Wannie Carstens is in Julie 2024 met die Jan H Maraisprys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon. Hierdie toekenning gee erkenning vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans. Die prys word aan Carstens toegeken ter erkenning van sy vakkundige bydrae ten bate van die Afrikaanse taalkunde.
Lees Wannie Carstens se volledige toespraak met die ontvangs van die Jan H Marais-prys op 11 September 2024:
Afrikaans se infrastruktuur: aanbou of afbreek?
Dames en here
Hier is vanmiddag talle ampsbekleders en rolspelers in die Afrikaanse wêreld en dit sal ’n lang tyd neem om elkeen by die naam te verwelkom. Die voorsitter het almal wel verwelkom. Ek begin daarom net met ’n ope “Dames en here”. Ek hoop u voel almal welkom hier, soos wyle Jan Spies in een van sy stories gesê het.
Die skopbokser Dricus du Plessis se bekende uitdrukking: “Hulle weet nie wat ons weet nie” is vandag ook hier ter sake. Want ek weet beslis wat ek weet en dit is dat ek oneindig dankbaar vir die erkenning is. Die beeld sal prominent in ons huis vertoon word en die prysgeld sal ander drome waar maak.
Hoe sê ’n mens regtig dankie vir hierdie dag en hierdie besondere toekenning? Miskien soos wyle Lance James sing in sy bekende lied “Dankie”: “Dankie vir al die seëninge wat na my toe kom.”

Wannie Carstens (Foto: Izak de Vries)
Dat ek hier kan staan, steeds gesond is en nog besig kan wees met my taal, is ’n seëning. Dat van my drome vir my loopbaan waar geword het: soos boeke wat ek wou skryf, reise wat ek wou onderneem, die dryf van ’n versoeningsdroom vir Afrikaans as aktivis, is ’n seëning. Dat my gesin, veral my kinders wat verlof moes neem om hier te kon wees, saam kan vier, is ’n seëning. My kinders sien vandag waartoe al my harde werk gelei het. Ek het hulle twee lesse probeer leer: Eerstens dat harde werk nie “dood maak nie” en tweedens dat hulle altyd moet droom, oor iets wat hulle motiveer of wil doen, want dit gee rigting en doel aan ’n lewe. Dat ek hier staan, is ’n konkrete bewys hiervan vir hulle. Ek hoop dit is iets wat hulle ook aan ons sewe kleinkinders sal oordra.
Ek het soveel van my kinders se aktiwiteite misgeloop weens my werk vir Afrikaans, maar gelukkig kon Wilma altyd vir my instaan. Wilma is reeds meer as 50 jaar (daarvan 46 jaar as getroudes) aan my sy en sy het my die ruimte gegee om my passie uit te leef. Dit was natuurlik nie altyd vir haar maklik nie. 50 jaar gelede het my koshuismaats van Pieke na haar verwys as “Blondie” as ons Vrydagmiddae langs die koshuisrugbyveld op Coetzenburg gestaan het. Dit is sy vandag nie meer nie, maar in my hart sal sy altyd my “Blondie” bly. Ek is geseën met wonderlike kinders en ’n wonderlike en uitsonderlike vrou as lewensmaat. En ’n loopbaan wat ek kan vier. Wat meer kan ’n mens voor vra?
Ek is die keurkomitee van die Jan H Marais-prys groot dank verskuldig dat hulle geoordeel het ek verdien die 2024-prys, gebaseer op nominasies uit die Afrikaanse akademiese gemeenskap. Dit is die grootste erkenning wat ’n akademikus in Afrikaans kan ontvang, en ek is besonder dankbaar daarvoor, veral so teen die einde van my loopbaan. Ek weet nie presies wie die nomineerders is nie, alhoewel ek kan raai, maar ek kan net sê: Dankie, dankie, dankie vir julle erkenning.
........
Hierdie prys motiveer wetenskaplikes om in Afrikaans te werk, te publiseer en studente aan te moedig om dieselfde te doen, en om volhoubaar die wetenskap in en deur Afrikaans te ontwikkel.
........
