
Russel Botman | Foto: www.thehopeproject.co.za
Aangebied deur Marlene le Roux, UH van Kunstekaap Teatersentrum, Kaapstad by Universiteit Stellenbosch op Donderdag 18 Oktober 2018
1. Inleiding
Dit is vir my ’n voorreg om hierdie lesing te kan aanbied ter ere van die nagedagtenis van my vriend en mede-aktivis Russel Botman. Terselfdertyd wil ek ook erkenning gee aan Beryl van der Scholtz-Botman – ’n opvoedkundige aktivis uit eie reg – wat langs Russel geloop het gedurende hulle tyd saam. ’n Uitvloeisel van hul aktivisme is die Russel Botman Beursfonds, wat in Oktober 2013 op Russel se 60ste verjaardag geloods is as ’n poging om in jongmense en hul opvoeding te belê.
Wat was die rede vir die keuse van dié lesing se titel?
Die meeste van ons is afkomstig uit ’n wreedaardige verlede wat ons as burgers van hierdie land ontmens gelaat het. Hoe beweeg ons van daardie wreedheid na ’n ruimte waar ons onsself kan beskou as burgers van hoop? Hoe beweeg ons van ’n stelsel wat ons voortdurend kategoriseer, ons steeds brandmerk op grond van ras, gender, seksuele oriëntasie, liggaamlike vermoëns, sosiale stand en woonarea (stedelik of landelik), na ’n ruimte waar daar ’n tuiste vir elkeen van ons met ons diverse identiteite is? Hoe skep ons ’n hawe van hoop waar ons stories gehoor en geïntegreer word en waar mense besef dat ons veel meer is as ’n spesifieke taal, kultuur of godsdiens?
Russel was ’n persoon van eenvoud. Ek sê altyd: “Die lewe skuld jou niks.” En hierdie uitkyk glo ek het Russel ook gedeel. ’n Mens word nie gebore met taal of geloof of kultuur nie. Dit word aangeleer as ’n gevolg van ons omgewing en ons lewensomstandighede. Apartheid het ons deur wetgewing soos diere gegroepeer wat na die slagpale gelei word. Soos slagdiere is ons verdeel, geklassifiseer en van ons natuurlike sosiale menswees ontneem.
Russel Botman was bo alles ’n aktivis, gevorm deur sy belewenisse as prediker en teoloog aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy werk as kerkleier is myns insiens grootliks hierdeur beïnvloed. Hy is in 2000 by hierdie fakulteit aangestel as publieke teoloog, en die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie het deur een van sy inisiatiewe tot stand gekom. Die Russel Botman-argief word ook, heel gepas, hier bewaar. Sy aktivisme en teologie van hoop het ook gedien as basis vir sy ampstermyn as viserektor: onderwys en later as die rektor en visekanselier van hierdie universiteit.
Hy is gebore in Heidedal, Bloemfontein ’n jaar ná die 1952-Versetveldtog van die ANC, en het sy hoërskoolloopbaan (1967–1971) voltooi in Kliptown, Johannesburg, ’n lewendige gemeenskap wat gestrek het van baie arm mense tot individue met ’n gemaklike leefstyl. Russel was ook ’n kunstenaar. Hy kon ’n hele aantal gememoriseerde Engelse gedigte voordra en het in Afrikaans self ook ’n aantal gedigte geskryf waarin hy jong liefde, die droogte, afskeid en die vervlietendheid van die menslike bestaan bepeins het. As hoërskoolleerder het hy en Yasheen Bhayat, beide kranige redevoerders, ’n kernrol gespeel in die stigting van ’n drama- en debatsvereniging by Kliptown High School.1 Selfs tydens die onstuimige jare van onrus by UWK in die 1970’s het hy aangehou om poësie te skryf. Hy was ’n dromer, ’n alleenloper wat in die geheim verlief was, maar ’n ewige aktivis wat God en die samelewing bly bevraagteken het. As 21-jarige skryf hy in 1974:
There’s power in politics
riots in relationships
There’s hope in revolution
trust in nuclear power.2
