’n LitNet Akademies-artikel deur Nicolette Harmse Steyn (2024) verken en vergelyk houdings en persepsies rakende Afrikaans in die Khomasstreek van Namibië.
Menán van Heerden gesels met Wannie Carstens oor Afrikaans in Namibië en Suid-Afrika.
In Namibië is Afrikaans een van die 13 nasionale tale (insluitend tale soos Engels, Osjiwambo, Duits en Otjiherero). Volgens die navorsingsartikel besit Afrikaans “aansienlike bedekte prestige” as ’n kommunikasiemedium tussen etniese groepe in stede. En die posisie van Engels? Gaan Afrikaans eendag bloot ’n erfenistaal in families word?
Ek was verlede jaar in April vir ’n maand op besoek aan Namibië en het wyd met mense gepraat en natuurlik ook geluister. Ek was nuuskierig oor hoe dinge sedert my vorige besoek (2015) verander het. Dit was natuurlik heerlik om die uniekheid van my grootwordland weer te ervaar en na die mense (wit, bruin en swart) se taalgebruik te luister. Daar was steeds die unieke mengsel van Afrikaans, Duits en van die inheemse tale in een gesprek. Ek het gedink Engels sal op alle terreine oorheers, maar kom toe agter dat Afrikaans die lingua franca is orals waar ons gery het – van die suide tot aan die kus. By die grenspos, vulstasies, winkels, restaurante, bakkerye, padstalletjie, toevallige gesprekke in die strate. Ek het gehoor Suid-Afrikaanse toeriste wat die land besoek het, sê so. En toe vind ek dit is waar. Die artikel van Steyn bevestig dit ook. Vir soveel spreker uit ander kultuurgroepe (Damara, Nama) is Afrikaans steeds ’n moedertaal en dit ten spyte van die geskiedenis. Dit beklemtoon ook die ekonomiese waarde van taal – as jy die taal van die grootste gebruikersgroepe aanleer, kan dit werk gee.
Volgens alle aanduidings is Engels wel die taal van die staat en van amptelike kommunikasie. Ek is vertel dat Engels ’n sterker voorkeur onder die Osjiwambo-bevolking het hoofsaaklik omdat skoolonderrig se invloed sterk is en dat dit algaande deurvloei na gebruikerspatrone. En dit kom voor of Afrikaans nie vir hulle belangrik is nie, wat ’n natuurlike verskynsel is, omdat hulle goed regkom met Engels. Uit my kinderdae onthou ek die variëteite Rehoboth-Afrikaans, Nama-Afrikaans, Damara-Afrikaans, Herero-Afrikaans, en ander naas Duits-Afrikaans heel goed. (Sommige Duitsers kon goed in Afrikaans vloek!) Dit kom my voor hierdie variëteite is steeds deel van tallie Namibiërs se daaglikse lewenswyse.
In die sentrale, oostelike, westelike en suidelike dele van die land skyn Afrikaans tans steeds die lingua franca te wees. Wat dit oor 20–30 jaar gaan wees, is natuurlik moeilik om te sê, maar die tekens is wel daar dat dit sal voortduur. ’n Taal se status en gebruik verander nie so vinnig nie. Kyk maar na Afrikaans in Patagonië. Maar die vermoede, gesteun deur akademiese literatuur, is dat die jonger groepering in die land op grond van Engels, wat die skoolstesel oorheers, mettertyd die grootste groepe gebruikers sal word. So sal Engels dan die lingua franca word en Afrikaans se waarde afneem. Talle sprekers van Afrikaans is ouer en die volgende geslag gaan nie noodwendig hulle voorbeeld navolg nie.
Wannie, jy het, soos jy reeds genoem het, in Namibië grootgeword. Word Afrikaans in Namibië so verpolitiseer soos in Suid-Afrika of is Afrikaans in Namibië ’n meer neutrale lingua franca?
