Referaat: Die impak van taalpolitiek op universiteite in Suid-Afrika – die geval Afrikaans

Foto van Wannie Carstens: Naomi Bruwer

Die Universiteit Gent se 3de Colloquium Afrikaans het van 27–28 Oktober 2016 plaasgevind.

Hierdie internasionale kongres word deur die Gent Sentrum vir Afrikaans en die Studie van Suid-Afrika gereël. Innoverende navorsing op dié studiegebiede word by die kongres voorgelê.

Wannie Carstens was vanjaar een van die sprekers. Hieronder is sy volledige referaat.

 

Saterdag 21 Mei 2016 – Die impak van taalpolitiek op universiteite in Suid-Afrika: die geval Afrikaans

Wannie Carstens, Skool vir Tale, Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus

Referaat gelewer by 3de Colloquium Afrikaans, Universiteit van Gent, België, 27–28 Okt. 2016

Language is powerful; language is power. Language is a change-creating force and therefore to be feared and used, if at all, with great care, not unlike fire.” (Lakoff 1990: 13)

1. Inleiding: Politiek en taal

Die tema van hierdie referaat het betrekking op taalpolitiek. En die oomblik as ’n mens van taalpolitiek (dus politiek wat gekoppel is aan taal) praat, is politiek (dus staatkundige reëlings aan die hand van ’n bepaalde party se beleid) self aan bod. En enige mens wat in SA woon, is bewus dat politiek en taal nie juis van mekaar geskei kan word nie, veral as jy Afrikaans praat. Hans en Theo du Plessis sê in die voorwoord van Afrikaans en Taalpolitiek (1987: xiii) die volgende:

In ’n gepolitiseerde situasie soos die Suid-Afrikaanse (konteks), word die blote gebruik van ’n taal ’n politieke daad.

Dit was in 1987 die geval, en dit is vandag in 2016 nog steeds so. En dit is des te meer die geval as jy Afrikaans praat. Die rede is heel eenvoudig: Afrikaans se noue verbintenis met ’n negatiewe politieke verlede het onvermydelik ’n effek op hoe jy getakseer word weens die taal, Afrikaans, wat jy gebruik. Daarom sê prof Piet Paardekooper reeds in 1989 (1989: 61) met verwysing na navorsing oor Afrikaans:

Wie over het Afrikaans schrijft, krijgt als vanzelf met ‘taalpolitiek’ te maken.

En die opskrif van hierdie referaat het my in warm water laat beland omdat ek daaroor geskryf het. Later meer daaroor.

Kom ons begin aan die begin. Die eerste vraag is nou wat die konsep taalpolitiek inhou. In Afrikaans is daar ’n hele aantal publikasies wat hierop ingaan: Jaap Steyn se Tuiste in eie taal (1980), Jaap Steyn se Trouwe Afrikaners. Aspekte van Afrikanernasionalisme en Suid-Afrikaanse taalpolitiek 1875–1938 (1987), Hans en Theo du Plessis se Afrikaans en Taalpolitiek (1987) [dit is tyd dat hierdie boek herbewerk word in die lig van die gebeure die afgelope tien jaar] asook Vic Webb se Afrikaans ná apartheid (1992), FIJ van Rensburg se Afrikaans, lewende taal van miljoene (2004) en natuurlik ook Jaap Steyn se voortreflike Ons gaan ’n taal maak: Afrikaans sedert die Patriot-jare (2014).

Die verband tussen Afrikaans en politiek is dus ’n gegewe – in die besonder in Webb se Afrikaans ná apartheid. En prof Pieter Kapp het hierdie saak verder uitgepak in twee van sy boeke: Draer van ’n droom. Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 1909–2009 (2009) en Maties & Afrikaans, 1911–2011 – ’n Besondere verhouding (2013).

Uit hierdie publikasies blyk ’n hele paar sake duidelik:

  1. Taal en politiek is nou verweef, nie net in SA nie, maar ook in ander lande (soos Spanje, België, Kanada).
  2. Besluite oor taal is dikwels gebaseer op politiek (dws die beginsels waarvolgens ’n regering ’n staat bestuur – dus: wat sê bv. die beleid van die regerende party oor die taal of tale aan die hand waarvan die burgers van die staat met mekaar kommunikeer?).
  3. Die politiek van die dag en tyd beïnvloed die gebruik van die tale van die tyd. (Voor 1994 was daar twee amptelike tale in SA en ná 1994 is daar elf tale – dit is die gevolg van ’n politieke besluit.)
  4. Die politiek van die dag bepaal die beleid waarvolgens tale gebruik word. (Waar en hoe kan tale gebruik word? Wat is die beperkings, al dan nie, op die gebruik van tale in die betrokke land? – Talle lande reg oor die wêreld is gekoloniseer en gebruik die tale van die koloniale moondhede, soos Frans, Portugees en Engels in Afrika.)
  5. Die ideologie van die regerende party het ’n groot impak op die taal of tale wat in ’n land gebruik kan word.
  6. Die gebruik van ’n taal in ’n bepaalde konteks word maklik as ’n politieke daad (Tydens die studente-onrus van 2015 is studente wat Afrikaans gepraat het, geviktimiseer as konserwatief, en selfs rassiste.)
  7. Politieke bewindhebbers steur hulle nie altyd aan die behoeftes van die inwoners van die land nie. (Dink maar aan SA in die tyd voor 1976, of dink selfs aan Soweto 1976 – toe Afrikaans as simbool van die staat die teiken van opstand geraak het.)
  8. As ’n taal eers ’n politieke status verwerf het, is dit moeilik om daardie status weg te neem.
  9. Taal mobiliseer mense rondom ideologiese en politieke ideale.
  10. Taal word gebruik om mense te benadeel, soos om hulle die reg te ontneem om hulle taal te gebruik. Die toenemende gebruik van Engels is hier ’n kwessie ten koste van Afrikatale.

Hiermee het ek waarskynlik voldoende aangetoon dat taal en politiek eng verweef is. En diegene wat iets van die geskiedenis van SA weet, weet goed hoe verweef taal en politiek in dié land is. Net enkele voorbeelde ter illustrasie:

  • Toe Brittanje die Kaap in 1806 vir ’n tweede keer oorgeneem het, was dit gebaseer op ’n politieke besluit van die bewindhebbers van die tyd.
  • Toe die grootskaalse verengelsing van SA in die 19de eeu plaasgevind het, was dit ’n politieke besluit.
  • Toe die Hollandssprekende inwoners in die 1870’s protes aangeteken het teen die verengelsing en hulle eie skole begin stig het, was dit ’n politieke besluit – gebaseer op ’n opbouende nasionalisme. CP Hoogenhout se bekende gedig “Fooruitgang” is hier ter sprake:

Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy siin en hoor;
In ons skole, in ons kerke, word ons moedertaal fermoor.
Ag, hoe word ons folk ferbaster, daartoe werk ons leeraars saam.
Hollans nog in seek’re skole: is bedrog, ’n blote naam!

Wi hom ni laat anglisere, word geskolde en gesmaad.
Tot in Frystaat en Transvaal al, oweral diselfde kwaad.
‘Dis fooruitgang’, roep di skreeuwers, ‘dis beskawing wat nou kom!

Die wrewel teen die Engelse voorkeur is duidelik: as jy nie Engels praat nie, is jy nie beskaaf nie.

  • Toe die proses in die Paarl begin is wat uiteindelik uitgeloop het op die totstandkoming van die GRA in Augustus 1875, het politiek ’n groot rol gespeel – kyk byvoorbeeld net na die doelwit wat gestel is vir die GRA” “om te staan ver ons Taal, ons Nasie, en ons Land.”
  • Toe na afloop van die ABO opnuut verengelsing gedryf is, was daar gou teenstand uit die Hollandse geledere en weer eens is eie CNO-skole gestig.
  • Toe die Unie van SA in 1910 tot stand gekom het en toe Hollands as taal naas Engels erken is, was dit ’n politieke besluit.
  • Die erkenning van Afrikaans as ’n amptelike taal in SA in 1925 was ’n politieke besluit.
  • Die oorwinning van die NP in 1948 en die gebruik van Afrikaans as taal van dié party was ’n politieke daad.
  • Die besluit om Afrikaans en Engels as amptelike tale te behou toe die Republiek van SA in 1961 tot stand gekom het.
  • Die beperking van die Suid-Afrikaanse Afrikatale tot afgebakende gebiede, grootliks streke, in hierdie tyd was ’n politieke besluit.
  • Soweto 1976 en die opstand teen die regering van die dag was ’n politieke daad.
  • Die besluit om vanaf 1994 elf amptelike tale in SA te hê, was ’n politieke daad.
  • Die konstante voorkeur aan Engels bo die ander tien tale is ’n politieke daad.

2. Die politiek van taal ná 1994

Oor die posisie van tale in Suid-Afrika is al baie geskryf, en ’n groot deel van die skrywes sedert 1994 (in wese al sedert die vroeë 1980’s was oor die posisie van Afrikaans.

Met die aanbreek van die nuwe bedeling in 1994 het die nuwe Grondwet (1993) aangedui dat daar ná April 1994 voortaan elf amptelike tale in die land sou wees, waarby ook Afrikaans en Engels ingesluit is. Die betrokke elf tale is die volgende: Afrikaans, Engels, Zoeloe, Xhosa, Sesotho, Sepedi, Tswana, Venda, Swati, Tsonga, Ndebele.

Die verwagting van rolspelers in die taalbedryf was dat daar binne enkele jare ná 1994 ’n volwaardige meertalige praktyk in die land sou ontwikkel het. Dus:

  • dat alle tale die status sou hê van amptelike tale (gebruik en funksies),
  • dat besondere sorg aan die dag gelê sou word om dit te laat realiseer,
  • dat die tale wat nog nie op die verlangde vlak was nie, aktief ontwikkel sou word.

Die rede hiervoor was die bepalings in die 1993-Grondwet (en herbevestig in 1996) dat tale beskerm, bevorder en ontwikkel moes word. Dit hou in dat Afrikaans en Engels hulle bestaande status sou behou het en dat die nege ander tale daadwerklik bevorder en ontwikkel moes word tot op die vlak van Afrikaans en Engels.

Hierdie verwagting het egter ’n muis gebaar. Die realiteit van vandag (2016) in Suid-Afrika is die volgende:

  • Engels word op talle vlakke as die de facto amptelike taal beskou – veral uit politieke geledere
  • Afrikaans het onder sterk gedruk gekom en die afskaling van Afrikaans se funksies en die afname in gebruik op talle vlakke en sfere is merkbaar vir mense om te sien. Meer hieroor hier onder.
  • Die ontwikkeling van die Afrikatale het min opgelewer, ten spyte van strukture wat in plek geplaas is om alle tale te beskerm en te bevorder. Vandag is nog nie een van die Afrikatale byvoorbeeld ’n medium van tersiêre onderrig nie en dit kom ook nie voor asof dit in die afsienbare toekoms gaan verander nie.

Dit skets ’n uiters negatiewe prentjie van taalontwikkeling en taalgebruik in Suid-Afrika. Dit skets ook ’n prentjie van ’n regering wat onwillig is om die waardes en beginsels van die Grondwet ten uitvoer te bring – soos wyle Neville Alexander gesê het: “To walk the talk.”

