Waarom Afrikaans gelyke status by US verdien

  • 2
Lees ook:
Stigtingstoespraak van die Afrikaanse Alumni-vereniging: Afrikaans en universiteite
US-Raadsbesluit: US verbind tot meertaligheid sonder uitsluiting

US-professore Liebenberg en Van der Walt se artikel "Afrikaans 'verdien nie spesiale behandeling'" wat in Die Burger van 22 Desember 2015, asook op theconversation.com verskyn het, maak kennelik daarop aanspraak dat dit ’n regtens gefundeerde bydrae tot die US-taaldebat is.

Die skrywers werk met die aanname dat Afrikaans ’n bevoorregte posisie aan die US beklee. Of dit nog de facto so is, is te betwyfel. Ek werk in elk geval met die aanname dat diegene wat Afrikaans as ’n primêre onderrigtaal aan die US wil behou, die standpunt huldig dat dit ten minste gelyke status met Engels behoort te hê.

Volgens die skrywers het daar in 2015 ’n hewige debat oor Afrikaans as onderrigtaal aan die US gewoed en het studente dwarsdeur die jaar teen die gebruik van Afrikaans as dié instelling se hooftaal betoog. Hierdie gebeure het, volgens hulle, daarop uitgeloop dat die bestuur (dit wil sê die rektor se bestuurspan) besluit het om Engels as die primêre onderrigtaal te aanvaar.

Volgens die skrywers se weergawe rakende Afrikaans se bevoorregte status het die bestuur dus probeer om die taalbeleid te wysig, soos wat die skrywers oënskynlik aanvaar wanneer hulle sonder enige voorbehoud sê dat die "US se bestuurspan probeer ’n taalbeleid skep wat pragmatiese, opbouende oplossings vir hierdie komplekse kwessie sal bied".

Maar soos die skrywers tereg uitwys, bepaal die Wet op Hoër Onderwys dat die raad, met die instemming van die senaat, die US se taalbeleid bepaal en het die bestuur hulself gevolglik klaarblyklik ’n funksie aangematig wat statutêr elders setel. Geen wonder nie dat ’n oorweldigende meerderheid van die raadslede van die US hulle op 30 November 2015 verset het teen die bestuur se poging om die taalbeleid eensydig te wysig.

’n Mens sou verwag dat ’n regsgefundeerde artikel die regmatigheid al dan nie van die bestuur se besluit om Engels as die primêre onderrigtaal te aanvaar, sou aansny, maar dit swyg oor hierdie aspek en praat die bestuur se optrede goed deur onder meer te sê dié span werk saam met akademiese personeel wat kundiges op die gebied van taal en onderrig is, en in oorlegpleging met ’n klomp studenteliggame, ’n werkswyse wat volgens die skrywers sin maak, aangesien "akademiese personeel van ’n spesifieke instelling ... in die beste posisie (is) om hul studente se behoeftes, onderwysbeginsels en spesifieke dissiplines en institusionele beperkings te verstaan". (Dat die oorlegpleging bewysbaar selektief was, laat ek eenkant. So ook die moontlikheid dat sommige dosente geneig mag wees om ’n taalbeleid te bevorder wat hul werkslading sal verminder.)

Dit word gevolg deur die stelling dat dít vermoedelik die rede is waarom die Wet op Hoër Onderwys nie aan universiteitsrade eksklusiewe jurisdiksie gee om taalbeleid te bepaal nie, maar verg dat dit met instemming van universiteite se senate, wat primêr uit akademici bestaan, bepaal moet word.

Wat word werklik gesê? Is dit dat die bestuur maar in stryd met die toepaslike statutêre bepalings kan optree omdat dit die skrywers se subjektiewe siening is – oor ’n aangeleentheid ten opsigte waarvan hulle nie deskundiges is nie – dat dit wat die bestuur probeer regkry, ’n goeie ding is ongeag die feit dat hul werkswyse onwettig is?

Dit staan soos ’n paal bo water dat die artikel ’n swakgekamoefleerde poging is om ’n politieke gevolgtrekking, naamlik dat die bestuurspan se benadering tiperend is van "die soort billike, doenlike pogings" wat na die skrywers se mening “steun en verdere betrokkenheid verdien eerder as die veroordeling wat van sommige dele van die Afrikaanse gemeenskap afkomstig is", met die respektabele kleed van ’n onafhanklike en objektiewe regsmening te beklee.

Dit is ook deurspek met ongefundeerde en moedswillige aannames wat soos strooipoppe staangemaak en dan deur die skrywers afgeskiet word. Die eerste so ’n wanvoorstelling is dat studente dwarsdeur 2015 teen die gebruik van Afrikaans as die US se hooftaal betoog het. Hulle het betoog teen die gebruik van Afrikaans. Punt.

