Wannie Carstens, US-raadslid: Waarom ek uitgeloop het

  • 37

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

Foto van Wannie Carstens: Izak de Vries

Eers het Jannie van der Westhuizen gesê hoekom hy bedank het van die US Raad, toe het André Coetzee verduidelik waarom hy uitgestap het, en die afgelope naweek het Johan Theron in Rapport laat blyk waarom hy geloop het en ook hoe ontsteld hy was oor die wyse waarop die proses op die dag bestuur is. Dit raak amper ʼn refrein van “ek het geloop”, maar ek probeer hiermee ook verduidelik waarom ék geloop het. Elkeen van ons het ʼn eie rede, en elke rede is belangrik, omdat dit ʼn pakket vorm, een van ontnugtering met ʼn proses wat die afgelope jaar liederlik skeefgeloop het onder wankelende leierskap.

Die uitloop uit ’n raadsvergadering, in wese enige vergadering, het ’n sterk simboliese waarde, naamlik dat jy jou nie in jou persoonlike hoedanigheid kan vereenselwig met die uitkoms van verrigtinge tydens so ’n vergadering nie. Dit geld nog meer as ʼn gebaar indien jy jou geleentheid tydens die vergadering gebruik het om op eksplisiete gebreke te wys maar dit geen reaksie of aanpassing(s) meegebring het nie. Dan is dit jy en jou gewete.

’n Mens sou seker kon argumenteer dat jy as deelnemer aan ’n vergadering verplig is om die uitkoms van stemmery tydens so ʼn vergadering te aanvaar, en dit doen ek ook gewoonlik. Maar hierdie keer kon ek nie langer bly nie – ek moes loop om die sterkste moontlike weerstand te wys teen ʼn besluit wat alle redelike pogings tot oorreding en wysiging van die tafel af gevee het. As verteenwoordiger van die Konvokasie moes ek wys dat ek nie die uitkoms van die proses aanvaar nie. En ek weet dat ek baie Konvokasielede se steun hiervoor het.

Hoe het ons op hierdie punt gekom? Laat ek verduidelik. Daar is twee datums wat hier ter sake is:

14:51, 21 Mei 2016

Hierdie tyd en datum is een van daardie momente wat in die geskiedenis onthou gaan word as ’n waterskeidingsoomblik.

Die US-Raad se eerste vergadering van die jaar is op 9 Mei gehou. Tydens hierdie vergadering het die konseptaalbeleid ook ter sprake gekom, en nadat oor en weer daaroor gedebatteer is en ʼn konsensusbesluit nie geneem kon word nie, het die voorsitter die Raad laat stem. Die uitkoms was 14–10, dus 10 téén die beleid soos dit op daardie stadium was. Ek was uiteraard een van die 10, omdat ek ʼn duidelike standpuntinname teen Afrikaans in die konsepbeleid ervaar het, so tussen die mooi woorde oor “meertaligheid” deur.

Een van die ministeriële lede het toe gesê dat die gaping tussen die twee groepe so min is dat dit regverdigbaar is om ʼn spesiale vergadering te belê sodat gepraat kan word oor die beginsels wat as vertrekpunt gebruik moet word in die taalbeleidsproses. Dit sou ook die Raad as ʼn eenheid kon saamsnoer. Ek was dankbaar hieroor, omdat dit ʼn besondere oomblik van uitreik was.

Dit het my persoonlik hoop gegee dat ons uiteindelik op ʼn punt gekom waar ons met mekaar eerlik kon wees en in ʼn ontvanklike atmosfeer oor sake kon redeneer. (Tussen hakies: ek is iemand wat glo aan die skep en bou van verhoudings ten einde later met ’n oop en eerlike gesindheid met mense oor sake te kan praat. En daarom was ek nogal opgewonde oor hierdie verwikkeling.)

Die spesiale vergadering het plaasgevind op Saterdag 21 Mei. Die verwagting dat ons teen 12:00 sou klaar wees. Allermins!

Die vergadering het pas afgeskop toe dit duidelik geword het dat ʼn taai vergadering voorlê. Bykans elke punt wat as beswaar geopper is, het hewige teenstand ontlok en dit was kort voor lank duidelik “die wind waai wes”, soos die mense in Namakwaland sê.

Toe oorgegaan is om die veronderstelde beginsels te identifiseer wat as vertrekpunt behoort te dien tydens die hersien van die taalbeleid, is die kwessie van die gelyke status van Engels en Afrikaans op die besprekingslys geplaas – van ongeveer 11 tot 12 punte. Die eerste paar sake het redelik maklik verloop, totdat hierdie saak aan bod gekom het. En dit is daar waar dit gou duidelik was daar sou geen toegewing wees nie – Afrikaans en Engels sou nie gelyke status kry nie. (Onthou dat dit nog die posisie in November 2014 was, maar dat die posisie met bykans elke vergadering verander het, selfs tot in November 2015.)

