
Tennessee Williams se A streetcar named Desire by Theatre on the Bay (regie deur Chris Weare). Foto: Claude Bernardo
Ry saam met hierdie straatkar van begeerte
A streetcar named Desire deur Tennessee Williams, wat vir die eerste maal in 1947 op Broadway opgevoer is, het daardie jaar die Pulitzer Prize vir drama en die New York Drama Critics’ Circle-toekenning ingepalm. Nie veel van ons was bevoorreg genoeg om dit in daardie jaar op die planke te sien nie, maar die wit en swart 1951-film waarin Vivien Leigh, Marlon Brando en Kim Hunter gespeel het, is intussen tot kultusstatus verhef.
Dit speel in die laat veertigerjare in die Franse woonbuurt van New Orleans af. Dis die tyd van partytjies en immigrante en hoop ná die Tweede Wêreldoorlog. Maar die lewe is moeilik en drank en dobbel is deel van menige se lewens.
Stella en Stanley is deel van ’n groter multikulturele vriendekring – ’n eienskap wat die stad onder baie mense gewild gemaak het. Stella verwag hul eerste baba en Stanley werk as ’n tipe motorwerktuigkundige. Stella kom van goeie herkoms van ’n plantasielandgoed in die verre suide en Stanley is van Poolse afkoms, hoewel in Amerika gebore. Die klasseverskil tussen hulle word aanvanklik deur hulself ook oorgekyk, omdat wellus en wat hulle as liefde aansien, hul totaal verblind.

Tennessee Williams se A streetcar named Desire by Theatre on the Bay (regie deur Chris Weare). Foto: Claude Bernardo
Wanneer Stella se suster, Blanche, van die plantasielandgoed kom kuier, is dinge nie soos sy wil voorgee nie. Haar kritiek oor haar suster se vervalle woonstel, Stanley se “dieragtige” gedrag en haar foutvindery met hul vriende se ongekunstelde lewens, maak haar baie gou ongewild.
Aanvanklik is sy net senuweeagtig en kalmeer haar senuwees met sopies whisky, maar soos die toneelstuk vorder, kom die kyker agter daar is groter fout. Haar jeugliefde was toe eintlik gay en bring homself om die lewe nadat Stella hom en sy lover in die bed betrap.
Stella se emosionele groei sterf saam met haar jong bruidegom. Toe alles om haar uitmekaar begin val met die verlies van die plantasiehuis weens slegte skuld, gee sy haar oor aan seks met vreemde mans en ’n 17-jarige seun is uiteindelik haar ondergang en kos haar ook haar werk as Engelse onderwyseres.
........
Tussendeur kom staan Sasha Duffy en sing onbegeleid stukke uit liedjies wat jou melankolies aan die hand deur die strate van New Orleans lei en die suide in jou skoot kom lê.
........
Dis hoe sy by haar suster beland, maar haar swaer wantrou haar van die eerste oogopslag af. Sy hoop om met sy vriend, Mitch, te trou, sodat die traumatiese deuntjies in haar kop kan ophou, maar toe Mitch van haar verlede uitvind, stoot hy haar weg.
En soos die dekadelange toutrekkery tussen kykers getuig, jy voel óf jammer vir Blanche omdat sy ’n slagoffer van tragiese omstandighede is óf jy veroordeel saam met Mitch en haar swaer haar dade en spaar geen goeie emosie vir haar nie.

Tennessee Williams se A streetcar named Desire by Theatre on the Bay (regie deur Chris Weare). Foto: Claude Bernardo
Hoe dit ook al sy, jy kan nie onaangeraak bly nie.
Tussendeur kom staan Sasha Duffy en sing onbegeleid stukke uit liedjies wat jou melankolies aan die hand deur die strate van New Orleans lei en die suide in jou skoot kom lê. En, o, daardie mooie aanhaling van Blanche: “Don’t you just love those long rainy afternoons in New Orleans when an hour isn’t just an hour, but a little piece of eternity dropped into your hands, and who knows what to do with it?”
........
Die toneelstuk is luid en bont en vol van die weerbarstigheid van die jeug.
........
Die toneelstuk is luid en bont en vol van die weerbarstigheid van die jeug. Dit speel met die sterre van LAMTA (Luitingh Alexander Musical Theatre Academy) by Theatre on the Bay, waar die akademie ook hul tuiste het.
Die wonderlike jong talent van LAMTA is uiters geskikte akteurs vir die rolle. LAMTA se Hollywood, wat vroeër op die planke was met uitverkoopte vertonings en die nuwe generasie teatermakers, het bewys waarvan hulle aanmekaar gesit is.
Met Chris Weare en die gasaktrise, Emily Child as Blanche DuBois, deel van die produksie, kan jy nie anders as om opgewonde te wees nie.
Die eerste ding wat jou opval as jy instap, is die ongelooflike stel. Die vervalle woonstel van Stella en Stanley en die beroemde roltrap wat Marlon só gereeld vasgeklou het in die rolprent, staan na regs. Daar is soveel armoede, verweer en moedeloosheid aan die binnekant, maar die opgeruimdheid van die jeug verdryf alle realiteite. Hulle sien dit nie raak nie en gou sien die kyker dit ook nie raak nie.

