Die toneelstuk vertel die storie van ’n jong seuntjie se gebroke hart, maar ook hoe hy danksy die lesse en wyshede van sy pa geleer het hoe om gebreekte dinge reg te maak en ’n tweede lewe te gee. In sy eie woorde is gebreekte goed wat reggemaak is, beter as die ongebreektes.

Cara Roberts vertolk die rol van die seuntjie in The king of broken things. Foto: Jonathan Burton
Ons gaan sit voor die vertoning met die baie interessante stel op die verhoog en ek lees die klein regisseursnota wat ons saam met ons kaartjies ontvang het. Te oordeel aan die stukke gekleurde papier, ’n fietswiel, gebreekte sambreel, kratte en dinge, weet jy hier kom iets soos nog nooit tevore nie.
Die regisseursnota deur Michael Taylor-Broderick lui as volg:
Wat is die lewe sonder hoop? Met The king of broken things het ek probeer om die belangrikheid van hoop in alles wat ons doen, aan te spreek. Om aan te hou droom en dan aan te hou glo in daardie drome. My droom is dat elke liewe een van julle hier weggaan met ’n sprankie hoop vir die toekoms, en dat jy sal aanhou verbeel, droom en glo.
Dis egter met soveel meer wat jy daar wegstap.
Die jongeling kom met ’n tuisgemaakte vlugpet en -bril op sy kop op die verhoog. Hy lyk soos ’n skets uit ’n kinderboek. Wanneer hy effens senuweeagtig begin vertel dat woorde gewig dra en dan plegtig dié uitspraak begin illustreer met sy “woord-weegmasjien”, is die gehoor so stil soos ’n muis. Hy vertel dat swaar woorde ons afrem en ons hulle nie moet saamdra nie.
Hy maak ’n kleed met “ligte” woorde soos hoop en liefde en glo sodat hy eendag daarmee sal kan vlieg.
........
Die jongeling kom met ’n tuisgemaakte vlugpet en -bril op sy kop op die verhoog. Hy lyk soos ’n skets uit ’n kinderboek.
........
Soos hy deur sy inkleurboek, waarvan hy en sy pa self die prente van hul verbeeldingsvlugte geteken het, blaai, gebeur daar iets in die gehoor: Hulle praat terug; sagte woorde van aanmoediging, klein uitroepe van bewondering. Ek sit verstom. Dis openingsaand wat beteken almal in daardie gehoor het al ’n hele paar honderd verhoogstukke op hul kerfstok. Tog het hierdie “seuntjie” die vermoë om elkeen aan te raak.
Hy het ’n periskoop gebou uit waterpype van die bure se nuwe kombuis-opknapping en sê ewe plegtig hy wil die wêreld sien soos dit gaan lyk wanneer hy groot is. Hy hou die periskoop voor sy klein lyfie en loer kamstig deur die periskoop wat twee maal so hoog soos hy is.
Soos die 60 minute verloop, kom jy agter sy pa het hom en sy ma agtergelaat. Dit het sy ma gebreek en sy volgehoue geloof in die goedheid van sy pa breek haar elke dag nog verder. Al die gebreekte beloftes wat hy gemaak het, kan volgens die seuntjie weer reggemaak word; volgens haar is sommige goed vernietig as dit een maal gebreek is.

