Die wêreld se langste seebrug is die Jiaozhou Bay-brug in China. Dit is 26,7 kilometer lank. Maar hoe gemaak as jy 'n brug wil bou tussen kulture, bo-oor vooropgestelde idees en dwarsdeur sosio-ekonomiese omstandighede?
Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans bou taalbrûe. Te midde van taaldebatte by Suid-Afrikaanse universiteite, is die SBA besig om voort te gaan met projekte om jongmense deur middel van taal te bemagtig.
Naomi Meyer het die agtergrond verneem by Nelmari Kemp, Operasionele Programbestuurder van die SBA, en met Jan Mouton, ere-ambassadeur van België in Suid-Afrika en SBA-direksielid met die portefeulje Brugbou, gesels oor 'n spesiale mentorskapprojek getiteld Brugbou.
Jan, wat is die SBA se Brugboumentorskapprojek?
Oor die afgelope jare het die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) hulle beywer om mense te bemagtig deur ‘n beter beheer van die Afrikaanse taal. Die SBA het altyd vernaamlik die aandag gerig op enersyds die leesvaardighede van kinders en jong mense op voorskoolse en laerskoolvlak en andersyds ouer mense, veral op die verre platteland, wie se tradisie van verhaalkuns essensieel is vir die toekoms van die taal.
Die SBA het egter meer en meer bewus geraak van die groot uitdagings wat selfs uitstekende jong volwassenes op taalvlak ervaar wanneer hulle universiteit toe gaan en aan akademiese standaarde moet voldoen. Hulle vind dit problematies om lesings te volg, om werksopdragte en eksamenvrae te begryp, om voordragte te lewer en om akademies aanvaarbare antwoorde in toetse en eksamens te formuleer. Jong mense is ons toekomstige leiers en behoort konstruktief by te dra tot die toekoms van ons land. Hulle verdien besondere aandag.
Wat is die SBA se visie en hoe sluit dit aan by hierdie projek?
Hierdie nuwe visie van die SBA is deel van die transformasie van ons gemeenskap en sluit sedert 2015 ‘n program bekend as Brugbou in om spesifiek die vaardighede in die Afrikaanse taal van graad 11- en 12-leerders te verbeter met die oog op tersiêre onderrig. Hierdie program is veral gerig op leerders van skole op die platteland en in die bruin gemeenskap, waar die uitdagings besonder groot is en van wie ‘n besondere bydrae in die ekonomiese en sosiale groei van gemeenskappe verwag word.
Watter leerders word hierby betrek?
Brugbou is ‘n individuele mentorskapprogram gerig op matriekleerders wat op die basis van vroeëre slaagsyfers potensiaal toon om leiersfigure te word. In twee jaar het die program gegroei tot ongeveer 80 leerders in 17 skole, van Vredenburg oor Malmesbury en Worcester en Skurweberg tot Grabouw, die Paarl en Stellenbosch. Brugbou bly veral gerig op die Wes-Kaap omdat Afrikaans in hierdie gebiede vir baie leerders wat van die platteland af kom die aangewese taal van onderrig bly.
Mentors identifiseer die spesifieke taalbehoeftes van die leerders en werk met hulle individueel en ook in groepe gedurende 16 weke ter voorbereiding op verdere onderrig. Buiten taalvaardigheid bespreek die SBA ook ander uitdagings waarmee die leerder later sal worstel, soos studie- en vakkeuses, finansiële geletterdheid en sosiale aanpassing. Dít is nodig om die kanse op akademiese sukses van die leerders te optimaliseer en om so by te dra tot die vorming van leiersfigure.
Wie finansier die projek en wat is hulle rede?
Die Brugboumentorskapprojek se doelstellinge is presies ook een van die doelstellinge van die Trust vir Afrikaanse Onderwys, wat onmiddellik die moontlikhede van brugbou aangevoel en ‘n verbintenis aangegaan het. Dit gee die SBA die kans om die basis van die Brugboumentorskapprojek te versterk en om die program te laat groei in antwoord op die uitdagings, spesifiek in taalvaardigheid, wat binne die Afrikaanse gemeenskap van jong mense, veral op die platteland, vasgestel word.