In die res van die referaat vestig ek kortliks die aandag op een aspek waar die taledebat hom daagliks afspeel, te wete aan universiteite in SA.

3. Taal en universiteite

3.1 Druk op universiteite in SA

Dit is ’n gegewe dat universiteite in SA tans onder geweldige druk is, en wel op verskeie terreine – finansieel, polities, taal.

Enige persoon wat ’n verbintenis het met die universiteitswese in SA, voel dit aan eie lyf: onder die vaandel van #FeesMustFall daar is tans bykans daagliks betogings, gewelddadige proteste wat met die vernietiging van infrastruktuur gepaard gaan, rassisme (wit – swart, swart – wit), dreigemente teen individue, toename in militantheid, ekstremisme, en selfs anargie (vgl Du Preez 2016).

Oproepe om gratis tersiêre onderwys is die kern van die huidige probleme (vgl Neethling 2016 se uiteensetting van die kompleksiteit van wat nou aangaan). Dat die land nie die geld daarvoor het nie, word gewoon geïgnoreer, soos ook die feit dat tersiêre onderwys ’n voorreg en nie ’n reg is nie. Daar is onlangs uitgewys dat almal nie noodwendig op universiteit hoort nie (vgl Pelser 2016) en dit het waarskynlik erge wrewel ontlok, en ook aantygings van rassisme ontlok. Oproepe tot dekolonisering skep ook die idee van wegdoen met die huidige manier van doen.

Om deesdae aan ’n universiteit in SA verbonde te wees, is in ’n onsekere tydsgewrig dus nie altyd so aangenaam nie.

Die gevoel van druk word letterlik daagliks versterk as ’n mens koerante en internetwebblaaie van nuusdienste lees – die huidige #FeesMustFall-beweging se impak op die finansiële toekoms van universiteite in SA sal nog verreken moet word. Maar dat dit die voortbestaan, en ook die volhoubaarheid van kwaliteit in onderrig en navorsing, van sommige van die 26 universiteite in SA in die gedrang gaan bring, is verseker.

Gelukkig – ironies bedoel! – is die fokus hierdie keer oorwegend op befondsing en nie ook op taal nie, soos in 2015 toe wrewel teen Afrikaans vir ’n kort tyd die gesig van die proteste was (vgl Carstens 2015c). Maar dat taal nie heeltemal skotvry hiervan afgekom het nie, is ook duidelik, veral toe daar in die loop van 2016 besluite aangekondig is oor die voertale aan universiteite – aan UP, die UV, die US, UNISA. (Ander sprekers gaan tydens hierdie colloquium verdere besonderhede hieroor verskaf. Daar was selfs ’n #AfrikaansMustFall-beweging.) Ook dit het protes meegebring. Kyk as voorbeeld hiervan na die volgende foto’s:

Foto 1: Protes teen Afrikaans aan UP

Bron: http://www.dailymaverick.co.za/article/2016-02-24-eff-declares-whats-at-stake-at-the-university-of-pretoria-afrikaansmustfall/#.WAYqEX1vmp4

Foto 2: Protes teen Afrikaans aan UP

Bron: http://ewn.co.za/2016/02/22/We-never-wanted-violent-protests

Die boodskap is duidelik (bykans soos in 1976): Weg met Afrikaans!

Foto 3: Protes teen Afrikaans – Junie 1976

Bron: http://www.gutenberg-e.org/pohlandt-mccormick/archive/detail/DSCN2081.jpg.html

Foto 4: Protes teen Afrikaans – Junie 1976 ("Afrikaans must be abolished")

Bron: http://www.capetalk.co.za/articles/3249/youth-day-understanding-the-history-behind-it

In hierdie referaat word gefokus op taal as faktor in die politieke spel aan bepaalde SA universiteite, in die besonder daardie universiteite waar Afrikaans vroeër ’n onderrigmedium was, soos aan die Universiteit van Stellenbosch, die Universiteit van die Vrystaat, die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Johannesburg (voorheen die Randse Afrikaans Universiteit), asook die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus).

Daar is talle punte wat onvermydelik in ’n referaat soos hierdie een ongesê sal moet bly weens tydsprobleme. Ek wou nog verdere inligting gee oor die agtergrond rakende die groei en ontwikkeling van ’n taal en die besondere funksies wat ’n taal in hierdie proses verkry, asook oor daardie faktore wat kan lei dat ’n taal se sprekersgemeenskap, en ook hul behoefte aan hoër onderwys, kan kwyn of groei. Meer inligting hieroor is in talle ander bronne beskikbaar.

Net voordat ek die kwessie van taal en universiteite verder uitpak, is dit belangrik om wel die volgende te beklemtoon (grootliks gebaseer op Jaap Steyn se insigte):

  • Elke taal het die strewe om uiteindelik alle funksies wat ’n taal kán aanneem, wel aan te neem.
  • Die gebruik van ’n taal op skole en aan universiteite is kardinaal vir die groei of kwyn van daardie taal. Onderwys is dus ’n kernfunksie vir enige taal.
  • Gekoppel aan die gebruik van ’n taal as taal van tersiêre onderrig, is die strewe om daardie taal as taal van die wetenskap te gebruik.
  • As ’n taal nog nie die funksie van onderrigtaal, veral op die vlak van tersiêre onderwys, verwerf het nie, wag daar nog ’n lang pad alvorens die betrokke taal wel hierdie funksie sal hê.
  • Ons weet dat as daar ’n toename in die funksies van ’n taal is, die taal sal groei en uitbrei.
  • Ons weet ook dat as daar ’n afname in selfs één funksie is, dan begin die risiko vir die stadige agteruitgang van ’n taal toeneem en dit kan ’n kettingreaksie aan die gang sit. As voorbeeld: as die onderwysfunksie onder druk kom en minder skole die taal aanbied, of vervang met ’n ander een, dan het dit ’n domino-effek op die ander tale, nie onmiddellik nie, maar wel met verloop van tyd.
  • Ons weet dat as daar ’n afname in meer as een funksie is, sal die taal gouer begin kwyn en dan begin die kurwe gouer afwaarts neig.
  • Ons weet ook dat hoe minder funksies ’n taal het (soos die een vir een wegval of afskaal), hoe skraler sy oorlewingskans en sy groeipotensiaal op die lang termyn word.
  • Ons weet ook daar besondere faktore is wat meehelp om ’n taal te laat groei of kwyn: (a) die demografie van die taalgroep, (b) toename of afname in funksies, en (c) die houdings wat mense oor die taal het.
  • Ons almal weet goed die strewe van enige taal is om uiteindelik so wyd as moontlik deur soveel as moontlik mense gebruik te word, en ook dat die sprekerskorps voortdurend uitgebrei word.
  • Ons weet ook dat daar prosesse is om ’n gemeenskap aan te vuur om die taal van onderlinge gebruik erken te kry én in stand te hou – die taal ondergaan dan ’n taalstryd om erkenning, dus ’n soort beweging wat ten doel het die uiteindelike formele erkenning (dus amptelike status) van die taal om in die onderskeie funksies te kan gebruik.
  • Ons weet ook dat hierdie taalstryd/taalbeweging in ’n aantal fases verloop, naamlik bewusmaking (van die behoefte om die taal uit te bou en te bevorder, ook bewusmaking van die agterstand van die taal), stryd (die werklike tydperk waartydens gewerk word om die taal erken te kry) en dan uiteindelik die handhawing van die funksies wat bereik is. Die fases volg op mekaar in die genoemde orde.
  • Ons weet ook dat so ’n stryd (beweging) se sukses afhanklik is van drie voorwaardes: (a) dat daar genoeg mense moet wees wat die taal praat, (b) dat daar leiers (intellektuele, mense met ‘propagandawaarde’ sê Jaap Steyn 1980: 75) moet wees wat bereid is om voor te loop, en (c) dat daar ’n prikkel (dus die een of ander negatiewe ervaring) moet wees om die hele proses aan die gang te kry.
  • Ons weet dat as die demografiese samestelling van ’n taalgemeenskap begin verander, dit ’n onvermydelike effek op die groei of kwyn van die taal sal hê. Ons weet dat daar heelwat redes is wat dit kan beïnvloed, soos die sterte- of geboortesyfer van die sprekers van die taal, assimilasie in ’n ander taalgemeenskap, taalverplasing, emigrasie, wegbeweeg van die taal om byvoorbeeld politieke redes, e.s.m.
  • Ons weet ook dat die houdings wat mense oor ’n taal het of oor die sprekers van die taal, beslis ’n impak sal hê op die groei of kwyn van ’n taal.
  • Ons weet ook dat as mense ophou om ’n taal te gebruik, om watter rede ook al, en die taal sy nut vir die sprekers begin verloor, die taal op die lang termyn sal begin afskaal en dat dit met verloop van tyd selfs kan "sterf". Dit sal nie onmiddellik gebeur nie en waarskynlik selfs nie eens waargeneem word deur ’n generasie sprekers nie, maar dit is ’n proses wat aan die gang kom en stadigaan sy bykans onvermydelike pad begin loop.
  • Ons weet ook dat as ’n ander taal die gekose taal begin domineer, om byvoorbeeld politieke redes (soos ’n negatiewe ervaring met ’n taal), of ’n oorwinning in ’n oorlog, die sprekers van die taal mettertyd vertroue in die taal sal verloor en die taal sal begin verlaat ten gunste van die sterker taal.

3.2 Afrikaans en sy funksies

Kom ons toets net gou die punte wat hierbo genoem is: hoe word Afrikaans en sy funksies deur hierdie aspekte geraak?

Ek vertoon hier onder slegs twee tabelle om te wys hoe van hierdie aspekte Afrikaans raak. Dit gaan hier veral om twee sake:

  • Wat is die stand rakende Afrikaans se huidige taalbeweging? (Of: is daar wel ’n taalbeweging aan die gang?)
  • Wat is die stand rakende Afrikaans se funksies?

Die eerste tabel kom uit ’n artikel van my van 2013 (Carstens 2013a). Dit raak die nakom van die voorwaardes vir ’n taalbeweging – want ons ons dit nou wil weet of nie, ons is tans met ’n nuwe taalstryd besig, hoofsaaklik weens politieke druk op Afrikaans (vgl. Giliomee 2016c). Volgens die voorwaardes vir ’n taalbeweging is daar drie faktore wat die proses aan die gang kry:

  1. Dat moet genoeg mense wees wat die taal praat.
  2. Daar moet leiers (intellektuele, mense met ‘propagandawaarde’) wees wat bereid is om leiding te neem.
  3. Daar moet ’n prikkel (dus die een of ander negatiewe ervaring) wees om die hele proses aan die gang te kry.

Hoe lyk dit teen 2016 vir Afrikaans? Is hierdie voorwaardes vir wat op ons wag dus in plek?

Tabel 1: Die voorwaardes vir ’n taalstryd

Voorwaarde

Vordering: 2016

Daar moet heelwat mense wees wat die taal in hulle huise gebruik.

  • 6,8 miljoen mense gebruik tans Afrikaans as eerste taal in SA.
  • Afrikaans is die derde grootse groep moedertaalsprekers in SA.
  • Hiervan is ruweg 51% bruin moedertaal­sprekers van Afrikaans.
  • Bykans 15 miljoen mense kan Afrikaans op die een of ander wyse in SA gebruik (eerste- tweede-, derde- en vreemdetaalsprekers).

