US-taalbeleid: Die US-konvokasie se kommentaar op die US-bestuur se konseptaalbeleid

  • 8

Namens die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch onderskryf ons, die Konvokasiebestuur, hiermee die Gelyke Kanse-veldtog teen die Universiteit Stellenbosch (US) se voorgenome taalplan. Ons is dit eens met die besware teen die voorgestelde nuwe taalbeleid én met die voorstelle vir 'n toelatings- en taalbeleid wat sal verseker dat Afrikaans in die toekoms ’n volwaardige onderrigtaal aan die US sal bly voortbestaan. Ons lewer hierdie kommentaar in ooreenstemming met die Konvokasie se standpunte rakende Afrikaans as onderrigtaal aan die US oor baie jare heen; en meen dat ons posisionering as dagbestuur in lyn is met konsekwente standpunt-inname deur die Konvokasie.

In aansluiting by alle dokumente wat deel uitmaak van die Gelyke Kanse-veldtog (sien www.gelykekanse.com), maak ons graag ook die volgende opmerkings:

  • Ons verwerp ’n eensydige siening van Afrikaans as ’n wit(mans)taal of as ’n taal van onderdrukking en uitsluiting. Ons herinner u daaraan dat Afrikaans ’n meerderheid swart en/of bruin sprekers het. Ten tyde van die 2011 sensus was slegs sowat 2,7 miljoen van die bykans 7 miljoen moedertaalsprekers van Afrikaans wit (StatsSA, 2012: 26).
  • Ons herinner u voorts daaraan dat Afrikaans in die apartheidsera nie uitsluitlik “die taal van die onderdrukker” was nie, maar ook ’n taal van verset en protes. Trouens: Afrikaans is in murg en been ’n bastertaal en een wat op eie bodem gebore is uit verset teen ’n Europese, koloniale, hegemoniese taal. In die gees van laasgenoemde ryke tradisie van verset, lokale gewortelheid en hibriditeit, wil ons dit benadruk dat ons steun vir Afrikaans as volwaardige onderrigtaal aan die US nie strydig is met ons steun vir ’n diverse, inklusiewe en gedekoloniseerde universiteit nie.
  • In die lig van al bogenoemde versoek ons die US om, na heelwat versuim, hom aktief te beywer vir opwaartse klassemobiliteit in Afrikaanssprekende gemeenskappe van byvoorbeeld die Boland, die Kaapse Vlakte, die Overberg, die Karoo, en die Noord- en Oos-Kaap. Die US het in die apartheidsjare én in post-demokratiese Suid-Afrika nagelaat om genoegsame ondersteuning te bied aan Afrikaanssprekende studente wat nie wit is nie. Die voorgestelde taalbeleid sal hierdie geskiedenis van nalatigheid en aktiewe uitsluiting voortsit en sal die oorgrote meerderheid van Afrikaanssprekendes wesenlik benadeel. Die US behoort eerder ’n historiese, morele en etiese onreg te korrigeer deur met sy taalbeleid, toelatingsbeleid en met die aanstelling van personeellede ’n bydrae te lewer tot die bemagtiging van bruin en swart Afrikaanssprekendes. Ook bruin en swart skole in nabygeleë Afrikaanssprekende gemeenskappe moet op uitgebreide en volgehoue wyse deur die universiteit ondersteun en bemagtig te word.

21 April 2016
Konvokasiebestuur: Adv Jan Heunis, SC (president), adv Jacques. du Preez (ondervoorsitter), dr Nadia Marais (sekretaresse), dr Sonja Loots en dr Michael le Cordeur.

*Statistiek word aangehaal uit hierdie bron: StatsSA (Statistics South Africa). 2012. ‘Census in Brief’. Pretoria: Statistics South Africa. Op 18 April 2016 afgelaai by http://www.statssa.gov.za/census/census_2011/census_products/Census_2011_Census_in_brief.pdf

 

Gelyke Kanse-inisiatief bou momentum: Breyten Breytenbach rig ope brief aan US-rektor

LitNet
Universiteitseminaar

Die alombekende Suid-Afrikaanse digter Breyten Breytenbach en vele ander bekendes uit ’n verskeidenheid sektore het so pas ’n inisiatief geloods om te verseker dat Afrikaans in die toekoms ’n volwaardige onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch sal bly.

 

 

  • 8

Kommentaar

  • Bravo, en geluk met 'n goed beredeneerde standpunt teen die aanslag op Afrikaans as akademiese en wetenskapstaal.

  • Ek is beïndruk met die waagmoed van die Konvokasiebestuur en Breyten Breytenbach. Verder wens ek julle sterkte toe vir 'n belangrike en regverdige saak.

  • Afrikaans as onderrigtaal moet altyd deel van Maties bly. Dit is die hart en siel van die US. Diegene was teen Afrikaans en vir Engels is, kan gerus by of UWK of UK gaan studeer, want daar het jy die keuse van Engels as onderrigtaal.

