Autoplay: ’n teaterresensie

  • 0

Die toneelstuk Autoplay ’n surrealistiese ontmoeting tussen mens en masjien en die nuutste projek van Darkroom Contemporary Dance Theatre. (Foto: Oscar O’Ryan)

Die stryd tussen mens en masjien kom tot uitbarsting in Autoplay

Autoplay: Hierdie oorvleuelingsdanstoneelstuk vervleg dans, lewende kuns, klankinstallasie en digitale kuns om alternatiewe dimensies te skep. Dis ’n surrealistiese ontmoeting tussen mens en masjien en die nuutste projek van Darkroom Contemporary Dance Theatre – ’n leier in die produksie en verspreiding van kenmerkende kontemporêre werke. Darkroom Contemporary se werke deur die stigters Louise Coetzer en Oscar O’Ryan geniet wêreldwye erkenning, onder andere deur die Kunstenaarstoekenning by POOL Movement Art Festival Berlyn 2022, en die 2023-DCAS-toekenning vir die mees vernuwende bydrae tot dans. 

Louise en Oscar se jongste film, Blue funk, speel tans op internasionale filmfeeste, met onlangse vertonings by Cinedans 2024 (Nederland),  Dans Camera West 2024 (LA) en die New York Buenos Aires-rolprentfees 2024 (Buenos Aires). Blue funk is op pad na die Boekarest Internasionale Dansfilmfees in September.

Die Autoplay-vertoning tower ’n bewegende landskap op wat verskuif en transformeer soos dit die ervaring omraam.

“Ons wou ’n uitdruklik kontemporêre ervaring skep, geleë in die hartjie van die stad, wat aansluit by ons begeerte om dans vanuit tradisionele ruimtes aan te bied,” sê Louise Coetzer, medestigter en artistieke direkteur van Darkroom Contemporary. Sy is ook die regisseur en skepper van Autoplay.  

Autoplay is ’n surrealistiese ontmoeting tussen mens en masjien. In hierdie meesleurende opvoering konfronteer ons tradisionele idees van identiteit en outonomie, in ’n era waar ons lewens ingewikkeld in die digitale landskap verweef geraak het. Deur sy interaksie met Kunsmatige Intelligensie en masjienleer konfronteer hierdie gelaaide spel vrae oor outonomie, invloed en die vae grense tussen vrye wil en manipulasie in ’n digitale era.”

Autoplay volg op die sukses van ULTRA by die Nasionale Kunstefees en is die nuutste werk deur Darkroom Contemporary Dance Theatre.

Bronwyn Craddock, Darion Adams, Vuyelwa Phota, Gabrielle Fairhead en Tamsyn Pretorius is die dansers.

*

Ons kry parkering in die hartjie van Kaapstad. Daar is ’n koue windjie om jou enkels, en die stegie na Longkloof Studios is donker. Voor ons stap twee mense, en dis net die uitgedrukte teaterkaartjies in hul hande wat ons gerusstel dat ons op die regte pad is.

In die maag van die ou geboue wag ’n groepie teatergangers buite ’n reuse skuuragtige gebou, neffens ’n fontein op die Longkloof Square.

Binne kry ons ’n glas wyn. Die skuur herinner aan iets op ’n plaas: sementvloere, hemelhoë dak en ’n paar plastiekstoele wat rondstaan. Dis donker binne, afgesien van twee projektors wat woorde soos ’n reuse tikmasjien teen die muur gooi. Die “gesprek” teen die muur is oor KI.

Die hol binnekant van die skuur laat die gesels effe eggo. Daar is geen warmte, geen knus hoekie, geen rustig wees nie. Die vorige keer toe ek my in so ’n ruimte – vir die kunste – bevind het, was by die Venesiese Biënnale in 2013 toe die onpersoonlike ruimte tot die helfte van die vertoning bygedra het.

My geliefde sê gedemp langs my: “Dis soos sosiale media wat as eggokamers beskryf word – ’n omgewing waar ’n mens slegs inligting of opinies teëkom wat hul eie weerspieël en versterk.”

Ek voel effe onrustig met dié omgewing en die een wat hy beskryf. Mense hou by hul groepies – twee-twee of drie-drie in skemer kolle. Ek begin die rollende woorde teen die muur lees. Daar is veruidelikings oor KI, maar die sin wat my opval, lees as volg:

Whoever designs the algorithms, designs the future. And it is completely terrifying to me that the design of those algorithms is, in fact, almost 99 per cent made by a few young Americans who want to make a lot of money. If profitability is the main goal of the design, then we’re going to end with the same kind of shit that we got from social media. Algorithms are not transparent ... They have a personality, they have a direction, and encoded in them is a worldview. And if the worldview encoded in them is a sort of liberation capitalist, individualistic worldview, that’s where we will end up.