Cara Roberts in The king of broken things. Foto: Jonathan Burton
Daar skemer af en toe goed deur waarmee sy ma sy geesdrif probeer tem, soos dat jy nie ’n sambreel in die huis oopmaak nie; dit bring ongeluk. Sy afleiding is egter dat geluk nie in ’n sambreel woon nie, maar in jou kop. Die gehoor stem weer saam.
Die seuntjie verklaar ook dat sy gunsteling-gebreekte goed, dié is wat ander gebreekte goed benodig om weer heel te word: soos mense. Hy gaan sit by ’n stofsuier met ’n gebreekte gorrel en sê hy hou nie van stofsuiers nie, want die geraas steel die gedagtes uit sy kop.
Hy het op die radio gehoor die omroeper sê die land is gebreek, maar hy wonder hoe ’n land gebreek kan wees? “Dit kan reggemaak word. Die grond is nog hier. Die mense is nog hier. Maak net die klein gebreekte goed reg en dan is dit nie meer stukkend nie.”
Hoe kan mens nie met sy gedagtes identifiseer nie, maar ons dink nooit so kinderlik (en durf ek sê eenvoudig) daaraan nie.
........
Die stuk word ’n meesleurende versameling waarhede; dagstukkies vir die lewe vanuit die waarnemings van ’n gebroke kind, maar wat nog kinderlik in sprokies en gelukkige eindes glo.
........
Die stuk word ’n meesleurende versameling waarhede; dagstukkies vir die lewe vanuit die waarnemings van ’n gebroke kind, maar wat nog kinderlik in sprokies en gelukkige eindes glo.
Ek weet nie wanneer ek begin huil het nie. Was dit met die gewaarwording dat hy by die skool afgeknou word omdat hy anders is, omdat hy sy afwesige pa ophemel as ’n soort bonatuurlike held?
Was dit toe hy die gehoor vra om hul oë toe te maak dat hy iets uit sy geheime bêreplek kan haal? Of was dit toe hy stukke pyp, draad en ou melkbottels uitpak en vertel dat hy iets spesiaals vir sy pa bou?
Ek weet nie, maar teen die laaste minute toe hy vir ’n hoeveelste nag in die werkskamer tussen al die “rommel” die kombersie oor sy lyfie trek, toe snik ek saam met soveel ander. Ek kan nie my vinger op een wysheid lê wat my dieper geraak het as die volgende of die volgende nie. Die hartseer wat daardie seuntjie moet deurmaak, is saamgevat in een klein lyfie en die metafoor vir alles wat verkeerd is in die wêreld.

Cara Roberts in The king of broken things. Foto: Jonathan Burton
Die stuk het die glansryke Gold Ovation Award by die 2023 National Arts Festival ontvang en onlangs die Fleur du Cap-teatertoekenning vir die beste teaterproduksie vir kinders en jongmense. Dit het by die The Drama Factory in Somerset-Wes gedebuteer in ’n tyd wat ons gereis het. Ook maar goed ons was nie tuis nie, ek sou ’n oorlas van myself gemaak het daar by die teater omdat ek elke aand sou wou weer en weer en weer gaan kyk.
Dit gaan hier oor meer as Cara Roberts se uitsonderlike vertolking van ’n seuntjie of die hartroerende storie wat Michael Taylor-Broderick uitgedink het, of die mooi, chaotiese, interessante stel. Dit gaan oor weerloosheid en onskuld en die mooi binne ander – en belangriker nog, jouself – raaksien.
Ek het na afloop van die vertoning vir iemand gesê as hulle net een toneelstuk kyk hierdie jaar, laat dit The king of broken things wees.
........
Jy kan nie gebroke uit hierdie ervaring stap nie. Dis die tipe toneelstuk waarvoor jy dalk jou hele lewe lank al wag.
........
Maar ek wil nou teruggaan op daardie woorde en sê: As jy nooit weer in ’n teater gaan kom nie, laat hierdie jou allerlaaste magiese oomblikke in die skemerte van ’n teatersaal wees.
Jy kan nie gebroke uit hierdie ervaring stap nie. Dis die tipe toneelstuk waarvoor jy dalk jou hele lewe lank al wag.
Die vertoning is geskik vir “kinders” van alle ouderdomme, veral die oueres. Sodat ons weer soos ’n kind kan glo en hoop en droom.
Kyk die lokprent hier.
The king of broken things
Met: Cara Roberts
Teks, ontwerp en regie: Michael Taylor-Broderick
Stelontwerp: Bryan Hiles
Vervaardiger: Theatresmiths
Teater: Die Baxter Studio
Datum: 1–18 Mei 2024; Maandag tot Saterdag om 20:00; Sondag om 15:00.
- Kaartjies teen R150 deur Webtickets, Pick n Pay-takke of die Baxter Teater, 021-680 3962; afslag vir studente, groepbesprekings en seniors.
Lees ook:
The king of broken things by Michael Taylor-Broderick at the National Arts Festival, Makhanda