Hierdie prys motiveer wetenskaplikes om in Afrikaans te werk, te publiseer en studente aan te moedig om dieselfde te doen, en om volhoubaar die wetenskap in en deur Afrikaans te ontwikkel. Ek glo nie alles moet net in Afrikaans gedoen word nie; ons leef darem in ’n wêreld met 7 100 tale. Soos Chris Brink, vroeëre rektor van die US, by geleentheid gesê het: “Soms moet jy jou taal se storie ook in ’n ander taal vertel.” Kom ons wys daarom aan die wêreld se tale dat Afrikaans ook ’n unieke plek langs hulle kan inneem. Ek was al op baie plekke in die wêreld en die feit dat ek uit ’n Afrikaanse akademiese wêreld kom, het my nooit teruggehou nie. My primêre werk het ek in Afrikaans gedoen, maar ek kon my handhaaf in lande waar ander tale gepraat word. Ek was ook onlangs betrokke as mederedakteur van ’n nuwe boek in Engels oor die Afrikaanse taalkunde wat pas verskyn het. En daarop is ek besonder trots.
Nou oor na my kort boodskap vandag. Ek wil net enkele kort opmerkings maak oor iets wat ’n beplande hoofstuk in my nuwe boek is, naamlik die kwessie van Afrikaans se infrastruktuur. Wat word van Afrikaans se infrastruktuur: Bou ons daaraan of help ons om dit af te breek?
In ’n onlangse rubriek sê Lindi Koorts van UP Afrikaans het oor jare ’n infrastruktuur opgebou en hulpbronne gevestig om sy hoër funksies in stand te hou. Wat bedoel sy hiermee?
Al die vorige ontvangers van die prys, waarvan ’n paar hier teenwoordig is, het deur hulle insette as akademici wat in Afrikaans publiseer, help bou aan Afrikaans se infrastruktuur. Elkeen het die waarde van Afrikaans vir hulle loopbane beklemtoon, waaraan hulle oor ’n lang tyd gewerk het. Hulle weet ook dat dit volgehoue werk geverg het en dat dit nie net insidenteel was nie. En dit is wat ’n taal se infrastruktuur behels: die stadige opbou van die raamwerk waarbinne ’n taal bestaan.
Die woord infrastruktuur is ’n breë term, ’n soort versamelterm vir alles wat dit moontlik maak dat die omgewing rondom ons funksioneer. Om dit eenvoudig te stel: Die gebou waarin ons vandag is, is ’n fyn beplande struktuur wat ’n verskeidenheid aspekte betrek – die planne wat gemaak is om die gebou op te rig, die materiaal wat gebruik is om die gebou te bou (beton, bakstene, balke, sement, hout, kabels, glas, yster, ens). Dit is alles netjies en bepland bymekaargesit om ’n mooi, afgeronde en versorgde geheel te vorm – en daarom is ons vandag hier binne en nie op die wye vlakte om ons nie.
Dit wat ons vandag hier ervaar, is ook nie hoe dit van die begin af was nie – eers was dit bosse en vlaktes en daarna is dit oor tyd stuk-stuk opgebou deur bou, afbreek, herbou, verbou en veral die instandhouding van dit wat opgerig is. Iemand moes ook toesig hou dat alles op ’n ordelike wyse bymekaargesit word. Die resultaat: die netjiese gebou waarin ons nou is. Die eienaars van die gebou en die plaas self weet goed dat as hulle dit nie in stand hou nie, sal dit agteruit gaan en later selfs vervalle kan raak. Dit is dus nie iets wat eenmalig opgerig word en vir ewig staan nie. Nee, daar moet voortdurend ’n oog gehou word vir ingeval iets fout gaan. As daar ’n fout kom, moet dit dadelik herstel word om agteruitgang te voorkom. Die term infrastruktuur dui met verwysing na hierdie gebou die fisiese strukture en fasiliteite aan en die onderliggende stelsels (elektrisiteit, watervoorsiening, riolering, instandhouding) wat nodig is om die gebou se struktuur te onderhou en sodoende volhoubare gebruik as restaurant te verseker.
........
Afrikaans, wat sedert die 1590’s ontwikkel het toe die eerste vorm van Afrikaans deur die Khoi met Nederlandse matrose gepraat is, vir eeue in ’n vormingsproses was, is in 1925 as amptelike taal erken, en in die loop van die 20ste eeu gestandaardiseer en gekodifiseer deur ’n spelstelsel, ’n grammatika wat goed beskryf is en talle woordeboeke waarin die taal se woordeskat opgeteken is.
........
