2016: die krisisjaar van Afrikaans

  • 14

‘n Afrikaanse toekomsvisie

Hermann Giliomee

Gaslesing by die openingsplegtigheid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Stellenbosch, Donderdag 6 Oktober 2016.

Hermann Giliomee (foto: Naomi Bruwer)

2016: die krisisjaar van Afrikaans

Die jaar 2016 is die jaar waarin, soos Jan Heunis SA dit stel, Afrikaans sy status as ‘n primêre taal van onderrig, naas Engels, ontneem is by al die universiteite waar dit nog gebruik is. By die Universiteit Stellenbosch het die Raad van die universiteit na ‘n bespreking van slegs twee uur ‘n voorstel dat gelykberegtiging tussen Afrikaans en Engels ingestel word, verwerp.

Soos Heunis dit tereg stel, is daar te midde van ‘n oorvloed Engelse universiteite geen morele of juridiese reg vir die marginalisering van Afrikaans nie. Tot dusver is hierdie ontwikkeling gelate deur die publiek, veral Afrikaanssprekendes, aanvaar ongeag die feit dat die universiteite hiermee, volgens Heunis, “die ereskuld [ontken] wat hulle teenoor Afrikaans en Afrikaanse mense het” (Rapport, 18 September 2016).

Die krisis van Afrikaanse onderrig is nie beperk tot die universiteite nie. Toe die US vroeër vanjaar sy taalbeleid hersien het, het Paul Colditz namens die Federasie van Suid-Afrikaanse Skoolbeheerliggame (Fedsas) ‘n memorandum by die universiteit ingedien. Fedsas verteenwoordig ongeveer 2 000 Afrikaanse skole landwyd. Al hierdie skole het ‘n groot belang by die voertaalbeleid van die US. Soos die Fedsas-memorandum dit stel, benodig hierdie skole goed-opgeleide onderwysers wat in die behoefte aan moedertaalonderrig kan voorsien. Die US en minstens een noordelike universiteit het ‘n verantwoordelikheid om in hierdie behoefte te voorsien.

Dit is nie vergesog om te sê dat indien ons nie vir Afrikaans ‘n vaste, volhoubare en volwaardige plek op hoërskole en op twee of drie universiteite kan verseker nie, Afrikaans geen langertermyn-toekoms as literêre, wetenskaps- en professionele taal het nie. Indien hofuitsprake nie die beleid omkeer nie, sal Afrikaans as openbare taal krepeer en mettertyd verdwyn. Die wesenlike oorsake hiervan sal teruggevoer kan word na besluite wat universiteitsrade en -besture tussen 1994 en 2016 geneem het.

Mites oor tweetalige instellings

In 1994 het Lawrence Schlemmer, die voorste taalsosioloog in Suid-Afrika, geskryf dat hoewel Afrikaans deur net 15 persent van die bevolking as eerste taal gepraat word, dit die sterkste taal in Suid-Afrika is in die wyse waarop dit formeel en informeel gebesig word. Ek het later saam met Schlemmer twee boeke oor die voertaalkwessie in Suid-Afrika geskryf.[i]

Ons het al die universiteite besoek waar Afrikaans gedoseer is, en sover ons kon agterkom het weinig mense op die kampusse die lesse geleer van die manier waarop kleiner tale in Europa die sterk aanslag van Engels die hoof gebied het.

Ons indruk was dat die Afrikaners in die nuwe grondwetlike bedeling totaal onvoorbereid was vir die aanslag wat Afrikaans sou tref. Miskien is Afrikaanssprekendes gesus deur Nelson Mandela se gerusstellende woorde oor Afrikaans; miskien het ons gedink Afrikaans is sterk genoeg om al die aanslae te oorleef.

Met die uitsondering van Potchefstroom, wat tolkdienste ingestel het, het al hierdie universiteite dubbelmedium (twee voertale in een klas), of parallelmedium (aparte strome) gebruik.

Die US het die sogenaamde Tweetalige Opsie gebruik, sonder om taalvaardigheid in Afrikaans as ‘n vereiste te stel. Vir diegene in die US-raad of -bestuur wat heimlik verengelsing nagestreef het – en daar was sekerlik sulke mense – was dit die perfekte metode om die proses van verengelsing te kamoefleer. Hulle was vasbeslote om die indruk te skep dat dit die studente is wat spontaan Engels as voertaal kies.

Dit was ‘n verlore stryd om hierdie mense te oorreed om ag te slaan op die lesse wat geleer is in Kanada, waar die Frans-Kanadese teen Engelse oorheersing gestry het, of dié in Wes-Europa, waar die stryd teen Engelse oorheersing was, en dié in Oos-Europa, waar die stryd teen Russiese oorheersing was.

Jean Laponce, die bekende Frans-Kanadese taalsosioloog, het dit in sy boek Languages and Territories (1987) duidelik gestel: sowel dubbelmedium as parallelmedium verteenwoordig net ‘n oorgangsfase in die uitwissing van die kleiner taal. Dieselfde mening word gehuldig deur Francois Grin, ‘n Franssprekende Switser wat ‘n senior taaladviseur vir die Europese Gemeenskap is.

Sowel Laponce as Grin het in hul onderskeie boeke, artikels en mededelings aan my sekere krities belangrike waarnemings oor taalstryde gemaak.

  • Akademici in die algemeen streef hul eie belange na.

Met verwysing na die taalbeleid van die Universiteit van Strassbourg in Switserland het Grin gesê die universiteit volg al baie jare ‘n beleid van gelyke behandeling vir Duits en Frans, maar as die dosente ‘n deurslaggewende sê sou hê, sou die universiteit gou oorslaan na Engels as voertaal. Al wat dit verhinder, is die politieke stelsel van Switserland waar die kiesers in die onderskeie kantons groot druk op die onderskeie partye kan plaas om nie toe te laat dat die voertaalbeleid verander word nie.

In Suid-Afrika sal baie akademici jammer voel as Afrikaans eers as voertaal en later as openbare taal uitgerangeer gaan word, maar hul vrees vir parallelmediumklasse, waarvoor hulle nie ekstra vergoed sal word nie, is veel groter.

  • Grin het gesê hy weet van geen universiteit in Europa wat ‘n fakulteit toelaat om sy eie voertaalbeleid te kies en te bestuur nie.

‘n Toegewing aan bepaalde fakulteite om Engels as voertaal te gebruik is die dood in die pot. Geen universiteit behoort besluite oor die taalbeleid na fakulteite af te wentel nie.

  • Daar is geen plaasvervanging vir die verpligting van sowel dosente as studente om taalvaardig te word nie, en ook geen alternatief vir ‘n meganisme wat studente in staat stel om sonder die vrees van viktimisering te kla indien dosente nie die voertaalbeleid uitvoer nie.