As tokkelok het Russel aktief deelgeneem aan die aktiwiteite van die Vereniging van Christen Studente (VCS) en reis as deel van verskeie toneelproduksies saam met die groep – alles teen die donker agtergrond van 1976. In Augustus 1976 lewer Allan Boesak op kampus ’n toespraak, “The role of the Church in the Black Struggle”. Sommige studente het die rol van die kerk verwerp, maar Russel het hierdie rol van die kerk as bevryder van die armes en onderdruktes aanvaar; nie net met betrekking tot onderdrukking nie, maar ook bevryding van armoede. Hy het aanvaar dat hierdie stryd ook binne die teologie gesetel is. In September 1976 is hy deur die Universiteit geskors nadat hy deur die sekuriteitsafdeling van die apartheidstaat gearresteer en ondervra is oor anti-apartheidsaktiwiteite.3 Aan die einde van Desember 1976, ver verwyder van studentepolitiek in die Karoo-dorpie Marydale, skryf hy:
The pulpit staggers,
The theology topples.4
Teologie was destyds vasgevang in die middel van ’n politieke stelsel. Russel het bly studeer, wyd gelees, aanhou studeer en nagraadse kwalifikasies verwerf. Deur hierdie studies, sy geloof en politieke bewussyn oor armoede en onreg het hy tot die besef gekom dat hy nie anders kan as om teologie in aksie om te sit nie. Dit het hy gedoen deur ’n vreedsame aktivis te wees. Russel Botman se uitstaande nalatenskap is opgesluit in sy vermoë om die Bybel in ’n hedendaagse konteks te kon plaas. Hy het oor die gawe beskik om te verstaan dat hy nie die middelpunt hoef te wees nie, maar dat hy wel versoening kan fasiliteer.
2. Wat betref hoop
Vandag weet ons almal dat Russel Botman se teologie nie omvergewerp is nie. Op 23 Januarie 2003 het hy tydens die vestiging van die Mandela-Rhodes-stigting gepreek. Hy het gepreek oor die twee gedigte in Psalm 126, waarin die tweede gedig die hoop verkondig van diegene wat streef na die verdieping van transformasie in hulle gemeenskap. Russel het dit soos volg verduidelik:
It is the deepening of the transformation that repairs the dignity of those who struggle to make an existence in the most secluded town of our country. It indicates the necessity of a deepening of equality so that the daughter of the farmworker can have the same opportunity for success as the son of the farmer.5
Op soortgelyke wyse is die Libertaskoor se optrede hier vanaand ’n voorbeeld van ’n geleentheid om die dogter van die plaaswerker en die dogter van die plaaseienaar byeen te bring. Die Libertaskoor is gestig om te sê: Ons het ’n toekoms van hoop. Terloops, ek as dogter van ’n fabriekwerker en kleinkind van my plaaswerker-ouma was een van die stigterslede in 1990. Die Libertaskoor se bande loop nou saam met dié van Stellenbosch-universiteit, en wat ’n voorreg was dit om deel te kon wees van hierdie kultuur van brûe bou. Ons het mekaar se liedjies gesing.
Dit was die sing van mekaar se liedere, maar ook ’n verset teen die onmenslike brutaliteit van ’n politieke sisteem, in dieselfde gees en as ’n inisiatief soortgelyk aan dié van die vroue wat destyds deel gehad het aan die historiese optog in 1952 teen die onmenslike dompasstelsel. Ons het onsself gewy aan ’n gemeenskaplike saak: om die kategorieë wat verdeel en ontmens deur kultuur en sang te verbreek; om onsself vry te spreek. Dit was ook Russel Botman se visie, ’n aktivis wat kultuur en sang gesien het as ’n brug om die verdeeldheid van die verlede te oorkom. Die skep van ’n menslikheid van deernis en respek. Deur sy betrokkenheid het Russel Botman gestaan vir gelyke regte vir toegang tot die kunste en teologie, vir die regte van vroue en van LGBTI-persone. Sy nalatenskap was die stryd vir ’n menslikheid vir almal.
