US-taalbeleid: Taalverwarring

  • 6

’n Persverklaring, 21 Julie 2016 gedateer, is na ’n gesprek tussen ’n Kans vir Afrikaans en die rektor van Universiteit Stellenbosch (US) gemaak. Volgens die verklaring het ’n Kans vir Afrikaans en die US-bestuur ooreengekom dat Afrikaans gelyke status met Engels sal geniet en dat studente “nie deur die nuwe taalbeleid benadeel sal word nie”.

Ek het ook onlangs ’n gesprek gehad met ’n senior uitvoerende persoon van US oor ’n onverwante aangeleentheid. Nadat die saak ter tafel afgehandel was, het die persoon die taalkwessie aangehaal. Ek was aangenaam verras om te verneem dat hy Afrikaans as belangrik beskou, nie net in die belang van US se toekomstige akademiese prestasie nie, maar ook dat hy glo Afrikaans het ’n belangrike rol te speel in die lig van die taal se suksesvolle verlede, bewese bydrae tot US-sukses asook as taal vir die toekoms.

Hierdie uitsprake het my verwar. Gegee die onstuimige onlangse verlede tov die nuut-aanvaarde Taalbeleid aan US, het ek moeite gehad om die nuwe aanvaarde beleid met bogenoemde sentimente te vereenselwig. Dit het my genoop om die aanvaarde beleid weer in oёnskou te neem in ’n poging om die klaarblyklike verskille te probeer verstaan en seker te maak dat ek die saak openhartig hanteer.

Opinies soos hierdie is nie soos wiskunde of natuurwetenskappe met harde onweerlegbare feite nie, dit het gewoonlik ’n eie perspektief. In my geval is dit nie anders nie: ek het in 1968 aan ’n Afrikaanse skool in die Boland gematrikuleer. Ons het goeie Engels-onderrig gehad, maar dit was onomwonde ’n tweede taal en die gebruik daarvan senuagtig en is liefs vermy! Agv beursvoorwaardes moes ek aan die Universiteit Kaapstad gaan studeer en as Afrikaanse student was dit opdraande om tersiêrevlak-onderrig te moet ontvang in ’n tweede taal. Ten spyte van harde werk en ’n goeie sitvlak was dit ’n moeisame en akademies riskante oefening om die kennis baas te raak. Gelukkig kon ek in my tweede jaar as student by US inskryf en het daarna ook die geleentheid gehad om vir 35 jaar as uitvoerende departementshoof te dien en om as navorser en dosent te kon deelneem op lokale, nasionale en internasionale vlak. Boonop het ek drie kinders deur drie verskillende fakulteite aan die US gestuur en het dus ’n baie goeie bron van inligting oor wat werklik gebeur in die klas.

Wat is my perspektief?

“Ek is oortuig daarvan dat die marginale student wat onder die regte omstandighede sy universiteitsloopbaan suksesvol sou kon voltooi het en sodoende sy of haar lewe kon verander het, ’n realistiese risiko loop om te faal onder sulke omstandighede. Ek het dit sien gebeur.”

Eerstens, om vakonderrig op universiteit te ontvang in ’n sogenaamde tweede taal, maak die lewe moeilik. Ek is oortuig daarvan dat die marginale student wat onder die regte omstandighede sy universiteitsloopbaan suksesvol sou kon voltooi het en sodoende sy of haar lewe kon verander het, ’n realistiese risiko loop om te faal onder sulke omstandighede. Ek het dit sien gebeur.

Tweedens, in US se direkte omgewing is daar drie ander tersiêre instansies wat uitsluitlik in Engels onderrig gee (en nasionaal veel meer). Die student het ’n keuse. As hy of sy sou verkies om by US aan te sluit behoort die student te aanvaar dat hy of sy ewe veel in Afrikaans en Engels gaan onderrig word. Net so min as wat ek kon verwag dat UK moes aanpas vir my beperkte vermoё, net so min kan die student wie ’n keuse uitoefen, verwag dat US moet verander net omdat hy of sy hier opdaag.

Derdens, die Suid-Afrikaanse studentegemeenskap sluit die Afrikaanssprekende student in en Afrikaans het daarin geslaag om ’n onderrigtaal van formaat te word. Menige Afrikaanssprekende student het in die internasionale arena hulle merk kon maak. Afrikaans is nie onverenigbaar met akademiese prestasie nie; die teendeel is waarskynlik meer waar.