Daar moet intellektuele (mense met ‘propaganda­waarde’) wees om die voortou te neem en mense te mobiliseer om betrokke te raak.

  • Daar is geïdentifiseerde persone uit ’n wyduiteenlopende spektrum wat die leiding neem in die taaldebat.
  • Burgerlike organisasies speel ’n kardinale rol: ATR, ATKV, AfriForum, ea.

Daar moet ’n reeks gebeure of prosesse wees om die massa te prikkel tot optrede.

  • Die afskaal van Afrikaans in verskeie sektore: staatsdiens, howe, media, skole, universiteite, taal van ekonomie, ens. – dit lei tot ’n afskaal van die funksies van Afrikaans.
  • Die nienakoming van die taalbepalings in die SA Grondwet.
  • Prikkel: afskaal van funksies, en veral daar waar dit seer maak – onderwys op skole en universiteite

AS daar nou ’n taalbeweging rakende Afrikaans sou ontwikkel, is die regte faktore dus in plek.

En die tweede tabel volg uit hierdie een. In tabel 2 gaan dit om ’n oorsig van die funksies van Afrikaans: hoe dit tot stand gekom het en waar dit in 2016 staan. (Ek probeer hierdie proses uitvoerig vertel in ’n boek oor Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika. Biografie van ’n taal wat ek saam met prof Edith Raidt aan die afrond is – dit verskyn in twee dele en wel in 2017 en 2018. Die tabel kom ook uit hierdie boek, in hoofstuk 21.)

Tabel 2: Die funksies van Afrikaans – wins en verlies

tabel-2

Die prentjie wat in hierdie tabel saamgevat word, is beslis kommerwekkend omdat van die funksies wat Afrikaans oor jare verwerf het, sigbaar aan die agteruitgaan is en moontlik selfs kan verdwyn (vgl. Carstens 2006a, 2014b, 2014c; Steyn & Duvenhage 2011): Afrikaans kwyn in die onderwys (minder moedertaalskole), universiteite (minder universiteite wat vir Afrikaans voorsiening maak), in die howe, in die handelswêreld, in die staatsdiens, in die wetenskap, as taal van vermaak, en so meer.

Hieruit blyk ’n paar ongelukkige werklikhede:

  • Afrikaanssprekende ouers stuur hulle kinders al hoe meer na Engelse skole.
  • Afrikaanse skole word minder.
  • Afrikaanse mense skuif oor na Engelse kerke (en Afrikaanse kerke word minder).
  • Afrikaanse mense aanvaar sonder teenstribbeling Engels as taal van die ekonomie en van die werksomgewing, die wetenskap, die wêreld van sport en vermaak.
  • Afrikaanssprekende mense emigreer na ander lande waar hulle kinders ná enkele geslagte Afrikaans afsterf.
  • Afrikaanssprekende mense dra daartoe by om Afrikaanse funksies te laat kwyn. Aan van die universiteite in SA waar Engels die verstektaal geword het en Afrikaans afgeskaal is, was van die besluitnemers moedertaal­sprekers van Afrikaans, soos aan die US.

Dit is ’n gevaarteken vir Afrikaans en Afrikaanssprekendes: as die sprekers naamlik nie volhou om aan te dring op die betrokke funksies nie, dreig rampspoed op die langer termyn.

Prof Christo van Rensburg vat hierdie probleem soos volg saam in sy boek Só kry ons Afrikaans (2012: 139):

Afrikaanssprekendes het baie taalfunksies in die demokratiseringsproses verloor. Ná die politieke verandering van 1994 is die rol wat Afrikaans toe gehad het, uitgespeel. Daar moes toe ’n nuwe spel gespeel word, volgens nuwe reëls. En al die Afrikaanssprekendes sal daaraan kan deelneem.

In hierdie opmerking is daar vier belangrike werklikhede:

  • Afrikaans het funksies verloor wat dit voor 1994 gehad het.
  • Afrikaans se dominerende rol van voor 1994 is verby.
  • Die sprekers van Afrikaans moet deelneem aan die Suid-Afrika van ná 1994, maar dan in terme van die demokratiseringsreëls.
  • Voortaan word niemand meer uitgesluit uit die Afrikaanse huis nie – almal wat dit praat, woon nou daar saam.

Dit is waar ons nou is. En die prentjie lyk nie mooi nie. Wat moet of kan gedoen word om dit om te draai? Daar is heelwat wat wél gedoen kan word – in Carstens & Raidt 2018 lig ons byvoorbeeld 78 moontlike stappe uit. Daar is egter nie tyd om dit verder uit te pak nie.

Wat ek nou verder wil doen, is om kortliks te wys op hoe hierdie afskalings­proses hom op tersiêre sektor in SA afgespeel het – vgl Carstens 2013a, 2014b, 2015a, 2016a, 2016b, 2016c, 2016d – met spesifieke verwysing na die Universiteit van Stellenbosch.

4. Afrikaans aan universiteite – die impak van taalpolitiek

4.1 Taalposisie aan SA universiteite

Tans het SA 26 universiteite nadat daar in die tydperk 2002–2004 samesmeltings tussen bestaande universiteite plaasgevind het. In hierdie proses is onderwyskollegas geïnkorporeer by die Opvoedkundefakulteite van universiteite. Die ou tegniese kolleges het sentrums vir Voortgesette Verdere Onderrig geword.

Waar Afrikaans ’n aanvaarde en wetlik erkende onderrigmedium was aan verskeie universiteite voor 1994, het die situasie sedert 1994 begin verander. In die verlede – selfs tot in die vroeë 2000’s – was Afrikaans nog ’n taal van onderrig aan vyf SA universiteite: US, UP, RAU (die latere UJ), UV en die ou PU vir CHO. Die res van die universiteite word nie eens hier genoem nie omdat hulle almal reeds Engels as die primêre medium van onderrig gebruik.

Sedertdien het die posisie van Afrikaans dramaties verswak, toe daar sedert ongeveer 2008 al hoe meer druk op Afrikaans as taal van onderrig aan SA universiteite geplaas is. Kyk na die volgende aanhalings om hierdie verskuiwing en die reaksie daarop te verwoord:

“’Dames en Here, soos ek aan die begin van die jaar aangedui het, is hierdie die laaste semester dat hierdie kursus in Afrikaans aan hierdie inrigting aangebied word. Vandag is die heel laaste klas in hierdie vak in Afrikaans. Hierdie is inderdaad ook my laaste klas in Afrikaans, hier by die UJ; waarskynlik, soos sake nou staan, my heel laaste Afrikaanse klas ooit by die UJ. As tweedejaarsgroep kan julle nog uitsien om hierdie vak in Afrikaans volgende jaar klaar te maak. Julle is die laaste groep.’ Studente het met stilte en gelatenheid gereageer. ‘Ons weet dan nie hiervan nie? Die UJ is dan ’n inrigting met vier amptelike tale en Afrikaans is een?’” (G van der Westhuizen 2012: 17 – UJ)

“Die Randse Afrikaanse Universiteit is nou die University of Johannesburg. Die Universiteit van die Witwatersrand, wat die tuiste was van CM van den Heever, NP van Wyk Louw en Ernst van Heerden, het nie meer ’n departement Afrikaans en Nederlands nie. Maar die ontstellendste is die verengelsing van die Universiteit van Wes-Kaapland, wat aanvanklik die universiteit sou wees vir bruin Afrikaanssprekendes van Mitchells Plain tot die Noordweste.” (Ampie Coetzee 2014)

“Ek was verbaas om te lees dat Afrikaans steeds as vak aan die UKZN aangebied word en dat dit nou eers in die visier is. Ons kan maar Afrikaans as akademiese taal groet, want dit is volgens nie-Afrikaanssprekendes (en talle meelopers) die taal van die verdrukkers en die taal wat jou posisie in jou werk en in die samelewing in gedrang kan bring.” (Nico 2013: 10)

“Ons is moeg vir Afrikaans en vir Afrikaners.” (Betoger tydens ’n optog teen taal aan die Elsenburg-Landboukollege, aangehaal in Germishuys & Van den Berg 2015.)

“Om die waarheid te sê 2015 sal onthou word as die jaar dat ons ons laaste Afrikaanse universiteit prysgegee het.” (Die sanger Steve Hofmeyr, aangehaal in C Mailovich 2015.)

 “Is 2016 die begin van die einde van Afrikaans as akademiese taal?” (C Smith 2016a)

“Tuks gaan Engels word. Kovsies is reeds Engels. Stellenbosch gaan nog by daardie punt kom. En uiteindelik gaan dit afwentel na hoër- en laerskole. Dit is ’n natuurlike proses. Die vraag is: Waarom sal jy in Afrikaans skoolgaan as jy dit nie op tersiêre vlak kan kry nie?” (J. Lloyd, aangehaal in CA Nel 2016: 6)

“To a large degree, and for decades now, Afrikaans-medium instruction has been sliding down a slippery slope and university institutions have done little to nurture and protect this asset.” (M van Niekerk 2016)

 “The four remaining historically Afrikaans-only universities in South Africa have been the target of incessant accusations of racism for many years, due to their continued use of Afrikaans as a medium of instruction in higher education. As a result, drastic changes have been made to the language policy at the University of Pretoria, the University of the Free State, the University of Stellenbosch and the North-West University (specifically its Potchefstroom campus).” (Oostendorp & Anthonissen 2014)

“Teen 2008 het die posisie van Afrikaans op tersiêre taal reeds drasties verswak. Dit was nie meer die onderrigtaal aan UWK en die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) nie en aan die Universiteit van Johannesburg ‘(was) dit vinnig op pad uit’, terwyl dit by UP, UV, US en die Potchefstroomkampus van Noordwes-Universiteit "ook sterk onder druk is". ... die ironie (blyk) dat daar enersyds baklei vir Afrikaans as onderrigmedium op tersiêre vlak, maar dat heelwat Afrikaanssprekende studente nie meer in Afrikaans wil studeer nie.” (A Otto 2014)

“Minister Blade Nzimande – the SACP General Secretary – intends to impose demographic representivity on all our universities. There will be no place for Afrikaans-language universities and Afrikaans schools are increasingly under threat – despite the constitutional right to education in the language of one’s choice.” (Oudpresident FW de Klerk 2015 – aangehaal in http://www.fwdeklerk.org/index.php/en/latest/news/409-comments-by-fw-de-klerk-at-the-presidents-panel-rhebokskloof

"We have 11 official languages and everyone should be able to speak their language at the university." (Minister J Radebe, aangehaal in Ngoepe 2016)

Uit hierdie aanhalings kom ’n prentjie deur van ’n stadige skuif na Engels, weg van Afrikaans af. En die ou HAU’e is onder druk, en het òf net Engels geword (UJ, UP, UV) òf ‘duld’ Afrikaans darem nog (US, NWU-PUK). Kyk ook na die laaste twee aanhalings oor die staat se wisselende sienings oor die gebruik van Afrikaans:

  • Radebe sê alle tale moet gebruik word.
  • Nzimande sê daar is nie taalgerigte universiteite nie.