Soos ’n gebou, huis, plaas of land, het taal ook ’n funksionerende infrastruktuur nodig. Dit is nie iets wat vanself ontstaan nie, maar oor tyd gevestig word, dikwels met moeite en konflik. Afrikaans, wat sedert die 1590’s ontwikkel het toe die eerste vorm van Afrikaans deur die Khoi met Nederlandse matrose gepraat is, vir eeue in ’n vormingsproses was, is in 1925 as amptelike taal erken, en in die loop van die 20ste eeu gestandaardiseer en gekodifiseer deur ’n spelstelsel, ’n grammatika wat goed beskryf is en talle woordeboeke waarin die taal se woordeskat opgeteken is. Volgende jaar vier die taal sy eerste eeu as amptelike taal. Kom ons vier dit as ’n belangrike moment in Afrikaans se geskiedenis, met die wete dat die proses dikwels te uitsluitend was. Ons taal het inderdaad ’n lang pad gekom, soos die titel van die boek Ons kom van vêr wat ek in 2016 saam met Michael le Cordeur ter ere van Adam Small saamgestel het, getuig.
Die infrastruktuur van ’n taal omvat die stelsels en strukture wat nodig is om dit te ondersteun en uit te bou. Dit sluit verskeie komponente in, waarvan ek graag vier noem:
- die taal self (die kodifiseer van die woordeskat en grammatika);
- die diverse groep mense wat die taal gebruik en wat dit wil aanhou gebruik, soos ons wat vandag hier is;
- die stelsels wat die gebruik en uitbreiding daarvan moontlik maak (onderwys, wetgewing, tegnologie, kulturele aktiwiteite, gebruik van die taal in alle funksies);
- en die fisiese strukture (soos skole, universiteite, organisasies, woordeboekruimtes, uitgewers, radiostasies, ens) wat gebruik word om die taal uit te bou.
Die infrastruktuur is derhalwe ’n komplekse web van interverwante elemente, met mense as die kern, want sonder gebruikers is die stelsels en strukture van ’n taal nutteloos. Ek kan nie die rol van die gebruikers van die taal genoeg beklemtoon nie, want hulle bepaal deur hulle optredes of ’n taal groei of kwyn. Wyle Jaap Steyn, ’n vroeëre ontvanger van hierdie prys, het omvattend hieroor geskryf.
Daar is baie wat ek graag sal wil sê oor Afrikaans se infrastruktuur, maar tyd ontbreek daarvoor. Ek noem net twee kwessies wat ek weet wel aandag verdien.
- Die verhoudinge tussen mense wat die infrastruktuur deel of in stand moet help hou, is van kardinale belang. Die ongelukkige US-konvokasiedebat van verlede jaar en debatte die afgelope tyd oor Afrikaners en Afrikaans in die media, en veral die kommentaar in sosiale media daaroor, het nie gehelp om goeie verhoudinge tussen gebruikers van die taal te bou nie – ’n oper gemoed en die groter prentjie van die breë Afrikaanse gemeenskap is hier nodig. Hoe praat ons oor en met mekaar? Dit is een van die groot kwessies van ons tyd. Mense maak deure oop, maar mense maak ook deure toe. Ek pleit vir sinvoller, stylvoller, sagter en veral begripvoller praat met mekaar. Kom ons luister na mekaar en probeer saam oplossings soek vir probleme. Kom ons staak die plaas van mense in hokkies. Kom ons doen dinge in en vir Afrikaans. Kom ons vier byvoorbeeld saam Afrikaans 100 as ’n belangrike fase van Afrikaans.
- Afrikaans se wetenskaplike funksie is ongelukkig onder druk. Ek pleit daarom vir die totstandkoming van ’n Sentrum vir die Studie van Afrikaans waar aktiwiteite rondom Afrikaanse wetenskaplike inisiatiewe gekoördineer kan word. ’n Suksesvolle voorbeeld hiervan is die Kaplan Centre for Jewish Studies by UCT. Kom ons volg dit na. Ek het voorstelle in hierdie verband wat ek graag sal wil deel met belangstellendes. Ek dink ook die US kan naas die Buro van die WAT ’n goeie tuiste vir so ’n sentrum wees.
........
Ons het ’n gesonde en goed funksionerende taalinfrastruktuur nodig om Afrikaans se volle potensiaal te ontwikkel, een wat ingespan kan word om Afrikaans in al sy funksies te behou en selfs verder uit te bou, een wat die natuurlike diversiteit van Afrikaans weerspieël.
........