Ek het gedink die stigma aan Afrikaans van die 1950’s tot die laat 1980’s sou daartoe lei dat die gebruik gou sou afneem. Dit hét ook in die eerste paar jaar ná onafhanklikheid gebeur, maar met verloop van tyd het die behoefte na Afrikaans weer na vore gekom. Meer Afrikaanse radiostasies het ontstaan, en eie skole is gestig omdat ouers wou volhou met moedertaalonderrig. Met verloop van tyd het Afrikaans gewoon net ’n gebruiksmiddel, ’n soort neutrale lingua franca, geword, een met potensiële beroepswaarde, maar aan die ander kant steeds die natuurlike eerste taal van ’n groot deel van die bevolking. Dit is iets om te vier.
Hoe vergelyk beskouings oor Afrikaans as die sogenaamde taal van die onderdrukker in sekere geledere met die persepsies in Namibië?
Ek het min tekens waargeneem dat Afrikaans nog ’n etiket dra. Daarvoor word dit te veel spontaan gebruik. Ek het self ’n persepsie gehad dat die geskiedenis daartoe sou lei dat Afrikaans in Namibië sou afskaal en binne 20–30 jaar sou begin verdwyn, maar tot op hede is ek, en ek dink talle ander, verkeerd. Dit is nou eers 30 jaar ná onafhanklikheid en dinge gaan nog goed. Die situasie kan natuurlik steeds verander, maar tot op hede is Afrikaans ’n aktiewe en lewendige gebruikstaal vir die breër Namibiese bevolking en ook bykans landswyd. Ek dink dit sal nog lank so wees.
Lê die behoud van Afrikaans in die digitalisering van erfenis?
As ons ons erfenis wil behou, sal ons dit móét digitaliseer. Soveel geskrewe tekste word verwaarloos of sommer weggegooi, en as ons dit soek, is dit weg. Die werk wat instansies soos Netwerk.na in Namibië begin doen met digitalisering is van groot belang. Natuurlik kan fisiese artefakte nie gedigitaliseer word nie, maar dit kan tog gedoen word deur foto’s van hoë gehalte te neem en dit digitaal te bewaar.
Ook in Suid-Afrika sal daar ’n groot houdingsverandering oor erfenisbewaring moet kom. Ek kom agter dat elke instansie steeds sy eie kitaar wil slaan, en as gevolg hiervan is die Afrikaanse digitaliseringsorkes ’n vae droom. Die sukses van enige digitaliseringsprojek lê ongetwyfeld in samewerking en in die deel van middele en hulpbronne. Tot op hede is ons egter nog ver daarvandaan. Lees gerus die artikel wat ek en Rone Wierenga in 2022 hieroor geskryf het en ween dan saam met ons. Ek het gehoop om self nog ’n koördineringsrol hier te speel, maar ek word ouer en die netwerke minder wat wil saamwerk. Ek hoop daardie mitiese “iemand” wat hierdie rol kan vervul, kom spoedig na vore.
Ek wil graag ’n beroep op alle instansies wat op die een of ander manier by digitalisering betrokke is, doen om die groter Afrikaanse prentjie te sien en hande uit te reik om saam die groot projek in die belang van Afrikaans aan te pak. Ons is dit verskuldig aan die volgende geslagte om dit te doen sodat hulle ook aan ons erfenis kan deel hê as ons nie meer daar is nie.
Afrikaans as onderrigtaal en die vraagstuk rondom Afrikaans se uitsterf – jou gevoel oor Afrikaans in Suid-Afrika in 2024?
Menán, ek hou my hart vas. Die druk via die omstrede Bela-wetgewing, die jongste gerugte oor die afskaal van Afrikaans by die SABC, die absolute gebrek aan politieke wil om meertaligheid in ons veeltalige land normaal te maak, is van die tekens wat ’n mens nie durf ignoreer nie. Kort-kort is daar die een of ander negatiewe beriggewing oor Afrikaans. Maar aan die ander kant is daar weer wonderlike dinge wat in Afrikaans gebeur, soos die talle nuwe Afrikaanse rolprente wat verskyn, ’n lewendige Afrikaanse leeskultuur (wel van populêre literatuur en nie noodwendig sware letterkunde nie), talle Afrikaanse gemeenskapsradio’s, Afrikaanse kunstefeeste, Afrikaanse organisasies wat steeds hulle bes doen om Afrikaans se belange te bevorder, Afrikaans se Wikipedia wat danksy die werk van Deon Steyn en sy medewerkers so mooi groei, die WAT se dele wat nog gereeld verskyn (soos T in 2023, en daar word reeds hard aan U gewerk), Afrikaanssprekendes se deelname aan gemeenskapsprojekte om van die land ’n beter plek te maak (met mense soos Barend le Grange wat soveel regrukprojekte inisieer, Andre van Pletzen van Kroonstad, Giel Bekker van Senekal, en talle ander), dan skep ek weer moed.
