierdie ondersoek is om vas te stel wat Afrikaanssprekendes se gevoel oor b-OIA’s vir boeke vir kinders is. Daar word van drie metodes gebruik gemaak in die ondersoek (twee kwalitatief en een kwantitatief), naamlik (1) ’n onderhoud met ’n publikasiebeheer- en regskenner; (2) ’n aanlyn fokusgroep (wat uit verskeie individue uit die publikasiewaardeketting saamgestel is, onder wie skrywers, ’n uitgewer en ’n aankoopbestuurder); en (3) ’n aanlyn vraelys.
Die rolspelers van die publikasiewaardeketting is van mening dat b-OIA’s nie regtig sinvol is nie, tensy dit met die veronderstelde leser se leesvermoë verband hou, maar dat die eindgebruikers (d.i. die veronderstelde lesers) dit potensieel nuttig sou vind. Dit is deur die resultate van die aanlyn vraelys, wat slegs op eindgebruikers gemik is, bevestig deur die vraelysdata statisties met behulp van die standaard-Kruskal-Wallis-toets te ontleed. Hierdie eindgebruikers, waarvan diegene met kinders die meerderheid uitmaak en ook as die grootste demografiese bepaler dien, meen dat b-OIA’s moontlik waardevol en voordelig kan wees en dui aan dat dit verkieslik sigbaar op die voor- of agterblad van die boek aangebring moet word. Hulle dui verder aan dat hierdie b-OIA’s hoofsaaklik deur skrywers en uitgewers bepaal moet word, aangesien hulle reeds die boeke geskryf en gekeur het met onder meer ’n bepaalde teikengehoor en genre in gedagte. Die onus rus egter uiteindelik steeds by ouers om te besluit tot watter mate hulle hierdie adviese in hul opvoedkundige taak in ag wil neem.
Trefwoorde: boek; inhoudsadvies; ouderdomsadvies; publikasiewaardeketting; sensuur; standaard-Kruskal-Wallis-toets
Abstract
Age and content advisories for Afrikaans books for children: results of a first qualitative and quantitative investigation
Censorship is the practice of suppressing or controlling the creation of and/or public access to artefacts based on their content – for political and/or moral reasons. Such artefacts include the fine arts; performing arts, including film and theatre; the art of words, science, and journalism; and digital products such as computer games and websites. In South Africa, the Films and Publications Act 65 of 1996 (South African Government 1996) provides the framework for controlling films and publications in South Africa. This includes the imposition of age and content advisories for films and television programmes (f-ACAs) by the Film and Publication Board (FPB). They do not control only films and television programmes in the traditional sense, but the 2019 amendment also specifically caters to newer technologies and types of publications (such as the content on social media platforms and streaming services). However, no similar advisories exist for books (b-ACAs), although this is the practice in the United States of America, for example.
The aim of this investigation is to determine what Afrikaans speakers think and feel about b-ACAs for books for children. Three methods were used in the investigation (two qualitative and one quantitative), namely (1) an interview with a publications control and legal expert; (2) an online focus group (made up of various individuals from the publishing value chain, including authors, a publisher, and a purchasing manager); and (3) an online questionnaire (with Maroela Media serving as the main platform for the online investigation).
The initial phase of the research involved a one-on-one interview with a publications control expert, which served as the basis for the subsequent qualitative and quantitative research. According to the expert, it is the responsibility of government institutions, such as the FPB, to safeguard consumers, particularly children, against inappropriate and potentially harmful content and to enable the broader South African community to make informed decisions. Nevertheless, the final decision to comply with the guidance (e.g., f-ACAs) given by organisations like the FPB remains with the parents, who can determine what exposure level they deem acceptable for their children. He also suggests that if parents choose to disregard the recommendations, it would be advisable for the parents to assess the film or book for themselves to establish its appropriateness for their children.
During the online focus group, it became apparent that the actors in the publishing value chain believe that b-ACAs are not meaningful unless they relate to the intended reader’s reading ability, but that the end users (i.e., the intended readers) would find them potentially useful. This was confirmed by the results of the online questionnaire, which was aimed at end users only, by statistically analysing the questionnaire data using the standard Kruskal–Wallis test.
These end users, of which those with children make up the majority and serve as the largest demographic determinant, believe that b-ACAs can potentially be valuable and beneficial and indicate that they should preferably be displayed visibly on the front or back cover of the book. Although the possibility of a digital advisory service (similar to Common Sense Media, for example) was presented to the questionnaire participants, the majority of participants believed that these b-ACAs should preferably appear on the front or back page of the book, probably because they would like to have all the relevant information available to them in a central place without having to consult a digital advice service elsewhere before they decide to purchase a specific book.
They further indicated that these b-ACAs must be determined mainly by authors and publishers, since they will already have written and selected the books with, among other things, a specific target audience and genre classification in mind. However, the onus ultimately still rests with parents to decide to what extent they want to consider these advisories in their educational tasks.
These results indicate an evident divergence between the viewpoints expressed by the online focus group, which were strongly against the implementation of b-ACAs, and those of the end users, who expressed a strong need for b-ACAs. The divergence could be attributed to the different contexts in which the participants were invited to engage in the investigations – members of the focus group were requested to participate in their professional capacities as representatives or spokespeople for different sectors in the publishing value chain, whereas the survey respondents predominantly conveyed intuitive opinions from a parenting perspective.
This article reports on important results and deductions from an initial, investigative, qualitative, and quantitative investigation (i.e., that there is a need for b-ACAs among predominantly parents) that should be investigated further. For instance, additional individuals within the publishing value chain may be engaged, or this value chain may be broadened to encompass other pertinent sectors. Such sectors may incorporate, for instance, individuals from the Department of Basic Education who can provide viewpoints on the criteria for the submission and selection of recommended reading materials, as well as educational psychologists, reading specialists, and legal experts. Furthermore, we also posit that it would be beneficial to ascertain the needs and attitudes of underaged Afrikaans readers. In addition to the evident rationale of obtaining insights from the intended audience who may potentially be directly impacted by future b-ACAs, this demographic also represents the readers and consumers of the future and could be the source of valuable insights.
Keywords: age advisory; book; censorship; content advisory; publishing value chain; standard Kruskal–Wallis test
1. Inleiding
Sensuur is die praktyk waardeur die skep van en/of openbare toegang tot artefakte op grond van die inhoud daarvan onderdruk of beheer word – hetsy om politieke of morele redes of albei (Billiani 2007:3; Williams 1998). Sulke artefakte sluit in die beeldende kunste; uitvoerende kunste, insluitend film en teater; woordkuns, wetenskap en joernalistiek; en digitale produkte soos rekenaarspeletjies en webwerwe. Hoewel kundiges dit nie eens is oor die reikwydte van so ’n definisie nie (Sweeney 2003:198),1 kan ons hier volstaan met die standpunt dat sensuur verskillende vorme in ten minste drie dimensies kan aanneem:
- Gekodifiseerde vs. gewoontelike sensuur (Marx 2001): Aan die een kant vind ’n mens sensuur wat toegepas word ingevolge ’n eksplisiete wet of voorskrif, byvoorbeeld ’n fatwa wat in ’n religieuse konteks deur ’n moefti uitgereik word. Daarteenoor staan bepaalde gebruike en gewoontes wat nie noodwendig voorgeskryf is nie, maar wat sosiale drukgroepe toepas op grond van politieke en/of morele beginsels, byvoorbeeld die sogenaamde kanselleerkultuur, waar skeppers en/of hulle werke verdoem kan word op grond van druk uit die gemeenskap.
- Openbare vs. self- of private sensuur (Sweeney 2003): Die sigbaarste vorme van sensuur is sensuur wat deur een of ander instelling (soos die staat, regbank, kerke, skole en sakeondernemings (byvoorbeeld Twitter en Facebook)) geïnstitusionaliseer word in die vorm van ’n wet of statuut, regspresedent, beleidsdokument of ander reglement. Daarteenoor staan selfsensuur, waar ’n persoon hom- of haarself weerhou om ’n gedagte, standpunt of oortuiging uit te druk. In die geval van selfsensuur weerhou individue hul van die skeppingsproses óf omdat daar ’n eksterne sensor is (byvoorbeeld ’n wet), óf omdat die skepper self beheer wat en hoe hy of sy skep (byvoorbeeld iemand wat oor kanker wil skryf, maar kies om dit nie te doen nie, aangesien ’n familielid onlangs daaraan oorlede is). Kyk Cook en Heilmann (2012) vir ’n uitvoerige bespreking van selfsensuur.
- Postproduksiesensuur (vermanend) vs. preproduksiesensuur (voorkomend) (Tan 2019): Eersgenoemde tipe sensuur vind plaas nadat ’n artefak geskep en vrygestel is, byvoorbeeld ’n boek wat verban word, woorde wat uit ’n teks verwyder word, of vloekwoorde wat in ’n film uitgebliep word. Laasgenoemde vind voor of tydens die skeppingsproses plaas, byvoorbeeld deur ’n uitgewer wat voorskryf dat sekere temas of woorde nie in ’n boek mag voorkom nie, of deur ’n skrywer wat selfsensuur toepas.
Benewens selfsensuur en sosiale sensuur verskaf die Wet op Films en Publikasies 65 van 1996 (Suid-Afrikaanse Regering 1996) die raamwerk waarbinne films en publikasies in Suid-Afrika beheer kan word; dié wet is verder uiteraard onderhewig aan die fundamentele regte wat deel is van die Suid-Afrikaanse Grondwet. Die verantwoordelikheid vir die regulering van die vertoon en verspreiding van sekere artefakte (d.i. publikasies soos in die wet en wysigings daarop gedefinieer), die oplegging van ouderdomsbeperkings, en die verskaffing van verbruikersadvies berus by die Rolprent-en-Publikasieraad (RPR). Die eerste weergawe van dié wet het by uitstek voorsiening gemaak vir die opsigtelike klassifikasie van veral films; deur wetenskaplike, dokumentêre en literêre werk eksplisiet in Bylae 5 uit te sluit, het die skrywers van die wet probeer voorkom dat sulke werke ooit weer verban sou kon word (Van Rooyen 2012:146). Die wet is intussen verskeie kere gewysig – byvoorbeeld deur die Wysigingswet op Publikasies 11 van 2019 (Suid-Afrikaanse Regering 2019) – om veral voorsiening te maak vir nuwer tegnologieë en tipes publikasies (soos inhoud op sosialemediaplatforms en stromingsdienste).