Die doel van hierdie skrywe was nie om die drywers (of die opvallende afwesigheid van rasionele drywers) vir die nuwe aanvaarde Taalbeleid aan US te bespreek nie. Ek was een van die lede wat uit die laaste Raadsvergadering gestap het, en in ’n brief aan Die Burger (24/6/2016) het ek dit duidelik gemaak dat ek myself ingebind voel tot meerderheidsbesluite (nie dat ek met die besluit saamgestem het nie), maar dat my uitstap uit die Raad was om sigbaar my beswaar te vestig oor die manier waarop hierdie proses gedryf is. Die geskiedenis tot daardie datum was opvallend jammer: die twee hofuitsprake strek US nie tot eer nie. (Die verslag van regter Howie, objektief en volledig gelees, is ’n aanklag teen US se korporatiewe bestuur ten spyte van die neiging om die verslag as verskoning te probeer interpreteer.) Sommige lede van die Raad het ’n besonder onbuigbare (en ondeurdagte) houding bly handhaaf, al was daar pogings om rasionele debat te probeer ontlok en die klaarblyklik negatiewe siening van die bydrae deur die Konvokasielede was opvallend. Jammer dat deelnemers aan die gesprek nie in gedagte gehou het dat die huidige student nog geen bydrae tot US se akademiese prestasie gemaak het nie (hulle beurt kom hopelik nog – huidig is hulle slegs kliënte), terwyl lede van die Konvokasie kumulatief ’n US help daarstel het waarin die huidige student graag deel. Die Studenteraad is deur 17,7% van die studentepopulasie verkies en die wanverhouding tussen hulle meetbare mandaat en luidrugtige stemme is opvallend. Dit is soms nodig om die seepkissie met ’n sentimeter of wat te laat sak in die realistiese wêreld.

Die bykans tasbare afkeer van AfriForum se bedrywigheid het ewe gepla. Gemeet aan die matige opinie teenoor die gedrag van studente wie klasse onderbreek en die omgewing beskadig het, synde dat “mens moet hulle frustrasie verstaan”, is die houding teenoor AfriForum, wie net geordende prosesse probeer volg om hulle siening ook te laat hoor, baie onvanpas en bevooroordeeld.

Die US Statuut bepaal dat die Raad onder andere beleid bepaal. Die term “beleid” word gedefinieer as “’n program waarvolgens iemand of ’n groep besluit het hulle gaan optree” of “’n program wat die beginsels van ’n groep bevat”. Om beleid afhanklik te maak van ’n ander (opsionele) item of items, is verkeerde volgorde en ’n resep vir chaos en swak dissipline. In die konteks van die taalgesprek hou hierdie manier van optree ’n risiko vir Afrikaans as akademiese taal in (dus ’n ernstige beginselpunt). Dit was juis een van die besware, naamlik dat die Raad, wie die beleid moes maak, gekonfronteer was met ’n finale program (vol onsekerhede). Daar was ’n poging tot beleidsbepaling so halfpad deur die proses, wat, vir alle praktiese doeleindes, reeds in sy finale vorm geskryf was. Die manier van doen het die US Raad gereduseer tot ’n rubberstempel van komiteebesluite en gedwonge aanvaarding van besonderhede voordat beleid deurdink was. As dit nie was dat die Statuut ’n Raad vereis het nie, kan die Raad waarskynlik eerder ontbind word.

In die rasionele wêreld word beleid bepaal nadat insette bekom en deurdink is. Die speelveld word omlyn en goeie orde laat nie toe dat die spel oor ’n ongedefinieerde ruimte gespeel word en die veld dan aangepas word soos die spel aangaan nie. Nadat die beleid vasgemaak is, kan die besonderhede van implementering ontwikkel word en gereeld getoets word teen die beleid as beginsel, en verder, as die beleid een of ander beginselpunt vasmaak, dan word die besonderhede so aangepas en begroot om die beginsel te maak werk.

Die een tasbare punt in die beleid van die Raad was dat geen student uitgesluit word nie (my parafrasering van die beginsel van die Raad van 30 November 2015). Soos ek egter sal aantoon, maak die aanvaarde Taaldokument hierdie diktum klaarblyklik van toepassing op die Engelse student en het dit slegs gekwalifiseerde toepassing vir die Afrikaanse student. Daar is by geleentheid op gewys (deur die proponent van die aanvaarde beleid) dat die Afrikaanse student gewoonlik Engels kan volg en dat dit die wanbalans in die implementering van die Raad se kernbesluit regverdig. Die feitelike data komende van die kundiges (sien Fedsas: Kommentaar op voorgestelde taalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch 22 April 2016) tov die aantal Afrikaansmedium-skole, veral in sekere streke, is klaarblyklik nie ernstig oorweeg nie (soos ongelukkig ook die publiek se bydraes tot die voorsgestelde plan – mens wonder hoekom vir bydraes gevra is?).