Nadat verskeie mosies links en regs gemaak is, en die meeste nie verder gegaan het nie, het Jan Heunis (en ek het hom gesekondeer) ʼn mosie voorgestel dat die konseptaalbeleid as beginsel waarteen dit gemeet moet word, die gelyke status van Engels en Afrikaans aanvaar. My hoop was dat daar konsensus in die belang van die Raad, maar ook in die belang van die lede van die Konvokasie en die US in die geheel sou kom. Maar tevergeefs. Selfs toe daarop gewys is dat die proses gebrekkig was en dat die oënskynlike raadpleging en “in ag neem” van die 517 voorleggings van belanghebbendes (wat kwansuis in ag geneem is by die aanpas van die konsepbeleid) niks anders as oëverblindery was nie, is die inset geïgnoreer.

Toe ʼn stemming uiteindelik afgedwing is, was die uitkoms téén die mosie (13–8) en hiermee is ineens ʼn besluit met enorme implikasies vir Afrikaans as taal geneem. Met hierdie besluit is Afrikaans sommer net so ontneem van sy status van bykans 100 jaar aan die US.

Ek het op my horlosie gekyk hoe laat dit is toe die uitkoms van die stemming bekend gemaak word. Dit was 14:51 op Saterdag 21 Mei 2016. Onthou hierdie tyd en datum. Dit is op presies hierdie tydstip dat die US, soos een van my Facebook-vriende (ook ʼn oud-Matie) gesê het, Afrikaans “so ruggraatloos die rug gekeer het”. Sommer net so, by wyse van ʼn mosie op ʼn US-Raadsvergadering. Ek was ontnugter, geskok, en om die waarheid te sê verpletter. Die rit lughawe toe en die lang rit vanaf Lanseria na Potchefstroom het nie gehelp om my vrese te besweer nie. Dit het dit inteendeel verdiep.

Mooi broodjies wat hierna in die media gebak is oor “Afrikaans wat gehandhaaf gaan word” het geen legitimiteit nie omdat dit nie in opregtheid en eerlikheid gedoen is nie. Tussen die mooi woorde lê ʼn klomp versweë waarhede – dat Engels die langtermynverstektaal gaan wees. Enigeen met ʼn greintjie kennis van taalprosesse kon die impak van die besluit op Afrikaans besef.

En wat is die kern van die saak hier? Gewoon dat begin is met die proses om Afrikaans se afskaling in ʼn wettige konteks (ʼn Raadsvergadering) te plaas. Daar kan geargumenteer word dat die besluit op demokratiese wyse tydens ʼn vergadering geneem is en dat ek my daarby moet neerlê. Dit is egter nie so eenvoudig nie, omdat ek as navorser (wat tans ʼn boek oor “die storie van Afrikaans” afrond) presies weet wat die langtermyngevolge van die erosieproses is. As ek die uitkoms sien, kan ek nie self daaraan aandadig wees nie.

16:19, 22 Junie 2016

Die tweede geskeduleerde vergadering van die jaar het op 22 Junie plaasgevind.

Nadat ʼn hele aantal sake aan bod gekom het, het die konseptaalbeleid net ná middagete ter sprake gekom. Dit was gou duidelik dat elke punt wat van ons wat die beleid teenstaan, geopper het, geen impak gehad het nie. Etlike gebreke is aangedui, asook die moontlikheid van verdere hofsake weens swak formulering, maar dit was ʼn muur waarteen ʼn mens gepraat het. Selfs ʼn goedbedoelde aanbod deur Jan Heunis, as senior advokaat, om te help om die beleid te herformuleer om regsekerheid te help kry, is sonder reaksie geabsorbeer.

Self het ek gewys op die foutiewe interpretasie van meertaligheid wat as basis in die beleid gebruik is, maar tevergeefs. My verwysing dat die beleid “eensydige meertaligheid” bevorder (Engels as dominante taal, met Afrikaans en Xhosa as ʼn terloopse sousie by), maar dat meertaligheid ten doel het om “uitbreidend” of “toevoegend” te werk, is “met dank” aangehoor, maar daarna geïgnoreer.

