
Foto: Cliffordene Norton
- Met: Wayne van Rooyen, Stephanie Baartman, Carla Classen en Joshwin Dyson
- Teks en regie: Christo Davids
Laaitie mettie biscuits vertel die storie van Noah, ’n jong seun wat daarvan droom om eendag ’n polisieman te word en na sy ma en sy gemeenskap om te sien. Op een noodlottige dag gaan koop hy sy daaglikse pakkie Lemon Creams en betaal met sy lewe.
Hierdie verhaal is geïnspireer deur, en word opgedra aan, wyle Nathaniel Julies, en die talle ander soos hy. Nathaniel was ’n 16-jarige seun met Down se sindroom, en is na bewering meters van sy huis af in Eldoradopark deur die polisie doodgeskiet. Die saak is nog nie afgehandel nie.
“Christo, hoekom het jy ons lief gemaak vir Noah Daniels?” was my eerste gedagte terwyl ek kyk hoe die teaterstuk Laaitie mettie biscuits begin. Ek het nie voor die tyd geweet die stuk is deur Nathaniel Julies se verhaal geïnspireer nie, maar ek het ’n voorgevoel gehad dat iets aakligs sal gebeur.
Ek het na die produksie ’n paar resensies gesien en hulle fokus op die tema: “Wat is normaal?” Vir my was die produksie ’n metafoor vir hoe die kwesbares soms die meeste ly onder magbehepte mense. Ek kon amper nie verby my woede na die magsbehepte polisie – briljant vertolk deur Wayne van Rooyen en Carla Classen – kyk nie.
Ek en my vriend wou ’n paar keer die Sersant, vertolk deur Wayne van Rooyen, leed aandoen.
“Ek wil hom steek,” het ek drie keer gefluister.
“Dis hoe jy weet dis goed,” het my vriend my getroos. “Dit voel nie asof ons na ’n produksie kyk nie.”
Haat, woede en afsku het my gevul vir die konstabel (Classen) wat aanvanklik net gestaan en toekyk het. Haar versuim het haar skuldiger in my oë gemaak. Nie om National treasure na te aap nie, maar as jy die mag het om ’n verskil te maak, het jy dan ook nie die verantwoordelikheid nie?
Noah Daniels se grootste sonde was dat hy te veel vertrou het. Die produksie laat jou dadelik van Noah hou, want hy voel bekend, soos die dorpskind wat ons almal ken. Dit laat jou vrae vra oor hoe ons daardie kinders hanteer – kinders wat nie perfek is of nie binne die samelewing se ideale raamwerk inpas nie. Hoe behandel ons mense met geestesongesteldhede, dié met geestelike uitdagings, en dié wat nie aan buitewêreldse verwagtinge voldoen nie?
En, hoe dikwels gee ons mag aan dié wat dit misbruik? Hoe dikwels laat ons toe dat hulle hul grense oorskry? Hoe dikwels gee ons hulle die vryheid om ons samelewing af te breek?
Hierdie produksie het baie relevant gevoel binne die huidige sosiopolitiese klimaat – ’n klimaat wat voel asof dit swaar dra aan magsmisbruik en hebsug. Dit het uitstekende kommentaar gelewer, en my laat vrae vra oor my eie waardes.
Dit het my laat bid: Vergewe ons, Noah, vergewe ons, Nathaniel – ek sal beter doen.
- Ek het dié keer die foto (heel bo) geneem voordat die produksie begin het. Ek het dus nie die reëls oortree nie, reg?
Lees ook:
Momentum Beleggings Aardklop 2024: ’n onderhoud oor Geroep vir meer
Momentum Beleggings Aardklop 2024: ’n onderhoud met woordghoeroe en straatmusikant Nicky Grieshaber
Aardklop 2024: Magda Louw – ’n les in kletterkunde: ’n onderhoud met Desiré Gardner