Tydens ’n BBC World-debat met ’n verteenwoordiger van Open Stellenbosch het ek hom gevra of, indien Afrikaans en Engels gelyke status aan die US sou geniet en diegene wat in Engels onderrig wil word aldus onderrig kan word, daar ’n probleem daarmee sou wees indien Afrikaanssprekendes dieselfde reg het. Hy het dit terstond verwerp.

Daar is ook ongeëvalueerde stellings soos: "Kritici van Afrikaans voer aan dit sluit steeds ander rasse uit aan Afrikaanse universiteite." Watter Afrikaanse universiteite? Daar is nie meer ’n Afrikaanse universiteit in Suid-Afrika nie. Daar is 26 universiteite en 39 kampusse in Suid-Afrika en net twee waar Afrikaans, saam met Engels, ’n primêre taal van onderrig is. Hierdie feit word nie eens genoem nie.

Ook sê die skrywers dat diegene wat die bestuur se verandering by die US teenstaan, hulle op die Grondwet beroep wat volgens hulle almal se reg op onderrig in hul moedertaal waarborg, ’n aanspraak wat volgens die skrywers se mening op ’n argument berus waarvan die onderliggende aannames vals is. Dít, sê hulle, word duidelik wanneer die inhoud van die grondwetlike reg rakende onderrigtaal ondersoek word en dat dit belangrik is om hierdie reg korrek te interpreteer in die konteks van die Grondwet se oorhoofse doelwitte en waardes.

Weer eens is dit gewoon verkeerd dat almal, of selfs ’n beduidende persentasie van diegene wat die bestuur se verandering by die US teenstaan, hulle op ’n ongekwalifiseerde grondwetlike reg op moedertaalonderrig beroep. Soos ek later aantoon, is die beroep een op ’n gekwalifiseerde grondwetlike reg wat met inagneming van al die tersaaklike faktore op die standpunt staan dat dit volledig bestaanbaar met die Grondwet is indien Afrikaans en Engels ten minste gelyke status aan die US geniet.

Die artikel is ’n vreemde dier. Dit ontleed die beweerde aanspraak van kampvegters vir Afrikaans op ’n grondwetlike reg om tersiêre onderrig in Afrikaans te eis aan die hand van die bepalings van artikel 29(2) van die Grondwet en kom dan tot die gevolgtrekking dat, in die lig van daardie bepalings, ’n "aansienlike verskuiwing na Engels as die primêre taal van sowel onderrig as amptelike interaksie op die kampus" aangewese is.

Hierdie benadering span egter die kar voor die perde in. Die primêre vraag moet tog seker wees of die universiteit se bestaande taalbeleid, soos deur die raad met die goedkeuring van die senaat goedgekeur, grondwetlik is al dan nie, en of ’n taalbeleid wat aan Afrikaans en Engels as onderrigtale gelyke status toeken, grondwetlik is al dan nie. As daar ’n geldige regsargument is vir die vervanging of wysiging van die universiteit se taalbeleid, dan moet die voorstanders daarvan tog kan aantoon dat die bestaande beleid onbestaanbaar is met ’n bepaling of bepalings van die Grondwet, of die Wet op Hoër Onderwys, of enige ander statutêre bepaling. As hulle dit nie kan doen nie, is daar nie ’n regsargument ter ondersteuning van die wysiging of vervanging van die universiteit se taalbeleid in ooreenstemming met, byvoorbeeld, die bestuur se voorkeure nie.

Wat die skrywers egter doen, is om die vermeende aanspraak van sogenaamde kampvegters vir Afrikaans op ’n grondwetlike reg om tersiêre onderrig in Afrikaans te eis, te evalueer en dan tot die gevolgtrekking te kom dat, omdat ’n ongekwalifiseerde aanspraak soos hierdie nie juridies gefundeer is nie, in dié sin dat dit nie aan artikel 29(2) van die Grondwet ontleen word nie, die US se taalbeleid aangepas moet word.

Dit is klaarblyklik ’n vals argument en, soos verwag kan word, word die evaluasie van die beweerde aanspraak op ’n ongekwalifiseerde reg op onderrig in Afrikaans wat aan artikel 29(2) van die Grondwet ontleen sou word, gekenmerk deur politieke, ekonomiese en maatskaplike argumente, maar nie regsargumente nie.

Soos ek gesê het, die relevansie van artikel 29(2) het te make met die vraag of die bestaande taalbeleid in ooreenstemming daarmee is al dan nie. In wat volg, spreek ek my oor hierdie aspek van die aangeleentheid uit.