Die US het sedert 1994 ‘n beleid gevolg van “taalvriendelikheid”, waarvolgens studente wat nie baie vaardig in Afrikaans was nie, steeds welkom moes voel. Die groot begunstigdes was nie die meeste bruin of swart studente nie, maar wit Engelssprekendes wat van transformasie by die eens liberale kampusse gevlug het. Swartes het parallelmedium verkies en so ook daardie bruin studente wat Afrikaansmedium op skool gehad het. Afrikaanssprekende bruin studente (ongeveer die helfte van die getal wat ingeskryf het) sou veel beter met Afrikaans as voertaal gevaar het.

Tussen 1995 en 2015 het Engelse getalle op die US van oor die 3 000 (20% van die totaal) tot 15 000 (44%) gegroei. Van die kategorie Engelssprekende studente was meer as 90% wit. Die Afrikaanse studentegetal het in hierdie jare in 'n band tussen 11 000 en 13 300 beweeg. Die oorheersende indruk is dat die US eenvoudig oorweldig is deur die viervoudige vermeerdering van wit Engelse studente tussen 1995 en 2015. Die bestuur het in hul regverdigings vir die toenemende gebruik van Engels steeds die terminologie van transformasie gebruik.

Vanjaar het dit geblyk dat ongeveer een vyfde van die dosente nie in staat is om in Afrikaans klas te gee nie. ‘n Groot deel van Engelssprekende studente wou of kon nie vaardig in Afrikaans raak nie. Soos RW Johnson in beëdigde verklarings in hofstukke aandui, skiet die opnames wat die universiteit laat doen het om taalvoorkeure te toets, metodologies ernstig te kort.

Die US-raad moet hiervoor verantwoordelikheid aanvaar. Dit het besluite oor voertaal aan die bestuur oorgelaat, wat dit op sy beurt na fakulteitsvlak afgewentel het. En omdat dekane van tyd tot tyd herkies moet word, het verskeie dekane al meer Engels toegelaat. Engels het al groter bresse geslaan, maar niemand – ook nie die Raad nie – wou verantwoordelikheid aanvaar nie.

Die lede van die bestuur en doserende personeel wat op Engelsmedium aangedring het, het steeds aangevoer dat dit die studente is wat vir die vervanging van Afrikaans verantwoordelik is, omdat hulle kwansuis Engels spontaan verkies het.

Die werklikheid is egter dat die universiteit se eie taalbeleid op verengelsing afgestuur het. Reeds in 2006, ‘n skrale 12 jaar na die oorgang na ‘n nuwe grondwetlike bedeling, het Jean Laponce, die Frans-Kanadese gesaghebbende oor taalvervanging, so aan my geskryf nadat ek hom ingelig het oor die US se beleid van “spontane taalvriendelikheid”, waarin die opsie van twee voertale in een klas sentraal gestaan het en waarin geen vereiste vir vaardigheid in Afrikaans gestel is nie: “The system is to the eventual advantage of English, Afrikaans being retained as a mere decoration.”[ii]

Die taalsosioloog Philippe van Parijs, ‘n Franssprekende Belg, het in die konteks van die taalstryd in Europa sterk standpunt teen die sogenaamde “spontaneous tendency” ingeneem. Hy het ‘n “wet”, wat Laponce oorspronklik geformuleer het, aangehaal.: “The nicer people are to each other the more savage the fight between languages.” Hy het gewaarsku teen die “deadly collaboration with the ‘spontaneous tendency’”. As sprekers van ‘n minderheidstaal erns met die oorlewing van hul taal wou maak, moes hulle dwangmaatreëls geredelik aanvaar.[iii]

Charles Taylor, ‘n hooggerekende Engels-Kanadese filosoof, het oortuigend geargumenteer dat ‘n taalstryd nie daaroor gaan om die kleiner taal bloot as ‘n opsie langs Engels beskikbaar te stel vir skoliere en studente wat dit wil gebruik nie. Enige deurdagte beleid moet, volgens Taylor, daarop ingestel wees om toekomstige lede van ‘n taalgemeenskap te werf wie se lede daarop sal aandring dat die taal steeds in openbare instellings gebruik word. Elke generasie van gebruikers van ‘n kleiner taal moet dus aan die taalgemeenskap van die toekoms werk. Die uitgangspunt van regerings en universiteitsrade moet wees dat moedertaalonderrig by sekere skole en universiteite beskikbaar moet bly.[iv]

Tot ongeveer 2008 het Afrikaans aan die US nog weerstand teen snelle verengelsing gebied. In hierdie jaar het Lawrence Schlemmer sy verslag van ‘n meningsopname oor Stellenbosse studente oor voorkeure oor voertaalbeleid uitgebring. Dit bly die enigste wetenskaplike opname wat deur ‘n onafhanklike instansie gedoen is en wat in opdrag van die US-raad uitgevoer is. Die verslag het bevind dat meer as 80% van die Afrikaanse studente, saam met 40% van die Engelssprekende studente, primêr Afrikaanse onderrig verlang.

Die groot golf van Engelstalige studente en dosente wat nie Afrikaans magtig is nie, het egter die damwal laat breek. In 2014 het die US-raad besluit om Afrikaans en Engels as voertale en kommunikasietale op gelyke voet te plaas. Vanjaar het die US besluit om Engels die dominante voer- en kommunikasietaal taal te maak. Afrikaansmedium sou nog in beperkte mate aangewend word, maar slegs indien daar aanvraag daarna is. Die gevolg van hierdie beleid is voorspelbaar.

Een of twee Stellenbosse dosente het in briewe aan Die Burger verklaar dat daar min steun, ook onder Afrikaanse studente, vir Afrikaanse onderrig is. Daar is egter geen geval bekend van so ‘n grondverskuiwing binne agt jaar oor taalvoorkeure behalwe na ‘n verplettende nederlaag in ‘n oorlog nie.

Teen hierdie somber agtergrond wil ek oor my toekomsvisie vir Afrikaans praat.

  1. Die eerste element van my toekomsvisie is dat Afrikaansmediumskole, veral Afrikaans-enkelmediumskole, sterk sal bly staan en dat ‘n behoorlike fonds wat etlike miljoene rande sterk is, tot stand sal kom om die waarde van moedertaalonderwys op sowel skool- as universiteitsvlak by alle gemeenskappe tuis te bring, beurse beskikbaar te stel, en ouers aan te moedig om moedertaalinstellings op alle vlakke te ondersteun.

