Baie dankie aan die LitNet-span

  • 0

Beste kollegas van die befaamde LitNet-span

’n Mens moet, of mag, ook nie te veel van iets maak nie, en ek weet nie hoe julle die lokteks- / noemnaamfrase vir LitNet se weeklikse nuusbriewe maak of uit ’n hoed pluk nie, maar ek erken dit ruiterlik: Ek het Donderdag, toe die derde week van Februarie deser se nuusbrief by my opdaag, twee maal gekyk, en tussen die twee kyke soos ongelowige Thomas gestaar, en toe ongelooflik ligkop van lekker gevoel. Miskien sal dit as hoogtepunt in my loopbaan staan dat LitNet Petra Müller se reël, wat die titel geword het van die huldigingsboek, op hierdie manier uitgesonder het. Dit wou ek darem graag vir julle sê.

Maar eintlik is dit die geringste. Die vriendelike hulp en ondersteuning, die goedgunstigheid van LitNetters het ’n onontbeerlike rol gespeel met die navorsing en uiteindelike vlerke kry van die boek.

Op Naomi en Melt se e-posknoppies het ek meerdere male en dikwels met kriptiese versoeke ter aller ure gedruk. Oor bydraes in OuLitNet (juis ook daardie een wat Petra oor wild-wees en wild-heid geskryf het wat nou ook weer deur die nuusbrief opnuut onder die aandag gekom het), maar ook oor datums, soekfunksies, outeurs wat iewers in LitNet ter sprake gekom het. En as dit nie was vir Menán se goeie oog en haar rustige fokus terwyl almal oral afgeneem wou word nie, sou die bekendstelling van Die skerpgevylde oomblik in Stellenbosch aansienlik stiller gewees het en die algemene belangstelling, die gons rondom die boek, baie gouer afgeplat het. Nou het die teenoorgestelde gebeur. Die hoogtepunt van die aandag wat die boek getrek het, was die onderhoud wat Melt met sulke gawe, rigtinggewende, interessante vrae gevoer het.

Dit klink ’n bietjie na afgewaterde ophemel – dis nie die idee nie. Ek wil net baie dankie sê: vir die ondersteuning en veral vir die blootstelling wat LitNet moontlik gemaak het. ’n Wêreld se verskil!

Ek kan baie goed onthou toe LitNet van stapel gestuur is, wel, sy digitale deure oopgemaak het. Ek onthou hoe triomfantelik ek gevoel het, nat agter die ore jong dosent wat geswymel het oor Swerfgesange en sowaar plaas LitNet die stuk. Dit is vir my waar alles begin het wat uiteindelik tot die boek oor Petra Müller gelei het. Toentertyd was dit Etienne self wat die SeminaarKamer hanteer het, en intussen het SeminaarKamer uitgegroei tot LitNet se algemene Meningsafdeling vir nie-geakkrediteerde artikels, asook boonop LitNet Akademies, LitNet se afdeling vir geakkrediteerde akademiese navorsing. Ek was destyds in die wolke. Nou is dit 25 jaar later en as ek terugkyk was dit inderdaad die begin van Die skerpgevylde oomblik. Hoe dankbaar is ek daarvoor. Vir die platform vir gesprek en publikasie.

Wel, om weg te kom van my persoonlike stukkies belewenis, julle ken julle eie hoogtepunte en impak goed. Soos dit immers onlangs weer na vore gekom het met die verwysing na Die rooi roman van Etienne van Heerden en Jaco Botha en die baanbrekerseksperiment wat dit in die Afrikaanse wêreld was. As ’n mens daaroor dink, spring heelwat eerstes en inisiatiewe in die geheue op: aanlyn kongresse en skryfskole, bestekopnames en poolshoogtes, op ’n tyd net toe die gogga van multimedia gebyt het, die Vonkverse-projek, die eerste KI-gedigte verlede jaar, en so, en so. Waarom ek dit nou hier ophaal, is omdat ek met die navorsing oor Petra Müller Grütter weer eens besef het watter ongelooflike ryk navorsingsbron LitNet sedert die aanloop tot die draai van die millennium in die Afrikaanse lettere geword het – en dan kom LitNet Akademies nog daarby! Sonder LitNet en sonder NALN was goed die helfte van Die skerpgevylde oomblik nie moontlik nie. Baie dankie!

’n Mens moenie die impak van ondersteuning en netwerke onderskat nie – nie terwyl jy sukkel om uit te vind en dubbeld seker te maak en te skryf nie, en ook nie wanneer die boek al geland het, gelanseer is en nou op eie voete staan nie. Ek wil nie. Daarom dié dankie.

Met vriendelike groete

Karen

Karen de Wet is medeprofessor en eenheidshoof van Afrikaans by die Universiteit van Johannesburg.

Lees ook:

Petra Müller onder die woord: Karen de Wet gesels oor Die skerpgevylde oomblik

Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik, ’n huldiging onder redaksie van Karen de Wet – ’n LitNet Akademies-resensie-essay

LitNet: Die skerpgevylde oomblik

Fotogalery: Stellenbosch-bekendstelling van Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik, ’n huldiging (redakteur: Karen de Wet)

Die digitalisering van NALN se knipselversameling: jongste verslag

10 redes om in LitNet Akademies te publiseer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top