Quo Vadis Suid-Afrikaanse universiteite?

  • 15

Fotobron: deviantart.com

Vandag brand die vure rondom die Suid-Afrikaanse universiteitswese.

My eie ondervindings van universiteitsbestuur

In my jare, vanaf begin 1994, het ek as rektor van Unisa onmiddellik ‘n groot klomp hoofbrekens geërf. Die personeel was onseker en bang vir ons nuwe demokrasie; baie was nie net skepties nie, maar ook antagonisties. Dikwels moes ek dreigemente van verskuilde bomme in ons geboue hanteer. Baie kursusinhoude moes dringend hersien word om van verouderde “aparte ontwikkeling”-teorië skoongemaak te word. Aanstelling van lede van ander bevolkingsgroepe in die Akademie sowel as die Administrasie moes dringend aandag kry. Nuwe kursusse om aan die eise van ons nuwe grondwetlike en maatskaplike omstandighede te voldoen moes ontwerp en ingestel word.

Die ernstigste kopseer was om Unisa se afstandsonderrig te hervorm. Oor baie jare is die idee gevestig dat Unisa-studente op hul eie en op ‘n afstand studeer en deur middel van skriftelike lesings hul onderrig ontvang. Wat egter oor die tyd gebeur het, is dat duisende, meestal arm studente op die verskillende kampusse landswyd al hoe meer voltyds begin studeer het omdat die universiteit se studies goedkoper was en ook omdat hul woonomstandighede so haglik was dat privaat studie daar onmoontlik was. Die gevolg was dat Unisa inderwaarheid een van die grootste inwoonuniversiteite, indien nie dié grootste nie, in die land geword het.

Sommige ougarde-kollegas het moeilik aan hierdie feit gesluk. In die senaat moes ek dikwels hoor: “Wat soek al hierdie studente hier op die kampus? Hulle weet mos Unisa is ‘n afstandsonderriguniversiteit.”

Gelukkig het die oorgrote meerderheid van die Unisa-mense ingespring en die veranderings en hervormings met geesdrif aangepak, ou kursusinhoude oorgeskryf en nuwes ingestel. In ‘n paar jaar is meer lede van ander bevolkingsgroepe in die akademie en administrasie aangestel as in al die voorafgaande jare.

Studiesentrums vir tutoriale onderrig is op al die kampusse ingerig en meer groepsbesprekings is landwyd georganiseer. Ook baie belangrik: die studentekorps is georganiseer om inspraak in die bestuur van die universiteit te verkry en om hul stemme te laat hoor oor die inhoud van kursusse en algemene universiteitsake.

Dus kan ek sê dat met samewerking, begrip en onderlinge vertroue die bepaalde Unisa-knelpunte aangepak en beredder kon word, selfs toe daar kopstamptye was.

Internasionale erkenning as die eerste volwaardige afstandsonderriguniversiteit was oorweldigend.

Die situasie van ons universiteite vandag

Vandag het die situasie egter dramaties verander. Universiteitsprobleme oorspoel die ganse land. Ons hoor, lees en sien elke dag van betogings en rumoerighede op al die kampusse, betogings oor klasgelde en koshuisomstandighede. Ons sien beeldbestorming, brandstigting en ontwrigtings op ‘n massiewe skaal; geboue word gevandaliseer, sale afgebrand en eksamens ontwrig; deeltydse werkers staak. En oorheersend, nog die weerstand teen onderrig in Afrikaans.

Studentegelde

Tans is die belangrikste knelpunt die kwessie van klasgelde. Met die embargo hierdie jaar op die verhoging van klasgelde het die regering vir homself ‘n lat gepluk en nou word die aandrang vir geen verhogings volgende jaar nie net al hoe luider saam met strydlustige wekroepe vir gratis universiteitsopleiding. Daar is nou selfs die ontstellende gerug dat daar ook volgende jaar geen klasgeldverhogings gaan wees nie.

Waar gaan die geld vandaan kom? Universiteite sit landwyd met miljoene rande skuld en volgende jaar gaan dit nog erger word as klasgeldverhogings weer gekelder word.