Dit was vir my duidelik dat ʼn goedbeplande draaiboek besig was om voor ons af te speel: gee die skyn van luister, maak die regte instemmende geluide en gebare, gee kans om besware te opper, maar dan: BOEM! Kom ons stem, het die ondervoorsitter gesê – ná twee ure. Besware van enkele Raadslede dat die Raad nog nie genoeg tyd gehad het om insette te lewer op ʼn duidelik gebrekkige dokument nie, is van die tafel gevee. En toe word die stemming per mosie afgedwing.

Binne minder as 20 minute is Afrikaans se status afgegradeer tot dié van ʼn mindere taal. Die stemming was 17–9. Om presies 16:19 op 22 Junie 2016 is hierdie besluit geneem. Nog ʼn moment vir die geskiedenis om te onthou.

Jannie van der Westhuizen het aangedui hy wil iets sê, en eers ná ʼn woordewisseling met die voorsitter is hy toegelaat om sy bedankingsverklaring voor te lees. Want Jannie het voor die tyd aangedui dat as die konsepbeleid aanvaar word, hy nie anders kan as om te bedank nie, omdat hy “nie bereid is om mede-eienaarskap te aanvaar van ’n beleidsdokument wat radikaal impakteer op die wese van die universiteit en wat die grondwetlike regte van ’n groot deel van die samelewing dramaties ignoreer nie”.

Waarop hy opgestaan en na die deur beweeg het.

Ek wou ook my siening laat hoor oor die langtermyngevolge vir Afrikaans. Die voorsitter het gesê dat géén verdere debat toegelaat gaan word nie.

Dit het my geen ander keuse gelaat as om op te staan, my dokumente te versamel en na die deur te beweeg nie. Ek kon nie sienderoë aanskou hoe Afrikaans as taal voor my oë gereduseer word tot ʼn mindere taal nie. Dit nadat die taal die rede was vir US se totstandkoming, nadat duisende oudstudente in Afrikaans aan die US afstudeer het. Ek wou wys op die proses wat Afrikaans deurgegaan het om sy funksies moeisaam een vir een te verwerf, hoe Afrikaans ʼn standaardtaal geword het, hoe Afrikaans nie uitsluit nie, maar ook insluit, hoe die geskiedenis die deelnemers aan die debat sal onthou. Ek kon nie wys op wat hiermee begin word nie. Maar dit kon ek nie sê nie, want ek is nie toegelaat nie.

André Coetzee, Jan Heunis, Hein Gonzales, ek en Jannie van der Westhuizen het daarop die lokaal verlaat. Johan Theron het agtergebly om eers sy standpunt te stel ongeag of die voorsitter hom wou toelaat of nie. Daarop het ook hy die lokaal verlaat.

Ek het ʼn intense gevoel van magteloosheid en moedeloosheid ervaar. Ek was ooggetuie van ʼn geslaagde “staatsgreep” op Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap. Hiermee is ʼn streep getrek deur my en my mede-Afrikaanse gemeenskap se menswees, deur bydraes wat die US oor bykans 100 jaar die universiteit gemaak het wat hy is. Hiermee is in wese gesê: “Afrikaans, dankie vir wat jy gedoen het vir hierdie universiteit, maar ons is nou klaar met jou. Totsiens!” Daar was nie eens ʼn goue handdruk ná die afdanking nie.

Op die lughawe het ek gaan sit en my gedagtes probeer orden oor die pad vorentoe. Moet ek bedank of nie? Kan ek die Afrikaanse gemeenskap in die oë kyk, want ten spyte van my jare lange pogings (wat dikwels tot verguising gelei het) tot die skep van ʼn inklusiewe Afrikaans, kon ek nie sukses meebring nie. Wat nou verder?

Ek het gaan sit en aan my mede-uitstappers die volgende geskryf:

Ek sit op die lughawe en wag op my vlug. Op pad hierheen kon ek dink aan die gevolge vir Afrikaans en ek moet erken dit is ʼn enorme slag vir Afrikaans. Die rede is eenvoudig: ʼn taal, soos Afrikaans, neem ʼn lang tyd om deur die proses te gaan om ʼn standaardtaal te word, en in hierdie proses neem ʼn taal sekere funksies aan. Die sprekers van die taal gebruik die taal om hierdie funksies in hulle daaglikse lewe uit te voer – taal van onderwys (op alle vlakke, maar hoe hoër die vlak is, hoe sterker raak die belang van die funksie), taal van verdediging in die hof, taal vir kommunikasie met die staat, taal van die kerk (godsdiens), taal van die media (koerante, tydskrifte, radio, TV), taal van politiek, taal van die parlement, ens. 

Geen taal verwerf hierdie funksies eensklaps nie. Dit neem ʼn lang tyd. In die geval van Afrikaans was dit bykans 50 jaar totdat al hierdie funksies aktief in Afrikaans was.

