Elders gesien: Afrikaans en die SABC

  • 12

Wannie Carstens skryf op Facebook:

Die mense wat my ken, weet dat Afrikaans my passie is. Ek het my loopbaan daaraan gewy en na my aftrede bly ek steeds daarmee besig. Ek hou my oë op dinge wat rakende Afrikaans gebeur en gee ook jaarliks op die RSG-program “Taaldinge” ’n oorsig oor die vorige jaar se taalgebeure.

Die berig oor die verskuif van die Afrikaanse nuus op SABC 2 (wat ek soms gekyk het en dikwels ook uiters nuttig gevind het) na SABC 3 (wat weens swakker seindekking minder toeganklik vir talle Afrikaanssprekendes in plattelandse gebiede is), dui vir my op ’n verandering in gesindheid aan die kant van die SAUK-bestuur: dat Afrikaans nie meer van waarde vir die SAUK is nie. Terugvoer van SAUK-woordvoerders op hierdie verskuiwing is nie oortuigend nie. Om, soos die Netwerk24-berig aandui, met so ’n skuif bykans 500 000 kykers te verloor, is ’n konkrete bewys hiervan. Of dit tot ’n korrekte stap sal lei, is te betwyfel. Ideologiese stiksienigheid laat nie so iets toe nie.

Ek hoop van harte eNCA begin weer met ’n daaglikse nuusberig op die openbare sender. Daar was vroeër een, maar dit het skielik tot ’n einde gekom. Daar is reeds een daaglikse nuusuitsending op kykNET, maar dit is ’n betaalkanaal. As dit die enigste landswye Afrikaanse nuusberig is, word Afrikaans geprivatiseer. En dit durf nie gebeur nie.

  • 12

Kommentaar

  • Boerkint (dolerend)

    Iemand het elders verwys na die hele ienterview daar op Orania van ou Penuel. Nou da was iets straaikieng wat die man van Orania in daai ienterview gese het. Hy se dat Suid-Afrika het in 1910 'n sentrale regering gekry. Die Engelse het toe probeer om die land vanaf Pretoria af te bestuur, maar hulle kon dit nie regkry nie. Toe probeer die Boere vir 40 jaar om dieselfde te doen, en hulle kon dit nie regkry nie. En vandag probeer die ANC om dieselfde te doen, en, nou ja...

    Die volgende wat seker sal tuimel, is RSG. Kom ons hoop ek is verkeerd.

    'n Mens moet seker ook maar net dankbaar wees dat die ou es aye bie sie se gebou darem nog regop staan daar in Auckland Park.

  • Afrikaans sal uiteindelik weer 'n dialek word net soos dit oorspronklik was.
    Standaardafrikaans is oppad uit. Net private instansies soos Akademia en Solidariteit se tegniese instellings sal Standaardafrikaans gebruik. Op openbare universiteite en skole sal dit 'n al kleiner rol speel.
    Media24, Maroela en ander sal geld beskikbaar maak om hul tradisionele basis (veral ouer mense) te paai, maar dis nie 'n werkbare sake plan nie en verg groot kruis-subsidies.
    Die private sektor is al omtrent volledig Engels en dit groei steeds.
    Afrikaans sal uiteindelik soos die Vlaamse taal 'n regionale dialek word wat met elke generasie verskraal.

  • Maroela het tans gemiddeld 2 miljoen unieke lesers per maand, staan iewers geskryf.

    Jy mag seker nie die woord ‘kak’ op die blad gebruik nie en al het dit wat daar geskryf staan dikwels ‘n reukie, is Standaardafrikaans oënskynlik springlewendig.

    Akademia verras my soms, al weet ek daar is iewers ‘n klousule waar jy jou hart vir die Jode se Jesus moes gee.

    Maar Afrikaans; ek gaan goddank lankal weg wees dan groei hy nog soos die bergsering hier agter in my erf. Hy voel ‘n fok vir politieke korrektheid en is rateltaai.

  • Boerkint (dolerend)

    Die een se dood is die ander se brood. Die leemte wat 7de Laan laat, gaan skynbaar nou deur ETV gevul word, so ook die verskuiwing van Afrikaanse nuus. Moeilik om te weet wat in die verskiet le. Daar is wel skynbaar 'n klein afname in die getal sprekers van Afrikaans. Dit kan mens sien deur die sensus van 2011 te vergelyk met die van 2021. Dieselfde is waar van Namibie se statistiek. Mens kan nie help om te vermoed dat daardie afname sal versnel in die toekoms nie. Ons moet in ag neem dat hoewel die aantal sprekers nie uitermatig gedaal het nie, daar wel 'n afname is van Afrikaans se funksies. Die Afrikaanse skole verdwyn, in navolging van Afrikaans op die universiteite.

    Suid-Afrika se president het onlangs weer vertel hoe belangrik moedertale vir die regering is. Ramaphosa is bekend vir sy eindelose valse beloftes (beter bekend as leuens) en Charl Adams is weer bekend as groot ondersteuner van Ramaphosa. Politici verkies 'n kieserskorps wat nie intellektueel goed ontwikkel is en te krities sal staan teenoor die regering nie. Daarom sal die regerende party nooit die beleid van verengelsing laat vaar nie.