Ons durf nie moed verloor met ons taal nie, maar ons moet ook nie ons kop in die sand steek en dink dinge gaan outomaties beter word nie. Inteendeel! Doen jou ding vir Afrikaans daar waar jy is, maar help ook om ander tale geleenthede te gee. So vat ons hande oor taalgrense heen en bou ons saam aan ons pragtige land. Flip Buys het by geleentheid in 2004 gesê: “Die Afrikaanse gemeenskap moet verantwoordelikheid aanvaar vir sy eie toekoms en self aktief daaraan begin werk. Nie in isolasie nie, maar saam met geleentheidsvennote waar nodig en waar moontlik.” Twintig jaar later geld dit nog steeds. ’n Gemaksone is ’n gevaarlike plek en ons as Afrikaanse gemeenskap moet saamwerk met ander taalgemeenskappe om dit wat vir ons kosbaar is te behou en ook volhoubaar te maak.
Op ’n ligter noot: Is daar enige unieke gunstelingsêgoed wat jy uit jou grootwordjare onthou?
Ek was die laaste klompie jare maar min in Namibië en my skooljare in Windhoek lê ver terug in die verlede (matriek in 1970). Maar ek onthou nog so helder die gebruik van “so by so” in soveel gesprekke. Selfs my ou skoolmaats kon nie van die tipiese uitdrukkings onthou nie. Een onthou nog “Ek ruik pampoenpitte brand” wat ’n onderwyser op ’n keer vir haar gesê het toe sy nie dadelik op ’n vraag kon antwoord nie (dus dat sy hard moes konsentreer om ’n antwoord uit te dink). Toe ons op pad noord by ’n vulstasie net buite Keetmanshoop ons brandstof aanvul, vra die petroljoggie waarheen ons op pad is. Toe ek sê “Hentiesbaai”, laat waai hy met” “O, dan is jy op pad na die Boerebahamas.”. So mooi! En my Hentiesbaai-swaer se geliefde sêding het ek nog nêrens elders gehoor nie: “So jonk kom ons nooit weer bymekaar nie.”
Hoe gaan dit met die Afrikaanse media- en uitgewerslandskap in Namibië?
Volgens terugvoer gaan dit nog goed met die luistermedia via radiostasies soos Hartklop FM, Kanaal 7, Kosmos, Nova. Hulle word steeds wyd oor die land geluister. Ons het lekker na van die stasies geluister terwyl ons van Noordoewer na Hentiesbaai op reis was.
Ronelle Rademeyer, ’n voormalige nuusredakteur van Republikein, het haar kommer met my gedeel oor die Afrikaanse gedrukte media. ’n Koerant soos Republikein, asook Agriforum (’n maandelikse landboutydskrif), is steeds landswyd beskikbaar, maar dit kom voor of die beskikbare werkers in die Afrikaanse media minder word en dit kan daartoe lei dat die gehalte van beriggewing begin verswak. Van die ervare mediamense tree af, en hulle word ook nie noodwendig vervang nie, en daarmee saam verdwyn ervaring en kundigheid. Dit bring onvermydelik dieptejoernalistiek in die gedrang, wat Afrikaanse lesers van die geleentheid kan ontneem om ingelig te word oor dit wat verkeerd loop in die land. Daar sal beplan moet word om dit teen te werk.
Ek het heelwat nuwe boeke in boekwinkels in Swakopmund en Windhoek gesien, maar ek het min, indien enige, boeke gesien wat in Afrikaans daar gedruk is.
Is daar skole wat Afrikaans steeds as onderrigtaal gebruik iewers in Namibië?
