Persverklaring: Aardklop se gawe gesinspromosie gee die geskenk van gehaltetyd

  • 0

Tobie Cronje in Hans gee Herklaas horings. Foto: Pierre Rommelaere

Elke jaar doen Momentum Beleggings Aardklop baie moeite om iets vir almal te bied. Dit sluit ook gesinsvriendelike vermaak in wat geskik is vir alle ouderdomme. ’n Gedeelde teaterervaring is ’n kans vir gesinne om gehaltetyd saam deur te bring, en dit is hoe goeie herinneringe gemaak word.

Maar o wee, dit kan nogal ’n duur storie raak as jy vir almal van die kleinkinders tot hul oumas en oupas moet kaartjies koop. Daarom bied Aardklop vir slegs een dag ’n spesiale gesinspromosie.

As jy wag tot Vrydag 26 Julie om kaartjies vir die onderstaande produksies te koop, kry jy ’n lekker 30%-afslag op die kaartjieprys.* Al wat jy moet doen, is om tussen 08:00 Vrydagoggend en 08:00 Saterdagoggend 27 Julie jou kaartjies vir dié produksies by Ticketpro te koop:

  • Felias en Pokkel: Pokkel gaan ruimte toe: Kom beleef saam met Jakkie Louw (en agt poppe) die jongste avonture van dié twee muise, soos uitgebeeld in die derde boek in die gelyknamige reeks, geskryf deur Jakkie en Jaco Jacobs. (Volprys: R100. Afslagprys: R70)
  • Liewe Heksie vang vis: Die tydlose Liewe Heksie bied perfekte vermaak vir die hele gesin. Hierdie Heksie-produksie is bekroon met ’n Kanna-prys vir beste kinderteater by 2023 se KKNK. (Volprys: R125. Afslagprys: R87,50)
  • Lekker Afrikaans met Pieter Smith: Lekker Afrikaanse musiek vir oud en jonk. Die produksie vier die lewe en al die verrassings wat daarmee saamgaan. (Volprys: R160. Afslagprys: R112)
  • Hans gee Herklaas horings: Tobie Cronjé keer terug na die verhoog met ’n gedramatiseerde voorlesing van Rudie van Rensburg se gelyknamige boek. Dit is ’n teaterervaring waarin radiodrama op die verhoog lewe kry. (Volprys: R190. Afslagprys: R133)
  • Beste vriende sing Laurika: Wouter van de Venter en Clinton Waring bied met hierdie musiek-ode ’n intieme openbaring van die mens en vriendin agter SA se geliefde en ikoniese Laurika Rauch. (Volprys: R180. Afslagprys: R126)
  • Deon Meyer en Coenie de Villiers se Roem – ’n Musiekverhaal: Van die land se heel beste akteurs en musikante werk saam op die verhoog en vertel ’n verhaal wat in die Karoo wegspring en uitspeel in die glans van die groot stad se liggies. (Volprys: R220. Afslagprys: R154)
  • Joshua na die Reën: Die verte in: Dit is tyd vir die tweede dekade van Joshua na die Reën (Jacques de Villiers). Vir dié produksie sluit Raziela Grey, Stephen Jonathan, Stanley June en Lardo de Beer by hom aan. (Volprys: R200. Afslagprys: R140)
  • Ruhan du Toit: Hierdie gewilde musikant, met sy sjarmante en energieke verhoogpersoonlikheid en indrukwekkende vieroktaaf-stem, het die afgelope drie dekades diep spore in die plaaslike musiekbedryf getrap en is net so deel van die Afrikaanse kultuur soos biltong en koeksisters. (Volprys: R210. Afslagprys: R147)

Margit Meyer-Rödenbeck as Liewe Heksie. Foto: Hans van Veen

*Let wel, hierdie afslag is slegs van toepassing op die volle kaartjieprys. Hartsvriende en pensioentrekkers betaal reeds minder vir kaartjies, en kom daarom nie vir hierdie afslag in aanmerking nie.

Gaan maak ’n draai by aardklop.co.za vir meer oor hierdie gesinspromosie, en hou ook ons sosiale media dop vir nog spesiale aanbiedings in die aanloop tot die fees.

Vind meer besonderhede in die feesgids wat nou by aardklop.co.za afgelaai kan word of, as jy in Potchefstroom is, kan jy ook jou boekie by die feeskantoor gaan afhaal. Alle kaartjies kan op ticketpro.co.za gekoop word.

Momentum Beleggings Aardklop

24–29 September, Potchefstroom

Webblad: aardklop.co.za

Facebook: Aardklop Nasionale Kunstefees
Instagram: @aardklopkunstefees
X: @AardklopFees
#hierkomons
#aardklop2024

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top