Om my eie teenkanting teen die aanvaarde US Taalplan te toets, veral in die lig van die senior amptenare se uitsprake versus die Taalplan soos nou aanvaar, het ek die Taalplan weer in oёnskou geneem. Opsommend gaan my kommer oor twee aspekte: die uitvoerbaarheid, dws die praktiese haalbaarheid, en die toesig oor die Taalplan. Omdat die drywers vir die plan in ieder geval nie duidelik verwoord is nie, help dit nie om daaroor verder te spekuleer nie.

 

  1. Die praktiese besonderhede

Hier onder is uittreksels uit die aanvaarde Taalplan (ek haal dit in isolasie aan en is van mening die res van die dokument verander nie die konteks van die geïsoleerde aanhaling nie).

7.1.1   Afrikaans en Engels is die US se tale van leer en onderrig. Die US ondersteun die akademiese gebruik van hierdie tale deur ’n kombinasie van gefasiliteerde leergeleenthede vir studente, wat insluit lesings, tutoriale en praktika, sowel as leerondersteuning wat deur middel van inligting en kommunikasietegnologie gefasiliteer word.

7.1.2   Voorgraadse modules word aangebied deur enige van die maatreёls wat in 7.1.3, 7.1.4 en 7.1.5 hieronder uiteengesit word.

7.1.3   Vir voorgraadse modules waar dit redelikwys  uitvoerbaar en pedagogies verantwoordbaar is om meer as een klasgroep te hê, geld die volgende:

7.1.3.1  Daar is aparte lesings in Afrikaans en Engels.

7.1.3.2  Leergeleenthede soos groepwerk, opdragte, tutoriale en praktika waarby studente van albei taalgroepe betrek word, word gebruik om integrasie binne programme te bevorder.

7.1.3.3  Studente word in sowel Afrikaans as Engels ondersteun gedurende ’n kombinasie van toepaslike, gefasiliteerde leergeleenthede (byvoorbeeld konsultasies in kantoortyd of geskeduleerde tutoriale en praktika).

7.1.4   Gedurende voorgraadse modules waar sowel Afrikaans en Engels in dieselfde klasgroep gebruik word, is die kombinasie van gefasiliteerde leergeleenthede soos volg:

7.1.4.1 Gedurende elke lesing word alle inligting in ten minste Engels oorgedra, en word opsommings of beklemtoning van inhoud ook in Afrikaans voorsien. Vrae in Afrikaans of Engels word ten minste in die taal van die vraag beantwoord.

7.1.4.2 Studente word in Afrikaans en Engels ondersteun gedurende ’n kombinasie van toepaslike, gefasiliteerde leergeleenthede (byvoorbeeld konsultasies in kantoortyd, of geskeduleerde tutoriale en praktika).

7.1.4.3 Vir die eerstejaarmodules stel US gedurende elke lesing intydse tolking beskikbaar. Gedurende die tweede en daaropvolgende studiejare stel US intydse tolking op versoek van die fakulteit beskikbaar indien die studente se behoeftes die diens regverdig en US oor die hulpbronne beskik om dit te voorsien. Indien 2 weke verloop sonder dat enige student van die tolkdiens gebruik maak, kan dit gestaak word.

7.1.5   In die volgende gevalle sal lesings in slegs een taal aangebied word:

7.1.5.1 Waar die aard van die leerstof in die module dit regverdig, byvoorbeeld as die module oor die taal self handel.

7.1.5.2 Waar die toegewese dosent in slegs Afrikaans of slegs Engelse onderrig vaardig is. In hierdie modules word bykomende steun voorsien:

(a)      Indien die lesings in Afrikaans is, stel die US intydse tolking in Engels beskikbaar. Indien die lesing in die eerstejaarmodules in Engels is, stel die US intydse tolking beskikbaar. Indien twee weke verloop sonder dat enige student van die tolkdiens gebruik maak, kan dit gestaak word.

(b)      Benewens lesings, is daar toepaslike, gefasiliteerde leergeleenthede (byvoorbeeld konsultasies in kantoortyd, of geskeduleerde tutoriale en praktika) in Afrikaans en Engels.

