Jy wil ook weer jou lewe se stukkies bymekaarmaak vir heelword.
Bo Petersen word as wit Suid-Afrikaner tydens apartheid groot. Haar pa Bennie en ma Ingrid maak hul kinders groot in ’n land waar ’n wit vel die voordele van die land bied en geniet, terwyl wette en borde en heinings wit en bruin en swart van mekaar skei en vervreem. Dit skeur families uitmekaar.
Bo vind op 19 uit van haar pa se geheim. Hy het van sy 28ste verjaardag as wit burger geleef sodat hy met ’n wit vrou kon trou en ’n wit gesin kon grootmaak. Dit het aan sy bruin familie en vriende ontsaglike emosionele skade berokken en die gevoel dat hy hulle verraai het, het diep letsels gelaat.
Met dié ontdekking word sy geheim haar geheim en dit verander haar lewe onherroeplik. Sy besef dat sy nooit haar pa geken het nie – nie die man voor 28 wat ’n charismatiese opvoeder by die bruin onderwyskollege was, berge geklim en graag in die see geswem het saam met sy vriende nie. Die lewe van enige partytjie. Maar ook nie die man ná 28 wat nie eers saam met sy kinders op die strand wou stap nie, al was daar geen wetlike rede vir hom om dit nie te doen nie.
Sy begin stukkies neerskryf om te probeer peil wie hy nou eintlik is en ook om haar eie emosies te kategoriseer. Ná sy dood skryf sy vir sy enigste oorlewende suster in Australië, maar dié is onversetlik om enigiets oor haar oorlede broer se verlede te deel. Bo het nodig om die stukke van haar pa – en haar lewe – bymekaar te bring, maar dit sal haar nooit beskore wees nie.
Bo stel haarself op die klein donker verhoog voor as aktrise en stap dan oor na haar neef, die musikant Chris Petersen.
Sy vertel dat sy haar stories en bydrae tot die samelewing deur haar toneelspel, teksskryf en regie doen; Chris doen syne deur musiek en was onder meer een van die stigters van The Jazz Yard Academy in Bonteheuwel.
Hul pa’s was broers, maar Bo het wit grootgeword en Chris bruin. Tot net meer as drie dekades gelede, kon hulle nie aan huis bymekaar kuier, saam uitgaan vir maaltye of op die strand gaan piekniek hou nie, want dit was teen die wet.
Haar wit bevoorregte lewe het haar ’n heeltemal ander ervaring gegee van Suid-Afrika.
........
Bo speel verskeie rolle en haar vermoë om net deur haar aksent, ’n kopdoek of nekdoek en handgebare ’n nuwe karakter voor jou oë te word, is verbysterend.
........
Sy sê as aktrise leef jy soos ’n verkleurmannetjie. Jy word iemand anders met kostuums en grimering en dialoog. En in daardie dialoog en kostuums is daar vryheid, veiligheid, selfvertroue en krag.
Maar hierdie storie is haar storie, en hoewel daar kostuums is, bring dit nie noodwendig enigiets anders as onthou en seer nie.
Soms fluit Chris die deuntjie van liedjies soos “Al lê die berge nog so blou” of “Suikerbossie” of tokkel ’n paar note op sy klankbord, en dit bring soveel droefheid na my hart dat dit voel of ’n olifant op my bors kom sit.
Bo speel verskeie rolle en haar vermoë om net deur haar aksent, ’n kopdoek of nekdoek en handgebare ’n nuwe karakter voor jou oë te word, is verbysterend. Sy is nie verniet al vir 45 jaar ’n bekroonde aktrise nie. Eers is dit haar pa (2009), dan haarself in 2012 en weer 2023, dan haar tannie Marjorie de Ridder (2012), dan Petronella Petersen (1960, haar ouma), dan Sarah Meyer (1995, haar tannie) en SV Petersen (1974, skoolhoof en digter).
Haar storie van mense wat onder ’n ander velkleur-klassifikasie wou leef, is nie uniek nie. Wat insiggewend is, is dat sy die storie regtig by die begin gaan haal: 130 000 jaar gelede toe die Khoikhoin en San-mense na die suidpunt van Afrika getrek het en 4000 jaar gelede toe die swart veewagters met hul Nguni’s afgetrek het uit Wes-Afrika.
Sy draf deur die geskiedenis van slawerny, die uniewording, apartheid, republiekwording en al die wette wat mense verder verdeel het, soos die Wet op Verbod van Gemengde Huwelike, die Groepsgebiedewet, die Pasboekwet, die Bevolkingsregistrasiewet en verdeelde onderrig, ontspanning en vele meer.
