Afrikaans: Vind daar onteiening plaas?

  • 12

Afrikaans op die stormsee (foto: wikipedia)

Afrikaans is die enigste plaaslike taal wat sedert 1994 aan status ingeboet het. Al die ander inheemse tale het status gewen. Engels het die meeste gebaat en funksioneer in die praktyk as feitlik die enigste amptelike taal. Desnieteenstaande word hierdie nuwe politieke era gekenmerk deur onwilligheid, selfs by Afrikaansinstansies, om openlik vir Afrikaans in die bres te tree. Anders as voorheen beywer Afrikaansinstansies hulle deesdae by voorkeur vir byvoorbeeld versoening, moedertaalonderrig, meertaligheid en selfs nasiebou; dus sake waarvan Afrikaans nie deel hoef te wees nie. In soverre Afrikaansinstansies steeds met Afrikaans te make het, word die aandag op niewit sprekers toegespits. Dit word gedoen omdat hierdie sprekers in die meerderheid is en daar veronderstel word dat hulle voorheen gemarginaliseer is. Wat gedoen word, kom neer op pogings om die hertoe-eiening van Afrikaans vir niewit mense te vergemaklik. Hierdie proses word dermate oordryf dat dit al hoe meer lyk asof daar gepoog word om wit Afrikaanssprekendes van hulle moedertaal te onteien.

In die program Taaldinge op RSG het Magdaleen Krüger op 16 Augustus met die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) in gesprek getree. Die SBA-woordvoerders was Sandra Prinsloo, die voorsitter van die direksie, en Niel le Roux, die uitvoerende hoof. ’n Opname is as ’n potgooi op die RSG-webwerf beskikbaar. In die programnaam kom Afrikaans reeds jare lank nie meer voor nie. Krüger verwys na “sogenaamde” Standaardafrikaans. Jare gelede, tydens ’n Afrikaansbyeenkoms aan die Universiteit Wes-Kaapland, het Krüger beweer dat wit mense Afrikaans van niewit mense gesteel het.

Albei woordvoerders beklemtoon dat dit vir die SBA deesdae om bemagtiging deur Afrikaans gaan; dus nie van of (soos aanvanklik geformuleer) in Afrikaans nie. Albei is in vervoering oor die finansiële ondersteuning wat die SBA van die regering se Nasionale Kunsteraad ontvang het vir projekte wat in ander tale, insluitende Engels, pleks van Afrikaans, onderneem is. Die SBA is dus nie eksklusief Afrikaans nie en bevorder veeltaligheid. Daar is geen sprake van aktivisme ten behoewe van Afrikaans nie. Daar word glad nie vir die voortbestaan van Afrikaans geveg nie. Daar word byvoorbeeld geen beswaar teen die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch geopper nie. Die SBA het selfs sy assosiasie met die Afrikaanse Taalraad beëindig.

Prinsloo het aan die begin van die program vir my ’n sprankie hoop vir die SBA gegee toe sy noem dat niewit mense op die platteland suiwer Afrikaans praat, in die sin van nie-Engelsbesoedelde Afrikaans. Later verwys sy egter smalend na die viering in 1959 van Die wonder van Afrikaans. Op grond van die dikwels geopperde oortuiging dat Afrikaans nie sal uitsterf solank as wat dit gepraat word nie, kom sy tot die gevolgtrekking dat die voortbestaan van Afrikaans nie bedreig word nie. In hoeverre daardie Afrikaans wesenlik Afrikaans sal wees, word gerieflikheidshalwe verswyg.

Wat duidelik is, is dat die SBA nie op die Afrikaans van wit mense ingestel is nie, al was die uitgangspunt in 1992 dat dit om alle Afrikaanssprekendes sou gaan. Toe Christo van der Rheede die uitvoerende hoof was (2005–2011), het die SBA hom veral daarvoor beywer dat bruin kinders skoolonderrig in Afrikaans moet ontvang. Die ironie was dat Van der Rheede se eie kinders in Engels skoolgegaan het. Daarmee het hy myns insiens sy dislojaliteit jeens Afrikaans bewys en kon die SBA se bedrywighede sedertdien kwalik ongekwalifiseerde waardering by my wek.