Die Hoop Projek6 wat in Julie 2010 deur Russel Botman geloods is, was ’n natuurlike uitvloeisel van sy aktivisme en sy teologie van hoop. Russel het opreg geglo dat daar hoop vir die miljoene mense op die Afrika-kontinent is. Hy wou egter nie aan hierdie projek ’n godsdienstige invalshoek gee nie. Hoop was nie net blote geloof in ’n beter toekoms nie – hierdie realiteit moes geskep word en die pad moes oopgemaak word vir ondervoorsiene gemeenskappe. Hoop moes aktief en deur dade sigbaar gemaak word. Hy het benadruk dat die Hoop Projek die Universiteit se bydrae is om die instansie se verantwoordelikheid teenoor hierdie proses na te kom. Ek is van mening dat Russel Botman ’n nalatenskap van hoop agtergelaat het, nie net as teoloog en pedagoog nie, maar ook as liefhebber van die kunste en die bevordering daarvan.
3. Die kunste
Russel Botman het van 2006 tot 2011 as voorsitter van die raad van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) gedien. Die doel van dié oorwegend Afrikaanse fees was om kuns in alle vorme te ontwikkel, maar om dit bowenal op inklusiewe wyse te doen – verteenwoordigend van alle Afrikaansgebruikers.7 In president Nelson Mandela se toespraak in 2001 waartydens hy die Vryheid van die Dorp gedurende die KKNK in ontvangs geneem het, het hy geopen deur die skare te versoek om sy “tokkelossie-Afrikaans” te verskoon. Hy het verwys na die tye van verandering en die verandering in die rol van Afrikaans in ons samelewing en hoe die ontwikkelende aard van die fees ook hierdie gees reflekteer. In sy toespraak het hy aangevoer: “[W]hile Langenhoven could still think of Afrikaans as ‘die enigste witmenstaal wat nie klaar gemaak uit Europa gekom het nie’, this festival increasingly affirms that Afrikaans is neither a language of whites only, nor a European language.”8 Dit is ’n taal gewortel in Afrika.
Russel het hierdie sentiment gedeel toe hy verkies is tot voorsitter van die raad van die KKNK. Hy het geglo dat die KKNK die verdeling en twis van die verlede kan oorkom, dat dit ’n bevrydende rol kon vervul in die ganse Suid-Afrikaanse samelewing. In 2006 het ek tydens die KKNK deelgeneem aan ’n debatsgesprek georganiseer deur Die Burger met die tema: “Die rondgaande verhoog: (Suid-) Afrikaanse kultuur na 1994”. Op daardie stadium was ek Kunstekaap se direkteur van ontwikkeling en onderrig.
’n Artikel9 aangaande dié debat voer aan dat debatte en kwessies rondom ras die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) teister sedert die ontstaan van die fees in 1995. In hierdie artikel beskryf die skrywer my siening as volg, gebaseer op ’n artikel wat in 2003 in Die Burger verskyn het:
Marlene le Roux of Kunstekaap had an extreme viewpoint on the proposed exclusivity of the Afrikaans cultural festivals. According to Le Roux, the festivals epitomise the post-1994 split of South African culture into so-called islands of ethnicity, which proves that there have [sic] been little sign of transformation in the performing arts since the demise of apartheid. (Die Burger, 3 April 2003:13.) Le Roux continues by saying that artists, productions, and audiences predominantly reflect a “white culture”, and that festivals are merely an extension of the Afrikaner culture, a culture that has changed little since 1994. She criticises productions of the performing arts for being ever too Eurocentric, and blames the government for mismanagement of cultural funding, as well as the department of arts and culture, who continue to fund Eurocentric state theatres. (Die Burger, 3 April 2003:13.) In short: Le Roux supports a theoretical school that feels that “white people” with their “Afrikaner culture” are undermining South African culture. They are able to do this, as they have the economic power to literally make theatre speak their language.
Bogemelde is natuurlik nie ’n volledige weergawe van my siening van die kunste op daardie tydstip nie. In 2006 het ek die KKNK debatsgesprek met die volgende afgesluit:
Die uitvoerende kunste, veral die rondgaande verhoë, bied ’n wonderlike geleentheid om die kultuurklowe in ons land te oorbrug en hegte bande van begrip en aanvaarding tussen al ons mense te smee. Hierdie rondgaande verhoë kan verseker dat die uitvoerende kunste deur die eng kultuurraamwerke breek waarbinne baie van ons, veral Afrikaners, steeds vasgevang sit, en dat ons bevry word van die ongeldige aannames en vrese wat ons steeds jeens mekaar koester. Kunstefeeste soos die een in Oudtshoorn het die potensiaal om ’n samebindende fees van alle kulture, deur alle kulture vir alle kulture te word.