Desnieteenstaande dié institusionele raamwerk, is daar steeds geen geïnstitusionaliseerde Suid-Afrikaanse implementering van ouderdoms- en inhoudsadvies vir boeke (b-OIA’s) nie. Dit sou byvoorbeeld advies oor genres, gepastheid van temas vir bepaalde ouderdomsgroepe, inhoudswaarskuwings oor naaktheid, taalgebruik en geweld, en snellerwaarskuwings vir selfdood en gevalle van mishandeling kon insluit.
Die situasie hier in Suid-Afrika is anders as byvoorbeeld in die VSA, waar boeke steeds gesensureer (kan) word. Boeke kan byvoorbeeld verbied word, of die sirkulasie daarvan kan beperk word as ’n bepaalde party die inhoud daarvan moreel onaanvaarbaar of aanstootlik binne ’n bepaalde konteks vind. Sulke partye sluit onder andere openbare en skoolbiblioteke in, en die boeke kan gesensureer word op onder meer maatskaplike, politieke of religieuse gronde (Foerstel 2002:73–90). So byvoorbeeld is daar volgens die Amerikaanse webwerf Unite Against Book Bans2 in 2021 in die VSA gepoog om meer as 1 597 verskillende boeke te verban.
Aan die een kant kan b-OIA’s, net soos in die geval van films en televisieprogramme (f-OIA’s), nuttig vir onder meer ouers wees, aangesien dit waardevolle advies kan verskaf om hulle in hul opvoedkundige taak te begelei. Aan die ander kant kan die algehele verbanning van of beperking op die verspreiding van boeke weer ’n negatiewe ingesteldheid teenoor die besluitnemingsliggame wat agter hierdie sensuur staan, kweek. Hierdie soort boekverbiedinge kan ook volgens die Unite Against Book Bans-webwerf3 sosiale, opvoedkundige en pedagogiese probleme veroorsaak, omdat kinders toegang tot kritieke inligting wat hulle help om hulself en die wêreld om hulle te verstaan, geweier word. Volgens Alexie (2011) is pogings om kinders teen gewaagde inhoud te beskerm, kontraproduktief, aangesien hulle waarskynlik in elk geval hierdie soort uitdagings in hul lewens gaan teëkom. Hierdie soort boeke bied dus vir hulle die geleentheid om deur karakters waarmee hulle hulself vereenselwig, hul eie konflikte en moontlike oplossings daarvoor te verken. Om kinders hiervan te weerhou, kan uiteindelik tot gevolg hê dat kinders met ’n eng wêreldbeskouing en sielkundige tekorte gelaat word. In ’n studie deur Ferguson (2014) word die verband tussen die lees van verbode boeke en verskeie gedragsprobleme onder ’n groep adolessente ondersoek, met die bevinding dat daar geen duidelike verband tussen die lees van hierdie boeke en enige vorm van geestesgesondheidsprobleme of (nie)gewelddadige gedrag is nie.
Dit is egter onduidelik wat Afrikaanssprekendes se denke en gevoel oor b-OIA’s vir boeke wat op kinders gemik is, is. Daarom is hierdie ondersoek toegespits daarop om deur middel van empiriese metodes te bepaal wat die behoefte onder die Afrikaanssprekende gemeenskap is aan:
- ouderdomsadvies vir Afrikaanse boeke; en
- inhoudsadvies vir Afrikaanse boeke.
Beide kwalitatiewe en kwantitatiewe empiriese metodes word in hierdie navorsing gebruik:
- Kwalitatiewe metodes. Kwalitatiewe data is ingesamel deur 1) ’n semigestruktureerde onderhoud met ’n Suid-Afrikaanse publikasiebeheer- en regskenner te voer; en 2) ’n aanlyn fokusgroepgesprek te voer met sewe deelnemers (die onderhoudvoerder en waarnemer uitgesluit) – almal verteenwoordigend van verskillende skakels in die publikasiewaardeketting.
- Kwantitatiewe metodes. Kwantitatiewe data is ingesamel deur ’n aanlyn vraelys vir ’n periode van ongeveer een maand op beide MaroelaMedia.co.za en WatKykJy.co.za beskikbaar te stel. Die data is ingesamel deur middel van ’n geriefsteekproefneming, dit wil sê die steekproef is verkry op ’n wyse wat die maklikste en gerieflikste vir die navorser is. Drie stellings met betrekking tot f-OIA’s en ses betreffende b-OIA’s is deur deelnemers op ’n 9-punt-Likertskaal (wat as ordinale data geïnterpreteer kan word) beoordeel, ten einde vas te stel wat hierdie populasie se houding en behoefte aan hierdie soort advies is. Drie demografiese vrae is ook aan deelnemers gevra, te wete met betrekking tot hulle ouderdom, hoogste kwalifikasie, en aantal en ouderdom van hulle kinders (indien enige).
Die kwalitatiewe metodes vir die navorsing word onderskeidelik in afdelings 2 en 3 bespreek, en afdeling 4 is toegespits op die kwantitatiewe ondersoek. Die artikel sluit af met ’n gevolgtrekking oor Afrikaanssprekendes se behoefte aan inhoudsadvies en ouderdomsbeperkings vir boeke wat op kinders gemik is, asook aanbevelings vir die instel van so ’n adviesdiens.
2. Metode 1: Onderhoud met ’n kenner
2.1 Metode
Die eerste metode van kwalitatiewedata-insameling was ’n semigestruktureerde een-tot-een-onderhoud met ’n Suid-Afrikaanse publikasiebeheerkenner vir die podsendingreeks Wat de vloekwoord!. Hierdie onderhoud is in 2020 deur Gerhard van Huyssteen met Kobus van Rooyen, een van die prominente figure in Suid-Afrikaanse publikasiebeheer, gevoer. In hierdie onderhoud gee Van Rooyen ’n oorsig oor die ontwikkeling van publikasiebeheer in Suid-Afrika, en spreek hy sy mening uit oor die tersaaklikheid en afdwingbaarheid van ouderdoms- en inhoudsadvies binne die huidige Suid-Afrikaanse konteks, asook wie verantwoordelikheid hiervoor moet neem.4
Die onderhoud is in ’n tuisateljee (in persona) opgeneem, en die leidinggewende gesprekspunte of -temas is vooraf met die deelnemer gedeel, maar geen spesifieke vrae is aan hom verskaf nie. Die gesprekspunte se doel was om die gesprek te lei, maar vrae is tydens die onderhoud aan die hand van die deelnemer se reaksie geformuleer. Die deelnemer het die geleentheid gehad om op enige stadium te stop om ’n antwoord te herformuleer, maar dit het nooit gebeur nie. Die opname is daarna tegnies geredigeer en vir die deelnemer gestuur om te kontroleer en toestemming te gee dat dit beskikbaar gestel mag word. Die opname is as deel van die Wat de vloekwoord!-podsendingreeks op 27 November 2020 in die openbare domein vir openbare verbruik vrygestel.5
2.2 Resultate
Kobus van Rooyen is ’n regskenner en was onder meer voorsitter van die komitee wat die Wet op Films en Publikasies van 1996 geskryf het, asook ’n voormalige voorsitter van die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (OKASA). Van Rooyen het bekend geword vir sy transformerende rol in rolprent- en publikasiebeheer toe hy in die 1980’s ’n nuwe vryheidsgeoriënteerde benadering as voorsitter van die Appèlraad oor Publikasies ingeneem het, ’n pos wat hy vir ’n dekade beklee het (Van Rooyen 2012). Hierdie benadering het tot ’n botsing met regeringsbeleid gelei, veral toe hy die voortou geneem het met die ontbanning van vryheidswerke soos die 1987-Steve Biko-film Cry freedom (1988) en Raymond Suttner se 1984-boek The freedom charter. In hierdie tyd het hy ook ’n prominente rol in die ontbanning van bekende Afrikaanse letterkundige werke soos Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein! (wat in 1979 die Hertzogprys vir letterkunde gewen het) en André P. Brink se Kennis van die aand gespeel.
Hierdie ontbanning gee ook uiteindelik aanleiding tot ’n algehele hersiening van die sensuurbedeling wat in die voorafgaande dekades geheers het: Van toe af word die waarskynlike leser, eerder as die gemiddelde man, asook die meriete en waarde van die letterkundige werk, in aanmerking geneem. In die Wet op Films en Publikasies 65 van 1996 (Suid-Afrikaanse Regering 1996) word daar ook uiteindelik geen sensuur meer op boeke toegepas nie, behalwe in gevalle waar haatspraak voorkom en dit moontlike regsimplikasies vir publikasieowerhede inhou.
Die hoofdoel van hierdie wet was egter om ouderdomsadvies vir rolprente vir kinders daar te stel, wat aanleiding gee tot ’n klassifikasiestelsel eerder as die geïnstitusionaliseerde sensuur waaraan Suid-Afrikaners tot in daardie stadium gewoond was. Hierdie ouderdomsbeperkings is ingestel om kwesbare groepe, soos kinders, te beskerm teen ongegronde of bestrybare gevalle, waar vloekwoorde en ander taboe-onderwerpe, soos eksplisiete geweld of seks, aan bod kom sonder die nodige kontekstualisering of ’n sentrale tema wat dit ondersteun.
Volgens Van Rooyen is daar drie maatstawwe om die aanvaarbaarheid of toelaatbaarheid van onder meer vloekwoorde en die beskrywing van ander taboe-onderwerpe in literêre werke te bepaal. Eerstens moet bepaal word of dit kontekstueel geregverdig is, tweedens of dit gepas is binne die groter geheel of narratief waarin dit voorkom, en derdens of daar wel ’n sentrale of oorkoepelende tema buiten die beskrywing van hierdie onderwerpe is. So kan bepaal word of dit die verdraagsaamheidsgraad van die bedoelde leser of lid van die teikengehoor oorskry, al dan nie.
Oor die vraag oor wie die verantwoordelikheid vir die toepassing van ouderdoms- en inhoudsadvies moet neem, meen hy dat die verantwoordelikheid tegelykertyd by liggame of komitees soos die RPR en die ouers van kinders berus. Die RPR beheer meestal slegs die openbare verspreiding en vertoning van hierdie materiaal, maar die onus rus uiteindelik by die ouers om te besluit wat toelaatbaar is, en of hulle die aanbevelings van die kenners uiteindelik in hul opvoedkundige taak in ag gaan neem.