En nou is die pilaar geskud: Afrikaans as taal van hoër onderwys. Die beteken dat oor tyd die domino-effek in werking tree – eers op universiteit, dan laerskole en hoërskole; daarna die funksie as taal van die hof; dan volg die een funksie na die ander. Terwyl hierdie afskaalproses besig is, sal die mense wat die taal gebruik, dit nie noodwendig so direk agterkom nie omdat hulle nog baie funksies in Afrikaans kan verrig. Maar dan op ʼn dag is een radiostasie weg, of ʼn koerant word nie meer uitgegee nie, uitgewers hou op om boeke in die taal uit te gee, ens.

Dan op ʼn dag besef jy: “Oeps! Waar is die taal wat ek altyd gebruik het. Ek kan nou minder daarmee doen as in die verlede. As dit die geval is, kan ek net sowel my daaglikse doen en late in Engels begin doen, en my kinders na ʼn Engelse speelskool en dan na ʼn Engelse laerskool en later na ʼn Engelse hoërskool stuur, en dan na ʼn universiteit met Engels as medium van onderrig stuur.” 

Dit is 40–60 jaar van nou af. Is ek negatief? Nee, dit is hoe die prosesse volgens die literatuur verloop. Jy vat die BEHOEFTE aan die taal weg en dan volg die res (afskaal en latere wegval van funksies) mettertyd.

Vandag was dus ʼn waterskeidingsoomblik vir Afrikaans – daardie dag toe begin is om Afrikaans se hoogste funksie stadigaan uit te skuif in die belang van politieke gedienstigheid. Ons durf dus nie stilbly nie. Alles is nog nie verlore nie, maar as die Afrikaanse gemeenskap nie reageer nie, gaan dit moeiliker raak vorentoe.

Die verklarings agterna van die Raadsvoorsitter asook die rektor klink mooi. Asof gesê word: Is julle dan te dom om te sien dat ons Afrikaans steeds gaan “akkommodeer”? En dit is hier waar die vaagheid lê. Geen woorde sal dit kan verdoesel nie. En die voorsitter is uiters verontwaardig omdat ons uitgestap het. Hoe durf julle dit doen? Die dilemma is dat ek geen ander keuse gehad het nie. As ek bly sit het, het ek gekondoneer wat in die skyn van ʼn demokrasie gedoen is. En dit laat my gewete my nie toe nie.

My bogenoemde Facebook-vriend het ook gesê: “Ek was nog altyd trots op my ou universiteit, maar vanaand voel ek erg teleurgesteld. En vies. Ek kan nie aanvaar dat Maties se Universiteitsraad werklikwaar met die beste wil in die wêreld nie met 'n beter oplossing vorendag kon kom nie.”

En hierop kan ek nie juis verbeter nie. Met ʼn gesindheid tot die bereik van ʼn kompromis kon die probleem beter hanteer gewees het. Dan kon die US om die régte redes in die media gewees het: weens uitstekende onderrig, besonderse navorsingsprodukte en -uitsette. En nie oor taal nie.

  • 37

Kommentaar

  • Die hele tragiese saga van Afrikaans se agteruitgang aan US word opgesom deur Wim de Villiers se uitlating:
    "Wat dikwels onderbeklemtoon word is dat die US tans meer as R40 miljoen ekstra bestee om Afrikaans aan te bied."
    Besef hy hoegenaamd wat die implikasies van hierdie stelling is? Afrikaans is 'n "ekstra", by implikasie 'n opsionele addisionele luukse, en dit kos R40 miljoen "ekstra" om dit "aan te bied" (asof Afrikaanssprekende studente, wat 43% van die huidige ingeskrewe studentetal, nie klasgeld betaal nie.)
    Hoeveel "ekstra" kos dit om Engels aan te bied?
    Dit terwyl hy in Matieland van Oktober 2015 nog plegtig verklaar het dat US "'n beleid van Afrikaans en Engels met gelyke regte aanbied".

    • Jammer om te sê dat dit dieselfde gees van oorgawe is wat by die FW de Klerk klub geheers het in 1993 en grootliks gedryf is uit die Kaapse NP ... die 'Queens Afrikaners' ... go figure.

  • Theresa Papenfus

    Baie dankie hiervoor, Wannie. My hart is bitter seer. Ek is radeloos kwaad. Dit voel asof iets in my vermoor is terwyl die moordenaar hoflikheid geveins het.

