
Aardklopbanier: https://aardklop.co.za/; foto van Nicky Grieshaber: verskaf; klawerbordnote: Canva
Nicky Grieshaber woon in Pietermaritzburg en is ’n onafhanklike taalkommunikasiespesialis. Hy werk sedert 2000 vryskut as teksredakteur vir LitNet, en is ook vir teksredigering en as taaladviseur by LitNet Akademies betrokke. Nicky bespeel ook die klavier en praat met Naomi Meyer oor sy optredes by vanjaar se Momentum Beleggings Aardklop-fees.
Nicky, my heel eerste vraag aan jou is: Wie gaan hierdie onderhoud proeflees? Ek terg! Vraag twee, wat hierby aansluit, is: Wil jy kortliks vir LitNet se lesers vertel wie jy is?
Hallo Naomi, dankie vir jou belangstelling!
LitNet het ’n span baie goeie proeflesers tot hulle beskikking – julle sal regkom sonder my om my eie werk te proeflees. 😊
Hieruit sal lesers aflei dat ek by LitNet ’n proefleser/teksredakteur is (vryskut, maar vir alle praktiese doeleindes al meer as 20 jaar lank feitlik voltyds), en ook taaladviseur. Ek woon in Pietermaritzburg en is dus een van LitNet se “Outpost”-medewerkers.
Nicky, benewens proefleser, teksredakteur en taaladviseur, is jy ook ’n skrywer. Jy het ’n boek geskryf waarmee jy sprekers van Engels met Afrikaanse spelling help. ’n Onderhoud met jou het jare gelede hieroor op LitNet verskyn. Dalk kan jy kortliks uitbrei oor jou fassinasie met taal, taligheid, tweetaligheid en woorde?
Oor die tweetaligheid: My ouers het met mekaar Afrikaans gepraat en met ons (kinders) Engels, en ons het opvoedkundig en sosiaal oorwegend Engels grootgeword, maar meestal (later, van toe ek so 10 jaar oud was) in tweetalige omgewings en dubbel- of parallelmediumskole. Die besluit oor Engels in ons huis was nie “ideologies” gedrewe nie, maar bloot prakties gegrond: My ouers het besluit dat omdat ons aanvanklik in meestal Afrikaanssprekende gebiede gewoon het, dit nuttig en sinvol sou wees om Engels as parallelle taal tuis aan te leer. So het ons volledig tweetalig grootgeword sonder dat ons dit eintlik besef het (wat seker eintlik die norm vir die meeste gesinne of families in ons land is, veral as ons “tweetalig” nie tot Afrikaans en Engels beperk nie).
..........
Byna patologiese hipertaalbewustheid, gesteldheid op korrekte en keurige taalgebruik, en ook die pret wat mens met taal kan hê, sit in die meeste van ons sibbe (en kinders) se DNS of bloedstroom of gene ...
...........
Byna patologiese hipertaalbewustheid, gesteldheid op korrekte en keurige taalgebruik, en ook die pret wat mens met taal kan hê, sit in die meeste van ons sibbe (en kinders) se DNS of bloedstroom of gene of waar dié soort goed ook al mag sit. 😊 Ek is maar net toevallig die enigste een wat taal in ’n beroepshoedanigheid bedryf (wel ook in ’n kleiner mate my jongste sussie, en nou ook my jongste seun, Curran, wat heelwat van die teksversorging van LitNet se Engelstalige artikels behartig).
Jy “praat” ook ’n ander taal – die taal van musiek – en dis hierdie taal waaroor ek met jou wil praat. Jy bespeel die klavier en klawerbord (is dit die korrekte woord vir die elektriese/elektroniese instrument?).
Aaa, ’n lekker onderwerp! Die Afrikaanse woord vir die tweede instrument wat jy noem, is “kiebôt”, Naomi. 😉
Nee, “klawerbord” is reg, maar om tegnies meer korrek te wees, eintlik “digitale klavier”. Ek noem dit egter ’n “piano wannabe”. My voorkeur is ver-ver-verreweg ’n regte klavier – die elektrisiteitlose, akoestiese soort met regte snare en viltbekussingde hamertjies en dempers.
...........
My voorkeur is ver-ver-verreweg ’n regte klavier – die elektrisiteitlose, akoestiese soort met regte snare en viltbekussingde hamertjies en dempers.
............
Maar toe ek so 12 jaar gelede besluit het om my musiek te begin “uithuur”, moes ek noodgedwonge ’n draagbare instrument aanskaf, want regte klaviere vind mens omtrent nêrens meer nie. Toe ek my dogter van my aankoop vertel, was haar tergende reaksie: “Uh-oh, Dad, so you’ve decided to cross over to the dark side.”
Jy gaan tydens vanjaar se Aardklop-fees in Potchefstroom “busk” (straatmusiek maak?). Vertel vir ons lesers wat vanjaar daar sal wees, waar hulle na jou sal kan luister.
Ek soek nog na ’n Afrikaanse woord vir “busk” wat “straatmusiek maak” nie tot strate beperk nie. Die busking gaan plaasvind by wat op die feesterreinkaart as die Speelpark aangedui word. Daar gaan glo drie van ons wees wat beurte maak.
..........
Die feesdae is Dinsdag 24 tot Saterdag 28 September, en my voorlopige beurte is: Dinsdag 12.15–2.45; Woensdag 9.45–12.15; Donderdag 2.45–5.15; Vrydag 5.15–8.45; Saterdag 9.45–12.15, maar dit kan verander.