Wat die SBA doen, kom neer op ’n eensydige gerigtheid wat weens vermyding die marginalisering van wit Afrikaanssprekendes tot gevolg het. Dieselfde neiging is by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) waarneembaar. Wit Afrikaanssprekendes word doelbewus en openlik gemarginaliseer omdat die uitgesproke beleid is om eerder die aandag te vestig op niewit Afrikaanssprekendes wat glo voorheen gemarginaliseer is. Daar word selfs verder met die onteiening van wit mense gegaan. Die Taalmonument in die Paarl is daarvolgens nie uitsluitlik ’n eerbetoning aan Afrikaans nie. Dit is na bewering ’n monument vir al die inheemse tale. Radikale politiek word openlik bedryf en aan die hare bygesleep. Vanjaar se oproep om benoemings vir die Neville Alexander-prestige-eerbewyse word byvoorbeeld op die webwerf met ’n gebalde swart vuis geïllustreer.

Die SBA en ATM is myns insiens die twee Afrikaansinstansies wat hulle die verste of duidelikste van wit Afrikaanssprekendes gedistansieer het. Maar daar is twee ander wat in ’n ietwat mindere mate dieselfde neiging openbaar. Michael le Cordeur het die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) tereg “getransformeerde organisasies” genoem (WAM Carstens en Michael le Cordeur, redakteurs, Ons kom van vêr, Tygervallei: Naledi, 2016, bl 375). Dit is ironies dat die SBA selfs sy verbintenis met die ATR verbreek het omdat dié glo te aktivisties pro-Afrikaans is.

Sowel die ATR as die ATKV is veel meer oor niewit as oor wit Afrikaanssprekendes begaan. Dit blyk uit hulle volgehoue propaganda vir Kaaps en hulle skeptisisme oor Standaardafrikaans. Kaaps, in soverre dit Engels is, is vir my onaanvaarbaar omdat dit die kiem van die ondergang van Afrikaans as ’n taal uit eie reg, dus ’n taal wat duidelik van Engels onderskeibaar is, in hom omdra. Deur Kaaps ongekwalifiseerd te bevorder, word die toekoms van Afrikaans gesaboteer. Wat nodig is, is nie die beklemtoning van die diversiteit van Afrikaans – sy beweerde versplinterdheid in talle variëteite – nie, maar eerder Afrikaanseenheid soos vergestalt in Standaardafrikaans, wat sedert 1917 periodiek evolusionêr aangepas word. Standaardafrikaans word per slot van sake uit al die variëteite saamgestel en in die jongste tyd al hoe meer – polities byderwets eerder te veel as te min – uit Kaaps.

Danny Titus, wat Afrikaans as moedertaal en Engels as huistaal het, was jare lank in ATKV-geledere die hoofbron van uitsprake oor Afrikaans. Naas Engels was sy simpatie by Kaaps en nie by Standaardafrikaans nie. Sy voorneme was om ná sy aftrede die belange van die DAK-netwerk, ’n instansie wat wit Afrikaanssprekendes uitdruklik uitsluit, te bevorder. Volgens die betrokke webwerf gaan dit om bruin, swart en Asiatiese mense as “agtergesteldes”. Vir iedere instansie waarby wit mense betrokke is, word rasse- of etniese inklusiwiteit as ’n vereiste gestel. Hierdie verpligting word egter nie aan die instansies van niewit mense opgelê nie.

Daar is Afrikaansinstansies wat wit Afrikaanssprekendes in ’n mindere mate as die SBA, ATM, ATR en ATKV marginaliseer, soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Afrikanerbond (AB). Maar ook by hulle is daar ’n gebrek aan aktiewe aktivisme ten bate van Afrikaans. Wat my veral hinder, is dat die moed by al die Afrikaansinstansies ontbreek om hulle daadwerklik vir taalsuiwerheid, in die sin van nie-Engelsbesoedelde Afrikaans, te beywer.