2.3 Voorlopige gevolgtrekking
Volgens Van Rooyen moet ’n bestel vermy word waar die staat, regbank, biblioteke en skole etikette op literêre werke plaas. Hoewel staatsinstellings soos die RPR beslis ’n verantwoordelikheid het om verbruikers, spesifiek kinders, teen onvanpaste en potensieel skadelike inhoud te beskerm, asook om die breër Suid-Afrikaanse samelewing te bemagtig om ingeligte keuses te maak, moet die uiteindelike keuse in die hande van die ouers gelaat word. In die geval van f-OIA’s wat deur die RPR toegeken word, bly dit uiteindelik ouers se keuse waaraan hulle hul kinders gaan blootstel, gebaseer op die vlak van blootstelling waarmee hulle gemaklik is. Van Rooyen meen wel dat indien ’n ouer besluit om nie die aanbevelings in ag te neem nie, dit wenslik is dat ouers self die film moet kyk of die boek moet lees ten einde ’n ingeligte besluit oor die gepastheid daarvan vir hulle kind te kan neem.
3. Metode 2: Aanlyn fokusgroep met volwasse rolspelers
3.1 Metode
Die tweede metode van kwalitatiewedata-insameling was deur middel van ’n aanlyn fokusgroep.6 Die doel van die fokusgroep was tweërlei van aard:
- om argumente vir en teen die wenslikheid van b-OIA’s in te samel; en
- om, indien daar genoeg aanduidings is dat dit wenslik is, opinies en idees in te samel oor hoe b-OIA’s moontlik prakties geïmplementeer sou kon word.
Ten einde deelnemers vir die fokusgroep te identifiseer, is besluit om ten minste een verteenwoordigende volwasse persoon uit die belangrikste dele van die publikasiewaardeketting te kies. Vir dié doeleindes is ’n eenvoudige publikasiewaardeketting opgestel – vergelyk Figuur 1. (Kyk ook McIlroy 2015.) Aan die hand van die geïdentifiseerde rolspelers in elke skakel van die waardeketting is potensiële deelnemers uit die kennisnetwerk van die navorsers geïdentifiseer. Die finale samestelling van die fokusgroep is uiteindelik gebaseer op die beskikbaarheid van deelnemers om aan die fokusgroep deel te neem, maar daar is wel gesorg dat daar genoegsame verteenwoordiging uit elk van die skakels in die waardeketting was. Daar sou natuurlik ook vele ander belanghebbendes, ook uit ander geledere (byvoorbeeld die onderwyssektor), betrek kon word om aan dié gesprek of toekomstige gesprekke deel te neem. Demografiese verteenwoordiging was egter nie ’n desideratum nie, aangesien daar van die standpunt uitgegaan is dat die fokusgroep waarskynlik deur ’n aanlyn vraelys opgevolg sou word. Benewens die onderhoudvoerder en ’n waarnemer wat notas geneem het, het die fokusgroep uiteindelik soos volg daar uitgesien:
- Ontwikkeling: Skrywer 1 (kinder- en jeugboeke)
- Ontwikkeling: Skrywer 2 (volwasse boeke)
- Produksie en vervaardiging: Uitgewer (veral ook met ervaring in die skoolmark)
- Bemarking en verspreiding: Kritiese leser (opvoedkundige sielkundige)
- Groothandel: Aankoopbestuurder (ook ervare as winkeleienaar en verkoopsassistent)
- Kleinhandel: Bestuurder van ’n webplatform
- Verbruik: Letterkundige
Figuur 1. Eenvoudige publikasiewaardeketting met belangrikste rolspelers
Die fokusgroepbyeenkoms het aanlyn via Zoom plaasgevind, en minimale konteks is aan die deelnemers verskaf, behalwe wat in hierdie konteks met b-OIA’s bedoel word (kyk die definisie en voorbeelde in afdeling 1 hier bo). Om die saak konkreet te illustreer, is die voorbeeld van die Amerikaanse organisasie Common Sense Media7 kortliks deur die onderhoudvoerder as voorbeeld voorgehou. In Figuur 2 word Common Sense Media se kategorieë en kategorisering van Harry Potter and the deathly hallows (Rowling 2007) geïllustreer, terwyl hulle beskrywing van die boek in Figuur 3 verskyn. In afdeling 3.2.2 sal hierdie voorbeeld gebruik word om enkele van die deelnemers se menings toe te lig.
Figuur 2. Common Sense Media se kategorisering van Harry Potter and the deathly hallows (Rowling 2007)
Figuur 3. Common Sense Media se beskrywing van Harry Potter and the deathly hallows (Rowling 2007)
Daarna is drie spesifieke vrae aan hulle gestel om die gesprek te struktureer:
- Waarom sou dit wenslik wees om b-OIA’s vir Afrikaanse boeke wat op kinders gemik is, te implementeer?
- Waarom sou dit onwenslik wees om b-OIA’s vir Afrikaanse boeke wat op kinders gemik is, te implementeer?
- Veronderstel daar is ’n dwingende markbehoefte vir b-OIA’s vir Afrikaanse boeke wat op kinders gemik is, hoe sou dit prakties geïmplementeer kon word?
By elke vraag het elk van die deelnemers eers die geleentheid gehad om die vraag inleidend te beantwoord (of om bloot te sê dat hulle dit met ’n vorige spreker eens is), waarna die vloer oopgestel is vir bespreking en gesprekvoering. Daar is nagenoeg 25 minute aan elke vraag spandeer, en die byeenkoms het ’n totaal van 90 minute geduur. Hoewel die tyd beperk was (ten einde voosheid by die deelnemers te voorkom), was die deelnemers dit aan die einde van die byeenkoms eens dat almal die geleentheid gehad het om hulle opinies te lug. Die feit dat daar tot ’n groot mate eensgesindheid onder die deelnemers oor die meeste van die antwoorde was, het ook bygedra tot die gevoel dat die onderwerp genoegsaam deurtrap is.
Die gesprek is nie opgeneem nie, maar die onderhoudvoerder en waarnemer het gedetailleerde notas geneem wat na afloop van die byeenkoms gekonsolideer is om as data vir hierdie artikel te dien. Om die betroubaarheid van die data te verseker, is hierdie afdeling van die artikel ook deur twee van die fokusgroepdeelnemers gelees en van kommentaar voorsien.
3.2 Resultate
Aan die begin en deur die loop van die gesprek het deelnemers dit duidelik gemaak dat ’n mens b-OIA’s duideliker moet definieer. Die volgende onderskeide is getref:
- Met betrekking tot inhoudsadvies moet daar onderskei word tussen:
- genres (byvoorbeeld speurverhaal, spioenasieverhaal, romanse);
- temas (byvoorbeeld grootword, ouerskap, egskeiding);
- inhoudswaarskuwings (byvoorbeeld naaktheid, vloek, geweld); en
- snellerwaarskuwings (byvoorbeeld selfdood, selfskending, mishandeling).
- Met betrekking tot ouderdomsadvies moet daar onderskei word tussen:
- leesvaardigheidsvlakke (byvoorbeeld dat die woordeskat, uitleg en illustrasie van ’n boek geskik is vir lesers tussen 6 en 8);
- temas (byvoorbeeld dat romantiese temas oninteressanter vir kinders jonger as (sê nou maar) 12 sal wees); en
- ouderdomsbeperkings (byvoorbeeld dat ’n boek nie geskik is vir lesers jonger as 12 nie).
Die fokusgroep was dit deurgaans eens dat ouderdomsbeperkings op boeke nóóit wenslik is nie; in die res van die bespreking in hierdie afdeling verwys inhoudsadvies dus nooit na ouderdomsbeperkings nie.
Die argumente en opinies wat by elkeen van die drie vrae geopper is, word hier onder puntsgewys opgesom.
3.2.1 Waarom sou dit wenslik wees om b-OIA’s te implementeer?
- Genrekategorisering is en bly nuttig vir sowel verkopers (byvoorbeeld om boeke per genre in ’n boekwinkel uit te stal) as lesers8 (wat miskien op soek is na ’n spesifieke soort verhaal).
- Temakategorisering kan ook nuttig wees vir lesers wat self met bepaalde kwessies worstel en daaroor wil lees. Sulke tema-inligting kan direk of indirek in die beskrywende flapteks aangebied word.
- Ouers wat nie noodwendig self al die boeke (kan/wil) lees wat hulle vir hulle kinders koop of beskikbaar stel nie, mag ook b-OIA’s nuttig vind. Dit geld veral inhouds- en snellerwaarskuwings, asook adviese met betrekking tot leesvaardigheidsvlakke en interessante en/of geskikte temas vir bepaalde ouderdomsgroepe.
- Kopers vir indirekte verbruik – soos iemand wat ’n boek as ’n geskenk wil gee – sou ook b-OIA’s nuttig kon gebruik. Iemand sou dalk nie ’n boek as geskenk wou gee waarin eksplisiete sekstonele voorkom nie, of iemand wat nie kinders het nie, sou dalk wou weet of ’n bepaalde boek geskik sou wees as verjaarsdaggeskenk vir ’n 12-jarige kind.
3.2.2 Waarom sou dit onwenslik wees om b-OIA’s te implementeer?
Die algemene, oorkoepelende mening van die fokusgroep was dat b-OIA’s uit beginsel uit onwenslik is vanuit veral ’n menseregte- en opvoedkundige perspektief.
- Menseregteperspektief
- Die Suid-Afrikaanse institusionele sensuur van die 1970’s en 1980’s lê nog vars in die geheue van Afrikaanse lesers (of ten minste deelnemers aan die fokusgroep).
- Die vryheid van keuse wat in die waardesisteem van die Suid-Afrikaanse Grondwet ingebou is, moet ten alle koste gerespekteer, bewaak en bevorder word. Dit geld veral ook die individu se vryheid om toegang tot inligting (en vermaak) te hê sonder enige institusionele inmenging deur byvoorbeeld die staat, kerk, politieke drukgroepe en so meer.
- Waar daar wel ’n institusionele verpligting is om sekere groepe (soos kinders) te beskerm, moet dit altyd binne die konstitusionele raamwerk van menseregte geskied.