Daar is altesaam driekwartmiljoen Afrikaanse leerders in die openbare stelsel betrokke by Afrikaanse skole. Van die ongeveer halfmiljoen wit Afrikaanse leerders is 51% in enkelmediumskole, 34% in parallelmediumskole en 15% in Engelse skole.

Afrikaanse skole wat voorheen Model C-skole was (dit wil sê oorwegend wit is), vaar goed.[v] In sewe van die nege provinsies waar die Suid-Afrikaanse Onderwysunie ‘n sterk teenwoordigheid onder onderwysers het, het meer as 94% van die kandidate graad 12 geslaag, teenoor ‘n syfer van gemiddeld 70% vir alle skole. Vyf top Afrikaanse skole lewer ‘n derde van die onderskeidings in wiskunde.

Van die bruin leerders is daar 281 000 (ongeveer 40%) in Afrikaanse enkelmediumskole. ‘n Verdere 10% is in die Afrikaanse klasse van ‘n parallelmediumskool en ‘n volle 51% in Engelsmediumskole. Ongetwyfeld het die feit dat meer as die helfte van bruin Afrikaanse leerders nie moedertaalonderwys ontvang nie, baie daarmee te doen dat hulle akademies relatief swak vaar.

Bruin Afrikaanssprekendes is die groep met die laagste deelname aan universiteitsonderrig. Van alle studente is die uitvalsyfer aan die einde van die eerste jaar die hoogste by bruin studente (34%). Dit kan vergelyk word met 24% vir swart studente. As drie- en vierjaargrade saamgevoeg word, is bruin studente se uitvalsyfer so hoog as 39%.

Gedurende die laat 1980’s het die groeiende getalle swart studente aan die Universiteit van Wes-Kaapland daartoe gelei dat Engels Afrikaans as onderrigtaal vervang het. Die beperkte taalvaardigheid van bruin studente in Engels het veroorsaak dat hulle prestasies merkbaar verswak het.

Daar is dikwels uitsprake van swart studente dat wit studente goed presteer omdat hulle bevoordeel word. Die "Child Gauge"-verslag van die Universiteit Kaapstad toon dat dit hoofsaaklik die feit is dat Engels soms die derde taal van swart leerders is wat daartoe lei dat hulle teen die einde van die "sekondêre skoolfase minstens vyf jaar agter hulle bevoorregte eweknieë is".

Die swart en bruin agterstand sal uitgewis word slegs indien onderwys en universiteitsonderrig in die moedertaal beskikbaargestel word.

  1. Die tweede element van my toekomsvisie is dat daar naas die klem op die pedagogiese waarde van moedertaalonderrig ook ‘n filosofiese argument oor Afrikaanse onderrig op alle vlakke ontwikkel word. Daar moet ‘n betekenisvolle lewensbeskoulike alternatief vir die liberale en radikale benaderings tot die verstaan van die geskiedenis en die wêreld van vandag uitgebou word.

In 1917, ‘n jaar voor die Universiteit Stellenbosch sy deure vir die eerste keer oopgemaak het, het JFW Grosskopf ‘n merkwaardige artikel in Het Gedenkboek van Victoria Kollege gepubliseer. Sy toekomsvisie vir die nuwe universiteit is vandag van nog net soveel aktuele belang.

Grosskopf se vraag was: Moet die universiteit geleerdheid net so van oorsee oorneem? Die wetenskap is immers internasionaal – waarom nog die moeite doen om ’n nasionale universiteit tot stand te bring?

Grosskopf gee dan ‘n antwoord in terme wat vandag net so gebruik kan word.

Enige universiteit, het hy geskryf, probeer in die beste sin van die woord internasionaal te wees en in voeling met die algemene kultuurerfenis van die wêreld. Dit moet egter terselfdertyd waak teen enige poging om die internasionale en universele tot die hoogste goed te verhef.

Baie keer is internasionalisme bloot ‘n dekmantel vir die bepaalde belange van sekere groot moondhede of konstellasies van state soos die Britse Ryk destyds of die belange van globalisme gedrewe deur die VSA in ons eie tyd.

Grosskopf haal goedkeurend vir J Kamp, ‘n Hollandssprekende professor op Potchefstrooom, aan: “Hoe universeel in ‘n sekere sin die wetenskap ook mag wees, [staan] dit nietemin [vas] dat elke volk of kultuurgemeenskap sy eie waarheid en wysheid moet vind.”

In 1994, amper 80 jaar later, het Kole Omotoso, ‘n Nigeriese intellektueel wat aan Suid-Afrikaanse universiteite klasgegee het, dieselfde gesê: “If the Afrikaners needed a new language that could make the Western influence on the one hand and their African experience, on the other, intelligible, why would Africans think that they could have the same experience in the language of Europe alone, without domesticating that thought in African languages?”[vi]

Ons kan die onvertaalbaarheid na Engels van sekere Afrikaanse konsepte goed illustreer met die konsep volk wat sentraal in ons geskiedenis staan. Daar het pas ‘n boek verskyn deur die belowende jong Australiese historikus Jamie Miller. Die titel is An African Volk: The apartheid regime and the search for survival. “Volk” is, soos ons weet, onvertaalbaar.

In onlangse tye het die werk van Anna Wierzbicka, Imprisoned in English: The hazards of English as a default language (Oxford UP, 2014), baie aandag getrek. Sy is ’n Pools-gebore akademikus wat aan ‘n Australiese universiteit verbonde is. Die sentrale boodskap van haar boek is die volgende:

The goal of this book is to try to convince speakers of English, including Anglophone scholars in the humanities and social sciences, that while English is a language of global significance, it is not a neutral instrument or one that, unlike other languages, carves nature at its joints; and that if this is not recognised English can at times become a conceptual prison. (bl 4)

Dit gaan nie net oor voertaal nie maar ook oor die unieke van die Afrikaanse geskiedenis en lewensbeskouing wat in die wetenskap en veral in die geesteswetenskappe oorgedra moet word.

Daar word soms gesê dat Afrikaners die 20ste eeu se eerste suksesvolle vryheidsvegters was. Maar net so dramaties was die stryd na die oorlog teen die ideologie van Britse imperialisme, wat tot die Tweede Wêreldoorlog seker die mees selfversekerde en die mees selfingenome imperialisme was wat nog bestaan het.

CW de Kiewiet, die ster in Suid-Afrika se liberale geskiedskrywing, het ‘n History of South Africa geskryf wat in 1941 gepubliseer is. In sy voorwoord het hy geskryf dat Suid-Afrika saam met ander “dominions” deel van ‘n Empire vorm wat “imperishable and timeless things” verteenwoordig.