By die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) is dit skering en inslag dat oor die in- en uitsluiting van woorde besluit moet word, byvoorbeeld watter Kaapse woorde Afrikaans en watter Engels is. Sonder ’n sin vir taalsuiwerheid, dus bewustheid van watter woorde Afrikaans is, sou die samestelling van hierdie woordeboek ’n onbegonne taak gewees het. ’n Mens sou dus verwag dat die WAT met pleidooie vir taalsuiwerheid vorendag kom. Tog het daar in die onlangse verlede by meer as een geleentheid uit WAT-geledere teenoorgestelde pleidooie opgeklink, soos vir die herstandaardisering van Afrikaans en ook asof anglisismes die saligheid van Afrikaans bevorder.

Tensy daar spoedig ’n kentering in Afrikaansgeledere kom, gaan Afrikaans in ’n al kleiner mindere mate, ten minste wat woordeskat betref, van Engels onderskeibaar wees en is Afrikaans se uiteindelike ondergang verseker. Hiervoor sal die genoemde Afrikaansinstansies en die huidige swygende generasie Afrikaansdosente verantwoordelikheid moet aanvaar.

Wannie Carstens is die enigste uit hierdie geledere wat op my vorige skrywe (LitNet 8 Julie 2020) gereageer het. Hy vereis inklusiwiteit as vertrekpunt vir gesprekvoering. As dit beteken dat Kaaps in sy geheel as Afrikaans moet kwalifiseer, sou ’n gesprek geen doel dien nie. As inklusiwiteit beteken dat van alle Afrikaanssprekers verwag word om Afrikaans so vry moontlik van Engels te praat en te skryf, het ek uiteraard geen beswaar nie.

Ten spyte van die benarde posisie waarin Afrikaans verkeer, is daar, afgesien van Carstens se opmerking hieroor, geen ondersteuning vir ’n manifes vir Afrikaans nie. My skrywes hieroor is nooit onder “meeste gelees” of “meeste kommentaar” gelys nie. As ’n mens na die kommentaar op Media24 op Afrikaansartikels kyk, besef jy dat daar skynbaar bitter min voortgesette belangstelling in die heil van Afrikaans is. Twee van Carstens se oudkollegas, Hans du Plessis en Jacques van der Elst, het gelukkig onlangs op die internet hulle kommer oor die stand van Afrikaans uitgespreek. Potchefstroom is dan as ’t ware die ligpunt vir Afrikaans. Aan die Universiteit Stellenbosch, daarenteen, is aktiwiteit ter behoud van Afrikaans op sterwe na dood.

Naas die nypende behoefte aan en noodsaaklikheid van suiwer(der) Afrikaans is daar die wenslikheid van die algemene aanvaarding van die onomstootlike historiese feit dat wit Afrikaanssprekendes die leeue-aandeel in die ontwikkeling en amptelike erkenning van Afrikaans gehad het. Veral sedert 1994 word wit Afrikaanssprekendes in propaganda verguis asof hulle niks goeds kon voortbring nie. Maar dit is tog seker moontlik dat hulle wel gepresteer het en dat hulle bydrae tot Afrikaans een van die goeie dinge is waarvoor hulle erkenning verdien.

Wit Afrikaanssprekendes is daarbenewens ongetwyfeld die lojaalste ondersteuners van Afrikaans. Sonder hulle onderskraging kan Afrikaans kwalik ’n waardige toekoms hê. Daar is sprake van die onteiening van grond sonder vergoeding. Dit sou absoluut absurd wees as daar toegelaat word dat daar sonder verset voortgegaan word met pogings om wit Afrikaanssprekendes se enorme bydrae tot Afrikaans (stilswyend) te ontken en hulle ook in hierdie opsig te onteien.