By hierdie “Suid-Afrikaanse universiteite” sal Engels dan die “hoofonderrigtaal” word (vgl Felix 2015, 2016). Dit is entoesiasties ondersteun deur talle Afrikaans­sprekende dosente aan universiteite in Suid-Afrika (vgl A. Gouws 2016), asook deur etlike briefskrywers in Afrikaanse koerante.

Die gedagte aan studente wat op grond van hul taalvoorkeur na ’n bepaalde universiteit gaan, geld dan nie meer nie. Engels maak naamlik almal gelyk: as studente wat ’n Afrikataal as moedertaal het, nie hul taal as taal van onderrig kan gebruik nie, dan moet Afrikaanssprekendes dit ook doen, want anders word hulle bevoordeel. So het die Open Stellenbosch-groep wat Afrikaans aan die US wou laat verdwyn, aangevoer.

D. Jacobs (2016), soos baie ander kommentators en meningsvormers, reken die oplos van die probleem (=Afrikaans) is eenvoudig:

Dit het tyd geword dat ons breër kyk en besef dat een taal van onderrig universiteitsopleiding doeltreffender en billiker maak en ons jong mense ook mededingender in die sakewêreld – nie net in Suid-Afrika nie, maar ook wêreldwyd.

Die patroon is dan duidelik: alle universiteite word Engels, met ’n kunsmatige buiging in die rigting van die ander tale. Die feit dat die Grondwet meertaligheid as ideaal stel, word met mooi woorde en versigtige frases beskryf, maar dan word dit nie die praktyk aan die betrokke instelling nie.

Die politieke aandrang op ‘toegang’ (“access”, in politiek korrekte taal) tot universiteite (wat inhou dat taal nie as ’n beperking mag dien vir toelating tot ’n universiteit nie), het die eise om Engels die primêre taal van tersiêre onderwys aan universiteite te maak, versterk. Dit was die motivering van deelnemers aan die #AfrikaansMustFall-beweging van 2015.

Foto 5: Open Stellenbosch protesteer teen Afrikaans op Stellenbosch 2015

Bron: http://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/max-du-preez-taaldebat-druk-reboot-knop-20151120

Kyk ook na die plakkaat op die volgende foto wat in Augustus 2014 op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit versprei is in reaksie op die gebruik van Afrikaans as primêre voorgraadse onderrigtaal op hierdie kampus. Dit dui ook op ’n besonder negatiewe houding teenoor Afrikaans uit sekere politieke geledinge (vgl S Cilliers 2014a, 2014b). Dit sal verreken moet word in enige gesprek of onderhandelinge oor Afrikaans as taal van tersiêre onderrig in Suid-Afrika.

Foto 6: Pamflet teen Afrikaans op die Potchefstroomkampus van die NWU (Augustus 2014) (Vgl S Cilliers 2014a, 2014b)

Hierdie pamflet is voorafgegaan deur ’n optog van bykans 3 500 studente wat ’n versoekskrif om Afrikaans se rol aan die NWU se Potchefstroomkampus nie te verander nie, aan die visekanselier van die NWU gaan oorhandig het. Dus: almal stem nie saam dat Engels die enigste taal van onderrig aan SA universiteite moet wees nie.

4.2 Die geval Universiteit van Stellenbosch1

Die US raak te wit en te Engels.
         -Jannie Mouton, US-raadslid

Die US is in ’n vryval na Engels.
         -Jacko Maree, US-raadslid

(Aangehaal in Giliomee (2010c))

Aan hierdie universiteit het ’n proses afgespeel wat volgens alle aanduidings duidelik gebaseer is op politiek en ideologie. Die vertrekpunt in die verskuiwing weg van Afrikaans is die towerwoord “access” – toegang. Die implikasie is dat Afrikaans dit nie gee nie en wel om ’n verskeidenheid van redes:

  • Afrikaans het ’n verlede van uitsluiting.
  • Afrikaans word met die verlede geassosieer.
  • Afrikaans sluit steeds uit.
  • Afrikaans verbreed nie toegang nie, maar verhoed dit eerder.
  • Afrikaans word met rassisme geassosieer.
  • Studie deur medium van Afrikaans is polities verkeerd.
  • Studie deur medium van Afrikaans is ondemokraties.
  • Studie deur medium van Afrikaans is onvriendelik.
  • Die gebruik van Afrikaans bevorder nie transformasie nie.
  • Swart studente hou nie van Afrikaans nie – sien die aanhaling vroeër hieroor).
  • Engels sal hoër standaarde meebring.

Rakende die Universiteit van Stellenbosch sê A Pelser (2014):

Die US het vanaf ’n histories Afrikaanse universiteit verander na ’n polities korrekte instrument van transformasie.

Of dit waar is of nie, is nie werklik ter sake nie omdat dit ’n persepsie is dat hierdie universiteit die Afrikaanse gemeenskap in die steek gelaat het (vgl Giliomee 2015a, 2015b; L Scholtz 2015g) – terwyl die US juis sy ontstaan en bestaan te danke het aan hierdie gemeenskap (vgl Kapp 2013). Charles (2014: 13) berig oor die vrese van ’n bruin Afrikaanssprekende student wat verkies het om na Potchefstroom toe te gaan omdat hy bang was “vir die Engels op Stellenbosch”. Wim de Villiers, die nuwe rektor van die US, het tydens sy inhuldiging op 29 April 2015 soos volg verklaar oor die taalposisie aan die US:

Stellenbosch is nie ’n Afrikaanse universiteit nie; Stellenbosch is nie ’n Engelse universiteit nie; Stellenbosch is nie ’n Xhosa universiteit nie; Stellenbosch is ’n meertalige Suid-Afrikaanse universiteit – een van min in hierdie kategorie, wat bitter nodig is in ’n land met 11 amptelike tale.

Met hierdie stelling as sodanig is daar min verkeerd omdat die wese van meertaligheid erken word. Dit het egter binne enkele maande geblyk hierdie siening was nie veel meer nie as ’n voorspel tot ’n strewe om Engels die verstektaal aan die US te maak. ’n Voortydige aankondiging deur die bestuurskomitee van die US (die rektor en sy bestuurspan) op 12 November 2015 in hierdie verband, het dit bevestig (vgl US RBS 2015).2

Die aankondiging is kort hierna wel deur die Raad van die US teruggetrek, maar die skade was gedoen: die boodskap was duidelik dat die plan is dat die US oorwegend Engels gaan (en moet) word, en dat Afrikaans en Xhosa as “aanvullende tale” hanteer sou word (vgl Malan & Rooi 2015; vgl ook De Stadler & Swart 2016). Afrikaans het hiermee die kreeftegang voltooi van ankertaal sedert die US se begin, die beweeg na ’n stelsel van gelykberegtiging met Engels in November 2014 tot ’n aanvullende taal ’n enkele jaar later (vgl P Muller 2016). Dit terwyl die Raad nog in die proses was om oor die taalbeleid van die US te besin. Die rektor het vet op die vuur gegooi deur aan te dui dit is nie die US se taak “om Afrikaans te red” nie (vgl Janse van Rensburg 2015b).

Die reaksie hierop was fel, hoofsaaklik omdat dit voorgekom het daar was selektiewe konsultasie met belanghebbendes. Open Stellenbosch, ’n drukgroep bestaande uit ’n groep studente en enkele personeellede, se eise het voorkeur gekry – waarskynlik om politiek korrekte redes (vgl Jansen van Rensburg 2015d; B Breytenbach 2015). En konsultasie met ander groepe belanghebbendes, soos die konvokasie, het glad nie plaasgevind nie. Die skrif vir Afrikaans was (is?) egter aan die muur aan die US wat dit van die bestuurslede betref het.

’n Groep US-akademici het selfs kort voor lank aangevoer “Afrikaans verdien nie spesiale behandeling aan die US” nie (vgl. S Liebenberg & A. van der Walt 2015a, 2015b) omdat Engels die taal is van internasionale toegang en dit eerder vroegtydig ingevoer moet word.

 “Wit, Afrikaanssprekendes se groeiende voorkeur vir onderrig in Engels, spruit (...) uit 'n besef dat hulle toekoms elders in die wêreld lê. Nie meer in SA nie. Hierdie land is stadig maar seker aan die sterf. Groot maatskappye is ook besig om te onttrek. Een of ander tyd sal die jonges van vandag 'n besluit oor hulle toekoms moet neem. Alle tekens is daar dat daardie toekoms nie in SA is nie.” En daardie toekoms word in Engels gesien. http://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/in-english-asseblief-tog-20160309

Kort hierna voer De Stadler & Swart (2016) ook aan dat personeel en senior studente van die universiteit van oordeel is “dat Afrikaanssprekende studente toenemend ’n voorkeur ontwikkel om in Engels te studeer”, terwyl A van Niekerk (2016a) van die Universiteit van Stellenbosch dit eksplisiet gestel het: “Studente stel in die algemeen eenvoudig nie meer in Afrikaans belang nie”.

In die lig van die sosiale manipulering wat sedert 2010 op Stellenbosch plaasgevind het om die inname van Afrikaanssprekende te verminder, is dit ook nie verrassend nie: Van 2015 se nuweling-eerstejaars was naamlik slegs 43,5% Afrikaanstalig, en in baie klasse was Afrikaanse studente teen 2016 nie meer die meerderheid nie.

Afrikaans het ... in dié eeu agteruitgegaan van die enigste amptelike "onderrigtaal" na "verstektaal" in 2002; na gelyke status met Engels, maar met beskerming in 2014; na gelyke status sonder beskerming vroeër vanjaar (2015). Dít alles word geregverdig deur die voorwendsel dat dit hoër standaarde sal meebring. (Giliomee 2015c)

Die stadige afskaling aan die inname van Afrikaanssprekende studente aan die US, het dus sy gewenste (beplande) effek begin aanneem. En die voed van die ongetoetste en onbewese persepsie dat onderrig in Engels hoër standaarde sal meebring, dra by hiertoe. Die uitkoms op die lang termyn is in wese voor die hand liggend, te wete dat US binne enkele jare getransformeer sal wees na ’n enkelmedium- Engelse instelling. Vir die status van Afrikaans as taal van tersiêre onderrig sal dit ’n groot slag wees, nog te meer omdat dit Afrikaanssprekende bestuurders (wat hulle opleiding in Afrikaans ontvang het) is wat hierdie proses bestuur het.

Dié saak het juis op Saterdag 21 Mei 2016 (presies om 14:51) ’n laagtepunt bereik toe die Raad van die Universiteit van Stellenbosch met ’n klein meerderheid besluit het om Engels te verhef tot primêre taal aan hierdie universiteit, en in hierdie proses Afrikaans se historiese verbintenis met hierdie universiteit nie erken het nie. En toe hierdie besluit op 22 Junie 2016 (om 16:19) met ’n meerderheid bekragtig is deur die Raad van die US (vgl Carstens 2016e), was dit ’n groot terugslag vir Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite in SA. (Vgl ook André Coetzee 2016; Heunis 2016a, 2016b, 2016c, 2016d.)

