Aardklop: die hartsfees wat nog altyd klop met betowering en uiteenlopendheid

  • 1

Stinkhout met Frank Opperman en Wilhelm van der Walt was van 24 tot 28 September 2024 op die planke by Momentum Beleggings Aardklop 2024.

Ek het net die heel beste herinneringe van Aardklop. In 2003 pak ek en my ouers die wilde rit van PE na Potchefstroom toe aan. Ons doen dit ook sommer behoorlik. Gekookte eiers, koffieflesse en koue hoendervlerkies. Mens kon mos daai jare by die sementtafeltjies en -banke stop. In daai jare was daar dan nou ook nie GPS-dinge soos Waze en Google Maps nie. Dit was ’n dunnerige padkaart wat die Moeder moes bekyk en beduie mee. Die beste resep vir verdwaal. Ons het so verdwaal dat die rit nie net 15 uur lank was nie, maar dat ons ook deur sandstorms moes ry wat die Oos-Kapenaars eers gedink het tornado’s is. Die Moeder met ’n serp om haar hele gesig en kop gedraai. Vir die moontlike borskwale as gevolg van die stof.

2003 was die jaar wat ek dan nou ook K’s Choice gesien het by Aardklop. In Potchefstroom van alle plekke. Ons het gedans en gehuil toe hulle afsluit met “Not an addict”. Daar was die kunssafari waar ons gratis wyn gedrink het en toegesak het op die kaasborde. ’n Student is mos nie veel meer as arm en niks gewoond nie. Ons het wel ál ons geld gehou vir ’n balans tussen Deon Opperman-toneelstukke en morsig raak by Bourbons. Shame, dié soort van vreemde kafee met die Russian rolls is ook nou nie meer met ons nie.

Deur die jare was daar die ongelooflike Lot van Nicola Hanekom. Ontslape Harry Kalmer se roerende Briewe aan ’n rooidak met die briljante Henriëtta Gryffenberg. En die wonderlike Snowflake-kuiers en laataande met musiek en kunsuitstallings wat my altyd sal bybly.

........
Hierdie jaar het weer sy eie magic gebring. Musiek, komedie en debuutdramas van die beste gehalte. Die program was ontsettend mooi gebalanseerd en net groot genoeg om seker te maak almal kry ’n stukkie van die pie. Daar is vir my niks lekkerder as vol sale en uitbundige gehore wat na die tyd verstom na hulle motors toe loop nie.
........

Hierdie jaar het weer sy eie magic gebring. Musiek, komedie en debuutdramas van die beste gehalte. Die program was ontsettend mooi gebalanseerd en net groot genoeg om seker te maak almal kry ’n stukkie van die pie. Daar is vir my niks lekkerder as vol sale en uitbundige gehore wat na die tyd verstom na hulle motors toe loop nie. Die meeste van die aanbiedings was op die NWU JOOLplaas, en daar was genoeg praatjies, pap en kaiings en musiek om almal gelukkig te hou en deel te maak van ons land se unieke kreatiwiteit. Aardklop is wel ook lekker in die sin dat mens jou eie ervaring kan kies, soos ons het. Daar was pizzas van goue gehalte by Julia’s Eatalian, ’n huisie buite die dorp met trappe gemaak van boeke, en die Elgro Hotel. Dié hotel is ’n propperse teruggooi na die ’80’s, met ’n swembad en palmbome wat herinner aan die bekende Beverly Hills Hotel in Los Angeles. Dis ook hier waar daar ’n magiese klein teater as ’t ware geskep was vir die grootse produksie, Stinkhout.

Potch en Aardklop was goed vir die hart en volgende jaar is ek weer daar. Miskien dan met ’n mampoer en ’n jaffle in die hand, maar beslis weer begeesterd en trots.  

Stinkhout

  • Met: Frank Opperman en Wilhelm van der Walt
  • Regie en teks: Philip Rademeyer
  • Beligtingsontwerp en tegniese versorging: Andi Colombo

Hierdie jaar het ek baie produksies gesien. Die meeste van uitstaande gehalte. Maar ek het nog heeltyd ’n gekriewel gehad oor ek nie ’n skop in die maag gekry het nie. Daai ultimate kopskuifoomblik.

Met Philip Rademeyer se Stinkhout het dit toe uiteindelik gebeur. So met die jaar op sy kop. Soos die meeste van Rademeyer se vorige oorspronklike tekste delf Stinkhout weer diep in die problematiese verhoudings wat kan ontstaan tussen geliefdes en families. Louw (Wilhelm van der Walt) keer terug huis toe na die kleinhoewe waar sy pa, Gert (Frank Opperman), nog bly. Louw se jonger broer, Schalkie, is skielik oorlede. Hy was lanklaas by die huis, en wat ’n warm hereniging moet wees, is van die begin af ’n gespanne konfrontasie tussen pa en seun. Gert en die kleinhoewe is lewensmoeg en vervalle. Boonop is Louw nie net daar vir die begrafnis nie, maar ook om sy pa se wonde oop te ruk oor die verlede en die gesin se seerste herinneringe te ontsyfer. Sentraal tot die tragiese storie staan ’n stinkhoutboom. Die boom staan al 70 jaar op die plaas en is nie net die bron van Schalkie se agteruitgang en uiteindelike sterfte nie, maar ook hulle ma, Amanda, se selfdood 25 jaar tevore.