Nou kom “Fees Must Fall”-studente-aktiviste, en selfs sommige universiteitshoofde, met ‘n dom voorstel, naamlik dat vir welvaartverspreiding rykes “gestraf” moet word met hoër klasgelde ten behoewe van arm studente. Hoe gaan “ryk mense” bepaal word, met watse soort middeletoets? Gaan daar ‘n glyskaal wees vir baie rykes, gemiddelde rykes en net-net rykes? Hoe gaan die rykheid vasgestel word? Hoe gaan gesorg word dat rykes wat lieg, aan die pen gaan ry? Is ‘n enkelma met ‘n bo gemiddelde inkomste, maar met drie minderjarige kinders, sorgbehoewende ouers en ook ander behoeftige lede van haar uitgebreide familie ‘n ryk mens? Wie val almal onder die kategorie “rykes” – net die ouers, of ook grootouers, broers en susters? Want daar is baie studente wat nie deur ouers befonds word nie maar deur gegoede familielede.

Dit alles, terwyl ons belastingstelsel gegoede mense reeds meer belasting laat betaal, onder andere vir maatskaplike dienste en miljarde rande vir maatskaplike toelaes.

Natuurlik is die voor die hand liggende dat die regering subsidies aan universiteite moet verhoog nadat dit oor die jare gekrimp het, en ook meer geld in die Nasionale Studente-ondersteuningsfonds moet stort. Maar die staatskas is leeg en ongelukkig het die Fonds- administrasie nie ‘n goeie reputasie nie en is duisende der duisende lenings nog nooit verhaal nie.

‘n Gedeeltelike oplossing is dat private instansies, kerkgenootskappe en korporasies hul eie ondersteuningsfondse moet stig. Soos Jan Hofmeyr en sy dapper mense met hulle studiefonds reeds vir dekades duisende studente met beurse en lenings ondersteun het.

Die hart van die dilemma

In die soeke na oplossings vir die huidige dilemma van klasgelde en universiteite se geldelike penaries sal ‘n diepgaande sosiologiese ondersoek gedoen moet word na die profiel van ons studente. Duisende studente met bedenklike toelatingskwalifikasies en ontoereikende taalvaardigheid stroom na die universiteite omdat dit vir hulle die belofte inhou van ‘n toekomstige beter bestaan. Ook om die voordele van studentwees te kry, goedkoop etes en huisvesting in koshuise. Maar minder as 50 persent van hulle haal die paal en val uit.

Die voor die hand liggende rede vir so ’n grootskaalse vermorsing van menspotensiaal is natuurlike te vinde in ‘n swak onderwysstelsel, die ontwrigtings van onderrig en afgebrande skole, onbevoegde leerkragte en lae slaagvereistes. Studente kom na die universiteit met beroerde taalvaardighede, meestal omdat moedertaalonderrig op ‘n vroeë stadium reeds verwaarloos is.

In werklikheid is die hart van die dilemma nog veel dieper. Duisende studente kom uit huise met geen boeke, geen leerkultuur, nie die minste kennis van die universiteitswese of respek vir geleerdheid nie. Nou, skielik, moet hulle opeens die wêreld van hoër onderwys betree en aan die eise van selfstudie, dissipline en studietoewyding voldoen. Geen wonder dat die meeste studente moed verloor en uitsak nie. Of aktiviste word nie. Dit is opvallend dat studente wat wel presteer, uit huisomstandighede kom waar ‘n leerkultuur met boeke gekweek is saam met tuisonderrig en konstante ouerlike ondersteuning. Daar is wel baie uitsonderings, maar die meeste van hierdie presteerders is kinders van toegewyde onderwysers, dikwels van pastore in kerkgenootskappe en van amptenare of geskoolde werkers met hoër grade van opleiding.

Die weg vorentoe is duidelik. Universiteite sal hul toelatingsvereistes drasties moet verhoog en aan voornemende studente wat nie kwalifiseer nie, die moontlikhede van tegniese opleiding bied.

Die gradering van Suid-Afrikaanse universiteite

Op die wêreldgraderingslys van 2 000 universiteite is Suid-Afrikaanse universiteite glad nie hoog aangeskryf nie, alhoewel ‘n paar wel ‘n plekkie laer af kry.

Onlangs het die University Ranking by Academic Performance na 18 Suid-Afrikaanse universiteite gaan kyk en hulle gegradeer op grond van hul wetenskaplike produktiwiteit, hul navorsingsimpak en navorsingskwaliteite, sowel as internasionale erkenning.