Taalpolities is hierdie gebeure ’n groot terugslag vir Afrikaans. En dat dit ’n enorme impak op Afrikaans se status en posisionering as taal in SA gaan hê, is nie te betwyfel nie. Dit kan selfs ’n keerpunt wees in die geskiedenis van Afrikaans. Die brief van ’n US-dosent in 2014 som die huidige opset netjies op:

Die realiteit is dat slegs 10% tot 20% van die voorgraadse lesings by Maties in Afrikaans is. Afrikaanse eerstejaarstudente leer vinnig dat dit polities verkeerd, ondemokraties en onvriendelik is om daarop aan te dring om ’n gedeelte van ’n lesing in Afrikaans te ontvang ... Die domino-effek vir Afrikaans is tragies. Sonder Afrikaans op enige kampus gaan daar later nie meer ’n gesofistikeerde Afrikaanse vaktaal wees nie. Daar gaan nie Afrikaanse onderwysers opgelei word nie, Afrikaanse skole gaan dan uitsterf, en mettertyd sal Afrikaanse dagblaaie, boeke en toneel verdwyn. (Dosent US 2014)

Aan die US het ’n proses afgespeel waarna ’n mens met verstomming en argwaan kan terugkyk:

  • Aanvanklik was Afrikaans die kerntaal van die US – tot omstreeks die middel 2000’s.
  • Mettertyd is meer fleksie ingebou deur ook vir ander taalgroepe voorsiening te maak: eers via die sogenaamde T-opsie (waarvolgens beide Afrikaans en Engels in die klas gebruik is- in wese dubbelmedium), en daarna is tolking teen 2012 as modus bygevoeg (en dit op die aandrang van sekere raadslede. Hierna is parallelmedium ook as opsie aangebied.
  • Op die raad is talle gesprekke gevoer oor taal en aanvanklik was daar nog ’n gewilligheid om Afrikaans se status as onderrigtaal te behou, gegewe die US se historiese verbintenis met Afrikaans.
  • Teen vroeg 2015 is die saak op ’n punt gedryf met die aanvaarding van ’n raadsbesluit dat die US sy toekoms in ’n meertalige bedeling sien, waarin beide Afrikaans en Engels as tale van onderrig gehou sou word, maar daar aktief gewerk moes word om Xhosa as akademiese taal te ontwikkel.
  • In die loop van 2015 is die besluit twee keer herbekragtig. Daar is selfs gesê dat die US se meertalige aanbod met gelyke status vir Afrikaans en Engels ’n unieke nis vir die US skep om die beste studente uit die twee taalgemeenskappe te trek.
  • Die nuwe rektor het selfs in sy intreerede in April 2015 opnuut beklemtoon dat die US ’n ware meertalige universiteit is.
  • Maar toe kom die rektor op 13 November 2015 met ’n aankondiging dat Engels die verstektaal aan die US sou word. Dit het groot ontsteltenis gewek en die weerstand was hewig en heftig. Die langtermynwens was wel duidelik: vestig Engels as verstektaal en skaal Afrikaans af en bevorder Xhosa. ’n Proses is wel aan die gang gesit, soos verwoord hier onder:

Ons hoor altyd die gebruik van Afrikaans sluit ander groepe uit- en universiteite, kampusse en ander instellings moet tweetalig word – met die meegaande stortvloed van versekerings dat Afrikaans se "plek behoue sal bly". Maar die mooi ideale oor tweetaligheid is in die praktyk net 'n oorgangsproses na eentaligheid, protestasies en ontkennings ten spyt. Ná die "taaltransformasie" volg die rassetransformasie van die kampus, met die gepaardgaande uitsluiting van Afrikaanssprekendes by die skole en kampusse wat hulself opgerig het. Klink ek negatief? Kyk maar self na die proses wat by instellings soos UJ, al die tegnikons en al die tegniese kolleges en honderde skole gebeur het. (Flip Buys, Facebook-gesprek, 16 April 2014)

  • Die raad het kort hierna (30 Nov 2015) beklemtoon dat die US ’n meertalige universiteit is en so sal bly. Die rektor moes ook terugkrabbel deur aan te voer dit was net ’n besprekingsdokument waarin sy voorstel oor Engels gemaak is.
  • Vroeg in 2016 was daar gerugte dat bepaalde fakulteite (Regte, Ingenieurswese) aan die US besluit het om Engels die verstektaal in hierdie fakulteite te maak. Die gerugte is ook spoedige bevestig.
  • Vroeg in 2016 (20 Februarie) het die raad vergader om opnuut die taalsaak te bepraat. Weer is bevestig die US is ’n meertalige universiteit
  • Met die raadsvergadering op 9 Mei het die taalsaak weer ter sprake gekom en daar is toe ’n nuwe taalbeleid aan die raad voorgelê. Ná ’n lang bespreking waartydens nie konsensus verkry kon word nie, is besluit om ’n tweede spesiale raadsvergadering oor taal in 2016 te belê ten einde uitsluitsel te kry oor die beginsels wat die formuleer van ’n nuwe taalbeleid moet bepaal.
  • Dit is op hierdie vergadering – 21 Mei 2016 – dat ’n mosie (voorsteller: adv Jan Heunis, sekondant: ek self) dat aan die US Afrikaans en Engels gelyke status sou hê, met ’n meerderheid van 13-8 afgestem is. Dit was om 14:51 die Saterdagmiddag. Hiermee was die teerling gewerp. Afrikaans se lang verbintenis van bykans ’n eeu met die Afrikaanse gemeenskap, en veral die Afrikaanse gemeenskap in die Wes-Kaap, is hiermee gereduseer. Afrikaans was nou nie meer ’n speler met ’n gelyke status nie, maar een waar Engels die dominante rol sou speel. Dit was ’n belangrike oomblik vir Afrikaans as medium van onderrig aan die US.
  • In die media is agterna verkondig dat “Afrikaans steeds gehandhaaf gaan word”. Hierdie aankondiging is met wantroue begroet omdat die bestuur se goeie trou betwyfel is. Die werklikheid was wel daar om te sien: dat Engels op die lang termyn die verstektaal aan die US gaan word. En enige een wat weet wat die funksies van ’n taal behels, weet wat so iets inhou vir die kleiner taal – ’n geleidelike afskalingsproses gaan begin. Hiermee is ook binne die wettige konteks van ’n raadsvergadering ’n besluit met enorme implikasies vir Afrikaans en Xhosa geneem.
  • Op die tweede geskeduleerde vergadering (22 Junie) van die raad is die konseptaalbeleid weer ter tafel gelê. Uit die bespreking van die beleid was dit gou duidelik dat daar met ’n muur gepraat word – besware en teenargumente is beleefd aangehoor, maar sonder enige uitwerking op die formuleer van die beleid. Besware oor die regsgeldigheid van die beleid asook van foutiewe interpretasies van die betekenis van die begrip meertaligheid het geen reaksie ontlok nie. Toe kom daar skielik ’n versoek van die ondervoorsitter dat gestem moes word. Dit was asof ’n fyn uitgewerkte draaiboek voor ons oë afspeel.
  • Om presies 16:19 op 22 Junie 2016 is die mosie rakende die nuwe taalbeleid (waarin Engels die verstektaal sou word) met 17-9 aanvaar. Van die raadslede wou iets hieroor sê, maar die raadsvoorsitter het dit geweier. Raadslid Jannie van der Westhuizen het ten spyte hiervan sy bedankingsbrief gelees, opgestaan en die vertrek verlaat. Ek wou ook enkele woorde sê oor die implikasies van die besluit, maar ek is stilgemaak.
  • Dit het my met geen ander keuse gelaat nie as om ook op te staan en die vertrek te verlaat. Ek wou op hierdie wyse my sterkste moontlike weerstand teen die besluit toon. Vier ander raadslede het ook saam uitgeloop.
  • Die skok was groot – sonder om te dramatiseer. In my skrywe van 28 Junie hieroor op LitNet is ek beskuldig daarvan dat ek melodramaties is. Laat dit maar so wees! Maar in die loop van ’n jaar is Afrikaans aan die US nek omgedraai en ek was getuie daarvan. Ek moes net praat om my kant te stel.

Ek het hieroor aan my mede-uitstappers geskryf:

Ek sit op die lughawe en wag op my vlug. Op pad hierheen kon ek dink aan die gevolge vir Afrikaans en ek moet erken dit is ’n enorme slag vir Afrikaans. Die rede is eenvoudig: ’n taal, soos Afrikaans, neem ’n lang tyd om deur die proses te gaan om ’n standaardtaal te word, en in hierdie proses neem ’n taal sekere funksies aan. Die sprekers van die taal gebruik die taal om hierdie funksies in hulle daaglikse lewe uit te voer – taal van onderwys (op alle vlakke, maar hoe hoër die vlak is, hoe sterker raak die belang van die funksie), taal van verdediging in die hof, taal vir kommunikasie met die staat, taal van die kerk (godsdiens), taal van die media (koerante, tydskrifte, radio, TV), taal van politiek, taal van die parlement, ens. 

Geen taal verwerf hierdie funksies eensklaps nie. Dit neem ’n lang tyd. In die geval van Afrikaans was dit bykans 50 jaar totdat al hierdie funksies aktief in Afrikaans was.

En nou is die pilaar geskud: Afrikaans as taal van hoër onderwys. Die beteken dat oor tyd die domino-effek in werking tree – eers op universiteit, dan laerskole en hoërskole; daarna die funksie as taal van die hof; dan volg die een funksie na die ander. Terwyl hierdie afskaalproses besig is, sal die mense wat die taal gebruik, dit nie noodwendig so direk agterkom nie omdat hulle nog baie funksies in Afrikaans kan verrig. Maar dan op ’n dag is een radiostasie weg, of ’n koerant word nie meer uitgegee nie, uitgewers hou op om boeke in die taal uit te gee, ens.

Dan op ’n dag besef jy: “Oeps! Waar is die taal wat ek altyd gebruik het. Ek kan nou minder daarmee doen as in die verlede. As dit die geval is, kan ek net sowel my daaglikse doen en late in Engels begin doen, en my kinders na ’n Engelse speelskool en dan na ’n Engelse laerskool en later na ’n Engelse hoërskool stuur, en dan na ’n universiteit met Engels as medium van onderrig stuur.” 

Dit is 40–60 jaar van nou af. Is ek negatief? Nee, dit is hoe die prosesse volgens die literatuur verloop. Jy vat die behoefte aan die taal weg en dan volg die res (afskaal en latere wegval van funksies) mettertyd.

Vandag was dus ’n waterskeidingsoomblik vir Afrikaans – daardie dag toe begin is om Afrikaans se hoogste funksie stadigaan uit te skuif in die belang van politieke gedienstigheid. Ons durf dus nie stilbly nie. Alles is nog nie verlore nie, maar as die Afrikaanse gemeenskap nie reageer nie, gaan dit moeiliker raak vorentoe.