- In dié verband is dit altyd nodig om te onderskei tussen ’n werklike verpligting (soos opgelê deur die Grondwet of ander wetgewing) en ’n vermeende verpligting (byvoorbeeld vanuit ’n spesifieke godsdienstige of politieke waardestelsel). Eersgenoemde moet uiteraard gehoorsaam word, terwyl laasgenoemde krities beoordeel en omsigtig hanteer moet word.
- Opvoedkundige perspektief
- Lesers (en veral kinders) moet self ’n onderskeidingsvermoë aanleer en ontwikkel – dit geld nie net lees en vermaak nie (soos om gepaste boeke te lees), maar ook besluite oor baie ander alledaagse sake (byvoorbeeld wanneer watter tipe kleredrag gepas is, wanneer om iets stilswyend te aanvaar en wanneer om luidkeels te protesteer). B-OIA’s kan lesers van dié leerervaring ontneem deur die interpretasies en grense van ander (volwasse) lesers op hulle af te dwing.
- Ook kan b-OIA’s potensieel beperkend wees. ’n Leser wat byvoorbeeld boeke vermy wat oor seksuele ontwaking handel, kan dan ook ander belangrike temas misloop, byvoorbeeld temas oor selfbeeldontwikkeling, aanvaarding van ander mense, en so meer.
- Dit kan ook gebeur dat b-OIA’s iemand om verkeerde redes aanmoedig om ’n bepaalde boek te lees. Een van die fokusgroepdeelnemers vertel byvoorbeeld dat sy/hy as ’n jong tiener juis geprikkel was om boeke met ’n ouderdomsbeperking te soek en te lees. Sy/hy erken dat dit uiteraard ’n stimulerende en leersame ervaring was, maar dat die ouderdomsbeperking (die b-OIA) die trekpleister was, eerder as ’n bepaalde skrywer, genre of tema.
- Duidelik sigbare b-OIA’s (byvoorbeeld op die buiteblad van ’n boek) het ook die potensiaal om ’n verleentheid vir ’n leser (en veral ’n kind) te wees. As daar byvoorbeeld ’n duidelike waarskuwing op die buiteblad is dat daar tonele van dwelmgebruik in die boek beskryf word, kan ander mense (kinders) dink dat die leser dalk ’n dwelmprobleem het. Die keersy van die munt kan ook waar wees: ’n Leser met ’n dwelmprobleem wat daaroor wil lees, kan bang wees om ’n boek te koop of te lees waarvan daar eksplisiet op die buiteblad staan dat die boek oor dwelmgebruik handel.
Die fokusgroepdeelnemers was dit ook met mekaar eens dat subjektiwiteitsprobleme met betrekking tot die implementering van b-OIA’s een van die grootste redes is waarom dit onwenslik is. In dié verband is veral verwys na besluite oor (a) watter kategorieë belangrik is; (b) hoe dié kategorieë geïnterpreteer moet word; en (c) wie uiteindelik die kategorisering moet doen. Hoewel Harry Potter and the deathly hallows nie as spesifieke voorbeeld in die fokusgroep bespreek is nie, kan Common Sense Media se inskrywing daarvan (kyk Figuur 2 en 3) gebruik word om hierdie problematiese aspekte te illustreer.
- Op grond waarvan word kategorieë gekies? Common Sense Media gebruik nege kategorieë, waaronder Language, Sex, Romance & Nudity en Drinking, Drugs & Smoking (kyk Figuur 2). Die vraag is waarom, en op grond waarvan, hierdie kategorieë gekies is. Waarom is daar nie byvoorbeeld kategorieë wat verwys na aanvegbare religieuse kwessies (soos sê nou maar of kreasionisme of evolusieleer in ’n bepaalde boek voorop gestel word), politieke uitgangspunte (soos neonaziisme) of sensitiewe temas (soos selfdood, ongeneeslike siektes, kindermishandeling, mensehandel, ens.) nie? Waarom word ’n kriminele oortreding soos dwelmgebruik uitgesonder, maar “erge” oortredings (soos moord) of “mindere” oortredings (soos spoedoortredings) word nie genoem nie? Die fokusgroep was van mening dat dit haas onmoontlik word om ’n eindige lys van gedetailleerde kategorieë te identifiseer.
- Hoe moet die kategorieë geïnterpreteer word? In Common Sense Media se hantering van Harry Potter and the deathly hallows byvoorbeeld word die boek met twee kolle in die kategorie Language gemerk, gebaseer op die gebruik van “[…]‘damn’ and ‘hell’ but also ‘effing’, ‘bastard’, and one very memorable use of ‘bitch’.” Die kategorie Language word op die Common Sense Media-webwerf soos volg omskryf: “Which specific words are used? What’s the general frequency of the swearing? What about hate words/name-calling?”9 Daar is egter nóg ’n aanduiding van hoe vloek- en skelwoorde gedefinieer word, nóg riglyne vir die evalueringskaal. Dit is dus nie duidelik waarom twee kolle (en nie byvoorbeeld een of drie nie) aan die boek toegeken word nie. Dit is ook nie duidelik hoe besware teen bepaalde kategoriserings hanteer sou word nie, en of kategoriserings met verloop van tyd verander. (Wat byvoorbeeld in 1950 as vloekwoorde beskou is, is nie noodwendig in 2020 meer vloekwoorde nie.)
- Wie moet die kategorisering doen? In dié verband sê Common Sense Media: “With experts in childhood development and children’s media literacy, we’ve developed a research-based rating system unlike any other. […] Our ratings are written by expert reviewers and aren’t influenced by the creators, media partners, or funders in any way. Our editorial integrity and independence is [sic] of the utmost importance to our approach.” Hoewel dit op sig prysenswaardig is dat kenners gebruik word om die resensies te skryf en kategorisering te doen, hang dit natuurlik af hoe dit geïmplementeer word. Is daar slegs een keurder per boek? Is die span van keurders verteenwoordigend van die Amerikaanse lesersgemeenskap?
3.2.3 Hoe sou b-OIA’s prakties geïmplementeer kon word?
- Indien b-OIA’s wel om een of ander rede (byvoorbeeld ’n dwingende behoefte onder lesers) geïmplementeer word, moet twee algemene beginsels geld:
- B-OIA’s moet geïmplementeer word as ’n geleentheid om mense in te lig, eerder as om mense te waarsku.
- B-OIA’s moet daarop gerig wees om mense (veral kinders) aan te moedig om soveel as moontlik te lees, eerder as om hulle te ontmoedig om te lees.
- In die praktyk word b-OIA’s eintlik reeds op verskeie maniere geïmplementeer:
- Uitgewers en redakteurs speel ’n enorme en belangrike rol in watter temas op watter manier vir watter lesers aangebied word.
- Die omslag van ’n boek – insluitend die voorbladontwerp en die flapteks op die agterblad – speel prakties ’n deurslaggewende rol in die kategorisering van ’n boek. Die belangrikheid van ’n gepaste omslag en omslagteks kan nooit onderskat word nie.
- Handelaars word meestal deur uitgewers van notas voorsien om leiding te gee met betrekking tot die genre van ’n boek, die veronderstelde leserspubliek, en so meer. Die onus rus dus op handelaars om dié inligting op effektiewe en verantwoordelike wyse prakties in werking te stel.
- Enige vorm van kategorisering moet sterk aan ’n navorsingsprogram gekoppel word (soortgelyk aan dié van byvoorbeeld Common Sense Media).10
- Kategorieë moet baseer word op lesers se vermoë, eerder as op grond van inhoud. Dit wil sê, ouderdomsadvies wat verband hou met lesers se veronderstelde leesvaardigheid (vergelyk byvoorbeeld Du Plessis en De Vos (2022) se voorstelle vir leesgemakindekse vir Afrikaanse eerstetaalsprekers tussen graad 4 en graad 7) is veel wensliker as inhoudsadvies. Nietemin moet enige vorm van ouderdomsbeperking, asook enige tipe snellerwaarskuwing, ten alle koste vermy word.
- Met betrekking tot kinders is dit baie belangrik om alle oorwegings, met die kind se perspektief en belang voorop gestel, in ag te neem.
- Ouers is dikwels die enigste waghond wat besluit oor wat (on)wenslik vir hulle kinders is. Hoewel dit nie verkeerd is nie, is dit uiters problematies as hulle besluite op oningeligte oorwegings en/of wanpersepsies baseer word. So byvoorbeeld kan kinders se oordeelsvermoë maklik onderskat word: Ouers mag dalk nie bewus wees van die tipe inhoud waaraan hulle kinders blootgestel word buite die beskerming van daardie spesifieke ouerhuis nie. Dit is daarom belangrik dat ouers van akkurate, betroubare en gebalanseerde inhoud voorsien word.
- Kinders se verbeelding laat hulle toe om net soveel te verwerk as wat hulle kan wanneer hulle boeke lees; dit is anders as in films en rekenaarspeletjies, waar die visuele uitbeelding weinig aan die verbeelding oorlaat.
- Indien b-OIA’s in gedrukte boeke geïmplementeer word, moet dit binne-in die boek gedoen word (byvoorbeeld op die kopieregbladsy). Die enigste b-OIA wat wenslik op die buiteblad is, sou moontlik advies met betrekking tot leesvermoë kon wees.
- Dit sou redelik maklik wees om ’n webwerf en/of slimfoontoepassing soortgelyk aan Common Sense Media te skep. Dit sou selfs moontlik wees om só ’n diens aan die bekende Goodreads se databasis te koppel deur middel van hulle programmeringskoppelvlak.11
- Navorsing moet gedoen word om te bepaal wat die behoeftes in die Afrikaanse lesersgemeenskap is en om daardie behoeftes beter te verstaan.
3.3 Voorlopige gevolgtrekking
Die algemene gevolgtrekking was dat ouderdomsadvies met betrekking tot leesvermoë die enigste wenslike b-OIA is, selfs al sou verskeie eindgebruikers dalk verskillende ander b-OIA’s nuttig kon vind. Die belangrikste redes waarom b-OIA’s nie wenslik is nie, is dat dit:
- inbreuk maak op lesers (insluitend kinders) se vryheid van keuse
- te veel potensieel negatiewe opvoedkundige implikasies het; en
- meestal subjektief geïmplementeer en toegepas word.