Lees ook:

'n Onderhoud oor die SBA se Brugboumentorskapprojek

Die vierde Russel Botman Gedenklesing: Van ontmensliking tot hoop

’n Manifes vir Afrikaans

Afrikaans as liminale transnasionale literêre sisteem: ’n Paar gedagtes oor ontlaering uit QwaQwa

Konstitusionele Hof dien Afrikaans ’n gevoelige slag toe: Danie van Wyk reageer op US taalbeleid-hofbeslissing

  • 12

Kommentaar

  • Uitstekend. Die skrywer is myns insiens in die kol met sy ewewigtige waarnemings. Dit val my ook geruime tyd al op dat standaard Afrikaans toenemend verneder en verguis word ten koste van 'n kwalik bedekte agenda van verengelsing. Die hartseer is dat daar daarmee saam 'n algemene "verdomming" onder wit Afrikaanssprekendes plaasvind, wat vanaf voorskoolse vlak aangemoedig word. My kinders se laer- en hoërskool Afrikaans onderwysers was nie een meer werklik geskoold of bedrewe in standaard afrikaans nie. As ek as ouer nie ingegryp het nie sou my eie kinders waarskynlik dieselfde paadjie gestap het. Ons is voorwaar terug by Hoogenhout: engels, engels alles engels.

  • Magtig! Maar jou skrywe slaan raak Johannes! Bitter baie dankie. Wat hierdie organisasies poog om te doen is 'n taalmisdaad teen die mensdom, en meer spesifiek teen die Afrikaners en bruinmense en ons standaard taal!

    Indien niemand opstaan en die WAARHEID praat nie, is ons taal beslis verlore en gaan daar niks wees om te vier op 8 Mei 2025 nie (die 100-jarige herdenking van Afrikaans se status as AMPTELIKE TAAL) !

    Soms word die indruk gewek, dat dit JUIS die genoemde organisasies en andere se duistere agenda is om Afrikaans voor die geskiedkundige dag te verwoes!

    Dank die Here dat, danksy aktiviste soos jy, vir wie ek ongelukkig nie op 'n meer gepaste wyse my innige waardering kan uitdruk nie, ons die dag iets sal he om te vier, al is dit dit dan net Afrikaners wat die dag gaan vier, want dit wil voorkom asof die doelwit met hierdie politieke speletjie (veral van die WAT se kant ook af) met ons kosbare taal is om beide die blanke en bruin sprekers van ons KOSBARE standaard Afrikaans, beide WAT BOMENSLIK LIEF IS VIR ONS GESAMENTLIKE SKAT VAN ONMEETBARE WAARDE, van mekaar te vervreem en verwydering te veroorsaak.

    My duidelike punt, soos jy ook mee sal saamstem, is dat weergalose, ongerepte, smetlose en welluidende Afrikaans, wat, soos dit gereg moet wees, steun op sy stamtaal Nederlands, die EEN ding moet wees waar rondom bruines en blankes hul skaar en by wyse waarvan hul, hul gedeelde gesamentlike erfenis en die wonderwerk van hul uitsonderlike, ongewone samekoms en geskiedkundige bande moet vier!!!!!!! Tot my spyt gebeur dit nie, en word Afrikaans soos gewoonlik weer verpolitiseer sonder dat blanke en bruin eenheid en saamwerking bewerkstellig kan word, en skynbaar word Afrikaans in pleks hiervan danksy die werk van die genoemde organisasies weereens 'n strydpunt, en nie iets waarom saamgeskaar en verenig kan word nie! Nodeloos om te se is dit skandelik!

    Daar is ook darem nugter-denkende mense soos Leopold Scholtz, wat nou die dag op Maroela Media na aanleiding wat jou stuk hier op Litnet, 'n baie weldeurdagte artikel geskryf het; derhalwe word jou aktivisme opgelet en waardeer!!!

    Wat die uitgewersbedryf betref, beleef Afrikaans 'n bloeitydperk, maar soms kan ek nie help om te dink dat die uitgewers in 'n slinkse set betrokke is om geld te maak uit Afrikaansliefhebbers se kommer, LYDING en aktivisme vir hul taal nie, omrede die koop van boeke en literatuur op 'n paar voorbeelde na, die enigste oorblywende manier is waarop ons Afrikaners ons taal kan waardeer, opbou en help ontwikkel; dus koop ons maar nou boeke dat die bankrekeninge kreun en steun.