  • Prof Carstens is melodramaties. Wat ontbreek is presies hoe die US Afrikaans afbou. Nêrens doen iemand 'n analise van die eintlike beleid om so 'n posisie te stel nie. Carstens doen dit beslis nie. Inteendeel, die beleid werk mooi met meertaligheid in die konteks van toegang. Ek is trots op my universiteit se nuwe taalbeleid. Dis bevrydend.

    • Johannes Dippenaar

      Anton Muller, glo jy werklik jouself! Breyten het 'n baie goeie naam vir sekere mense in SA ...

    • Annatjie Kruger

      Ek sou eerder trots wees op US-raad as hulle geveg het om Afrikaans as een van die onderrigtale op die universiteit te behou. Hoe kan 'n mens sit en toekyk dat Afrikaans uit universiteit na universiteit geskop word? Daar is genoeg Engelse universiteite vir mense wie nie in Afrikaans wil leer nie. En daar moet onthou word dat Afrikaans nie net aan die wittes in SA behoort nie. Dit is nie net die wit populasie wat hierdeur geraak word nie. Daar is niks bevrydend daarom om jou taal te verloor nie. Inteendeel dit maak van jou net nog een van 'n massa en jy verloor jou uniekheid.

    • Genade tog - ek reken jy verstaan f ... - niks nie! Daar bestaan nie so woord soos AFBOU nie man. Mens kan iets OPBOU of die alternatief is AFBREEK.

  • Anel Heydenrych

    Dit is skokkend en uiters ontstellend. Ek skryf in my taal omdat dit my hartstaal is. ’n Mens kan egter nie anders as om te wonder hoe lank ons nog boeke in Afrikaans op die rak sal sien nie. ’n Afrikaanse PhD is seker ook nou nie meer ’n opsie nie. Die oorlog teen Afrikaans is net so kortsigtig as vele ander besluite wat deur die regerende party geneem word. Wanneer ’n party polities so arm is soos die ANC moet jy noodgedwonge hierdie soort oorloë voer. Dit word nou ’n slagting. Oorlog teen persvryheid, vryheid van spraak en Afrikaans. Dis so ongelooflik betreurenswaardig dat kleinlike gesindhede en denke nou die botoon voer. Ongelukkig moet ek saamstem dat die skrif aan die muur is. Wanneer ’n taal eers sy status verloor het, is dit onmoontlik om dit terug te kry. O wye en droewe land ...

  • Baie Afrikaanssprekendes verstaan nie die gevolge van die uitfasering van Afrikaans as akademiese taal nie. Dankie.

  • Daar word gesê Engels is die taal van bemagtiging en daarom is dit goed dat Stellenbosch verengels.
    Ek het my lewe gewy aan die akademie, aan die (natuur)wetenskap. Ek het op die diep-platteland groot geword, voor die tyd van televisie waar Engels nie 'n tweede taal nie, maar 'n vreemde taal was.
    Oor 'n tydperk van 40 jaar het ek met Skotte, Engelse, Amerikaners, Serwiërs, Italianers, Russe, Roemene, Chinese, en wat nog, saamgewerk. En vir lang tye tussen hulle gewoon. Nêrens was taal 'n kwessie of 'n kwalifikasie nie. Samewerking, aanstellings, uitnodigings word gemaak op grond van wat jy vermag, en nie hoe jy klink nie.
    Ja, Engels as 'n tweede taal is belangrik. Dit is die taal waarmee my vakgebied internasionaal kommunikeer. Maar, as ek nie 'n Nobelprys gewen het nie, is my plattelands-Afrikaanse agtergrond die heel, heel laaste verskoning wat ek kan aanbied.
    Op een plek op ons plaas, tussen die ruwe rotse van die Sederberge groei daar 'n plant, Serruria lacunosa. Heel onbeduidend, amper totaal onbekend. Daar is ongeveer 50 plante wat steeds oorleef. Ons troetel die plantjies hoofsaaklik deur weg te bly sodat ons nie onbedoeld die plante met die swamme aan ons skoene besmet nie. Of erger, om saailing per ongeluk onder ons voete te vertrap nie. As die spesie eers uitgesterf het, kry jy dit nie terug nie.
    As ek bereid is om dit vir 'n plant te doen, hoe moet ek dan nie saam met Wannie Carstens wroeg oor diegene wat bereid is om 'n springlewendige Afrikaans in die grond te vertrap nie?

  • Dit was die regte ding om te doen. Kom ons soek 'n manier om ons mooi drome waar te maak.

  • Wannie, dankie vir hierdie verhelderende uiteensetting. Dat mense wat tot op hede slegs voordeel getrek het uit Afrikaans en sy akademiese status nou sy ondergang bewerkstellig, slaan my stom.

  • Dit is 'n skande dat Afrikaans net so van die tafel afgevee word. Waarheen is ons Universiteite en skole op pad?