Indien dit ons erns is om te verseker dat histories verontregte gemeenskappe die vrugte van die vryheid pluk waarvoor hulle gestry het en ons ’n samelewing wil word wat op sterk demokratiese waardes geskoei is, durf ons nie die belangrike rol wat holistiese onderwys en die kunste hierin kan speel, negeer nie.
Sedertdien het meer as ’n dekade verloop. Waar ek nou staan, en as uitvloeisel van Russel se nalatenskap van hoop, is daar enkele vrae wat ek op hierdie punt wil stel:
Wat beteken ’n verdieping van gelykheid vir persone betrokke by die kunste?
Hoe herstel ons menswaardigheid deur teater?
Hoe verdiep ons die transformasie van ons samelewing deur die kunste?
Hoe kan ons aktiviste van hoop wees?
Ek wil poog om sommige van hierdie vrae te beantwoord deur te verwys na die aard van die produksies wat tydens die afgelope Erfenismaand in September by Kunstekaap te sien was – ’n vertelling van ons diverse identiteite, maar saamgeweef deur dieselfde visie van hoop.
Ek wil begin deur vlugtig te verwys na die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) as ’n stuk teater. Die WVK is gestig met die taak om ondersoek in te stel na die growwe oortredings van menseregte wat plaasgevind het tydens die tydperk Maart 1960 tot Mei 1994 en om die bevindinge te dokumenteer. As deel van hierdie proses was dit nodig om ’n volledige voorstelling te skep van die konflikte van die verlede met aanbevelings aan die Minister van Justisie10. Dit het plaasgevind deur die vertelling van die waarheid, as deel van ’n soeke na geregtigheid. Die hartseerste deel vir my was dat vele slagoffers verplig was om hul wonde aan die publiek oop te maak tydens die vertelling van hul stories en ’n soeke na waarheid rondom die gebeure wat hulle of hul geliefdes moes beleef. Hierdie wonde is egter nooit verpleeg nie; dit is bloot net gelos om te sweer.
Diegene skuldig aan blatante skending van menseregte het skotvry daarvan afgekom en die slagoffers is agtergelaat sonder enige geregtigheid. In hierdie opsig het die WVK in ’n mate bygedra tot verdere ontmensliking. Ons as Suid-Afrikaners kan vasgevang word in strukture soos die WVK, soos hierdie fakulteit, soos ’n teater, en vergeet van die mense wat ons moet dien. Die WVK het ’n punt van bespreking en nuuskierige navorsing vir nagraadse studente geword – ’n tipe gevallestudie en navorsingslaboratorium. Watter rol kan ons speel in die herstel van menswaardigheid en om elke individu te oortuig dat ons erkenning gee aan hul verhaal?
Ek wil julle graag vertel van ouma Katrina Esau. Sy is 85 en woon in Upington as die laaste oorblywende vlotspreker van die San N/UU taal. In haar eie woorde sê sy:
Ek is gebore en ek het die N/UU-taal uit my ma se bors gedrink. Ek het grootgeword en in my grootwordjare het ek net die N/UU-taal gehoor. Ek het met die N/UU-taal grootgeword, ek het hom gepraat.
Haar lewensverhaal was te sien in die vorm van ’n verhoogproduksie, getiteld Katrina, die dansende taal, by Kunstekaap. Die choreografie is gedoen deur Kirvan Fortuin wat grootgeword het in Macassar en nou as opkomende kunstenaar tussen Suid-Afrika en Nederland werk. Hy beskryf die choreografie as “a multicultural, interdisciplinary dance work that celebrates the life of Ouma Katrina Esau. Rooted in a very classical structure, the choreography celebrates the traditional movement language gained from the Kruiper Clan as a departure point, and takes it into a contemporary urban feel. Through the physical language of dance and the choreographic text, I try to not only tell the immediate story one hears, but also to illustrate and to allude to the undertones of the stories Ouma Katrina shares with us.”11 Die musiek is gekomponeer deur die erkende sanger en liedjieskrywer Coenie de Villiers, met die doel om die storie van Ouma Katrina deur sang en dans te vertel.
