
Fiona Ramsey as Stella Goldschlag in die teaterstuk Blonde poison by Baxter Studio tot 29 Junie 2024. Foto deur Fiona MacPherson: verskaf
Wat sou jy doen as jou lewe daarvan afhang?
Die storie van die jong Joodse vrou Stella Goldschlag, wat tydens die Tweede Wêreldoorlog tussen 600 en 3 000 Jode aan die Nazi’s uitgelewer het, word in hierdie toneelstuk, Blonde poison, vertel. Sy kon ’n betreklik luukse lewe in Berlyn lei solank sy ander Jode verraai en na hul dood in die gaskamers gestuur het. Sy het vir ’n gedeelte van die oorlog weggekom as Duitser omdat sy blond was en blou oë gehad het.
Vier jaar gelede stap vyf van ons deur die yskoue gaskamers, hostelle en ontvangslokaal in Auschwitz in Pole. Dié konsentrasiekamp is een van die Tweede Wêreldoorlog se grootste gruwels en daar word gereken meer as 1,1 miljoen Jode is hier vergas en verbrand. Die omstandighede waaronder mense erger as diere moes leef, word in besonderhede deur gidse vertel, die stapels valstande, kamme, borsels en skoene – sommige van babas – ’n stille aanklag teen die mens se wreedheid.
Die ervaring in Auschwitz was op sigself een waarvoor jy moes sterk staan, maar des te meer omdat een van ons vyf se ouma en oupa net met hul lewens ontsnap het van dié doodskamp en na Suid-Afrika kon vlug. Jy voel sy somberheid aan daar in die grys gange. Hoewel sy grootouers ontsnap het, het die meeste van hul familie en vriende hier tot hul einde gekom.
In die bussie op pad terug na ons verblyf sit Dene langs my. Hulle vertel hulle woon in die woonstel van Jode wat tydens die oorlog deur bure verraai is en in Auschwitz dood is. Die ongeloof dat jy onskuldige mense kan uitlewer, is die algemene gevoel in die bussie.
’n Paar maande gelede staan ek en my lewensmaat in die spookdorp van Oradour-sur-Glane in die suide van Frankryk. Hier het die Nazi’s vier dae na D-Dag 1944 (6 Junie) meer as 640 onskuldige vroue, kinders en mans in die dorpie afgemaai uit weerwraak vir hul nederlae elders in die streek danksy die goeie werk van rebelle en die feit dat die Geallieerdes daar naby aan wal gekom het en die Nazi’s met hul volle mag begin terugdryf het. Hulle eet en drink soos konings, buit besittings en steek die dorp aan die brand voor hulle verder reis.
Die massagraf wat hulle agterlaat, is een van die vele gruweldade op hul pad. Mens sukkel om deur die verlate strate te stap sonder om ’n weemoedig gemeng met haat te voel.
Danksy algoritmes kom die minireeks Monsieur Spade oor ons televisieskerm. Dit speel in die vroeë sestigs in die Franse platteland af en een vrou se man wat talle Franse aan die Nazi’s uitgelewer het, kom tot ’n onverwagse – welverdiende – einde toe sy kleindorpiebure hom een na die ander vol gate skiet. Verraad en wreedheid teen sy eie mense is onvergeefbaar. Tonele daaruit het ook gewys hoe wreed soldate in Algerië teenoor die plaaslike mense en kinders was.
........
Toe die laaste oomblikke van die reeks tot ’n einde kom, is die mens se vermoë om sy medemens te verraai en aan geweldenaars uit te lewer, weer ’n besprekingspunt. Dit bring ons uiteindelik by die vertoning in die Baxter.
.......
Toe die laaste oomblikke van die reeks tot ’n einde kom, is die mens se vermoë om sy medemens te verraai en aan geweldenaars uit te lewer, weer ’n besprekingspunt.
Dit bring ons uiteindelik by die vertoning in die Baxter. Die program het ’n nuttige tydlyn van die vrou se lewe van haar geboorte in 1922 tot haar dood in 1994. Dit sluit af met die woorde: “Die toneelstuk moedig ons aan om ons menswees en die keuses wat ons maak wanneer ons bedreig word, te konfronteer.”
Dis enkele dae na dié minireeks en skaars drie dae ná die 80-jarige herdenking van dié tragiese dag in Oradour-sur-Glane wat ons met die verhaal van Fiona Ramsay word Stella voor ons oë. Haar swaar Duitse aksent bly deel van haar, soos die wit tulband, rok en hofskoene waarin sy haar verhaal vertel. Agter haar lê ’n reuse spieël aan skerwe.