7.1.5.3 Waar alle studente in die klasgroep deur middel van ’n geheime stembrief daartoe instem, sal die module in slegs Afrikaans of Engels aangebied word, mits die betrokke onderrigassistent die nodige taalvaardigheid het en instem om dit te doen.

 

  1. Monitering en toesig

Hierdie aspek word in paragraaf 8 van die Taalplan oor 2 bladsye opgesom. Die fakulteite, studenteraad en verantwoordelikheidsentra lê verslae voor aan die Bestuur. Die bestuur berei ’n verslag voor vir die Senaat en die fakulteite doen kwartaalliks verslag oor die nakoming van die beleid. ’n Fakulteitstudentekomitee monitor die nakoming deur middel van die klasvoorsitters. Studente wie besware het, moet klagtes indien soos bepaal deur die fakulteit se prosedures, of by die betrokke personeellid, departementele voorsitter, departementshoof en dan dekaan. Daarna kan dit na die US Studentebelangeraad en Akademiese Beplanningskomitee verwys word en dan na die Senaat (!). As hierdie strukture nie gepas is nie, kan dit aan die ombud voorgelê word.

My siening van die dokument en die haalbaarheid van die beoogde plan

  1. Die algemene vertrekpunt (7.1.1) is bemoedigend en strook met die persverklaring en my indruk van persoonlike gesprekke. Die bedoeling is klaarblyklik goed, naamlik dat beide Afrikaans en Engels tale van onderrig is.
  1. In wese maak paragraaf 7.1.3.1 voorsiening vir parallelmediumonderrig. Dit is nog altyd as ’n pluspunt gesien.
  1. Die “pedagogies verantwoordbare” drempel (7.1.3) is redelik. Ek vermoed dat Shakespeare in Engelseliteratuurstudie in Engels en NP Van Wyk Louw in Afrikaanseliteratuurstudie in Afrikaans aangebied word. Dit moet op gelet word dat van die onderwyskenners by herhaling daarop gewys het dat dit ewe pedagogies verantwoordelik is om ’n student in eie moedertaal te onderrig.
  1. Maar wat gebeur as die klousule “nie redelikerwys uitvoerbaar nie” van toepassing word (7.1.3)? Op ’n spesifieke navraag hierna is aangedui dat die klas dan in Engels aangebied word soos 7.1.4.1. Dus is deel van die essensie van die parallelmediumklousule tot ’n groter mate rondom die praktiese uitvoerbaarheid daarvan gesentreer.

Verder, wie besluit dit is nie “redelikerwys uitvoerbaar” nie en wat sal as geldige verskoning kan en mag dien? Hierdie oop benadering skep die moontlikheid dat van die besluitnemers hulle persoonlike vooroordeel forseer sonder om dit te hoef te verduidelik, want dit sal nie as ’n afwyking gesien word nie (dit is dan so bepaal in die plan) en derhalwe is dit, volgens die rapporteringsmeganisme, nie nodig om dit te verantwoord nie.

Hier is ’n voorbeeld van waar beleid ondergeskik gemaak word aan opsionele veranderlikes. Prosesmatig ’n resep vir misbruik en verwarring. Geloofwaardigheid en dissipline is noodsaaklik as beleid afhanklik wil gemaak word van opsionele besluite en ek is van opinie dat daar, in die onderhawige taalproses, bykans geen geloofwaardigheid oor is nie. Daar is meer as een voorbeeld (in die taaldebat) van waar prosesse nie gevolg is nie, reёls geïgnoreer is en US nie gehou het by sy eie spelreёls nie. Die swak voorbeeld wat US in hierdie verband gestel het, skep die verwagting by fakulteite en individue dat daar nie opgetree sal (of kan) word as die opsionele items geaktiveer word sonder afdoende redes nie (die redes is in ieder geval nie gestipuleer nie en laat dan ongedefinieerde diskresie toe).

  1. Die konsep van taalintegrasie is belangrik en nodig (7.1.3.2). ’n Multitaalomgewing waar Afrikaans ’n ewe staanplek sou behou, is wat ek graag wou sien. Daar word verwys na “ondersteun” (7.1.3.3, 7.1.4.2), “integrasie” (7.1.3.2), “vrae word ten minste in die taal van die vraag beantwoord” (7.1.4.1) “opsomming of beklemtoning van inhoud word ook in Afrikaans voorsien” (7.1.4.1).