    Die groot en bekende uitgewers tree dus in spontane, natuurlike, goeder trou op, of met sinisme. Hiermee 'n paar voorbeelde van die Afrikaanse boeke wat ek die maand gekoop het en wat in weergalose en sprankelende, pragtige Afrikaans geskryf is: Die Vyfde Mev. Brink, my tweede eksemplaar van die Briewe (maar die het ek gekoop vir my ma) tussen die Louw-broers (Protea Boekhuis, Kannemeyer) 'n roman van Gerda Taljaard - "Die laksman se dogter"- wat ook lyk of dit in goeie Afrikaans geskryf is, my tweede eksemplaar (vir my ma) van Schoeman se 'Verliesfontein" (en kan jy glo dit sal haar eerste Schoeman boek wees!), en vir myself Fransjohan Pretorius se "Terugblik", Jan Roderiguez se "Onverskrokke- Bewakers van die Veld", 'n digbundel ("PARLEMENT VAN UILE" (JOHANN VAN DER WALT - sien ook Clinton du Plessis se resensie op Versindaba), Heilna de Plooy se eerste roman "Die taal van been" en haar briewebundel van briewe deur Elize Botha en verskeie skrywers en ander bekendes ("Gespreksgenoot: ‘n brieweboek") , asook Steve se nuwe misdaadroman "Die Kwesbares". Van al hierdie boeke kan welluidende Afrikaans verwag word, met die uitsondering miskien van Steve se nuwe boek, waarin die karakters maar tipiese "in-karakter" gemengde taal praat, maar ek vergewe Steve daarvoor- ek geniet sy skryfwerk gate uit, en my mening is dat hy die ander misdaadromanskrywers ore aansit!

    Derhalwe beleef Afrikaans in vele opsigte 'n bloeitydperk en in ander opsigte nie, aangesien daar 'n grenslose. EN MYNS INSIENS ONVERSTAANBAAR vyandelike houding heers teen die skat. Nodeloos om te se, het onbegrip, manipulasie en natuurlik die altyd-teenwoordige politiek BAIE daarmee te doen. Ons dierbare, kosbare Afrikaans kan die politiek skynbaar net nie vryspring nie, ten spyte van haarself (is 'n taal manlik of vroulik?) !!

    Wat ek dus doen om my taal en sy erfenis en ontwikkeling te beskerm is om my maar te vergryp aan die letterkundige diepte daarvan, andersins dra ek by tot instansies soos Afriforum, Helpende Hand, die FAK en Orania wat pro standaard Afrikaans is.

    Neem ook in ag dat vertalings, soos bv. Piccoult se romans, asook Coelho s'n teen snelle spoed plaasvind, asook die letterkunde van die Nederlande (onlangs is "Die Verdriet van Belgie" deur Dr. Daniel Hugo vertaal- waarvan ek twee gekoop het, asook Mortier se "Godenslaap" as "Wanneer gode slaap" deur Fanie Olivier, alles in sprankelende Afrikaans) Neem ook in ag Akademia uitgewers (die uitgewers van die privaat universiteit) se nuwe publikasie "Middeleeuse Filosofie" deur Johann Beukes, wat ook 'n goeie suiwer Afrikaanse werk is. Dan praat ek nog nie eens van
    Gerrit van Wyk Kruger se mees onlangse publikasie "Die Griekse ou Komedie - Aristophanes" nie, asook WJ Henderson se lywige werk: "Die geleerde digter: Antieke Griekse pastorale en epigrammatiese poësie" - Band 1,2 en 3.