Sy flankeer met die gehoor, haar selfvertroue dat almal haar as jong vrou wou bemin duidelik vir haar ’n groot bron van trots. Sy vertel hoe sy die aandag van die aantreklike jong Nazi-soldate in hul uniforms begeer het; hoe sy saans tot laat gekuier het om hul aandag te trek. Haar blonde hare en blou oë was vir lank haar skans, omdat sy nie Joods gelyk het nie. “Al wat hulle in my gesien het, was die jong vrou wat ek wou gewees het.”

Fiona Ramsey as Stella Goldschlag in die teaterstuk Blonde poison, by Baxter Studio tot 29 Junie 2024. Foto deur Fiona MacPherson: verskaf
Sy wou ’n mode-ontwerper word, en haar ouers het geglo mense sal eendag haar naam herken – sy sal bekendheid verwerf, want sy is bestem vir groter dinge.
Vir ’n hele paar maande woon sy en haar ouers soos skaduwees, of soos sy verduidelik, soos U-bote onder die radar. Haar ware identiteit kom egter uit; sy word gemartel en haar ouers word opgeskryf vir die doodskamp van Auschwitz. Sy kan hul lewens red as sy ander Jode aan die Nazi’s uitlewer. Sy kan in ’n mooi woonstel woon, goed eet, mooi aantrek, en haar lewe kan ongehinderd voortgaan.
Daar in die sel voel sy vir die eerste maal in haar lewe alleen. Die sel was nie kleiner as die woonstel waar sy met een van haar kêrels en sy vriende en familie gewoon het nie, maar sy kon die eensaamheid in aanhouding nie verduur nie.
Sy stem in om as “Greiferin” of “vanger” te werk. Haar vriende, oudbure, oudkollegas word op die goederetreine gegooi en soos beeste in die koue en donker na die doodskampe vervoer.
Sy vertel aan die gehoor “jy kan vet word op hoop, as jy net naïef genoeg is.”
Ten spyte van haar samewerking word haar ouers ook op een van daardie treine gelaai. Haar samewerking met die Nazi’s kom nie tot ’n einde nie en dis eers toe die Russe die stad oorneem dat sy in die tronk beland. Sy gee geboorte aan ’n dogter, maar sien haar net vir vier maande voor hulle vir ewig vervreemd is.
Sy leef tot 72 voor sy haar eie lewe neem.

Fiona Ramsey as Stella Goldschlag in die teaterstuk Blonde poison, by Baxter Studio tot 29 Junie 2024. Foto deur Fiona MacPherson: verskaf
Ek sit die hele vertoning deur met geweldige selftwyfel: Ek kry nie simpatie met Stella in enige hoekie van my wese nie. Nie eers toe sy die gehoor vra wat hulle sou doen om te oorleef nie.
........
Die besoek aan Auschwitz en Oradour-sur-Glane is ewe skielik weer glashelder en ek voel die walging wat ek daar gevoel het, weer in my keel opstoot.
Gelukkig breek die applous dawerend uit en elke siel staan uit hul stoel op.
.......
Die besoek aan Auschwitz en Oradour-sur-Glane is ewe skielik weer glashelder en ek voel die walging wat ek daar gevoel het, weer in my keel opstoot.
Gelukkig breek die applous dawerend uit en elke siel staan uit hul stoel op. Gou begin iemand om vir Fiona gelukkige verjaarsdag te sing en die hele gehoor val in. Sy buig diep en lank en sê dan in perfekte Engels hoe goed dit is om te werk, ongeag of dit jou verjaardag is. Sy is weer Fiona, die tulband, rok en skoene ten spyt.
Sy bedank almal in die gehoor vir hul teenwoordigheid en sê die toneelstuk is nou nog meer toepaslik as voorheen. “Ons leef in ’n wêreld wat deur narsiste – soos Stella – regeer word.”
Die gehoor se applous beaam elke woord.
Stories soos hierdie moet oor en oor vertel word, tot dit nie meer op dowe ore val nie. Tot die geweld en marteling en verraad van magsugtiges stop.
Tot dan is dit die woorde in rooi letters by die ingang van Oradour-sur-Glane wat my bybly: “Remember / Souviens-Toi.”
Blonde poison
Met: Fiona Ramsay
Deur: Gail Louw
Regie en beligting: Fred Abrahamse
Stel- en kostuumontwerp: Marcel Meyer
Baxter Studio, Rondebosch, Kaapstad tot 29 Junie 2024.
Kaartjies: R145 tot R220 deur Webtickets
Blonde poison is ’n koproduksie tussen Abrahamse & Meyer Productions en Troupe Theatre Co.

