Afrikaanses van hul Suid-Afrikaans-wees onteien in erfenismaand?

  • 4
Ek dink baie taalbesorgdes het ’n fout begaan deur van die rol van die ANC-regering te vergeet. Terwyl baie van ons kapsie getoon en misnoeë uitgespreek het tenoor universiteite en hulle bestuur, het Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie sy [vermoedelike] anti-Afrikaanse agenda van stapel gestuur.

September is alombekend as die maand waarin Suid-Afrikaners hulle erfenis vier. Waarin ons as Suid-Afrikaners ons herkoms/komvandaan, tale en kulture – dit wat ons uniek binne ons diversiteit maak – vier.

Nietemin het ons vanjaar ’n ander tipe erfenismaand gevier – dit was heel verskillend as al die voriges. Veral vir die Afrikaanssprekende gemeenskap. Daar was letterlik aanvalle op en hoogtepunte vir Afrikaans as taal, maar natuurlik terselfdertyd ook op en vir haar sprekers.

Kom ons kyk eers na die hoogtepunte. Die eerste hoogtepunt was die bekendstelling van die eerste Afrikaapse woordeboek, ’n geskiedkundige oomblik. Selfs Cyril Ramaphosa het die nuus verwelkom.

Die tweede hoogtepunt was die Konstitusionele Hof-uitspraak op 22 September rondom die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se 2016-taalbeleid. Die hof het bevind dat die afskaffing van Afrikaans in die beleid ongrondwetlik en onwettig was.

Die hof het Unisa toe beveel om voor 2023 Afrikaans haar regmatige plek binne die universiteit terug te gee. Hieruit sal die sowat 30 000 Afrikaanssprekende studente wie se regte op moedertaalonderrig ontneem was, hul regte teruggegee word.

Dit was en is dalk nog een van die grootse oorwinnings vir die Afrikaanse gemeenskap en vir dié wat glo in die waarde van moedertaalonderrig.

Wat dalk nog meer interessant en verwelkomend van die uitspraak was, was die beskrywing van regter Steven Majiedt se siening van Afrikaans:

Afrikaans ’n klassieke mengelmoes van verskillende tale, saamgesmelt tot, waarna daar in hierdie Hof verwys is as, een van die kulturele skatte van Suid-Afrikaanse nasionale bestaan, wat wyd gebesig word en diep gesetel is, die medium van uitnemende literatuur, die draer van ’n ryk wetenskaplike en regswoordeskat en moontlik die mees Kreoolse of “reënboog” van alle Suid-Afrikaanse tale.

Dit is natuurlik in teenstelling met die siening dat Afrikaans nie inheems is soos vervat in die Universiteit Stellenbosch (US) se eerste hersiene konseptaalbeleid nie. Wat natuurlik tot groot opslae gelei het vroeër vanjaar.

Maar wat ek as verfrissend hieruit geneem het, was die feit dat verskillende belanghebbendes en taalbesorgdes hieroor kapsie gemaak het, dat dit selfs gelei het tot ’n protesaksie in en deur die strate van Stellenbosch.

Mense van verskeie agtergronde, omstandighede, waardestelsels, maar as een taalfamilie, het onder die dak van DAK Netwerk byeengekom en gesê genoeg is genoeg.

“Laat ons toe om in Afrikaans, ons moedertaal, te dala. En erken ons taal as inheems, want ons as haar spreker is inheems,” was van die enkele pleidooie aan die US.

Hierop het die US se rektor en visekanselier, Wim de Villiers, geantwoord dat die hersiene taalbeleid met die departement se taalbeleidsraamwerk te versoen is. Dis dus nie die US se skuld dat Afrikaans nie as “inheems” gesien word nie. Die US het toe wel gesê dat hulle Afrikaans as inheems erken, en dat hulle dit so met die departement sal opneem.

Ek dink baie taalbesorgdes het ’n fout begaan deur van die rol van die regering te vergeet, in dié geval die rol van die ANC-regering. Terwyl baie van ons kapsie getoon en misnoeë uitgespreek het tenoor universiteite en hulle bestuur, het Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie sy [vermoedelike] anti-Afrikaanse agenda van stapel gestuur.

Nadat die US die blaam op Nzimande se departement rondom Afrikaans se inheemsheid geplaas het, het die DA aan Nzimande geskryf om Afrikaans in die beleidsraamwerk as inheems te erken. Waarop Nzimande die versoek afgekeur het.