De Kiewiet vervolg: “It (The Empire) is a spiritual achievement, with enduring qualities of spiritual achievements, whether in literature, art, science or in the relations of human beings on the face of the earth.”

In die 1930’s en 1940’s het Afrikaner-akademici teen hierdie Brits-gesentreerde wêreldbeskouing wat in Engels uitgedra is, in opstand gekom.

Op die gebied van regsgeleerdheid het JC de Wet van Stellenbosch op die voorpunt gestaan van akademici wat ander invloede as Britse invloede aangetoon het. De Wet het vir Suid-Afrikaanse regsgeleerdes die logika en die begrippe van die Romeins-Hollandse reg en die invloed van die Romeinse reg op Europese kodes in Afrikaans toeganklik gemaak. Sodoende het hy ‘n groot bydae gelewer om die Romeins-Hollandse beginsels in Suid-Afrika te verinheems. De Wet se projek in die regswetenskap was onafskeidbaar van sy projek om Afrikaans as volwaardige vaktaal te ontwikkel.[vii]

‘n Tydgenoot van De Wet op Stellenbosch was die historikus Piet van der Merwe, wat in laat ‘30’s en vroeë ‘40’s drie briljante boeke geskryf het oor die trekboere wat voor die Voortrekkers al dieper in die land in begin trek het.

In 1955 het die twee bande van Geskiedenis van Suid-Afrika verskyn. Hoewel sekere hoofstukke nie die standaard van wetenskaplike geskiedskrywing gehaal het nie en op plekke erg eensydig was, het verskeie ander hoofstukke ‘n betekenisvolle wetenskaplike bydrae gelewer wat betekenisvol van die liberale en radikale geskiedskrywing verskil.

Een van die belangrikste vrae in die geskiedskrywing is: Wat is die grootste krag wat mense en gemeenskappe dryf?

  • Word mense en gemeenskappe primêr deur materiële belange gedryf?
  • Of word hulle primêr aangevuur deur idees, of wat mens breedweg kultuur of kulturele oorwegings kan noem?
  • Of is dit ‘n kombinasie van die twee kragte?

Die oorgrote meerderheid Engelstalige historici hier, en ook in die Brits-Amerikaanse wêreld, sonder finansiële of breë materiële belange uit as dié deurslaggewende krag in die geskiedenis. Liberale historici beklemtoon individuele materiële belange, terwyl radikale historici klassebelange as die groot dryfkrag van die geskiedenis sien.

Afrikaanse historici kyk steeds betekenisvol anders na die verlede as die liberale of radikale historici. Daar is ‘n groter klem op kultuur as op materiële belange. Met “kultuur” word bedoel die subjektiewe persepsies van ‘n gemeenskap, die reëls waarmee ‘n gemeenskap sy lewe inrig, die manier waarop dit na die verlede en die toekoms kyk en die wyse waarop dit die wêreld verstaan. ‘n Kultuur is natuurlik nooit staties nie en dit sal as grondslag vir politieke mobilisasie nie ver kom as dit aan sy volgelinge nie ook materiële voordele bied nie.

Daar is by Afrikaanse historici ook ‘n groter bereidwilligheid om die samehang van materiële en kulturele kragte te verstaan. Ek glo vas ‘n historikus met ‘n Afrikaanse agtergrond sal anders as ‘n liberale of radikale historikus kyk na paternalisme in die slawetydperk, na die eise van voortbestaan in die grensgebied, na Britse imperialisme en die Anglo-Boereoorlog, na die hardvogtige vorm van kapitalisme van die eerste halfeeu van die vorige eeu, en na die radikale Afrikaner-volksbeweging tussen 1935 en 1975.

Dan is daar ook die “Afrikaanse filosofie”, om die frase te gebruik wat die titel van Pieter Duvenage se pas verskene boek vorm. Hy wys daarop dat die meeste van hierdie Afrikaanse filosowe voor die 1990’s na aan die apartheidsorde gestaan het. Maar daar was ook ‘n duidelike alternatiewe stem van figure soos Daantjie Oosthuizen, Martin Versfeld en Johan Degenaar wat afskeid van apartheid geneem het, maar dit op ‘n ander manier as die Engelssprekende filosowe gedoen het.

Degenaar het daarop gestaan dat die partikuliere in samehang met die universele bedink moet word. Hy het atomistiese liberalisme verwerp wat geargumenteer het dat politieke volwassenheid bereik kon word net deur Afrikanerskap te verwerp. Afrikaners kan liberaal word deur waardes in die gemeenskap uit te lig wat aan die norme van billikheid en moraliteit voldoen. Hy was een van die heel eerstes wat die ANC se oproep tot nasiebou verwerp het en in stede daarvan gevra het dat ‘n liberale vorm van demokrasie uitgebou moes word.

  1. Die derde element van my toekomsvisie is dat Afrikaanse mense ‘n goeie begrip het van hoe Afrikaans in die 20ste eeu gegroei het van ’n gewone spreektaal met lae status in die aanvangsjare tot wat teen die einde van die eeu in alle fasette van die lewe, insluitende die natuurwetenskappe en die nuutste tegnologiese ontwikkelinge, gebruik is. Daar is naas Afrikaans slegs drie ander tale wat in die 20ste eeu hierdie ontwikkelingsgang deurgemaak het.

In die nuwe staatkundige stelsel wat na 1994 ingestel is, het voorstanders toegang in Engels vir studente en dosente by alle universiteite as ‘n hoër waarde as die regte van Afrikaanssprekendes geag. Sandra Liebenberg, professor in menseregte op Stellenbosch, het geargumenteer (Mail & Guardian, 9–15 Oktober 2009) dat die staat maatreëls moet tref om die inheemse tale waarteen vroeër gediskrimineer is, te bevorder en vervolg dan: “No single language, particularly not a historically privileged language such as Afrikaans (my kursivering), can claim that it has an exclusive right to be used at a higher educational institution funded by the state”[viii]  

Sy blyk onbewus te wees van die grondwetlike akkoord van 1909 waarin die twee gemeenskappe hulle tot versoening verbind het op die grondslag van die aanvaarding, ook in die praktyk, van die gelykheid van die twee amptelike tale. Ek het nog nooit enige konkrete bewyse van hierdie bevoordeling voor 1990 gevind nie.

In die onderhandelinge vir ‘n tussentydse Grondwet in die vroeë 1990’s het onderwys en taalregte en die noodsaak van kultuuroordrag nie die nodige aandag van die De Klerk-regering geniet nie. Teen September 1993 was dit duidelik dat daar geen magsdeling sou wees nie, geen verskansing van minderheids- of groepsregte nie en geen waarborge vir enkelmediumskole en -universiteite nie.

