Toyota US Woordfees 2021 | Die poet, wie’s hy?

  • 2

.....
Kontemporêre musiek. Woordfees TV 2021
.....

In ’n mens se kop kan jy reis tot waar jou stoflike liggaam dalk nooit kan nie. Dus het ek in my kop geklim en langs Adam Small gaan sit waar ekstra spesiale woorde-vlerke hom geneem het na ’n plek vir uitverkorenes.

Nie soos in die kerk-taal van uitverkorenes nie, maar in die stryder-taal van diegene wat ’n pad vir ander uitgekap het hier op aarde. Bygesê, so baie soos Small van God en met God gepraat het…

Ewenwel, daar is geen beter plek as langs die groot woorde-man nie, terwyl ons afkyk op die verhoog waar Die poet, wie’s hy? ontvou.

Die lig val op ’n man in ’n donkergrys pak, T-hemp, tekkies. Ligvoet dans hy oor die verhoog, tussen Small se woorde deur. Sy voetval moet sekuur wees, want die woorde laat nie met hulle mors nie.

God het gesê laat ons mens maak na ons beeld, ons gelykenis.

Oranje, wit en blou. Dis die plek waar ons grootgeword het – Goorree, skryf Small. Dis ook die kleure van die vlag wat breëbors gewapper het oor Suid-Afrika, voor demokrasie in 1994 gekom het.

Dis in die tyd voor die langverwagte demokrasie dat Small sy woorde, in sy Afrikaans, begin gebruik het uit verset, protes, opheffing, bewusmaking.

 

Hy was onbeskaamd oor die Kaapse Afrikaans van sy tyd, en in Die poet is die akteur Dean Balie ewe onbeskaamd om dit gestalte te gee. (Dié man is meesterlik.)

Ons is ammel gemaak na die Beeld van God. (Jy moenie godsdiens en politiek meng nie, waarsku sy maat op die verhoog.)

Kinders van Gam, en kinners van Kain.

Die Jirre het geskommel, en die dice het verkeerd geval vir o’s.

Maar Sondae het daar ’n wonderlike ding gebeur, vertel hy. As hulle Sondae tot God gebid het, was dit nie nodig om vir Hom baas te sê nie. ’n Wonderwerk, net daar.

Dit is moeilik om te onderskei tussen Small en die man en die orkes wat hier benede sy woorde gestalte gee.

.....
Balie op sy eie kan sy man staan, maar met die manne van die Khoisan Gypsy Band op enigiets van ingewikkelde instrumente tot basiese olieblikke word ’n mens plesierlik rondgegooi tussen emosies.
.....

Balie op sy eie kan sy man staan, maar met die manne van die Khoisan Gypsy Band op enigiets van ingewikkelde instrumente tot basiese olieblikke word ’n mens plesierlik rondgegooi tussen emosies.

Ek knyp my oë styf toe, ek dink oom Adam ook. Ek verbeel my hy sit effens vooroor, vingertoppies teen mekaar om ’n driehoek te vorm om sy ken te stut. Want daar is nie ’n ander manier om elke klank te hoor nie. Daar is klippies wat teen mekaar skuur soos wanneer die oseaan oor hulle spoel in tydlose ritme. Daar is ou jêm-blikke met ’n tou deur wat klanke maak wat die brein nie onmiddellik snap nie.

Dan is daar die gwoiing-gwoiing van die snare, die banjo, die boog, wat fluks dans bo en onderdeur die ramshorings.

Die klanke van die instrumente is soms ’n geweeklaag, ’n eggo van die pyn en verwerping waarvan Small dikwels geskryf het.

Op ’n ander keer jubel en juig dit as Balie die Bybel oopslaan. Dan, ’n woeps en ’n waps en dit kraai van plesierigheid, soos wanneer die groente-en-vrugtesmous die merrim wil oortuig om te koop.

En Balie trap nie een keer skeef nie. Dis of die manne met die snare en die horings by hom ingeplug is. Hy is meesterlik met die gladde beweging van sing, dans, preek, bid – en kitaar slaan.

