Toyota US Woordfees 2021 | Toyota Top-10: Karen Zoid & Kaapstadse Filharmoniese Orkes

  • 2

...
Te sien op die DStv Woordfeeskanaal 150 & catchup
...

20 jaar. 20 liedjies. Zoid vier twee dekades in die musiekbedryf in hierdie uitvoering van 20 van haar grootste treffers saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes

Een van my hoogtepunte van 2020 se Woordfees was Karen Zoid se konsert saam met die Kaapstadse Filharmoniese orkes (KFO). Sy het 20 jaar in die musiekbedryf gevier met 20 treffers en die gevierde musici van die KFO. Meer as 5000 mense het die Van der Stel-sportgronde in Stellenbosch volgepak onder ’n herfsvolmaan in die wynland. Dit was magies.

Min het ek geweet, dit was die laaste konsert wat ek in ’n lang tyd sou bywoon.

’n Jaar en ’n half later en ons kunsmae is leeg, ons musiekkoppe hol, ons is menssku, groot musiekkonserte net ’n vae herinnering. Dis ondenkbaar om nou tussen 5000 mense in te skuif om ’n massakonsert by te woon.

Ek het regtig gedink daardie aand was die hoogtepunt van Karen Zoid se loopbaan. Ek vermoed ek was verkeerd.

Hierdie jaar is Zoid mondig - 21 jaar in die bedryf. 2021 sal egter nie onthou word as die jaar van groot partytjies of konserte nie. Die vermaaklikheidsbedryf is onberekenbaar geskaad. Sangers maak en verkoop kos, smous polisse, musici verkoop hul kitare, akteurs doen leerwerk, doen loswerkies om te oorleef.

So, hoe vier ’n mens so ’n mylpaal verantwoordelik, dog met oorgawe? Jy reël ’n strikdas-mondigwordingspartytjie met rooi koeldrank en peppermintcrisptert in die Mount Nelson se parkeerterrein. Dis hoe die nuwe TV-formaat van Zoid se partytjie vir my geklink het.

Suid-Afrika se voorste rocker se twenty first sonder ’n skare? Ondenkbaar.

Daar is iets magies aan duisende mense wat saam sing, saam dans, saam hande swaai, vir drie songs  lank in ’n ry staan om bier te koop, die elektrisiteit in die lug, die gezoem van die skare wat soos bye onderlangs brom. Die skare steek mekaar aan, teer op mekaar, die musici kry hul buzz en energie van die menigte.

Met die nuwe formaat van die Woordfees, is Zoid se vertoning herskep in die konsertsaal van die Artscape. Geen skare. Die leë stoele se silhoette is makabere rooi grafstene van ’n kwynende bedryf, kan mens sinies redeneer. Óf, kan ons optimisties jodel: Hulle is plekhouers van hoop vir wanneer gehore weer terugkeer in hul hordes.

Die verhoog is gepak met van die beste musici in die land. Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes onder leiding van die uiters begaafde Brandon Phillips vat hande met die briljante Zoid-viertal in ’n konsert van amper twee ure wat die Afrikaanse musiekwêreld omkeer. Dis nie ’n nuwe konsep om ‘n rock band saam met ’n klassieke orkes te laat speel nie. Dis al menige male gedoen. Maar baie min in die Afrikaanse musiekindustrie. Moontlik net vanweë die koste en die logistieke uitdagings. Dit is amper 50 musikante wat gemobiliseer en betaal moet word. Hier moet die Woordfees en haar borge krediet kry vir die visie en finansiële ondersteuning om in so ’n projek te belê.

Ek het gedink ek sou die skare mis. Maar met hierdie produksie kry jy die geleentheid om intiem saam met die musikante óp die verhoog te klim. Dit voel asof jy daar op die verhoog saam met Zoid, haar band en die orkes is. Jy sien wat jy als gemis het met ’n groot skare.

...
Ek het gedink ek sou die skare mis. Maar met hierdie produksie kry jy die geleentheid om intiem saam met die musikante óp die verhoog te klim.
...

Ek het laas ’n paar liedjies heeltemal gemis, want ’n dronkie het besluit om my sy lewensverhaal te vertel tussen “You can show it” en “Maak nie regtig saak nie”. Vir my het dit saak gemaak. Nie vir hom nie.