Vir die parallelle onderrig (7.1.3) en Engelse aanbod met Afrikaanse toegif (7.1.4) kan die beoogde Taalplan werk slegs as enkele voorwaardes nagekom word:

Die dosent moet (redelik) tweetalig wees. (Dit is van geen waarde om ’n saak te probeer bou op die buitelandse kundige wat by US klasgee nie. US het nog altyd in so ’n geval Engels gebruik om die besoeker te akkommodeer. Ook nie minder as goeie maniere nie en word ondervang in 7.5.1.2.) Indien die dosent nie redelik tweetalig is nie, hoe kan hy of sy “ondersteun”, “integreer”, “opsomming en beklemtoning” verskaf en “vrae in die taal van die vraesteller” beantwoord?

Hou egter in gedagte dat die onlangse advertensie vir die Studentedekaan se taalvereiste so geskryf was dat hy of sy nie Afrikaans hóéf magtig te wees nie (terwyl meer as 50% van die studente wel Afrikaans as huistaal opgee en ’n betekenisvolle getal versoek het om in Afrikaans onderrig te ontvang). Daar is volstrek (en met werklik sinlose redes) teen enige verandering van hierdie vereiste/aanbeveling geargumenteer deur sommige lede van die Raad. Dus: die intensie is dat ’n senior studentgeoriënteerde aanstelling nie Afrikaans magtig hoef te wees nie. Behalwe dat dit ’n vraagteken plaas oor die onlangse uitsprake van die senior US-bestuur, is hierdie benadering onverenigbaar met die algemene idee van taalintegrasie, want hoe kan ’n eentalige persoon studente “ondersteun” en die interaksie “fasiliteer”? Dit is ewe onduidelik hoe die student ten minste in die taal van die vraag beantwoord sal word (sien 7.1.4.1).

Hierdie kommer moet gesien word teen die opsionele en oneweredige verspreiding van tolkdienste. Tolkdienste sal in die eerste jaar beskikbaar wees (7.1.4.3.) Daarna is dit weer opsioneel en hierdie hulpbrondrempel is waarskynlik die agterdeur om dit nie deurlopend in posisie te hê nie. Natuurlik: as dit deurlopend beskikbaar sou wees, dan kan die kern van klousule 7.1.4.1 met reg bevraagteken word en kan lesings in Afrikaans wees met Engelse tolking. Logika dikteer dat die Taalplan nie deurlopende tolking kan toelaat nie, want dit bevraagteken met reg die legitimiteit van “lesings word ten minste in Engels oorgedra” (7.1.4.1).

Hoe dan gemaak as die dosent nie kan (of nie wil) Afrikaans verstaan of praat nie? Dan kan die Raad se diktum dat geen student uitgesluit mag word nie, in ieder geval nie volledig nagekom word nie. Die Raad het nie aangedui dat sommige uitgesluit kan word nie – die klem het herhaaldelik geval op “geen”. Inderwaarheid was die besluit van 30 November 2015 eksplisiet dat die vereiste vir beide Afrikaanse en Engelse studente geld. Dit sal nie haalbaar wees as die dosent nie funksioneel tweetalig is nie of daar nie effektiewe deurlopende tolking is nie.

Die huidige posisie is dat as ’n student sou Afrikaans praat in vraetyd, ’n tutoriaal of groepinteraksie, daar periodiek, en meestal moedswillig, beweer word “I do not understand Afrikaans”. Daar is ’n persepsie dat die dosent móét oorslaan na Engels. Die feit dat dit verkeerd en onreёlmatig is, word nie beklemtoon nie, want dit sou die onus plaas op die toesighoudende instansie om op te tree in gevalle waar óf personeel óf student oortree. Die flenters geloofwaardigheid en geskiedenis van die taalsage maak dit onwaarskynlik dat hierdie verkeerde indruk korrigeer sal word en teen opgetree sal word. In ieder geval, daar is genoeg ontsnaproetes in die newelagtige dokument om oortredings te (probeer) verdedig.

Uit die voorgaande punte behoort dit duidelik te wees dat die beleid onduidelik en selfs onuitvoerbaar is. As hierdie siening reg is, sal dit progressief in die hande speel van ’n Engels-alleen-aanbod oor tyd.

“Uit die voorgaande punte behoort dit duidelik te wees dat die beleid onduidelik en selfs onuitvoerbaar is. As hierdie siening reg is, sal dit progressief in die hande speel van ’n Engels-alleen-aanbod oor tyd.”

