Anton Müller – Ek onthou: ’n outistiese seun se lewensreis: persoonlike indrukke

  • 0

Ek onthou: ’n outistiese seun se lewensreis
Anton Müller
Flyleaf
ISBN: 9781990977916

Mense verskil oor die effek van die Vierde Industriële Revolusie op ons lewens, maar dit wat Klaus Schwab beskryf het met sy term 4IR in Shaping the future of the Fourth Industrial Revolution, het tydens die afgelope Toyota US Woordfees vir ons ongelooflik baie plesier verskaf. Die manier waarop ons tegnologie kon inspan om die Woordfees steeds te geniet, het al my verwagtinge oortref. Natuurlik was daar aspekte wat ons gemis het, soos die kuiers by die Plataankafee tussen produksies. Die buzz en vibe van Stellenbosch se strate en die volgepakte sale laat ’n mens altyd ’n bietjie uitasem van opgewondenheid. Tog wonder ek of ons so sou kon ontspan hierdie jaar? Die inperking en risiko het ’n groot demper op alles geplaas, maar om die Woordfees in jou sitkamer te kon beleef, het ook groot voordele gehad. Jy kon die gesigsuitdrukkings en emosie op die deelnemers se gesigte sien en elke woord hoor. Iets wat definitief nie moontlik sou wees uit sitplek J9, met die klank wat ‘n bietjie kreun nie.

My gunstelingproduksie van die skrywersgesprekke was sonder twyfel Anton Müller met sy memoir Ek onthou: 'n outistiese seun se lewensreis. Hannes van Wyk het met hom en sy broer Corrie gesels. Hannes van Wyk – vaardige onderhoudvoerder wat hy is – se vrae aan Anton was met soveel liefde, deernis en begrip gestel dat Anton heeltemal gemaklik was om op nasionale televisie te verskyn. Hy het geredelik en met trots sy vaardighede om datums en dae te onthou vir die gehoor gewys.

Dit was duidelik dat die man Anton Müller hard gewerk het om te bereik wat hy bereik het, om vir baie jare ten volle selfonderhoudend te kon leef en in Stellenbosch se biblioteek te werk. Ook op emosionele en sosiale vlak moes hy hard werk om dinge wat vir ander mense natuurlik kom te bemeester. Aan die einde van die gesprek het hy vir Hannes aanvaar as een van sy “trawante”, wat ’n groot kompliment is.

......

Dit was duidelik dat die man Anton Müller hard gewerk het om te bereik wat hy bereik het, om vir baie jare ten volle selfonderhoudend te kon leef en in Stellenbosch se biblioteek te werk. Ook op emosionele en sosiale vlak moes hy hard werk om dinge wat vir ander mense natuurlik kom te bemeester. Aan die einde van die gesprek het hy vir Hannes aanvaar as een van sy “trawante”, wat ’n groot kompliment is.

.......

Terwyl ons na die aangrypende gesprek gekyk het, moes ek meer weet van hierdie besondere mens, en vra toe van my foon af 'n free sample van die boek vir my Kindle aan. Dit was binne sekondes op my toestel en aan die einde van die free sample vra Kindle: Do you want to buy this book? Maar natuurlik! Een kliek op Buy this book en sekondes later lees ek verder. Weer eens die wonder van tegnologie.

Hierdie boek is die outobiografie van ’n outistiese man. Hy is op die ouderdom van drie jaar gediagnoseer as outisties en is as onopvoedbaar beskou. Daar is aanbeveel dat hy in ’n inrigting geplaas word. Sy ma het dit nie aanvaar nie en het dit haar lewenstaak gemaak om te sorg dat hy wel ’n gewone skool kan bywoon. Dis skrikwekkend om te dink dat hierdie sagte man uiteindelik uitgelewer en ’n slagoffer van ’n plek soos Life Esedimeni sou kon gewees het.

.......

Hierdie boek is die outobiografie van ’n outistiese man. Hy is op die ouderdom van drie jaar gediagnoseer as outisties en is as onopvoedbaar beskou. Daar is aanbeveel dat hy in ’n inrigting geplaas word. Sy ma het dit nie aanvaar nie en het dit haar lewenstaak gemaak om te sorg dat hy wel ’n gewone skool kan bywoon.

........

Gelukkig het hy by juffrou Sterretjie beland. In Anton se woorde: “Juffrou Sterretjie was ’n gawe van die Here gewees.” Anton se geloof is kinderlik, maar opreg. Hy was al sy lewe lank baie ontvanklik vir spirituele boodskappe, asof daar ’n kommunikasiekanaal met die Godheid spesiaal vir hom is. Die hele boek is deurweef van sy geloof in die Here, maar  ook sy vertroue in die goedheid van die mens.