Onderwys in die bykans 2 000 skole in Namibië geskied grootliks in Engels, alhoewel die taalbeleid van skole in die land dit moontlik maak dat kinders van graad 1 tot 3 in die moedertaal onderrig word, waarna na Engels oorgegaan word. Afrikaans word dus op ’n beperkte skaal steeds op junior primêre vlak in staatskole gebruik.
Maar verder is Afrikaans op skoolvlak geprivatiseer en val onder beheer van die Namibiese Privaatskole-organisasie (NAPSO) wat afhanklik is van skoolfondse om die skole volhoubaar te maak. Volgens wat ek kon vasstel, was daar teen 2023 vyf privaatskole oor (in Windhoek, Stampriet, Keetmanshoop, Tsumeb en Outjo) wat ’n paar duisend leerlinge op skool gehad het en waar Afrikaans steeds as taal van onderrig gebruik is. ’n Mens kan wel verwag dat dit oor jare kan afneem soos die behoefte al hoe minder word. Die gevaar van slegs Afrikaans in privaatskole is wel duidelik: As Afrikaans geprivatiseer word (wat heelwat koste vir ouers meebring), is dit buite die bereik van talle mense wat dit nie kan bekostig nie. Dit is daarom tog belangrik dat Afrikaans ook op wyer skaal in staatskole aangebied word, wat op hierdie stadium onwaarskynlik is. Ek hoop hier kom die een of ander sinvolle oplossing. Die Professionele Vereniging vir Afrikaans-taalonderrig in Namibië (PVATN) het hier ’n groot verantwoordelikheid wat op hulle rus om steeds Afrikaans as vak aan Namibiese skole te bevorder.
Sal ’n mens in enige winkel geholpe kan raak as jy slegs Afrikaans praat in Namibië?
Nee, ek dink nie so nie. In baie winkels en restaurante sal dit natuurlik wel so wees; sommige mense reken tot 80%. Baie van die jonger Namibiërs verkies wel Engels, alhoewel hulle Afrikaans verstaan en dit steeds gebruik, dikwels in informeler kringe. In ’n meer korporatiewe omgewing is Engels die gebruikstaal, maar in informeler gesprekke sal Afrikaans steeds voorkom.
In ’n veeltalige en multikulturele land moet ’n mens bereid wees om van een taal na ’n ander oor te gaan as jy suksesvol in jou kommunikasie wil wees. Niks keer jou seker om in Afrikaans te begin nie, maar as dit nie werk nie, gebruik dan Engels of die betrokke inheemse taal. Uitreik na mekaar oor taalgrense heen is vir my ’n noodsaaklikheid. Ek dink dit is ook die taalwerklikheid in Namibië.
Wat is die hoftaal in Namibie; en mag ’n prokureur Afrikaans gebruik?
Die amptelike taal van Namibië is Engels, en volgens Elizma Theron van Netwerk.na word Afrikaans nie meer in howe gebruik nie. Alle dokumentasie moet in Engels ingedien word. Kliënte mag wel ’n tolk aanvra as hulle in die hof met Engels sukkel, en getuies wat daarom in Afrikaans aan verrigtinge deelneem, is nie vreemd nie. Prokureurs en ander funksioneer net in Engels.
* Ek het die hulp van ’n paar kontakte en bronne betrek om my te help met die voltooi van die vrae: Elizma Theron (Netwerk.na), Ronelle Rademeyer (voormalige nuusredakteur Republikein, Karlien Kuhn (senior handelsmerkbestuurder by Feedmaster).
Ander bronne
- Tötemeyer, J-A. 2023. The role of Afrikaans in Namibia. Namibian Sun, 20 Desember 2023. https://www.namibiansun.com/life-style/the-role-of-afrikaans-in-namibia2023-12-20.
Lees ook in LitNet Akademies:
Vernuwing, vervreemding en taalvariante. N.P. Van Wyk Louw se Nuwe verse en die eietydse poësie
Lees ook op LitNet en Voertaal:
Afrikaans se digitale toekoms: ’n onderhoud met Wannie Carstens en Roné Wierenga
Indigenous “Khoisan” languages: an interview with Menán du Plessis