In 2016 het die bestuur van die Universiteit Stellenbosch ‘n konsepbeleid vir kommentaar voorgelê waarin Engels in ‘n oorheersende posisie gestel word. Ek het vir John Coetzee, Nobel-pryswenner vir literatuur in 2001, die omstrede beleidsdokument gestuur met die versoek dat hy daarop kommentaar lewer. Hy het geskryf:

My sympathies are all on your side. The crucial fact, for me, is that the official Taalbeleid document does not once use the word "kultuur". The university management seems to conceive of language as an instrumental communication system without any culture-bearing role. (Kommunikasie aan H Giliomee, 16 April 2016)

  1. Vierdens en laastens is my visie dat Afrikaanssprekendes al hul vermoëns sal aanwend om te verseker dat Afrikaans as medium vir universiteitsonderrig beskikbaar sal bly selfs al word die hofstryde wat tans oor Afrikaans as onderrigtaal aan tersiêre instellings gevoer word, nie gewen nie. Daar sal daaraan gedink moet word om ‘n universiteit van elders te nader om ‘n satellietkampus met Afrikaans as voertaal in die Wes-Kaap op te rig.

Ons sal ernstig moet dink oor alternatiewe. Akademia, wat deur Solidariteit/AfriForum tot stand gebring is, speel reeds ‘n belangrike rol deur afstandsonderrig te verskaf in sekere vakrigtings in die handel- en bestuurswetenskappe en in sekere afdelings van die geesteswetenskappe.

Daar is egter geen kans dat Afrikaans sal oorleef as dit nie by minstens twee volwaardige universiteite as medium van onderrig op die langer termyn beskikbaar is nie. Die Potchefstroom-kampus lyk na die mees geskikte plek vir ‘n Afrikaanse kampus in die noorde, mits die pogings om demografiese verteenwoordigendheid ook op dié kampus te bewerkstellig, gestaak word. In die suide sal daar ‘n kampus op Stellenbosch of Paarl of Wellington ontwikkel moet word.

Ten spyte van aanvanklike teenstand het Monash Universiteit in Australië suksesvol kampusse in ander lande gevestig waar dit onderrig in die medium van Engels aanbied. In Suid-Afrika het dit enkele jare gelede meer as 2 000 studente in vier skole gehad en het dit grade in tien studievelde toegeken.

Dalk is dit nou die tyd om voelers uit te steek na ‘n Vlaamse universiteit om ‘n satellietkampus in Suid-Afrika op te rig. So ‘n universiteit sal ‘n belangrike nismark bedien en terselfdertyd van deurslaggewende belang wees in die doel om die agterstand om te keer wat bruin Afrikaanssprekendes tans ondervind.

[i] Hermann Giliomee e.a., Kruispad: Die toekoms van Afrikaans as openbare taal (Kaapstad: Tafelberg, 2001); Hermann Giliomee en Lawrence Schlemmer, ‘n Vaste plek vir Afrikaans: Taaluitdagings op kampus (Stellenbosch: Sun Press, 2006).

[ii] Giliomee en Schlemmer, ’n Vaste plek vir Afrikaans, ble 253–4.

[iii] Van Parijs, “Cultural diversity versus economic solidarity” in P van Parijs, red, Proceedings of the Seventh FranquiColloquim (Brussel: De Boeck, 2004), ble 371–96.

[iv] Charles Taylor, Multiculturalism and the politics of recognition (Princeton: Princeton University Press, 1995.

[v] Ek gebruik hier data wat Flip Smit goedgunstiglik aan my beskikbaar gestel het.

[vi] Kole Omotoso, Season of migration to the South (Kaapstad, 1994, bl 114).

[vii] Max Loubser, “Afrikaans as regstaal”, in Kruispad, ble 76–94.

[viii] Mail & Guardian, 9–15 Oktober 2009.

 


Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

  • 14

Kommentaar

  • Waldemar Gouws

    Baie dankie vir hierdie uiters waardevolle perspektief wat u vir ons gee, dr Giliomee. Die wete dat Engels in 'n "conceptual prison" (tronksel van die denke) kan ontaard, is iets ernstigs om mee rekening te hou - 'n soort taalstalinisme dus.

    Mag die murg in u pype nog lank dik en ryk bly.

  • Henning Janse van Vuuren

    Universiteite is maar die einde van die ketting.
    Ons verloor deesdae die behoud van moedertaal op voetsoolvlak omdat Engels as “cool” verkwansel word. Ek het die een en ander te sê gehad in ’n e-pos aan kykNET op FB, maar daar sal seker dadels van kom.
    "Geagte Inhoudbestuurder. Daar is nie baie Afrikaanse kanale nie; tog verkies julle om aktief by te dra tot die afwatering van my moedertaal. Bekende Afrikaanssprekendes groet mekaar “hallo my maatjie” en slaan dan oor na Engels. Bobby van Jaarsveld praat Engels. Afrikaanssprekendes praat Engels. Feitlik al die reklame is in Engels. Dit alles op ’n Afrikaanse kanaal! Is julle boodskap dat "gesofistikeerde" Afrikaners Engels verkies? Ek het my verhuurder gevra om my DStv te kanselleer. Dit pla julle waarskynlik bitter min, maar veel meer kan ek ongelukkig nie doen nie. Geld is seker al taal wat saak maak, nie waar nie."
    Hul reaksie:
    "Baie dankie vir jou boodskap, Henning. Ons waardeer altyd terugvoer van kykers, hetsy dit positief of negatief is. kykNET poog om topgehalte vermaak in Afrikaans aan kykers te bied. Die kanaal is trots Afrikaans en poog om die taal in alle opsigte te bevorder. Ongelukkig is die werklikheid dat akteurs en aanbieders nie altyd suiwer Afrikaans praat nie - die (hartseer) realiteit is dat min mense werklik suiwer Afrikaans praat. kykNET poog geensins om dit aan te spoor nie en moedig ons die akteurs en aanbieders aan om Afrikaans te praat. Let gerus op dat programme wat 'n draaiboek en dialoog het, bevat sover moontlik Afrikaans. Maar sodra iemand 'n gas op 'n program is, kan hulle nie gedwing word om suiwer Afrikaans te praat nie - dit sal onnatuurlik klink. In terme van die advertensies - kykNET is bewus van die Engelse advertensies wat op die kanaal uitgesaai word en sou dit ook verkies het om net Afrikaanse advertensies uit te saai. Ongelukkig word die meeste advertensies in Engels gemaak, omdat die groter meerderheid van die bevolking se spreektaal Engels is. Die realiteit is ook dat kykNET, net soos alle ander TV-kanale en ander vorme van media, afhanklik is van die inkomste wat gegenereer word van advertensies. Dus, om gehalte programme te kan lewer, word ons genoodsaak om ook Engelse advertensies uit te saai. Ons probeer soveel as moontlik Afrikaanse advertensies aan te koop en uit te saai."
    My repliek:
    "Dankie vir julle terugvoer. Taalkwessies kan die meeste mense nie skeel nie, maar ek glo (dalk verkeerdelik) kykNET het ’n verantwoordelikheid om Afrikaans in stand te hou en uit te bou. Hoe is dit moontlik dat daar tydens ’n nuusuitsending bv nie ’n Afrikaanse mening verkry kan word nie, maar ’n Afrikaanssprekende se mening word in Engels tydens Afrikaanse nuus uitgesaai? Dieselfde geld vir die DStv-advertensies deur Afrikaners in Engels. Hoeveel moeite is dit werklik om dieselfde advertensie weer in Afrikaans vir Afrikaanse kanale te skiet? Die menslike verstand kies kortpad en met die ooraanbod Engels verg dit moeite om in Afrikaans te dink. Indien die huidige situasie voortduur, gaan ’n kritiese punt bereik word waar dit nie meer sin maak om in Afrikaans voort te gaan nie. Dit beteken uiteindelik Engels. (Al die voëls klink dus dieselfde.) En hoe kompeteer plaaslike Engels (geradbraakte aksente) teen Hollywood? Tensy Hlaudi se 90% plaaslike inhoud afgedwing word; broekskeur."
    Engels gaan uiteraard terugsit en kyk hoe Afrikaans kwyn. Toe “Weg” destyds die rakke tref, het “Getaway” dit gevoel. Met die gety aan die draai, vloei die geld weer terug.