Dit is ‘n baie belangrike gradering. Voorheen is ons universiteite net op ‘n globale skaal gegradeer. Nou is ons universiteite binne die raamwerk van ‘n ontwikkelende land in ‘n rangorde geplaas en kan gesien word hoe hul teen mekaar opweeg.

Soos te verwag, het universiteite met gevestigde navorsingskulture en -tradisies die top-graderings bo die 300-merk gekry. Agt universiteite, met die Kaapse universiteit die eerste en die ander – Wits, KwaZulu-Natal, Stellenbosch, Pretoria, Noordwes, Johannesburg en Wes-Kaap. Sommige van hierdie universiteite het gevestigde fakulteite met uitstekende navorsingsfasiliteite, soos die mediese, ingenieurs-, veeartsenykundige en natuurwetenskapfakulteite. Met hul bewese navorsing en die nodige regeringondersteuning kan hulle beslis nog aspireer vir hoër graderings op die wêreldranglys. Omdat studie en navorsing in hierdie fakulteite bepaalde akademiese prestasies vereis en hulle nie massa-innames kan bekostig weens die koste van laboratoria en duur apparate nie, kan hulle baie hoër toelatingsvereistes stel en is hulle nie slagoffers van die studentemassifikasie nie.

Die toekoms van die ander 10 universiteite is onseker. Weens die bedankings en aftredes van baie senior dosente wie se poste deur jong, wel intelligente maar onervare dosente gevul gaan word, en die massatoevloei van swak studente, is die gevaar van gebrekkiger dosering en verlaagde standaarde nie vergesog nie. Nagraadse opleiding en die moontlikhede van navorsing gaan ernstig onder druk kom en in sommige gevalle selfs opgeskort word. Die moontlikheid dat sommige van hierdie universiteite die status van voorgraadse universiteitskolleges verkry, met hopelik sterk klem op beroepsopleiding, moet onder oë gesien word. Dit is wat met universiteite in Afrika gebeur het, byvoorbeeld met die eens hoog aangeskrewe Makekere-universiteit in Kampala. Alhoewel die moontlikheid van nagraadse studies steeds aangebied word, word daar gekonsentreer op voorgraadse grade en veral diplomas, baie in die praktiese velde van landbou en gesondheidsorg. Unisa het in hierdie opsig blykbaar alreeds die voortou geneem deur die universiteit as “A University of Africa” te bestempel.

Die toekoms van die universiteitswese in Suid-Afrika

Die huidige universiteitsdilemmas en -probleme moet beslis getakel word.

Maar terselfdertyd moet die toekoms van inwoonuniversiteite nou reeds vierkantig en vreesloos beskou word. Universiteitsonderrig het alreeds die digitale era betree. Dit gaan gebeur dat studente al hoe meer hul lesings, met klank en beelde, op hul tablette, waar ook al buite kampusse, kan sien en aflaai. Ook biblioteekmateriaal en boeke sal op dieselfde manier opgesoek kan word. Selfs op hul selfone. Een van die dae gaan studente hul eksamens nie meer op kampusse aflê nie, maar onder streng sekuriteit om bedrog uit te skakel soos alreeds op lughawens gebeur, in banke, finansiële instellings en kuberkafees. Inskrywings en eksamenuitslae kan alreeds op die net gedoen en verkry word. Gradeplegtighede sal afgeskaal word tot klein fakulteitsfunksies. Dosente se kantore en fasiliteite sal afgeskaal word omdat hulle tuis werk en net dan en wan vir ‘n lesing of twee op kampus verskyn. Soos alreeds by Unisa gebeur.

Al hierdie ontwikkelings gaan maak dat tradisionele inwoonuniversiteite totaal hul residensiële karakter gaan verloor. Al wat miskien gaan oorbly, is plekke vir tradisionele studentesamekomste en pret en sport. Reuse-amfiteaters, groot lesingsale, uitgebreide biblioteekfasiliteite, dosentekantore, ‘n menigte koshuise, kafeterias en selfs sportterreine gaan oorbodig en onbenut word. Ambisieuse bouprojekte sal opgeskort moet word. Universiteitsbesture sal geboue en koshuise asook onbeboude grond moet verkoop of verhuur omdat sulke luukshede gewoon nie meer nodig of in aanvraag gaan wees nie.

Die goeie nuus is natuurlik dat so ’n ontwikkeling aan universiteite die kans sal gee om uit hul finansiële moeilikhede te kom.