Stinkhout is nie net ’n soort hout wat inheems aan Suid-Afrika is nie, maar word ook dikwels gebruik as ’n metafoor om iets vrot te beskryf. Die verrotting is diep geanker in die twee seuns se grootwordjare, hulle pa se onvermoë en tekort aan begrip om liefde te bied na die dood van hulle ma en die uiteindelike verval van ’n gesin. Die boom word uitgebeeld deur ’n vlegsel van toue en liggies wat deurentyd ophelder deur die loop van die stuk. Die boom is veronderstel om afgekap te word, want dit is al dekades dood volgens Louw. Gert klou egter verbete vas aan die boom se voortbestaan, want die bloeisels wat elke paar jaar met stuiptrekkings vanuit die boom groei, is sy hoop op ’n gesin wat moes gewees het. Sy enigste verbintenis dié aan ’n vrou en ’n seun wat nie die lewe kon oorleef nie.

Frank Opperman, ’n veteraan en ikoon van die Suid-Afrikaanse verhoog en skerm, lewer ’n vertolking wat beide spookagtig en diep roerend is. As Gert, en in terugflitse as ’n jong Schalkie, beeld hy die las van spyt, die verlies van onskuld en die hopeloosheid van ’n man wat vasgevang is in die wrak van sy eie toedoen, meesterlik uit. Sy liggaamspel – ingedrukte skouers, gemete pouses en senuagtige bewegings – voeg verder ’n laag van egtheid by wat beide karakters se wanhopige afwaartse spiraal des te meer aangrypend maak. Die wanhoop in sy stem en oë is hartverskeurend. Teenoor hom staan Wilhelm van der Walt nie een tree terug nie. Waar Gert moeg is en gevul met berou, is Louw beheerst, pragmaties en aanvanklik emosioneel afgesonderd. Van der Walt speel Louw met ’n stil intensiteit wat algaande ontrafel in ’n onstuimigheid van emosies. Van der Walt wissel ook tussen Louw, ’n jonger Louw en sy naamgenoot, oupa Louw. Hy doen dit moeiteloos, en selfs ’n klein gebaar, soos om sy sokkies af te rol as hy oorslaan na jong Louw, getuig van sy vakmanskap as akteur. Die twee akteurs het ’n tasbare elektriese band op die verhoog en mis nie ’n enkele beat nie. Nie één keer nie.

........
Dit is verfrissend om vir ’n slag ’n oorspronklike teks tussen al die verwerkings en vertalings op die verhoog te sien. ’n Storie wat die gehoor nie probeer fnuik  met snaakse rekwisiete en truuks nie. Mens raak partykeer mos ook moeg van abstrakte dialoog waar skapies of lappoppe oor die verhoog gestrooi lê.
........

Rademeyer se teks en regie verdien egter nog meer lof. Soos met sy bekroonde Goed wat wag om te gebeur is daar ’n afgerondheid aan Stinkhout wat deurskemer in sy hoogs effektiewe stelontwerp, die fyn balans van werklikheid en magiese realisme in sy teks, en ’n duidelike fokus op sy akteurs se spel. Die tegniese versorging en beligting dra verder by tot ’n produk wat nie een keer buite die lyne trap nie.

Dit is verfrissend om vir ’n slag ’n oorspronklike teks tussen al die verwerkings en vertalings op die verhoog te sien. ’n Storie wat die gehoor nie probeer fnuik  met snaakse rekwisiete en truuks nie. Mens raak partykeer mos ook moeg van abstrakte dialoog waar skapies of lappoppe oor die verhoog gestrooi lê.

Stinkhout is vir my die grootste triomf in Suid-Afrikaanse teater vir die jaar. Die gehoor het uitgestap met verpletterende trane in die oë, gelykstaande aan dié van die twee akteurs wat die trane vrylik laat loop het op die verhoog. My Ingelse maat het deur die trane en sigaretrook onderlangs opgemerk: “Parents, they can fuck you up hey?” Waarheid. Maar hulle weet ook nie altyd wat hulle doen nie. Daar is nie ’n handboek nie.

Stinkhout is te sien by die Woordfees by die HMS Bloemhof-skoolsaal:

  • 5 Oktober 14:00 en 17:00
  • 6 Oktober 13:00

Gaan maak dat die opvoerings uitverkoop word, en gee hulle al die pryse!

Lees ook:

Momentum Beleggings Aardklop 2024: Laaitie mettie biscuits, ’n kort resensie

Momentum Beleggings Aardklop 2024: Reünie, ’n kort resensie

Aardklop 2024: Magda Louw – ’n les in kletterkunde: ’n onderhoud met Desiré Gardner

Die Vrystaat Kunstefees vier die Suid-Afrikaanse kunslandskap van stories in al sy glorie

World Theatre Day 2024: Ignus Rademeyer responds

Onthou vir Mandri Sutherland van Standerton: ’n resensie van Vrou ens.

  • 1

Kommentaar

  • Annette van Niekerk

    Ons klou verbete aan Afrikaanse Toneelkuns, omdat ons landskap so sal verarm, as die kreatiewes tussen ons, nie ons versugtinge, vrese en vreugdes kan terugspeel vir vars perspektief nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top