  • Prof André Coetzee, mederaadslid, het ook hierop sy siening van die saak in ’n LitNet-berig uitgepak (André Coetzee, 2016) en die beleid stukkie vir stukkie uitmekaar getrek. En dit is daar vir almal om te sien hoe ’n proses geplooi is om ’n politieke agenda te dien: skaal Afrikaans af en word weer aanvaarbaar in die oë van die regering en toenemende groep Engelssprekende studente.
  • Die dilemma hiermee is dat die universiteit ’n besluit geneem het op aannames (dat daar nie meer plek is vir studente wat hulle studie primêr in Afrikaans wil onderneem nie), vooropgestelde idees (soos: Afrikaans sluit uit en Engels sluit in), en ideologiese gronde (“access” en transformasie – en dit sluit tale anders as Engels uit) en nie op basis van wat ’n universiteit moet wees nie: dat empiriese navorsing nodig is ten einde te kan besluit wat die beste vir studente is):

Die belangrikste oorweging is (...) dat die universiteit, as ’n instansie wat die wetenskap huisves, besluite moet neem op grond van empiriese navorsing en nie op grond van aannames, vooropgestelde idees en ideologiese voorkeure nie. (Senekal 2015: 270)

4.3 Gevolge

Ek het hierbo ’n proses probeer uitpak: van hoe ’n taal se status doelbewus verminder kan word sonder om aan die langtermyngevolge hiervan te dink – die begin van die afskaal van Afrikaans se funksies. En in die lig van my argument vroeër in die referaat is die gevolge voor die hand:

  • Engels word verhef as die oorkoepelende taal, ’n soort über-taal.
  • Afrikaans se status as taal van onderrig kry ’n groot knou.
  • Daar word voorgehou dat Afrikaans nie hierdeur geraak gaan word nie, maar selfs liggelowiges sal moet erken dat dit nie waar is nie.
  • Drie persepsies het hier ’n stewige staanplek gekry: studie deur medium van Afrikaans is polities verkeerd, ondemokraties en onvriendelik.
  • Dit sal die proses van agteruitgang van Afrikaans aan die gang sit.
  • Hierdie proses sal op die kort termyn nie ervaar word nie, maar wel op die langer termyn.
  • Die rede vir die besluit skyn politiek te wees, beide gewone politiek, maar ook die politiek van korrektheid.
  • Of transformasie hierdeur gedien gaan word, is te betwyfel. Die teendeel gaan eerder waar was: ’n groot deel van die teikengroep rakende transformasie gaan eerder benadeel word.
  • Afrikatale gaan nie beduidend hierdeur bevorder word nie.

Daar is ’n paar onmiddellike gevare wat nie sommer gaan verdwyn nie. Dit sal dom wees as Afrikaanssprekendes op die pad vorentoe nie hiermee rekening hou nie (vgl Carstens 2016c, 2016d). Hierdie kwessies kan ’n uitwerking hê op Afrikaans se voortbestaan.

  1. Gevolge van die afskaal van funksies: Dit sit ’n domino-proses aan die gang.
  2. Taalvervanging: Voorkeur vir ’n ander taal as Afrikaans, waarskynlik Engels.
  3. Politiek: Die vyandigheid teen Afrikaans en sy sprekers, veral die wit sprekers, is steeds daar.
  4. Meertaligheid as verskoning: Daar moet vir alle tale voorsiening gemaak word, maar dan gaan koste- en praktiese oorwegings ’n rol begin speel met ’n verdere afskaal van tale. Meertaligheid word uit ’n politieke hoek beskou as Engels plus een, terwyl die konsep meertaligheid meer as dit inhou.
  5. Verlies van vertroue: As die sprekers van Afrikaans begin dink die taal kan nie meer al die funksies vervul wat dit moet nie, is die gevolge logies.

Elkeen van hierdie faktore verdien ’n bespreking op sigself. Ek het in hierdie referaat hoofsaaklik klem gelê op die kwessie van funksies.

5. Samevatting

Ek het in hierdie referaat oorsigtelik probeer aantoon hoe landspolitiek oorspoel na taalpolitiek en hoe besluite en optredes wat hieruit voortspruit, ’n direkte en langtermyninvloed op tale in SA, anders as Engels, gaan hê. Gesien in die lig van my eie betrokkenheid by Afrikaans het ek Afrikaans hier as ’n gevallestudie gebruik. En dit wat ’n mens uit hierdie ontleding aflei, is ’n ontstellende prentjie van verwaarlosing en die nie-nakom van die taalbepalings in die Grondwet van SA (vgl Carstens 2016c). Dit begin nou werklik oorspoel na skole en veral universiteit.

Voordat mense dink dat ek aartsverkramp is omdat ek hierbo oor Afrikaans gepraat het, moet ek dit net duidelik maak dat ek NIE ’n taalbul is nie, maar dat ek wel glo aan die ontwikkeling van alle tale in SA. Ek is eerder ’n taalaktivis. Om in hierdie proses egter een taal te bevoordeel bo die ander, is nie hoe ek die bevordering van meertaligheid sien nie. Dan beteken meertaligheid in hierdie taalpolitieke konteks die volgende: Engels met die verdra van ander tale op SA kampusse. Dan is mooi klinkende woorde oor ‘die behoud van Afrikaans’ en die ‘uitbou van Afrikatale’ presies wat dit is: leë woorde.

Die korrekte toepassing van meertaligheid is eerder: TAAL + TAAL + TAAL + ... Dus die byvoeg van ander tale, en beslis meer as een. En nie: TAAL + taal + taal ... nie – soos die plan aan die US skyn te wees. Aan die NWU word die eerste patroon gevolg, waar ’n beleid van funksionele meertaligheid gebruik word en waar een taal nie die ander oorheers nie, waar gewerk word met die besef dat uiteenlopende kontekste ook eiesoortige oplossings soek, waar vier tale aktief gebruik én bevorder word.

Bronnelys

Alexander, N. 2004b. Language policy: the litmus test of democracy in post-apartheid South Africa. Diskoers 32(2). Des. 2004.

Alexander, N. & K. Heugh, K. 1999. Language policy in the new South Africa. In Zegeye, A. & R. Kriger (eds.) 1999.

Beukes, A-M. 2008. Language policy implementation in South Africa: How Kempton Park's great expectations are dashed in Tshwane. Stellenbosch Papers in Linguistics, 38: 1-26

Beukes, A-M. 2009. Language policy incongruity and African languages in postapartheid South Africa. Language Matters, 40(1): 35-55.

Breytenbach, B. 2015. Die diktaat van Open Stellenbosch. Beeld, 14 Nov. 2015, bl. 4.

Carstens, A. & H.P. Grebe (reds.) 2001.Taallandskap – huldigingsbundel vir Christo van Rensburg. Pretoria: Van Schaik.

Carstens, W.A.M. 2013a. Op pad van ’n verdeelde na ’n gedeelde toekoms in die Afrikaanse taalgemeenskap: Die rol van die Afrikaanse Taalraad in die proses van versoening. LitNet Akademies, 10(1): 447-483.

Carstens, W.A.M. 2013b. Die storie van Afrikaans: perspektiewe op die verlede, hede en toekoms. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 20 (1): 21-50.

Carstens, W.A.M. 2013d. Kom ons herdefinieer ‘Afrikaner’. Geplaas 10 Jul. 2013. http://debat.maroelamedia.co.za/2013/07/10/kom-ons-herdefinieer-afrikaner/ [Gebruik 12 April 2014.]

Carstens, W.A.M. 2013e. Media moet Afrikaans se leliewit rol afgooi. Weekliks, Rapport, 10 Nov. 2013, bl. 3.

Carstens, W.A.M. 2014a. Bestuur eerder die taal beter. Rapport Weekliks, 8 Jun. 2014, bl. 12.

Carstens, W.A.M. 2014b. Het die klok begin lui vir Afrikaans? Beeld, 14 Aug. 2014, bl. 11.

Carstens, W.A.M. 2014c. Afrikaans en transformasie nie in stryd. Die Burger, 8 Jul. 2014.

Carstens, W.A.M. 2015a. Afrikaans as taal aan universiteite in Suid-Afrika. Probleem of oplossing? Woord en Daad, 54(426): 10-12.

Carstens, W.A.M. 2015b. Waar is die bruin mense se stem? Beeld, 21 Jul. 2015, bl. 13.

Carstens, W.A.M. 2015c. Taal ’n kapstok vir jeug se frustrasie. Beeld, 11 Sept. 2015, bl. 11.

Carstens, W.A.M. 2015d. Wurggreep op taal. Beeld, 25 Nov. 2015.

Carstens, W.A.M. 2016a. Afrikaans op kampusse 9. Geplaas 7 April 2016. https://www.afriforum.co.za/afrikaans-op-kampusse-9-prof-wannie-carstens/

Carstens, W.A.M. 2016b. Olifant in die vertrek. Beeld, 18 Mei 2016, bl. 25.

Carstens, W.A.M. 2016c. Wees nou eerlik oor taal. Geplaas 4 Aug. 2016. http://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/wees-nou-eerlik-oor-taal-20160803#

Carstens, W.A.M. 2016d. Het die doodsklok vir Afrikaans begin lui? Geplaas 12 Julie 2016. http://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/het-die-doodsklok-reeds-vir-afrikaans-begin-lui-20160712

Carstens, W.A.M. 2016e. Wannie Carstens, US-raadslid: Waarom ek uitgeloop het. Geplaas 28 Junie 2016. http://www.litnet.co.za/waarom-ek-uitgeloop-het/

Carstens, W.A.M. & J. Blaauw 2015. Maak jy vyande vir Afrikaans? Beeld, 2 Mei 2015, bl. 20.

Carstens, W.A.M. & E.H. Raidt 2017. Die storie van Afrikaans: Uit Europa en van Afrika. Biografie van ’n taal. (Die Europese geskiedenis van Afrikaans). Pretoria: Protea.

Carstens, W.A.M. & E.H. Raidt 2018. Die storie van Afrikaans: Uit Europa en van Afrika. Biografie van ’n taal. (Die geskiedenis van Afrikaans in Afrika). Pretoria: Protea.

Charles 2014. Calvin het, soos Wandile, ’n taalstorie. Die Burger, 28 Jun. 2014, bl. 13.

Cilliers, S. 2014a. Puk-pamflet: ‘Dit was dalk regses’. Beeld, 13 Aug. 2014, bl. 4.

Cilliers, S. 2014b. Pamflet teen Afrikaans ontstel NWU. Beeld, 5 Aug. 2014.

Coetzee, A. 2014. Bittereinders se einde bitter. Die Burger, 12 Aug. 2014, bl. 12.

Coetzee, A. (Ampie) 2015. Vernietig 'n taal, vernietig denke. Geplaas 16 Nov. 2015. http://www.litnet.co.za/vernietig-n-taal-vernietig-denke/

Coetzee, A. (André) 2016. US-taalbeleid: taalverwarring. Geplaas 11 Aug. 2016. http://www.litnet.co.za/taalverwarring/

Cuvelier, P.; T. du Plessis & L. Teck (eds.) 2003. Multilingualism, education, and social integration. Studies in language policy in South Africa. Pretoria: Van Schaik.

Cuvelier, P.; T. du Plessis, M. Meeuwis & L. Teck (reds.) 2007. Multilingualism and Exclusion. Policy, Practice and Prospects. Pretoria: Van Schaik.

Cuvelier, P.; T. du Plessis, M. Meeuwis, R. Vandekerckhove & V. Webb (eds.) 2010. Multilingualism from below: Studies in language policy in South Africa. Pretoria: J.L. van Schaik.

De Stadler, L.G. & C. Swart 2016. ‘In English’, asseblief tog. Die Burger, 10 Maart 2016.

Du Plessis, H. & L.T. du Plessis (reds.) 1987. Afrikaans en taalpolitiek. Pretoria: HAUM Opvoedkundige Uitgewery.

