Vernietig 'n taal, vernietig denke

  • 5

ampie_coetzeeDaar is nog niks geskryf oor wat gaan gebeur met die Departemente Afrikaans aan die universiteite wat mettertyd gaan verengels nie.

Ek kan begin met 'n voorbeeld van wat by die Universiteit van Wes-Kaapland gebeur het toe ek daar aangestel is in 1987 as hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands (toe was Nederlands nog 'n deel daarvan).

Daar was in die omgewing van 700 studente wat ingeskryf was in die departement. Toe het die Universiteit geleidelik begin verengels en toe ek daar weg is, was daar ongeveer 300 studente. Sedert my aftrede het die getal vanselfsprekend verder verminder. Nou is dit 'n Engelse universiteit. Dit sou die Afrikaanse universiteit van die Wes-Kaapland kon geword het. Die aantal Afrikaanssprekendes in die Wes-Kaap, en Boland, en die Noord-Kaap is groter as al die ander tale hier – en die meeste van die potensiële studente hier praat moeilik Engels, omdat dit nie hulle moedertaal is nie

Op Wits was ek bevoorreg om te studeer en nagraadse navorsing te doen onder NP van Wyk Louw. Hy was hoof van die Departement, en Ernst van Heerden het hom opgevolg. Daar was ook nog ander professore, soos John Miles en Edith Raidt.

By Wits bestaan daar nie meer 'n Afrikaansdepartement nie.

Die Randse Afrikaanse Universiteit se naam is verander na die University of Johannesburg.

Die Afrikaanse letterkunde is die mees indrukwekkende in Afrika. Ek praat van die produksie van poësie, prosa en drama. Wat gebeur nou as al ons departemente Afrikaans se studentetalle verminder – en as daar bitter min nagraadse navorsing gedoen gaan word? Sal departemente soos Wits s'n begin sluit – of afgeskaf word?

like_litnet_op_facebookWat gebeur met ons skrywers, veral van prosa en drama? As hulle nie meer gestimuleer word deur universiteite nie, waar taal nie net 'n alledaagse kommunikasiemiddel is nie – maar deur die diepte daarvan 'n soeke na betekenis is. Die uitweg vir prosa- en dramaskrywers wat iets te sê het, sal seker maar wees om in Engels te skryf. As gevolg van die aard van poësie – waar die gedig dikwels die betekenis van die gedig is, en waar Afrikaans kán blom – maar nie vertaal kan word nie. Net 'n uitgelese groepie lesers, wat miskien maar self moet uitgee? Ek praat nie eers van uitgewers nie.

Die slotsom is dat die uiteindelike vernietiging van 'n taal 'n vernietiging van denke is.

 

  • 5

Kommentaar

    • Avatar
      Waldemar Gouws

      Baie dankie, dr Coetzee! Hoe kan 'n rektor namens ons wil selfmoord pleeg? Hoe kan iemand wat nie lees nie die skrif aan die muur snap?

  • Avatar
    Etienne Terblanche

    Baie dankie, Ampie! Rustig en helder, en ontsettend hartseer ook. Engels het maar imperialistiese neigings. Die verlies van Afrikaans sal nie net 'n morele en geestesramp wees vir die plaaslike universiteitswese nie, maar ook 'n ekonomiese ramp. Bitter min van die 22-24 homogene Engelstalige kampusse in die land funksioneer goed. Die rede is dat moedertaalonderrig (met 'n sterk Engels as vak daarby) soveel beter werk as die skisofreniese alles-behalwe-moedertaal golf in die land. Ek kry seer vir Afrikaans. As jy geleentheid het, het 'n brief wat ek sommer geskryf het, nou as berig in Beeld beland (more of oormore, dws Donderdag of Vrydag). Dit is nie naastenby perfek nie, maar dit sê tog iets oor die belewing van 'n bykanse verkragting (ek hou nie eens daarvan om die woord te gebruik nie).

    • Ampie, ek is werklik bly dat jy nie maar moedeloos stilbly nie, maar die vinger op die wond plaas. 'n Mens hoop dit maak êrens seer. Ek het 'n brief na DB gestuur wat hopelik Maandag (23/11) geplaas sal word.

  • Avatar
    Pieter Haasbroek

    Ampie, ons het saam beleef hoe "bemagtiging" algaande in Suid-Afrika sy teenpool in "ontmagtiging" vind. Een element daarvan - verengelsing - word nou by die US op die spits gedryf. Die ander universiteite het lankal die stryd gewonne gegee; kom ons let nou hoe verloop die eindstryd hier in Stellenbosch.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top