Trial and error
Met: Mamello Makhetha, Kayla van Tonder, Ethan Saunders, Sage van Niekerk, Luella Holland en Daniel Stromin
Teks en regie: Emma Amber
Vervaardig deur: Origen Productions
Baxter Masambe-teater, Rondebosch, Kaapstad
4–14 September om 19:30
Kaartjies deur Webticket
Dis die eerste keer wat ek vir juriediens opgekommandeer word. Gelukkig is dit nog my keuse om te aanvaar, of nie.
Die saak waarin ek moet oordeel vel, lyk so: Amari Davies (19) staan tereg op twee aanklagte van manslag en nalatigheid. Die plek waar alles afspeel, is van meet af deel van die saak: Georgia, VSA, waar die vonnis dekades kan wees. Voeg daarby ekstra kinkels in die kabel soos die rasseverskil tussen die beskuldigde, haar prokureur, die aanklaer en die polisie, en Amari se verdoemende uitslae ná ’n dwelmtoets; dan is die speelveld maar bra ongelyk.
Teen die mure van Masambe, die intieme ondergrondse teater by die Baxter, hang materiaal met die woorde van die “Bill of Rights” in swart geskryf. Enkele woorde is in oranje beklemtoon. In die linkerkantste hoek hang die Amerikaanse vlag.
Ek is deel van ’n gehoorjurie wat die saak aanhoor, en soos die verhoor ontvou, word die aanklag teen die beskuldigde duideliker en die gebeure van die oggend toe sy in hegtenis geneem is, ontvou.
Dit speel af soos ’n fliek: Tussen die verhoor deur verander die akteurs die paar meubelstukke op die verhoog en skep klein kykies in Amari en die jong man wat geliefdes deur haar nalatigheid verloor het, se lewens. Jy leer as’t ware hul agtergrond en stories ken, wat natuurlik jou gevoel jeens hulle verander.
Met die verloop van die hofsaak, 75 minute, ontgin die verdediging en die aanklaer die rou emosies van die betrokkenes, wat die jurie (die klein gehoor) uitdaag om hul eie vooroordele en oortuigings te konfronteer. “Om onder die voor die hand liggende te kyk en te luister. Om dieper te delf en ’n uitspraak te gee wat op feite gegrond is – nie emosie nie,” vra die verdedigingsprokureur, gespeel deur Kayla van Tonder. Sy pleit dat elke jurielid mooi moet dink oor hul besluit, want dit gaan die jong vrou se toekoms bepaal. “Die toekoms van ’n jong vrou se lewe, wat nog nie eers regtig begin het nie.” Sy sê ook voorts dat die hele saak ’n ongeluk, misverstand en verdraaiing van feite is.
Sy en die aanklaer, gespeel deur Sage van Niekerk, kyk elke jurielid in die oë as hulle stellings maak, of vrae vra. Jy sit knus teen ander gehoorlede, wat die hele gevoel van ’n juriebank versterk. Wegkyk of wegkom is geen opsie nie. Mettertyd begin voel jy die gewigtigheid van jou besluit.
Die aanklaer se aanslag is natuurlik gefokus op die nalatigheidaspek. Hy probeer die jurie oortuig dat Amari oud genoeg is om verantwoordelikheid vir haar dade te dra. Dat sy skuldig is op al die aanklagte.
En dan, in die middel, is daar Amari wat verklaar dat die brose rasseverhoudings van Georgia natuurlik gaan verseker dat sy geen regverdige verhoor gaan hê nie. Dat die ongelyke speelveld soveel slaggate het waarin almal sal trap dat sy eintlik verdoem is – nog voor die saak aangehoor is.
Die teksskrywer en regisseur, Emma Amber, skryf in die kort program: “Trial and error is ’n dramatiese verkenning van geregtigheid, empatie en die menslike toestand, wat ’n meeslepende ervaring bied.”