........
As dit maar net so eenvoudig en netjies kon wees, dink ek. Dit was inteendeel net mooi die teenoorgestelde. Maar dit gee goeie insig aan dié wat te jonk is om die volle omvang van apartheid te verstaan, ook aan dié wat die afgelope paar jaar wou hê almal moet vergeet van die verlede, maar ook aan dié wat nie vertroud is met Suid-Afrika se geskiedenis nie.
........
’n Land se geskiedenis in ’n halfmaan op die verhoog uitgepak en opgesom in A4-flitskaarte. As dit maar net so eenvoudig en netjies kon wees, dink ek. Dit was inteendeel net mooi die teenoorgestelde.
Maar dit gee goeie insig aan dié wat te jonk is om die volle omvang van apartheid te verstaan, ook aan dié wat die afgelope paar jaar wou hê almal moet vergeet van die verlede, maar ook aan dié wat nie vertroud is met Suid-Afrika se geskiedenis nie.
Soos wat sy beskryf hoe haar bruin ouma (Petronella) in haar motor aan die oorkant van die munisipale swembad moes kyk na haar “wit” seun Bennie en sy gesin, maar nie kon waag om met hom te gaan gesels nie, kom ’n warmte oor my. Die verset stoot in my keel op en ek wil vlug. Uit.
Haar woorde dat sy net so saggies teen die heining wat wit en bruin en swart skei, wil druk, dat dit ongemerk omval en almal net kan saam aangaan met hul lewe, laat skiet my oë vol trane.
Hoe kon dit vir soveel dekades toegelaat word? En hoe kan hierdie diskriminasie vandag steeds regoor die wêreld voortgaan waar mense op die donkerte van hul vel beoordeel word. Een tannie (Sarah) vertel juis in die toneelstuk hoe erg haar ouma oor veral een kleinkind, “die ligste enetjie”, was.
Daar is ’n opname van HF Verwoerd, eerste minister van Suid-Afrika van 1958–1966 en die vader van apartheid, waarin hy sê dat mense apartheid “dikwels verkeerd verstaan. Dit moet eerder as goeie buurmanskap gesien word. Mense verskil en dis beter as soort by soort woon en leef, want dan werk buurmanskap op sy beste.”
Klink amper soos een van die lyne uit ’n komedieteks wat dalk op ’n akteur se tafel kon beland, nie regte mense se lewens nie.
Mens voel ná 65 minute self of jy die stukke van jou eie lewe weer moet bymekaarvat om heel te voel te midde van soveel seer om jou. Want die wonde is nog lank nie genees nie en die seer lê baie na aan die oppervlak.
- Na afloop van die vertonings op 16, 18, 23 en 25 Julie sal gehore die geleentheid hê om onder leiding van gespreksleiers die onderwerp met Bo te bespreek en hul eie ervaringe te deel.
Op Dinsdag 16 Julie is dit Jonathan Jansen, outeur en professor van die Universiteit Stellenbosch; op Donderdag 18 Julie is dit Nadia Kammies, outeur en arbeidsterapeut; op Dinsdag 23 Julie Laurie Nathan, professor in Mediasie by die Universiteit van Notre Dame in Amerika; en op Donderdag 25 Julie is Quanita Adams, aktrise en regisseur, aan die beurt.
Ek vra by die openingsaand vir Quanita waaroor hulle gaan gesels. Het sy ’n onderwerp wat bespreek gaan word? Sy verduidelik dat sy en die ander drie bloot as gespreksleiers sal optree; iemand wat ’n veilige ruimte skep vir mense om in te praat. “Die vertoning open soveel wonde en mense wil nie net na afloop daarvan opstaan en huis toe gaan nie. Bo se storie is nie uniek nie; baie mense het soortgelyke stories en hier kan hulle dit deel en van ’n ander perspektief bekyk,” vertel sy. Soort van die stukkies van hul lewens bymekaar kom skraap.
Pieces of me
Met: Bo Petersen
Musiek: Chris Petersen
Regisseur: Royston Stoffels
Tot 27 Julie 2024 by Baxter Studio, Rondebosch, Kaapstad.
Kaartjies deur Webtickets.
Op 20 Julie is daar ’n vertoning by The Homecoming Centre, met alle opbrengste aan die Distrik Ses Museum. Kaartjies is beskikbaar by die deur of deur Quicket.
Geen onder 10’s.