  • Magriet Rossouw

    'n Swart dag vir Afrikaans. Dankie vir elkeen van julle wat uitgestap het. Ons familie stap al 'n lang pad met die Universiteit Stellenbosch reeds vandat my ouma Mona Fourie by Victoria College as onderwyseres gekwalifiseer het. My ouers wat as deel van die Jan Pierewiet geselskap wat die land deurkruis het om fondse in te samel vir 'n studentesentrum, en maatskaplike werk en by die Kweekskool klas gedraf het, my man wat as Torakschirurg aan die Mediese skool gekwalifiseer het en vanjaar as hoof van sy departement aftree, my droom om onderwys te gee is aan die US bewaarheid en dan is daar ons twee oudste dogters wat ook by Maties hul mediese kwalifikasies verwerf en verder gespesialiseer het. Inderdaad 'n swart dag. Glo baie donateurs gaan nou onttrek en hul fondse elders laat vrugte afwerp.

  • As raadslid het ’n mens twee opsies: aanvaar meerderheidsbesluite of bedank. Jannie van der Westhuizen se bedanking uit die raad was die enigste logiese stap. Om uit te loop en dan buite die raad die debat (as raadslid) voort te sit is problematies en bevorder beslis nie die saak nie.

    • Hanno Visagie

      Volgens jou redenasie moet ook alle parlementslede wat nie met die meerderheidsparty se besluite saamstem nie, bedank ...

    • A van Zyl se naamlose kommentaar onder slegs 'n voorletter, sê iets van die vertroue wat hy in sy eie mening handhaaf. Wannie Carstens het in die skryf van hierdie artikel, nooit geskroom om sy identiteit duidelik en skaamteloos te stel nie. Daarvoor eer ek hom. Wannie se respek vir die taal waarin my proefskrifte geskryf is, wat my toegerus het tot die lewe, in 'n kroon op sy kop en ek ag hom 'n ware heer.

  • Ek wil herhaal wat ek elders gesê het. As die Raad nog die deur in Afrikaans se gesig toegemaak het, kon mens dit miskien nog verstaan het, maar om Afrikaans so onseremonieel by die agterdeur van 'n plek, wat vir geslagte haar woning was, uit te vee, is darem te dik vir 'n daalder en te swaar om te sluk.
    Maybe it is time for us not to overstay our welcome, soos die Engelse sê. Die tyd het dalk aangebreek vir die derde taalbeweging om in rat te kom. Hierdie besluit gee ons eintlik geen ander keuse as Afrikaans wil oorleef nie.
    Dankie Wannie dat jy en die ander beswaarmakers letterlik opgestaan het vir ons taal. In skreiende kontras met die "uitstappers" is dit ook opmerklik hoe oorwegend swygsaam die voorstanders van die nuwe beleid in hul persoonlike hoedanigheid is. Wil hul nie vir ons hul besluit in die openbaar regverdig nie? Mag ons nie weet presies waarom hul die nuwe beleid voorstaan nie? Of word sulke ingrypende besluite maar gewoonlik agter geslote deure geneem?

  • Dit gaan eintlik maar net weer eens oor wit en kleurling Afrikaanssprekendes en hoe om ons te na te kom, niks anders. Uiteinde vd saak: ek is wit gebore, praat net Afrikaans en so gaan dit bly. Mense moet vrede maak met hul kleur, taal en hare. Dan sal rassisme stop. Demokrasie word nêrens in land toegepas nie. Ons land is 'n klug! Lees Donald Trump se uitspraak oor SA. Hy ken die waarheid.

    • Bedank uit die Raad en stig af. In ons verlede is daar genoeg voorbeelde. Dink aan die Herstigte Nationale Party. Dan was daar ook 'n voormalige kanselier van die US. Hy het sak en pak die parlement verlaat ...

  • As Anton Muller nou nog nie weet presies hoe die US Afrikaans "afbou" nie, woon hy op 'n ander planeet.