Artikel 29(2) van die Grondwet bepaal soos volg: "Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is. Ten einde doeltreffende toegang tot en verwesenliking van hierdie reg te verseker, moet die Staat alle redelike alternatiewe in die onderwys, met inbegrip van enkelmediuminstellings, oorweeg, met inagneming van (a) billikheid; (b) doenlikheid; en (c) die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, reg te stel.”

Artikel 29 is ingeklee as ’n reg waarop individue, nie instellings nie, ’n aanspraak het. Die bestaan van hierdie reg is egter sonder twyfel ’n faktor wat in verrekening geneem moet word by die bepaling van die US se taalbeleid, asook by die bepaling van die vraag na wat grondwetlik aangewese of bestaanbaar is en wat nie.

Die eerste punt van belang is dus dat individue ’n reg het om in openbare tersiêre-onderwys-instellings onderrig te ontvang in die taal van eie keuse waar dit redelikerwys doenlik is.

Die tweede punt van belang is dat ten einde doeltreffende toegang tot en die verwesenliking van hierdie reg te verseker, die staat alle redelike alternatiewe, met inbegrip van enkelmediuminstellings, moet oorweeg met inagneming van billikheid, doenlikheid en die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het, reg te stel. Dit is van belang dat enkelmediuminstellings, met inagneming van hierdie faktore, statutêr ingesluit word as potensieel redelike alternatiewe, veral indien in ag geneem word dat die voorstanders van Afrikaans as ’n primêre taal van onderrig aan die US nie aanspraak maak op ’n enkelmediuminstelling nie.

Vrae na die geldigheid van ’n universiteit se taalbeleid en van aansprake met betrekking daartoe moet beoordeel word met verwysing na die grondwetlik-bepaalde faktore in samehang met mekaar – en verrekening van moontlike spanning tussen hulle – en met verwysing na alle tersaaklike feite, soos:

  • die bevolkingsamestelling van veral die betrokke universiteit se hoofbedieningsgebied en die taalvoorkeure van die verskillende bevolkingsgroepe
  • die beskikbaarheid van tersiêre-onderrig-geleenthede in die universiteit se hoofbedieningsgebied en die tale waarin aan daardie inrigtings onderrig gegee word
  • die beskikbaarheid van tersiêre onderrig landswyd en die tale waarin sodanige onderrig aangebied word
  • die universiteit se bestaande vermoë om in ’n bepaalde taal of tale onderrig te gee.

Indien in ag geneem word dat 

  • menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede een van die waardes is waarop die Suid-Afrikaanse staat in terme van artikel 1 van die Grondwet gegrond is
  • artikel 6(2) bepaal dat die staat praktiese en daadwerklike maatreëls moet tref om die status van die inheemse amptelike tale van Suid-Afrika te verhoog en hulle gebruik te bevorder
  • artikel 6(4) bepaal dat alle amptelike tale gelykheid van aansien geniet en billik behandel moet word
  • die US een van drie universiteite in die Wes-Kaap is, waarvan die ander twee uitsluitlik in Engels onderrig gee en dat die meerderheid van dié provinsie se inwoners Afrikaanssprekend is
  • die US een van net twee van die 26 universiteite in die land is waar Afrikaans nog hoegenaamd as onderrigtaal gebruik word
  • indien Afrikaans as onderrigtaal gelyke status met Engels aan die US geniet, studente wat verkies om in Engels onderrig te word, uitsluitlik in daardie taal onderrig sal kan ontvang
  • die aanspraak nie is dat stappe gedoen moet word om Afrikaans as onderrigtaal by ’n bestaande universiteit in te stel nie, maar om Afrikaans op ’n gelyke basis met Engels as onderrigtaal te behou by ’n universiteit waar dit in die verlede die primêre taal van onderrig was,

is dit duidelik dat die huidige taalbeleid, en ’n taalbeleid waaraan Afrikaans en Engels gelyke status as onderrigtale ontleen, nie ongrondwetlik is nie én dat, op grond van billikheid, doenlikheid én die regstellingsvereiste van paragraaf (c) van subartikel (2) van artikel 29 van die Grondwet, daar ruimte is vir ’n grondwetlik-gefundeerde aanspraak vir die behoud van Afrikaans as ’n primêre taal van onderrig aan die US, veral gegewe die reg van studente om by openbare onderwysinstellings onderrig te ontvang in die taal van hul keuse waar dit redelikerwys doenlik is.