Die Afrikaanssprekende dosent (en sommige Engelssprekende dosente) is baie maal bereid om die anderstalige student tegemoet te kom (soos dit selfs sonder beleid hoort), maar dieselfde kan nie van sommige Engelssprekende dosente gesê word nie. Dit is bloot te maklik om te sê “I cannot speak Afrikaans” (eintlik ’n eufemisme vir “ek wil nie Afrikaans praat nie”) en niks sal in ieder geval gebeur nie. Dieselfde halsstarrigheid kom by sommige studente voor en ek vermoed dit sal toeneem nadat die heilige vrees by universiteitbestuur ingeskerp is deur onlangse ongedissiplineerde en barbaarse gedrag op kampusse (wat klaarblyklik ’n drywer, of een van die drywers, is vir die huidige beleid).

Die beleid sou moes rekening gehou het met wat haalbaar en niehaalbaar is nie, soos die taalvaardigheid van dosente en die sinvolle rol van tolkdienste. Sodra al die veranderlikes korrek geïntegreer was in ’n deurdagte beleid, kon die besonderhede netjies en prakties uitvoerbaar, sonder opsionele drempels en die risiko van individuele voorkeur, ingevul gewees het.

  1. Een van die gesprekspunte by die Raad op 21 Mei 2016 was dat die dosent die klas aanbied in die taal waarin hy of sy die vaardigste is om sodoende die bes moontlike aanbieding te maak. Daar was nie teenstemme daarteen nie, maar dit is nie ondervang in die Taaldokument nie, want dit sou kwansuis “detail” wees en die Raad was besig met “beleid”.

Maar hoe is dit verenigbaar met die instruksie dat inligting ten minste in Engels oorgedra word? Daar is derhalwe die risiko dat studente soms ’n suboptimale aanbieding sal kry net om aan ’n twyfelagtige vereiste uitdrukking te gee.

  1. Die Raad se beleid dat geen student uitgesluit word nie, word opvallend skeef in hierdie klousule toegepas – asof die opsomming en/of beklemtoning voldoende is vir die Afrikaanse komponent in die klas. Die Afrikaanse student moet bykans met die krummels tevrede wees om redes wat tot vandag nog nie met feite gemotiveer kon word nie.
  1. Paragraaf 7.1.5.2 diskrimineer opvallend en bykans skelm teen die Afrikaanse student vanaf sy tweede jaar: die Afrikaanse student wie in die eerste jaar met ’n Engels-alleen-dosent te doen kry, sal die voordeel van tolking hê. Ditto vir die Engelse student wie met ’n Afrikaanse dosent te doen kry. Maar dit word van die Afrikaanse student verwag om binne die een jaar Engels vaardig te word om vaktaal baas te raak, aangesien tolking daarna verval. Die Engelse student word nie op dieselfde manier gepenaliseer nie, aangesien tolking beskikbaar bly. Hierdie is eenvoudig taaldiskriminasie. Maar wat veral pla, is die manier waarop dit gestel is, bykans of dit bedoel was om te mislei.
  1. Die Afrikaanse opsomming of beklemtoning: In een van die gesprekke is deur die voorstander van die dokument beweer dat as klasse in twee tale aangebied word, die student gedurende die Afrikaanse aanbieding uitstap (hierdie stelling is sonder feitebasis aangebied – bykans as ’n soort van dreigement). As die Afrikaanse opsomming aan die einde volg, neem ek aan sal dieselfde seker gebeur. Studente sal raserig en disrespekvol begin oppak en die Afrikaanse student wie vir sy toegif wag, sal nie die bietjie voordeel kry nie. As die Afrikaans aan die begin aangebied word, sal die Engelse student, volgens die opstellers se argument voor die Raad, opstaan en die klas verlaat (en waarskynlik weer US se omgewing bedreig).

Mens wonder of die opstellers van die dokument self by tye so angstig was om die onwerkbare te maak werk, dat hulle nie kon onthou wat alles kwytgeraak is nie. Die gevolg van hierdie voetwerk benadering is dat die sprekers hulleself weerspreek net omdat hulle nie die argument op ’n verweerbare feitebasis gebou het nie (want dan sal jy tog onthou wat jou posisie ’n uur gelede was !). Die alternatiewe verduideliking is dat hulle weier om oor die rand van die loopgraaf te kyk en te sien wat die werklike perspektief is of was. Bykans soos “moenie ’n goeie storie opneuk met korrekte feite nie”. Beide die moontlike verduidelikings (en daar mag dalk ander wees) is onvanpas vir ’n debat op hierdie vlak en veral oor ’n belangrike saak.