Afrikaans as universiteitstaal

Hoe daar ook al gewroeg word oor Afrikaans as voertaal van die tradisionele Afrikaanse universiteite, hoe daar ook al gepoog word met taalbeleide en vorme van gelyktydige onderrig en tolkdienste, asook hofsake en ander manmoedige veldtogte, moet aanvaar word dat Afrikaans op ons kampusse uitgeroei gaan word. Kultureel gestremdes, selfs sommige Afrikaners op universiteitsrade, gaan toegee aan die eise vir die afskaffing van Afrikaans. Hierdie besture en mense aanvaar dat Afrikaans as gebruikstaal, as ‘n soort patois, sal voortbestaan as kommunikasietaal en op kuns- en ander kultuurfeeste sal voortlewe. Lippediens word bewys aan ander inheemse amptelike tale as voertale, met die eenvoudige besef dat hoëvlakkundigheid daarvoor nie bestaan nie en dat so ’n ontwikkeling nog groter finansiële verpligtinge gaan meebring.

Die kern van die saak om Afrikaans as voertaal af te skaf, is geld. Afrikaanse studente word minder en dit word al duurder om dié taalonderrig voort te sit omdat die staatsubsidies hoofsaaklik op studentegetalle gebaseer is.

Gelukkig as een deur toegestamp word, word ‘n ander deur oopgesluit en word die kanse vir Afrikaans as hoëronderrigtaal weer geskep. Akademia, die Afrikaanse inrigting vir hoër onderwys, is die herout van ‘n nuwe dageraad. Met sy vernuwende maniere van afstandsonderrig bevind hierdie instelling hom reeds volledig binne die digitale wêreld. Vir die huidige word gekonsentreer op besigheid- en beroepsopleiding, maar ontwerpe vir Afrikaanse onderrig in die regte, en gou ook in kultuurvakke, is reeds op die tafel. Honderde hoogs opgeleide Afrikaanse voormalige dosente is entoesiasties en wil saamwerk om te verseker dat standaarde gehandhaaf word. Die moontlikheid van vennootskappe met voorheen Afrikaanse universiteite om Afrikaanse kursusse aan te bied met akkreditasie, word reeds ondersoek. Glo binnekort gaan private instellings met die nodige bewyse van gehalte toegelaat word om hulself ook universiteite te noem. Akademia word dan die Akademia Universiteit.

Uit my eie betrokkenheid by hierdie instelling het ek die gevoel dat daar ‘n blink toekoms vir Akademia wink. Ek ervaar dieselfde opwinding wat ons in die nederige beginjare van Unisa gehad het.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se beursskema vir Afrikaanse verhandelinge en proefskrifte is nog ‘n groot stap vorentoe. Afrikaanse kandidate vir die meesters- en doktorsgrade wat hul verhandelings en preofskrifte in Engels skrywe, soms maar wankelrig, glo dat so ’n verhandeling en proefskrif meer bekendstelling oorsee sal kry, terwyl hul produkte eintlik in ‘n see van Engelse akademiese geskrifte gaan versink. ‘n Afrikaanse verhandeling of tesis met ‘n goeie Engelse opsomming het meer kans om oorsese belangstelling te wek omdat geleerdes dáár bewus is van die gehalte van Afrikaanse geleerdheid en baie kere bedag en geïnteresseerd is om anderstalige geleerdhede te ontdek. By Harvard is daar byvoorbeeld Afrikaanse geleerdes wat goeie Afrikaanse verhandelings en tesisse onder oë neem en deur vertalings en opsommings aan die betrokke vakdosente beskikbaar stel.

Terloops, dink daaraan dat ons beste en gewildste skrywers se boeke soms in meer as 20 ander tale vertaal word.

Kampvegters vir Afrikaans in die universiteit word soms uitgekryt as taalbulle of -osse wat in die verlede leef en verkrampte, outydse waardes aanhang. In werklikheid is die voorstanders kultuurmense wat die Dietse en Europese wortels van Afrikaans waardeer, en meer nog, wat weet dat Afrikaans die sleutel is om die rykdomme van die Nederlandse, Vlaamse en Duitse geleerdheid te ontgin, wat bewus is van die hoë waarde van Afrikaans as akademiese taal en kan wys na mense met ‘n Afrikaanse tersiêre opleiding wat in ons land en oorsee uitnemend presteer het en nog steeds presteer.