  • Avatar
    Etienne Viviers

    En Xhosa? Wat van Xhosa se Gelyke Kans? Breytenbach se metafisiese saam-mekaar-anders-maak is net so afhanklik van Xhosa se voortbestaan as van Afrikaans se voortbestaan. Hoe is dit dat die Konvokasiebestuur vergeet het om Xhosa, selfs met daardie gerieflike en terloopse verwysing "en ander inheemse tale", in hierdie belangrike persverklaring te noem en verdedig? Of is daar op 'n ander aparte Xhosa-platform vir Xhosa-sprekers 'n persverklaring in Xhosa oor Xhosa uitgereik?
    By die kleurryke stelling "Afrikaans is in murg en been ’n bastertaal en een wat op eie bodem gebore is uit verset teen ’n Europese, koloniale, hegemoniese taal"... Word daar nou hier na Nederlands of Engels verwys? Afrikaans se ongeloofwaardigheid as sogenaamde versetmiddel teen koloniale hegemonie het daarmee te doen dat Afrikaans, ten spyte van die persverklaring se genoemde verbastering op eie bodem, nog steeds so baie, baie diep in Nederlands en selfs Duits geanker is. Veral die hegemoniese Woordelys en Spelreëls Afrikaans wat so baie witmense aandring die regte, goeie en suiwer Afrikaans is.
    Die afgelope eeu se dapper en nodige stryd teen Engels se hegemonie is op sy eie onvoldoende om Afrikaans as gedekoloniseerde taal voor te hou. Wat van Nederlands en Duits se Europese, koloniale hegemonie? Hoe word daar teen hierdie twee tale verset gelewer wanneer Afrikaans juis 'n baie naby-verwante dogtertaal van veral Nederlands is?
    Is Afrikaans werklik so lokaal gewortel en hibried as wat die Konvokasiebestuur in hierdie persverklaring verduidelik? Sou hulle miskien onthou het om Xhosa te noem as Afrikaans en Xhosa, weens lening en verbastering op eie bodem, alreeds naby genoeg aan mekaar verwant was om wedersydse kommunikasie en begrip (soos met Afrikaans en Nederlands) tussen mekaar se moedertaalsprekers moontlik te maak?
    Dit voel vir my dat die Konvokasiebestuur hier besig is om Afrikaans op ’n opportunistiese manier uit te beeld: met ’n onduidelike argument dat Afrikaans alreeds gedekoloniseerd is; en met ’n revisionistiese argument dat Afrikaans nie oorwegend aan apartheid se sondes gekoppel moet word nie, maar ewe veel ook aan protes en verset teen apartheid. Dit is onnodige argumente wat oorweldigende probleme oopkrap wat vir Afrikaans se onthalwe eerder op ander terreine as ’n konseptaalbeleid uitgesorteer moet word.
    Vir nou is dit nodig om Stellenbosch Universiteit se bestuur daarvan te oortuig dat die neoliberale fantasie van ’n internasionaal mededingende Ivy League universiteit tussen Kaapse berge, met toenemend stygende posisies op die QS World University Rankings, ’n Thatcheristiese en Scalia-agtige klug is wat uitsluitlik trickle down ekonomiese en maatskaplike voordele vir die breër Suid-Afrikaanse samelewing in plek kan stel. ’n Versugting na ’n nuwe Anglo-Amerikaanssprekende Toring van Babel, wat linguistieke en kulturele eenvormigheid en die uitrangering van plaaslike diversiteit tot gevolg sal hê.
    Plaaslike tale soos Afrikaans en Xhosa is krities noodsaaklik om te verhoed dat die internasionaal-aanvaarde neoliberale akademiese model, kultureel onsensitief en ekonomies eenvormig, nie nog verder by Suid-Afrikaanse universiteite geïmplementeer word nie.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Ek is teleurgesteld met die US-konvokasie se kommentaar. Daar is tekens dat daar by die Konvokasie dieselfde vermurwing jeens Afrikaans intree as wat in die geskiedenis van die US-taalbeleid (soos geskets in Pieter Kapp se boek, Maties en Afrikaans, 2013) waarneembaar is. Dít moet duidelik gesê word: Afrikaans is óók die taal van blanke Afrikaanssprekendes. Afrikaans is dus ook 'n witmenstaal. Dit is onnodig en onwys as die Konvokasie hom enigsins hiervan distansieer. Daar behoort geen beletsel te wees teen die prontuit stelling dat Afrikaans aan die US behoue moet bly omdat blanke Afrikaanssprekendes dit so wil hê nie. Die taktiese greep om nie-wit Afrikaanssprekendes as die hoofargument vir die behoud van Afrikaans by te sleep, is problematies. Anders gestel: Die boer mag op sy eie met sy bakkie dorp toe ry, dus sonder om sy werkers altyd saam te karwei. Dit is 'n argument wat gewig dra omdat die US as Afrikaanse en blanke inrigting die akademiese aansien verwerf het waarop daar steeds geroem word.