    Dit beteken egter nie daar sal nooit verandering kom nie. Die EFF byvoorbeeld, wil Swahili verpligtend maak, en dit is net 'n kwessie van tyd voordat ons regerende party vervang sal word met 'n party soos die EFF. Indien nie in 2024, dan wel iewers in die toekoms.

  • Sensus is soortgelyk aan die ramblings of a madman, maar gegewe die hoeveelheid vlugtelinge tot die mag vyf in afgeleë uithoeke van hierdie realm, is die sprekers waarskynlik aan die afneem en tog nog 'n hele handvol. Ja, mens, ek worstel van skeidings- tot eksistensiële angs. Ek doleer ook sommer, maar nie as ek eers by 'n kerk moet aansluit nie.

  • Boerkint (dolerend)

    Charl Adams ek wys maar net op die feit dat jou opinies ingekleur word deur jou visie en jou visie is onderhewig aan jou politiek, en jou politiek is welbekend. Hier is hoe jy jouself byvoorbeeld op 22 Julie 2022 op Facebook uitgelaat het:

    "Gegewe Suid-Afrika se verlede en die rol wat Afrikaans gespeel het om skeiding en taal hegomonie te bewerkstellig tydens apartheid, moet ons met groot omsigtigheid die kwessie van taal benader. Behalwe vir die historiese aanslag moet ons ook in ag neem dat Suid-Afrika en die ganse wêreld vandag deel is van die sogenaamde 'global village'. Daar word deurgaans geskakel met ander internasionale moondhede, universiteite en sakemense op die Afrika kontinent sowel as oorsee. Engels bly steeds die beste en mees praktiese manier om te kommunikeer."

    Jy is met ander woorde dus geen aanhanger van veeltaligheid nie. Of jy maak soos jou geliefde president, praat een ding en doen die teenoorgestelde.

    Die rede hoekom 8 uit die 20 van die beste skole in Suid-Afrika Afrikaanse skole is, is nie omdat Afrikaans so wonderlik is of dat Afrikaanse kinders so buitengewoon begaafd is nie. Dit is omdat moedertaal die beste resultate lewer. Die feit dat Engels as dikwels internasionaal as besigheidstaal aangewend word, is tog geen gronde om mense se moedertale af te skaf by skole, soos wat jy en mense soos jy brand om te doen nie. Maar, soos reeds genoem, is dit nie in die regerende party se belang dat mense vir hulleself kan dink en deeglike beredeneringsvaardighede ontwikkel nie. En daarmee help al die swak geskoolde matrikulante wat jaarliks skool verlaat, die regering van dag.

  • Nee wat Boerkint, jy sit die pot mis. Ek is 'n voorstander van proporsionaliteit in alle openbare instellings. Afrikaans het 'n wel bekende houvas gehad in die vorige bedeling. Nou moet die 7,6% wittes, waarvan 3-4 miljoen Afrikaners is, by die bykans 60 miljoen in- en aanpas. Dws regstelling en transformasie. Dit is só dat meer nie-wittes Afrikaans praat en vir hulle kry ek jammer.
    Ideaal gesproke moet alle Afrikaanse skole co-ed, veelrassig en tweetalig wees. Ons weet dat sommige beheerliggame veg om hul skole Afrikaans te hou en die BELA Wet as 'n bedreiging sien vir 'eiesake'. Dis maar net 'n foefie om hul eie unieke Afrikaner- en hegomoniese karakter te behou.
    Afrikaans moet proporsioneel sy regmatige plek inneem op skool, universiteite en ander openbare instellings. As jy alles in Standaardafrikaans wil hê, sal jy moet uithaal en hoes en private, Afrikaanse 'Christelike' skole, Akademia, of Solidariteit se tegniese instellings, ondersteun.

  • Boerkint (dolerend)

    Jy praat so in sirkels dat jy effektief niks se nie. Die een oomblik is jy 'n Anglofiel en ANC-rasieleier. Die volgende oomblik is moedertale skielik weer belangrik. Praat maar net so in sirkels soos Ramaphosa. Dit is wel so dat privaatskole en universiteite oplossings bied. Gegewe dat ons regering nie vir mense se moedertale omgee nie. Dit terwyl moedertale die beste resultate lewer.

  • Boerkint lees gerus wat Max du Preez skryf oor Afrikaans. 'n Uittreksel:

    Die Taalmonument hoort nie in die Paarl nie. Dit hoort in die Bo-Kaap.
    Afrikaans is gekaap deur oa Christelike Afrikanernasionalisme en die Genootskap van ware Afrikaners.

  • Boerkint (dolerend)

    Die idee dat Afrikaans gekaap was deur Afrikanernasionaliste is 'n feit. Ek weet egter glad nie wat dit met die saak te doen het nie. Ons almal weet dit het gebeur. Die oplossing is beslis nie om mense te wil ontneem van die geleentheid om hulleself optimaal te kan ophef nie. En die beste resultate word bereik deur moedertale. Julle ANC-mense gaan die BELA-wet deurdruk omdat die parlement maar net 'n rubberstempel is van julle koukus. Maar ek stem nie saam met daardie besluit nie. Die Franse studeer in Frans, die Duitsers in Duits, die Italianers in Italiaans, die Japannese in Japannees. Maar ons klompie dwing ons jongmense om in 'n vreemde taal te leer en ons sisteem is een groot ramp as gevolg daarvan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top