Die volgende dag was die uitvoering van die internasionaal-erkende prof Dizu Plaatjies saam met Zinzi Nogavu aan die beurt. Hierdie konsert was ’n tentoonstelling van die skoonheid van Afrika musiek deur inheemse instrumente. Die gehoor is weggevoer deur inheemse klank, repertoire en die besielende stem van Zinzi Nogavu. Sosiale kwessies is aangespreek deur musiek, maar bowenal is die skoonheid en harmonie van tradisionele musiek en instrumente aan ’n nuwe en diverse gehoor geopenbaar as nog ’n manier van storievertelling. Een van die boogagtige instrumente is die uhadi of ugubu – ’n strykinstrument wat inheems aan Suid-Afrika is en tradisioneel deur vroue bespeel word. Dit staan langs verskeie ander inheemse instrumente wat as monumente binne die skepping van Suid(er)-Afrika se musiek beskou word.
Dit is ’n onbegonne taak om die note van die uhadi met enige universele sekerheid in Westerse musikale taal vas te vang in ’n opname. Die rede hiervoor is moontlik dat die uhadi met die hand gestem word en die kalbas ingespan word as resonansieholte teen die speler se liggaam12. Die voorkoms is egter baie dieselfde as die boog wat gebruik word deur die San-mense – verskillende musiek wat op verskillende instrumente gemaak word, verskillende stories met dieselfde visie.
Kunstekaap identifiseer jaarliks ’n plattelandse gemeenskap vir die Rural Outreach Project. Die program is geskep met die doel om mense in afgeleë areas van die Wes-Kaap, wat nie noodwendig self na die stede kan reis nie, toegang te gee tot die kunste soos dit in die professioneel-toegeruste teaters by Artscape beleef kan word. Vredenburg is vanjaar identifiseer as die gekose dorp vir die 12de Rural Outreach Project en sal met ’n ten volle toegeruste teaterervaring bedien word.
As deel van Kunstekaap Teatersentrum se uitreikprogram is plaaslike kunstenaars uit Gugulethu ingesluit by die Nelson Mandela & Albertina Sisulu Eeufeeskonsert op 30 September. Hierdie inisiatief is aangebied in vennootskap met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes en die Gugulethu 60ste Herdenkingskomitee ter viering van dié township se diamantjubileum. Gugulethu, wat in die 1960’s gestig is, is een van verskeie areas reg oor Suid-Afrika wat bekend is vir ’n kollektiewe weerstand teen apartheid, met spesifieke verwysing na die “Gugulethu Seven” – sewe jong mans wat as lede van Mkhonto weSizwe (MK), die gewapende vleuel van die African National Congress (ANC), oorval en vermoor is deur die Suid-Afrikaanse sekuriteitsmagte op die oggend van 3 Maart 1986.
Dit was dus gepas dat hierdie huldigingskonsert ter ere van apartheidsvegters, soos Tata Madiba en mevrou Sisulu, aangebied sou word in ’n pertinente “township” as ’n sprekende voorbeeld van die terug-eis van “Ons Trots” as ’n vry nasie – gelykstaande aan die verwysing wat opgesluit is in hierdie “township” se naam. Die programsamestelling het gespog met ’n ongelooflike verskeidenheid van plaaslike kore en dui op die vasberadenheid om hierdie musiekgenre, wat deel vorm van Gugulethu se erfenis en getuig van ’n kultuur van samewerking ter wille van ’n groter gesamentlike doel, te laat herleef
Waarom doen ons al hierdie dinge? Ek wil graag vir julle die eerste paragraaf van die aanhef tot ons Transformasieplan13 voorhou:
The Artscape Theatre Centre has a vision to be the world's leading centre of performing arts and creative excellence. Our passion is to be an inclusive space for all people from every corner of our province irrespective of race, creed and religion. This inclusive space is also about providing our expertise to every genre within the Arts sector. We will continue through our education and outreach programme to bring about discussion and reflection towards building a Socially Cohesive Nation. Our aim is to bring people together with a singular goal: Creating shared and safe spaces for people to come together!