Die geduld en kundigheid van Helen Müller en juffrou Sterretjie is verstommend, gegewe die feit dat daar meer as ’n halwe eeu gelede min inligting oor outisme beskikbaar was. Dit het my opgeval dat dit meer as blote toevalligheid was dat hulle intuïtief die regte metodes gebruik het om Anton se vermoë ten beste te ontwikkel. Dit is asof dit ’n spesifieke lewenspad is wat hulle saam met hom moes loop sodat hy ander se lewens kon aanraak. En dit doen hy, te oordeel aan kommentaar van mense in Stellenbosch.

Hy het die boek begin as ’n opstel oor sy ma. Hy het dit in Croxley-oefenboeke geskryf, in lopende skrif met min spasies tussen woorde – daar is foto’s daarvan in die boek. Tydens die gesprek met Hannes van Wyk het sy broer Corrie verduidelik met hoeveel moeite en konsentrasie dit geskryf is, hoe hard hy met die pen op papier gedruk het. Wou hy dalk só doodseker maak dat hy gehóór word?

Anton se vertelling word afgewissel met stukkies van sy familie, vriende en ou klasmaats. Daaruit is dit duidelik dat hy geliefd was, maar ook soos enige ander kind geboelie en gespot is. Hy kon egter nie spot of lyftaal verstaan nie en het dinge letterlik opgeneem. Dit was moeilik vir hom, maar vergifnis het maklik gekom.

In Corrie se woorde, “Anton se verhaal is enig in sy soort – pynlik, eerlik, maar ontroerend mooi.”

Outismespektrumversteurings (OSV’s) is ’n groep genetiese toestande wat abnormale breinontwikkeling en -funksie veroorsaak. OSV veroorsaak nie altyd verstandelike gestremdheid nie, maar mense met OSV kan oor normale of bogemiddelde verstandelike vermoëns beskik,

Anton se taalgebruik is plek-plek hoogdrawend – hy praat byvoorbeeld van ’n tydgleuf, sy vriende is trawante. Sy taal en unieke toon is behou. Hy het ’n verstommende geheue, veral wat betref datums en syfers. “Ek het my maaltafels ook baie goed geken. Ek kon baie verder as die 12x-tafel gaan. Juffrou Sterretjie het my so aangekyk as ek byvoorbeeld gesê het 12 maal 16 is 192, of 272 gedeel deur 16 is 17.”

 ’n Mens kan hom enige datum in die verlede gee, en hy kan binne sekondes vir jou sê op watter dag dit geval het. “Dit was in daardie tydgleuf dat ek besef het dat ek kon uitwerk op watter dag van die week ’n sekere datum val en op watter dag van die week is iemand gebore. Ek kan nie vir mense verduidelik hoe ek dit regkry nie. Ek weet net dat ek dit kan doen. Ek onthou dat ek vir die eerste keer besef het dat ek hierdie gawe gekry het en dit was op die 11de Desember 1968. Dit was ’n Woensdag.”

Ook onthou hy alles rondom die loopbane van NG Kerk-predikante. Hy het ’n jaarboek van die kerk in die hande gekry en dit van voor tot agter deurgewerk en mense met daardie kennis vermaak. Hy vertel ook hoe hy voor in die kerk gesit het en dikwels die predikant in die rede geval het om iets duidelik te maak.

Sy beskrywings van gebeure is deurgaans eerlik en presies. Dit is amper pynlik om te lees hoe hy homself verstaan, hoe hy begrip het vir dit wat kan en dit wat nie kan nie. Die boek lees soos Anton self: presies, reguit en op die man af, sonder voorgee of pretensie. Dis bloot ’n eerlike weergawe van sy lewe, met besonderhede wat die meeste mense nie sou onthou nie.

Anton Müller is een van Stellenbosch se bekende fietsryers, en hy is baie geheg aan sy fiets. Hy beskryf dit so: "Dit is die aangewese transport vir my op Stellenbosch. Dit is goed vir die liggaam en dit laat jou goed asemhaal en dit laat jou hart gesond klop, veral as daar 'n bult is wat ek kan uittrap ... Ek dink in die toekoms gaan mense meer fietsry en daarom beskou ek myself as 'n baanbreker."

Bekende name soos Bun Booyens, Braam Hanekom, Randall Wicomb en Sparks Esterhuizen word genoem. Bun Booyens het gehelp om die teks drukgereed te kry en hy het ook sy herinneringe aan Anton geskryf.