Die fokusgroep was dit uiteindelik eens dat daar wel sommige eindgebruikers (soos ouers en onderwysers) sou kon wees wat ’n behoefte aan b-OIA’s het. Die aanbeveling van die fokusgroep was dat ’n mens ’n behoorlike behoeftebepaling moet doen om dié behoeftes beter te verstaan. Indien dit sou blyk dat die behoeftes algemeen is (dus met ander woorde nie beperk tot sekere demografiese groepe nie), sou daar begin kon word met navorsing om die moontlikheid te ondersoek van die implementering van ’n verantwoorde diens vir Afrikaanse boeke. Die algemene sentiment van die fokusgroep was egter dat dit met groot omsigtigheid en versigtigheid aangepak moet word, aangesien die argumente téén b-OIA’s eintlik sterk genoeg is.
4. Metode 3: Aanlyn vraelyste
Na aanleiding van die advies van die fokusgroep (afdeling 3) is daar besluit om van ’n aanlyn vraelys12 gebruik te maak om die behoeftes onder Afrikaanssprekendes te bepaal. Deur middel van die aanlyn vraelys wil ons bepaal of Afrikaanssprekendes ’n behoefte aan b-OIA’s het, soortgelyk aan f-OIA’s. Indien wel, hoe moet dit aangebied word (byvoorbeeld op die voorblad of agterblad van die boek)? Wie se verantwoordelikheid is dit om b-OIA’s te verskaf en/of toe te pas (byvoorbeeld die regering, ouers of uitgewers)? En ook: Is daar ’n korrelasie tussen mense se antwoorde met betrekking tot boeke en hulle persepsies oor f-OIA’s?
Ons wil ook uiteindelik weet watter veranderlikes ’n rol speel in lesers se voorkeure. Is dit hulle ouderdom, kwalifikasie, of hulle kinders het, hoeveel kinders hulle het, of hoe oud die kinders is?
4.1 Metode
Die aard van hierdie metode is noneksperimenteel, daarop gerig om ’n deursneeperspektief op ’n bepaalde tydstip te kry. Die vraelys is primêr as ’n enkelsteekproefbeskrywing ontwerp, en sekondêr met die oog op assosiasies en korrelasies. Deurdat ons van beskikbaarheidsteekproefneming (as ’n tipe geriefsteekproefneming) gebruik maak, moet die metode as ’n niewaarskynlikheidsprosedure beskou word. Vir ’n ondersoek met ’n opstelling van hierdie aard kan aanvaar word dat ’n steekproef van 400 respondente voldoende is om akkurate metings met ’n 95%-vertrouenspeil te lewer (Aron e.a. 2013; Field en Hole 2002).
Die vraelys het uit drie stellings met betrekking tot f-OIA’s en ses betreffende b-OIA’s bestaan.13 Deelnemers moes op ’n 9-punt-Likertskaal (wat as ordinale data geïnterpreteer kan word) aandui in watter mate hulle met die stellings saamstem, waar “1” beteken hulle stem heeltemal met die stelling saam, en “9” beteken hulle stem glad nie met die stelling saam nie. Slegs drie demografiese vrae wat onses insiens moontlik relevante veranderlikes14met betrekking tot die navorsingsvraag sou kon wees, is ook aan deelnemers gevra, te wete:
- Ouderdomsgroep: Respondente moes aandui in watter ouderdomsgroep hulle val. Die veronderstelling was dat jonger mense dalk positiewer tot neutraler teenoor f-OIA’s en b-OIA’s sou staan, terwyl ouer respondente negatiewer sou wees, aangesien hulle nog die geïnstitusionaliseerde sensuur van die apartheidsregime voor oë sou kon roep. Respondente moes dus bloot een van drie ouderdomsgroepe kies: 18–39 (jongmense en ouers met jonger kinders); 40–59 (middeljarige mense en ouers met ouer kinders); en 60+ (ouer mense en ouers met volwasse kinders en moontlik kleinkinders).
- Hoogste kwalifikasie: Respondente moes aandui wat hulle hoogste kwalifikasie is. Die insluiting van hierdie veranderlike is baseer op die aanname dat respondente met meerdere kwalifikasies ’n hoër premie op toegang tot inligting via boeke sou plaas en dus negatiewer teenoor f-OIA’s en b-OIA’s sou staan.
- Aantal en ouderdom van kinders (indien enige): Respondente moes eerstens aandui of hulle kinders het of nie, en indien wel, hoeveel kinders en wat hulle gemiddelde ouderdom ten tye van die invul van die vraelys was. Hierdie veranderlikes is ingesluit aangesien ons veronderstel het dat ouers oor die algemeen dalk ander behoeftes met betrekking tot en menings oor f-OIA’s en b-OIA’s as mense sonder kinders sou hê.
In totaal is daar dus vyf demografiese bepalers wat in die statistiese ontledings gebruik kan word, naamlik:
- die ouderdom van die deelnemers;
- hul hoogste kwalifikasie;
- of hulle kinders het of nie;
- die aantal kinders wat hulle het; en
- die ouderdom van die kinders.
Die populasie was besoekers wat die Maroela Media- (MM-) en WatKykJy- (WKJ-) webblaaie tussen 29 Januarie en 28 Februarie 2021 besoek het. MM15 is die grootste gratis Afrikaanse nuus- en joernaalwebwerf, met gemiddeld 2,1 miljoen unieke lesers per maand in 2021, en sowat 45,7 miljoen bladsye per maand op hulle webwerf en app gelees.16 Manlike gebruikers vorm 36% van hulle gebruikers, terwyl 64% vroue is. 94% van hulle gebruikers woon in Suid-Afrika, waarvan 52% in Gauteng en 25% in die Wes-Kaap. Met betrekking tot ouderdomsgroepe is die verdeling redelik gelykop: 18–25 = 6%; 25–34 = 21%; 35–44 = 18%; 45–54 = 19%; 55–64 = 20%; en 65+ = 16%.
WKJ17 is ’n niswebwerf (en dus veel kleiner as MM) wat op sogenaamde Zefrikaans en lighartige materiaal vir volwasse lesers fokus. Dit is daarom juis as addisionele platform vir die ondersoek gekies, aangesien dit ’n ander soort teikenleser bereik. Die jongste inligting wat oor WKJ beskikbaar is, is helaas meer as vyf jaar oud:
The site is updated daily with new material and gets about 95 000 unique visits per month that generate approximately 500 000 views. Approximately 55% of the visitors are male, 45% are female, and 80% of the visitors are South African. Most of the site’s visitors live in Gauteng (50,67%) and the Western Cape (24,61%). Approximately 27,5% of the visitors are 18–24 years old, about 30% are 25–34 years old and about 15,5% are 35–44 years old. The rest of the regular audience is 45 or older […]. (Breed 2017)
Hierdie twee platforms is gekies op grond van die vooronderstelling dat hulle uiteenlopende (selfs teenoorgestelde) populasies het. MM is die grootste Afrikaanse webwerf; WKJ is ’n betreklik klein webwerf. MM is gerig op lesers van enige ouderdom; WKJ is by uitstek slegs op volwasse lesers gerig. MM funksioneer eksplisiet binne ’n Christelike waardesisteem; WKJ implisiet nié. MM modereer kommentaar van gebruikers (om potensieel aanstootlike kommentaar te verwyder); WKJ nié. Die vooronderstelling is gemaak dat indien ’n bepaalde resultaat onder beide webwerwe se respondente aangetref word, dit as onafhanklike verifikasie van daardie resultaat kan dien.
Ons vertrouenspeil van 95% en vertrouensinterval kleiner as 0,05 vereis 323 respondente, bereken op ’n totale populasie van naastenby 6,85 miljoen Afrikaansmoedertaalsprekers (Mulder e.a. 2022). Die uiteindelike getal reaksies was n = 482, waarvan n = 457 van MM en n = 25 van WKJ afkomstig was. Die getal deelnemers van WKJ was te min om statisties te ontleed en word daarom van enige verdere ontledings en besprekings uitgesluit.
Van die MM-deelnemers was die meerderheid in die 40–59-ouderdomsgroep (54%), gevolg deur die 18–39-ouderdomsgroep (27%) en 17% in die 60+-ouderdomsgroep. In totaal het 325 (71%) van die deelnemers kinders, waarvan die meerderheid ouer as 26 jaar is (17%), gevolg deur kinders tussen 11 en 14 jaar (15%) en 7 en 10 jaar (10%).18 Van die deelnemers met kinders het 35% twee kinders, 21% een kind, 13% drie kinders, 7% vier kinders, en 2% het vyf of meer kinders. 92% van die deelnemers het tersiêre kwalifikasies, en ’n besonder hoë getal het nagraadse kwalifikasies (22% honneurs-, 13% meesters- en 6% doktorsgrade).
Ontledings van die data word gedoen deur die Kruskal-Wallis-toets (Kruskal en Wallis 1952) te gebruik om te bepaal of daar statisties beduidende verskille tussen die demografiese bepalers is. Indien daar beduidende verskille is, word Dunn se post hoc-toets (Dunn 1961) gebruik om te bepaal waar die verskille lê.
4.2 Resultate
Deelnemers is eerstens gevra tot watter mate hulle saamstem dat die huidige f-OIA’s nuttig is, of dit voldoende is en of hulle hul aan die klassifikasie steur. Op die Likertskaal verteenwoordig “1” die positiefste reaksie (die f-OIA’s is met ander woorde nuttig, voldoende en hulle steur hulle daaraan), terwyl “9” die negatiefste, teenoorgestelde reaksie verteenwoordig. Figuur 4 wys duidelik dat die oorgrote meerderheid dit eens is dat dit nuttig (mediaan = 2) en voldoende (mediaan = 3) is en dat hulle hulle daaraan steur (mediaan = 3). As ons die nege opsies op die Likertskaal in drie groepe kluster (1–3 = stem saam; 4–6 = tussenin; en 7–9 = stem nie saam nie), stem 74% saam dat dit nuttig is, 60% dat dit voldoende is, en 59% stem saam dat hulle hul daaraan steur.