As UH streef ek ook daarna om téén die nalatenskap van apartheid te werk, deur die insluiting van gestremde jeug in ondervoorsiene areas by aktiwiteite in die kunste en deur uit te reik na stedelike en landelike instellings vir gestremdes in ’n poging om meer geleenthede vir jongmense in hierdie omstandighede te skep. Wêreldwyd is dit bewys dat interaksie deur die kunste ’n instrumentele rol kan speel om gestremde jong mense toe te rus om hulself te kan bemagtig en verdere geleenthede te kan aangryp. Hierdie interaksie kan op effektiewe wyse dien as ’n brug tussen die gestremde gemeenskap en aktiwiteite wat die meeste individue as genotvol ervaar.
Weens my werksaamheid in die openbare lewe is ek deeglik bewus van die gebrek aan inklusiwiteit tydens beplanning, maar ook die feit dat ek ’n stem het. In ons alledaagse wandel is ons dikwels onbewus van die groot impak wat klein veranderinge op die lewe van ’n gestremde persoon kan hê. Die kompleksiteit en veelvuldige uitdagings wat met gestremdheid gepaardgaan, het my belangstelling geprikkel en dien as motivering om as agent van verandering op te tree. Verandering impliseer egter nie bloot net die aanpassing van geboue of sypaadjies nie, maar omskryf eerder ’n konstante bewustheid van alle mense. In die toekoms behoort beplanning vir persone met gestremdhede op ’n volkome geïntegreerde wyse deel te vorm van stadsbeplanning.
Die siening dat mense dinge maar net gelate aanvaar of die posisie van die status quo as onveranderlik sien, dien juis as die stukrag en motivering vir my toewyding tot verandering. Deur terug te deins sou ek toegee aan die druk om as ondergeskikte landsburger hanteer te word.
4. Wat betref Afrikaans
Dit is duidelik dat Russel Botman se ampstermyn as voorsitter van die KKNK en as rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch nou verbind is met die debat rondom Afrikaans as taal van onderrig en as beskermer van ’n kultuurfees. Ek is tans ook die voorsitter van die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), ’n niewinsgewende organisasie gefokus op bemagtiging van Afrikaansgebruikers in plattelandse en bruin gemeenskappe deur geletterdheidsontwikkeling en opvoedkundige projekte.
Russel Botman het die vierde Mathew Phosa-lesing14 aangebied by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl op 12 Augustus 2010, in beide sy hoedanigheid as rektor en visekanselier van US en as voorsitter van die raad van die KKNK. Sy boodskap in die lesing was eenvoudig – “dat Afrikaans vir almal ’n brug na ’n beter lewe kan wees”. In sy slotopmerking het hy homself beskryf as ’n kind van 1976, ’n student aan UWK waar die skokgolwe van Soweto ’n geweldige impak gehad het. Hy was ook getuie van die gevolge van ’n onregverdige taalbeleid, en as rektor, tesame met sy kollegas, word hy die geleentheid gegun om hierdie ongeregtigheid reg te stel. Hul oogmerk is geregtigheid in Afrikaans – gelyke toegang tot alle geleenthede. Dit is nie ’n taal wat in gedrang is nie, maar die toekoms van ’n land. Dit is nie ons vrese wat bedreig word nie, maar ons hoop. Afrikaans is ’n sleutel van die 21ste eeu wat kan bydra tot die ontwikkeling van ander Afrikatale – ’n bydrae wat Engels nie kan maak nie. Hy sluit af met ’n gedig wat die Kaapse digter Adam Small (1973) geskryf het na die sloping van Distrik Ses:
Klim yt die klippe yt
óp, pêllie,
Klim yt die klippe yt
óp.
Ja, Afrikaans is deur die voormalige Nasionale Party se apartheidbedeling op nie-Afrikaanssprekende leerlinge afgedwing. Ja, geweld en onreg is in Afrikaans gepleeg, en ja, Afrikaanssprekendes het mede-Suid-Afrikaners as minderwaardiges behandel. Dit is ’n hoofstuk van verontregting wat ons nie kan uitvee nie. Die leemtes en die hartseer van die verlede moet vertel word, die ontbrekende historiese verlede moet volledig neergepen word. Afrikaans gee ons die ruimte en die geleentheid om die grense en onregmatighede van die verlede reg te stel.