Du Plessis, L.T. 2001. ’n Nuwe taalpolitiek vir ’n veranderende taalbestel: Die taak van taalorganisasies. In Carstens, A. & H. Grebe (reds.) 2001: 81-91.

Du Plessis, L.T. 2003a. Taalbeleid aan universiteite in Suid-Afrika. Acta Academica Supplementum, 2: 58-82.

Du Plessis, L.T. 2003b. Multilingualism and language in education policy in South Africa – A historical overview. In P. Cuvelier, T. du Plessis, & L. Teck (eds.) 2003: 99-119.

Du Plessis, L.T. 2004a. Afrikaans en taalaktivisme. In Van Rensburg, F.I.J. (red.) 2004: 169-182.

Du Plessis, L.T. 2004b. Meertaligheid en regering in Suid-Afrika: ’n Ondersoek na die implementering van die Taalklousule in die Staatsdiens. In Kriel, M. (red.) 2004.

Du Plessis, L.T. 2006a. Tweetalige hoëronderwys vir Suid-Afrika? Taalbeleidsontwikkeling by historiese Afrikaansmedium universiteite as gevallestudie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(2): 100-111.

Du Plessis, L.T. 2006b. Die Afrikaanse universiteit van die toekoms: Afrikaans binne meertalige verband? Die Vrye Afrikaans, 16 Aug. 2006, bl. 6.

Du Plessis, L.T. 2008. Perspectives on managing Afrikaans and English as 'equal' languages of learning and teaching at the University of the Free State. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 26(3): 315-332.

Du Plessis, L.T. 2009. Taalwetgewing in Suid-Afrika. LitNet Akademies, 6(3): 132-154.

Du Plessis, L.T. 2010. ’n Taalwet vir Suid-Afrika. Die rol van sosiolinguistiese beginsels by die ontleding van taalwetgewing. LitNet Akademies, 7(2): 65-97.

Du Plessis, L.T. 2012. ’n Kritiek op ’n normatiewe vergelyking van die 2003- en 2011-weergawes van die South African Languages Bill aan die hand van sosiolinguistiese beginsels van taalwetgewing. LitNet Akademies, 9(2): 309-353.

Du Preez, M. 2016. Is dit nou wittes wat moet waai? Beeld, 12 Okt. 2016, bl. 12.

Els, R. 2016c. ‘Meertaligheid maak jou nie minder Afrikaans’. Geplaas 6 Maart 2016. http://www.netwerk24.com/Nuus/Onderwys/meertaligheid-maak-jou-nie-minder-afrikaans-20160306

Felix, J. 2015. ‘Engels beste vir onderrig’. Die Burger, 21 Aug. 2015.

Felix, J. 2016. Universiteite: ‘Taal benodig wat ons almal verenig’. Beeld, 30 Maart 2016, bl. 2.

Germishuys, G. & S. van den Berg 2015. Elsenburg fynkam beeldmateriaal van betoging. Die Burger, 3 Sept. 2015.

Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners. ’n Biografie. Kaapstad: Tafelberg.

Giliomee, H. 2005. ’n Algemeen geldende basis vir Afrikaans? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 45(2): 276-282.

Giliomee, H. 2008. Die waagstuk van Afrikaans. Historia, 46(2): 477-502.

Giliomee, H. 2010a. So is US se hekkie vir Engels geopen. Die Burger, 11 Maart 2010.

Giliomee, H. 2010b. 'n Nekslag vir Afrikaans. Geplaas 13 Jan. 2010. http://www.litnet.co.za/n-nekslag-vir-afrikaans/

Giliomee, H. 2014. Die troebele toekoms van die Afrikaners en Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 54(4): 571-595.

Giliomee, H. 2015a. ’n Roemlose kapitulasie. Die Burger, 17 Nov. 2015, bl. 11.

Giliomee, H. 2015b. The battle for Afrikaans at the University of Stellenbosch. Geplaas 17 Nov. 2015. http://www.politicsweb.co.za/news-and-analysis/the-battle-for-afrikaans-at-the-university-of-stel

Giliomee, H. 2016a. Taalplan ignoreer dié kwessies. Die Burger, 6 Junie 2016.

Giliomee, H. 2016b. US-taalkwessie is ’n beskamende verhaal. Die Burger, 15 Junie 2016.

Giliomee, H. 2016c. 2016: die krisisjaar van Afrikaans. Geplaas 11 Okt. 2016. http://www.litnet.co.za/2016-die-krisisjaar-van-afrikaans/

Giliomee, H. & L. Schlemmer (reds.) 2001. Kruispad. Die toekoms van Afrikaans as openbare taal. Kaapstad: Tafelberg.

Giliomee, H. & L. Schlemmer 2006. ’n Vaste plek vir Afrikaans. Taaluitdagings op kampus. Stellenbosch: SUN Media.

Gouws, A. 2016. ‘Taalstryd’ gaan nie net oor taal. Beeld, 14 Jan. 2016, bl. 20.

Heunis, J.C. 2016a. Waarom Afrikaans gelyke status by US verdien. Geplaas 20 Jan. 2016. http://www.litnet.co.za/waarom-afrikaans-gelyke-status-by-us-verdien/

Heunis, J.C. 2016b. US: Geen kans vir Afrikaans? Die Burger, 1 Junie 2016, bl. 11.

Heunis, J.C. 2016c. Wraak op ’n taal werk nie. Rapport Weekliks, 18 Sept. 2016, bl. 11.

Heunis, J.C. 2016d. Universiteitswese, transformasie en dekolonisasie – Wat kan ons verwag? Geplaas 28 Sept. 2016. http://www.npvanwyklouw.org.za/toespraak-adv-j-c-heunis-universiteitswese-transformasie-en-dekolonisasie-wat-kan-ons-verwag/

Heunis, J.C.; J. du Preez, N. Marais, S. Loots & M. le Cordeur 2016. US-taalbeleid: Die US-konvokasie se kommentaar op die US-bestuur se konseptaalbeleid. Geplaas 22 April 2016. http://www.litnet.co.za/us-konvokasie-kommentaar-op-die-us-bestuur-se-konseptaalbeleid/

Jacobs, D. 2016. Skrif lankal aan die muur. Beeld, 26 Febr. 2016, bl. 30.

Janse van Rensburg, A. 2015a. Video oor ‘rassisme by US’ maak opslae. Rapport, 23 Aug. 2015.

Janse van Rensburg, A. 2015b. Nie ons plig om Afrikaans te red, sê Maties-rektor. Die Burger 14 Nov. 2015.

Johnson, R.W. 2011. South Africa's Brave New World: The Beloved Country Since the End of Apartheid. A history since 1994.

Kamwangamalu, N.M. 2001. The language planning situation in South Africa. Current Issues in Language Planning, 2(4): 361-445.

Kamwangamalu, N.M. 2004. The language policy/language economics interface and mother-tongue education in post-apartheid South Africa. Language problems & language planning, 2: 131-146.

Kapp, P.H. 2009. Draer van ’n droom. Die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 1909-2009. Hermanus: Hemel en See Boeke.

Kapp, P.H. 2013. Maties & Afrikaans, 1911-2011 – ’n Besondere verhouding. Pretoria: Protea.

Kapp, P.H. 2015. Nalatenskappe sonder einde – Die Verhaal van Jannie Marais en die Marais-broers. Kaapstad: Tip Africa Uitgewers.

Kriel, M. (ed./red.) 2004. The language web. Essays in honour of Victor Webb. / Fyn net van die woord. Huldigingsbundel vir Victor Webb. UPE Research Series 33. Port Elizabeth: Universiteit van Port Elizabeth.

Lakoff, R.T. 1990. Talking power: The politics of language in our lives. New York: Basic Books.

Leibowitz, B. & I. van Deventer 2007. Evaluation of a South African university's language policy. Education as change, 11(1): 87-110.

Lewis, J. 2004. Die ononderhandelbare waardes van moedertaalonderrig. In Van Rensburg, F.I.J. (red.) 2004: 183-190.

Liebenberg, S. & A.J. van der Walt 2015a. Why Afrikaans doesn’t qualify for special treatment at universities. Geplaas 9 Des. 2015. http://theconversation.com/why-afrikaans-doesnt-qualify-for-special-treatment-at-universities-51916

Liebenberg, S. & A.J. van der Walt 2015b. Afrikaans ‘verdien nie spesiale behandeling’. Die Burger, 22 Des. 2015, bl. 13.

Maartens, J. 1997. Multilingualism and language policy in South Africa: past and present. Dubbelfluit, 3(1): 14-43.

Mailovich, C. 2015d. Steve sê hy sal nooit ‘relax’ oor plaasmoorde. Geplaas 23 Des. 2015. http://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/steve-se-hy-sal-nooit-relax-oor-plaasmoorde-20151223

Malan, P. & J. Rooi 2015. Dis rektor vs. US se raad. Rapport, 15 Nov. 2015.

Muller, P. 2016. Kreeftegang van ’n taal. Beeld, 7 Jan. 2016, bl.

Mutasa, D.E. 2015. Language policy implementation in South African universities vis-à-vis the speakers of indigenous African languages’ perception. Per Linguam, 31(1): 46-59.

Neethling, T. 2016. #FeesMustFall: 12 perspektiewe. Geplaas 13 Okt. 2016. http://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/feesmustfall-12-perspektiewe-20161012

Nel, C-A. & A. Janse van Rensburg 2015a. Maties: Akademici steun voorstel oor Engels. Die Burger, 19 Nov. 2015.

Nel, C-A. & A. Janse van Rensburg 2015b. 10 redes vir Afrikaans by Maties. Die Burger, 21 Nov. 2015, bl. 5.

Nel, C-A. 2016. Gelyke Kanse wil ook ingryp en help red. Beeld, 1 Junie 2016, bl. 6.

Nel, C-A. & A. Janse van Rensburg 2015c. Afrikaans gaan nie verdwyn by US. Die Burger, 1 Des. 2015.

Ngoepe, K. 2016. Govt must address language challenge at universities – Radebe. Geplaas 16 Kunie 2016. http://www.news24.com/SouthAfrica/News/govt-must-address-language-challenge-at-universities-radebe-20160616?isapp=true

Nico 2013. Trekpas vir Afrikaans is ’n hartseerdag. Die Burger, 11 Sept. 2013, bl. 10.

Orman, J. 2009. Language Policy and Nation-building in Post-Apartheid South Africa. Dordrecht: Springer.

Orman, J. 2014. Language policy and identity conflict in relation to Afrikaans in the post-apartheid era. In Alexander, N. & A. van Scheliha (eds.) 2014: 59-76.

Otto, A. 2014. Van crèche tot wieg: Eerste vertaling nie sonder probleme nie. Literator, 35(2).

Paardekooper, P.C. 1989. Het belang van de studie van het Afrikaans. Neerlandica extra Muros, 1989: 61-62.

Pascoe, A. 2016. English no longer holds sway in the digital age. Business Day, 12 Oktober 2016. http://www.bdlive.co.za/opinion/2016/10/12/english-no-longer-holds-sway-in-the-digital-age

Pelser, A. 2014. Bou toekoms op prestasie, nie skuld nie. Die Burger, 18 Jun. 2014.

Pelser, W. 2016. Dis nie almal wat hoort op universiteit. Rapport Weekliks, 9 Okt. 2016, bl. 6.