Maar die produksie is nie ’n geteem en ’n gekla nie. Dit is Small op sy beste, en die gedigte wat gekies is, is die eggo van sy skerp sosiale kommentaar op geloof (en soms die uitbuiting daarvan), die liefde en die hoop.

Balie het al lank met die idee in sy kop geloop om Small se gedigte te laat toonset, het De Klerk Oelofse, wat oorspronklik die vervaardiger was toe die produksie in 2020 by die Toyota US Woordfees op die planke was, gesê.

In November 2019 het hulle ’n paar musiekmakers in Kaapstad bymekaar gekry om te hoor wat hulle kan bied – en toe begin die note en die woorde om reg te val.

.....
Small, waar hy van ver anderkant die wolke loer, se tone moes behoorlik krul wanneer die manne lostrek met hul snare, selfgemaakte shakers, banjo’s en akoestiese instrumente.
.....

Small, waar hy van ver anderkant die wolke loer, se tone moes behoorlik krul wanneer die manne lostrek met hul snare, selfgemaakte shakers, banjo’s en akoestiese instrumente.

Daar is Garth Erasmus op die viersnaar blik-en-snaar-ghitaar gemaak van ’n Caltex-olieblik. Sy shaker is ’n boksie vol gruis en klippies, bymekaar gehou met insulation tape.

Leon Ecroignard gebruik die ingevoerde hand-pan, wat op ’n spesiale toon gestel word. Hy wissel dit af met sy straat-tjello, ’n konkoksie van ’n ou koperketel waarop ’n nek gesweis en twee snare getrek is. O, en natuurlik sy klein baskitaar met die snare van leer.

Vir Ulric NamaSun Roberts is dit die reënstok, blaashoring van gedroogde seebamboes en die didgeridoo, ’n Australiese blaasinstrument wat ’n mens laat verlang na plekke en paaie wat jy nie eens ken nie.

Collin “The Bushman” Meyer skud sy fetakaashouer met Grabouw-grond in (hy was baie spesifiek oor die grond), die Xalimba en konfytblikke met tou, sy Boesman-boog en kitaar die pasmaat vir Frazer Barry, wie se talent ’n mens nie in enige kassie kan sit nie. Met sy ramkiekie – ’n ou koekblik met twee snare – wou hy iets skep wat die klank maak van iemand wat ween en sowaar, dis pure melankolie wanneer hy daai snare slaan.

Met die gedigte gekies deur Frieda van den Heever, pluk hulle deure oop sodat mense kan sien wat in die hart van die digter aangaan – en dus ook die mense wat hy beskryf.

“Kô laat ons sing”, “Groot Krismis-gebed”; “Bruin Prediker”, “Vryheid”, “Die poet, wie’s hy” en “Trap der bruin jeugd”. Hulle is almal daar – en die woorde is vandag nog net so gepas.

“Laat die wêreld maar praat, pêllie, los en vas, laat die wêreld maar praat. Laat hulle maar sê skollie, nevvermaaind. Daar is mos kinners van Gam, en kinners van Kain. Ons kan nie worry nie.”

Ons moet aanhou, aanhou, het Small altyd gesê. Hy pleit steeds vir sy mense.

In ’n plek wat gestink het, plek waar mens naar geword het van die bedompigheid, seg hy, is Jesus gebore. Maar ons ken sulke plekke, verseker hy Hom.

Daar is duplicates van hulle all over – die Windermere, die Distrik Ses, Blouvlei, hie’so annerkant die Wynberg, hie’ so by die Retreat.

Net djy wat die grootste experience van almal het van hierdie plekke. Net djy kan vir ons ’n nuwe Moses laat gebore word. Ons sal hom wegsteek Here, ons het baie wegsteekplekke.

Ek sien oom Adam knik, en ek knik ook. Ek dink ek weet hoekom hy knik. In die madness van verkiesingsveldtogte en stemdag wat om die hoek staan en loer, wens ons tussen die klomp gebeur ’n wonderwerk van ’n Moses wat regtig die volk gaan lei.

  • Fotografie: Lindsey Appolis
  • 2

Kommentaar

  • Monica Hammes

    Dit was ’n wondermooie vertoning. So bly dat ek dit twee maal kon sien nadat ek dit in 2020 gemis het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top