    Andersins sit ons tans met drie GROEIENDE Afrikaanse privaat universiteite (Akademie, AROS en die teologiese seminarium die Afrikaanse Protestantse Akademie), 'n funksionerende en uitnemende Afrikaanse openbare skolestelsel, met aanvulling van privaat instansies soos Helpmekaar en die CVO skoolstelsel (sien die pragtige skool in Orania bv.) en is daar nog baie hoop vir ons dierbare taal, mits ons onverwyld sonder om 'n tree terug te neem, onverskrokke daarvoor en vir die behoud van standaard Afrikaans veg sonder om om verskoning vir enigiets te vra, want waarom, daar bestaan nie 'n "waarom"nie!

  • O ja, byna vergeet ek. Ek het ook aangekoop "Die antie met die pienk rok", synde die bundel van Jan Spies se stories.

  • Baie dankie vir jou kommentaar, ek bemerk presies dieselfde kommerwekkende en aaklige tendens, en ek is nie eers 'n ouer van 'n skoolkind nie. Die ander dag wou ek iets oorkom toe 'n onderwyseres (ek weet nie watter vakke sy gee nie) by 'n bekende skool in Bloemfontein praat van "original"! O goeiste ek wou die aapstuipe kry! Is dit nou SOVEEL moeite en net om godsnaam "OORSPRONKLIK" te se?!

    Iets is iewers lelik fout...! En wil ons, ons kinders toevertrou aan sulke taal-dislojale "onderwysers"? Nee, nee, en nogmaals nee! My suster moet haar kinders geduldig idiome, spreekwoorde en basies grammatika (soos die tydsvorme) leer, omdat die skool (in die Noord-Kaap nogal) dit nie na behore doen nie. Dis asof die mense geen meer TAAL- EN SELFTROTS het nie, en asof skole na dese ook maar net sake geword het wat nie meer genuanseerde, gedetailleerde, kwaliteit onderrig en veral Afrikaanse onderrig bied nie, en soos 'n vervoerbelt geword het wat bloot die kinders, met taalgebreke (en derhalwe 'n gebrek aan selftrots en selfrespek en al) uitspoeg nadat hulle na 12 jaar klaar is met hulle! Baie dink Engels, Engels, Engels! as gevolg van globalisme, maar ek het nuus vir hulle, hierdie globalistiese kabaal gaan nie vir ewig hou nie, en dan sit hul met kinders wat nie eers na behore hulle eie taal baasgeraak het nie!

  • Dankie Johannes Comestor. Jy verwoord my gevoel en waarneming. As Standaardafrikaans verdwyn, is dit die dood in die pot vir Afrikaans. Ek kom agter daar is al lankal ’n stille veldtog om dit te laat verdwyn. Die volgend dood in die pot vir Afrikaans is Kaaps en dan volg die sprekers van Afrikaans. Wat ek glad nie kan verstaan nie is dat taal is tog ’n kommunikasiemiddel en dit moet tog ’n standaard hê sodat ons presies weet wat die kommunikeerder bedoel. Ek probeer nie eers Kaaps lees nie, want ek sukkel om alles te verstaan en kan dit nie vlot lees nie.

  • Avatar
    Salomé Malherbe

    Hierdie was nou leeservaring soos min!
    Ek voel of ek soos ’n wafferse strydros in volle vaart met my swaard, luid gillend oor die vlaktes aangejaag kom om die viand (Engels-mengels) met ’n klein Gideonsbende tromp op te loop. Ek is verheug om sulke taalstryders te ontmoet wat onbeskaamd sterk staan vir ons geliefde taal en nie knie buig voor alles alles Engels nie.
    Dankie daarvoor.
    Daar lê ’n vel stryd voor maar soos jy sê daar is verskeie nuwe bewegings en instansies wat besluit het om te veg vir Standaardafrikaans.
    Mag die vlam in ons jeug se harte warm en helder brand.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Toe ek op varsity was (varsity ja), toe leer hulle ons ook van 'Standaard Afrikaans". Soos ek die ding verstaan, en ek kon moontlik ook verkeerd verstaan het, maar soos ek dit verstaan het, is sogenaamde (sogenaamde ja) Standaard Afrikaans bloot maar 'n hipotetiese taal. Niemand praat regtig 'standaard Afrikaans' nie. Standaard Afrikaans is maar net 'n variasie wat jy gebruik op die kansel, in die klaskamer en so. Daar waar jy die meeste soorte sprekers van die taal wil bereik.