  • Leon de Vries

    Afrikaans is gekwes. Dit is besig om sy plek in die akademie, die staatsdiens en die ekonomie te verloor. Ook skoolonderrig in Afrikaans is onder druk. Dit is op pad om weer ’n kombuistaal te word en uiteindelik by die agterdeur uitgevee te word. As ons dit nie keer nie, gaan Afrikaans soos in Argentinië 'n stadige dood sterf. Dit gaan hier net langer neem omdat die groep Afrikaanssprekers baie groter is. Maar die laaste stuiptrekkings gaan dieselfde wees: 'n Klompie ou mense wat nog so 'n bietjie Afrikaans kan praat. Taalnavorsers en kultuurhistorici sal hulle vind in afgeleë gebiede van Namakwaland, die Richtersveld en die suide van Namibië. Hierdie mense sal nog die eenvoudige begrippe in Afrikaanse tekste van Herman Giliomee, Breyten Breytenbach, Koos du Plessis en Dana Snyman wat vir die nageslag bewaar gebly het, kan verduidelik en uitlê, maar veel van die oorspronklike betekenis sal verlore wees. En dan: Net stilte, vir ewig kosmiese Afrikaanse stilte. Soos die gekweste koedoe wat onder 'n kameeldoringboom op die rooi duin gevrek het. Dood vir altyd.
    In besonder is die gebeure by die Universiteit Stellenbosch, daar waar Langenhoven se spore so duidelik lê, baie jammer. Daar is nog drie staatsuniversiteite in die Wes-Kaap wat almal Engels as medium van onderrig gebruik, maar Stellenbosch wat in die bakermat van Afrikaans gesetel is, word ook verengels. Dit kan nie regverdig wees nie. Die aftakeling van Afrikaans saam met die nuwe rassisme wat onder die vaandel van transformasie en regstellende aksie gepleeg word, het tot gevolg dat ’n gedeelte van die Afrikaanses ’n groeiende gevoel van vervreemding en apatie teenoor die staat en regering ervaar. Ons as Afrikaanssprekende mense sal ons kragte moet saamspan om die agteruitgang van Afrikaans (en die vervreemding en apatie) te stuit en die proses om te draai sodat Afrikaans en die gelukkige saambestaan van Suid-Afrikaners bevorder kan word.
    Die vraag is watter praktiese maatreëls moet ons as Afrikaanssprekendes tref om ons doelwit te bereik. Een daarvan is dat Afrikaanse mense aangemoedig moet word om alle bydraes aan die Universiteit Stellenbosch te staak. Verder dink ek behoort ons dit oorweeg om met ’n veldtog te begin om Afrikaanse mense aan te moedig om veral finansiële testamentêre nalatenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, te skrap en die bemaking eerder aan Solidariteit se Akademia te doen. Geld wat stom is, kan hard praat.
    [Geagte prof Giliomee, baie dankie vir dit wat u vir Afrikaans en Afrikaanse mense wat soos ek voel, doen. Die geskiedenis sal u "eendag" nog saam met die GRA en Langenhoven plaas. Ek was bevoorreg om by u (toe nog dr Giliomee) aan die einde van die sewentigerjare en begin tagtigs klas te "gedraf" het. U het 'n groot rol daarin gespeel om my oë vir die ongeregtigheid van apartheid oop te maak. Veg asb voort vir Afrikaans. Miskien kan u dit à la die EFF oorweeg om die Vegters vir Afrikaans te stig ☻. Ek sal aansluit.)

  • Matthys Strydom

    Baie dankie, prof Giliomee, vir 'n puik artikel.
    My indruk is dat Stellenbosch reeds verlore is vir Afrikaans, trouens, ek dink Afrikaans het geen langtermyn toekoms by enige onderwysinrigting wat van staatsfinansiering afhanklik is nie. Ons taal sal waarskynlik net tot sy reg kan kom by private instellings.
    As mens kyk na wat deur Afrikaans in minder as 'n eeu tot stand gebring is, en in die lig van wat tans met ons taal gebeur, vrees ek dat ons dalk eendag sal hoor dat Afrikaans lewe, al het dit gesterwe.

  • Feitlik is die skrif aan die muur dat Afrikaans mettertyd en binne die medium termyn (5 jaar) onvermydelik vanuit alle regerings-en-regerings-ondersteunde instellings afgeskaf gaan word, soortgelyk as wat tans in Namibia die geval is, ten spyte van die S.A. kontitusionele voorsienigheid vir meertaligheid. Die wil van Afrikaanssprekende opvoeders om dit teen te staan, ontbreek jammerlik, soos onlangs die geval met US.

    Die alternatiewe oplossing vir die voorbehoud van Afrikaans op tersiere en skolevlak, gaan wees om na private instellings oor te hel, waar regerings inmenging minimaal sal kan geskied. 'n Suksesvolle voorbeeld hiervan in Namibia, is die Windhoek Afrikaanse Privateskool. In S.A. het ons reeds voorbeelde van bestaande private Afrikaanse skole soos bv. Helpmekaar Kollege in Braamfontein, Johannesburg, en die private Afrikaanse universiteit in wording, nl. Akademia.