Die skrywers se behandeling van die implikasies van die kriteria van billikheid, doenlikheid en die behoefte om die gevolge van wette en praktyke van die verlede wat op grond van ras gediskrimineer het reg te stel, getuig van die soort rasionalisering wat onvermydelik gepaardgaan met ’n poging om ’n politieke gevolgtrekking teen elke prys op juridiese grondslae te regverdig.

’n Voorbeeld: In hulle bespreking van die billikheidsvereiste sê die skrywers dat "as ’n taalbeleid die skepping van ’n diverse, inklusiewe kampusgemeenskap op enige manier ondermyn, word die universiteit se akademiese lewe daardeur verarm", asof dit ’n gegewe is dat die US se taalbeleid, en nét die US se taalbeleid, die skep van ’n diverse, inklusiewe kampusgemeenskap ondermyn.

Die billikheidsvereiste verg tog sekerlik ook ’n objektiewe ondersoek na en inagneming van faktore soos:

  • die regverdigheid van die taalbeleid met inagneming van die tale wat hoofsaaklik binne die primêre bedieningsgebied van die universiteit gepraat word
  • die relatiewe beskikbaarheid van onderriggeleenthede aan ander universiteite in die betrokke tale
  • die feit dat dit redelikerwys van voornemende studente verwag kan word om hul keuse met betrekking tot die universiteit van hul voorkeur uit te oefen met inagneming van die taalbeleid van daardie universiteit,

om maar net ’n paar te noem.

’n Mens sou verwag dat die doenlikheidsvereiste ’n sterk faktor sou wees ten gunste van die behoud van Afrikaans aan ’n universiteit waarvan Afrikaans tradisioneel die primêre taal van onderrig was.

Die skrywers argumenteer egter dat ook hierdie vereiste Afrikaans nie ter wille is nie, onder meer aangesien ’n "(s)tewige vaardigheid in Engels ... noodsaaklik is vir gegradueerdes se toekomstige loopbane en hul vermoë om doeltreffend in ’n getransformeerde Suid-Afrika en multi-kulturele globale omgewings te funksioneer".

’n Stewige vaardigheid in Engels was nog altyd noodsaaklik en US-graduandi het oor dekades heen hulself, plaaslik en globaal, met onderskeiding laat geld, enersyds omdat hulle stewige vaardigheid in Engels gehad het en, andersyds, omdat hulle die voordeel gehad het daarvan om in hulle moedertaal onderrig te word en gevolglik akademies goed onderleg was.

Daar is natuurlik geen verskoning daarvoor nie dat swart studente na 20 jaar van ’n demokratiese bestel, soos die skrywers sê, nog steeds getuig van hul pynlike ervarings weens die gebruik van Afrikaans op die US-kampus, in koshuise en in Stellenbosch self wat daarop gemik is om hulle uit te sluit en te marginaliseer.

Maar dit lyk nie asof hierdie aanklag, wat van kwade opset of onverskilligheid getuig, enigsins iets met die taalbeleid te make het nie, behalwe vir sover die beleid dalk nie na wense geïmplementeer word nie. Dit is eerder ’n aanklag teen ’n klein minderheid onverdraagsame mense van wie ’n mens nooit medemenslikheid sal kan verwag nie.

Indien ’n taalbeleid wat gelyke erkenning gee aan aansprake op onderrig in Engels en Afrikaans egter toegewyd en bekwaam geïmplementeer word, is daar klaarblyklik geen doenlikheidsoorwegings wat daarteen kan militeer nie.

Die regstellingsvereiste is, soos verwag kan word, die faktor waarop die skrywers veral klem lê. Hiervan sê hulle die volgende: "Wat grondwetlike eise betref, moet veel nog by die US gedoen word om oop en vrye toegang tot tersiêre onderwys te verseker. Dit sal nie gebeur deur taal-oorheersde patrone van voorregte van die verlede te verskans nie. Dit sal aangevoor word deur verandering en hervorming om die instelling vir ’n diverse personeel- en studentekorps oop te stel."

Maar wat staan in die weg van oop en vrye toegang tot tersiêre onderwys aan die US? En wat sal in die weg van oop en vrye toegang tot tersiêre onderwys staan indien Afrikaans en Engels aan een universiteit gelyke status as onderrigtale het? En watter morele of juridiese regverdiging kan daarvoor bestaan om in ’n see van oorvloed Engelse universiteite Afrikaans sy gelyke status te ontneem by een van twee universiteite waar dit nog moontlik is om gelykberegtiging tussen Afrikaans en Engels in die praktyk te verwesenlik?

Daar is ’n ander aspek wat pla: die skrywers aanvaar sonder enige kritiese evaluasie die aanspraak dat ter wille van transformasie en die regstel van rasseongeregtighede van die verlede ’n "aansienlike verskuiwing na Engels as die primêre taal van sowel onderrig as amptelike interaksie op die kampus" onvermydelik is.