Tipies van mense met OSV, pas Anton bitter moeilik by verandering aan. Hy vertel van pynlike ervaringe met sy ma se afsterwe, sy skuif van skole, sy eerste werk (waar hy steeds na 42 jaar werk). Mens voel die pyn in sy woorde, wat hy sonder enige voorgee of pretensie aan die leser bied. Mens hoor in sy woorde die aanvaarding van sy lot. Dinge is vir hom wat dit is; hy bevraagteken min en neem alles op sigwaarde.

.......

Die vriendelike, sagsinnige man skryf ook oor sy angs, wanneer hy buite beheer voel. Dit het meestal te doen met omstandighede wat verander wat buite sy beheer is.

.......

Die vriendelike, sagsinnige man skryf ook oor sy angs, wanneer hy buite beheer voel. Dit het meestal te doen met omstandighede wat verander wat buite sy beheer is. Een van sy huismaats, Stefan Visagie, skryf soos volg: “Dit het min gebeur, maar ek het geleer as dinge vir Anton buite beheer raak, is sy meganisme om dit te hanteer om op te kyk en te gil – hard te gil. Ná ’n paar gille is hy heeltemal ontlaai en gaan hy onverstoord voort. Anton reageer eintlik hoe ons almal wil reageer, maar te skaam is oor wat mense sal dink. Dalk sou dit vir ons ook beter werk as ons gewoon kon gil om van ons frustrasies ontslae te raak. Die samelewing sou dalk beter daaraan toe wees as ons dinge eerder soos Anton gedoen het.”

Danksy sy pa se streng kontrole en later ook dié van sy broer Corrie, leer Anton hoe om sy geldsake met ’n streng begroting te beheer. Hy is heeltemal bewus van sy gebrek aan impulsbeheer en volg sy begroting met dieselfde presisie as waarmee hy alle ander dinge aanpak. Hy koop sy eie woonstel en bied losies aan studente om die verband te help betaal. 

Hy het ’n swak plek vir meisies met donker hare, soos Connie in 7de Laan destyds. Hulle oorweldig hom, soos hy dit stel. Hy het soms ’n oorlas van homself gemaak en is belet om naby die meisies te kom, vir sy eie en ook hulle beskerming.

Hy was baie geheg aan sy kat met die naam Hond, maar toe die tyd kom, het hy so afskeid van Hond geneem: “Die uur het nou gekom dat Hond se doodsklok gelui het en Pa het ’n gebed gedoen. Ek moes nou afskeid neem van Hond. Ek het vir Hond gesê: “Hond, ek dink nie ek gaan vir jou weer sien voor jy uitgesit gaan word nie. Ek sê nou vir jou totsiens. Totsiens, Hond. Jy moet lekker sterf vandag. … Ek het vir Hond van die 11de Junie 1983 tot die 1ste Mei 1993 gehad. ’n Dekade van genade. Hond was uitgesit in Lydenstyd.”

Dit was asof sy energie een was met dié van die diere om hom. Sy vriend Stefan Visagie vertel ook van ’n vreemde ervaring wat hulle gehad het, waar Anton regdeur ’n skaaptrop gestap het sonder dat dit die diere affekteer het.

Hierdie energie van Anton was vir my voelbaar tydens sy gesprek met Hannes van Wyk. Daar is iets sags daarin, asof geen kwaad vatplek aan hom kan kry nie. Sy woorde wat hy so sorgvuldig neergeskryf het, het ook hierdie totale gebrek aan woede teenoor sy situasie en sy medemens uitgestraal.

“Ek het genoeg. Ek hunker na niks meer nie. My besittings is my fiets, my klere, my huisraad en my televisie. Maar dit is my aardse besittings. Ek het ook besittings soos geloof, my gesondheid, my familie en vriende, my vrede en my dankbaarheid. Ek is skatryk.”

Mense wat hom ken, sal sy stem in die teks hoor. Die skryfproses was ook vir Anton ’n manier om dankie te sê vir die liefde en ondersteuning wat hy vir meer as ses dekades uit soveel oorde gekry het. Dit kom letterlik op elke bladsy na vore. Anton se boek is ’n dokument van hoop vir talle ouers met kinders op die outismespektrum. ’n Mens kan nie anders as om begrip te kry vir die binnewêreld van ’n outistiese persoon nie, ook respek te kry vir die groot gestoei om in ’n “gewone” wêreld te moet leef en oorleef.

Anton Müller laat mens ook besef: Dit is oukei om outisties te wees.

Lees ook:

Ek onthou – ’n outistiese seun se lewensreis: ’n onderhoud met Anton en Corrie Müller

Toyota US Woordfees 2021 | Die poet, wie’s hy?

Toyota US Woordfees 2021 | Toyota Top-10: Karen Zoid & Kaapstadse Filharmoniese Orkes

Toyota US Woordfees-TV 2021: enkele gedagtes

Woordfees op die teevee

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top