  • Dankie, Wannie, en die ander Raadslede wat uitgestap het en ook met verklarings en onderhoude verklaar het waarom. Die prentjie wat ons as lesers ervaar en as oudstudente beleef tussen al die ander briewe en toesprake deur laat ons met meer vrae as antwoorde.
    Dit is egter ondenkbaar dat al die ondersteuners van Afrikaans dit maar net daar sal laat.
    Die vraag is eintlik hoe enige opvoedkundige instansie kan toelaat dat Afrikaans as volle akademiese taal wat hier ontwikkel het en soveel sprekers se moedertaal of selfs tweede taal is net kan vervaag met al hoe minder status teenoor Engels? Die hele redenasie van meertaligheid is daarmee saam ook meer as verdag, en selfs onlogies, afgemaak.
    Watter GOEIE opvoedkundige en akademiese rede(s) kan daar wees vir die afskaling en vermindering van funksies van 'n ten volle ontwikkelde akademiese taal, van voorskools tot op tersiêre vlak? Ander redes behoort nie by hierdie instansies te geld nie.
    Om net een te noem, wat by ander universiteite ook aangevoer word: dat daar 'n afname is aan die aantal Afrikaanssprekende studente of die behoefte aan Afrikaans by hierdie instellings. Wat verwag hulle as die aanbod van die Afrikaanse opsie deur die universiteite self verminder word?
    Die stryd duur dus nie net voort nie. Miskien het dit (ongelukkig) maar reeds van vooraf begin. Dit beteken egter dat die WIL steeds daar moet wees. Klaarblyklik is dit by sekere ander taalgenote nie meer teenwoordig nie.
    Johan Anker

  • Derick Coetzee

    Ek besef terdeë die dilemma waarmee jy, Wannie, en ander uitstappers gesit het. My eerste gevoel was - nee moenie bedank nie want dit is presies wat die radikales wil hê. Hulle gaan julle nie mis nie , inteendeel, julle gaan deur nog radikales vervang word en dan het ons as oudstudente en mede Afrikaanssprekendes geen insette meer nie. Maar ... omdat ek self al op ander fora gesit het waar ek met dieselfde ding moes worstel is daar natuurlik ’n ander kant van die saak ook. Bly jy deel van die raad word jy so ingebind dat die radikales dit as ’n verskoning aangryp vir toekomstige vergrype en dan met die verskoning dat die meerderheid sus of so besluit het of dat dit eenparig so besluit is. Maak nie saak watter kant nie, ons as Afrikaners het die wind van voor. Vraag is wat nou gedoen?
    Ek en mede-kollegas – Cerneels, Piet en Louis is besig met die opstel van n alternatief - " Die Afrikaner Virtuele Staat" ( AVS). Ons meen dat al werk verskeie bondgenote oor jare al aan verskeie fasette van beskerming van ons Taal en ons Eie daar nou dalk meer doelbewus beweeg moet word na ’n meer gesinkroniseerde doelwit waar ons weer kan " regeer". In hierdie stadium deur middel van ’n virtuele staat maar nie uitgesluit om later in meer ’n fisiese gedaante te vergestalt nie. Die doel is op hierdie stadium om hande te vat met reeds bewese strukture om op ’n sakegrondslag na ons eie behoeftes om te sien - soos die Akademie van Solidariteit en AfriForum se inisiatiewe. Stelselmatig ondersteunend en doelgerig om die Afrikaner van die toekoms onmisbaar te maak. Eers onder die radarskerm totdat die geleenthede dit anders stem.
    Dis ’n lang storie om by jou dilemma te kom Wannie. My advies sou wees moenie bedank nie. Bly in en veg voort want dit gaan een of ander tyd geleenthede bied en as jy nie daar is nie kan jy dit nie gebruik nie. Jy en jou kollegas is vir die Afrikaner te kosbaar om te verloor.

  • Een ding wat julle (Wannie Carstens en kie) nie besef nie is dat Afrikaans geen regte het nie en oor nie kunsmatige groep soos Afrikaanses nie. Jy kan jou net op internasionale mense regte beroep want die RSA Grondwet is irrelevant met die ANC aan bewind en die progressiewe DA wat in sy nek blaas, laat staan nog die EFF. Internasionale reg erken volke se reg op hul taal en kultuur. Jy sal net Afrikaans kan red as jy Afrikaners se reg tot selfbeskikking eis want die reg tot selfbeskikking is wat volke hul taalregte gee. Dis net jammer dat Afrikanerleiersfigure nog steeds FW de Klerk se dwalinge aanhang in plaas daarvan om dit wat Afrikaners nodig het vir oorlewing te prioritiseer. Dit is tyd dat Afrikaners se reg op selfbeskikking eerste prioriteit geniet, want dit is die enigste manier wat Afrikaners sal oorleef as herkenbare etniese identiteit. Slegs volke het regte in internasionale reg, nie tale of saamgeflanste taalgroepe nie. Sien Art 1 van die Internasionale Verdrag vir Politieke en Burgerregte wat ook deur die RSA onderteken is in 1996.

  • Leopold Scholtz
    Leopold Scholtz

    Wannie Castens. 'n Man met murg in sy pype. Ek is trots dat ek hom 'n goeie vriend kan noem.