Verdere ontledings van die data wys dat daar statisties beduidende verskille tussen demografiese faktore van die deelnemers bestaan. Deelnemers in die 60+-ouderdomsgroep stem beduidend sterker saam dat dit voldoende is (mediaan = 1,5), in vergelyking met die 18–39-ouderdomsgroep (mediaan = 3; p = 0,02)). Deelnemers met kinders ouer as 26 jaar stem ook sterk saam dat dit voldoende is (mediaan = 2), teenoor deelnemers met kinders wat 0 tot 2 jaar oud is (mediaan = 4,5; p = 0,04).19
Oor die vraag of hulle hul aan die klassifikasiestelsel van films steur, is daar statisties beduidende verskille tussen die 18–39-ouderdomsgroep (mediaan = 4) en die 40–59-ouderdomsgroep (mediaan = 2; p = 0,006). Die deelnemers met kinders (mediaan = 2) steur hulle ook beduidend meer aan die klassifikasiestelsel as die deelnemers sonder kinders (mediaan = 4; p < 0,001).
Figuur 4. Deelnemers se beskouing van f-OIA’s
Die deelnemers is vervolgens gevra of boeke ook op soortgelyke wyse geklassifiseer moet word. Twee vrae is aan hulle gestel, te wete of dit met betrekking tot ouderdomsgroepe en/of inhoud geklassifiseer moet word. Figuur 5 wys dat die oorgrote meerderheid sterk voel dat dit nodig is om beide die ouderdomsgroep en die inhoud te klassifiseer (mediaan = 1 vir beide). As ons weer die nege opsies op die Likertskaal in drie groepe verdeel, voel 71% sterk dat dit volgens ouderdomsgroepe geklassifiseer moet word, 11% voel neutraal oor die saak, en 18% voel dit is glad nie nodig nie. Met betrekking tot die klassifikasie van die inhoud is die verdeling baie soortgelyk, met 73%, 9% en 18% onderskeidelik.
Daar is vier demografiese bepalers wat ’n statisties beduidende impak op deelnemers se gevoel oor ouderdomsadvies vir boeke het, te wete hul ouderdom, kwalifikasies, of die deelnemers kinders het en wat die ouderdom van hul kinders is. Deelnemers in die 40–59-ouderdomsgroep voel sterker (mediaan = 1) dat ouderdomsadvies nuttig sal wees vir boeke, teenoor die 60+-jarige deelnemers (mediaan = 2; p = 0,03). Verdere beduidende verskille is ook teenwoordig tussen deelnemers se kwalifikasies (p = 0,01) en die ouderdom van hul kinders (p = 0,04), waar die deelnemers met jonger kinders sterker voel dat dit nodig is. Die grootste bepaler blyk te wees of die deelnemer kinders het, al dan nie. Deelnemers met kinders voel sterker (mediaan = 1) dat ouderdomsadvies nodig is as deelnemers sonder kinders (mediaan = 2,5), met p < 0,001.
Die deelnemers se gevoel oor inhoudsadvies vir boeke is soortgelyk, maar dit blyk dat die deelnemers se ouderdom en kwalifikasie (nasionale seniorsertifikaat (mediaan = 1) teenoor magistergraad (mediaan = 3)) in hierdie geval ’n kleiner rol speel (p = 0,05 en p = 0,03 onderskeidelik). Deelnemers met kinders voel wel weer eens sterker (mediaan = 1) dat inhoudsadvies toegeken moet word, teenoor deelnemers sonder kinders (mediaan = 2), ook met p < 0,001.
Figuur 5. Deelnemers se beskouing van b-OIA’s
Ons het ook ondersoek of daar ’n verband tussen mense se antwoorde met betrekking tot boeke en hul persepsies oor f-OIA’s is. Om dit te bepaal, het ons eerstens die reaksies oor die nuttigheid van f-OIA’s (mediaan = 2) met die reaksies oor die nuttigheid van ouderdomsadvies vir boeke (mediaan = 1) vergelyk. Hierdie vergelyking is gedoen deur Wilcoxon se rangtekentoets (Wilcoxon 1945) te gebruik. Die nulhipotese (H0) was dat daar geen verskille tussen deelnemers se opinies oor f-OIA’s en b-OIA’s (ouderdomsadvies) se nuttigheid is nie. Die p-waarde van 0,25 dui daarop dat die H0 staan en dat daar geen statisties beduidende verskil tussen die reaksies oor die nuttigheid van f-OIA’s en die reaksies oor die nuttigheid van ouderdomsadvies vir boeke is nie.
Ons het Wilcoxon se rangtekentoets ook gebruik om die reaksies oor die nuttigheid van f-OIA’s (mediaan = 2) met die reaksies oor die nuttigheid van inhoudsadvies vir boeke (mediaan = 1) te vergelyk. Die H0 was weer eens dat daar geen verskille tussen deelnemers se opinies oor f-OIA’s en b-OIA’s (inhoudsadvies) se nuttigheid is nie. Die p-waarde van 0,64 dui daarop dat die H0 staan en dat daar ook geen statisties beduidende verskil tussen die [reaksies] oor die nuttigheid van f-OIA’s en die reaksies oor die nuttigheid van inhoudsadvies vir boeke is nie.
Aangesien die data toon dat deelnemers wel ’n sterk behoefte aan b-OIA’s het, word daar vervolgens verslag gelewer oor waar in boeke hierdie b-OIA’s aangebied moet word (kyk Figuur 6).
Figuur 6. Deelnemers se beskouing oor waar b-OIA’s aangebied moet word
Deelnemers met kinders voel statisties beduidend sterker (mediaan = 2) dat b-OIA’s op die voorblad hoort, teenoor deelnemers sonder kinders (mediaan = 6; p < 0,001). Die deelnemers met ’n nasionale sertifikaat voel ook beduidend sterker (mediaan = 1) dat die inligting op die voorblad hoort, teenoor deelnemers met ’n B-graad of hoër kwalifikasie (mediaan = 5 vir al vier gevalle; p = 0,01).
Oor of die inligting op die agterblad hoort, voel die respondente van die 18–39-ouderdomsgroep statisties beduidend sterker (mediaan = 3) daaroor as die groep van 60+ (mediaan = 7; p < 0,001). Insgelyks voel die deelnemers met kinders tussen 7 en 10 jaar beduidend sterker (mediaan = 4) daaroor, teenoor sowel die respondente met kinders van 19–26 (mediaan = 6; p = 0,04) as dié met kinders ouer as 26 jaar (mediaan = 7; p = 0,04).
Alhoewel daar geen statisties beduidende verskil tussen die demografiese bepalers is nie, stem die meerderheid deelnemers saam dat die inligting binne-in die boek moet verskyn (46% voel sterk, 20% gemiddeld en 34% stem glad nie saam nie), en 56% voel sterk dat die inligting nie elders (soos op ’n webwerf) as êrens op die voor-, agterblad of binne-in die boek moet verskyn nie.
Die derde vraag het voor oog gehad om te bepaal wie deelnemers dink hierdie ouderdoms- en inhoudsadvies moet verskaf. Deelnemers het hul voorkeur ten opsigte van 10 moontlike groepe aangedui. Dié groepe is: 1) die regering (deur middel van wetgewing); 2) inhoudskeppers (soos skrywers en filmmakers); 3) uitgewers (van boeke) en vervaardigers (van byvoorbeeld films en rekenaarspeletjies); 4) verkopers (boekhandelaars) en verspreiders (soos DStv en Netflix); 5) resensente; 6) organisasies (skole, kerke, verenigings); 7) ’n onafhanklike liggaam van kundiges; 8) die gemeenskap (byvoorbeeld Facebook-groepe); 9) kopers (soos ouers wat boeke vir kinders koop); en 10) lesers (soos volwassenes wat self boeke lees, of kinders wat die boeke lees wat hul ouers vir hulle gee). Die opsommende resultate word in Figuur 7 weergegee.
Figuur 7. Deelnemers se beskouing oor die adviesverskaffer verantwoordelik vir b-OIA’s
Deelnemers voel die sterkste dat die verantwoordelikheid by die uitgewer (mediaan = 1); die skepper (mediaan = 2); of die verkoper, resensent of ’n onafhanklike liggaam van kundiges (mediaan = 3 in al drie gevalle) berus. Hulle is dit ook eens dat die verantwoordelikheid nie by die regering (mediaan = 7) of gemeenskap (mediaan = 7,5) lê nie. Die grootste demografiese bepaler vir hierdie reaksies is of deelnemers kinders het, al dan nie. Verdere ontledings wys dat hierdie demografiese bepaler statisties beduidend is met betrekking tot die opinies van vyf adviesverskaffers (regering, verkoper, resensent, organisasie en gemeenskap).
Laastens wou ons bepaal wat die deelnemers se opinie is ten opsigte van wie se verantwoordelikheid dit is om beheer toe te pas. Deelnemers het hul opinies gegee of die verantwoordelikheid by die regering (deur middel van sensuur of ’n besitverbod), verkopers (boekhandelaars) en verspreiders (byvoorbeeld DStv, Netflix), biblioteke, onderwysers, ouers of by kinders self berus (kyk Figuur 8).
Figuur 8. Deelnemers se beskouing oor die toepasser verantwoordelik vir b-OIA’s
Die deelnemers voel dat die verantwoordelikheid in die eerste plek by die ouers berus (mediaan = 1) en in die tweede plek, tot ’n mindere mate, by biblioteke (mediaan = 3). Deelnemers stem weer eens saam dat dit nie die regering se verantwoordelikheid is nie (mediaan = 9). Die ander groepe (verkoper, onderwyser, kind self) val in die middel, met ’n mediaan van 4, 4 en 5 onderskeidelik. Soos die geval is met die vraag oor die adviesverskaffer hier bo, is die grootste bepaler of die deelnemers kinders het of nie. Dit dui ’n statisties beduidende verskil aan op die groepe regering (p = 0,02), verkoper (p = 0,007), biblioteek (p = 0,01) en ouer (p = 0,003).
4.3 Voorlopige gevolgtrekking
Na aanleiding van die statistiese ontledings van die data kan die volgende voorlopige gevolgtrekkings gemaak word:
- Deelnemers vind f-OIA’s nuttig en voldoende, en hulle steur hul daaraan.
- Die oorgrote meerderheid deelnemers voel sterk dat b-OIA’s ook nodig is.
- b-OIA’s moet verkieslik op die voor- of agterblad van die boek aangebring word.