Ek staan terug. Heel toevallig het ek ’n hele paar gesprekke hierdie afgelope paar weke gehad oor die rol van KI in my beroep. Die vervlakking van inligting; die waardeloosheid van goeie skryfwerk omdat mense eerder die gratis weergawe van KI inspan – en glo.

Dit voel asof die woorde teen die muur uit my eie brein gegrawe is om teen die muur te staan vir ander om my gedagtes te lees.

Die groot garage-roldeur skuif oop en ons gaan in. Dansers skuif stoele met wiele onderaan hardhandig oor die verhoog. Dis oorverdowend en verwarrend, hul skaduwees tienvoudig vergroot teen die muur. Hul lenige, plankdun – amper senigrige – lywe is dieselfde aangetrek en donkerbruin pruike op hul koppe stroop hulle van enige persoonlikheid of gender.

........
Die dansers kneus hul lywe met aanhoudende gekap, geval, gerol, rooi hale later sigbaar. Die ongenaakbaarheid van die harde verhoog teen hul sagte lywe is ’n metafoor vir die ongenaakbare aanslag van KI op die sagtheid van menswees.
........

Musiek wat later soos ’n hartklop of marsritme voel, kom oor die luidsprekers. Die bas daarvan is so swaar dat ons stoele vibreer. Jou lyf vibreer. Jy kan nie daarteen skuil nie.

Die stuk is in ses dele opgedeel: genesis/die mens; schooling; fall in line; mort; remnants; dominion – inegration or isolation.

Die program dui aan dat Autoplay homself vir elke gehoor herskep. Die teks gebruik gekombineerde generatiewe prosesse wat elke keer in unieke uitkomste eindig.

Die dansers kneus hul lywe met aanhoudende gekap, geval, gerol, rooi hale later sigbaar. Die ongenaakbaarheid van die harde verhoog teen hul sagte lywe is ’n metafoor vir die ongenaakbare aanslag van KI op die sagtheid van menswees.

’n Grasgroen appel staan in stille kontras met die grys, swart en room van die res van die stuk. Dit speel in elkeen van die afdelings ’n integrale rol. Die appel as verleier sedert die dae van Adam en Eva? Die appel van die bekende tegnologiemagnaat? Die appel van oordaad, vergryp.

........
Inge se klokhelder stem is amper soos ’n engel in ’n klooster waarvan die mure die klanke na jou terug eggo.
........

Iewers in die warboel word daar op die swart platform oor en oor geskryf: “I am not a robot.” Dan “Verify” en “Submit”. Rekenaartaal wat ons elke dag besig, maar dalk nie eers meer bewus van is nie.

Die stuk staan nie onafhanklik van die klanke nie. Met ’n oorspronklike klankbaan deur Brydon Bolton (Benguela) en Njabulo Phungula, wat gerekenariseerde klanke met die spookagtige operaklanke van Inge Beckmann (Lark en Beast) afwissel, word die klank deel van jou murg. Inge se klokhelder stem is amper soos ’n engel in ’n klooster waarvan die mure die klanke na jou terug eggo. Weer die idee van die eggokamer, maar hierdie keer is haar stem so mooi, so magies, jy wil jou oë toemaak en oorgee. Haar volg.

Die stuk eindig met ’n gebroke individu. Een wat deur die stelsel uitmekaar geskeur is; wat skaars kan loop. ’n Willose marionet van die algoritme.

Na afloop van die vertoning staan klein groepies mense weer bymekaar en gesels. Die groter boodskap en vrees van die mens teen die masjien het ons skielik saamgesnoer.*

Dis lank stil in die motor. Halfpad huis toe met die N2 se ligte wat soos ’n gereelde hartklop oor ons voorruit sprei, vra my geliefde wat ek gedink het en hoe ek voel.

“Bang, en jy?”

“Beslis.” Die stilte rek weer uit. My gedagtes ’n warboel.

Hierdie gesprek is só nodig, maar is dit nie al te laat nie? Regeer die algoritmes ons nie reeds nie?

Autoplay

Met: Bronwyn Craddock, Darion Adams, Vuyelwa Phota, Gabrielle Fairhead en Tamsyn Pretorius.
Choreografie, regie en stelontwerp: Louise Coetzer
Musiek: Brydon Bolton (Benguela), Njabulo Phungula en sang deur Inge Beckmann (Lark, Beast)

Longkloof Studios, Kaapstad, 10–28 September:

  • 20, 21 September om 20:00
  • 22 en 24 September om 16:00 (24ste gevolg deur gesprek met die kunstenaars en vraag-en-antwoord-sessie)
  • 25, 26, 27 en 28 September om 20:00

Geen onder 13’s

Kaartjies teen R250 elk, deur Quicket

Programme en wyn by die deur te koop.

Lees ook:

Trial and error: Gehoorjurie beslis hier oor jong meisie se lot

A streetcar named Desire: ’n teaterresensie

Pieces of me: ’n teaterresensie

Blonde poison by die Baxter: ’n teaterresensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top