  • Gustaf Claassens

    Mens lees Anton Muller se kommentaar en jy dink; ag tog, gedienstig en gedwee ... hulle wat die skade met versiersuiker beter wil laat lyk ...

    Die gediggie van Jan F Cilliers kom dan by jou op:

    "Die weg van eer

    Wat is die weg van eer?
    Om trou te bly
    aan dwing’landy?
    Aan afgedwonge woord en daad –
    aan wanhoops nood-traktaat?
    Is dit die weg van eer –
    niks meer?
    Om woord te hou
    aan wie ontrou
    en woord-verkragting en verraad
    nie meer beskou as sondedaad?
    Dit is die weg van eer:
    Om, net soos eertyds, trou te wees
    aan vaarlandsbloed, aan vaarlandsgees,
    aan vryheids-ideaal!
    Geen woord verpand is bindend woord
    as oormagsdwang en onskuldsmoord
    die woord vir ons bepaal."

    En opnuut wonder en besef jy dan, soos altyd sal jy diesulkes saam met jou hê ...

  • Hannelise Brand

    Nee, Chris. Ek wil nie Afrikaner-selfbeskikking hê nie. Dit is 'n terugkeer na die 'laer-sindroom' wat ons in die eerste plek in die gemors gebring het waarin ons is: draai die rug op ander, knyp die oë toe en hoop vir die beste. As daar een positiewe element uit hierdie hele taalkwessie gekom het, is dit dat ons nou aan ons basse voel hoe dit is wanneer al jou redelike argumente geen impak het nie, wanneer dit "met dank aangehoor" en dan geïgnoreer word, wanneer daar " 'n streep deur jou menswees getrek word". 'n Bietjie van ons (of ons vaders) se eie medisyne.
    MAAR daarmee wil ek nie sê ek steun die aftakeling van Afrikaans nie. Ek verstaan waar dit vandaan kom en tot 'n mate voel ek ons (of in elk geval, party van ons) verdien dit selfs. Die hartseer sy van die saak - afgesien van die verlies van ons taal - is dat die aftakeling/afskaffing van Afrikaans op die ou end nie meer of beter "transformasie" op kampusse gaan meebring nie. Baie mense gaan vir 'n rukkie ('n paar maande of miskien selfs 'n paar jaar) beter voel omdat Afrikaans sy 'straf' gekry het, maar dan gaan hulle besef hulle is nog steeds net so "disadvantaged" as tevore. Want die agterstand (wat onbetwislik is) is nie toe te skryf aan Afrikaans as sulks nie. En hoekom almal glo hulle heil lê in Engels, is 'n raaisel. Engels is nie meer inklusief of minder "disadvantaging" as Afrikaans nie.
    Die werklike oorsake vir die agterstand/"disadvantage" wat so baie studente ervaar, lê baie dieper en is baie moeiliker om aan te spreek: die gebrek aan moedertaal-onderrig in "swart" skole, die sosio-ekonomiese omstandighede van die meerderheid leerlinge ... Maar Afrikaans is ongelukkig die simbool van die bestel wat hierdie toedrag van sake meegebring het - en dis altyd makliker om 'n simboliese gebaar te maak as om 'n langtermyn-oplossing aan te pak.
    Die enigste manier hoe ons Afrikaans dalk nog kan red, is deur te bewys "ons is nie almal so nie" - deur aan te hou om te luister, te probeer verstaan en deur toenadering te soek. Deur op te hou dink in terme van "ons" en "hulle". En elkeen van ons kan 'n begin maak deur een van ons ander amptelike tale te leer.

    • Hanno Visagie

      Al die "wit" volke van (hoofsaaklik) Europese afkoms moet mos deesdae polities korrek weier om hulself te handhaaf en volkselfmoord pleeg met die Afrikaner heel voor aan.

  • Johan Van Wyk

    Dit is soos ek jou leer ken en respekteer het.
    Baie dankie en sterkte vir die voortsetting van die stryd.
    Johan van Wyk.

  • Ek is skaam om 'n Oud-Matie genoem te word. Ruggraatlose kapitulasie vir politieke gedienstigheid. Wat veronderstel is om ons slimste Afrikaners te wees kan blykbaar nie sien wat aan die kom is nie!

  • Steve Hofmeyr

    Dankie Wannie, André Coetzee, Jan Heunis, Hein Gonzales, Jannie van der Westhuizen en Johan Theron. Wat is die name van daardie 13 en 17 lede wat die begin van die einde van Afrikaans is?

  • Colette Pretorius

    Dankie Prof Wannie. Jy en jou genote het reg opgetree. Die maak mens vreeslik hartseer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top