Tennessee Williams se A streetcar named Desire by Theatre on the Bay (regie deur Chris Weare). Foto: Claude Bernardo
Maar dan, almal ken die storie van Street car en daarom weet jy van die donkerte wat kom. Stella se uitrustings slaan behoorlik jou asem weg en vir 90 magiese minute kan jy amper glo jy is in New Orleans.
Nostalgie en heimwee is sekerlik die beste beskrywings van hoe ek gevoel het toe ek ná die vertoning uitstap. Dis nou nadat ek ’n senuweeagtige Anton Luitingh gesien het wat soos ’n besorgde pa oor sy akteurs gewaak het.
Die toneelstuk is vandag – 77 jaar nadat dit die eerste keer opgevoer is – nog net so toepaslik. Klas, geld, opvoeding en erfenis bly die kern van sosiale konflik regoor die wêreld. Daardie storie kon enige plek van Manchester tot Istanboel, van Buenos Aires tot Sydney afspeel en sin én saak maak.
Ek gaan lees toevallig ’n resensie deur Wolcott Gibbs, onder die titel “Lower depths, southern style”, wat op 13 Desember 1947 in The New Yorker verskyn het. Hy beskryf die toneelstuk as ’n goeie en diep ontstellende stuk, “bykans foutloos in die fisiese details van die produksie en die kwaliteit van die toneelspel”.
........
Die toneelstuk is vandag – 77 jaar nadat dit die eerste keer opgevoer is – nog net so toepaslik. Klas, geld, opvoeding en erfenis bly die kern van sosiale konflik regoor die wêreld. Daardie storie kon enige plek van Manchester tot Istanboel, van Buenos Aires tot Sydney afspeel en sin én saak maak.
........
Hy skryf ook: “Al wat ek kan sê, is dat Williams ’n sterk, heeltemal geloofwaardige toneelstuk geskryf het wat begin in ’n lae toon en stadig en onverbiddelik tot sy skokkende klimaks styg. Ek dink dit is ’n onvolmaakte spel, om redes wat ek binne ’n minuut sal oorkom, maar dit is beslis die indrukwekkendste een wat hierdie seisoen opgedaag het. Ek sal nie verbaas wees as dit ’n gesonder en meer volwasse werk is nie as The glass menagerie, die skrywer se vorige kompliment tot suider-vroulikheid.”
Nadat ek sy kritiek oor die toneelstuk stadig verteer het, besef ek dis presies wat my in hierdie produksie gepla het. Dis nie die jong talent of die regie wat so hier en daar krapperigheid veroorsaak het nie. Dis juis hierdie kritiek van die resensent bykans 70 jaar gelede waarby ek toe vrede vind. Blanche se agteruitgang is te vinnig; Stella se gelatenheid met haar armoedige omstandighede ook. Die verskil tussen die twee susters net te groot.
En in sy woorde: “Soos ek sê, dit is denkbaar dat hierdie oorgange wel in die suide voorkom, maar dit is my vermoede dat Williams die lewe redelik drasties aangepas het om by sy spesiale tema te pas.”
Wat wel luide applous verdien, is die spel van Emily Child as Blanche wat in onder meer Dinner with the 42’s, The pervert Laura, Champ, Warrior, The maze en ander al haar slag gewys het.
Dis ’n wonderlike aand van teater. Die volgende geslag teatertalent is in goeie hande. Ons as teatergangers het baie om na uit te sien. Welgedaan Anton Luitingh en Duane Alexander van LAMTA en jul span.
- LAMTA is in 2019 deur Anton en Duane gestig. Die akademie is daartoe verbind om die wonderlike talent in ons land te mentor en voor te berei vir ’n lewe in die bedryf.
Lees gerus die volledige resensie van Wolcott hier: https://www.newyorker.com/magazine/1947/12/13/lower-depths-southern-style
A streetcar named Desire
Met onder andere: Emily Child, Sarah Wolhuter, Dylan Janse van Rensburg, Jayden Dickson, Noa Duckitt en Ben Stannard
Deur: Tennessee Williams
Regie: Chris Weare
Kostuums: Niall Griffin
Theatre on the Bay, Kampsbaai
14–24 Augustus
Kaartjies van R180 tot R220 deur Webtickets en Theatre on the Bay-kaartjiekantoor by 021 438 3300.
Lees ook:
As jy net een teaterstuk gaan kyk, laat dit The king of broken things wees