Ten diepste is vir sulke voorstanders Afrikaans nie net ‘n kommunikasiemiddel nie, maar die suurstof van die gees, soos Breyten sê.

Ten einde

Hierdie artikeltjie is my stuiwer in die beurs. Instemming daarmee is nie die belangrikste nie. My hoop is dat die Heher-kommissie wyer sal gaan as net ‘n ondersoek na studentegelde en ‘n breër ondersoek na ons universiteitswese in die algemeen sal doen. Indien nie, dat hul kernaanbeveling sal wees dat ‘n kommissie van hoogstaande en kundige persone aangestel word om ons universiteitswese vir nou en die toekoms te beskou met besliste aanbevelings, soos die Van Wyk de Vries-kommissie amper 40 jaar gelede gedoen het.

  • Marinus Wiechers, voormalige rektor van Unisa


    Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

    This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

  • 15

Kommentaar

  • Avatar
    Magda van Lelyveld

    Een groot vraag: Waarheen gaan voornemende Afrikaanse studente vir verdere onderrig in hulle taal?

  • Twee aanmerkings:
    Eerstens:
    Die probleem is egter nou dat studente op meestersvlak gediend moet wees met onbevoegde promotors. Wat doen 'n mens daaraan, al is die mini-tesis in Engels.
    Tweedens:
    Daar is "êrens" persone wat sillabusse opstel wat regtig amper net vir jou begaafde kind voorsiening maak. Neem byvoorbeeld die geliefde onderwerp: wiskunde. Dié vak word nou so vol gestop, dat die kinders nie byhou nie. Waarom word daar nie minder werk in meer diepte gedoen nie. Daar is gruwelike foute in byvoorbeeld die statistiek-afdeling. En so kan ons voortgaan.
    Al word daar gewerk met kinders van moeilike huislike omstandighede, voel ek ook baie sterk dat daar meer klem gelê moet word op die "lekker" van leer, want as jy kan lees en jouself kan help, gaan die wêreld vir jou oop!

  • Daar moet tog geluister word na wat hierdie man sê. Kom ons help Akademia om die rol te vervul in die bekwaammaking van ons jeug.

  • Avatar
    Franco Scheffer

    Baie goeie artikel Marinus. Sonder 'n baie eerlike en objektiewe kyk na die probleem deur die mense wat iets daaraan kan doen sal die meeste van die SA universiteite dieselfde pad gaan as universiteite soos Makere. Ek was 'n paar jaar gelede daar en kon nie glo dat 'n plek so kan verval nie. Stukkende vensters en bossies in die tuin onder andere.
    Ek het die verandering al ervaar met my tweede gradeplegtigheid by UNISA. Tydens die Chancelors award verlede jaar is my gevoelens verder bevestig. Ons universiteite het instansies van politieke breinspoeling geword en het die doel van nastrewe na kennis verloor. Niemand is ook bereid om iets te sê oor die Olifant in die kamer, die eksponensiële populasiegroei nie. Dit is nie 'n moeilike som om te maak om te sien waarheen dit op pad is nie.

    Die manier hoe Afrikaans behandel word laat dus geen alternatief oor as om ons eie ding te doen nie en ek wil Solidariteit prys vir hulle versiendheid. 'n Ander alternatief vir ons kinders is om oorsee te studeer, onder sekere omstandighede kan 'n student gratis in bv Duitsland gaan studeer.

    Dr Albert Bartlett het 'n uitstekende video gemaak; "Arithmetic, population and energy", ek beveel dit sterk aan.

    • Avatar
      Johann Basson

      Kan iemand my asseblief in eenvoudige Afrikaans of Engels verduidelik welke pad ons as Suid-Afrikaners moet volg na die land van volhoubare vrede, geregtigheid en voorspoed?