- Die deelnemers voel sterk dat dit
isdie skepper of uitgewer se verantwoordelikheid is om die b-OIA’s te verskaf of in te stel. - Deelnemers is dit eens dat dit die ouers se verantwoordelikheid is om beheer toe te pas.
- Die grootste demografiese bepaler blyk te wees of deelnemers kinders het, al dan nie.
Alhoewel die getal deelnemers van die WKJ-groep te klein was om statisties te ontleed (n = 25), wou ons bepaal of die gevolgtrekkings wat ons maak, gebaseer op die reaksie van die MM-groep, ook van toepassing op ander populasies kan wees. Ons het slegs deelnemers met kinders in ag geneem20 (aangesien dit die grootste demografiese bepaler was) om die variansie laer te hou. Ons het die twee groepe se reaksie op die vrae of hulle f-OIA’s as nuttig beskou, en of hulle ouderdoms- en inhoudsadvies (afsonderlik) vir boeke as nuttig sou beskou, met mekaar vergelyk. Die vergelyking is gedoen deur van Welch se t-toets (Welch 1947) gebruik te maak. Hierdie aangepaste t-toets is meer betroubaar wanneer ’n mens met data van ongelyke afwykings en skeefgetrekte steekproefgroottes werk, soos hier die geval is.
In elk van die drie vergelykings was die H0 dat daar geen statisties beduidende verskil tussen die mediane van die twee groepe is nie. Die p-waardes tussen die groepe op die nuttigheid van f-OIA’s (p = 0,34), ouderdomsadvies vir boeke (p = 0,13) en op inhoudsadvies vir boeke (p = 0,39) was telkens groter as 0,05, en die H0 kon nie in enige van die gevalle verwerp word nie. Hieruit kan ons aflei dat die gevolgtrekkings wat ons maak, gebaseer op die reaksie van die MM-groep, ook van toepassing op ander populasies kan wees.
5. Gevolgtrekkings en vooruitskouing
In hierdie artikel is gekyk na Afrikaanssprekende mense se behoefte aan b-OIA’s vir boeke vir kinders. Ten einde te bepaal wat die behoefte onder hierdie groep is, is daar ’n kwalitatiewe ondersoek geloods deur middel van ’n een-tot-een-onderhoud met ’n kenner en ’n aanlyn fokusgroep met verskillende rolspelers in die publikasiewaardeketting. Dié twee metodes is aangevul met ’n kwantitatiewe ondersoek deur middel van ’n aanlyn vraelys wat op die tipiese verbruikers (kopers en lesers) in die waardeketting gemik is.
Die deelnemers aan die kwalitatiewe ondersoeke is van mening dat b-OIA’s nie werklik wenslik is nie, maar as dit enigsins gedoen word, dit met groot omsigtigheid en in oorleg met tersaaklike rolspelers gedoen moet word. Die fokusgroepdeelnemers is ook van mening dat die sinvolste b-OIA’s ouderdomsadvies behels wat verband hou met die leser se veronderstelde leesvaardigheid, en nie enige iets anders nie. Hulle gee wel erkenning daaraan dat eindgebruikers moontlik ’n behoefte aan b-OIA’s mag hê, en het daarom aanbeveel dat ’n deeglike en omvattende behoeftebepaling gedoen moet word. Hierdie aanbeveling van die fokusgroep het as basis vir die aanlyn vraelys gedien.
Hoewel ons gedeeltelike verteenwoordiging tydens die fokusgroeponderhoud nagestreef het, deur minstens een verteenwoordiger van elke rolspeler in die publikasiewaardeketting (kyk Figuur 1) in te sluit, het ons nie verteenwoordiging met die vraelyskomponent van die data-insameling nagestreef nie; daar is slegs beoog om soveel as moontlik Afrikaanssprekende deelnemers vir hierdie vraelys te kry. Ten einde dit te doen, is besluit om Maroela Media (MM) as hoofplatform vir die aanlyn ondersoek te gebruik, aangesien dit tans die grootste, gratis Afrikaanse nuus- en joernaalwebwerf is (met ongeveer 2 miljoen unieke lesers per maand) waardeur data ingesamel kan word sonder dat lesers byvoorbeeld hoef te betaal om toegang tot die vraelys te verkry. WatKykJy (WKJ) is as addisionele platform vir die ondersoek gekies, aangesien dit, in teenstelling met MM, slegs op volwasse Afrikaanssprekende gebruikers gemik is en gevolglik ’n ander soort teikenleser bereik.
Aangesien ons van die uitgangspunt uitgaan dat 400 respondente voldoende is om akkurate metings met ’n 95%-vertrouenspeil te lewer, en daar 457 reaksies van MM verkry is en slegs 25 van WKJ, is slegs MM se data vir die artikel ontleed. Die deelnemers wat die aanlyn vraelys op MM voltooi het, vind f-OIA’s oorwegend nuttig en dui aan dat hulle ook b-OIA’s nuttig sou vind. Hoewel die moontlikheid van ’n digitale adviesdiens aan die deelnemers in die vraelys voorgehou is, meen die oorgrote meerderheid deelnemers dat hierdie b-OIA’s verkieslik op die voor- of agterblad van die boek moet verskyn. Dit is waarskynlik omdat hulle graag al die tersaaklike inligting op een plek tot hulle beskikking wil hê, en nie eers ’n digitale adviesdiens elders moet gaan raadpleeg voordat hulle besluit om die boek (hetsy ’n hardekopie of in e-boekformaat) aan te skaf of nie. Die deelnemers meen ook dit is die skepper of uitgewer se verantwoordelikheid om hierdie b-OIA’s toe te ken. Die verantwoordelikheid om hierdie b-OIA’s toe te pas, berus egter by die ouers van kinders. Dit maak dus sin dat meer as helfte van die deelnemers self kinders het en dat dit ook as die grootste demografiese bepaler vir die bevindinge dien.
Hoewel die WKJ-vraelysresponse te min was om statisties te ontleed, is dit wel met die MM-bevindinge vergelyk om te kyk of dit ook statisties op ander navorsingspopulasies van toepassing kan wees (kyk die laaste gedeelte van afdeling 4.3). Die feit dat die WKJ-bevindinge met die MM-bevindinge ooreenstem, beteken dat die bevindinge van hierdie ondersoek as staande hipotese vir verdere navorsing met ander populasies gebruik kan word.
In die data is daar ’n opmerklike verskil tussen die menings van die aanlyn fokusgroep (sterk gekant teen b-OIA’s) en dié van die vraelysrespondente (sterk behoefte aan b-OIA’s). Daar bestaan ’n aantal moontlike verklarings hiervoor. Eerstens kan dit toegeskryf aan die konteks waarin deelnemers na die verskeie ondersoeke genooi is – deelnemers aan die fokusgroeponderhoud is in hul professionele hoedanighede genooi om as verteenwoordigers of spreekbuise vir verskeie sektore in die waardeketting op te tree, terwyl deelnemers aan die vraelys hoofsaaklik intuïtiewe beskouings vanuit ’n ouerskapoogpunt gedeel het. Verder het die fokusgroepgesprek ook ongeveer 90 minute geduur, waartydens deelnemers oor die kwessie kon nadink, mekaar kon beïnvloed en hul beskouings oor die saak kon verfyn.
Hierdie artikel bied bevindings en gevolgtrekkings van ’n eerste, verkennende, kwalitatiewe en kwantitatiewe studie wat as die basis vir toekomstige navorsing kan dien. Ander belanghebbendes uit die publikasiewaardeketting in Figuur 1 kan byvoorbeeld betrek word, of dié waardeketting kan selfs uitgebrei word om ook ander relevante sektore in te sluit. Dit kan byvoorbeeld verteenwoordigers van die Departement van Basiese Onderwys insluit wat perspektiewe op die voorleggings- en keuringsvereistes van voorgeskrewe tekste kan bied.
In toekomstige navorsing sou die vraelys moontlik ook op ander Afrikaanse platforms, soos LitNet, Netwerk24, Vrye Weekblad, e.a., versprei kon word om ook die lesers van daardie webwerwe se beskouings te toets. So byvoorbeeld was een van die anonieme ewekniebeoordelaars van hierdie artikel van mening dat “ras/bevolkingsgroep weens historiese redes binne die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse konteks tog relevant kon wees” (oorspronklike kursivering). Die beoordelaar argumenteer dat aangesien houdings oor b-OIA’s onder andere “deur verskeie faktore [beïnvloed word], waarvan baie te make het met kulturele opvattings en waardestelsels” en wat op hulle beurt weer verband hou “met die milieu waarin die persoon grootgeword het, gestudeer het (basiese en tersiêre onderrig, indien enige) en die milieu waarin hulle tans nog leef. Dit is nie irrasioneel om te verwag dat hierdie opvattings en waardestelsels onder verskillende bevolkingsgroepe sekere verskille (en natuurlik ooreenkomste) sou toon nie.”
Dat so ’n standpunt ondersoek sou kon word, is seker so; ons projek se skopus én etiekklaring (kyk “Etiese klaring” hier onder) maak egter nie voorsiening daarvoor om bevolkingsgroep as demografiese veranderlike te ondersoek nie. Boonop toon ons resultate in hierdie ondersoek juis dat demografiese faktore soos ouderdom en kwalifikasie (kyk afdeling 4.3), en dalk ook selfs moontlik aspekte met betrekking tot die tipe leesstof (kyk hier bo die vergelyking tussen MM en WKJ), nié so ’n groot rol speel soos of die deelnemers kinders het of nie.
Eerder as om dus dieselfde vrae oor die behoefte aan b-OIA’s, maar dan met ander demografiese faktore, te vra, sou dit veel belangriker wees om ’n verdere kwalitatiewe en/of kwantitatiewe ondersoek te onderneem om te bepaal wat die potensiële invloed van b-OIA’s op ’n leeskultuur (en by implikasie op boekverkope) sou wees. Eerder as om weer die opinies van volwasse lesers te toets, sou dit noodsaakliker en insiggewender wees om (a) uitgebreide deskundige opinies (van byvoorbeeld opvoedkundige sielkundiges, leesspesialiste en regskenners) in te win; en (b) die behoeftes en houdings van minderjarige, Afrikaanse lesers te bepaal. Benewens die voor die hand liggende rede om die teikengroep wat direk deur moontlike b-OIA’s geraak sou kon word, se menings in te win, is laasgenoemde teikengroep boonop die lesers en kopers van die toekoms. So ’n ondersoek sou dus ook moontlik kon fokus op alternatiewe oplossings (as b-OIA’s) vir die behoefte wat onder ’n deel van die hedendaagse populasie van Afrikaanssprekendes bestaan.