    Maar sedertdien het dit toe 'n rasse sirkus geword. Soos alles in hierdie land.

    Maar dis nie al wat ek verwarrend vind van Afrikaans nie. Daar is skynbaar 2 Afrikaanse taaldae. 8 Mei sowel as 14 Augustus. Ek het voorbeelde gesien waar beide (afsonderlik natuurlik) as 'Afrikaanse taaldag' bemark word. Hoeveel monumente het die taal? Glo meer as 2. Ek weet nie eens hoeveel nie. Daar's 'n letterkunde museum sowel as 'n taalmuseum. En dan al hierdie organisasies. Elkeen met sy eie inslag, karakter, fokus. Daar's nou tot 'n taalraad. Maar daar's ook die Akademie wat die "reels" maak. Mens sou dink die raad moet die reels maak? Dan nog die ATKV. Die FAK. En nugterweer wat alles.

    Ek hou daarvan om my eie Afrikaans eerder 'model C skool Afrikaans' te noem in plaas van 'standaard'. My agtergrond as blanke Afrikaanse maak my nie die 'standaard' nie.

    Ek is wel ook maar bekommerd oor die funksies van Afrikaans wat afneem en ek glo Afrikaans se grootste kopseer is polities van aard. Dit het ek in die sosiolinguistiek geleer: dat Afrikaans bedreig word weens die politieke model van die land sedert 1994. Die mooi maar lee woorde van die Grondwet. Die paradoks wat heers is, om inklussief te wees, moet jy ekslussief wees. Ekslussief Engels. Dit is hoe die politiek dit dikteer en jy kan daarteen baklei en jy sal niks bereik nie. Die 'inklussiwiteit' van Engels is die muur waarteen ons onsself altyd sal vasloop.

    Waar 'n taal nie politieke mag het nie, gaan dit onder. Voor 1994 het die Khoi en San tale geen mag gehad nie, en is onderdruk deur Afrikaans. Nou word Afrikaans onderdruk. Dit is maar die aard van die mens om so te maak. Dit sal nooit verander nie.

  • Regstelling: Johann van der Walt se bundel "Parlement van Uile" is nie in suiwer Afrikaans geskryf nie.In een van sy gedigte gebruik hy die Engelse woord "invincible". Ek het probeer dink waarom hy dit gedoen het, maar kon nie 'n verduideliking daarvoor vind nie aangesien die woord "onaantasbaar", met ook vier lettergrepe, net so goed in die ritme van die gedig sou pas. Die gebruik van die politiese byderwetse Engelse woord is dus onverklaarbaar en doen na my mening afbreek aan die poësie. Ek is dus spyt dat ek die bundel gekoop het aangesien ek verwag het dat die bundel sal bestaan uit suiwer Afrikaanse teks. Ek sal voortaan nie die digter se bundels aankoop nie. Dankie.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Charles, daar kan beweer word dat dit 'n verlore saak is om jou vir idiomatiese Afrikaans te beywer. Geen Afrikaansinstansie of Afrikaansdosent, behalwe een, het hom verwerdig om op my bostaande skrywe of die twee voriges te reageer nie. Maar ek put inspirasie uit wat James Anthony Froude (1818-1894) geskryf het: "Even when a cause is lost utterly, and no rational hope remains, I would still go down, if it had to be so, with my spirit unbroken and my face to the enemy." Ek hoop hierdie woorde motiveer jou ook om die taalstryd voort te sit.

  • Al wat ek kan sê, is PRAAT Afrikaans, SKRYF Afrikaans, LEES AfrIkaans. Hoe meer daar geskryf word, hoe meer sal daar gelees word. Hoe meer gelees word, hoe meer sal gepraat word. Daar rus dus 'n verantwoordelikheid op ons skrywers - fiksie en wetenskaplik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top