Die strewe is ’n beter toekoms vir almal. Afrikaans is daartoe verbind om te bemagtig, te oorbrug en te verryk. Afrikaans is inklusief. Vandag is Afrikaans my taal, jou taal, ons taal. Dit is ’n gemene deler in ons groter Suid-Afrikaanse landskap. Afrikaans word gepraat, Afrikaans word gelees. Afrikaans bemagtig ons. Ons bemagtig mekaar. Afrikaans behoort nie aan ’n groep, kultuur, ras of bepaalde mentaliteit nie. Afrikaans is gedurende 1994 stelselmatig bevry. Ons kinders het kwaliteitonderrig in hul moedertaal nodig. Ons is dit verskuldig aan die plattelandse gemeenskap, insluitend die minderbevoorregtes, om hulle kultureel te verryk en emosioneel te versterk. Meer nog, ons moet luister in Afrikaans, ons moet al die fisiese en emosionele grense oorsteek en fokus op ons gedeelde toekoms en met mekaar praat in Afrikaans.
5. Van ontmensliking tot hoop
Toe ek ’n jong kind was, het die kerk (VGK) my selfvertroue gegee deur my deelname aan optredes by die kerk. Ek het as solis voor ’n gehoor gesing wat ongenaakbaar eerlik was – sonder voorgee dat iets goed is wanneer dit eintlik sleg was. Die kerk het ’n noodsaaklike rol gespeel in die ontwikkeling van my vaardighede as ’n leier. Ek was ’n lid van die Jong Dogters Bond waar ek my eie stem kon ontdek. As kind het ek egter ook besef dat iets fout was. Ek is genooi om in die NG Moederkerk in Wellington, waar slegs blankes in die kerkbanke gesit het, te sing. Ek moes deur ’n sydeur die kerk binnekom. Wat my verstom het, was dat die dominee uit dieselfde Bybel as ons dominee by die VGK gelees het. Die enigste verskil was dat die gemeentelede stil en uiters besadig was tydens die sang, terwyl jy in die VGK die Here tydens lofsang geprys het met jou hele lyf. Tot vandag toe sal die kerkklok om 10:00 slaan by die NG Moederkerk en by die VGK kerk, slegs een blok daarvandaan, om 09:00. Wanneer sal die klok vir ons almal op dieselfde tyd lui?
Dit is van uiterste belang dat ons ’n voorbeeld stel deur ons dade, dat ons woorde ooreenstem met ons optrede en dat ons aksies opreg sal wees. Dit is van kardinale belang dat ons nie die taal wat ons praat en die kultuur waarbinne ons onsself definieer as wapens teen mekaar gebruik nie, maar dit eerder sal aanwend as sleutels tot versoening.
Ons moet hoop gee deur ’n voorbeeld te stel aan ’n jonger generasie wat wil werk. Die nalatenskap van Russel Botman moet oorgaan van woorde na aksie. Introspeksie moet gedoen word in onse kerke. Wie skuif ons weg? Hoe gebruik ons teologie as drama met ons as hoofspelers? Wie en wat laat ons uit? Wie is die “hulle” en wie is die “ons”? Dit voel asof ons weer soos in die 1980’s by UWK voor die geel Casspirs van die polisie staan. Wie staan nou voor die Casspirs? Wie sit binne-in? Hoe gebruik ons die taal wat ons praat, ons kultuur? Is dit om vas te hou aan ’n sekere identiteit omdat ons so onseker is oor wie en wat ons as mens is?
Ek glo soos Russel Botman: die lewe is eenvoudig; dit skuld jou nie, maar dit is wat jy van jouself gee, en wat jou nalatenskap is vir die wêreld as burgers van ons wonderlike land Suid-Afrika. Mag dit ’n nalatenskap van hoop wees.
Die uitgebreide opknappingswerk aan Kunstekaap is bykans afgehandel. As jy teen die trappe uitloop na die voorportaal van die teaterverlenging, sien jy ’n nuwe drieverdieping hoë marmermuur voor jou verrys met die volgende woorde in Khoi, Afrikaans, Engels en Xhosa.