Hierdie onbeskaamde katterigheid van veral Nzimande is glad nie onbekend nie. Nadat die US in 2019 die Konstitusionele Hof-uitspraak teenoor die drukgroep Gelyke Kanse gewen het, het Nzimande saam ’n glasie geklink ter viering van die uitspraak.

Met dié uitspraak het Nzimande dit duidelik gemaak dat die gebruik van Afrikaans ’n middel is om “’n bekrompe en rassistiese Afrikanernasionalistiese agenda na te streef soos in apartheid”. Hieruit kon mens alreeds die gevolgtrekking maak dat Nzimande juis nog diep in die verlede vassit en steeds voortgaan om die Afrikaanse taal met sy geskiedenis gedurende die apartheid-era te verbind.

Die DA het toe met die Unisa-hofuitspraak wat Afrikaans as inheems erken, besluit om Nzimande by die Menseregtekommissie van Suid-Afrika (MRKSA) te verkla omdat Nzimande Afrikaans as uitheems sien.

Nzimande het in reaksie aangevoer dat hy Afrikaans as “amptelike taal” erken, maar dat hy nie kan toelaat dat dit as ’n middel van uitsluiting en onderdrukking gebruik word nie. Verder kan hy ook nie toelaat dat Afrikaans gebruik word vir ’n “Afrikanernasionalistiese agenda” soos in die apartheid-era nie.

Hierdie stellings van Nzimande is interessant, maar ook kommerwekkend. Mens kan net wonder of Nzimande ooit regtig belangstel in hoër onderwys? Het hy dan nie gehoor hoe mooi Majiedt juis dié soort wanopvattings kap nie?

Majiedt skryf dan verder in die Konstitusionele Hof se eenparige uitspraak dat “die erkenning van die belangrike rol wat eenvoudige inheemse mense en slawe in die taal se geskiedenis en ontwikkeling gespeel het, (..) ontsettend belangrik (is)”.

En verder:

Die geskiedenis van Afrikaans is veelvuldig in sy fasette. Die vestiging en bestaan van die taal kan nie bloot toegeskryf word aan een enkele rassegroep nie. Afrikaanssprekendes was afkomstig vanaf verskillende rasse, nasionaliteite en sosiale stande. Hierdie swart geskiedenis dui aan dat Afrikaans meer is as bloot die taal van “rassiste, onderdrukkers en ongekorrigeerde nasionaliste”, maar eerder die indruk dra van ʼn vurige tradisie van anti-imperialisme, anti-kolonialisme, van ’n alles omvattende menswees en anti-apartheid aktivisme.

Die wanopvatting van Afrikaans as “die witmense se taal” en “die taal van die onderdrukker”, is ’n skreiende wanvoorstelling van die taal en die ware oorsprong daarvan.

Wat natuurlik ook verder kontrasteer met die feit dat Nzimande se departement Afrikaans as uitheems sien. Dan ook verder bots met die ’n gedeelte van die beskrywing van “inheemse tale” in die beleidsraamwerk as “[tale wat hul ontstaan in Afrika] het en aan die suidelike Bantoe-taalfamilie behoort”.

Dit alles genoem los dus baie vrae. Terwyl al hierdie goed gedurende erfenismaand geskied het, kan mens nie anders as om te wonder of ons wat Afrikaanssprekend is, nog as Suid-Afrikaans geag word nie. Siende dat ons taal nou “uitheems” is, maak dit ons as sprekers ook “uitheems”?

Is ons dus nou van ons Suid-Afrikaans-wees onteien?

Die feit dat ’n minister van hierdie regering miljoene Afrikaanssprekendes deur sy siening rondom Afrikaans minag, is walglik, toksies en katterig. As staatsman moet hy van beter weet.

Hy is ’n skande en mislukking vir hierdie land. In plaas daarvan om die ander nege inheemse tale te bevorder, iets wat sy regering in die afgelope 27 nog niks van kon doen nie, het hy tyd vir politieke brownie-punte. Maar daai flou verskoning vir sy regering het al lank verval – ons is almal nou gatvol!

Hy moet maar eerder sy tassie pak en sy kantoor verlaat. Hy het geen intensie vir nasiebou en die groei van die sektor wat hy lei nie. Sy onwetenskaplike en ongegronde denke rondom Afrikaans is genoeg rede vir hom om eerder te bedank.