    • Jaco, alternatiewe oplossings vir Afrikaans op tersiêere en skolevlak (die privaat roete) sal Afrikaans se reeds behaalde statuur maklik 'n halfeeu terugplaas aangesien oor-'n-eeu-heen gevestigde Afrikaanse instansies soos bv. die Universiteite van Stellenbosch en Pretoria nie goedsmoeds herskep kan word in nuwe tuistes nie. Sulke nuwe tuistes gaan dekades se fondsinsamelings verg en sou ten beste net geleidelik ontwikkel kon word. Sulke voorlopig halfgebakte instansies sal neig om die minder kritiesingestelde middelmatige studente te trek en gaan nie die golf van ontnugterde landsverlaters (gewoonlik die meer vaardiges wat daartoe in staat is) omkeer nie. So bly die land bloei tot nadeel van die meerderheid Suid-Afrikaners.
      Afrikaanssprekendes het klaarblyklik nie die kaliber om te keer dat meer as die helfte van Afrikaans se status by die enkele oorblywende universiteite, wat vir Afrikaans voorsiening maak, tot niet gemaak word nie. Wat is die kans dus dat sodanige Afrikaanssprekendes die groter uitdaging om nuwe geloofwaardige tersiêre instellings op die been te bring, kan oorkom?
      'n Gegewe soos beskryf by: http://www.timeslive.co.za/politics/2016/10/13/Government-not-keen-on-allowing-private-universities-Nzimande
      is net nog een van heelwat struikelblokke vir 'n akademies geloofwaardige privaat roete.
      Vir die onthalwe van die welsyn van die meerderheid Suid-Afrikaners moet die fokus eerder wees om Afrikaans se status by die enkele oorblywende universiteite, wat steeds vir Afrikaans voorsiening maak, te versterk. Dit is maklik haalbaar via die weg van grondwetlike regte asook deur die ooglopend onverskoonbaar sluimerende besluitnemers te oortuig oor die duidelike voordele wat bestaan vir die welsyn van die meerderheid Suid-Afrikaners indien sodoende o.a. walgegooi word teen die dekades lange stroom van ontnugterde vaardige landsverlaters.

      • Jean.

        Pretoria en US het in ‘n bestek van ‘n paar jaar hulle volwaardige status as Afrikaanse universiteite verloor, nou deelsaam met Engels en eintlik onderskik daaraan; nieteenstaande die konstitusie nie. Waar het die konstitusie al die ander vorige volwaardige Afrikaanse universiteite beskerm, en jy wil jou uitsluitlik daarop berus om vir die krummels te veg wat ons toegegooi word! Dit gaan interesant wees om te sien tot watter mate AfriForum in sy taal-hofstryd en berusting op die konstitusie, met UNISA suksesvolg gaan wees. Ek persoonlik wil optimisties wees dat AfriForum gaan slaag, maar alle aanduidinge is tans nie in hulle guns nie. Wees verseker dat Afrikaanse skole mettertyd ook onder skoot gaan kom.

        Jy maak heelwat ongegronde stellings in jou respons mbt private universiteite. Jy gooi my met ‘n bangmaak artikel van Nzimande! My teenweer op Nzimande. Daar is reeds geregistreede private universiteite op dreef in Suid Afrika wat grade toeken, nl. Midrand Graduate Institute, Milpark Business School, Monash South Africa, en Cornerstone Institute. Daar is ook kolleges wat buitelandse universiteitsgrade toeken soos bv. Helderberg Kollege.

        Dat dit dekades gaan neem om Afrikaanse universiteite op die been te bring is suiwer ‘n veronderstelling aan jou kant. Solidarteit se 10 Okt 15 se vyfjaar plan vorentoe vir die Afrikaner sluit in die omskepping van Akademia in ‘n volwaardige Afrikaanse universiteit waarop miljaarde rande voor geoormerk word.
        https://solidariteit.co.za/solidariteit-beweging-gaan-n-helpmekaarplan-van-r35-miljard-bekend-maak/

        Onlangse verwikkelinge: “Akademia is currently engaged in the accreditation process for further degree qualifications, namely BCom Accounting, BCom Financial Planning and BNur (Nursing), for 2017. In addition, strategic positioning of Akademia as a community university, establishing partnerships and further academic developments are also high on this institution’s agenda.” https://onsbou.solidariteit.co.za/en/akademia/

        Ja. Daar is Afrikaners wat ‘n verskil in hierdie land maak. Afrikaners wat nie met bakhand voor die regering staan nie, wat bereid is om as alternatief tot die Suid-Afrikaanse regering op te tree, en word onderledig sterk befonds; tans met ‘n ondersteuning van oor die 330000 Afrikaanssprekendes, wat met hulle gesine, konserwetief bereken, 1,5mil raak.

        In die VSA tuur private universiteite soos Yale en Stanford als voorbeelde, ver bo die van staatsuniversiteite, die dat Nzimande teen private universiteite gekant is, want hy vrees dat net soos die geval met private skole in ons land soos Helpmekaar, Hilton College, Kearsney College, King David, ens. akademies ver bo staatsskole gevorder is; dit ook die geval met private universiteite gaan gebeur. Eintlik erken hy dit in die skakel wat jy my aangegee het.

        Solank die lot van die Afrikaner in regeringshande is, solank is die Afrikaner nie kaptein van sy eie boot nie. Uitsluitlik deur middel van sy private ondernemings, bly die Afrikaner kaptein van sy eie skip.

      • Jean

        Ek het gehoop op 'n respons van jou op seker stellings deur my hierbo (20 Okt) gemaak, te gelees het.