Dus kan aanvaar word dat die Afrikaanse beklemtoning en opsomming sal waarskynlik wegval. Tyd sal leer maar ek sal baie verbaas wees as dit ooit sal gebeur in die eerste plek.

  1. Tolking kán deur fakulteite aangevra word (7.1.4.3). Dus kan die toegang tot Afrikaans dikteer word deur ’n fakulteit se siening van taal ipv ’n oorkoepelende beleid. By minstens een fakulteit word die taalbeleid al vir jare geïgnoreer en moes daar by herhaling versoek word dat die bestuur hou by die ooreengekome reёls. Van die kollegas ignoreer die beleid tov lesings en daar was nog nooit gepoog om dit te korrigeer nie. Die klousule 7.1.4.3, soos vervat in die Taaldokument, voorveronderstel ’n korrekte gesindheid en institusionele dissipline om by beleid te hou, asook die bereidwilligheid van die korporatiewe bestuur om daadwerklik op te tree. Myns insiens kan daar nie op die voorvereistes gesteun word nie.

Beleid word nie van onder dikteer nie. Die maak van beleid verreken opinies en feite van verskillende oorde voordat dit vasgemaak word. Dan word dit afwaarts toegepas. Andersom is ’n resep vir toepassing van vooroordeel, polities-georiënteerde sienings van oa individue wat die universiteit se omgewing as private sosiale eksperiment sien.

  1. Paragraaf 7.1.5.2 (b) laat toe dat studente die taal dikteer. Vraag is, as net een student die alternatiewe taal versoek, en die dosent het eenvoudig nie lus vir die korrekte benadering nie en ignoreer die een student (die voorwaarde vereis “alle” en nie meerderheid nie), dan val die onus op die student om te kla. Daarvoor moet hy of sy die risikopad volg soos uiteengesit in paragraaf 8 van die dokument. Die verantwoordelikheid word op die student gelaai en moontlik tot sy/haar nadeel!

Meganismes van toesig en bestuur

  1. Die meganismes vir beswaar en toesig bestaan uit vele verslae en skriftelike aanduiding dat aan die beleid voldoen word. Die student wie benadeel word, kan nie anoniem kla nie, en sonder twyfel, gegee die gedrag van die opponente van Afrikaans, stel die Afrikaanse studente hulself bloot aan onregverdige kritiek en uitsondering.

Hierdie meganismes hou die risiko in om die “ons” versus “hulle” te versterk in plaas van te integreer.

In die poging om beleid (laat) te bepaal, is daar by die Raad ooreengekom dat daar ’n onafhanklike meganisme sou wees waar die student anoniem sou kon kla. Dit is geïgnoreer in die nuwe beleid. Stel jou voor dat ’n Afrikaanse student meen die dosent hou nie by die reёls nie: hy of sy moet dit bespreek met die dosent wie in die eerste plek die reёls oortree. Die anonimiteit is verlore en die student kan uitgesonder word vir negatiewe aandag. Dan moet die student die moeisame pad volg na die departementshoof, dekaan en nog wat. Enige persoon wie gedink het dat dit ’n haalbare manier is van beswaar vestig, was die kluts besonder erg kwyt. Inderwaarheid is dit so geskryf dat dit enige klagtes ontmoedig. Die oordrewe burokratiese benadering wat gevolg word, laat die leser sprakeloos. Hier is die Afrika-pad gevolg: gooi die probleem toe onder papier – of dit werk is ’n klein bysaak.

By die Raadsvergadering is gevra vir ’n onafhanklike enkele plek waar gekla kan word, maar dit is afgestem, want daar is gesê die klaer kan in elk geval by die (algemene) ombud kla, maar daar is afdoende rede om te vermoed dat die ombudstelsel nie na wense werk nie!

Dus, wat is my siening oor die klaarblyklike verwarring?