Lees ook op LitNet en Voertaal:

https://voertaal.nu/da-begin-petisie-om-afrikaans-as-inheemse-taal-te-erken/

https://voertaal.nu/druk-neem-toe-op-minister-om-afrikaans-as-inheems-te-erken/

https://voertaal.nu/konstitusionele-hof-se-afrikaans-is-nie-die-taal-van-rassiste-en-onderdrukkers-nie/

DAK Netwerk language submission: A petition to the Minister of Higher Education

Stellenbosch language debate: Speech by David Jantjies at the DAK meeting with the SAHRC

Griefskrif met sewe eise vir Afrikaans aan US oorhandig

Afrikaans uitheems? Nzimande se bedrieglike woordspeletjies

Die eerste Kaaps-woordeboek: ’n onderhoud met Quentin Williams

Kaaps is the future of Afrikaans

Belgiese akademikus stuur sterk boodskap aan US

Lees meer oor Afrikaans as semi-kreoolse taal:

https://voertaal.nu/hoekom-word-afrikaans-kreools-genoem/

Holland word Kaaps!

Fotoblad: Die boekbekendstelling van The Afrikaans of the Cape Muslims

Afrikaans: the language of dissent

  • 4

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Ek het dit al baie lank vir mense gesê. Die universiteite is gerieflikheidshalwe geteiken deur mense en met ’n sweep geslaan. Onder meer deur baie prominente digters en ook natuurlik sommige nie-regeringsorganisasies en ander belanghebbendes. Maar dit wil my voorkom asof mense dink die universiteite is hardkoppige eilandjies wat sommer net "cool" probeer wees. Asof die universiteite nie aan wetgewing en die politiek van die dag onderworpe is nie. Die afskaling van Afrikaans se funksies kan direk herlei word na die onderhandelde Grondwet van 1996 wat die reg op toegang hoër stel as die reg op moedertaalonderrig. Unisa is ’n ongewone geval omdat die meeste van hulle studente nie klasse bywoon nie. Niemand word dus "uitgesluit" deur bloot studiehandleidings in Afrikaans te vertaal nie.

    Kort van die lank is, as jy ontevrede is oor die taalbeleid, baklei met jou regering vir wie jy gestem het. Ons land het gestem vir dié Engelse regering en nou wil ons daaroor kla.

  • Waldemar Gouws

    Baie dankie vir hierdie kerngedagtes, mnr. Sezoe. Dat die onagbare minister van kop tot toon 'n "phony" is (soos Salinger die term definieer) tref mens soos 'n laserstraal.

  • Elkarien Fourie

    Wat ’n verfrissende, reguit, vinger-op-die-pols mening van William Sezoe. Ek glo hy is die jongman na wie ek geluister het tydens ’n Woordfees-bespreking (oor die relevansie van die kerk in die lewe van die Afrikaanse jeug). Ek het daarná kortliks met hom gesels en dit het my vermoede bevestig: hier is ’n skerpsinnige denker aan die kant van Afrikaans om dop te hou.

  • Andries G H van der Walt

    Is English oppressive? When its pervasive influence silences other languages, or discourages parents from passing on their native languages to their children, I think it can be. When you do know another language, it’s merely constricting, like wearing trousers that are too tight. That’s because while English is good for a great many things, it is not good for everything.

    It’s not that English is bad. It’s fine! A perfectly nice language, capable of expressing a great many things – and with scores of fascinating regional variants, from Scots to Singapore English. But it is so prevalent. And so hard to escape. And so freighted with buffoonish puffery written on its behalf: “our magnificent bastard tongue”; “the language that connects the world”. Please. There is no reason for any particular language to be worshipped around the world like a golden idol. There is a pervasive mismatch between the grand claims made on English’s behalf, and its limitations as means of communication (limitations, to be fair, that it shares with all other languages).

    (See: "Behemoth, bully, thief: how the English language is taking over the planet" – "No language in history has dominated the world quite like English does today. Is there any point in resisting?"
    by Jacob Mikanowski, theguardian.com, 27 July 2018)

    "The English-only movement has its roots in the historical racism and white supremacy of the United States. This does not mean, however, that it can be understood in the same way as overtly racist movements. Those who support the English-only movement, including many liberals, do not understand it to be racist. But that does not discount racism as a root of the movement; rather, it demands a more complex analysis of U.S. racism."
    Andrew Hartman, "Language as oppression: the English-only movement in the United States," Poverty and
    Race Research Council
    , May/June 2005)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top