        • Jaco,
          N.a.v. jou versoek dat ek reageer op jou skrywe, verskaf ek die volgende oorwegings:
          Aangesien Akademia reeds ‘n ent weg gevorder is met die ontwikkeling van waardevolle nie-universitêre kursusse, ontmoedig ek nie hul uitbouing nie. Dus beperk ek hierdie antwoord tot universiteitsoorwegings en ter wille van verdere vereenvoudiging, gebruik ek hoofsaaklik Universiteit Stellenbosch as ‘n voorbeeld hieronder.
          Dis wie ookal se goeie reg om van Akademia ook ‘n private universiteit te maak. Trouens, daar word wonderlike redes daarvoor aangebied by die onverwagte bron soos verteenwoordig deur die onderhoud met Achille Mbembe by https://www.litnet.co.za/interview-the-end-of-public-universities-in-south-africa/ .
          Al wil Universiteit Stellenbosch nie eens net gelyke kanse aan Afrikaans verskaf nie, behoort Afrikaanssprekendes nietemin steeds aan hulle ‘n laaste kans te bied alvorens Afrikaanssprekendes Universiteit Stellenbosch rysmier met die totstandbringing van ‘n uitmuntende private Afrikaanse universiteit. Tot Curro oorweeg nou die skepping van private universiteite volgens http://businesstech.co.za/news/finance/141057/curro-targets-private-universities-in-sa-by-2019/ . Toegegee, Universiteit Stellenbosch bestuur het reeds duidelik gemaak dat hulle nie belangstel in Afrikaanssprekendes se vele aangebode laaste kanse nie. Verontrustend het Afrikaanssprekendes dus nou geen ander keuse nie as om ‘n laaste kans aan hulle op te dwing soos by https://www.litnet.co.za/gelykekanse-persverklaring-fondsinsameling-vir-afrikaans/ .
          Bykomend tot die redes verskaf in my kommentaar van 19 Oktober hierbo, bestaan daar nog heelwat meer oorwegings ter ondersteuning van die behoud van volwaardige gelyke kanse (nie krummels nie) vir Afrikaans by ten minste sê drie wyd verspreide (sodat Afrikaanssprekendes nie verder as sê 700 km daarheen hoef te reis nie) voormalige Afrikaanse universiteite in Suid-Afrika. Ek noem net enkele verdere oorwegings hieronder.
          Jy sê hierbo: “Waar het die konstitusie al die ander vorige volwaardige Afrikaanse universiteite beskerm…”. Juis omdat soveel Afrikaanse universiteite reeds in die stof moes byt is daar ‘n baie sterk argument uit te maak vir die behoud van volwaardige gelyke kanse vir Afrikaans by net drie oorblywende Afrikaanse universiteite. Die rasionaal is dat daar reeds soveel Afrikaanse universiteite opgeoffer is dat dit onmenslik wreed sou wees om Afrikaans by alle publieke universiteite uit te roei soos aangevoer deur die grondwetkenner by https://www.litnet.co.za/quo-vadis-suid-afrikaanse-universiteite/ . Daar bestaan natuurlik ook verdere grondwetlike argumente vir volwaardige gelyke kanse vir Afrikaans by net enkele universiteite.
          Baie betekenisvol is dat ‘n verrassend wye groep prominente ondersteuners (sien die lys onderaan die artikel by https://www.litnet.co.za/gelykekanse-persverklaring-fondsinsameling-vir-afrikaans/) toegetree het ter ondersteuning van gelyke kanse vir Afrikaans by universiteite. Van hulle sou mens nie maklik voorheen geassosieer het met ‘n stryd vir Afrikaans nie maar hierdie waarneming alleen dui reeds op die sterk beginsels wat bestaan vir die behoud van Afrikaans onder veral die huidige omstandighede. Mens moet nie so ‘n geleentheid versmaai nie.
          Daar bestaan ‘n baie groot leemte onder Afrikaanssprekendes om ‘n duidelike strategie te formuleer vir die behoud van Afrikaans in net enkele universiteitsomgewings. Natuurlik impliseer so ‘n strategie die opoffering van heelwat gevestigde Afrikaanse belange ten gunste van enkele uitgesoekte universiteitsomgewings. Maar dit is die dure prys te betale wanneer mens die harde werklikheid in die gesig staar. Sonder so ‘n reale strategie bly daar uiteindelik minder vir Afrikaans oor ten nadele nie net van Afrikaanssprekendes nie maar, meer nog, ten nadele van die meerderheid Suid-Afrikaners weens die newe effekte.

  • Jean
    Dankie vir jou terugvoer wat waardeer word.
    My kern-argument is soos in my vorige slot: "Solank die lot van die Afrikaner in regeringshande is, solank is die Afrikaner nie kaptein van sy eie boot nie. Uitsluitlik deur middel van sy private ondernemings, bly die Afrikaner kaptein van sy eie skip."
    Dis nie te sê dat die Afrikaner moet ophou om vir die behoud van die taal te veg by universiteite wat die taal tans teensinnig steeds duld nie, veral as gevolg van hofsake soos wat AfriForum met UNISA onlangs aangegaan het. Die jare vorentoe, ongeag watter regering ook al, gaan die aanslag op Afrikaans, veral op tersiêre vlak, nie afneem nie, wat Afrikaans in 'n nimmereindigende konflik met ander burgers in die land sal meebring. Teen die tyd, (wat onvermydelik nog gaan kom) wat Afrikaans as taal geskiedenis by die huidige universiteite is, sal daar reeds alternatiewe wees in die vorm van private Afrikaanse universiteit(e).

  • Die kern van die probleem by US lê mi in die twee volgende aangehaalde paragrawe:
    "Die US het sedert 1994 ’n beleid gevolg van “taalvriendelikheid”, waarvolgens studente wat nie baie vaardig in Afrikaans was nie, steeds welkom moes voel. Die groot begunstigdes was nie die meeste bruin of swart studente nie, maar wit Engelssprekendes wat van transformasie by die eens liberale kampusse gevlug het. Swartes het parallelmedium verkies en so ook daardie bruin studente wat Afrikaansmedium op skool gehad het. Afrikaanssprekende bruin studente (ongeveer die helfte van die getal wat ingeskryf het) sou veel beter met Afrikaans as voertaal gevaar het."
    Tussen 1995 en 2015 het Engelse getalle op die US van oor die 3 000 (20% van die totaal) tot 15 000 (44%) gegroei. Van die kategorie Engelssprekende studente was meer as 90% wit. Die Afrikaanse studentegetal het in hierdie jare in 'n band tussen 11 000 en 13 300 beweeg. Die oorheersende indruk is dat die US eenvoudig oorweldig is deur die viervoudige vermeerdering van wit Engelse studente tussen 1995 en 2015. Die bestuur het in hul regverdigings vir die toenemende gebruik van Engels steeds die terminologie van transformasie gebruik.
    Engelssprekendes wat vlug van die uitvloeisel van transformasie by tradisioneel hul tuistes en nou 'n veilige hawe soek by voorheen Afrikaanse universiteite en deur
    getalle slapgat, agteroorbuigende bestuur die Universiteit in 'n ander taalrigting dwing
    ten koste van die Afrikaansprekende student wie se geld goed genoeg is maar nie sy taal nie.
    Is nog 'n volk in die wêreld wat help om sy moedertaal te begrawe en dan ewe trots
    kluite op die taalkoffer gooi en dan hande biddend gevou verklaar taaltransformasie is voltooi.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top