  1. Die bedoeling is, volgens gesprekke, goed, naamlik dat Afrikaans wel sy plek moet behou. Maar mens wonder dan noodwendig hoekom die aanvanklike voorstel dat Afrikaans en Engels as ewe hanteer word, so entoesiasties afgestem was? ’n Subtiele maar kommerwekkende vraag met die onsekerheid of die bedoelings wel so ydel is as wat beweer word.
  1. Die beleid wat aanvaar is, het veelvuldige praktiese probleme wat die haalbaarheid daarvan bykans onmoontlik maak. Maar meer as dit, die nodigheid om die reёls toe te pas word negeer deur verskeie opsies te laat vir ’n ieder en elk om te maak soos hulle goed dink. Optrede teen afvalliges vereis ruggraat en dit blyk nie op prioriteit te wees nie.
  1. As ek die bedoeling van die bestuur ter goeder trou aanvaar (wat ietwat van ’n onseker oefening is oor hierdie saak), dan is die probleem by die geskrewe beleid. Die dokument is newelagtig, baie woorde en wind, die meeste onnodig. Min harde feite en afwesigheid van samehangendheid en haalbaarheid.
  1. Die een aspek wat my besonder pla, veral op hierdie vlak, is die absolute onbereidwilligheid om te luister, te hoor en te ontmoet. Die graad van halsstarrigheid wat ek hier teengekom het, is uniek en dit kry groter betekenis as mens in gedagte hou dat die drywer agter die oefening, vir alle praktiese doeleindes, nie bestaan nie, die vele pogings tot regverdiging ten spyt.

As ek oor die rand van my loopgraaf loer, dan dink ek tog my besware was regverdig. Hier was ’n unieke geleentheid om twee wêrelde te verenig: ’n taal sy plek in die son sigbaar te gee (soos Breyten Breytenbach gevra het – ek parafraseer: “As dit nie by ’n universiteit kan gebeur nie, waar dan?”), studente te leer dat gee en neem deel van die proses is om samehorigheid en gesonde integrasie te vestig. Jammer dat die geleentheid nie konstruktief, haalbaar en regverdig gedoen is nie. Werklik ’n verlore geleentheid.

 

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

  • 6

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Ek het groot waardering vir die moeite wat Andre Coetzee gedoen het om rasioneel met hierdie saak om te gaan en vir sy gesonde benadering en insig. Ongelukkig is (die meerderheid in) die US-bestuur myns insiens glad nie te vinde vir rasionele oortuiging nie en het hulle ook daarin geslaag om die meerderheid in die US-raad op sleeptou te neem. Die resultaat is 'n toenemend Engelse US wat eerder wil verafrika en internasionaliseer as om Afrikaanssprekendes akademies diensbaar te wees.

    • Dis 'n jammerte dat mense nog steed nie verstaan, dat in 'n super-komplekse meertalige omgewing 'n rasionele benadering nie werkbaar is nie. Wat mens wel nodig het is 'n praktiese werkbare beleid wat in die gees van inklusiewiteit, buigsaamheid en die bevordering van toegang tot kennis vir almal in diens is. Mens se eie kinders kan nie as 'n maatstaaf gebruik word as opinie vorm deur te veralgemeen nie. Mens sonder ook nie gedeeltes van 'n beleid uit nie, dit moet as 'n geheel gelees word. Ek waardeer die eerlikheid waar daar hieroor geskryf word, maar sou enige student waarsku om noukeurig te kyk na hoe die skrywer staaf dat sy beweringe waar is. There is no claim to authority, nor a claim to logic. Thus, the warrants, the support and the backing thereof are speculative, and emotive. They fall outside of what a close reading of the entire policy would present. Inderdaad, dit leer ons dat ons argument veral in super-komplekse kontekse noukeurig na moet gaan. Anders gestel, sal gedeeltes van die beleid, wat in isolering van sy inleiding, sy meertalige konteks ens gelees word, nie sin maak nie.

      • Andre Coetzee

        Baie dankie vir die opinie. Ja, dit is onseker waarom daar nie 'n werkbare en ewewigtige plan kan wees nie. Dit is juis waarvoor baie pleit maar spesifiek sonder dat Afrikaans progressief en sonder rede verdring word.

        Die Taaldokument, in sy geheel gelees, doen niks aan die argument soos uiteengesit nie. Die doel was om die klaarblyklike verwarring te illustreer, dit is wat die opskrif juis uitwys nl "Taalverwarring". Die skrywer handel met die feite soos dit lees (en klaarblyklik nie op sy kinders se ervaring nie) en eis nie gesag nie, is eerder net onseker oor die intensie, metodiek en openhartigheid. Dit is inderdaad 'n komplekse onderwerp maar dit sou die oplossing beter gedien het as die dokument nie aanleiding gee tot (klaarblyklike) verdere verwarring nie.

  • Arnold van Dyk

    Uitmuntend beredeneer en uiteengesit om die tekortkominge van die US se Taalbeleid aan te toon! Dit het my ook oortuig dat daar 'n sweem van moedswilligheid openbaar word wat dit vir die Afrikaanse student moeilik maak om sy besware te lig indien die beleid diskriminerend of ongelyk toegepas word. Baie dankie vir die eerstehandse inligting en bespreking!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top