Erkenning
Die projek Wat de Vloekwoord! Multidissiplinêre navorsing en wetenskapskommunikasie oor vloek waarbinne hierdie navorsing uitgevoer is, is ten dele moontlik gemaak deur finansiële ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die in natura-bydraes van BlueTek Computers, Afrikaans.com en Maroela Media word ook hiermee met dank erken. Dank ook aan WatKykJy.co.za en Maroela Media wat hulle platforms gratis tot ons beskikking gestel het om die kwantitatiewe data in te samel. Ons opregte dank ook aan alle deelnemers wat bygedra het tot die ondersoek – spesifiek aan Kobus van Rooyen en die lede van die fokusgroep vir hulle tyd en insigte. Geen van die opinies in hierdie artikel kan egter aan enige van hierdie persone, instansies en/of hulle medewerkers toegedig word nie.
Etiese klaring
Hierdie bydrae verskyn onder die vaandel van ’n projek waarvan die oorhoofse etiekklaring op 21 Mei 2019 by die Noordwes-Universiteit se Language Matters Ethics Committee geregistreer is; die registrasienommer is NWU-00632-19-A7.
Bibliografie
Alexie, S. 2011. Why the best kids [sic] books are written in blood. The Wall Street Journal. https://www.wsj.com/articles/BL-SEB-65604 (3 Oktober 2022 geraadpleeg).
Aron, A., E.J. Coups en E. Aron. 2013. Statistics for psychology. 6de uitgawe. New Jersey, NY: Pearson.
Billiani, F. (red.). 2007. Modes of censorship: national contexts and diverse media. Londen: Routledge.
Breed, A. 2017. The subjective use of postural verbs in Afrikaans (II): a corpus analysis of CPV en in Zefrikaans. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus, 52(1):23–43.
Cook, P. en C. Heilmann. 2012. Two types of self-censorship: public and private. Political Studies, 61(1):178–96.
Dunn, O.J. 1961. Multiple comparisons among means. Journal of the American Statistical Association, 56(293):52–64.
Du Plessis, C. en E. de Vos. 2022. Selfgerigte tekskeuse vir Afrikaans Huistaal in die intermediêre fase met behulp van leesbaarheidsindeks. Tydskrif vir Taalonderrig, 56(2):1–26.
Ferguson, C.J. 2014. Is reading “banned” books associated with behavior problems in young readers? The influence of controversial young adult books on the psychological well-being of adolescents. Psychology of Aesthetics, Creativity, and the Arts, 8(3):354–62.
Field, A. en G. Hole. 2002. How to design and report experiments. Londen: Sage.
Foerstel, H.N. 2002. Banned in the U.S.A.: a reference guide to book censorship in schools and public libraries – revised and expanded edition. Connecticut: Greenwood Press.
Kruskal, W.H. en W.A. Wallis. 1952. Use of ranks in one-criterion variance analysis. Journal of the American Statistical Association, 47(260):583–621.
Marx, G.T. 2001. Censorship and secrecy: legal perspectives. International Encyclopedia of the Social & Behavioral Sciences. Oxford: Pergamon. https://doi.org/10.1016/B0-08-043076-7/02840-0.
McIlroy, T. 2015. Reengineering the book publishing supply chain. The Future of Publishing Blog. https://thefutureofpublishing.com/2015/03/reengineering-the-book-publishing-supply-chain (2 Oktober 2022 geraadpleeg).
Mulder, C., C. Steenkamp, W.A.M. Carstens, R. Wierenga, R. Olivier, H. Theys, A.-M. Beukes, A. de Vries, M. Corcoran en T. du Plessis. 2022. Die algemene demografie van Afrikaans. Afrikaanse Taalraad.
Rowling, J.K. 2007. Harry Potter and the deathly hallows. Londen: Bloomsbury Publishing.
Suid-Afrikaanse Regering. 1996. Wet op Films en Publikasies. Pretoria: Staatskoerant.
—. 2019. Wysigingswet op Films en Publikasies. Pretoria: Staatskoerant.
Sweeney, M.S. 2003. Censorship. Encyclopedia of International Media and Communications. New York: Elsevier. https://doi.org/10.1016/B0-12-387670-2/00024-8.
Tan, Z. 2019. The fuzzy interface between censorship and self-censorship in translation. Translation and Interpreting Studies, 14(1):39–60. https://doi.org/10.1075/tis.00029.tan.
Van Rooyen, K. 2012. A South African censor’s tale. Pretoria: Protea Boekhuis.
Welch, B.L. 1947. The generalization of “student’s” problem when several different population variances are involved. Biometrika, 34(1/2):28–35.
Wilcoxon, F. 1945. Individual comparisons by ranking methods. Biometrics Bulletin, 1(6):80–3.
Williams, B. 1998. Censorship. Encyclopedia of Applied Ethics. San Diego: Academic Press. https://doi.org/10.1016/B978-0-12-373932-2.00396-3.
Eindnotas
1 Sweeney (2003) illustreer hierdie grense deur te argumenteer dat skoolrade wat boeke verban, in wese nie verskil van ouers wat TV-kanale vir hulle kinders ontoeganklik maak nie. Dieselfde geld ook byvoorbeeld religieuse gesaghebbendes wat bepaalde taalgebruik en idees veroordeel, wat in wese nie anders is as kerkgangers wat hulself daarvan weerhou om bepaalde taal te gebruik of gedagtes uit te spreek nie.
2 https://www.uniteagainstbookbans.com.
3 https://uniteagainstbookbans.org/wp-content/uploads/2022/09/Empowered-by-Reading-final.pdf.
4 Dié podsending was heelwat vroeër as die ander data-insameling as deel van die Wat de vloekwoord!-podsendingreeks (’n reeks podsendings waarin die standpunte en houdings van inhoudskeppers in die vermaaklikheidswêreld en media oor vloek en taboe onderwerpe ontgin word) in 2020 opgeneem. Dit is dus aanvanklik onafhanklik van die ander data-insameling gedoen, maar aangesien die resultate van hierdie gesprek eintlik as basis vir die verdere studie gedien het, is daar besluit om dit tog as deel van die data vir die artikel aan te bied.
5 https://anchor.fm/vloekcoza/episodes/Kobus-van-Rooyen-emoaea.
6 Deelnemers aan die fokusgroep is nie aan die inhoud of gevolgtrekkings van die sensuurgesprek wat in afdeling 2 bespreek is, blootgestel nie, aangesien die doel van die fokusgroepgesprek juis was om volwasse rolspelers uit verskillende geledere se opinie oor die kwessie van b-OIA’s te kry sonder enige voorafgestelde idees of te veel agtergrondkennis. Aangesien die onderhoud met die kenner en fokusgroeponderhoud ook nie presies dieselfde fokus gehad het nie, is daar egter ook geen rede om te vermoed dat voorafkennis van hierdie gesprek die response wat tydens die fokusgroepsessie verkry is, wesenlik (of enigsins) sou beïnvloed nie.
7 https://www.commonsense.org.
8 In die res van hierdie afdeling word “lesers” gebruik om ook te verwys na kleinhandelkopers en leners, tensy dit uit die konteks anders blyk.
9 https://www.commonsensemedia.org/about-us/our-mission/about-our-ratings.
10 https://www.commonsensemedia.org/research.
11 https://www.goodreads.com/api.
12 Die lokteks wat gebruik is om die aanlyn vraelys op beide platforms te adverteer, word hier onder weergegee. (Aangesien die vraelys op algemene nuuswebwerwe gedeel is, het dit nie enige akademiese taal of begrippe bevat nie.)
Moet fiksieboeke (liefdesromans, speurromans, jeugboeke, ens.) op hulle agterblad inhoudsadvies soos films hê, bv. “2-16 SN”? Neem deel aan ’n studie hieroor deur ’n paar vrae te beantwoord.
Ons almal vind dit handig dat films gekategoriseer word met ouderdomsaanbevelings, asook advies oor watse inhoud om te verwag (met aanduidings soos VSNL vir violence, sex, nudity en language) – dit help ons om ingeligte keuses te maak. As ouers vind ons dit ook waardevol om besluite te neem oor watter inhoud vir ons kinders gepas is.
Op Netflix is waarskuwings soos smoking of drug use ook deesdae by inhoud te siene.
Tog het boeke in Suid-Afrika nie so ’n kategoriseringsisteem nie. Jy lees nog lekker, en voor jy jou oë uitvee, bevind jy jou ongevraagd midde-in ’n bloedige misdaadtoneel of ’n stomende oomblik van passie. Dis meestal maar die uitgewer of boekhandelaar wat besluit of ’n boek in die kinder-, jeug- of volwassene-afdeling moet staan, en of dit as ’n liefdesverhaal, ’n speurverhaal of ’n reisverhaal geklassifiseer behoort te word.
Behoort Suid-Afrikaanse boeke nie soortgelyke inhoudsadvies as films te bevat nie?
Ons wil weet of Afrikaanse lesers – jonk én oud – meer advies oor die inhoud van fiksieboeke wil hê. Dit is waaroor hierdie kort vraelys handel.
13 Die vraelys en geanonimiseerde datastel kan afgelaai word by https://gerhard.pro/files/DataVanHuyssteenEtAl2023a.xlsx (DOI: https://doi.org/10.25388/nwu.22256932).
14 Ten einde vraelysvoosheid by respondente te voorkom, is slegs daardie demografiese veranderlikes waarvoor daar ’n rasionaal en/of motivering uit die literatuur gegee kon word, ingesluit.
15 https://maroelamedia.co.za.
16 https://maroelamedia.co.za/oor-ons.
17 https://www.watkykjy.co.za.
18 Deelnemers met kinders in ander ouderdomsgroepe is telkens minder as 10% en word nie hier gelys nie.
19 Daar is ’n sterk korrelasie tussen deelnemers ouer as 60 met kinders (n = 68) in die 26+-groep (n = 57).
20 n = 325 vir MM; n = 14 vir WKJ.
- Die fokusprent deur Shayna Douglas by hierdie artikel is op Unsplash.
LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.