    In "ons jong demokrasie" is daar die neiging om oormatige klem op kwantitatiewe oorwegings te lê, vandaar die gewildheid van die stelling dat die meeste Afrikaanssprekers nie-wit is. Naas hierdie kwantitatiewe faktor moet kwalitatiewe oorwegings in berekening gebring word. Dan blyk dit dat daar heel moontlik meer blankes as nie-wittes is wat Afrikaanslojaal is en sterk daaroor voel om universitêre onderrig deur die medium van Afrikaans te ontvang. Dit is bv bekend dat die bruin bevolking die etniese groep is wat die minste belangstelling in universitêre onderrig toon terwyl die grootste gros Afrikaanssprekendes bruin is. By die vasstelling van die taalbeleid behoort die taalvoorkeur van studente en potensiële studente in ag geneem te word en nie die totale getal mense in 'n etniese groep nie.
    Die geykte frases "taal van onderdrukking" en "taal van protes" kan gerus vermy word. Wat daarmee geïmpliseer word, is dat die blanke bewind met onderdrukking en dus met wat sleg is, geassosieer word. Die "bevrydingstryd" en die daaropvolgende "bevryding" onder die swart bewind, daarenteen, word as goed voorgehou. In werklikheid was daar in albei eras sowel goed as kwaad. Afrikaans is in albei eras vir talle doeleindes gebruik en sekerlik nie net om politieke oogmerke te dien nie. Wat wel ter sake is, is dat Afrikaans die enigste plaaslike taal is wat na 1994 aan status ingeboet het. Dit is 'n voorbeeld van die slegte in die nuwe bedeling. Aan die US moet Afrikaanslojaliste dus daarteen waak dat Afrikaans verder aan status inboet.
    Nog 'n onnodige politieke insinuasie is om Afrikaans "in murg en been 'n bastertaal" te noem. Geen taal kan op absolute suiwerheid aanspraak maak nie. Afrikaans is egter nie in groter mate as baie ander tale op ontlening ingestel nie. Dit is gevolglik misplaas om dit as 'n bastertaal te karakteriseer en daarna ook na hibriditeit te verwys. Dit lyk asof hier aan die slegte gewoonte toegegee is om normgewend aan die mengeltaal Kaaps te dink pleks van aan die suiwerder Standaardafrikaans.
    Die verwysing na "opwaartse klassemobiliteit" en die spesifisering van geografiese streke soos die Kaapse Vlakte, asook die pleidooi ter ondersteuning van nie-wit studente, toon nogeens dat die Konvokasie se kommentaar nie op blanke Afrikaanssprekendes ingestel is nie. Teen die einde word die nie-wit sluise heeltemal oopgetrek: "Die US het in die apartheidsjare én in post-demokratiese [!] Suid-Afrika nagelaat om genoegsame ondersteuning te bied aan Afrikaanssprekende studente wat nie wit is nie. Die voorgestelde taalbeleid sal hierdie geskiedenis van nalatigheid en aktiewe uitsluiting voortsit en sal die oorgrote meerderheid van Afrikaanssprekendes wesenlik benadeel. Die US behoort eerder 'n historiese, morele en etiese onreg te korrigeer deur met sy taalbeleid, toelatingsbeleid en met die aanstelling van personeellede 'n bydrae te lewer tot die bemagtiging van bruin en swart Afrikaanssprekendes. Ook bruin en swart skole in nabygeleë Afrikaanssprekende gemeenskappe moet op uitgebreide en volgehoue wyse deur die universiteit ondersteun en bemagtig te word."
    In hierdie aangehaalde gedeelte val die konvokasiebestuur se kommentaar heeltemal uit die bus. Dit klink soos sinne wat deur Michael le Cordeur bygeskryf is en ingesluit moes word voordat hy bereid sou wees om sy naam aan die kommentaar te koppel. In werklikheid is daar talle studiebeurse spesifiek vir nie-wittes beskikbaar en baie ander word uitsluitlik of by voorkeur aan diesulkes toegeken, terwyl dit US-beleid is dat geen studiebeurs spesifiek vir wittes geoormerk mag wees nie. Die toelatingsbeleid vir studente en die aanstellings- en bevorderingsbeleid vir personeellede gee ook blatant voorkeur aan nie-wit kandidate. Die sake wat in die aangehaalde sinne bygesleep word, soos ook die US se verhouding met skole, het sydelings met die taalbeleid te make.
    Die Konvokasie se kommentaar wek die indruk van 'n gekompromitteerde teks saamgestel deur 'n komitee. Die konvokasiepresident, Jan Heunis, vaar baie beter wanneer hy sy eie mening oor Afrikaans aan die US gee.

  • Al was alle Afrikaanssprekendes wit, sou dit steeds waansinnig wees om 'n taal voor stok te kry vir die dade van sy sprekers. Indien dit die geval was, moet oa Duits, Frans en Engels ook geskrap word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top