Pieterse, H.J. 1995. Taalpolitiek: ’n verkenning en enkele toepassings. Politeia. Tydskrif vir Politieke Wetenskappe, 14(2): 40-65.

Rantoa, J 2005. Government should do away with Afrikaans medium schools. Cape Argus, 23 Febr. 2005.

Reagan, T.G. 1986. The Role of Language Policy in South African Education. Language Problems and Language Planning, 10 (1): 1-13.

Reagan, T.G. 2001. The promotion of linguistic diversity in multilingual settings. Language Problems and Language Planning, 25(1): 51-72.

Reagan, T.G. 2004. Multilingualism in South Africa: ‘Dit is nou ons erns.’ Language Problems and Language Planning, 28:2.

Scholtz, L. 2015g. 5 jaar en US is uitsluitlik Engels. Die Burger, 18 Jun. 2015.

Senekal, B.A. 2015. Eentaligheid, integrasie en assosiasiegerigtheid in sosiale netwerke: ’n Literatuuroorsig. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 55(3): 356-372.

Smith, C. 2016. Is 2016 die begin van die einde van Afrikaans as akademiese taal? Wapad, 4 Febr. 2016, bl. 13.

Steyn, J.C. 1980. Tuiste in eie taal. Die behoud en bestaan van Afrikaans. Kaapstad: Tafelberg.

Steyn, J.C. 1987. Trouwe Afrikaners. Aspekte van Afrikanernasionalisme en Suid-Afrikaanse taalpolitiek 1875-1938. Kaapstad: Tafelberg.

Steyn, J.C. 1992a. Drie soorte dreigende funksieverliese vir Afrikaans. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 32(2): 155-163.

Steyn, J.C. 1992b. Die behoud van Afrikaans as ampstaal. In Webb, V.N. (red.) 1992: 201-225.

Steyn, J.C. 1994. Afrikaans as universiteitstaal: Onlangse ontwikkelinge in historiese en internasionale perspektief. Literator, 15(1): 33-59.

Steyn, J.C. 1995a. Die Taalstryd in die Oorgangstyd: Gesindhede teenoor Afrikaans 1990-1994. Stilet, Supplement 1, April 1995.

Steyn, J.C. 1995b. Afrikaans in 'n nuwe bedeling: terugslae, groei en reaksies op bedreigings. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 35(4): 280-292.

Steyn, J.C. 2000. ’n Pluriforme model vir die behoud van Afrikaans as voertaal aan universiteite. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 40(1): 48-58.

Steyn, J.C. 2001. Afrikaans 2000: Nuwe suksesverhale en terugslae. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 41(2): 118-132.

Steyn, J.C. 2014a. ‘Ons gaan ’n taal maak’: Afrikaans sedert die Patriot-jare. Pretoria: Kraal-Uitgewers.

Steyn, J.C. 2014b. Nieuwe taalstrijd in Zuid-Afrika. Geplaas 30 Jan. 2014. http:///www.fak.org.za/blog/nieuwe-taalstrijd-zuid-afrika/ [Gebruik 31 Jan. 2014.]

Steyn, J.C. 2015a. Afrikaans bedreigd aan universiteit. Geplaas 1 Feb. 2015. http://www.doorbraak.be/nl/nieuws/afrikaans-bedreigd-aan-universiteit [Gebruik 9 Feb. 2015.]

Steyn, J.C. 2015b. Taalstryd duur al meer as ’n eeu. Volksblad, 18 Maart 2015.

Steyn, J.C. 2015c. Afrikaans by die UV. Geplaas 19 Mei 2015. http://www.standpunte.co.za/afrikaans-by-die-uv/ [Gebruik 20 Mei 2015.]

Steyn, J.C. & A. Duvenhage 2011. Taalverskuiwing en taalhandhawing in die Afrikaanse gemeenskap: tendense en toekomsperspektiewe. LitNet Akademies, 8(3), Des. 2011.

US RBS (Rektor se bestuurspan) 2015. Stellenbosch University: Why we are switching to English. Rand Daily Mail, 13 Nov. 2015. http://www.rdm.co.za/politics/2015/11/13/stellenbosch-university-why-we-are-switching-to-english?

Van der Merwe, D.M. 2008. “Taal op Tuks”: a reappraisal of the change in language policy at the University of Pretoria. Historia, 53(2): 151-181.

Van der Wal, M. & E. Franken (reds.) 2010. Standaardtalen in beweging. Amsterdam & Münster: Stichting Neerlandistiek VU & Nodus Publikationen.

Van der Westhuizen, G. 2012.’Julle is die laaste groep.’ Beeld, 24 Aug. 2012, bl. 17.

Van Hoeck, T. 2010. South African language policies after apartheid. Antwerpen.

Van Niekerk, A.A. 2016a. US-taalbeleid: Ope brief aan Breyten Breytenbach. Geplaas 16 April 2016. http://www.litnet.co.za/us-taalbeleid-ope-brief-aan-breyten-breytenbach/

Van Niekerk, A.A. 2016b. Stelling oor US ’n growwe belediging. Die Burger, 8 Junie 2016.

Van Niekerk, M. 2016. Marlene van Niekerk on the Stellenbosch University language debate. Geplaas 20 Julie 2016. http://www.litnet.co.za/marlene-van-niekerk-stellenbosch-university-language-debate/

Van Rensburg, F.I.J. (red.) 2004. Afrikaans, lewende taal van miljoene. Pretoria: Van Schaik.

Van Rensburg, M.C.J. 1991. Die status en onderrigmoontlikhede van tale in 'n nuwe Suid-Afrika. Tydskrif vir Letterkunde, XXIX. Februarie 1991.

Van Rensburg, M.C.J. 1992. Die demokratisering van Afrikaans, in: Webb, V.N. (red.) 1992: 181-199.

Van Rensburg, M.C.J. 1999. Afrikaans and Apartheid. International Journal for the Sociology of Language 136: 77-95.

Van Rensburg, C. (M.C.J.) 2010b. Meertalige universiteite werk nie. http://www.litenet.co.za/meertalige-universiteite-werk-nie [Gebruik 30 Aug. 2010.]

Van Rensburg, C. (M.C.J.) 2012. So kry ons Afrikaans. Pretoria: LAPA.

Von Scheliha, A. & N. Alexander (eds.) 2015. Language Policy and the Promotion of Peace. African and European Case Studies. Pretoria: UNISA Press.

Webb, V.N. (red.) 1992. Afrikaans ná Apartheid. Pretoria: Van Schaik.

Webb, V.N. 1992a. Die statutêre erkenning van minderheidstale in 'n toekomstige Suid-Afrika. In Webb, V.N. (red.) 1992: 227-247.

Webb, V.N. 1992b. Konflik in die Suid-Afrikaanse samelewing en die rol van taal. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 32(2): 104-123.

Webb, V.N. 1997. Afrikaans in een democratiserend Zuid-Afrika. Ons Erfdeel, 40(2): 225-236.

Webb, V.N. 1998. Herstandaardisering en sintaktiese diversiteit. In Gouws, R.H. & I. Feinauer (reds.) 1998: 183-192.

Webb, V.N. 1999. Multilingualism in democratic South Africa. The over-estimation of language policy. International Journal of Educational Development, 19: 351-366.

Webb, V.N. 2001. Die bevordering van Afrikaans. In Carstens, A. & H.P. Grebe (reds.) 2001: 164-178.

Webb, V.N. 2002. Language in South Africa: the role of language in national transformation, reconstruction and development. Philadelphia, Pa.: John Benjamins.

Webb, V.N. 2006. Perspektiewe op moedertaalonderrig. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 46(2): 37-50.

Webb, V.N. 2008. Language and the politics of institutional identity: Can the University of Pretoria become a bi-or multilingual university? Southern African linguistics and applied language studies, 26(3): 393-406.

Webb, V.N. 2010. Standaardafrikaans: ’n vurk in die pad? ’n Taalpolitieke perspektief. In Van der Wal, M. & E. Francken (reds.) 2010: 193-214.

Webb, V.N. 2012. Managing multilingualism in higher education in post-1994 South Africa. Language Matters, 43(2): 202-220.

Webb, V.N.; R. Dirven & E. Kock 1992. Afrikaans: feite en interpretasies. In Webb, V.N. (red.) 1992: 25-67.

Webb, V.N. & M. Kriel 2000. Afrikaans and Afrikaner nationalism. International Journal of the Sociology of Language, 144: 19-49.

Webb, V.N. & L.T. du Plessis (eds.). 2006. The politics of language in South Africa. Pretoria: J.L. van Schaik.

Zegeye, A. & R. Kriger(eds.) 1999. Cultural Change and Development in South Africa. Zagreb: Institute for International Relations.

Eindnotas

1 Ek moet verklaar dat ek ’n huidige Raadslid van die US is, maar dat ek hier praat in my hoedanigheid as akademikus en veral as taalkundige.

2 http://www.sun.ac.za/english/Lists/news/DispForm.aspx?ID=3172 Hierdie aankondiging is gesteun deur 226 akademici van die US in ’n verklaring wat op 18 November 2015 uitgereik is – vgl Nel & Janse van Rensburg 2015a.

Kommentaar

  • Ja Wannie , Afrikaans is ter dood veroordeel en in die tronk gesmyt vir 'n misdaad wat sy nie gepleeg het nie - want geen taal kan mos enige misdaad pleeg nie - dit behoort enige regdenkende mens tog te weet. Al wat ons, wat vir haar lief is, kan doen is om soos jy hier met baie moeite gedoen het, haar lewensverhaal en veral die verloop van die hofsaak, waarin sy skuldig bevind is, teen die mure van haar dodesel uit te graveer, sodat navorsers eendag kan vasstel wat werklik met haar gebeur het en nie net glo wat die koerante van die dag en die politici daaroor te sê gehad het nie.

  • engemi ferreira

    Wannie, al wat ek op die oomblik raaklees in jou logiese en behoorlike uiteensetting van die verloop is glad geen wenproses vir die taal wat oënskynlik as 'wenner' uit die stryd tree nie. Die Engels wat op die stadium gebesig word is nog ver van 'n akademiese instrument sover dit woorde se wanuitsprake en die taal self se swak grammatikale beheer aan betref; dikwels nog steeds 'n bespotting.
    Dit kom my wel voor asof hier een enkele probleem is: magspolitiek van survival of the fittest, Die oerwoud syn is dus geldig: Diegene wat magtigste is moet almal oorhaal na hul siening.
    Dis wat so pateties is ̶ die geweldige verskraling van insigte en geleenthede op die weg na die minste teenstand. So verloor Afrika nog eens; geen moontlike samekoms of samewerking en toevoeging van verskillende sinnighede tot 'n ryker en sterker kulturele lewe nie. Soos in die verlede net maar die lappe en lappe hutte in elke taalgroep se aard. Maaind joe, intussen darem ook die 1000e plakkerskampe ter afwisseling. Dit wys hoe voortbestaan in die land nie saam-saam kan plaasvind nie, maar alleen funksioneer: "Jy in jou klein hoekie, en ek in myn."
    Dankie vir al jou kommer en insette en dink en werk aan wat eintlik nooit 'n probleem moes gewees het nie. Iewers sal dit wel nog vrugte dra, al sal jy nooit iets daarvan eet nie ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top