.............
Die feesdae is Dinsdag 24 tot Saterdag 28 September, en my voorlopige beurte is: Dinsdag 12.15–2.45; Woensdag 9.45–12.15; Donderdag 2.45–5.15; Vrydag 5.15–8.45; Saterdag 9.45–12.15, maar dit kan verander.
Watter musiek gaan jy speel, Nicky? Is dit jou gunstelinge, of is dit luisteraars se gunstelinge?
Op my reklamekaartjie staan: “Live piano for all your special occasions. Foot-tapping, humming-alonging / memory-lane magical melodies / from rocking rhythms / and wavy waltzes / to folksy favourites / and perky pop”. Al my gunstelinge is in daardie bont spul groeperings ingesluit! En omdat die luisteraars so uiteenlopend is, speel ek byna onvermydelik baie mense se gunstelinge raak. En by Aardklop hoop ek om nóg meer gunstelinge te “tref”, omdat feesgangers daar ook Afrikaanse melodieë sal (her)ken wat nie juis in my KZN-hartland bekend is nie. Ek moet terselfdertyd byvoeg dat ek nié besonder vertroud is met baie van die eietydse Engelse óf Afrikaanse musiek nie – daar kom bloot te veel nuwe goed uit om te kan byhou. Mense sal dus asseblief maar net moet geniet wat ek wel kan speel.
Maar in werklikheid, Naomi, is dit nié so voorspelbaar wie waarvan gaan hou nie. Nou die dag vra ’n negejarige (’n negejarige!) meisietjie my om “Gimme gimme gimme” te speel. (Wie is die dametjie se ouers?! 😊) ’n Ander keer staan twee 13-jariges en luister hoe ek “Hotel California” speel, want “We just love that song!” By ’n baie Engelse aftreeoord in Pinetown naby Durban vra ’n dame my om “some South African” liedjies te speel, en dit blyk sy bedoel “Daar kom die Alibama” en soortgelykes. En Curran vertel my dat sokkiemusiek baie gewild is onder die Engelse tieners wat hy hier plaaslik ken.
Wat is jou musikale agtergrond en waar speel jy nog musiek / waar tree jy ook op?
...........
Toe ek so 11, 12 jaar oud was, het ek met ’n 8-bas-trekklaviertjie begin en toe geleidelik na die klavier “gemigreer”, veral toe die Beatles et al my tienermusiekgolwe begin tref en die trekklavier nie meer so mooi gepas het nie.
............
Toe ek so 11, 12 jaar oud was, het ek met ’n 8-bas-trekklaviertjie begin en toe geleidelik na die klavier “gemigreer”, veral toe die Beatles et al my tienermusiekgolwe begin tref en die trekklavier nie meer so mooi gepas het nie. Ek speel op gehoor, soos dit beskryf word, en is diep onder die besef dat dit ’n gawe en talent van die Skepper is, net soos Hy ook allerlei ander gawes en talente aan ander mense gee – soos die vermoë om te skilder, of om skeppend te skryf, soos jy. Ek is geweldig – óórweldig – dankbaar vir hierdie talent en voel uiters bevoorreg en geseënd dat dit aan my gegee is.
Behalwe in ons sitkamer tuis het ek jare lank feitlik net in ons kerk se musiekgroep gespeel. Deesdae speel ek af en toe by ’n verskeidenheid funksies, maar meestal busk ek Saterdae by ’n winkelsentrum hier naby my, en soms ook op ander plekke. Toe ek so twee jaar gelede met die busking begin het, het ek nooit kon voorsien hoe positief mense op die musiek sou reageer nie. Dit verras en verheug my onophoudelik.
Koop mens kaartjies vir jou vertonings by Aardklop? Waar kan ons lesers (of eerder: ons luisteraars) na jou gaan luister? Is daar enige wenke vir luisteraars wat kleingeld en silwer munte in hul sakke dra en toevallig by jou gaan verbyloop tydens die fees?
Nee, geen kaartjies nodig nie. As mense eers in die feesterrein is, is die musiek by daardie Speelpark-verhoog gratis.
Wenke vir lesers/luisteraars ...? Natuurlik, ja, en dankie dat jy vra! Dis eenvoudig: Muntstukke is bonkige items om onnodig rond te sjlep terwyl jy ’n fees probeer geniet. En R50- en R100-note kan na ’n ruk ook verbasend swaar begin word. (Nee, régtig.) Ek verlig mense graag van hulle gewigtige laste – natuurlik met die edelste bedoelings om hulle te help – en dis waar my gewillige fooitjiehoedjie so nuttig te pas sal kom. Gooi in, gooi in! 😊
Baie dankie vir die onderhoud, Naomi.
- Gaan luister na Nicky Grieshaber by Aardklop! Die feesdae is Dinsdag 24 tot Saterdag 28 September, en Nicky se voorlopige beurte is: Dinsdag 12.15–2.45; Woensdag 9.45–12.15; Donderdag 2.45–5.15; Vrydag 5.15–8.45; Saterdag 9.45–12.15.
Lees ook:
Nicky Grieshaber discusses his book, the empowerment of clear communication and macaroni and cheese
Persverklaring: Aardklop se gawe gesinspromosie gee die geskenk van gehaltetyd
Persverklaring: Net een kans om Ruhan du Toit by Aardklop te sien!
Aardklop 2024: Magda Louw – ’n les in kletterkunde: ’n onderhoud met Desiré Gardner