Emma werk sedert sy gegradueer het, as ’n aktrise, regisseur, vervaardiger en stemkunstenaar. Sy het onder meer Origen Productions gestig, ’n produksiehuis wat toneelstukke op die planke bring, soos die suksesvolle Suid-Afrikaanse reeks The Marvellous Wonderettes, waarvoor sy ’n Fleur du Cap-benoeming vir beste nuwe regisseur ontvang het. Emma se ander onlangse werke sluit in die skryf en regie van die romkom Love me, feed me, never leave me en die regie van Five women wearing the same dress.
Die produksie spog met ’n talentvolle, maar baie jong, rolverdeling, onder wie Mamello Makhetha as Amari Davies (A midsummer night’s dream, Alice in wonderland en Shacks and yoga mats), Kayla van Tonder (DanZ!; haar rol in die film Evade het haar ’n benoeming besorg vir beste ondersteunende aktrise by die Branson Internasionale Filmfees), en Ethan Saunders as Simon (Killer body count). Ander akteurs wat te sien is, is Sage van Niekerk as die aanklaer (Blood and water en Justice served, met ’n benoeming vir beste akteur by die 2021 Kaapstadse 48-uur-rolprentfees); Luella Holland as die dokter (Dit is wat sy gesê het en Vroue bo-op); en Daniel Stromin as die polisieman (Op dees aarde, good heavens en die komende film Deep fake).
Met die Amerikaanse presidentsverkiesing wat wink en die toekoms van vreedsame rasseverhoudings tydens die verkiesingsveldtog van die twee kandidate – Donald Trump en Kamala Harris – is hierdie toneelstuk se tydsberekening in die kol, want tydens die verhoor word die politieke landskap in die betrokke staat en mense se vooroordeel duidelik tot die uiterstes beproef.
Die gebruik van swart en oranje word ’n tema in die toneelstuk. Nie net eggo dit die tien punte van die Bill of Rights wat die hofsaal omvou nie, maar dit versterk die atmosfeer dat jy met ’n tronk en die wet en selle te make het, sonder ’n oordadige stel. Amari se oranje tronkoorpak met die woord “Prisoner” in swart gedruk, word elke nou en dan deel van die kostuums.
Die enigste afwyking van die swart-en-oranje tema is die uitrusting van die jong Simon, wat probeer om vir Amari te haat omdat hy glo sy het in ’n paar oomblikke alles van hom weggeneem. Sy uitrusting het meer bruin in en hy is ook die beste geklee van die hele groep. Hy probeer haar met tronkbesoeke wat hom oortuig dat sy jammer is, laat verstaan hoe groot sy verlies nou eintlik is. Sy antwoord dat sy elke aand in ’n kliniese tronksel met daardie wete gekonfronteer word, en natuurlik ook ’n reuse gevoel van verlies dra.
Die jong akteurs se tekort aan ervaring is nie hinderlik nie. Inteendeel, hul spel is oortuigend en geloofwaardig. Die ster van die vertoning is beslis Mamello Makhetha, wat Amari ongelooflik uitbeeld. Sy word daardie jong weerlose Amerikaner. Selfs haar wisseling tussen haar kinderself en haar ouer self, en die nabootsing van haar ma, ouma en oupa is oortuigend en goed.
Emma se gebruik van ’n klein modelmotortjie is baie treffend.
Daar is hier en daar vir my ’n paar klein tekortkominge in die teks wat my – ’n groot liefhebber van hofsaaldramas – met onbeantwoorde vrae laat. Of dit doelbewus is, of toe te skryf is aan Emma se gebrek aan ervaring, sal ek nooit weet nie.
Daar is meer twyfel nodig. Meer emosie moet uitgelok word tydens Amari se getuienis. Die verhoorinhoud is nie swart en wit (of swart en oranje) genoeg nie, maar eerder ’n bietjie vaal.
Maar dan kom die vlietende sekonde waar jy moet besluit of jy gaan sit of staan – skuldig of nie – en dit bring heel onverwags trane na my oë.
Is Amari skuldig? Kom wees deel van die volgende groep jurielede en besluit self.
- Foto’s: verskaf