Ons het ’n gesonde en goed funksionerende taalinfrastruktuur nodig om Afrikaans se volle potensiaal te ontwikkel, een wat ingespan kan word om Afrikaans in al sy funksies te behou en selfs verder uit te bou, een wat die natuurlike diversiteit van Afrikaans weerspieël. Afrikaans het nie sommer net ’n taal van die wetenskap geword nie. Dit het naamlik tyd, harde werk en besondere moeite van talle mense geverg om strukture op te rig en stelsels vir die taal te vestig. Die Jan H Marais-prys is ’n bewys en ook stewige aanmoediging vir die Afrikaanse akademiese gemeenskap om hulle rol te speel om hierdie belangrike funksie vir Afrikaans in stand te hou en volgehoue hierby betrokke te bly.
Ek hoop dat my bydraes as akademikus en taalaktivis gehelp het om Afrikaans na die volgende vlak te neem. Toe ek in 1971 ’n eerstejaarstudent uit Namibië was, het Afrikaans nog net 45 jaar amptelike status gehad. So baie van ons handboeke was net in Engels. In 2025 vier ons Afrikaans se eerste 100 jaar as amptelike taal. In 55 jaar het ek probeer om deur my eie bydraes, ook boeke, gapings te help vul. Ek is dankbaar en trots dat ek dit kon doen. Dit is ook waarvoor ek bekroon word.
Ek het gesien hoe Afrikaans gegroei het, maar ek sien ook gevaartekens in die Afrikaanse gemeenskap, en ek pleit vir ’n breë en inklusiewe visie om wat opgebou is, te beskerm en in stand te hou, soos ek hier bo gevra het. Ons moet nie toelaat dat dit wat opgebou is, deur eie belang en opgeblase ego’s onder druk kom nie. Laat ons eerder bouers aan die infrastruktuur wees as afbrekers daarvan.
Die digter Antjie Krog het verlede week ’n eredoktorsgraad van UP ontvang. Sy het daarop die volgende gesê oor wat haar loopbaan as skrywer van haar geverg het:
Die wese van skryf is om jou af te sonder. Dis ’n eensame soort aktiwiteit. Dan kom so iets van buite af en jy weet presies hoe ingewikkeld universiteite raak rondom Afrikaans, hoe ingewikkeld dit is om iemand te benoem en almal te oortuig. So jy sien dit ook as ’n groter gebaar. Dit is nie net ’n gebaar aan jou nie, maar ook vir jou taal. Dis ook ’n gebaar aan ander Suid-Afrikaners. (Die Burger, 5 Sept 2024)
Dit som ons lewe as akademici so mooi op.
Juis omdat dit so “ingewikkeld is om iemand te benoem en almal te oortuig” is ek so dankbaar vir dié prys.
’n Laaste dankwoord:
- Die Het Jan Marais Nationale Fonds, Naspers (Media24) en die Universiteit Stellenbosch vir hulle inisiatief om hierdie prys 10 jaar gelede in die lewe te roep en ook vir die aanbied van hierdie funksie. In hierdie 10 jaar is talle Afrikaanse akademici se lewens beduidend geraak deur die prys wat aan hulle toegeken is. Ek kan daarvan getuig.
- Aan die onderskeie werkgewers tydens my loopbaan. Vir ’n kort tyd die US, toe UCT tydens die moeilike 1980’s en vanaf 1991–2017 die PU vir CHO/NWU. Danksy die voortreflike infrastruktuur van hierdie instellings kon ek my werk doen, kon ek reis en groei as akademikus. Daarsonder sou ek ’n leë blik gewees het.
- Aan bestuurders en kollegas wat oor soveel jare aan my vaardighede help slyp het. Ek wens my leermeesters kon ook hierdie oomblik meegemaak het. Ek dink Meyer de Villiers, Johan Combrink, Fritz Ponelis, Henning Snyman, Roy Pheiffer, Edith Raidt en Christo van Rensburg sou saam met ons die funksie geniet het!
- Aan die studente wat my eksperimente moes deurstaan as ek wou toets of ’n idee werk.
- Aan die breë Carstens- en Van Jaarsveld-familie vir hulle steun oor soveel jare.
- Aan ons uitsonderlike vriendekring in die noorde en die suide.
Dankie nog eens vir hierdie besondere dag, die beeld en die prysgeld. Dit is ’n dag wat my sal bybly. Ek weet daarom wat ek weet!
Lees ook:
Wenner van die Jan H Maraisprys 2024: ’n onderhoud met Wannie Carstens