XHOSA
Uhambo olusuka e ‘The Nico Malan Theatre Centre’
lusingisa e ‘Artscape Theatre Centre’ ayikokutshintshwa
kwegama kuphela, koko kuquka nothando olungazenzisiyo
lokwakha nokuqingqa ikhaya lika wonke-wonke.AFRIKAANS
Die reis van Nico Malan Teater na Kunstekaap is nie net ’n verandering van naam nie, maar ook die plek van konstante passievolle kreatiwiteit waar almal tuishoort.ENGLISH
The journey from ‘The Nico Malan Theatre Centre’ to ‘Artscape Theatre Centre’ is more than just a change of name. It signifies the home of ongoing passionate creativity – a home for all.NAMA (KHOE)
Nē dawas Nico Malan Theatre Centresa xu Talenti ||Hui!gaes dis ge |ons |guisa dawas xa a !nāsa. ||Îs ge ||gâus a !khaisa ra ||gau||gau garu a, |nam|namsa kuru ╪ans disa – hoan di ||gâusa.
Ons het ’n punt in ons geliefde land bereik waar ons as ’n nasie op ’n reis moet gaan van brutaliteit na hoop – hoop wat in aksie omgesit moet word, waar dit nie net gaan oor die gesondword van herinneringe van die verlede nie, maar oor sosiale geregtigheid. Ons het nodig om aktiewe burgers van hoop te word.
Eindnotas
1 Cornelius Thomas, “His youth and student years”. In Russel Botman: A Tribute 1953–2014, reds A Grundlingh, R Landman en N Koopman (Stellenbosch: Sun Media, 2017), 9.
2 Ibid, 16.
3 The Russel Botman Archives, Index, 22.
4 Thomas, His youth and student years, 31.
5 Johan G Botha, “Who lights the candles? His role as minister and church leader”. In Russel Botman: A Tribute 1953–2014, reds A Grundlingh, R Landman en N Koopman (Stellenbosch: Sun Media, 2017), 69.
6 Martin Viljoen, “HOPE project”. In Russel Botman: A Tribute 1953–2014, reds A Grundlingh, R Landman en N Koopman, (Stellenbosch: Sun Media, 2017), 153.
7 Ilza Roggeband, KKNK 20, 1995–2014 (Absa KKNK, 2014), 16.
8 Ibid, 83.
9 Herman Kitshoff, “Claiming cultural festivals: playing for power at the Klein Karoo Nasionale Fees”, Universiteit Stellenbosch. Besoek op 17 September 2018 by http://citeseerx.ist.psu.edu/viewdoc/download?doi=10.1.1.477.1795&rep=rep1&type=pdf.
10 The TRC report, “Findings and Recommendations: The legal framework within which the commission made findings in the context of international law”, volume 6, afdeling 5, hoofstuk 7, 589.
11 Artscape Karoo Suite en Ouma Katrina, die dansende taal-program, 19–22 September 2018, 8.
12 Setumo-Thebe Mohlom, “Hitting the right note at the Mozart Festival”. Besoek op 29 September 2018 by https://www.businesslive.co.za/fm/life/music/2017-01-26-hitting-the-right-note-at-the-mozart-festival.
13 Artscape CEO Transformation Report, 2017.
14 H Russel Botman, “Afrikaans in die 21ste eeu”. Die Vierde Jaarlikse Mathews Phosa-lesing, Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), Paarl, 12 Augustus 2010.
Kommentaar
'n Hoogs eensydige uitbeelding van die verlede. 'n Uitsluitlik Afrika-perspektief word aangebied, waarmee Afrikaners met hulle Europese kultuur hulle nie kan vereenselwig nie. In die Kunstekaap se aanbiedings kom Afrikaners se bydraes glad nie tot hulle reg nie. Aanvaarding, verdraagsaamheid, versoening, geregtigheid word gepredik, maar die trant van die hele betoog is anti-blank en veral anti-Afrikaner.
Let op waar Engels pleks van Afrikaans gebruik word. Dit is soos Russel Botman se nalatenskap aan die Universiteit Stellenbosch: die afskaling van Afrikaans. Lees gerus Pieter Kapp se boek, Maties en Afrikaans (2013), hieroor vir 'n ander en myns insiens meer waarheidsgetroue perspektief.
Die Russel Botman-beursfonds word dikwels geprys. Wat ek nog nooit kon vasstel nie, is of Botman enige van sy eie geld daarvoor bewillig het en indien wel hoeveel? Le Roux kan ons gerus hieroor inlig.
Aandoenlik en veel stof tot nadenke.