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Die agteruitgang van Unisa het op 1 Januarie 1994 'n aanvang geneem toe afgewyk is van die beleid om dosente suiwer op grond van akademiese bekwaamheid aan te stel en te bevorder. Transformasie, oftewel etnisiteit, geslag en ANC-gedienstigheid, is hoër as akademiese oorwegings geag. Die gehalte van van Unisa-onderrig en -administrasie het dramaties afgeneem. Die toenemende residensialisering van Unisa-studente en die gebrek aan finansiële dissipline het studie aan Unisa vir baie onbetaalbaar duur gemaak. Die kern van al die universiteits- en ander probleme is die onaanvaarbare politieke bestel wat mandaatloos aan die land opgedring is.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Wat spesifiek is dit wat Raymond "ontstel' en waaroor hy homself so "skaam?" My indruk is dat hierdie inset van Wiechers 'n opregte poging en bydrae is tot die debat rondom Universiteite en taalkwessies in ons land. Ook dat dit 'n toekomsgerigte stuk is wat sake soos finansiering, toelatingsvereistes, taal en kwaliteit onderrig, uitkoms gebaseerde resultate, konflikhanterings modelle en so meer aanspreek.
    Opvallend is dat hierdie nie 'n uit-die-duim-suig-oefening van Wiechers is met doel om polities korrekte siele heuning om die mond te probeer smeer nie. Wiechers het duidelik 'n holistiese analise van die status quo gedoen asook die gepaardgaande vraagstukke waarmee tans gestoei word. Aan die hand hiervan word 'n velerlei fasette aangespreek en voorstelle aan die hand gedoen. Natuurlik gee Wiechers nie voor dat hy oor al die antwoorde beskik nie. Tog, dis 'n baie goeie begin en bied deelnemers die geleentheid om oor die meriete te besin en met alternatiewe te kom waar nie saamgestem word nie.
    Wat Wiechers skryf en sê is dus 'n eerlike strewe na 'n inklusiewe oplossing op velerlei terreine. Dit is 'n inherente poging om hoë onderwys te herstruktueer en prakties meer toeganklik en finansieel lewensvatbaar te maak. Dis ook 'n poging om impetus en beslag te gee aan die behoefte van verskeidenheid binne die reënboognasie. Iets veel anders as wat tans skaamteloos (om Raymond se woorde te gebruik) "geblik" wil word. Wat Wiechers betref, kan al hierdie pogings meewerk om afgestudeerde studente se kwalifikasie meer gelykwaardig te maak, hier te lande maar ook gemeet aan standaarde van oorsese instellings, iets wat tans beslis nie die geval is nie.
    So, indien Raymond van oordeel is dat Wiechers se inset "ontstellend" is en hy hom daarvoor "skaam," help tog om die debat te stimuleer met 'n soortgelyke inset, een wat tot voordeel van alle studente in ons land asook ons land op sigself kan wees.

    • Een van die voorbeelde waaroor Raymond hom skaam is seker 'n frase soos:
      "moet aanvaar word dat Afrikaans op ons kampusse uitgeroei gaan word."
      Enige persoon wat aanvaar dat Afrikaans op alle kampusse uitgeroei gaan word is ongrondwetlik, ondemokraties en onmenslik.

    • Avatar
      Gustaf Claassens

      Raymond, dis die regte ding om te doen. Verskille stimuleer debat en gesprek en as jy 'n standpunt het wat jy kan motiveer en in glo sal ek dit uiteraard respekteer. Dis veel beter as om net cliches te gebruik soos "skaam" ensomeer. Groetnis.

  • Avatar
    Charl vd BERGH

    Ek’s deur die bank tot Bestuurder, self opleiding ook gedoen - ALLES IN ENGELS -het Afrikaans gepraat in opleiding. Ek’s nog steeds AFRIKAANS tot nou op pensieon in Tuinroete vir 23jr, en ek praat orals net AFRIKAANS plus as ek by ’n pub aankom met rugby word die taal onmiddellik na AFRIKAANS verander- ek moes maar in Engels leer en nog bo ander uitgestaan , gaan dink twee keer oor hoe hierdie optrede eintlik AFRIKAANS baie seer maak, luister net na ons: jy’t my asem weggeslaan ens - niemand kan/gaan hierdie GODDELIKE INBORSTAAL kan stilmaak nie - so kom ons leer maar en lewe/sing AFRIKAANS!

  • Soos al meer staatsfunksies disfunksioneel raak, ontstaan daar private inisiatiewe om die gapings te vul. Ek kan my kwalik voorstel dat duur fakulteite so vining sal privatiseer, maar die basiese vakke sal wel daardie paadjie volg.
    Centurion Akademie is 'n goeie voorbeeld. Die toekoms van Afrikaans in die akademiese kringe, kan versterk word, deur kwaliteit digitale onderrig tot stand te bring. Die voortbestaan van Afrikaanse akademiese instellings kan ook verseker word deur indiensneembare kwaifikasies aan te bied.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top