Met die TV-produksie se knap kamerawerk sien jy die snare, sien jy die vingers, sien jy die orkes van naby, sien jy Karen en haar orkes lewensgroot op jou skerm in jou voorhuis. En jy hoor die ongelooflike verwerkings van Matthijs van Dijk. Jy hoor die klein nuanses, die harmonië, hoe die instrumente mekaar en Zoid komplementeer. Die produksie skou Zoid se musikale volwassenheid. Mens wil soms kop skud soos op die uitstekende “Thunderstruck”-verwerking en die ikoniese “Afrikaners is plesierig”, maar die oorgrote meerderheid van die speellys is van Zoid se beste ballades, liefdesliedere, nadenkende covers wat vir my eintlik beter werk in hierdie private voorkamer opset as die opelugkonsertverhoog van laasjaar. Laasjaar het ek gewens daar was meer rock-nommers om die gehoor op hul voete te kry en te laat dans en te laat kopskud. In my mening, werk die programsamestelling dus baie beter vir die kassie. Ek sou nie laasjaar so gesê het nie, maar nou dat ek beide die opelugmassakonsert sowel as die kassievertoning beleef het, dink ek die produksie kom meer tot haar reg op die skerm as op die buitelugverhoog.

Die klankversorging is uitstekend. Dit was my enigste kritiek teen die 2020-produksie: Met die eggo van die berge, die groot stadion, was dit soms moeilik om al die instrumente te hoor. Met die TV-opname kan ’n mens als suiwer hoor - van die hobo tot die loeiende elektriese kitaar.

Die mondigwordingpartytjie is intiem. Jaco Bouwer (regisseur) bring jou op die verhoog, laat jou voel jy is ook dáár in die Artscape. Die kamerawerk laat jou glo “die kitare speel net vir jou”. So ook die strykers, die koper- en houtblaasinstrumente, die perkussie, speel net vir jou. Wolf Britz as kunsregisseur se beligting skep ’n sagte weerloosheid, ’n intieme ruimte wat jou as kyker innooi en laat déél voel van die onvergeetlike musikale gebeurtenis.

Die produksie is ’n eerlike blik op die instrumente en kunstenaars wat gewoonlik nooit in die kollig is nie, maar Zoid doen wat Zoid goed doen - sy deel die podium en laat die lig op almal skyn. Wel, sy én die produksiespan.

’n Mens verwonder jou aan die grasieuse stokkiedans van Brandon Philips, dirigent van die KFO, en vir ’n slag sien mens meer van hom as net sy rug. Die orkes is on point, hul ondersteun en verleen diepte aan Zoid se musiek. Zoid se manne is soos gewoonlik foutloos. Henry Steele se “Thunderstruck”-kitaar loei nou nog in my ore. Valient Swart se “Sonvanger” met die “Pie Jesu”-verwerking, “Donkernag”, “Vonkelvrou” is van my gunstelinge. Matthijs van Dijk se viool-duet met Zoid in “Beautiful” is delikaat en genuanseerd.

In die verlede het ek altyd met ’n gevoel van spyt by van die Woordfeesproduksies uitgeloop: Spyt omdat my mense wat ver is, nie ook kon beleef wat ons ervaar het nie. Met hierdie Woordfeesproduksies wat opgeneem is, is ’n belangrike stuk musiekgeskiedenis gedokumenteer vir mense om enige plek of tyd te geniet.

Zoid se twenty first was gepas vir die tyd waarin ons leef: Dit was ’n feesviering met ’n gewyde selfbewustheid van ons verganklikheid en weerloosheid. Dit was myns insiens poëties dat hierdie konsert in ’n leë Artscape opgeneem is. Die rooi stoele het foto’s van ons almal se gesigte op. Ons vul daardie konsertsaal vyftig keer met behulp van ’n DStv-knoppie. Die skare fluister: Ons is nog steeds hier. Hou aan sing. Hou aan speel. Ons luister.

Die speellys:
  1. Ride of the Valkyries - Richard Wagner
  2. Afrikaners is plesierig
  3. Small room
  4. Sonvanger / Pie Jesu
  5. Want as ek droom
  6. Beautiful
  7. Thunderstruck
  8. Donkernag
  9. Engel
  10. You can show it
  11. Maak nie regtig saak nie
  12. Deurmekaar
  13. Set of wheels
  14. Toe vind ek jou
  15. Vonkelvrou
  16. Meisie wat haar potlood kou / You are always on my mind
  17. Aeroplane Jane
  18. Vir jou
  19. As musiek begin speel
  20. Tyd van jou lewe
  • Fotografie: Nardus Engelbrecht
  • 2

Kommentaar

  • Ek het beide Karen Zoid se 2020 buitelug-vertoning by die Stellenbosch Woordfees en hierdie aanlyn weergawe gesien en vreeslik geniet. Dit was vir my hartseer dat daar geen toeskouers by lg. was nie (nie eers 50 nie), maar die nabyskote van kunstenaars en dirigent het tog daarvoor vergoed. Dankie Woordfees, dit was ’n wonderlike ervaring in ’n jaar waar ons geen vertonings kon sien nie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top