Hierdie siening verreken nie – dit stel nie eens ondersoek in nie na – die moontlikheid dat die aandrang om Afrikaans as onderrigtaal aan die US af te skaf, want dit is wat dit is, voortspruit uit ’n berekende inisiatief wat geen erg het aan grondwetlike regte en besonderlik die regte van minderheidsgroepe nie en wat getipeer word deur ’n drang na ontneming en selfgelding.

Die skrywers sê ook: "Die toelating van aansienlik meer swart studente en die aanstelling van meer swart personeellede moet die hoogste prioriteit wees – nie net om ’n diverse kampusgemeenskap te skep nie, maar omdat dit uitvoering gee aan die grondwetlike opdrag om die rasseongeregtighede van die verlede reg te stel."

Ook hierdie is ’n hoogs aanvegbare stelling. Dit verreken nie die feit dat die meerderheid van die grootste komponent statutêr gedefinieerde swart mense in die Wes-Kaap Afrikaans as moedertaal het nie. Dit vermeld nie eens die feit dat die grootste toename in studentegetalle as gevolg van die verengelsing van die US deur wit Engelssprekende studente verteenwoordig word nie. Dit verreken ook nie enige van die ander tersaaklike faktore wat ek hier bo genoem het nie. Dit is gewoon ’n onwetenskaplike stelling waarvoor geen verifieerbare empiriese grondslag gelê is nie.

Ten slotte, en op ’n ietwat moedswillige noot: die skrywers loop natuurlik die risiko dat hulle kommentaar gesien sal word as dié van regters in eie saak, aangesien ’n taalbeleid wat gelyke onderrigstatus aan Afrikaans en Engels toeken, meer werk van die akademiese personeel sal verg!

  • 2

Kommentaar

  • 'n Mens kan nie anders as om waardering uit te spreek vir die skrywer se poging om die saak rustig en ewewigtig te beredeneer. Ek is egter bevrees dat omdat daar hoofsaaklik twee tale in Suid-Afrika tans is waardeur akademiese onderrig plaasvind, nl Afrikaans en Engels, die Afrikaanssprekende student altyd aan die korste end sal trek.
    Omdat Afrikaans nog steeds gesien word as die taal van die verdrukker en dus met emosionele bagasie, 'n agterstand meeding teen Engels, sal geen artikel hoe goed beredeneerd ook al enige indruk maak op emosioneel opgesweepte studente nie, waarvan sommige meen die verwoesting van infrastruktuur, soos bv biblioteke by Unisa, is die aangewese weg om jou doelwit te bereik.
    Hierdie doelwit is dan klaarblyklik om weg te doen met alles wat uit hul oogpunt uit 'n onderdrukkende verlede en geskiedenis kom en is Afrikaans as draer daarvan iets waarvan so gou as moontlik op alle vlakke ontslae geraak moet word om 'n doelwit van multikulturele gemeenskap te bereik, met Engels as voertaal.
    Dat hul met die beleid ook die ondergang van hul eie moedertaal as 'n moontlike
    onderrigtaal in die toekoms grawe, het nog nie tot hul deurgedring nie en as dit wel het skeel dit hulle min.
    Wat wel betreurenswaardig is dat hul bewustelik of onbewustelik deur diegene aan die roer van sake ondersteun word.

  • Avatar
    Tom McLachlan

    Ek is dankbaar dat adv Heunis op grond van behoorlike regs- en logiese argumente die skrywers van die 22 Desember-artikel teregwys. Ek het reeds elders ook gesê dat die twee regsprofessore se artikel grotendeels polities van aard was wat hulle op grond van hulle onderskeie hoogleraarskappe en 'n werklik twyfelagtige vertolking van die Grondwet in 'n juridiese dekmantel geklee het.
    Heunis noem ook ander belangrike oorwegings, soos die feit dat honderde oudstudente van die US wat in Afrikaans onderrig is, hulle uitstekend in die internasionale en Engelse wêreld kan en kon handhaaf, die feit dat twee uit drie Wes-Kaapse universiteite Engels-eentalig is en die feit van die demografie van die Wes-Kaap.
    Ek het ook reeds elders gesê dat dit van 'n bestuurspan passie, oortuiging en deursettingsvermoë sal verg om Afrikaans as onderrig- en voertaal te handhaaf in die aangesig van so aanslag teen hom. Dit is hier waar Afrikaans aan die US gaan staan of val, en ek is bevrees die US-bestuur het reeds sy kaarte gewys.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top